§ 8. Die Avontuur-Roman.
Die geskiedenis bly dus voorlopig nog die uitgestrekte weiveld van die intrige-romanskrywer. Agter elke bossie kan daar 'n leeu of tier skuil; daar is tallose gevegte met Engelse en inboorlinge wat spannende situasies kan verskaf. In die avontuurlike bestaan van die rondswerwende pionier is dit nie nodig om na romantiese verwikkelinge te soek nie. Selfs die skrywer met 'n middelmatige vernuf kan daar 'n kleurryke historieprent van maak en die vernaamste episodes soos 'n eindelose rolprent vir ons afdraai. Prikkel die nuuskierigheid so'n bietjie, sorg dat daar 'n paar waaghalsige vaderlandse helde en 'n klompie gewikste skurke of landverraaiers in optree, maak gebruik van al die konvensionele kunsies, 'n onverwagte erfenis, 'n geheimsinnige vondeling, 'n engelagtige meisie, wat deur 'n barbaarse rou-kaffer ontvoer en op die laaste minuut deur 'n übermensch gered word, ens., ens., doop dan die hele werskaf in 'n sentimentele sousie..... dit is die resep vir 'n suksesroman! As 'n skrywer maar behendig die draadjies kan trek van 'n klompie houtpoppe, liefs met 'n stukkie vierkleur om die hoed, en hul 'n paar ingewikkelde dansies laat uitvoer, waarby 'n paar rooies of 'n spul Zoeloes in die stof getrap word, dan vind hy lesers genoeg! In Oupa en sy Kleindogters is daar o.a. nagtelike spokerye, 'n dubbelsinnige testament, 'n groot diamant, 'n onbekende held, wat soos in 'n middeleeuse toernooi almal uitstof op die sportterrein. As die skurke opgeruim is, word al die drade met sigbare opsetlikheid saamgetrek vir die groot slotopvoering van die marionettespel, 'n prysuitdeling, waarby oupa fungeer as beloner van die deug. Dan is alles ‘pais en vree’. Die huweliksklokke begin te bombom en as komieklike naspel verskyn, volgens ou gewoonte, in die laaste paragrafie ‘'n pasgebore dogtertjie, 'n lewendige seuntjie en 'n gesonde tweeling..... almal spekvet.’