om die eer van die nasie te rehabiliteer, groei die besef van die grootse tragiek van die worsteling van die eerste volkstigters. Een van die eerste prosawerke van die Tweede Beweging was Preller se Piet Retief (1906). Daarmee lewer hy nie alleen die bewys dat die volkstaal geskik is vir 'n wetenskaplike studie nie, maar sy werk word ook 'n bron van inspirasie vir digters en romanskrywers, en 'n aansporing vir ander ondersoekers om hulle met liefdevolle toewyding te verdiep in die periode van die Groot Trek. Preller het ons geleer dat ons geskiedenis nie net 'n aaneenryging van ‘niksbeduidende kafferonluste’ is nie, maar dat die Trekkers die grondslae gelê het van 'n onafhanklike volksbestaan. Hy het ons gewys hoe dwarsdeur die verwarrende opeenstapeling van insidente, politieke kuiperye en lokale rusies, die Afrikaanse Idee met kannie-dood-taaiheid gegroei het, hoe die Afrikaanse Bestemming ‘wyd en breed soos die Afrikaanse veld’ is. Dingaansdag word weer 'n nasionale feesdag, die gelofte van Bloedrivier word plegtig nagekom. Die ou Voortrekkerkerkie word in eer herstel en as museum ingerig. Eersdaags word op Pretoria die groot nasionale monument ter ere van die Voortrekkers onthul. Deur die hele land word historiese herinneringe, ook uit vroeër tydperke, met piëteit behandel. Die biografieë van volkshelde word geskryf. Suid-Afrika word bewus van sy nasionale betekenis, eis sy plek op in die volkerery.
Die romanskrywers probeer om 'n kleurige beeld te gee van die volksverlede. Die eerste knoppies van 'n vaderlandse Romantiek gaan skamerig oop. Maar die digters slaag baie beter as die prosaïste om die gees van die verlede te vertolk. By die laasgenoemde is die skeppende verbeelding wat die historiese feite moet interpreteer en wat moet deurdring tot die innerlikste kern van 'n tydperk, sonder om versmoor te raak onder noukeurige argeologiese gegewens, alleen af en toe aanwesig. Dikwels moet die historiese agtergrond net dien om 'n hele reeks avonture meer waarskynlik te maak, of anders word geskiedkundige verhandelinge opsetlik ingevleg om die bewerings van skoolhandboeke te weerlê - 'n prysenswaardige bedoeling uit 'n kultuuroogpunt - wat egter noodlottige gevolge het op die letterkundige gehalte van die verhale. Uiterlike gebeurtenisse hou ons vertellers so besig dat die innerlike roersels van die mensehart uit 'n vorige periode hul aandag ontsnap. Daar is wel aanduidings dat ons na die periode van oppervlakkige uiterlikheid tot meer innerlikheid sal kom. Enkele historiese verhale van Preller, insonderheid Moedersmart, 'n paar sketse van Léon Maré, e.a. toon aan dat ons kunstenaars hul dieper in die geskiedenis begin in te lewe. Die tekening bly egter nog fragmentaries, klein-historieel, en die kunstenaar, wat nie net oor die verlede kan praat nie, maar dit kan afbeeld in gestaltes van algemene betekenis, sodat die hele dooie tydperk met sy dieptes van menslike leed en vreugde, sy ideale en gewoontes voor ons oë verbytrek, die kunste-