Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 30]
| |
§ 12. Ampie, die Eerste Lewende Mens in die Roman.'n Glanspunt bereik die realistiese rigting in Ampie (1924), die epos van 'n nietige bywonersieltjie. Hier geen sweem van idilliese opsiering nie, maar die naakte werklikheid van die bywonerbestaan, 'n dokument wat kan gebruik word vir 'n studie oor ons maatskaplike toestande. Tewens ook die eerste volledig lewende Afrikaanse mens in ons letterkunde. Hoe ken ons nie die binnelewe van hierdie halfverdierlikte boereseun tot in die fynste kronkeling van sy nietigste gedagtetjies nie! Ondergaan ons nie die benouenis van die wurgatmosfeer waarin sy lewenskiempie byna verstik raak nie? Leef ons nie saam met hom in die vertedering van sy liefde nie en in die botviering van sy blinde drif? Net 'n bondel flenters! Ja, maar onder die vervuilde toiings klop die hart van 'n natuurkind; onder die vetterige ou keps loer 'n paar groot bruin oë met 'n blik wat ons nooit weer kan vergeet nie! Eindelik 'n mens..... wat nie semels in sy ingewande het nie! 'n Lewe, wat as vanself, ongedwonge, ontwikkel. 'n Ouerige kindersieltjie, wat bang-bang die beskaafde wêreld inskuifel en die smart van sy verlatenheid uitsnik by die lewelose liggaam van sy donkie-maat..... Duidelik word die breuk met die verlede, en die lyn van ontwikkeling as ons langs mekaar lê: Twee Susters van Chris Euvrard, 'n onbenullige oorlogsverhaaltjie, in 1914 deur die hoogste letterkundige gesag met die Hertzog-prys bekroon en Ampie, wat dieselfde onderskeiding in 1925 verwerf het. Wie het so'n heuglike bloei in tien jaar tyd verwag? As bewus lewende nasie is ons baie jonk, maar as afstammelinge van drie Europese volke is ons tog die kinders van 'n ou beskawing, het ons deel aan die erfenis van eeue van ontwikkeling. Nuwe kieme kan dus gou tot rypheid kom. Byna gelyktydig met Ampie verskyn Marie Linde se Onder Bevoorregte Mense. Met fyn-vroulike intuïsie word daarin geteken die geestelike groei van 'n arm-blanke weesmeisie, wat in die gesin van 'n artistiek aangelegde Kaapstadse dame beland. Eerlik-opreg van siening en innig van weergawe is die uitbeelding; duidelik staan al die karakters voor ons, werklike mense wat ons deur-en-deur ken. Net soos Ampie het ook Bettie haar onsinnige lugkasteeltjies, wat sy deur 'n meer ontwikkelde aanleg en onder gelukkiger omstandighede grotendeels kan verwesenlik. Ook hier sien ons die botsing tussen die uitheemse idees en die voorvaderlike sedes, die ideale van die ou geslag teenoor die steeds meer indringende nuwerwetshede. Die dogter van 'n eerwaardige Vrystaatse predikant word ná 'n Europese opvoeding operasangeres; die enigste seun van 'n veeboer word 'n ‘losbandige kunsskilder’ en trou met 'n meisie wat ‘uit die agterbuurte opgeraap is’ - uitsonderingsgevalle seker. Maar deur die hele boek staan daar baie tekenende trekkies, wat die moderniseringsproses van die oorgangstydperk treffend tipeer. | |
[pagina 31]
| |
Met die verskyning van Ampie en Onder Bevoorregte Mense het die beslissende bevryding gekom van die nagmerrie van die oppervlakkige avontuur-roman. 'n Ander belangrike mylpaal was Sangiro se Diersketse. By 'n volk wat gedurende sy wordingsperiode so intiem in aanraking met die grootwild gelewe het, sou ons vanself 'n ryk oes van jagstories verwag. Maar die opmerklike, die verrassend-nuwe in die verskyning van Sangiro is, dat 'n afstammeling van die ou jagters, wat onder voortrekkerkondisies in Oos-Afrika groot word, die dierlewe uitbeeld, nie van die standpunt van die pionier nie, maar dat hy in elke leeu of renoster 'n persoonlikheid sien, ‘in sy soort ruim so interessant as die van die mens.’ Dit is dieselfde ontwikkeling wat ons by die romanskrywers opgemerk het: van die uiterlike beweging kom hulle tot die innerlike roersels. ‘Ook onder die wilde diere bestaan daar 'n soort van geesteslewe, wat die opmerksame waarnemer telkens weer met verwondering vul; vir hom word dit naderhand moontlik om die diere se gewaarwordinge uit hul uiterlike beweginge te verstaan.’ Sangiro is veel meer as ‘'n opmerksame waarnemer’. Hy besit die digterlike gawe om die uiterlike feite deur beeld en klank so te vertolk, dat ons die ontroeringe van die geweldige dieredrama en die bekoring van die oerwoud self kan navoel. Sangiro kruip in die vel van die leeu; hy neem die leeunatuur aan en ondergaan 'n tydelike vernietiging van sy eie wese. Hy deurleef al die gewaarwordings van die leeu, en sy uitbeelding daarvan is nie die nugtere verstandstaal van die geleerde soöloog nie, maar dit is die ontroerde verklanking van 'n innerlike sielsmusiek. Sy prosa word opgebou uit sy gehele siel en nie uit sy verstand alleen nie; hy koester en troetel sy taal, totdat dit deur ritme, golwing, klank, toonhoogte, plastiek, lig en skaduwee die fynste nuanserings van sy gevoel kan weergee. In sy werk bereik ons prosa definitief die stadium van kunsprosa; dit is die produk van 'n skeppende verbeelding, wat ons op een lyn kan stel met die werk van ons digters. Hy gee iets van sy siel aan alles wat hy sien; hy gee ons die werklikheid wat hy waarneem en die misterieuse werklikheid wat hy voel. Met gebruikmaking van die Nederlandse taalskat en onder die invloed van die na-Tagtigers skep hy 'n taal so lenig en buigsaam as wat voor 1921 onbekend was. Sy taal is nie net die sappige volksidioom van die Patriotter, wat skryf soos hy praat nie; op spontane wyse ontwikkel dit by hom tot literêre taal, verfynd genoeg om selfs aan die onvatbaarste gewaarwording uiting te gee, tekenend genoeg om die minste beweging van gedagte en aandoening weer te gee. Altoos borrel dit op uit die suiwere bron van die volkspraak, maar omdat hy die sinne-gevoeligheid van die kunstenaar besit, word dit by hom plastieser, voller van klank. Treffend word die kontras tussen die oue en nuwe as ons Bana Maie se Voortrekkerslewe in Donker Afrika langs Sangiro se werk lê. Bana | |
[pagina 32]
| |
Maie se boek is 'n interessante kultuur-dokument, die dagboek van 'n trekker in Brits-Oos-Afrika. Hy wil elke boom sekuur meet, elke dier wat hy skiet op die skaal sit. Soos 'n verstandige boer sien hy dié bome raak waar hy die beste meubels van kan maak. Hy moraliseer by 'n afgebrande bos sederbome en staan partymaal ‘spraakloos van bewondering’ by 'n natuur-toneel. Sangiro gaan egter heeltemal op in die natuur, drink die heerlikheid daarvan met die fyner sintuie van die moderne mens in. Tussen hom en die natuur staan daar nie 'n ‘digterlike taal’, 'n taal van verstandelike begrippe, volgeprop met 'n reeks pronk-adjektiewe nie;Ga naar voetnoot1) sy taal ontstaan uit die aandoening self, is fris, direk, en roep regstreeks die beeld voor ons gees op. Hy is die digter van die oerwoud; hy vang die kleinste ritselinkie op, die oneindige skakerings van kleur en klank, die veranderlike tinte op berge en wolke, die ‘wisselverwigheid’ van die natuur. In die tweede periode bring veral Langenhoven die betogende en wysgerige prosa op 'n hoër plan. Hy is een van ons individueelste stiliste, wat tog bewus daarna strewe, om 'n soort gemeenskapskuns te skep, wat volgens die teorie van Tolstoi bevatlik is vir die mees onontwikkelde bywoner en tog tot die hoogste kuns behoort. Nie altoos slaag hy daarin om langs die weg van die eenvoud die sublieme te bereik nie, maar sy vindingryke vernuf het 'n frisheid in ons prosa gebring en daar nuwe tintelinge deur laat speel. In sy betogende prosa is dit veral die speelse kronkelinge van 'n sprankelende gees wat ons verras; die skielike blitsliggies van 'n ratse verstand flikker en dans deur sy lugtig geboude periodes. Dan dreun die hamerslae van sy logies redenerende verstand weer op die yster van sy argument, totdat die vonke rond en bont spat. Die allergewoonste ding laat hy op sy kop staan deur 'n onverwagte wending, die koddigste effek bereik hy deur 'n gewaagde neologisme of 'n aangelaste stertjie. Rustig ry jy saam met hom op die egalige pad van sy betoog, maar skielik spring hy hot-om met die kortste Kaapse draai, wat jou viervoet teen die grond slinger! Maar somtyds word sy stem teer van aandoening; dit ruis op uit dieptes van innige gevoel en as hy wegraak in sy fantasieë is dit of die klank van sy rustige volsinne wegdein in vertes van huiwerende weemoed.... Meer as enige ander skrywer het Langenhoven die verrassende moontlikhede van die sappige volkspraak ontdek; sy invloed op die verdere ontwikkeling van ons prosa sal groot wees. |
|