'n onskuldige avontuurverhaaltjie, eie kind van Johannes van Wyk; hy verval ook partymaal in 'n maklike oppervlakkigheid wat hy vir eenvoud ter wille van die onbevoorregtes aansien. Maar deurgaans vind ons tog by hom die skone kristallisasie van die volkswysheid. Sy belangstelling vir die gesonkenes is nie 'n koelberedeneerde opinie nie, dis 'n hartstogtelike liefde; dis nie 'n oppervlakkige jammerte nie, maar 'n heerlike geloof in die moontlikheid van 'n regenerasie; só'n hartstogtelike geloof dat daaruit egte kuns ontspruit. Waar die mindere gode dit nie verder bring as soetsappige vermanings of sedeprekery nie, en van die letterkunde 'n propagandamiddel probeer maak, voel ons by Langenhoven die trilling van 'n bewoë gemoed. Te midde van die onsekere geluidjies van die eerste moraliste, hoor ons in Langenhoven se werk die sware dreunstap van 'n man. Hy het sy eie stem, en wat beteken sy teorie naas die gawe van sy kunstenaarskap? Hy sien die dinge op sy eie manier en hy sê dit op sy eie manier. Deur die sierlike spel van sy vernuftige ironie en speelse humor tintel daar op elke bladsy verrassende mooihede en selfs waar hy hom in die net van gekunsteldheid toespin, het hy nog 'n oorspronklike grasie. Uit die volksnood is die kunstenaardidaktikus gebore.
Die didaktiese lyn is eenvoudig 'n voortsetting van die Hollandse tradisie. ‘Soekers van nutte lering’ was daar altyd in die stamland en die didaktiese lyn loop van Maerlant na Cats, oor die predikantdigters van die negentiende eeu, tot op Van Eeden in die twintigste, om maar 'n paar hoogtepunte te noem. Naas dié oorgeërfde neiging moet ons ook rekening hou met die historiese wordingsperiode van die Afrikaanse volk. Die stigters van ons nasie het uit die gewone volkskringe gekom en gedurende die eerste twee eeue van sy bestaan het ons volk feitlik al sy geestelike groeikrag geput uit die Bybel en 'n paar preekbundels. Dit hoef ons dus nie te verwonder nie, dat in die eerste letterkundige proewe die stigtelike element so sterk is en die skrywers telkens oorslaan tot 'n direkte preektoon. Hulle werk is eenvoudig 'n refleks van die volksgees, en in die teenswoordige stadium van ontwikkeling kan dit nog nuttige dienste bewys, al bevredig dit ook nie altyd die eise van 'n moderne letterkundige smaak nie. Deur die werk van kunstenaars soos Totius en Langenhoven sal die volk mettertyd die onderskeid leer tussen die didaktiek wat oprys uit sulke dieptes van persoonlike belewing dat dit skoon word deur die gloed en die geloof van die siel wat daaraan uiting gee, en die traktaatjiesagtige lewenswysheid van die oppervlakkige skrywer, wat reken dat stigting en sielsvolmaking moontlik is sonder skoonheid. Die godsdienstige idee het hom so vasgevleg in die weefsels van die volksbestaan, dat die kunstenaar wat enkel skoonheid soek, wat sy hele geestelike bevrediging vind in plastiese afbeelding, innige weergawe en welluidendheid nooit die hart van die volk