| |
| |
| |
Hoofstuk VII.
Prosa uit Ons Klyntji.
Prosa uit Ons Klyntji.
Ons het alreeds die belangrikste prosastukke van hierdie tydskrif behandel toe ons 'n bespreking gegee het van Di Koningin fan Skeba, Liifde in Oorlog en Magrita Prinslo, almal van die redakteur, ds S.J. du Toit; die twee novelles: Di Afgunsduiwel en Di Baasduiwel van J. Lion Cachet, wat ds Du Toit in die begin as redakteur bygestaan het, en Jakob Platji van G.R. von Wielligh.
| |
(a) Liefdesverhale.
Onder die oorgeblewe prosa is 'n paar vervolgverhale van belang; verder kan ons nog op die bydraes onder rubrieke en op los stukkies wys.
Onder die vervolgstukke staan as die belangrikste uit: liefdesverhale, Nou moet ons nie verwag om suiwer psigologiese romans in hierdie periode te kry nie, romans waarin die sielelewe van die karakters blootgelê word sodat mense van vlees en bloed voor ons opstaan nie. Die karakters is slegs poppe sonder 'n eie wil of persoonlikheid, en wat danstoere uitvoer volgens die fluitspel van die skrywer. Hierdie romans is bevolk met skurke en helde en as tussenpersoon 'n allerliefste nooientjie. Na veel moeilikhede waarin die toeval 'n ruim aandeel het, volg die beloning of straf vir die helde en skurke. Die verhale is soet, stroperig en gelaai met spanning. Om kort te gaan: hulle is tipiese intrige-romans, die voorlopers van die romans van J.H.H. de Waal. Hulle het goeie werk gedoen om ons volk te leer lees. En hulle is gelees soos die korrespondensie in Ons Klyntji toon. Dit is maar net die natuurlike ontwikkeling in ons letterkunde dat ons eerste romans spanningswerk moes wees, want hierdie tydskrif het nie in die behoefte van die
| |
| |
opgevoedes probeer voorsien nie; hulle was geholpe. Soos sy naam aandui, wou Ons Klyntji hom rig na die jeug en die eenvoudiges van gees. Vir hulle lê die aantreklikheid van die leesstof nie in die ontroering wat die skoonheid van vormgewing bring nie, maar hoofsaaklik in die inhoud self. Dit is die spanning, hoe onmoontlik die verhaal ook al mog wees, wat hulle aangryp. Trouens, vir jong en eenvoudige mense is die hele lewe avontuurliker as vir die rype van gees. So moet ons ook die verduidelikings van ds du Toit tussen waarheid en verdigting verstaan (vgl. Terugblik), want die lesers wou maar nie altyd glo dat die voorvalle, bv. in die Koningin fan Skeba, nie die letterlike waarheid is nie. Wat nie werklik waar is nie, is vir hulle eenvoudig leuens.
Dus, vir die vorming van letterkundige smaak en vir die opwekking van gesonde leeslus het die intrige-verhaal, nieteenstaande sy growwe tekortkominge, in kunsopsig 'n allernuttigste funksie uitgeoefen.
Di Roosknoppi deur D.P. du Toit (Oom Dawie) is wel die belangrikste intrige-roman wat in Ons Klyntji verskyn het, en wel vanaf Julie 1896 tot Maart 1897. Dit is 'n bekroonde prysvraag. In 1929 het dit in verwerkte vorm in Die Huisgenoot verskyn en is daarna as aparte boek uitgegee onder die titel: Haar Broer se Skuld.
Die hoofkarakters is Dani Retief, die held; Brown, die skurk; Anni Joubert, die mooi nooientjie en mnr Joubert, haar hardvogtige vader. As ons met Dani kennismaak, is hy 'n seun van negentien jaar. Sy uiterlike word haarfyn, op die gewone stereotipe, onreële wyse beskrywe. Daar ‘skitter 'n paar edele swarte oge, waaruit ni alleen ferhewenhyd en 'n edele karakter, mar ook moed, lewe en gees te lese was.’ Ook Anni Joubert besit ‘'n paar grote edele onskuldige blouwe oge’ en ‘melkwitte tande.’ Hulle twee raak verlief op mekaar, maar ondervind teenkamping van 'n Engelsgesinde vader, wat Annie met 'n sekere Brown wil laat trou. Maar Dani en Annie kyk mekaar in die oë. ‘Di gefoel wat sig op di ogenblik fan Dani meester maak, is myn pen ni in staat hiir te beskrywe ni. Ni so seer om di uitgesproke woorde ni, mar omdat hy nou fer di eerste maal twé trane, helder as doudruppels, uit di twé ferhewe bloue oge, o'er
| |
| |
di leli-blanke gelaat siin rol.’ Die karakterbeskrywing bly deurgaans op hierdie plan van uiterlikhede staan.
'n Poging tot verdieping wend die skrywer aan waar hy Annie se smart, toe sy weier om van Dani af te sien, in verband met die natuur bring. Alleen in haar kamer kyk sy deur die venster en dan sien sy donker wolke, maar skielik breek die son deur. Nou kry ons een van die eerste voorbeelde van simboliek in die Afrikaanse letterkunde, hoe opsetlik ook al. Die skrywer vra: ‘Sal dit in haar gefal ook so gaan; sal daar eers harde woorde moet gehoor worde, wat di weerlig sal moet foorstel? Sal haar trane ook eers op di grond moet fal nes di reendruppels? Wi weet! En as di storm kom, sal sy kan bly staan? Of sal sy nes di blommetji wat hiir foor haar fenster in di bakki gestaan het, en deur di reen en wind afgeruk, en met di reenwater weggespoel is, weggefeeg en weggefoer worde na di streek fanwaar gen rysiger ooit terug gekom is ni?’
Wanneer die geleentheid hom voordoen, knoop die skrywer graag bespieëlings aan die verhaal vas oor hoe veragtelik dit vir 'n Afrikaner is om aan sy volkstradisies ontrou te word. Die bybedoeling was duidelik om 'n werk met 'n gesonde nasionale strekking te lewer.
'n Volgende liefdesroman is Di merkwaardige Fo'eltjiis, of Liifde beloond, wat in Ons Klyntji vanaf September 1897 tot Junie 1898 verskyn het. Die redakteur en die skrywer, J.L., het 'n bietjie gebots oor dié roman, want na die eerste hoofstuk verskyn het, skryf di redakteur: ‘Di ferhaal ... is regte boeiend en baing mooi om te lees; mar ek kon nie help ni om so'n klyn laggi te kry toen dit my onder di oge kom en wel omdat dit so baing o'ereen kom met di ferhaal fan “Jacob en Koosje, deur J. van 't Lindenhout.” Di ooms wat so frindelik is om my fan mooi storiis te foorsiin, hoop ek, sal di reêl tog ni fergeet ni, dat di stukke oorspronklik moet wees om abuis en teleurstelling foor te kom.’
Taamlik gesteurd antwoord J.L.: ‘Ek ag dit ni onfoegelik ni, om iits by te breng fan 'n ander skrywer, om myn ferhaal op te helder, so lank as ek jou mar ni diselfde ding fertel ni.’
Di merkwaardige Fo'eltjiis is dan ook niks meer as 'n verstandige verwerking van die Nederlandse roman nie, maar tot so'n mate dat dit byna twee verskillende romans is. Die
| |
| |
atmosfeer is suiwer Afrikaans - slegs die liefdesverhaal self toon ooreenkoms. Maar dit wil nog nie sê dat Di merkwaardige Fo'eltjiis 'n goeie roman is nie. Dit staan ver agter by Di Roosknoppi, en die letterkundige waarde is gering.
Tog toon Di Fo'eltjiis veel ooreenkoms met Di Roosknoppi, veral wat die opset betref. Hier is dit weer 'n Engelsman wat die skurk is en verengelste ouers speel ook hier 'n rol. Weer vind daar 'n diefstal plaas en ook hier moet die held onskuldig in die tronk sit totdat die skurk ontmasker word. Die deug kry weer sy beloning.
Twee kinders, Anni Naudé en Fani van Zyl, was reeds vóór hulle tiende jaar op mekaar verlief. ‘Op 'n goeie dag sien sy twee voëltjies ‘baklei,’ en toe sy vir Fani vra wat hulle doen, antwoord hy dat hulle ‘vry.’ Hierdie voorval het 'n groot indruk op haar gemaak en sy het besluit: ‘Fani en ek moes di fo'eltjiis nog gelyk worde.’
Die skrywer sukkel om op dreef te kom, en bied kortkort verskonings aan: ‘Ek het di lesers nou 'n bitji lank opgehou met 'n persoon wat ni so seer di hoofrol speul in ons ferhaal ni, mar die lesers sal wel geduldig wees, want om hulle alles goed te laat ferstaan, moes ek di laaste gebeurtenis inbreng.’ Soms word hy darem al te pateties, veral as hy ons van Anni se hartseer vertel - dan ‘drywe haar oge in trane.’ Toe sy hoor dat Fani in die tronk is omdat hy goed uit die winkel sou gesteel het waar hy werk, ‘fal sy flou neer, en toen sy weer reg word het sy freeslik gehuil... En hoe Fani di nag in di tronk te kere gegaan het is onbeskryflik en hartroerend fer Anni.... Ag Anni wat is jou lot hard!’
Daar is weinig aantrekliks in hierdie verhaal wat so deurweek is met trane. Die skrywer sukkel met die pen, stamp en val oor sy eie woorde, veral as hy met sy dorre papierdialoog voor die dag kom. Daar is geen agtergrondtekening nie: Johannesburg is slegs die naam van 'n stad. Natuurlik skep hy geen karakters nie, maar karikature. Ons mis in hierdie verhaal die bekoorlikheid van Di Roosknoppi, en deur die gebrek aan spanning het dit seker weinig aantrekkingskrag besit vir die lesers van Ons Klyntji.
Nog swakker is die avontuurverhaal van J.C. Snyman: Eric en Doris, wat in Ons Klyntji verskyn het vanaf Februarie
| |
| |
1898 tot Februarie 1899. Dit speel tydens die Matabele-opstand in 1896, maar die historiese agtergrond dien slegs om die reeks avonture meer waarskynlik te maak. Dit kan geen historiese roman genoem word nie, want dit was nie die doel van die skrywer om daardie tydperk uit die geskiedenis vir ons te laat lewe nie. Nee, hy wou die wonderlike liefdesgeskiedenis van Eric en Doris vir ons vertel, hy wou ons aandag styf span met 'n relaas van die gevare waarin hulle verkeer het, en hoe hulle mekaar tog uiteindelik gekry het ten spyte van die herhaalde aanslae wat die skurk Fergus Haygarth op Eric se lewe gemaak het. Soos gewoonlik, word sy dade uiteindelik openbaar en word hy met die dood gestraf. Dit is waar, ons belewe oomblikke van groot spanning saam met Eric en Doris, en staan verbaas oor die dapper dade van Eric wat altyd net betyds is om sy geliefde uit die kloue van die dood te red. Maar dit is dan ook al wat hierdie roman leesbaar maak, want Johs. C. Snyman se styl is beroerd en sy karaktertekening naïef. Die verhaal sluit volgens die gebruiklike resep: ‘'n Maand na hulle ankoms in Engeland, was daar 'n grote en deftige bruilof in Londen, en die gelukkige egpaar was Lord Eric Dacres met Doris Churton. - Hiermé word di wonderlike afonture gesluit.’
Di geskiedenis fan Jaap en Ali (O.K., Aug. 1898 tot Oktober 1898) verskil nie baie van die vorige liefdesverhale nie: ook hier het ons die held, die skurk en die nooi; ook hier is daar 'n groot erfporsie in die spel, en ons weet vooraf hoe die verhaal gaan eindig. Soentjies en glimlaggies is volop, maar natuurlik kom groot moeilikhede in die weg van die verliefde paartjie, veroorsaak deur die skurk. Die sentimentele sousie loop deur die hele verhaal, en trane en sugte moet die gemoedstoestand van Ali vir ons openbaar. Baie van die situasies is ‘onbeskryflik’ en daarom draf die skrywer maar verder na die gelukkige slot. Die intrige is nie ingewikkeld nie, en gevolglik is die verhaal slap, behalwe waar Ali geskaak word deur Piet Klopper, die skurk. Maar Jaap, die held, is 'n wonderlike man en die toeval is hom goedgesind. Die verhaal eindig met 'n verduideliking van die strekking na die gelukkige huwelik:
| |
| |
‘“As di ware liifde ni by ons gewees is ni, dan was ons ni fandag getroud ni,” sê Ali eens op 'n goeie dag.
“Ja, sê Jaap, as daar opregte liifde onder di jong Afrikaners bestaan, dan sal daar minder ongelukkige huwelike wees.” Di lesers kan self oordeel of Jaap reg had om di laaste woorde te sê; ek denk hy het reg gehad.’
Wat Liifde kan doen (O.K., Julie en Okt. 1904) is 'n verhaal wat vol belofte begin, maar ongelukkig het slegs twee hoofstukke verskyn. Die skrywer, P.W. Labuscagne, deel ons vooraf mee dat hy 'n bejaarde man is, ‘mar dit is fer my angenaam om met 'n seuntji te gesels.’ Labuscagne kan self ‘aangenaam’ gesels. Op 'n waardige wyse stel hy ons voor aan Piit de Villiers, 'n godsdienstige boer van die ‘ouderwetse soort.’ Hy het 'n dogter Sanni en toe 'n Engelsman, Brown, vir haar kom kuier, het hulle gou eie met mekaar geraak. Dit is duidelik dat hulle moes bewys ‘wat liifde kan doen.’
Die skrywer het in die twee hoofstukke 'n helder plaasagtergrond geskep en ons laat tuis voel op Modderfontein. Sy styl is sprankelend, oorspronklik, veral omdat hy beelde gebruik - 'n skaars artikel by ons eerste prosaskrywers. Kyk hoe beskryf hy Adoons: ‘Adoons was 'n Hotnot so lelik as di nag en syn tande was altoos te siin soos di note van 'n ope klafiir.’ En hoe 'n ander tipe meisie is Sanni nie - hier geen stroperige engelagtigheid nie: sy is 'n gesonde boeredogter ‘met di hare los en di oge tintelend fan lewenslus en freugde..’ Spytig dat Labuscagne ons met twee hoofstukke afgeskeep het, want sy verhaal adem 'n gesonde gees.
So sien ons dat ons in Ons Klyntji nog net intrigeromans gekry het met al die gebreke wat hierdie soort roman aankleef. Maar dis belangrik dat ons in hierdie verhale die begin het van 'n nuwe Afrikaanse romankuns.
| |
(b) 'n Avontuurverhaal.
Th. du Plessi, S.J. sn. van Klipkraal, Bethal, het 'n lang vervolgverhaal in Ons Klyntji vanaf Augustus 1897 tot Desember 1898 gepubliseer: 'n Stiiffader. Dit is bedoel as 'n avontuurverhaal en vir jeugdige lesers moes dit werklik bekoorlik gewees het, want Frikki het die gevaarlikste avonture belewe waaroor 'n mens kan dink. Dit speel nie in vreemde wêreld- | |
| |
dele nie, maar in Afrika en vertel van Kaffers en wilde diere. Die verhaal hou dus verband met die ervaringswêreld van die lesers van Ons Klyntji.
Van die stiefvader hoor ons heel weinig, behalwe dat hy die dertienjarige Frikki so mishandel het, dat die seun een nag na 'n pak slae besluit het om maar liewer weg te loop: ‘al moet ek nou altyd flug en swerwe, dis beter as dood geslaan te worde.’ En nou begin sy moeilikhede - reeds die eerste aand. Du Plessi slaag daarin om dadelik die wildheid van die natuur te beskrywe, en die sluipende gevare te suggereer: ‘Di arme kind is alleen in di digte bosse; ja daar skré 'n fogel. Dit word donker: gen mens in di nabyhyd ni. Di sterre gooi hulle glans op di aarde. Di wind druis daar bo in di berg en in die donker klowe... Fêr in di berge hoor hy die leeus brul soos 'n donder, dit kom al nader en nader na di water fontyn.’ Hy is egter 'n dapper klein kêreltjie en steek 'n stomp vuur in die leeu se bek!
Twee maande lank dwaal hy nou in die bosse rond totdat hy deur Kaffers gevang word. Hulle was mensvreters. Maar Frikki is waarlik 'n gelukskind, want net toe hulle hom wou slag, daag daar 'n klomp Arabiere op wat hom bevry. Die toeval sou hom nog baiekeer van 'n gewisse dood red! Groter ellende het egter vir hom gewag onder die Arabiere, want hulle het hom saamgeneem as slaaf. Die skrywer deel ons mee dat hulle nou in die Sahara-woestyn is, maar die agtergrond bly vaag. Toe hy nie meer verder kon loop nie, laat hulle hom agter tussen die sandhope. Gelukkig kom hy by 'n ander karavaan uit, maar hulle word weer deur die Kaffers uitgemoor, en weer is Frikki alleen. Saam met Frikki word die skrywer weekhartig en beklaag die ‘arme’ seun: ‘Ag, ek het tog al so swaar gehad, nou kan ek tog mar sterwe, want myn tong is so droog fan dors, dat ek ni meer kan praat ni, ek foel myn kragte verlaat my. Waar was ek en waar is ek nou? Al di gedagtes maak hom so bedroef dat hy in trane uit bars.’ Die wonder geskied weer: dié keer is dit 'n donderslag uit die hemel wat water bring en Frikki laat herlewe.
'n Groter verrassing volg, want 'n ent verder kom hy toevallig op Ben af wat al vir jare na hom soek. Skaars het Ben al die nuus vertel van die huis, of daar val hy plotseling
| |
| |
dood neer ‘an Frikki syn sy deur 'n byt fan 'n giftige slang. Daar is di arme Frikki weer alleen by die dooie lyk.’ Dit word darem 'n bietjie erg, maar gelukkig het Frikki nou volop ammunisie en hy sit sy reis maar weer voort. Nie lank daarna nie kom 'n opgesaalde perd op hom afgestorm - die Kaffers het 'n wa oorval en die mense uitgemoor. By 'n Kafferkraal loop hy Jan Herps raak, en die twee ontvlug saam. Die skrywer hou egter nie daarvan dat Frikki 'n maat moet hê nie, en na baie avonture, laat hy Herps weer deur die Kaffers vang. Frikki se oë skiet vol trane, maar dapper hou hy koers na die Suide. Nou word hy weer siek, ‘en hoe hy an di lewe gebly het, weet hy self ni.’
Na baie omswerwings bereik hy Transvaal, en soos die toeval dit weer wil hê, ontmoet hy sy oom wat hom huis-toe neem. Daar is baie trane gestort by sy tuiskoms. Die stiefvader het groot berou gehad en natuurlik word alles hom vergewe. Frikki het die diamante wat hy opgetel het, verkoop en vir hom 'n plaas gekry, ‘sodat hy in 'n paar jaar tyd 'n welfarende boer was.’ Soos ons kan verwag, het hy gou vir hom 'n skatlike vroutjie aangeskaf. Ten slotte deel die skrywer ons mee dat Frikki 81 jaar oud geword het ‘en toen in frede heengegaan is in di weg fan alle flees.’ Die skrywer sê hy kon ons nog meer vertel het van sy held, maar gelukkig besef hy self: ‘wat te lank duur word ferfelig.’
Tog het Du Plessi hiermee self sy verhaal gekarakteriseer. Aanvanklik het dit ons geboei, maar deur die herhaling van ongeveer dieselfde ervarings, word hy naderhand onuitstaanbaar ‘ferfelig.’ Dié Frikki bly 'n skimmige persoon, net die kapstok om 'n reeks avonture aan op te hang. Die agtergrond is vaag - ons weet dat Frikki deur Afrika was, maar ons ken Afrika nog nie ná ons die verhaal gelees het nie. Tog het 'n Stiiffader - verkeerde titel - die lesers vir wie hy bedoel was, seker menige uurtjies in opgewondenheid laat leef.
| |
(c) Sketse en Anekdotes.
Verreweg die grootste gedeelte van Ons Klyntji is deur sketsies en anekdotes in beslag geneem. Dit is asof 'n menigte mense in elke nommer van Ons Klyntji bymekaar is en uit persoonlike herinneringe en ervarings opdiep om mekaar ge- | |
| |
sellig te onderhou. Na die styl is die opmerklikste eienskap juis die geselstrant: geen vormversorging of stewige bou nie, net die ongekunstelde relaas van 'n gebeure van die bloot uiterlike, onpersoonlike kant gesien.
Na die inhoud handel hulle oor vryery, trouery, volksfeeste (bruilofte), flousery, transportry, moord, spoke, jag (leeus, tiers, ystervarke, olifante, ens.), noue ontkomings, jong perde leer, en oor die naturelle. Daar is ook belangrike rubrieke soos An di Fergetelhyd Ontruk, Uit di Oue Doos en Familie Legendes.
Die strekking van die verhale is meestal om grappig te wees (waarby die boertige en platte graag te pas gebring word), om nut te stig, soos in die rubrieke Slegte en Goeie Gewoontes, en om kennis te versprei, soos in die praatjies oor Sterrekunde.
Hierdie stukke is selfs as volkskuns baie swak. Tog vorm dit die wegspringplek na die kortverhaal as kunsgenre van 'n ontwikkelde periode van tydskriflektuur. Hierdie volkskuns verteenwoordig die noodsaaklike voorbereidingstydperk. Dit staan geworteld in die aarde en groei wild en woes. Opmerklik van hierdie wilde kuns is dat dit ver van die stad bly en net op die platteland groei. Daarom dra dit altyd 'n pastorale karakter.
Nie om die betekenis daarvan nie, maar enkel ter illustrasie, doen ons 'n paar grepe uit die groot hoeveelheid.
| |
(d) Jagverhale.
Een van die beste jagverhale wat in Ons Klyntji verskyn het, is Olifantjag (Aug. 1897 tot 1898). Ongelukkig is dit slegs gedeeltelik gepubliseer. Dit is 'n gesonde verhaal, sonder stroperigheid of 'n vervelige opsomming van hoeveel wild elke dag geskiet is. Die styl is sober en saaklik, sonder versiering, maar daarom juis lees die verhaal prettig. Die skrywer hanteer sy pen maklik en struikel of val nie, soos dit met so baie van die prosaskrywers uit hierdie tyd die geval was.
Soos gewoonlik gebeur, het ou Fieland saans om die kampvuur Hottentot-stories vertel, smaaklik en lewendig, soos 'n Hottentot dit alleen kan doen. Ou Fieland se stories staan nie los van die verhaal nie, en hulle pas by die atmosfeer. Met enkele woorde, deur die Hottentotte self te laat praat, laat
| |
| |
die skrywer die volkies vir ons lewe, veral as hulle eers 'n sopie weggeslaan het.
Die jaggeselskap trek verder. Een nag sien hulle spoke, en so oortuigend is die skrywer dat ons lus kry om sy stories te glo. Hulle kom by 'n Kafferkraal uit om volk te huur, en nou is die skrywer op sy stukke, want op 'n onderhoudende manier vertel hy ons van die Kaffers se gewoontes en bygelowe. Afgryslik is die wyse waarop die toordokter 'n klein Kaffertjie offer.
Eindelik is ons jagters in die wildstreek. Hulle ervarings word eerlik oorvertel: hulle is nie van die ‘vreeslike’ dapperes wat die wild by hope afmaai nie. Na 'n noue ontkoming met 'n leeu, erken die skrywer: ‘Ek was daarom asfaal toen ek opstaan, want ek het ni gedag dat dit so knyp kan kom ni.’ Hulle skiet egter 'n seekoei en gou was daar fees in die kamp: ‘Dit was 'n aardigheid om di kaffers di aand te hoor babbel so lank as hulle eet.’ Maar snags was daar nie altyd rus nie, want hulle moes die osse teen die ongediertes beskerm.
Daar was baie ander oomblikke van groot benoudheid, soos een nag toe die skrywer verdwaal het. Gevare het van alle kante gedreig. Hy is selfs deur Boesmans aangeval. Maar die spanning is gebreek toe hy by 'n klomp ape uitgekom het. ‘Di ape sit my eers te bekyk, en gaan daarop hard and lag... Ek het hulle mar laat berus tot hulle genoeg gekyk het en weer weggegaan.’
Dit is te betreur dat die verhaal so stomp afgebreek is, want ons was net mooi tuis in die jagveld, en die ondervindings van die vier persone het al hoe meer spannend geword. Die atmosfeer van die jagveld het die skrywer uitstekend getref. Sy verhaal hoef in 'n paar opsigte nie onder te doen vir Op Safari van Sangiro nie, veral wat die beskrywingskuns aangaan.
C.H. Loots, J.seun, van die distrik Britstown, is een van die ‘dapper’ jagters wat nie genoeg oor hulself en hulle eie heldedade kan praat nie. Hierdie Loots besit nie 'n bang haar nie, volgens sy eie mededeling in 'n Leeu Jag (Jan. 1897) ongeveer 1842. ‘Ek was fan klyns af een in wi banja gees was, en by wi bisondere lus was fer jag,’ vertel hy ons. Toe hy 22 jaar oud was loop hy weg van sy ouers af met twee bok- | |
| |
waens en 'n paar Kaffers om oorkant die Grootrivier leeus te gaan jag.
Sy leeustories klink baie na die van Baron von Münchausen; ook hy pak 'n leeu somar aan die stert beet. As hy miskien met sy ou Sanna losbrand, is dit almal kopskote. Daar is meer sulke grootpraat-jagverhale!
| |
(e) Dierverhale.
Soos reeds by Dire Storiis vermeld, is die dierverhale wat in Ons Klyntji verskyn het, oorspronklik Germaans en in Suid-Afrika deur die Hottentotte by ons landsomstandighede aangepas. Hierdie verhale van Ons Klyntji het Von Wielligh sonder twyfel gebruik vir sy versameling, soos dikwels ook uit die woordelike ooreenkomste blyk. Von Wielligh het waarskynlik hierdie verhale getoets aan die stories wat hy self uit die mond van die Hottentotte opgeteken het; toe wysigings aangebring en die versameling ‘folledig’ gemaak, soos hy in sy ‘Foorrede’ vermeld. Wolf gefop tot in syn dood (O.K., Junie 1896) kom in Dire Storiis voor as nommers 12, 27 en 23, nagenoeg in dieselfde bewoording.
Dit sal ons te ver op sypaadjies voer om al dié ooreenkomste aan te toon. Liewer noem ons 'n paar verhale wat nie by Von Wielligh voorkom nie, en kies Bobbejaan gefop (Febr. 1897), wat bondig vertel is; en Hoe Jakhals fer Wolf gefop het (April 1897) deur P.J. Venter van Boschaar. Die twee gaan saam in die boer se kombuis om brood en botter te steel, maar jakkals stuur wolf om te gaan kyk of die boer nie aankom nie, en intussen smeer hy botter op 'n klip en gee dit toe aan wolf.
‘Wolf sê toen fer Jakhals: “Soe, jong di brood is hard!” Toen sê Jakhals fer Wolf: “Nou kom, laat ek jou foet fas maak an di rak, dan zal jy di brood insluk.” Toen kom Wolf en Jakhals fat di dik ketting en maak Wolf se foet vas. Toen fat Jakhals 'n stukki brood en smeer daar botter op, en gé dit fer Wolf, en Wolf sluk di brood in. Toen sê Jakhals fer Wolf: “Siin jy nou, dat myn plan gehelp het?” Toen fat Jakhals 'n stuk brood en gaan uit en skré: “Boer, boer! Wolf is in jou huis!” Toen kom kyk di boer en siin fer Wolf in syn huis, en di boer fat di groot sambok, en slaan fer Wolf tot dat hy amper dood was, toen kom Wolf los.’
| |
| |
Van hierdie tipe verhaal is daar 'n hele aantal in Ons Klyntji gepubliseer, en ongeveer almal stel jakkals voor as die aartsskelm wat gedurig die ander diere fop en dan moet vlug vir sy lewe. Dié verhale is besonder vermaaklik, en veral die sprokiesatmosfeer is bekoorlik, hoewel die diere in sommige hiervan baie vermenslik word. Geestig is party verklarings van sekere eienskappe van die diere.
| |
(f) Oorlog.
Behalwe die roman van ds S.J. du Toit het daar heelwat oorlogsverhale in Ons Klyntji verskyn, maar almal van so'n aard dat hulle geen rassehaat kon aanvuur nie. Daarom is die meeste grappig of net 'n opsomming van oorlogsgebeurtenisse.
'n Ongenoemde deel ons sy ervarings mee in sy Skets fan di Teenwoordige Oorlog (Aug., Sept., Okt., Nov. en Des. 1900), wat ook werklik nie meer as 'n skets is nie. Hy vertel o.a. hoe hulle Stormberg ingeneem het, en die ontberings snags in koue en reën. Hy is jonk, die skrywer, en het nog baie na die nooiens verlang. Na maande van afsondering is elke meisie wat hy sien, besonder mooi. ‘Sy lyk waarlik dan net soos 'n engel; al is sy dan ook mar lelik, dan kan jy jou lag ni hou so mooi as sy dan fer jou is ni.’
Interessant ook is die Oorlogs Onderfindings (Junie, Sept., Okt., Des. 1903) van Pieter Pakarolus. Hy het geskryf na die hart van die redakteur: ‘Ek wil net an jou en jou lesers, wat ni op di oorlog was ni, fertel hoe dit daar met my gegaan het, en watter onderfindings ek opgedoen het... Kyk, ek denk di oorlog is nou mos ferby, en ons moet nou weer same werk, makaar fergewe en fergeet; wyl ons ferloor het, moet ons nou fer ons onderwerp, en getrou wees an onse nuwe Regering...’
Hoe uitstekend slaag Pieter Pakarolus nie daarin om die spanning vóór die uitbreek van die oorlog te suggereer nie! Sy verhaal lees soos 'n roman, want hy beskik oor so'n sterk verbeeldingskrag dat hy die leser alles saam laat belewe.
Daar is 'n hele reeks grappige voorvalle uit die oorlog in Ons Klyntji gepubliseer. Sommige is kostelik, maar die meeste nogal slap. J.P. vertel hoe bang Okkertji was en altyd die ‘krimenele stuipe’ gekry het as daar van 'n geveg sprake was, net soos Oom Dani wat weer met 'n pyn in die maag geplaag
| |
| |
was (Okt. 1900). Stella se oë traan nog van die lag as sy 'n Paar Fratse (Nov. 1900) vertel van die brandwagte wat vals alarms gegee het uit pure bangheid. Smaakliker opgedis is Klyn Kafferhond se storie van Di Soda-Bottel (Aug. 1903). Oom G. en Oom C. het saam gaan kos haal op Somerset-Oos en hulle het ook 'n botteltjie sodawater gekoop ‘om di naarhyd af te drink.’ Hulle was maar lugtig vir soldate, en skielik bars die sodabottel sodat hulle op die vlug slaan. ‘Toen hulle weer by makaar kom sê Oom G. an Oom C.: “Kyk, man, wat is so nat nes bloed an my?” Mar Oom C. sê: “Dis water jong”.’
| |
(g) Afrikaanse Familielegendes.
Op versoek van die redakteur om ‘ou ferhale wat in di families bewaar is,’ het Garcia van Harrismith van Di Famili Staf vertel. Die eerste twee hoofstukke het in Di Patriot van 17 April 1902 verskyn, en die res in Ons Klyntji (Maart, April, Mei, Junie, Sept., Okt., Des., 1903, Jan. en Mei 1904).
Die familie Staf het naby Kaapstad gewoon, en was lekker ryk. Die enigste kind, Benjamin, was goed geleerd, dog nederig en minsaam. Hy was verloof aan Naomi Fan Ster van die Kaap. Die moeder is skielik oorlede en haar eggenoot was ontroosbaar. Van verdriet is hy ook dood en Benjamin is alleen agtergelaat. Nou volg 'n tranerige beskrywing van Benjamin se verdriet, en die moeilikheid met die testament, want Benjamin se ouers het nog 'n grootmaakkind gehad, Willem Rondebos, wat volgens die skrywer 'n egte skurk was. Hy het ook na die begrafnis gekom, maar slegs om te hoor wat sy aandeel in die boedel sal wees. Dit is wel die mooiste toneeltjie in die hele verhaal as die testament voorgelees word: ‘Di grote saal was stampfol mense, wat almal nydig na Rondebosch kyk... Rondebos waan sig 'n groot baas en sit nou soos 'n opgeblaasde brulpadda.’ Toe die heerlike kontras: hy word onterf! Die skrywer kan sy veragting vir Rondebos nie onderdruk nie, en maak gebruik van 'n beeld: ‘Rondebos syn gesig het gelyk soos 'n toegedekte pot op di fuur wat wil o'erkook, dog waarfan di deksel skilik afgehaal word en di inhoud wat and opbruis was meteens wegsak.’
Maar nou ontwikkel hierdie legende in 'n spanningsroman: Rondebos en sy prokureur, Fan den Bos, vervals die testament
| |
| |
en onterf Benjamin. Boonop beweer hulle dat Benjamin 'n onegte kind is. Naomi Fan Ster se vader belet Benjamin om weer by hulle aan huis te kom. Benjamin is maar baie van 'n swakkeling en wou hom self afmaak met 'n pistool, maar op die kritieke moment verskyn Naomi en red hom. En hoe romanties: hulle vlug weg met 'n seilskip wat juis gereed was om te vertrek! Die res van die verhaal is te fantasties om oortuigend te wees.
'n Tweede familielegende is die van Willem Gebhardt (Juli, Aug. 1903). Die skrywer het dit saamgestel uit ou gedenkskrifte en volgens mondelinge oorlewerings. Dit vertel waarom en hoe Willem Gebhardt, die seun van 'n Paarlse predikant, in 1822 onskuldig opgehang is. Hierdie legende is dan ook meer geloofwaardig as die van die familie Staf.
Die skrywer beskik oor 'n vloeiende, meeslepende styl, en omdat hy so eerlik is, wen hy dadelik ons simpatie vir die onskuldige slagoffer.
| |
(h) Volkskundige Verhaaltjies.
In Ons Klyntji het daar 'n klompie artikels verskyn van volkskundige belang, maar een van die allerbeste verhale, ook vanuit 'n letterkundige oogpunt, is Oupa se Winter-aand storiis fir Afrikaanse Kinders (April, Mei en Junie 1896). Hoe 'n liewe oupa was hy nie, en hoe onderhoudend kon hy nie vertel nie! Vriendelik nooi hy die kinders uit om weer na 'n storie te kom luister:
‘Kom, kindertjiis, kom sit nou mooi stil by di fuur. Dis koud daar buite. Hoor, hoe huil di wind. Hoor hoe fal di stortreens, en hoe knetter di ha'el teen di fenster-ruite an.’
Na hierdie digterlike inleiding, wat 'n heerlike atmosfeer vir 'n storie skep, begin Oupa die kinders uitvra oor die slangsteen, en neem hulle dan terug in die gees na die dae toe hy so klein was soos Gertji daar. Dit was 'n donker aand, en die slawe het lawaai gemaak. Outa Mentor het hakkelend kom vertel dat die slang met die steen in die berge is. Outa Mentor word vir ons 'n lewende persoonlikheid, en hoe geneig is ons nie om sy verhaal te glo nie!
Oupa het die volgende dag saam met Mentor veld-toe gegaan, en digterlik word hy weer as hy die natuur vir die
| |
| |
jongspan skilder: ‘Dit was 'n heerlike mor'e. Di lug was helder blou, onbewolk, en fol geure fan kruiebossiis. Di jonge son skyn vrolik, di berge gé lange skaduwe, en 'n frisse, koele lug kom fan o'er di toppe fan di Franshoek berge uit 'n Suid, ooste rigting. Fo'eltjiis sing, en fluit tjiip-tjiip en skré an alle kante, en di doudruppels glinster nes diamante in di sonstrale. Ider doudruppel had 'n kroon fan reenboogkleure tot diadeem.’
Dit mag vir die moderne leser 'n verouderde natuurbeskrywing wees, maar vir die leser van Ons Klyntji moes dit 'n verfrissing gewees het.
Daardie dag het Outa Mentor vir Oupa meer omtrent die slangsteen vertel en hoe om dié steen in die hande te kry. Hy het siek geword en gedwing om die steen te gaan haal vir sy kleinbaas. Een nag het hy weggeloop, en maande daarna het hulle sy geraamte in die Tepelberg gekry - in sy regterhand die slangsteen. ‘“Kinders, hiir is hy,” en Oupa haal uit syn sak 'n silwer dosi, maak dit fersigtig oop en wys ons 'n rondagtige steen fol klyne gaatjiis.
‘En nou kinders is dit tyd om te gaan slaap...’ |
|