| |
| |
| |
Hoofstuk IX.
Terugblik.
Jakob Böhme sê: ‘Und, ist kein Ding in der Natur, es offerbart seine innere Gestalt auch aüsserlich: denn das Innerliche arbeitet stets zur Offenbarung. Ein jedes Ding hat seinen Mund zur Offenbarung. Und das ist die Natursprache, darin jedes Ding aus seiner Eigenschaft redet und sich immer selber offenbart und darstellt.’ Of Just Havelaar: ‘Zelfs de schuchterste mensch draagt heel zijn wijsheid uit in de openbaarheid van het leven. Alle geheim is zichtbaar. Alle zichtbaarheid is geheim.’ (De symboliek der kunst, bls. 12-13).
Die diepste wese van die Genootskapsstrewe is die volwaardigheid van die Afrikaner, die moontlikheid na self-ontdekking langs die weg van sy onvervreembare uitingsmiddel, die moedertaal. Na aanleiding van 'n opmerking in Het Volksblad dat elke Afrikaner Nederlands met 'n bietjie goeie wil kan verstaan, argumenteer Oom Lokomotief as volg:
‘Elkeen weet dat leeslus en skryflus broer en suster is. Daar wort so veul geklaag o'er gebrek an leeslus in ons land, mar dis omdat die mense gen taal het waarin hulle hulle gedagte kan uitdruk nie, daardeur ontstaat traagheid van gees, ens. Mar die Volksblad weet net so goed as ons dat die helfte van ons Afrikaners nie behoorlik ver hulle kan uitdruk in Hollans nie. Mar hy seg: “Dis mar niks, as hulle mar 'n taal het wat hulle kan verstaan; hulle hoef nie 'n skryftaal te he nie.” Dis alweer dieselfde beginsel: Ek wil he wat hulle nie mag he nie, ek wil 'n taal he wat ek kan verstaan en skrywe, mar ver hulle kom nie op an nie, hulle moet mar lees wat ek skryf...’ (P., 19 Jan. 1877).
Dit is dan veral vir die ‘helfte van ons Afrikaners’ wat hulle nie behoorlik kan uitdruk in Nederlands nie, vir wie hulle voorsiening wil maak deur hulle ‘te neem waar hulle is, mar nie om hulle daar te laat nie, mar om hulle lanksaam op te lei’
| |
| |
(P., 21 Sept. 1877), dus deur af te daal na hulle peil van kunne en kennis. Hierdie opvatting van hul taak bepaal dan ook die toon, gees en peil van die Genootskap se werk, maak die besondere vormkrag in hulle skeppende werksaamheid begryplik. Die passie wat in hulle voortbrengsels brand, is een van eenvoud en saaklikheid.
Hulle wou die minderbevoorregte Afrikaner laat tuisvoel, wou ook in die taalaanwending geen vreemdigheid en valse opskik tussen hulle en die lesers hê nie. Die skryftaal was net die gewone spreektaal-in-druk in al sy pittigheid, direktheid en vertroulike warmte.
Hier is eintlik meer 'n sin vir realiteit as vir realisme, joernalistiek eerder as letterkunde.
Joernalistiek het veral te doen met onderwerpe van verbygaande en onmiddellike belang, letterkunde met universele probleme. Joernalistiek rig hom meer na 'n bepaalde en onmiddellike uitwerking in 'n bepaalde, meestal gelokaliseerde kring; dit is daarom in sy metode ook anders as letterkunde, net soos in sy doel en uitwerking. Dit beoog veral iets prakties, is militant van karakter, eensydig in sy beligting, deurskynend, helder, pittig en doodernstig of smalend in sy aanbieding. Joernaslistiek is soos 'n plakkaat, letterkunde soos 'n skilderstuk. Albei word beheers deur hulle eie kunswette en eie vormkrag.
In strekking en vormgewing het ons in die voortbrengsels van die Patriot meestal met joernalistiek te doen, soms in digvorm, maar gewoonlik in prosa. In die verband van propaganda en stigting het die eerste kuns ontstaan, en daarna in die verband van uitbundige vreugde oor nuut-gevonde heerskappy, en nog later in die verband van nasionale trots en verheffing, met die keersy, van spot en terging oor die onnasionale. Daarna volg godsdienstigheid, huislikheid en die liefde as temas in 'n rustiger, kalmer tydspouse. Taal en nasionaliteit is oor die algemeen die slagare. Keer die skrywer na die domein van sy eie siel terug, dan word hy hom van eie beperkinge bewus en dit maak hom kinderlik-godsdienstig.
Die skrywers was praktiese mense, ook in hulle godsdiens. Straf en beloning het hulle in alles gesien en gesoek, maar deur dit alles vlam die idealisme van hulle geloof aan 'n toekoms vir
| |
| |
die eie nasie op aarde en vir die enkeling in die hiernamaals. Die natuur daarbuite of die hart hierbinne het hulle nie tot kunsskepping ontroer nie. Die natuurskoonheid was te onprakties van karakter vir die behoeftes van die daaglikse lewe, om die mens van toe as iets selfstandigs te raak; en die mens self is al te seer in die nasionale of sosiale orde van dinge gesien om hom as enkeling uit die massa af te sonder en geïndiwidualiseerd te beskou en te beskrywe, om sy hart as 'n makrokosmos te ontdek.
Net soos die mens as massawese of as tipe gesien is, dus nie geïndiwidualiseerd nie, net so is die styl onpersoonlik en algemeen. Wel besit die taal met sy baie boerebeelde 'n eie, treffende plastiese vermoë, maar dit kom eerder uit die sosiale struktuur voort as dat dit nuut en persoonlik gesien of gesê word. Dikwels wortel die beelding en assosiasies direk in die Bybeltaal en dra 'n verhewener karakter.
Die versorging van die vorm was net van 'n uiterlike aard, bv. die maat en rym van die verse moes korrek wees. Fyner versorging van 'n innerlike aard was daar selde. In die meeste gevalle skik die digter se gedagte hom na die rym. Die rym gee in alles die deurslag.
Maar dan, ons volk verkeer letterkundig nog in sy kinderperiode. Daarom is die kuns naief, kinderlik en selfs dikwels primitief. Banaliteit en onverantwoordelikheid sal nie altyd hieraan vreemd wees nie, en die kleurryke, dramaties-sentimentele, ligte en stoute sal by 'n menigte in die smaak val. Dit sal die goeie sowel as die slegte eienskappe van kinderlikheid openbaar, naas eenvoud platheid, kinderlik maar ook kinderagtig; grappig, maar soms laf, ens. Tog is dit juis op hierdie manier dat die innerlike drang ‘seinen Mund zur Offenbarung’ gekry het, en nie op goed geluk af nie, maar as sy ‘Natursprache,’ sy wesensvorm wat ‘niet liegen kan’ (Havelaar).
Die kuns van hierdie tydvak meen ons dan met die algemene stelling te kan karakteriseer: kinderlik in karakter en vormvermoë, joernalistiek na gerigtheid.
Die letterkundige werk van dié tydperk was plattelandskuns, want die Patriot het hom veral tot die boere gerig, en die meeste, hoewel nie belangrikste digters, was boere. Daarom is die toon gemeensaam, daarom gebruik hulle die tipiese
| |
| |
volkstaal, daarom vertel hulle allerlei grappige stories en anekdotes, maak hulle liefdesgedigte en sentimentele ballades. Hulle is dikwels plat, maar nooit gekunsteld nie en ook selde kunstig.
Die digters van die Eerste Periode het gewoonlik nie gedig om uiting te gee aan 'n hewige sielsontroering, uit 'n onweerstaanbare drang van die hart nie, maar om hul volk nasionaal op te bou, om 'n liefde by hulle volk te wek vir die eie Afrikaanse taal, om hulle wakker te skud. Daarom is die meeste Afrikaanse geskrifte propagandisties en didakties, en die inhoud eg-Afrikaans. Hulle was nie kunstenaars nie, maar hulle het ook nie probeer om kuns te skep nie. En tog, hulle het nie net rymelary gelewer nie.
Verskillende digters uit die Eerste Periode het jonger digters wenke gegee hoe om te dig, en hierdie wenke verskaf ons 'n pragtige insig in die vereistes wat destyds aan poësie gestel is. Soos J.D. Cilliers in 'n Paar Wenke an Digters verklaar, is die vernaamste vereiste dat die maat en rym in die haak moet wees:
‘Verdeel dan jou versies, soos jy dit begeer:
In reels van vier, of van ses, of van meer,
Mar laat oek soos d'eerste, di twede vers wees,
En tot op di end in di selfde maat lees.
Want is daar één woord in te veul of te min,
Dan klink dit net vals, want dit hoort daar ni in.
Ge verder oek ag op di woorde wat rym,
Want dáár leg ver digters di grootste geheim;
Di woorde wat sluit, die moet net op 'n haar
In uitgang en klanke, mooi vloei inmakaar.
Want let jy ni suiwer op uitgang en klank,
Dan gaat jou gedig heel waarskynlik oek mank.’
Aan die lesers van Ons Klyntji (Jan. 1897) het ds Du Toit 'n dergelike lessie in die ‘digkunde’ gegee, want hy vind dat die ‘digters’ so baie sondig teen die reëls vir 'n gedig. ‘Mar di foute sit meesal juis in di twee dinge waar 'n mens, as jy 'n gedig wil maak, op moet let, namelik maat en rym. En dit is tog so eenvoudig.’ Dan verduidelik ds Du Toit wat maat en rym is, en kom hy tot die gevolgtrekking: ‘Di digter het dus grote speelruimte. Mar fer een ding moet hy oppas:
| |
| |
di maat waarme hy begin moet hy hou, en so oek di folgorde fan ryme.’
Dis duidelik: die opvatting was ook gangbaar dat 'n digter gemaak kan word deur aan hom die reëls van die ‘digkunde’ te leer, al erken J.D. Cilliers in sy Wenke dat 'n digter gebore word:
‘Want almal tog het di talent ni ontvang
Gedigte te maak soos di kuns dit virlang.’
C.P. Hoogenhout, die letterkundige redakteur van die Patriot, het ook die digters van raad bedien (P., Julie 1881): ‘Ons seg dit nogeens: dig maar op, rym so veul as jul kan. Is dit die eerste maal sleg, die tweede maal gaat dit beter, die derde maal nog beter en so voort; en eindelik kom dit reg - dan is dit tyd van stuur om gedruk te worde... Eers rymelaar, dan rymer en dan - as jy aanleg het - digter! 'n Mens word nie op één dag digter. 'n Mens word nie op één dag 'n Vondel, 'n Bilderdyk, 'n Cats, 'n Newton, 'n Victor Hugo of wie ook; maar die wat aanleg het en aanhou die win; al word hy nie so beroemd as die manne.’ Asof hy miskien iets te veel gesê het, vra hy: ‘Ons het mos nou niks geseg om iemand af te skrik? Dis glad nie ons bedoeling nie... Toe dan vrinde, wat goeje goed het, stuur maar gerus, en welkom. Eendag sal ons julle so'n paar lessies gewe oer die verskillende soorte van digmaat; doet intusse maar julle bes, tel veral die lettergrepe en vergelyk jou versies met ander gedigte, daardeur sal julle al 'n flukse stap vooruit kom.’
Ons moet hierdie briewe van Hoogenhout in die Patriot, na aanleiding van die ingesonde gedigte, lees om 'n idee te kry van die ‘kuns’~opvattings van hierdie tyd, en te sien waarvoor hulle alles die rymvorm gebruik het. Gedurig moes hy hulle waarsku om nie paskwille te stuur nie: ‘Dikwyls ontvang ons selfs van onbekende skrywers sulke goed dat ons dit mar gou gou van kant moet maak. Op ander tyde is daar 'n versoek by ‘verbrand myn naam tog asseblief.’ (P., 3 Junie 1881).
Plagiaat was aan die orde van die dag, en so dikwels is Hoogenhout se eie gedigte aan hom teruggestuur met die versoek om hulle te verbeter en dan te plaas - onder die naam van die insender! So klae hy: ‘Party mense het egter 'n
| |
| |
wonderlike gedagte. Hulle stuur miskien 'n gedig uit 'n boek afgeskrywe met die vrindelik versoek om dit te vertaal en dadelik te plaas - tot Engelse versies toe.’
Kostelik is ook wat hy ons meedeel oor persone wat oor 'n vryery of 'n trouery skryf en dan vra: ‘Oom Jan moet tog asseblief hiervan 'n versie maak.’ So was daar 'n jongkêrel wat 'n bloutjie geloop het by 'n nooi en deur 'n ander voorgespring is, wat ewe pleitend gevra het dat Oom Jan tog 'n versie op dié kêrel moet maak. Hy beskryf die opponent se klere, sy ou perd, ja, tot sy neus toe! (P., 8 Julie 1881).
Dikwels was Hoogenhout verplig om met die snoeimes onder die gedigte in te spring, maar hy gee ook die redes aan waarom hy sommige afgekeur het: ‘Al di bovengenoemde gedigte kan ons om een of ander rede ni plaas ni; het sy omdat dit te onbelangrik, of te persoonlik en hatelik, of te lank, of te onduidelik beskrywe is, of omdat dit te veul an digmaat en inhoud makeer.’ (P., 4 Mei 1883).
In die Patriot van 9 Julie 1886 deel Hoogenhout die digters mee dat hy met die loop van jare so'n groot aantal gedigte opgehoop het, dat hy nou moes opruiming hou - deur hulle almal gelyktydig te plaas! Met sommige kon hy darem werklik niks maak nie, en dus moes hulle baie swak gewees het. Maar: ‘dit moet nimand nou daarvan afskrik ni, om syn bes te doen ons wat beters te stuur, dan kom dit seker eendag in.’
Daar het 'n ware digterswoede losgebreek in die Patriot, sodat in 1879 elke maand 'n byblad spesiaal vir gedigte moes afgesonder word. In Ver Digters is nou kans (P., 11 Julie 1879) spoor Hoogenhout die lesers aan om die byblad, vol te skryf:
‘Spring mar by, dan val dit lig;
Afrikaanders kan goed dig!’
In die Patriot van 8 Julie 1881 getuig Hoogenhout: ‘Dis wonderlik om te sien hoe die diggees ontwaak is, onder Afrikaners, van die Patriot in die wêreld is.’ 'n Paar maande later (P., 9 Sept. 1881) roep hy verheugd uit:
‘Wie had kon denk dat Afrika
Gedigte kom nog daagliks an,
Hier's weer 'n volle blad.
| |
| |
Eers was die tong en hande vas,
Maar nou: dis ryme, goed of sleg,
'n Elk wil hom laat hoor.’
Daar het heel spoedig 'n gewoonte by die aspirant-digters ontwikkel om Oom Jan (C.P. Hoogenhout) te vra om tog maar asseblief die foutjies reg te maak. Ons kan baie voorbeelde gee. So besluit Raaksien sy Gedig an Oom Lokomotief:
‘Nou sal ek mar 'n einde maak,
An myn gedig, myn wens en taak,
En is dit ni na Oom se smaak,
Bring dan mar alles in di haak.’
H.A.L. waag hom vir die eerste keer aan die pen met sy Gedig o'er die Bybelse Raaisels,
‘En is ek van di spoor geraak,
Maak asseblief dan reg, Oom Jan!
Ek het gemaak so goed ek kan.’
D.J.C. kom met 'n dergelike versoek aan die slot van sy gedig Hans di Leu'enaar:
‘En nou myn Oom Lokom'tief,
Vind Oom myn rympie sleg,
Verbeter dit dan asseblief
Baie het dit nodig beskou om Oom Jan of Oom Lokomotief mee te deel dat hulle nou 'n gedig gaan maak, bv. P.v.N. in An Oom Jan:
‘Oom ek ag dit van myn plig,
Om te maak oek 'n gedig...’
Dikwels word hy versoek om die gedig te plaas; daarby rym Lokomotief op lief en asseblief.
‘Myn lied is an Oom Lokomotief
Want ons het hom tog al te lief,
Myn liwe Oom! sit dan myn brief
In jou korant tog asseblief.’ (Raaksien: G.a.O.L.)
| |
| |
A.J. Herholdt se aanhef in Afrikaanse Lietji is deur baie nagevolg:
By genl Joubert heet dit:
As iemand 'n ‘storie’ gaan vertel, dan nooi hy die lesers uit om nou te kom luister:
‘Kom, vrinde! wees nou wat bedaard,
Jull' aandag is dit seker waard,
Dit sal jul self vasstel.’
(Begeerlikheid Beloond deur 'n ongenoemde).
‘Kom vrinde! hoor 'n oo'enblik,
Hoe eens 'n vrome dienskneg Gods,
(Die Dri Kopers deur Neef Jan.)
‘Kom vrinde kom hoor na my
Dan sal jul weer 'n rympi kry.’
(Di Herder deur C.)
Hoe onkundig ons mense destyds nog was omtrent waarheid en verdigting in prosaverhale, bewys die baie vrae waarmee die redakteur van Ons Klyntji bestorm is na aanleiding van die roman van ds S.J. du Toit, Di Koningin fan Skeba. Ds du Toit het nie geneë gevoel om die verskil duidelik te maak aan J.J.C. Grabe nie, want ‘dit sou di hele aardigheid daarfan wegneem.’ Net 'n maand later klae die dominee weer dat die lesers nie kan begryp wat verdigting is nie; een vra hom selfs of 'n Christen die reg het om hom te bedien van verdigting. Ds Du Toit gee hom dan 'n hele klomp Bybeltekste om na te lees, en herinner hom daaraan dat die vergelykings van Christus ook verdigtings is. Ten laaste is die redakteur se geduld op, want in Junie 1899 wou J.G. du Preez van Delportshoop weer
| |
| |
weet of die roman 'n ware verhaal of 'n verdigsel is. ‘Myn skepsels,’ roep hy uit, ‘dis tog al so dikwels gesê: Ds du Toit, het eers 'n werklike ferhaal gegé fan syn rys na di noorde, en toen het hy gesê op grond fan wat hy gesiin en gelees het sal hy nou 'n ferdigting of historiese roman gé waarin hy beskrywe hoe hy hom foorstel hoe dit in die dage fan ou Salomo syn goudgrawery hiir gelyk het.’
Dr J.D. du Toit gee nog die volgende interessante staaltjie (Ds S.J. du Toit in Weg en Werk, 1917 bl. 400): ‘Toen die boek in Ons Klyntji verskyn, het 'n oue swaër en suster van Ds Du Toit dit begin lees. Deurdat hy self en syn Mashonalandse medereisigers meteen als persone in die roman optree, het die twee lesers gedenk dat alles werklik so gebeur het. Toen dit hul al te apokrief werd, vraag hul: “maar is dit dan alles waarheid.” “Nee,” was die antwoord van 'n vrind “dis mos 'n roman, 'n verdigte vertelling.” “Maar,” merk toen die oue swaër aan, “Fanie sal tog nie lieg nie!” ... Ja, Fanie het nie gelieg nie, maar syn verbeelding was vir die twee oudjies al te rekbaar gewees! Hul het toen besluit om die lektuur maar opsy te sit.’
Die swak vermoë om literêr te kan geniet en die onvermoë om verdigting as 'n selfstandige domein te erken, los van die werklike lewe, straal uit die getuienisse van lesers van Ons Klyntji na aanleiding van Di Roosknoppi deur D.P. du Toit. So het iemand 'n gedig O'er di Stori fan di Roosknoppi gemaak en verontwaardig vra hy:
‘Hoe is dit molik, sê my dit
Dat Dani in di tronk moet sit?
Hy's so onskuldig as 'n man
Mar ooit op aarde wese kan.’
‘'n Opregte Afrikaner’ het weer 'n brief aan Ons Klyntji geskryf om uiting te gee aan sy haat vir Brown: ‘Meneer, - Moet dit ni fer my kwalik neem dat ek ni myn naam onderteken ni want dit is ni fer my waagsaam ni want Brown, di ellendeling kan my ook foor di hof kry en daar bring waar Dani is; en dan bars hy... Ek kan ni ferdra dat hul moet 'n Afrikaner in di tronk sit, o'er 'n ellendige Engelsman ni.’
Verwant aan die naïwiteit is die banaliteit. Met één enkele voorbeeld wil ons volstaan. Dit oefen kritiek op die toentertydse
| |
| |
mode uit en sê o.m., in die laaste vers verwysende na die ‘dressimprover’:
‘Opgeskik met ydel klere,
Prag en modes, pouwevere.
Op die rug hang dikke worste.’
In hierdie afkeur skuil ook weer die voorkeur: 'n eg-Afrikaanse aard en karakter, waarop die skrywer so trots is. So kry ons die banale nie altyd ‘om zijns zelves willen’ nie, maar ook as 'n wapen, net soos aanprysing. Wat werklik meetel, is dat selfs so ‘alle geheim zichtbaar (is en) alle zichtbaarheid geheim...’ Want alle kuns, ook volkskuns, voer ons altyd na die wonder van 'n geheim: hoe stof en gees tot 'n nuwe eenheid met 'n eie selfstandigheid gebore word: 'n skepping met 'n eie lewe. Wel is die vormkrag nog swak, maar hierdie skeppinge het 'n allernoodsaaklike funksie vervul om, in estetiese sin, die taal as uitdrukkingsmiddel te knee en buigsaam te maak vir groter spankrag, en in sosiale sin, die skeppers tot mondstuk van hulle tyd en mode te maak en die volk te leer lees, hulle lewenstempo te versnel en hulle te voer in die stroom van die moderne beskawing deur die kanaal van die moedertaal. |
|