Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 10. Die Oorgangstydperk na 1921.Omstreeks 1921 kom daar op prosagebied 'n duidelike kentering. Die Afrikaanse samelewing het gaandeweg meer ingewikkeld geword; in die stede veral is die verhoudinge meer kompleks en die uitheemse begrippe begin orals pos te vat. Of dié begrippe in alle opsigte 'n heilsame uitwerking op ons kultuur sal hê, daaraan kan 'n mens met reg twyfel. Ek wil hier net 'n feit konstateer. Vir elke opmerksame beskouer moet dit duidelik wees dat die kraalmure van ons isolasie al taamlik afgebrokkel is. Deur 'n verbeterde verkeer, deur middel van die pers en die radio, en langs ander weë is daar 'n gestadige infiltrasie van uitheemse idees. 'n Groot aantal studente trek jaarliks na die buiteland, na Europa en Amerika, en op allerlei gebied word daar met die nuutste denkbeelde geëksperimenteer. 'n Kosmopolitiese wind waai oor ons vlaktes, en jong Suid-Afrika snuif gretig die geure daarvan op. Die jongkêrel wat op 'n Dingaansfees velbroek en velskoene aantrek, die jong meisie wat so ouderwets lyk met haar sisrok en Voortrekkerkappie het wel piëteit vir die volksverlede en streef daarna om die beste daaruit te behou. Hulle mag vir 'n oomblik die illusie wek dat die patriargale tydperk nog nie verby is nie..... maar ons weet tog dat die gebeurtenisse na 1900 die nuwe mens in Suid-Afrika geskep het. Die besielende gedagtes van die wordingsperiode kom nou tot rypheid; die sap het losgebreek in die volksboom; na jare van verskrompelde groei begin daar 'n nuwe lente bloei in die Karo-vaalte van die Afrikaanse tuin; 'n nuwe geluid het deur ons blou lug en oor ‘ons ewige gebergtes’ geskal, en weerklank gevind in jong harte; hulle het ‘die stem van Suid-Afrika’ gehoor en sê nou vol jeugdige vertroue: ‘Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe - ons vir jou, Suid-Afrika.’
Ons kan nog nie met volkome sekerheid sê waarheen die moderniseringsproses ons gaan voer nie. Vir my lyk dit egter of die suiwer Afrikaanse Idee nou so lewenskragtig is, dat vreemde invloede dit nie meer kan laat verstik nie. Dit is nou nie meer na-apery wat ons na die vreemde dryf nie; dit is 'n bewuste poging om ons gesigseinder te verbreed, om deel te hê aan die geesteslewe van die moderne mens, en daaruit | |
[pagina 26]
| |
te haal wat dienstig kan wees vir 'n ontwikkeling volgens ons eie volksaard. Ons wil die vreemde ken, maar wat ons eie is aankweek. Ons sal nie ondergaan in die buitelandse eksesse nie - daarvoor is ons lug te gesond, ons son te helder, ons lewensbeskouing te nugter. Wat goed is in die kultuur van ander volke sal ons op ons eie manier vervorm, totdat dit saamsmelt met die suiwer Afrikaanse Idee en bydra om dié Idee tot verdere rypwording te bring. Die Tweede Beweging is 'n bewuswording van die Mens in Suid-Afrika. Dit was 'n taalbeweging omdat dit in die eerste plek ontstaan het uit die taalstryd, maar nie omdat dit uitsluitend betekenis vir die taal had nie. Dit het gegroei soos 'n stroom wat sy bedding al hoe meer verbreed en verdiep, en uiteindelik moet dit uitstroom in die oneindige geestelike see. Die propaganda-periode (1900-1921) het op prosagebied lewe in ons letterkunde gebring, maar nie die hoër skoonheid van 'n kuns, wat nou nog in staat is om ons te ontroer nie. Die eintlike kunsperiode van ons prosa begin eers in 1921, omtrent tien jaar na die ontluiking van die verskuns. Hierdie latere ontwikkeling van die prosa is 'n algemene verskynsel in die letterkunde. Laat ons nou nagaan hoe die veranderende mentaliteit van die Afrikaner op die gebied van ons prosa tot uiting kom, hoe die meer komplekse lewensverhoudinge daarin weerspieël word. Die verskyning van Everard Fichardt se roman Onder die Olyfboom en dr. J.R.L. van Bruggen se Japie aan die begin van 1922 is 'n belangrike fase in die ontwikkeling van die prosakuns. Een van Fichardt se figure, Ewert, is ‘op die ou deurmekaar ingewikkelde wêreld, nie om die lewe te geniet nie, maar om die lewe te ontleed.’ M.a.w. die Afrikaanse kunstenaar, wat tot nog toe eenvoudig die hoofmomente van die lewe gekonstateer het, begin nou die moontlikhede van die binnewêreld, die gebied van die siel, te ontdek. Die bewusgeworde individu rig sy eie-ek op teenoor die wêreld, voel agter sy persoonlike ervarings die huiwering van die oneindige. Daar ontstaan 'n drang om agter die gewone daaglikse uiterlikheidjies te soek na die verborge sin van die lewe; om die diepere, die ware menslikheid te lig uit die vroeër so oppervlakkig geskilderde daad. Ons kry nou nie meer 'n vernuftige inmekaar gepeuterde intrige nie, maar die eenvoudige geskiedenis van 'n mens. Die kakelbont avonture, afhanklik van die willekeur van die skrywer, word vervang deur geestelike avonture, 'n noodwendige gevolg van sekere karaktertrekke. Die figure is nie meer samelapsels van afsonderlike eienskappe, wat onder sekere omstandighede op 'n verstaanbare wyse reageer nie, maar lewende mense wat 'n eie emosionele lewe het, met wie ons innig saamlewe. Hulle bly nie meer in die boek nie; deur allerhande tekenende trekke begin hulle voor ons oë te lewe; hul geestelike groei, verskillende krisisse in hul bestaan word deur plastiese uitbeelding geteken. Die skrywer deurleef self die emosies van sy karakters, laat hulle in hul | |
[pagina 27]
| |
omgewing ontwikkel. Die persoonlike psigiese ervarings van die skrywer word omgevorm, totdat dit die beeld word van algemeen-menslike sielskonflikte. Ek wil nie beweer dat Fichardt en Jan van Bruggen dit alles in die twee genoemde romans bereik het nie. Onder die Olyfboom en Japie was nog die onsekere klanke wat die nuwe rigting ingelui het en eers in 1924 het die helder-sonore dawergeluid van Ampie en Onder Bevoorregte Mense opgeklink. Maar die twee eersgenoemde romans is tipiese produkte van die oorgangstydperk, en die opvattings, wat daarin tot uiting kom, toon ook duidelik die evolusie van die Afrikaner se mentaliteit aan. Ek wil op 'n paar tipiese voorbeelde wys. Japie en Ewert tob albei oor die groot probleme van die lewe. Hulle is die verteenwoordigers van die klas ontwikkelde Afrikaner, wat deur middel van eie ondersoek, of op die universiteit, kennis gemaak het met die moderne wetenskaplike en filosofiese opvattings, en nou met hul ‘verligte’ denkbeelde op allerhande patriargale oorblyfsels in die Afrikaanse samelewing stuit, waar hul wel eerbied voor het, maar wat hul tog nie meer kan aanvaar nie. Die Calvinistiese leer word wel deur die kerk in ons land staande gehou, maar dit moet tog vir iedereen duidelik wees dat Japie's en Ewert's die natuurlike produkte is van ons non-sektariese onderwysstelsel. Ewert voel ‘dat alles geskape is en gereël word, volgens sekere bepaalde Natuurwette en as hy hom nie self kan help nie, daar geen Herder is wat hom sal help nie’ (p. 28).Ga naar voetnoot1) Japie word gekwel deur aanvalle van godsdienstige twyfel. ‘Opgevoed in 'n sfeer waarin 'n Calvinistiese God nie alleen die elemente bestuur nie, maar wat tot huishoudelike dinge verordineer, het sy ontluikende individualiteit naderhand orals vasvalplekke gevind’ (p. 29). Hy lees filosofiese werke, veral Kant, en ‘'n paar polemiserende boeke oor godsdiens lê band aan band met 'n goed-bevingerde Statebybel’ (p. 47). In sy vertwyfeling na die dood van Nellie lees hy ‘'n godslasterende sonnet’ van Rupert Brooke en dit gee hom ‘'n sekere sardoniese voldoening’ (p. 88). Al genoeg aanhalings om te bewys dat, altans by 'n deel van die Afrikaanse volk, die periode van ‘geloof op gesag’ verby is. Ons kry nou die mens wat ly deur die teenstrydige magte in sy eie siel en amper ten onder gaan, die kind wat uit die hoogtes van naïewe, ootmoedige vertroue neergesmak word in dieptes van twyfel, 'n Kleine Johannes wat met Windekind en Wistik intiem omgegaan het, wat ook al by Pluizer en dr. Cyfer was..... maar nog na die goue sleuteltjie soek. Vir Japie is die dood 'n probleem en hy wonder ‘of dit ooit opgelos kan word’ (p. 28). Een van sy vriende worstel met die gedagte aan selfmoord, 'n ander sit en dink ‘oor 'n lewensbeskouing wat met (hom) sal akkordeer’. Die individu kom uit die massa te voorskyn. |
|