Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 2. Die Hoog-Hollandse Party.Dit sou verkeerd wees om by ons bewondering van die Patriotmanne die Hoog-Hollandse Party te vergeet, want by alle verskil oor die middele, het albei partye tog dieselfde einddoel beoog, naamlik die wedergeboorte van die Afrikaners. Die predikante mag met veragting die Patriotmanne uit die sinagoge verwerp het, maar die Kerk het tog die magtige bolwerk van beskawing gebly. Daar was baie predikante wat ‘van die Engelse goggatjie’ gebyt was - daar is vandag nog van dié soort onder ons en nie net predikante nie - maar as 'n groot, magtige, georganiseerde liggaam het die Kerk gesorg vir die sedelike welvaart van die volk en was die Kerk altoos die laaste, maar onneembare loopgraaf van die Afrikanerdom, die simbool van die edelste aspirasies van die nasie. Op taalgebied het die Hoog-Hollandse party hul kragte georganiseer in die Suid-Afrikaanse Taalbond, aan die oprigting en werk waarvan die Kerk 'n groot aandeel gehad het. Maar so rotsvas was die oortuiging van die Patriotmanne dat hul gesê het: ‘Ons gaan op ons weg voort; maar ons is altyd bereid om met ander saam te werk, as hulle dieselfde einddoel beoog.’ En die ironie van die geskiedenis wou dit so hê, dat ds. S.J. du Toit die eintlike insteller van die Taalbond-eksamens was! Daar was 'n hele reeks Hoog-Hollandse skrywers wat vir dieselfde einddoel geywer het.Ga naar voetnoot1) Hulle het die Zuid-Afrikaanse Tijdschrift opgerig en hul werke het die groei van 'n gesonde nasionale gees bevorder. Ek dink b.v. aan 'n skrywer soos d'Arbez, wat van 1896 af deur sy historiesromantiese verhale die bewondering vir die voorgeslag aangewakker het en jong Suid-Afrika letterkundige genot verskaf het. In ons ywer vir Afrikaans loop ons gevaar om die invloed van die Hoog-Hollandse skrywers te onderskat. Hulle het wel nie daarin geslaag om die volksiel te ontroer nie, omdat hul taal, hoe Afrikaans van gees en inhoud dan ook, altyd styf en onnatuurlik-vreemd gebly het, maar hul was net so Afrikaans as die beste Patriotter en het geen geringe aandeel gehad in die nasionale oplewing nie. Ook buiten die Genootskap was daar tekens genoeg om aan te dui dat daar 'n roering onder die doodsbeendere aan die kom was. Nog voor die stigting van die Genootskap, in Mei 1875, het dr. | |
[pagina 11]
| |
Brill in Bloemfontein die mening uitgespreek dat Afrikaans nog die draer van 'n eie letterkunde sou word, en president Reitz en ander skrywers het al in dieselfde rigting gewerk 'n hele paar jaar voor 1875. Na die Tweede Vryheidsoorlog het die Hoog-Hollandse Party nog 'n laaste poging gemaak om Nederlands vir die Afrikaner aanneemlik te maak deur die invoering van die Vereenvoudigde Spelling. Dit was egter meer as 'n spellingwysiging, want die Taalbond het ook die deur oopgesit vir die kernagtige idioom van die volkstaal. Dit het gelei tot nog 'n verwoede taalstryd en 'n tydelike opflikkering van die Hoog-Hollandse letterkunde. |
|