| |
| |
| |
Hoofstuk I. Die Eerste en Tweede Afrikaanse Bewegings.
§ 1. Die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners.
‘Mogelik sal 'n latere geskiidskrywer - as teenwoordige fooroordele al uitgesterwe is en die tyd elke gebeurtenis na waarde sal gerangskik hê - di veertiinde Augus 1875 opteken as 'n gedenkwerdige dag in di geskidenis fan Suid Afrika. Dis di dag waarop Di Genootskap fan Regte Afrikaners opgerig is.’
Hierdie woorde van ds. S.J. du Toit, die leier van die Eerste Afrikaanse Beweging, het gouer in vervulling gegaan as hy miskien self gemeen het. Voor sy dood in 1911 moes dit vir hom duidelik gewees het, dat sy groot lewensarbeid nie tevergeefs was nie, maar dat 'n jong geslag van taalstryders besig was om die oorwinning vir Afrikaans te behaal.
Vyftig jaar is nie lank in die lewe van 'n nasie nie, maar as ons dink aan die tydperk tussen 1875 en 1925, dan moet die snelle ontwikkeling van die Afrikaanse volk ons verbaas. In 1875 was daar wel Afrikaners, maar van 'n Afrikaanse volk kon daar nouliks sprake wees. Stadig maar seker had die proses van verengelsing sedert die oorname van die Kaap aan die begin van die negentiende eeu deurgewerk. Die magtige oorwinnaar, gerugsteun deur 'n eeu-oue beskawing, was besig om die handjievol Afrikaners op vreedsame wyse te absorbeer. Swak was die saamhorigheidsbesef by ons ou volkie, wat nie eers 'n gemeenskaplik erkende taal had, waarin dit vir sy ideale kon stry nie. Vooraanstaande Afrikaners, soos hoofregter de Villiers, het getwyfel aan die voortbestaan van die Afrikaanse volk en gemeen dat dit beter sou wees om maar stilswygend die onvermydelike inslukproses sy gang te laat gaan. Vooraanstaande Hollanders, soos dr. Changuion en dr. Mansvelt het gesien dat dit hopeloos was om die Afrikaner te probeer Hollands leer. Eersgenoemde het gesê: ‘Tans beschouwen wij de taal, waaraan wij onze moeite besteden, gelijk een geneesheer een ongeneeslike lijder, wiens kwaal in haar verderfelike uitwerkingen wel enigszins kan gematigd, wiens wisse dood wel enige
| |
| |
tijd kan vertraagd worden, maar op wiens volkomen herstel niet meer te hopen valt.’ En dr. Mansvelt het met hom saamgestem.
Soos 'n vreemdeling in sy eie land, soos 'n doofstomme het die Afrikaner gesit! Engels wou hy nie, Hollands kon hy nie praat of skryf nie, en Afrikaans was net goed vir Adoons by die kraal, of Kaatjie by die potte. Op vergaderinge het hy gehakkel in 'n vreemde, aangeleerde Hoog-Hollands, op papier het hy hopeloos verward geraak in die striknet van Nederlandse verbuigings en vervoegings. Stilbly is ook 'n ding, sê ons. Maar as 'n hele volk stilbly, as die hele geesteslewe van 'n volk gestuit of onmoontlik gemaak word deur taalbelemmering, beteken dit 'n nasionale moord. Want deur die taal moet die volk uiting gee aan wat daar woel in sy gedagtes. Dit is die vernaamste band wat die eenling aan die gemeenskap verbind, wat volksideale moontlik maak. Die taal is die wonderlike gemeenskapskepping waardeur alle bewussynslewe eers moontlik word. Op onbewuste wyse kom die mens deur middel van die taal tot bewussyn. Neem dié gemeenskaplike uitingsmiddel weg, beroof 'n volk van sy spraak en jy sit elke burger op 'n eilandjie. Ons het wel altyd die omgangstaal gehad, maar ons land was uitgestrek en ons afstande so groot, dat daar van 'n eendragtige aksie niks kon kom sonder die geskrewe woord nie.
Die taal is nie net die voertuig van die gedagte nie, maar dit raak ook diep die innerlikste roersels van ons siel. Dit is die erfstuk van ons voorvaders, geheilig deur al die herinneringe van ons kindsheid. Daarin het ons ons eerste woordjies gestamel aan moeder se knie. Maar toe ons op skool kom, moes ons uitvind dat dié moedertaal 'n minderwaardige uitingsmiddel was, wat net deug in die kombuis. Dié agterstelling van wat ander volke as die kosbaarste kleinood beskou, het 'n suiwer Afrikaanse kultuur onmoontlik gemaak. Ons kon nie ons eie siel ontdek nie, ons kon nie 'n gesonde gevoel van eiewaarde aankweek nie, want ons moes van na-apery lewe. As ons eers amper-Hollander was, kon ons enigsins in tel kom by die boonste laag van die samelewing. As ons eers probeer het om die klanke van ons moedertaal dood te smoor en te bewonder wat halfvreemd was, dan eers kon daar sprake wees van enige ontwikkeling. Amper Hollander moes ons word om 'n regte Afrikaner te wees!
'n Gedeelte van die nasie, die bevoorregte klasse, wat die middele besit het om te profiteer van onderwys op die groot dorpe en in die stede, het deur middel van 'n soort Hoog-Hollands 'n na-aapkultuur ontwikkel. Maar die breë lae van die volk in die binneland kon dit met moeite so ver bring om hul Bybel te lees en op 'n manier te verstaan. En die voormanne kon die volk nie wakkerskud nie. Die volk wou luister, maar kon nie goed verstaan nie. Party het wel verstaan, maar die boodskap het hulle nie ontroer nie, het hul nie in die siel gegryp nie. En
| |
| |
baie het afgesterf van hul volk, omdat daar geen nasionale selfrespek was by die Afrikaner nie en omdat dit soveel makliker was om amper Engelsman te word as amper Hollander. Die groot massa op die platteland het wel vasgehou aan die ou tradisies van hul voorvaders, maar op kultuurgebied tog langsamerhand in 'n doodslaap weggedommel.
So het sake gestaan toe op 11 Julie 1866, Arnoldus Pannevis, 'n Hollander, in Tafelbaai geland het. Saam met 'n klompie Afrikaners het hy in 'n losieshuis in Kaapstad sit en eet, en dadelik opgemerk dat Hollands in Suid-Afrika tot 'n afsonderlike taal ontwikkel het. Op die Pêrel het hy o.a. ds. S.J. du Toit oortuig van die noodsaaklikheid om die spreektaal te erken en te gebruik. Maar in die begin het almal hom uitgelag. In 1872 skryf hy in die Zuid-Afrikaan, wat later as Ons Land bekend was, 'n artikel oor 'n Afrikaanse Bybel en twee jaar later rig hy aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap 'n brief oor dieselfde onderwerp, waarin hy ds. du Toit se naam as 'n geskikte vertaler noem. Dit het aanleiding gegee tot die oprigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875. Agt manne, vier Du Toit's, twee Malherbe's, C.P. Hoogenhout en August Ahrbeck, het bymekaar gekom in die Pêrel om die saak van 'n Afrikaanse Bybel te oorweeg.
Dit was 'n moedige daad. Só sterk was die teenstand, dat die name van die oprigters van die Genootskap geheim moes bly. Een van ds. du Toit se beste vriende het b.v. gesê: ‘As ek weet wie dié Lokomotief (dit was die adresnaam van die redakteur van Die Patriot) is, skiet ek hom met my hand dood.’ Van alle kante en uit alle oorde het spotters met wavragte verwensings aangedraf. Veral die plattelandse koerantjies het op die voorstanders van Afrikaans losgebars met 'n haelstorm van lawaaierige skeldwoorde. Maar die klein klompie het hul man gestaan en met persoonlike opofferings deurgedruk totdat die orgaan van die Genootskap, Die Patriot, een van die toonaangewende koerante geword het. Soos 'n bevrydingskreet het die leuse: Skryf soos jy praat deur die land weerklink. Eindelik kon die doofstomme volk sy stem laat hoor. 'n Heerleër van skrywers en skrywertjies het opgestaan en almal ‘van genl. Piet Joubert af tot die veewagtertjie in die veld’ wou saampraat en saamskryf. Daar het roering onder die doodsbeendere gekom.
Voorlopig het die hoofdoel van die Genootskap, die Bybelvertaling, op die agtergrond gebly, omdat hulle gevoel het dat die tyd nog nie ryp was nie. Hulle leuse was: om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land. Met alle ywer het hul begin om die volk te oortuig van die waarde van sy eie taal. Maar as 'n organisasie het die Genootskap nie veel lewenskrag gehad nie. Ds. du Toit het dit toegeskryf aan die bepaling dat iedere lid moes geloof in die versoeningsdood van Christus. Hy het toe begin pleit vir 'n meer algemene organisasie, wat die hele Suid-Afrika kon
| |
| |
omvat en sy pogings het gelei tot die stigting van 'n politieke party, die Afrikaner-Bond (1879). Die politieke beweging was eintlik 'n refleks van die stoot wat die nasionale saak gekry het deur die Eerste Transvaalse Vryheidsoorlog. Du Toit het dan ook verklaar dat die Bond op Majoeba wortel gevat het. Die Boer het begin selfbewus word. Eers het hy net gesorg vir sy persoonlike belange en die landsbelange oorgelaat aan ‘'n klein klompie raddraaiers op die dorpe - smouse, winkeliers, klerkies, prokureurs, Jode en Jodegenote, wat almal van die Boere moet lewe.’ Maar nou laat die Boer hom ook op politieke gebied geld. Du Toit was 'n vèrsiende leier, wat ter wille van die groot nasionale saak, selfs bereid was om die netelige taalkwessie, waaroor daar soveel verskil van opinie was, opsy te skuiwe. ‘Wat die taal aangaat, dit mag by ons geen punt van geskil uitwerk nie..... Daarom sou ons aan die hand gee om maar te sê “ons landstaal” en nie te sê Afrikaans of Hollands nie..... Die tyd sal later oor die kwessie uitspraak doen.’
Aan die hand van dr. Kuyper se program het Du Toit sy staatkundige ideale uitgewerk. En hy was sy tyd so ver vooruit, dat daar vir ons, wat so spog oor die vooruitgang onder die Tweede Beweging, nog heelwat uit sy program oorbly om te verwesenlik. Party van die dinge wat hy bepleit het, o.a. 'n nasionale Afrikaanse bank, het maar onlangs eers hul intree op die politieke terrein gedaan. Organiseer op elke gebied was sy wagwoord. Vreemde geluksoekers het ons handel verower, en verryk hulself met onbillike winste. Rig boerewinkels en handelsvereniginge op, was sy raad. In 1877 pleit hy al vir ko-operatiewe vereniginge onder die boere en in 1890 stel hy voor dat jong Afrikaners na Europa gestuur moet word om daar die landbou wetenskaplik te bestudeer. Voorwaar 'n mens moet respek hê vir die vrugbare brein van ds. S.J. du Toit, wat op elke gebied die leier van sy volk was.
Op dié manier het die leier van die taalbeweging hom vereenselwig met die politieke stryd van die Afrikaner-nasie, wat na 1880 so stadigaan die manbare leeftyd bereik. Toe Du Toit, as gevolg van 'n onafrikaanse politiek, sy invloed verloor omtrent die tyd van die Jameson-strooptog, het die taalbeweging ook doodgekwyn. Alles in verband met Die Patriot het verdag geword by die volk. In Du Toit se plek was daar geen ander leidende persoonlikheid wat op taalgebied rigting kon gee nie en dit het gelyk of Afrikaans 'n verlore saak was. Die Patriot het nie daarin geslaag om die intellektuele klas Afrikaners te oortuig nie en het sy steun veral van die platteland gekry. By die onontwikkeldes en onbevoorregtes het die Genootskap lees- en skryflus opgewek en ook belangstelling in die geskiedenis van ons land. Maar die geesdriftige bewondering van onontwikkeldes het die Genootskap tog op 'n gevaarlike pad gebring. Daar was 'n begryplike ywer om alles wat maar net Afrikaans was te publiseer en op dié manier het die uitgawes van die Genootskap ver
| |
| |
onderkant die peil van middelmatigheid gesak. Dit was 'n ernstige taktiese fout, want die groot vooroordeel teen Afrikaans, feitlik die enigste argument van die teenstanders was, dat dit 'n kombuistaal was, te plat vir beskaafde mense. En in die publikasies van die Genootskap was dit nie nodig om na bewyse van plat, onbeskaafde uitings te soek nie, met die gevolg dat Patterjots al gou 'n skeldnaam geword het.
Hoe kon die groot hoofdoel van die Genootskap, die Afrikaanse Bybel, onder sulke omstandighede verwesenlik word? Selfs in 1911 skryf Langenhoven, 'n hartstogtelike kampvegter vir Afrikaans nog: ‘Als die Hollandse Kerk my sou vraag om die Bybel, die psalm- en gesangboek en die formuliere, wat aan my hart geheiligd is deur my vroegste herinneringe in Afrikaans o'er te set, dan sou ik dit ten enemaal weier, al had ik die bekwaamheid daarvoor; en ik sou die voorstel (hoe onlogies ook) beskouw als heiligskennend. Dit sou vir my smaak 'n parodie wees.’ Ons sien duidelik dat dit nie 'n saak van verstand of argument was nie, maar van sentiment. En teen dié klipmuur het die Genootskap hom te pletter geloop. Dit is verstaanbaar dat 'n godsdienstige volk 'n taalbeweging begin met 'n Bybelvertaling, maar uit ons ervaring van die Tweede Beweging weet ons nou, dat dit die tweede groot taktiese fout van die Patriotters was. In hul geesdriftige oormoed wou hulle die mees konserwatiewe bolwerk van die Afrikaanse beskawing, die Kerk, stormloop. En die Kerk het sy poorte met veragting teen die ‘heiligskenners’ gegrendel.
Maar offisiële afkeuring het die ywer van die Genootskap nie gestuit nie. In 1884 het hulle die saak weer ernstig bespreek en in 1889 kon ds. du Toit eindelik 'n aanvang maak daarmee. Met groot opoffering het hy al sy vrye tyd aan sy lieflingsaak gewy en tot in 1908 sewe Bybelboeke vertaal. Vandag pluk ons die vrugte van sy liefdevolle toewyding aan 'n groot saak.
Ons het gesien dat politieke verwikkelinge veel te doen gehad het met die uiteindelike doodkwyn van die Genootskap. Gewoonlik word dit dan ook vir die hoofoorsaak aangesien. Maar as 'n mens so deur die nagelate geskrifte van die Genootskappers blaai, veral die bundel Afrikaanse Gedigte, 1876-1906, dan kom daar tog die onweerstaanbare gevoel op, dat afgesien van alle ander oorsake 'n beweging wat in 'n tydperk van dertig jaar niks beters as dit kon presteer nie, uiteindelik moes doodloop, omdat daar so'n gebrek aan innerlike, geestelike krag was. Ywer, liefde en toewyding aan die volksaak was daar genoeg, maar die waaragtige besieling het jammerlik ontbreek. Daar was geen kunstenaar wat deur die skoonheid van sy woord die volk kon ontroer en liefde en agting opwek vir die lang veragte moedertaal nie. ‘Skryf soos jy praat’ was 'n bedrieglike leuse, wat die leiers van die begin af op 'n dwaalspoor gebring het. Hulle het in die Afrikaanse taal, soos dit in 1875
| |
| |
was, 'n volmaakte middel gesien, en gemeen dat alleen deur die blote aanwending daarvan alles sou regkom. Maar die taal kan alleen saam met die nasie groei. Taalveredeling hou gelyke tred met volksveredeling, omdat die taal net die uitingsmiddel van die volk is en sy innerlike krag uit die volksiel moet put. As die volk nog op 'n lae geestelike peil staan, dan ontbreek natuurlik die behoefte om uiting te gee aan die meer verfynde aandoenings van die beskaafde mens en dan bly die taal arm van inhoud. In 1875 was Afrikaans wel 'n uitstekende omgangstaal, maar dit kon toe net 'n gebrekkige kultuurmedium wees, omdat daar destyds, behalwe op godsdienstige gebied, nog maar enkele flou aanduidings was van 'n wordende nasionale kultuur. Maar die leiers van die Eerste Beweging het nie ingesien, dat die opbouing van so'n kultuur noodwendig 'n langsame proses moes wees nie. En in hul prysenswaardige ywer om die onbevoorregtes deel te laat kry aan 'n soort kultuur, het hulle maar alles hot en haar gepubliseer..... en sodoende die ontwikkelde deel van die nasie afgeskrik.
Die leier van die Beweging sê al in 1876 by die uitgawe van ‘Di Eerste Beginsels fan di Afrikaanse taal’:
Ofskoon ons taal hiir blyf,
Di Afrikaans blyf daarom reg.
Hier het ons al die gees van: ‘dons maar op, alles sal regkom!’ En tog het die veelsydige ds. du Toit, wat met Bilderdijk gedweep het, 'n deeglike studie van taalkunde gemaak.
In 'n Afrikaanse Liidji, volgens 'n voetnoot ‘een fan di eerste frugte fan di ontwaakte nasionalitytsgefoel’ lees ons:
Oom Lokomotief gee hierop 'n berymde antwoord waarin hy die ‘digter’ Albertus Herholdt gelukwens en o.a. sê:
| |
| |
Oom Lokomotief mag 'n goeie ‘fuurwa’ gewees het, maar sy brandstof is so sleg dat hy by die eerste ou bultjie sou gaan staan. Oom Jan (C.P. Hoogenhout) roep ook met begryplike blydskap uit:
Wi had kon denk dat Afrika
Gedigte kom nog daagliks an
Hiir's weer 'n folle blad.
Met volle blaaie van sulke ‘gedigte’ kon die Genootskappers wel 'n vuurtjie maak wat 'n tydlank hoog opgelaai en geweldig geknetter het, maar uiteindelik tog weer moes neerplof sonder om 'n lewendige kooltjie agter te laat. En tog moet ons, o so dankbaar wees, dat na al die jare van Egiptiese duisternis, die Genootskappers dit reggekry het om 'n vuurtjie te laat opflikker. Dis maklik om in 1925 smalend te skrywe oor die eerste probeerslae; maar as ons dink aan die toestande van 1875, dan voel ons dat die eerste leiers, volgens die lig wat hulle gegee was, tog iets bereik het.
'n Nuwe beweging beteken altoos 'n breuk met die verlede, en om propaganda te maak vir die nuwe idee was dit vanselfsprekend dat die deugde van die Afrikaanse taal besing moes word. Veral die eenvoud van Afrikaans word geprys in teenstelling met die ingewikkeldheid van Hollands.
Want Afrikaans is plat en rond
En groei mos goed op yge grond.....
Daarom laat ons taal gou klaar wees,
In Afrikaans wil ons mos lees.
Deur dergelike uitlatings te publiseer het die verantwoordelike leiers die indruk gewek dat met die erkenning van Afrikaans al alles gewonne was. Hulle het geen vyandige houding teenoor Hollands ingeneem nie, inteendeel die strewe van die- Taalbond nog ondersteun, maar hulle het tog nie besef dat Afrikaans in 1875 nie sonder die hulp van Nederlands kon klaarkom nie.
Ons sal ons yge taal nou kry,
Want Lokomotief laat finnig ry.
Hy hét vinnig gery, maar ook gou bly staan. Teen die end het die
| |
| |
Patriotters tog besef wat daar ontbreek het in die Beweging, want in 1896 betreur Cachet die gemis van 'n digter ‘fol fan moed’, wat Afrikaans kon maak tot ‘koning van di land’.
Die Patriot-beweging het dus doodgeloop hoofsaaklik deur gebrek aan innerlike sterkte. Hier en daar het dit vir ons nagelaat brokstukkies, waarin ons 'n opflikkering van waaragtige ontroering kan navoel, maar meestal bly dit oppervlakkige rymelary of gemoedelike geselsery. Hoe kon dit ook anders wees by 'n volk wat maar pas uit die doodslaap opgestaan het? Die geskiedenis leer ons dat die kuns eers na 'n groot nasionale woeling tot enige mate van rypheid kan kom. In 1875 was die tyd nog nie ryp vir 'n letterkundige opbloei nie. Die agterlike onderwysstelsel het dit onmoontlik gemaak, maar die Patriotmanne het deur hul aksie op politieke terrein die grondslae gelê vir 'n latere ontwikkeling. Hulle was die manne van die daad, wat met verwaarlosing van hul persoonlike belange, steeds gestry het vir die groot ideaal van 'n verenigde volk met sy eie taal. Die bietjie geestelike lewe wat daar in hulle tyd was het hulle opgewek. Maar deur hul neerbuigende houding tot die onbevoorregtes het hul sommer gou tot die peil van dié klas afgesak en op letterkundige gebied kon hul geen leiding gee nie. Die rymelary van Lokomotief is nie die bemoedigende woorde van 'n leier nie, want dit is net so treurig van gehalte as die van Albertus Herholdt, wat terwyl hy na 'n rymwoord soek, tog sy oog op die braaiboud hou!
Di braaibout is gaar.....
Oom Lokomotief het van die begin af sy vuurwa op 'n doodloopspoor gestoot. Hy het van die begin af laag gemik en gaandeweg begrawe geraak onder minderwaardige prulwerk.
En tog gee dié prulwerk ons 'n interessante kyk op die Afrikanerdom van 1875. Die Afrikaners van dié tyd, en veral die onbevoorregte plattelanders, mag sonder die korsie vernis gewees het, wat vandag so maklik vir beskawing deurgaan, maar hulle was tog die manne van Majoeba, wat die bewondering van Europa gaande gemaak het; die manne en vroue wat met taaie volharding vasgehou het aan die vryheidsideaal en tussen al die spokery met oproerige Kaffers nog die listige planne van die Engelse veroweraar verydel het; die manne en vroue wat in die republieke 'n nuwe staat opgebou het, wat geworstel het met die sprinkaan en die droogte, die wilde diere en die tsetsevlieg en ten slotte die weerbarstige natuur oorwin het; die mense wat te midde van 'n drom barbare die christelike beginsels hoog gehou het. Dit was voorwaar 'n stoere ras met 'n hoë sedelike beskawing, wat alleen gewag het
| |
| |
op die bevrydende boodskap van die Genootskap om deur middel van die moedertaal ook tot intellektuele ontwikkeling te kom. Dit was dan ook nie 'n verstompte gemoed of 'n minderwaardige volksaard wat hierdie mense op intellektuele gebied onbevoorregtes gemaak het nie; dit was alleen die onvermydelike lot van die rondswerwende pionier, wat deur historiese en ekonomiese dwang en deur die hoogheid van sy eie karakter dieper in die wildernis gedring het om daar vir sy nageslag 'n plekkie te soek waar sy kinders volgens die groei van eie siel en eie geaardheid 'n suiwer Afrikaanse kultuur kon ontwikkel. Maar dié manne en vroue het hul heldetaak verrig in alle eenvoudigheid, totaal onbewus van die grootsheid daarvan, sonder 'n besef van die roerende tragiek wat daar snik in die worsteling van 'n handjievol Trekkers teen die natuur, teen die barbare, teen die magtige Engelse ryk. By al hul lotswisselinge was daar die kinderlike geloof van die nederige Christen wat nie op eie kragte roem nie, maar alle eer aan die Allerhoogste gee. Die volle bewustheid van wat daar in die roemryke wordingstydperk gepresteer is kon eers later kom. En sonder dié nasionale bewustheid kon daar geen letterkundige opbloei wees nie. Die mense van dié tyd het saamgeleef met die groot gemeenskaplike volkstroming; daar kon nog geen sprake wees van 'n individuele kunsuiting nie, omdat die individu nog homself nie ontdek had nie en net saamgedryf het met die massale volksbeweging. Dit was mense van die daad, wat al hul vermoëns moes konsentreer op die aksie van die oomblik en die koorsagtige loop van die gebeurtenisse het hul geen tyd gegun vir rustige besinning nie. En sonder rustige besinning geen kunsontwikkeling nie.
In die Kaapprovinsie het wel 'n betreklike rus geheers, en dis ook hier wat ons die eerste spore van 'n nasionale bewuswording aangetref het. Die gebeurtenisse in die republieke wek bewondering by die Kaapse stamgenote. Maar ook hulle het nog te veel in die warrelkolk van geskiedkundige verwikkelinge gestaan; hulle was nog te digby die gebeurtenisse om die grootsheid van die worsteling aan te voel; en buitendien moes hulle 'n stryd op lewe en dood voer om regte Afrikaners te bly. Die letterkunde is maar net 'n weerspieëling van wat daar woel en gis in die siel van 'n volk. Dit hoef ons dus nie te verwonder dat die Patriotters dit nie verder gebring het nie as berymde simpatie-uitings, beskrywende kronieke van heldedade, waarin ons wel af en toe 'n sprankeling van digterlike siening kan ontwaar, maar wat globaal beskou tog minderwaardig moes bly. Hulle was ook Voortrekkers, op taalgebied in 'n felle stryd gewikkel. Dapper het hulle die krygsklaroen geblaas teen ingewortelde vooroordeel, moedig het hulle gebaklei vir die groot volkskat, die moedertaal, al kon hulle in die hitte van die stryd net die eerste wankelende skrede sit op die dowwe paadjie, wat gelei het tot die uiteindelike oorwinning. Dat hulle onder soveel miskenning en verguising,
| |
| |
ywer en goeie wil aangesien het vir 'n volbragte daad, kan ons die eerste padwysers op letterkundige gebied maklik vergewe. Hoe sou ons sonder hul ywerige voorbereidingswerk ooit die dowwe doringpaadjie na die Tweede Vryheidsoorlog weer gekry het? |
|