§ 4. Politieke Verwikkelinge.
In 1910 het ons eindelik staatkundige eenheid bereik. Die volksgees, lewendig gehou deur die taalstryd, het hom ook kragtig laat geld op politieke gebied, en wat eers uitsluitlik 'n taalbeweging was, word langsamerhand 'n nasionale beweging. Gaandeweg groei die besef, dat die grondslag van alle beskawing is die ontwikkeling van die hele volk volgens die noodwendigheid van sy eie siel en sy eie geaardheid. Maar na luttele jare van ontwikkeling in dié rigting, kom daar weer die politieke skok van 1914. Hoog vlam die hartstogte op en 'n deel van die volk probeer om die ou vryheidsideaal weer met die wapen in die hand te verwesenlik. Dié poging faal, maar dit lei tog tot 'n verhoogde volksvitaliteit, wat die selfstandigheidsgevoel aanwakker, al is die nasleep daarvan ook skeuring en verdeeldheid. Die rebellie van 1914 gee nuwe lewe aan die ou politieke ideale.
‘Niks is so heuglik, niks beslister
as dat ons son sal opkom uit
ons skoon en droewig “ewig gister”.’
Soos vroeër die Afrikaner-Bond op Majoeba wortel gevat het, so dagteken die snelle groei van 'n ander politieke party uit die dae van die opstand. Ons is nog te digby dié gebeurtenisse om dit rustig objektief te beskou, maar ek sien daarin die tweede fase van die Tweede Beweging, wat nou definitief oorgeplant word op politieke terrein. Die stootkrag van die staatkundige aksie kom oorspronklik uit die verhoogde nasionaliteitsgevoel wat deur die taalbeweging gewek is, toe die betekenis van die Groot Trek in sy volle omvang besef is.
‘Want dit het die roering ons openbaar:
Die gees van die Voortrek is nog altyd daar,