§ 11. Die Vrou en die Liefde by die Prosaskrywers van die Oorgangsperiode.
Fichardt is ook 'n soeker. ‘Ons ja te baie agter die beuselagtige fraiings van die lewe en mis te baie die dieper betekenis daarvan. Daar is geen gulde kortpad tot duursame geluk nie’ (p. 126). Hy peins oor die vraag: ‘Wat is sonde?’ (p. 138) en vind dat die rede van ons bestaan ook ons hoogste doel is, nl. ‘die verstandige voortplanting en onophoudelike verbetering van die ras op hierdie klein aardbol van ons’ (p. 215). In sy opvatting van die liefde speel die geslagsdrif 'n vername rol. By Japie is die liefde nie ‘'n bloot sinlike begeerte nie, want sy liefde het die diep-diep stiltes van die gees geken, sowel as die krag van die vlees’ (p. 64). By hom word die skoonheidsaanbidding van die vrou byna 'n godsdiens (p. 88).
Dis al genoeg om aan te toon hoe vèr hierdie skrywers verwyder is van die engelagtige Mooi Annies, wat in 'n vorige periode vir vrouens moes deurgaan. Lydia ontmoet ons die eerste maal in die bed: ‘As sy daar so sit, selfs met verwarde hare en in ongekunstelde naggewaad, is in haar 'n bepaalde aantreklikheid te bespeur, nie so besonder in die kleur van die oë, of die glans van die hare, of die vorm van die gelaatstrekke nie, maar eerder in die bekorende houding, die sielvolle uitdrukking; 'n aantreklikheid, nie so besonder in die liggaam self nie, maar eerder in iets daarbinne verborge, die gees, die karakter, die eie klein persoonlikheid’ (p. 31). Japie sien ook wel die liggaamlike skoonheid van Nellie raak, maar onder die invloed van Perk is hy besig om dit te vergeestelik (p. 45). Hierdie skrywers is op pad om die innerlikheid, die siel van die vrou te ontdek. Die vrou is nie meer vir hulle ‘'n beeldfraaie mens..... meer geskik vir die tuiste van engele, dan vir hierdie prosaïese aardbol’ nie; hulle sien nie net die rooi wange met kuiltjies, waarin hulle wil tuimel nie; die melkwit hals van 'n skone towergodin, ens., ens., nee, hulle probeer om die innerlike wese van die vrou uit te beeld. Die voortrekker-amasone, wat nie agteruitstaan vir die man op die jag of in die geveg nie, kry ons natuurlik in die geskiedenis ook. Die avontuurroman probeer om haar in 'n romantiekerige waas te hul. Maar hier ontmoet ons nou die vrou uit 'n latere periode, die fyn ontwikkelde Afrikaanse dame, wat nie net aan die end van die roman met 'n tweeling op die arms verskyn nie, want, sê Fichardt: ‘trou is nie die einde van alles nie, dis maar net die begin.’ Die hele liefdesverhouding word verinnerlik; dis nie meer 'n sentimentele relaas van vryery nie; dis die uitbeelding van 'n reeks
immer-wisselende stemminge, van die langsame groei van 'n geestes-gemeenskap, die wedersydse blootlegging van die intiemste hoekies van twee harte wat mekaar soek. Jan Celliers het in sy Martjie (1911) al die nuwe rigting aangedui.