gewikkelde verhoudings tussen mens en mens te laat ontstaan, soos ons die in 'n moderne samelewing aantref. Die groot momente in die lewe was die aanneming, die Nagmaalsviering, die huwelik, die geboorte van kinders, die volksfeeste, een of ander veldtog, die daaglikse stryd om die bestaan, kranktes, ouderdom en die dood. Kortom dit was 'n lewe na die buitekant, behalwe dan wat godsdienstige oorpeinsings betref. En deurgaans het die onsienlike dinge ook nie tot geweldige sielskonflikte gelei nie, omdat die blymoedige geloof in die kerklike waarhede van geslag op geslag oorgeplant is. Die godsdiens, gegrond op 'n eenvoudige interpretasie van die Bybelwoord, of op die verklaring van die predikant, was die natuurlike erfstuk wat van vader tot seun oorgegaan het. Geloof op gesag van die Statebybel was die reël; twyfel aan die grondwaarhede was ondenkbaar; twyfel aan die praktiese toepassing van die godsdiensleer kon, weens die eenvoudige samestelling van die gemeenskap, maar selde voorkom.
Mettertyd het die verhoudinge natuurlik ingewikkelder geword. Die Boer was nie meer die koning op sy afgeleë plaas nie. Sy hoë sedelike beskawing kom in botsing met die van 'n oorwinnaar, wat hier die moderne Europese instellings en begrippe bring. Hy kan nie meer op die voorvaderlike paadjie wandel nie. Sy natuurlike ontwikkelingsgang word verander deur inenting van die Engelse idee. In sommige dele van die land word groot goudsoekende mensemenigtes as deur 'n geweldige dwarrelwind opmekaar gebondel. Die gestamp van mynmasjinerie verstoor die landelike rus. Wegtrek na 'n nuwe vaderland kan die Boer nie meer nie; hy moet hom aanpas by die nuwe omstandighede. Die moderniseringsproses begin.
Ons leef nou in die oorgangstydperk, en in die letterkunde sien ons die oue en die nuwe naas mekaar en soms deurmekaar. Die eerste digters het meestal die bevrugtende invloed van die Europese gedagte ondergaan en hulle was die eerstes, wat in die Afrikaanse kuns party gemoedstoestande van die moderne mens weergegee het. By hulle vind ons die drang wat agter die uiterlike verskynsel soek na die innerlike betekenis. Hulle gryp na die verborge werkinge van die siel, ontleed hul eie-ek en kry 'n blik op die ongekende moontlikhede van die binnewêreld. Hul natuurbeskouing raak onder die invloed van Gezelle e.a. ver verwyderd van die utiliteitsopvatting en hul openbaar aan die volk skoonheid tot in die nietigste ‘gonsrige goggatjie’.
By die prosaskrywers gaan die ontwikkeling minder snel. Die propaganda-periode duur tot omstreeks 1921. Daar is wel voor die tyd flou aanduidings van die intree van die Afrikaanse mens in die letterkunde o.a. by Léon Maré, Jochem van Bruggen, D.F. Malherbe en J.H. Kruger, maar hulle slaag nog nie daarin om ons deur forse karaktertekening te tref nie. Hulle tas wel op onsekere wyse na die psigologiese