Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 3. Die Tweede Afrikaanse Beweging.Maar voordat dit gebeur het, het die Afrikaanse volk deur die Tweede Vryheidsoorlog tot volledige bewustheid gekom. In dié stryd het die staatkundige onafhanklikheid van 'n deel van die volk verlore gegaan, maar daardeur het ons gewin die geestelike onafhanklikheid van die hele Afrikanerdom. Uit die skynbare neerlaag is die nuwe Afrikaanse Nasie gebore; in dié stryd het die heterogene elemente saamgesmelt tot 'n hegte eenheid. Dié wanhopige worsteling het die innigste roersels van die volksiel heftig laat tril; deur die algemene lyding het daar diepte in die volkslewe gekom. Gelouter en met die volle bewustheid van sy geestelike krag het die Afrikaner oor die puinhope van die verlede gestaar na 'n vreugdevolle toekoms, en na die eerste weemoedsvlaag het die volk sy vaste wil getoon om te behou wat nog te behou was: sy taal, tradisies, sy eie Afrikaanse kultuur. Dit was 'n geestelike wedergeboorte, 'n opstanding uit die knegskap van die oorwinnaar. Eindelik sou nou die hoë geestelike sieleadel van die grondvesters van die Afrikaanse nasie tot 'n rype ontplooiing kom. Wat politieke en ekonomiese faktore in 1875 nog onmoontlik gemaak het, sou in die begin van die twintigste eeu verwesenlik word. Na die stryd kom die volle bewustheid van die grandiose tragiek van die verlede, die bewondering van wat vir die stryders self nog so 'n eenvoudige noodsaaklikheid gelyk het. Nou kom die rustige besinning, die liefdevolle bepeinsing van die verlede, en daaruit ontstaan die hoop op die toekoms. Die voedingsbodem vir die opkoms van 'n nasionale letterkunde was nou daar. Langsamerhand word die drade van die verlede saamgevat en die vernude taalstryd kon as gevolg van die veranderde mentaliteit met verrassend snelle tempo volstry word. Nou was dit nie meer drie HollandersGa naar voetnoot1) wat die Afrikaner aan homself moes ontdek nie; die stootkrag het nou uit die boesem van die volk self voortgekom. | |
[pagina 12]
| |
Die Sieners.Dit was 'n beslissende oomblik in die geskiedenis van ons beskawing toe Jan Celliers die Suid-Afrikaanse vlakte gesien het; toe Totius by die monument van ons droewige volksverlede die bevrydingslied van sy opgekropte ontroeringe aangehef het; toe Leipoldt ‘nog half flou met die skok van die oorlog’ Oom Gert ‘die storie van ons sterfte’ laat vertel het en sy ‘nietige reeks van rympies’ opgedra het ‘Aan almal wat voorafgegaan het’ met die plegtige versekering: ‘Ons onthou.’ Die geestelike besieling word uit nood gebore. Droefheid, leed en stryd laat die mens tot sy innerlik inkeer; deur die besinning word die heftige sensasie en die hartstog tot geestelike bewoënheid gesublimeer in die gemoed van die digter. Die volk self neem nooit die voortou in die ontdekking van nuwe waarhede nie. Dis altoos die persoonlikheid wat die leiding neem. Die kunstenaars is die bewusmakers, verkondigers en sieners. 'n Paar ontvang die genade van die intuïsie, en die groot volksmenigte kan instinktief hul intuïtiewe wysheid navoel. Die kunstenaar kan geen kultuur stig nie; hy skep deur en in die volkskrag. By die Afrikaanse volk was daar net 'n soort primitiewe raseenheid, as gevolg van 'n historiese ontwikkeling. En 'n volk kan eers tot geestelike bloei kom as die bewuste geeste 'n idee verteenwoordig, wat die ganse volk kan bewonder. Die ideaal wat die leiers van die vorige generasie die volk voorgespieël het, 'n nageaapte vreemde kultuur, het die groot massa nooit ontroer nie; die ideaal van die Patriotmanne het wel spontane geesdrif verwek, maar vir duursame bewondering was dit tog glad te laag. Toe kom die digters van die Tweede Beweging die volk siende maak; met hulle kom die geestelike sintese, die samevatting van al die vae, onbewuste aspirasies wat in die jare van lyding en stryd soos onwesenlike droombeelde gespook het deur die volksiel. Dié geestelike sintese eers vorm die beslissende kultuurmoment van die Afrikaanse beskawing. Die Patriotters het self nog te veel in die stryd gestaan om tot so'n sintese te kom; veg-veg kon hulle wel 'n paar glanspunte in die stryd swakkies berym, maar dit was net die dadelike neerslag van vlugtige indrukke. Die innerlike skoonheid van die volkswoeling, wat hulle self aan die gang gesit het, kon hul nog nie besef nie; verstandelik kon hul wel die volksideaal beredeneer, maar met verstandelike middele kan 'n volk nie opgevoer word tot so 'n hoogte van ekstatiese verrukking nie, dat dit glo waar dit na hunker, dat dit sien wat dit instinktief verwag. Vir 'n paar eeue had die Griekse volk soos 'n eenheid geleef, teen ander volke geveg, en gedroom van sy gode op die hoë Olimpus. Maar die hele wêreld het nog blind gelyk. Eers toe die digter, die wêreld gesien het en dit in liefdevolle verrukking uitgebeeld het, toe eers het die Griekse volk selfbewus geword, toe eers was dit in geestelike sin 'n volk. | |
[pagina 13]
| |
Want die Griekse kultuur begin eers eintlik met Homerus. Alle Grieke het dan ook die ontsaglike betekenis van sy heldedig erken. Just Havelaar sê êrens, dat dit nie toevallig is nie, dat volgens die legende Homerus blind was. Want nadat die digter gekyk het, moes hy die gesiene inwendig verwerk; hy moes alles eers deurskou met sy geestelike oog, alles saamvat in liefdevolle verwondering, voor hy kon uitbeeld. 'n Mens kan kyk en jy kan sien. Jy kan doodnugter 'n saak bekyk en ontleed en daarna soos 'n wetenskaplike navorser jou gevolgtrekkings maak. Die kunstenaar kyk ook, maar hy sien nie net die uiterlike verskynings nie; die gesiene word by hom verbeelding, simbole van psigiese lewe. Sy kunswerk is 'n skepping, 'n sintetiese lewensbeeld. Gedurende die ontwaking van sy liefdelewe word die jongeling siende. Voor dié tyd het hy net gekyk en niks besonders gemerk nie. Maar nadat hy gesien het, word die skoonheid 'n stralende werklikheid vir hom. Alle minnaars word digters en alle digters is ook minnaars. Ons het almal die vlakte met sy see van deinende koppies bewonder, lank voordat ons Jan Celliers se gedig gelees het; maar hoe het die digter met sy suggestiewe beelde-ry nie ons gevoel vir die skoonheid daarvan verinnig nie! Duisende Afrikaners het daagliks met wa en osse gewerk, maar dit was die beeldende fantasie van ons digters wat die mees alledaagse trekgoed gemaak het tot simbole van die heroïese worsteling van die Groot Trek. Duisende vroue het hul kinders vertel van die lyding in die konsentrasiekampe, maar in die een reël van Jan Celliers:
Suster Anna, ek hoor 'n kerkklok slaan......
lê 'n mistieke krag, wat die donker tragedie van die kampe meteens vir ons oopblits. En nie net vir óns nie, maar ook vir die verre nageslagte, want die kuns gee die tydelike op ewige wyse. Deur Homerus, Plato, e.a., bly die Griekse gees 'n ewige nou. Die Egiptiese wêreldstelsel is alleen nog van betekenis vir die geskiedkundige navorser, maar deur die Egiptiese koningsbeeld bly die Egiptiese idee 'n ewige nou. So het ons digters ook aan die volk 'n geïnspireerde belydenis gegee van die Afrikaanse ideale. En dié digterlike belydenis was in die veragte moedertaal. Maar nou nie meer die laag-by-die-grondse taal van die Patriotters nie, wat elkeen kon skryf, ‘net na die wind hom dryf’ nie, maar die veredelde volkspraak, so omgewerk deur 'n skeppende verbeelding, dat die volk met ontroerde verwondering, van die digters sy eie taal kon leer. Die alledaagse klanke van 'n verwaarloosde dialek het die digters simboliese betekenis, geestelike inhoud gegee. Met verrukking het die volk gewaar, dat dit nou nie meer die speletjies van 'n lekker rymende klompie was nie, maar die heilige erns van doelbewuste leiers. Winternag van Eugène Marais (1904) het miskien meer mense oortuig, | |
[pagina 14]
| |
as al die vernuftige en logiese argumente van die hele Patriot-periode.Ga naar voetnoot1) Langsamerhand het die geestesgesteldheid van die hele volk verander. Daar het 'n vernuwing gekom, 'n wedergeboorte. Dit was die begin van 'n Afrikaanse Renaissance. Want die boodskap van die digters het weerklank gevind by die volk, omdat hul gevoelvolle klanke net die skone kristallisasie was van wat daar al onbewus in die siel van die massa gelewe het. Die ideaal wat die digters op serene bergtoppe in kontemplerende rus gesien het - in daardie ideaal het die volk geglo. En orals het daar manne en vroue opgestaan wat met geesdriftige ywer begin te werk het aan die verwesenliking van dié ideaal. Aanvanklik was dit net 'n taalbeweging. Vir omtrent twintig jaar het ons 'n taalstryd gevoer en eers in 1925 het die laaste Hoog-Hollandse fort geval met die erkenning van Afrikaans deur die Volksraad. ‘Ons jong Afrikaanse taal moet win en sal win’ was die vlammende passiekreet van die herlewende volk; vol van die besielende weelde van 'n pasgewonne vryheid het die aanvoerders hul manifeste geslinger teen die wikkende, weënde twyfelaars wat nog lus gehad het om 'n vreemde taal en kultuur aan die nasie op te dring. Die eerste letterkundige voortbrengsels het 'n uitgesproke militante karakter gehad. Baie boeke, wat in die taalstryd kragtige wapens was, het nou nog net kultuurhistoriese belang. Johannes van Wyk, die eerste prosawerk van die Tweede Beweging, was 'n spannende verhaal wat die jongspan en selfs oueres met graagte gelees het, maar niemand sal dit vandag nog as kunswerk beskou nie. Maar in sy tyd was dit 'n uitstekende propagandamiddel, wat meer effek gehad het, as die kragtigste taalmanifes. En so is daar nog 'n hele paar ander prosawerke uit die eerste periode, wat nou al weer vergeet is, of wat alleen nog as kinderlektuur diens doen. Die tot vervelens toe herhaalde geroep van die teenstanders: ‘Afrikaans het geen letterkunde nie!’ het prikkelend gewerk en 'n atmosfeer geskep, waarin wel 'n kragtige strydliteratuur kon ontstaan, maar slegs by uitsondering 'n uiting van stralende skoonheid, wat deur alle tye heen kon geniet en gewaardeer word. Die uitdaende houding van die Hoog-Hollandse party, wat hom steeds beroep het op 'n eeu-oue letterkunde, het die jong stryders opgehits tot dade van durf. In jeugdige oormoed het hulle aan skrywe gegaan, nie altyd omdat daar 'n innerlike woeling was, wat tot vertolking gedwing het nie, maar meer | |
[pagina 15]
| |
om te bewys dat die verguisde ou taaltjie ook sy man kon staan. Na die eerste paar jaar het daar 'n groot aantal boeke in Afrikaans verskyn; en omdat in die taalstryd juis dié wapens so uiters belangrik was, kon die kritiek dikwels nie onvoorwaardelik veroordeel nie. As gevolg van die koorsagtige strydstemming het daar veral baie minderwaardige prosawerke verskyn. Dis maklik om na die verskyning van Uit Oerwoud en Vlakte, Ampie en Onder Bevoorregte Mense te beweer dat die grootste gedeelte daarvan maar prulwerk was. Maar dit was prulwerk, wat tog voortreflike dienste bewys het in ons taal- en kultuurstryd. Dié voortrekkerskrywers het wel die verhewe siening van die eerste digters gemis, maar hulle het in elk geval die volk van 'n geestelike hongerdood gered en eenvoudige leesstof gelewer, toe daar nog geen Afrikaanse boeke was nie, toe die meeste begaafdes nog stil gesit het, of niks anders as spot oor had nie vir 'n beweging wat 'n end gemaak het aan ons lang periode van geestelike knegskap. Die groot behoefte aan leesstof in die moedertaal het hulle uit pure vaderlandsliefde na die pen laat gryp. ‘Ons het 'n volk om te behou, ons het 'n nasie om op te voed, ons kan nie wag nie!’ roep Jan Celliers in 1907 uit. Dit was die strydkreet van 'n doelbewuste leier. Onder die stryd het die nasionale bewussyn vinnig gegroei. Maar dié woelige tydperk met sy eindelose taalredenasies en hartstogtelike afbrekery, sy verdeeldheid en verbittering, het veral in die begin nog belemmerend gewerk op die letterkundige ontwikkeling, al het meer as een skrywer ook daaruit sy inspirasie gekry. Ook die digters verlaat hul hoogtes van kalme oorpeinsing om aktief deel te neem aan die stryd deur 'n besielende oorlogsroep soos Celliers met sy: ‘Ek hou van 'n man wat sy man kan staan,’
of soos Leipoldt om met waarskuwende vinger op die groot taak te wys: ‘'n Nasie word nie somar as die koring groot:
Dit moet deur werk, deur vlyt, deur smart,
Deur lewe ook word voortgestoot.’
Dié eerste skrywers het ook gou genoeg uitgevind dat 'n volkstaal, hoe lewenskragtig en kernagtig dan ook, nie sommer dadelik 'n geskikte literatuurmedium kon word nie. By alle volke is dit nog altoos 'n langsame proses gewees, wat parallel geloop het met die kultuur-evolusie. By ons was daar wel 'n hoë sedelike beskawing en daarom het die proses dan ook so wonderlik gou gegaan. Maar die eerste skrywers was almal opgevoed in die Hoog-Hollandse tradisie en party het so by die dood omgedraai van die Engelse siekte. Selfs ons, die tweede geslag, sukkel nog met dieselfde moeilikhede en dis nog altyd nie net 'n kwessie van taalveredeling nie, maar ook van taalsuiwering. Die eienaardige moeilik- | |
[pagina 16]
| |
hede wat hierdie taalevolusie meebring, sal nog lank belemmerend werk op die letterkundige gehalte van ons voortbrengsels, en die gevaar van taalverwildering het nog gladnie gewyk nie. Dit is hierdie besef, wat naas die natuurlike gevoel van stamverwantskap, 'n deeglike studie van die Nederlandse lettere altoos 'n gebiedende noodsaaklikheid sal maak. Die veredelingsproses sal deur 'n jong geslag wat 'n suiwer Afrikaanse opvoeding ontvang en tog die ou stamtaal nie verwaarloos nie voortgesit word; die Afrikaanse idioom, soms so tipies-ruig, maar tewens so raak van seggingskrag, sal gaandeweg aan buigsaamheid win; ons sien nou al hoe dit in die werke van ons kunstenaars meer en meer verhartstogtelik word. |
|