§ 6. Die Satiries-Humoristiese Stroming.
Die vaste wil van die volk om sy eie aard te herower het ook aanleiding gegee tot 'n satiries-humoristiese stroming in die letterkunde. Die eerste Regte Afrikaners het al in geestige rympies vol lugtige spot hul verbasterde landgenote aan die kaak gestel en ook die oorwinnaar 'n paar goeie kopskote gegee of hom klinkende skeldname toegeslinger. Gedurende die Tweede Beweging word die waarde van alles wat suiwer Afrikaans is nog beter besef en in die stryd vir 'n eie kultuur word die satire 'n magtige wapen. Die mokerslae van die eselskakebeen dreun op die Filistyne, die kultuurverbastering word met striemende raakhoue gegésel. Die verontwaardiging oor die veragtelike rol deur die ‘handsoppers’ in die oorlog gespeel vlam ook in die letterkunde op. Die ideaal is nou ‘'n man wat sy man kan staan’, wat net ‘'n trap van sy voet’ oorhet vir die lae verraaier, ‘en die bastergeslag in sy siel verag’. Die botsing tussen die takhaarbeskawing en die verengelste haai-sosaaietie-kringe van stad en dorp word in geestige tafereeltjies geteken. Ou vaderlandse sedes en gewoontes word verheerlik en al die uitheemse gedoentes moet deurloop. Die steekse motor van die moderne Afrikaner word dorp-toe gesleep deur die vaarlandse osse van die ou Trekker!