| |
| |
| |
Hoofstuk VIII.
Geskiedkundige prosa en vertalings.
(a) Geskiedskrywing.
Afgesien van die eerste Afrikaanse geskiedenisboek: Die Geskiedenis van ons Land in die Taal van ons Volk (1877), wat ons elders bespreek het, het daar nog 'n paar ander boekies oor ons geskiedenis, of na aanleiding van ons geskiedenis, verskyn. Ons moet egter dadelik daarop wys dat geeneen op wetenskaplikheid aanspraak kan maak nie. Propaganda was die vernaamste uitgangspunt by die opstel van hierdie geskrifte. Dit is veral die geval met ‘'t Misdadig Engeland.’ Tot troos ver ons landgenote in Transvaal, by die anhegting deur die Engelse. Dit het eers in Die Patriot verskyn en is toe in dieselfde jaar (1877) in boekvorm uitgegee deur die G.R.A.
Dit is slegs uittreksels uit 'n groot werk van die Fransman Elias Regnault, wat weer in Nederlands vertaal is onder die titel 't Misdadig Engeland. Die boek in Nederlands is in drie dele, maar die Afrikaanse boekie beslaan slegs 65 bladsye. Volgens die handskrif is die uittreksels uit die Nederlandse vertaling gedoen deur Arnoldus Pannevis. Deur wie dit verafrikaans is, of wie die hoofstuk bygevoeg het oor die aanhegting van Transvaal, is nie bekend nie. Die styl laat 'n mens dink aan C.P. Hoogenhout. Ds S.J. du Toit is dit in ieder geval nie, want hy het dit self ontken in die Patriot van 1902.
Die boekie is opgedra aan ‘ons bedrukte broeders in Transvaal’: ‘Bedroefde Landgenote! Met deelneming, ja met droefheid en smart, het ons die tyding verneem, dat Sir Theophilus Shepstone, teen die sin van volk en regering, in naam van die Koningin besit geneem het van julle land. Ons deel in julle smart, omdat ons weet hoe duur julle die land gekoop het met bloed en trane, en hoe lief julle die land het, want wat 'n mens veul kos dis jou oek veul wêrd....’
| |
| |
Hierdie boekie moet dan dien as 'n praktiese bewys van die simpatie van die G.R.A. In die inleiding word nog verduidelik dat die Afrikaners hulle griewe teen Engeland in verband met die Groot Trek, vergeet het, maar nou kom Engeland opnuut die ou wonde oopkrap, soos met ‘die afneem van die Diamandvelde; die anhegting van Transvaal - wie kan die dinge nou vergeet? Ne, ons denk daaran; ons sal dit onthou; ons kinders sal dit met moedermelk indrink.’
Al Engeland se ‘sondes’ oor die hele wêreld gedurende die afgelope eeue, word nagespoor, want ‘dis ver ons van groot belang om 'n bietjie meer te weet van Engeland syn ware karakter en geskiedenis, as wat ons gewoonlik hoor van Engelse en kryg in oppervlakkige Engelse leerboekies. Gen wonder dat ons verwagting dan oek so dikwils teleurgesteld wort deur ons ondervinding.’
Ons gaan natuurlik nie al die misdade opsom van Engeland in Ierland, Amerika, Indië, Frankryk, China, Holland en sy kolonies, en in Suid-Afrika nie. Alles word in die swartste kleure afgeskilder, maar ook gedurig met feite gestaaf. Regnault kan sy haat nie onderdruk nie, soos blyk uit die volgende bewering: ‘van watter kant ons die Britse staatkunde oek bekyk, o'eral is dit ewe afskuwelik. In Engeland, in Europa, in die vreemde werelddele - o'eral kry ons dieselfde verraderlike, snoode beginsels terug.’ Die Afrikaner wat die hoofstuk oor Transvaal bygevoeg het, is nie milder in sy uitlatings teenoor Engeland nie. ‘So lank as die Engelse nasie bestaat het hulle nooit terug geskrik ver enige daad, waar dit hulle handelsbelange betref. Mar erger daad het hulle nooit en nergens gedaan as in die Transvaal .... Mar die Here slaap nie.’
'n Volgende boekie wat in verband staan met die Transvaalse anneksasie, is geskryf deur M. de Vries, oud-voorsitter van die Volksraad van die Zuid-Afrikaanse Republiek: Die Geskiedenis van die Transvaal of die Suit-Affrikaanse Repbubliek van die laaste tien jaare gevertel door Klaas Waarsegger aan zijn neeft Martinust in Hollant in die eige Boere sijn taal. Dit is gedruk in 1881 deur A.W. Sijthoff te Leiden.
Ook hierdie boekie is nie wetenskaplik opgestel nie. Dit neem die vorm aan van 'n brief deur Klaas Waarsegger aan sy neef Martinust in Holland gerig. Op 'n heel gemeensame,
| |
| |
te gemeensame toon deel hy dan aan hom die geskiedenis van die afgelope tien jaat in Transvaal mee. Hy het Klaas Waarzegger (L.H. Meurant) probeer navolg, maar sy opsetlike strewe na snaaksigheid is soms afstootlik. Hy volg ook nie die gebruiklike spelwyse nie, en probeer so plat moontlik te wees. Dit is duidelik dat die skrywer 'n Hollander is, wat hom verbeel dat vorme soos skrij (vir skrywe) en wor (vir word) Afrikaans is. Alles word maar in dieselfde asem opgedreun - paragraafindeling ag hy selde nodig. Sy sinskonstruksies is erg kinderlik. De Vries se styl word begryplik wanneer hy in Een Woord Vooraf verklaar ‘dat men verpligt is in de Transvaal zoo plat te spreken omdat de kleurlingen anders de menschen niet begrijpen.’
Die skrywer is baie wydlopig en dwaal soms baie ver van sy onderwerp af as hy eers begin vertel van sy vrou Sannie. ‘Neeft jij sal seh dat is nou niks van die transvaal zijn storie nie, jij het gelijk neeft, maar een mens kan mos nie help nie as ons nukkerige vrouens het.’ Ernstig is hy seker nie as hy 'n beskrywing gee van die verskillende Transvaalse staatsmanne. So was die vrouens baie gek na generaal Piet Poubert ‘en in londen het madam toeso vergeet om hom met oom pauwel in die musseum te zet, jij nie denk nie in die seember of horrus (lees: Chamber of Horrors) nie, maar naas ou bartje fereire en gunneraal woet en geenneraal skelmfort in die mooie groep net as jij die kamer in kom...’ ‘Nou mister, van jorison is een regte ‘jolly fellow soo als die engelse man zeh, hij speelt regte goet bal bal in die klups of die societeit.’ (Bartje fereire is Bartle Frere, Woet is Wood en skelmfort is Chelmsford.)
Hy weifel nie om met sy persoonlike menings voor die dag te kom nie. Van die Kaffers hou hy nie, en nog minder van die sendelinge. As hy dink aan die redes wat Shepstone en sir Bartle Frere aangegee het vir die anneksasie van Transvaal, dan ‘word (ik) so maar rood in die gesich, begin te beef en kan nie die respekt meer voor die ou kerel heh nie die ik altijt gehat het.’ Maar terselfdertyd verseker hy neef Martinust dat hy baie objektief staan teenoor die gebeurtenisse.
Dit is wel 'n interessante brief, maar uit 'n geskiedkundige oogpunt beskou, is die inhoud nie belangrik nie.
| |
| |
'n Derde boekie wat in verband staan met die Transvaalse geskiedenis, is Di Ontslag van Dr Jorissen (1883). Dit is 'n klompie artikels wat oorgedruk is uit die Patriot ter verdediging van die Transvaalse Volksraad, omdat hulle dr Jorissen sy ontslag gegee het as Staatsprokureur. Begryplikerwyse is die Volksraad van verskillende kante skerp gekritiseer, en nou het die Patriot allerlei bewyse gegee om die daad te regverdig. Hulle handel gladnie ‘sagkens’ met die gewese staatsprokureur nie. Natuurlik kry ons in hierdie boekie net die een sy van die saak, maar die historikus sal hier wel belangrike feite vind oor dié gebeurtenis.
'n Besonder simpatieke boekie is Gebeurtenisse uit di Kaffer Oorloge van 1850 tot 1853, 1846, en 1834 en 1835 deur P.P.J. Coetser. Ons sal hier die nuwe uitgawe bespreek, onder die titel: Gebeurtenisse uit die Kaffer Oorlog fan 1834, 1835, 1846, 1850 tot 1853. Dit is uitgegee in 1897 en die boekie tel 80 bladsye.
Soos die titel reeds aandui, word aan ons gebeurtenisse uit die verskillende Kafferoorloë verhaal.
Dit is nie 'n noukeurige beskrywing van die oorloë soos ons dit in 'n geskiedenisboek sal vind nie. Coetser verhaal aan ons sy persoonlike ervarings, en hy is so onderhoudend dat hy ons boei van begin tot einde. Hy skep 'n persoonlike verhouding met sy leser. Dit is asof ons saam met hom voor die kaggel sit een winteraand en tot diep in die nag trakteer hy ons uit sy onuitputlike bron van ‘gebeurtenisse.’ Hoewel hy alles persoonlik ervaar het, bring hy ons nooit onder die indruk dat hy graag as 'n ‘held’ beskou wil word nie - hy is geen grootprater nie, maar eenvoudigweg verhaal hy alles soos dit werklik gebeur het. Die redakteur van die Patriot sê dat hy insae gehad het in die dokumente en bewysstukke en hulle ‘befestig di mededeelings fan mnr Coetser sodat nimand an di waarhyd daarfan behoef te twyfel ni.’
Die verskrikking van die Kaffermoorde skilder Coetser heel realisties, en hy gee baie voorbeelde van blankes wat onverhoeds oorval en uitgemoor is. ‘Di Kaffers fluit en skré an alle kante, skiit en gooi met asgaaie en klippe op di huis amper soos reen. Di skape blêr, di beeste bulk, di honde blaf, di fyand storm toe om di beeste fan di touwe af los te sny, andere
| |
| |
wil di huis in storm, een kaffer werd in di deur doodgeskiit met 'n afgebreekte asgaai in syn hand. Di rumoer was freselik.... Met fortrek was dit 'n akelig gesig om te siin hoe di plase an alle kante afgebrand word; so fêr as ons kan siin styg di rook oral op soos sware miswolke.’
Sy oordeel is gewoonlik gesond en in ooreenstemming met die bevindings van die geskiedskrywers. So noem hy ‘di kafferpolitiek fan Sir Andries (Stockenstrom) 'n totale mislukking.’ Maar dit gebeur nie dikwels dat hy kritiek uitoefen nie. Hy gee liewers 'n opsomming van die gebeurtenisse self, en die toon is tog so menslik. Selfs vir 'n grappie vind hy geleentheid, en terglustig is hy boonop, bv. omdat Currie weggekoes het vir 'n asgaai, sê hy: ‘hiiro'er het ons hom later baing geplâ.’ Hy is nie sentimenteel nie, maar erken ruiterlik dat hulle treurig was oor vyf vriende wat vermoor is: ‘Almal was diip bewoge en baing trane werd by di geleendhyd. gestort.’ Graag gee hy die eer vir 'n oorwinning aan God, of as hulle 'n noue ontkoming gehad het en die gevaar vrygespring het, heet dit: ‘Die enigste oplossing wat ek hiiro'er kan gé, is, dat di Here ons beskerm het.’
Aanvanklik het Coetser vrywillig diens gedoen, maar later het die Goewerneur hom aangestel as ‘padwyser’ vir die troepe, en dis 'n pos waarop hy baie trots was. Ongetwyfeld is baie van die oorwinnings op die Kaffers aan sy bekwaamheid te danke. Hy het die land geken, maar ook die krygsgewoontes van die Kaffers, en kon sy kolonel van kosbare raad bedien. Die Goewerneur het Coetser dan ook dikwels 'n pluimpie gemaak: ‘Alle eer kom jou, di offisire en di manskappe toe fer julle dapperhyd, en an jou grote ferstand.’
Gebeurtenisse uit die Kaffer Oorloge is 'n boeiende boekie en lees soos 'n historiese roman: 'n vervloë periode in ons geskiedenis word vir ons weer lewendig gemaak.
| |
(b) Vertalings.
Waar die skeppingsdrang ontbreek het, moes die redaksie van die Patriot en Ons Klyntji dikwels uit ander tale vertaal om in die toenemende leesbehoefte te voorsien. Nou is dit opmerklik dat hulle ook dié tipe boek uitgesoek het wat tot nut en lering kon dien. Die vertaler het homself baie vryhede
| |
| |
veroorloof om gedeeltes weg te laat of by te voeg, sodat hy 'n Afrikaanse atmosfeer kon bewerkstellig. Hy skroom gewoonlik nie om verduidelikings te gee of om 'n praatjie met die leser aan te knoop nie. Selde word die skrywer van die boek genoem, en nog minder die vertaler.
Van di Blokhuis na di Witte Huis of Di Lewe van James Abraham Garfield het oorspronklik in die Patriot verskyn vanaf 29 Junie 1883 tot 25 Desember 1884. Die volgende jaar is dit in boekvorm uitgegee, met 'n oplaag van 2000.
In die inleiding verklaar die vertaler: ‘Ons doel is dan, geagte leser, om in korte trekke en eenvoudige woorde di lewensgeskiedenis van di laasgenoemde metedeel; - van 'n man wat as kind van syn godsalige moeder di spreekwoord geleer het. “Waar 'n wil is, is oek 'n weg,” en wat di spreuk gedurende syn lewe beoefen het; - van 'n man wat di moed had om nooit iets teen di wil van syn vrome moeder, of teen di inspraak van syn deur Gods Woord verligte gewete, te doen; - van 'n man, arm en onder nederige omstandighede gebore, mar wat hom deur moed en volharding, met di bystand en hulp van di Almagtige, opgewerk het tot di hoogste trap in di maatskappy; - van 'n man uit wi syn lewe, lewenswysheid en lewenslesse te leer is, ver iedereen.’
Hierdie inleiding karakteriseer dadelik die boekie: die strekking is dwarsdeur voelbaar, en die godsdienstige toon word nooit verwaarloos nie. Die lewe van James Garfield word aan die kinders voorgehou as voorbeeld. Hulle word veral aangemaan om hulle moeders te eer, soos Garfield gedoen het. Hoe oulik word die praatjie tussen James en sy moeder oor drank nie ingevleg nie, 'n praatjie ‘wat 'n bepaalde rigting an syn volgend lewe gegee het en hom syn hele lewe lank tot 'n onthouder van bedwelmende dranke gemaak het.’ Meer opsetlik is die volgende prekie: ‘En hier leer di kinders twe grote lesse: di eerste, om ni di Sondag te maak tot 'n dag van kuier en wereldse vermake en plisier, en ten tweede, om hulle ouers getrou gehoorsaam te wees as di hulle iets verbied.’
Die vertaler wil nie alles meedeel nie, veral waar dit Garfield se liefdessake betref, want ‘party van ons lesers sal goed genoeg weet hoe dit gewoonlik toegaan, en andere kan mar 'n
| |
| |
bietji wag totdat hulle eendag in di geleendheid is om dit self te ondervinde.’
Die verhaal word soms erg sentimenteel, hoewel dit die lesers vir wie dit bedoel was, seker nie gehinder het nie. Ons kry 'n noukeurige opsomming van die uiterlike gebeurtenisse in die lewe van James Garfield, maar sy sielelewe kon die biograaf nie peil nie. Daarom neem hy sy toevlug tot die gerieflike opmerking: ‘Maar wi kon begryp wat daar toen in James syn hart omgegaan het; welke skrywer is in staat om op papier terug te ge di gevoel wat daar in James was...’
Die boekie was gou uitverkoop, en is wel die beste bewys dat dit in die smaak van die Afrikaanse lesers geval het. Die strekking het hulle seker ter harte geneem.
Hoewel daar geen dokumentêre bewyse voor is nie, laat die styl, die toon, en veral woordelike ooreenkomste met Catharina die dogter van die Advokaat, ons sterk vermoed dat C.P. Hoogenhout die verwerker is.
De School op de Heide het in Ons Klyntji verskyn vanaf Desember 1901 tot September 1903, en is later in boekvorm uitgegee. Dit tel 183 bladsye. Wie die vertaler is, word nie gemeld nie. In die inleiding lees ons: ‘Die follende ferhaal... is megedeel in een fan di kinderwerke wat in 1864 uitgegé is deur di toenmalige “Boekvereniging,” en daar dit my heel belangrik toeskyn, feral fer jou jeugdige lesers, wil ek trag om dit in Afrikaans terug te gé, in die hoop dat dit fer menigeen tot nut sal wees wat nog ni weet ni, dat menig bittere teleurstelling soms 'n geseende uitwerking het, ten minste fer digene wat sig buig en sig gedwé onderwerp an syn noodlot.’
Die boekie is dus vir kinders bedoel en volgens die opvatting van die tyd, moes dit deurspek wees met sedelessies. Dit vertel die ondervindings van die kinders van 'n ryk Hamburgse koopman, Guido, Pauline en Thekla. Dit was in die jaar 1813 dat die Franse soldate van Napoleon Hamburg beset het. Die koopman moes daarom vlug vir sy lewe. Sy kinders het hy na 'n eenvoudige boer op die heide gestuur, en dit is hier waar hulle gebrei is in die skool van die lewe. Hulle wou hulle nie aanpas by die armoedige omstandighede nie, en dit het meer as een bittere traan gekos. Die eerste dag al het Guido weggeloop, maar dit het hom suur bekom - hy moes uitvind dat
| |
| |
die eenvoudige kos baie lekker smaak. Ook Pauline moes boet vir haar hoogmoed. Maar gelouterd het hulle uit die skool op die heide gekom en nà Napoleon se neerlaag kon hulle weer terugkeer na Hamburg.
Die agtergrond is skerp geteken en die skrywer-vertaler maak ons heeltemal tuis in die Holm-familie - ons leer die lewe ken van die eenvoudige, maar gelukkige Duitse boerefamilie, 'n honderd jaar gelede.
Soos ons verwag, is die sedelessies volop. Grootvader is 'n man van wysheid en lewenservaring en daarom gee hy leiding aan die jeug: ‘Dus, liwe kinders, (sê grootfader), onthou dit, dat eerlikhyd di beste staatkunde is, want dit word altyd, froeg of laat, befredigend beloond; mar oneerlikhyd word altyd, froeg of laat swaar gestraf.’ Die drie bedorwe kinders het voordeel getrek uit ‘de school op de heide,’ want die skrywer sê self: ‘Di lewe op di heide was fer di 3 Echtermeyers 'n bestendige skool, waarin hulle selfferlogening, tefredenhyd, geduld en flyt het moet leer.’
Die skrywer hou gedurig kontak met sy jeudige lesertjies en verduidelik soms 'n moeilike woord, of vertel hulle iets uit die geskiedenis om hulle te oriënteer. Hy werk graag op hulle gevoel: ‘O hoe feul trane word daar soms onder dese en dergelike geleendhede gestort, soos mar alte dikwels plaas gefinde het onder Napoleon!’
Dis 'n ‘leersame’ maar nie 'n besonder boeiende verhaal nie! |
|