Voorberig by die derde druk.
As gevolg van die verblydende groei van ons prosa in die afgelope tien jaar het hierdie uitgawe veel omvangryker geword as die tweede druk. Dit bevat die resultaat van my kritiese arbeid gedurende 1927-1937. Soos in vorige uitgawes het ek daarna gestreef om 'n volledige beeld te gee van ons prosa, met uitsondering van: (1) suiwer wetenskaplike prosa; (2) godsdienstige prosa; (3) kinderlektuur; (4) vertalings en omwerkings; (5) die toneel. Baie van die werke wat hier bespreek word, het alleen kultuurhistoriese waarde, en sal deur die toekomstige literatuur-historicus eenvoudig verswyg word. Vir die student en algemene leser egter, wat 'n begrip wil kry van die ontwikkelingsgang, lewer 'n bespreking van sulke werke dikwels nuwe gesigspunte op wat van groot belang is vir ons kennis van die tydperk. Ofskoon die ouer gedeelte van die werk aanmerklik verkort is, moes heelwat behoue bly as skakel met die verlede.
Enkele werke, wat in die eerste helfte van 1938 verskyn het, kon ook nog ingesluit word.
P.C. SCHOONEES.
Vryheid, Julie 1938.