Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde
(1941)–G.S. Nienaber, P.J. Nienaber– Auteursrecht onbekend
[pagina 284]
| |
1. Vertellings.Smaaklik vertel F. in Oom Gert en Syn Graaf (Okt. 1896) hoe Oom Gert een donker aand 'n graaf vir 'n Kaffer wat wou inbreek, aangesien het, en besluit sy ondeuende storie met 'n sangerige vers: ‘'k Hou baing van oom Gert en syn dogter daarby,
Mar tog van syn hart en syn grappiis di mees;
En mog hy weer eens met 'n graaf gaan bakly,
Dan wens ek van harte daarby oek te wees.’
S.A. du Toit se verhaal van Neef Gerri (Febr. 1897) se ongeluk op 'n bruilof is maar taamlik flou. 'n Groot teenstelling daarmee vorm die geestige vertelling van A.G. Visser, wat reeds in Ons Klyntji sy eerste digproewe gelewer het: Oom Fani Brink (Junie 1897) - 'n poging wat heel tipies is van die latere werk van hierdie beminde digter.Ga naar voetnoot⋆ Sy humoristiese aanleg kom reeds hierin tot uiting. Oom Fani Brink was 'n wewenaar, en elke Sondag gaan hy gereeld kerk-toe. Terwyl die predikant die tien gebooie lees, maak hy allerlei aanmerkings in sy gedagtes, maar skielik sien hy Annie Smeer onderwyl die predikant die agste gebod lees: | |
[pagina 285]
| |
‘“Jy moet ni steel ni,” - sê meneer
Daar kyk oom Fani fir Anni Smeer,
En trek syn oog so effe skeel
As of te sê, Jy het gesteel;
Tog is jou sonde ni so swart ni
Dit is niks meer ni as my hart ni!’
Die predikant preek oor die misbruik van drank, en dan val Oom Fani Brink in slaap en droom dat hy met Annie Smeer voor die preekstoel staan. Op die bruilof was daar volop drank: ‘“Drink, Kerels, drink! En wens my nog
Goeie Rys! Dit is myn laaste tog!
Di laaste maal wat jul oom Faan
Di huweliks-botji siin ingaan;
Toe, Kerels! di gesondhyd weer
Fan myn klyn froutji Anni Smeer!!”
Dit sê hy net so hard hy kan;
Di hele Kerk di dreun daarfan...’
Al die mense kyk verwonderd na hom, en dan begryp Oom Fani wat gebeur het: ‘En Anni Smeer - ô eewig spyt!
Di is hy nou fir altyd kwyt.’
Ook die redakteur van Ons Klyntji was hoogs in sy skik met hierdie gediggie: ‘Di Nefi het anleg,’ sê hy, ‘en moet meer gedigte stuur asseblief.’
J.v.W. se grappies wat hy met sy vriend aangevang het, volgens sy vertelling Neef Frans en di Kraai (Sept. 1897), is souteloos. Klugtig is die ervarings van Klaas in Di Andeelhouers (Julie 1898) deur Hermingard. Klaas het 'n aandeel in 'n koei geneem, maar na die saak beklink is, moes hy ontdek dat hy die voorste helfte gekry het. Die ander aandeelhouer kry die melk, en Klaas moet die voorste deel voer gee. Sy deel beseer die ander aandeelhouer en hy moet skadevergoeding betaal: | |
[pagina 286]
| |
‘Klaas moes fyftig pond opdok,
Was daardeur ferlos,
Fan di koeiandeel en - Piit,
Mar dit 't geld gekos.’
'n Ongenoemde het in Klaas Geswint (Aug. 1898) 'n dergelike gedig van pres. Reitz op 'n afstand nagevolg. Dit is egter nie net 'n Hottentot wat van plesier hou nie, want in Ons Nuwejaar (April 1899) klae Willem Leonard, van Heilbron dat die jongmense baie swaar kry: ‘Di ou mense di is so froom,
En hou ons jonges in di toom...
Fans-lewe nog toen hul jonk was,
Toen dans hul op 'n stywe pas.’
Maar die jongspan het genoeg pret gehad daardie Nuwejaar, want die lewe is maar kort, sê die digter: ‘As ons daar in di graf dan lê,
Dan kan ons nageslagte sê:
Daar leg hy in di dipe gat,
Mar tog hy het plesier gehad.’
| |
2. Temas.(a) Taal.Die Afrikaners het nou nie meer so vurig gestry vir hulle taal nie - dit bewys die afwesigheid van die vlammende gedigte in Ons Klyntji, waarvan so baie gedurende die eerste jare in die Patriot verskyn het. P.P. Spies het 'n gemoedelike rympie gemaak op Ons Afrikaanse Taal (Des. 1897), waarin hy op 'n selfgenoegsame wyse uitwei oor die ‘deugde’ van Afrikaans: ‘Want Afrikaans is plat en rond,
En groei mos goed op yge grond.’
Ook A. Kruger het seker by niemand bewondering opgewek vir Afrikaans nie, want met sy naïewe gerym oor Di Afrikaanse Taal (Maart 1898) het hy eerder die vyand 'n stok in die hand gegee: | |
[pagina 287]
| |
‘Afrikaans in ons hart,
Dit gé ons gen smart;
Afrikaans fan ons jeug,
Dit gé ons mos vreug.’
Die redakteur het maar ongeveer alles geplaas wat sy lesers gestuur het! Dit verleen toevallig ook 'n sydelingse blik op die agteruitgang van die Beweging teen die einde van die neëntiende eeu. Hierdie agteruitgang val beide wat hoeveelheid en gehalte betref, sterk op. Die lewewekkende gees, die strydvaardigheid vir die nasionale goedere, is weg, en daarom mis hierdie poginge alle besieling en ontroering, wat, hoewel swak in die Patriot, tog aanwesig was. | |
(b) Nasionaliteit.Dit was die beleid van Ons Klyntji om politiek uit sy kolomme te weer, maar dit was tog nie altyd moontlik nie. Die Jameson-inval is in twee gedigte sterk veroordeel deur C.P. Hoogenhout en Volbloed Afrikaner. Laasgenoemde is bitter sarkasties in sy gedig Di Infal fan Jameson en syn Rowersbende (April 1896) en spottend gesels hy met ‘Jiem syn Seun,’ wat so'n dwase ding gedoen het: ‘As pilledraaier 's jy geleer, mar ni as krygsman, né;
En kyk, daar deuskant Judasburg is kommandant Cronje!
Jy trek van Pitsan spog-spog fort, tot net by Doringkop,
En daar word jy deur Tagtig man mooi in jou vaart gestop.
Jy breng met jou 'n grote mag en maxims oek nog mé,
Dit alles baat mar wynig, Jiems! teen rifles van Cronjé.’
Verwytend herinner die digter ‘Jiem syn Seun’ daaraan: ‘Jy wou met Phillips en syn Jacks Transvaal mos kom regeer!
Di oproer en di knoeiery werd met di tronk vereer!’
Die gebeurtenisse neem hy weer in oënskou, en raai ‘Jiem syn Seun’ aan om Oom Paul maar die land te laat regeer. Deur sy vurige verontwaardiging is Volbloed Afrikaner heel oorspronklik in sy bytende spot. Sy verse het 'n gladde, deinende maat. Daar is gang in die verhaal; vol afwisseling volg die gebeurtenisse mekaar op. Besonder fyn is die spot waar | |
[pagina 288]
| |
Cronjé die Engelsman (die ‘pilledraaier’) met ‘rifles,’ dus van Britse fabrikaat, oorwin.
Hierdie flinke gedig doen gladnie onder vir die beste historiese poësie uit die nasionale periode van die Patriot nie. Hoe ver Ons Klyntji van die ou paaie afgedwaal het, bewys die feit dat op die Taalkongres van 1897 sommige afgevaardigdes beswaar teen hierdie gedig geopper het. Tog kan dié soort gedigte moeilik geweer word, want die meesbewoë tydperk in die Afrikaner se geskiedenis het met Jameson se inval begin. Die lug was swanger aan gebeurtenisse en baie persone het reeds die Tweede Vryheidsoorlog in die verskiet gesien. So waarsku O.F. Lengenhager van Groenvallei, Bethlehem, in sy gedig Eendrag maak Mag (Maart 1897) die Vrystaters om saam te staan: ‘Want hy (Engelsman) loer lank al na Transvaal,
Om tog di goud te kry;
En as hy eers di Vaalpens het,
Dan is ons tyd verby.
Dan sluk hy oek di Vrystaat in,
Of ons nou wil of keer;
En ons sal op ons oue dag
Dan engels nog moet leer.’
Die onbeholpenheid in uitdrukking en die rykdom aan stoplappe moet ons verklaar uit die feit dat die digter geen gebore Afrikaner is nie. Hy skryf aan die redakteur: ‘Bygaande gedig indien bruikbaar, geliwe te publiseer, na dit te korriseer. In di beoordeeling daarfan geliwe in anmerking te neem, dat ek uit Switserland afkomstig is en in '86 na Afrika komende gen woord Hollans of Afrikaans kon spreek ni. Di bitji wat ek nou ken, het ek uit myn eige geleer sonder enige boek of taalkunde. Myn hart is egter goed Afrikaans, en ek hoop myn kinders as ware Afrikaners op te foede.’
J.V. spreek dit in sy gedig Suid Afrika (Okt. 1897) as sy oortuiging uit, dat die Engelse graag ons land wil hê, omdat dit so mooi en ryk is. Jameson het alreeds probeer om Transvaal met lis te verower. | |
[pagina 289]
| |
‘Mar kom di Jingo rowerrot
Weer om ons te ferslaan,
So smeek ons nederig tot God
Om an ons sy te staan.’
Eindelik het die Tweede Vryheidsoorlog dan losgebreek. Die redakteur wou geen gedigte plaas wat uiting gee aan die haat vir die vyand nie, en daarom is die oorlogsgedigte in Ons Klyntji heel gematigd. Ná die oorlogsverklaring verskyn daar 'n paar sentimentele afskeidsliedere, vol weemoed en trane. In haar Oorlogsliid (Okt. 1899) ween J.B.F. saam met twee geliefdes wat mekaar vaarwel toeroep. Pateties is die klag van Di Sterwende Wees op di Slagfeld (Nov. 1899): ‘Moederliif, ek sterf tefrede:
Mar myn hart breek net o'er jou,
En sterwend is myn laaste bede:
“Ag, wi sorg fer Moeder nou?’
Hartroerend, hoewel ietwat sentimenteel, is die Faarwel (Des. 1899) van 'n jong Kolonis by sy vertrek na die oorlog, aan 'n Transvaalse meisie om wie hy 'n Transvaalse burger geword het. Die lied is op musiek geset en kan gesing word op die wysie van ‘Ah! che la Morte’ uit Verdi se opera: II Trovatore: ‘Ek gaan nou na di oorlog, en keer fandaar nooit weer,
Faarwel fer altoos; faarwel fer di laaste keer.
Faarwel, faarwel, faarwel, Mari! Vergeet my ni!
Ontfang myn groete nou fer die laaste keer.
Faarwel, faarwel, faarwel Mari, Fergeet my ni!
Fergeet my ni!’
'n Ongenoemde het 'n Gebed om Frede (Febr. 1900) gedig op die wysie van Nader Thuis in Sankey se Kinderharp. Hierdie gedig munt uit in sangerigheid, en die gebedstoon is heel goed getref. Di Ontset fan Mafeking (Mei 1900) het tot baie ontevredenheid aanleiding gegee, want in hierdie gedig word die Engelse as verlossers gehuldig en die Boere as die verdrukkers voorgehou. Die doel van die gedig was eintlik om die ellende | |
[pagina 290]
| |
in 'n vrouelaer te toon: 'n moeder sit daar met haar uitgeteerde kindjie wat tevergeefs om verligting smeek; langs haar lê haar man gewond. Die toon van die eerste verse is week, om in die slotvers tot uitbundige vreugde oor te slaan.
Helde uit die oorlog is besing, soos 'n Dappere Generaal (Junie 1903) bewys. Die gedig het betrekking op De Villebois, die Fransman wat naby Boshof gesneuwel het. Die digter bring op 'n paslike wyse hulde aan De Villebois, wat nie net geld vir die Boere en hulle saak gegee het nie, maar selfs sy lewe: ‘Jou heldemoed, o Villebois,
Het ons in stryd, ge'eer;
Mar by jou heldegraf gekniil,
Fereer ons jou feul meer.
Di graf sal immer hiir getuig:
“Hy stierf gelyk 'n held!
Fer onse vryheid en ons folk
Rus hy hiir in ons feld.’
Hierdie gevoelvolle gedig is onderteken deur G.F. Dannhauser, maar in die uitgawe van Augustus 1903 klae die redakteur: ‘Dit word tot myn kennis gebrag dat di gedig o'er Generaal Villebois, wat ek laas gepubliseer het, 'n nafolging is fan 'n gedig gemaak deur o'erlede Mnr Charlie Kestell kort na di dood fan Villebois en in di Express gepubliseer was; maar di insender an mij het di bron ni erken ni, soos al meer gedoen is. Dit spyt mij...’
Iemand het op Ceylon 'n paar maande voor die vrede gesluit is, 'n gawe gedig gemaak ter ere van Krisjan de Wet (Jan. 1904). Dit is gestel in die vorm van vraag en antwoord, om daardeur die heldedade van Generaal De Wet te roem. Die digter is gladnie oordrewe in sy bewondering nie, maar opreg. Dit sou 'n heerlike lied gewees het om op kommando te sing, want dit besit 'n marsritme, en die basstemme kan telkens die slotreël herhaal: ‘Dis Kristian de Wet; dis Kristian de Wet.’ | |
[pagina 291]
| |
‘Wi noem jy wel 'n flinke fent? - De Wet.
By Boer en Engelsman bekend? - De Wet.
Wi het Jan Boel so faak ferras,
Syn tryn en manne angetas?
Dis Kristian de Wet; dis Kristian de Wet.’
Die redakteur was egter nie tevrede met hierdie gedig nie: ‘Ek moet weer ferklaar dat ek bostaande liid opneem as 'n gedenkstuk fan di oorlog en omdat dit enige digterlike waarde het; mar ni om di oorlogsfuur gaande te hou ni. Ek wil egter duidelik laat ferstaan dat ek ni sal fortgaan met sulke gedigte op te neem ni want anders frees ek sal di ander kant fer hulle ook wil laat hoor.’ In sy beste oomblikke is J.F. Kastein 'n ware digter met 'n mooi siening en segging. Maar dan kom weer die moerasse vol rymelary, stoplappe en alledaagsheid. Sy ondervindings op sy Rys as Krygsgefangene (Sept. 1903) vanaf Durban na Trichinopoly in Voor-Indië, van 15 Mei tot 4 Junie 1901, is realisties vertel. Op 'n heel eenvoudige wyse slaag hy daarin om sy gevoelens te vertolk, om ons te laat deel in sy afskeidsmart: ‘Di dag verdwyn, di son daal neer,
Di ankers word gelig ...
Reeds wyk di kus, 'n bang gefoel
O'ermeester iders hart;
En selfs op dek, in druk gewoel,
Gefoel elkeen sy smart,
“Faarwel, o alte diirbre strand,
Waaran myn bloed nog hang!
Faarwel, jy diep vernederd land,
Waarna myn siil ferlang!
Faarwel, geliifde frou en kinders!
Faarwel fer onbepaalde tyd!’
Na veertien dae kom hulle in Ceylon aan en digterlik word hy by die aanblik van die eiland - hy gebruik selfs 'n beeld, al is hierdie beeld retories: ‘Heerlik mooi ferhef sig d'yland,
Soos 'n pêrel der natuur,
Deur di wester son geblaker
In di late middaguur.’
| |
[pagina 292]
| |
Hier stap 'n honderd van die krygsgevangenes aan wal, en die ander stoom verder na die stad Madras. Kastein het 'n sin vir humor; kyk hoe kostelik beskryf hy nie die ‘verwelkoming’ nie: ‘“Boers! - The Boers are coming!”
Al wat leef is op di been:
Lydiis, gentlemen en koeliis,
Almal skaar sig om ons heen,
Seer nuwsgirig, fol ferbasing,
Kyk elkeen syn oge uit;
Want di Boere is mos monsters,
En hul woede thans gestuit.’
P.J. Terblanche beskryf ook sy ondervindings in Di Serys en di Diyatalawa Kamp (Nov. 1903), maar vergeleke by die vorige gedig, is syne 'n minderwaardige rympie met die verstand aanmekaar geknutsel. Fer Fryhyd en Reg (April 1904) deur 'n ongenoemde, styg enigsins bo die alledaagse uit deur 'n digterlike segging en verhewe gevoel; manlik kyk hy die noodlot in die oë, want ten spyte van die treurmare's, weet hy dat sy volk veg ‘fer fryhyd en reg.’ ‘Ons hys dus di faandels, ter eere gewyd
An d'lewe der helde gefeld in di stryd;
Hul stry mos en ly mos en ge mos hul bloed;
Bestorm mos die sterkte des fyands met moed;
Di stryd is des Heeren, di sege gewis,
Al werd oek di lot fan so fele beslis;
Ons droog dus di trane, na ider gefeg,
En seg: “Hul 's gefalle
Fer fryheid en reg!’
W.M. Leonard van Frankfort neem dieselfde tema vir sy gedig Gesneuwel fer Reg (Junie 1904), en hoewel daar 'n tikkie sentimentaliteit is, gee hy tog 'n getroue opsomming van almal wat ‘fer reg’ gesneuwel het: ‘Hoe is tog ons helde in grote getal
Op Afrika's gronde fer fryhyd gefal!’
| |
[pagina 293]
| |
'n Laaste oorlogsgedig in Ons Klyntji het verskyn in die uitgawe van Oktober 1905: Die Rid van 'n ‘Lafaard’ deur D.P. du Toit (‘Oom Dawie’). Hoewel die rym dikwels die gedagte bepaal, kry ons in hierdie lang vertelling af-en-toe 'n glansplekkie, 'n mooi versreël of 'n beeld. Die digter werk op na 'n klimaks en so dramaties is die geskiedenis verhaal, dat ons die gebeurtenisse met spanning volg. Du Toit slaag daarin om die siel van die ‘lafaard’ aan ons bloot te lê, want in werklikheid was Nielen du Plessis geen lafaard nie! Hy jaag onder 'n koeëlreën in om 'n belangrike boodskap aan Generaal De la Rey te bring, en word dodelik getref: ‘Die “Lafaard” deed syn plig, getrouw tot in di dood;
En het ver Vrijheid en fer Reg,
Sijn jeugdig lewe daar verpand;
Ook ver sijn Volk en Vaderland!’
As ons nou die oorlogspoësie van Ons Klyntji vergelyk met die van die Tweede Beweging, dan merk ons dadelik, behoudens enkele uitsonderinge, die verskil tussen rymelary en kuns. Maar sommige van Ons Klyntji se oorlogsgedigte toon tog dat daar tussen die jare 1896 en 1906 'n duidelike oorgang is van rymelary tot kuns. | |
(c) Godsdiens.Net soos in die geval van die Patriot, het die stigtelike gedigte in Ons Klyntji weinig letterkundige waarde. Die digters is nie waaragtig ontroerd nie, en die vooropgestelde tendens is tog te deursigtig. Met die verstand soek die ‘digter’ die nodige rymwoorde om die inhoud van die vers daarvolgens te skik. Nêrens is daar enige frisheid nie. So het S.A. du Toit baie te sê na aanleiding van Di Swaweltjiis (Des. 1896) wat 'n nessie in die skoolkamer gebou het. ‘Di klyne Swaluws hiir so ryn
Gé ons 'n voorbeeld groot.’
Ons moet naamlik saamwerk en nooit rusie maak nie! O.V.G.S. het dit as sy roeping beskou om aan die lesers van Ons Klyntji op rym stigtelike lessies te leer. As 'n tipiese voorbeeld kan ons neem sy Ses Raadgewings (Aug. 1899), | |
[pagina 294]
| |
waarin hy hulle aanmaan om nuttig, nederig, tevrede, spaarsaam, eerlik en eerbiedig te wees: ‘Daar's myn rympi nou myn frinde,
Handel nou mar net daarna,
Ek's tefréde as dit tog mar,
Skoon slegs wynig frug gaan dra.’
Die mooiste godsdienstige gedig in Ons Klyntji is sonder twyfel Engel fan Frede (Junie 1900). Bekoorlik is die gewyde toon en stemming, die egtheid van 'n siel wat om vrede bid: ‘Engel fan Frede; eens gedaald met spoed
In Bethlems feld met snelle faart,
Wil nog eens nederdaal
Uw liid herhaal,
Herhaal di sagte fredegroet;
Rys Fredester, weldra
Bestraal Suid Afrika!
Besoek ons land,
Fredesgesant.’
Die orige godsdienstige en stigtelike gedigte kan ons buite beskouing laat, omdat hulle flou is. | |
(d) Liefde en Verliefderigheid.Die grootste aantal gedigte in Ons Klyntji staan in verband met die liefde. Daar is egter weinig suiwer minneliedere, en onder hierdie minneliedere weer weinig wat ons deur egtheid van gevoel ontroer. 'n Groot aantal van die liefdesgedigte vertel komieklike vrystories of gee 'n beskrywing van 'n bruilof en die ‘sheep skin’ -dans wat daarop gevolg het. | |
(i) Minneliedjies.Die beste minneliedjies vind ons in die eerste jaargange van Ons Klyntji. Gevoelvol en innig roep J. Blomerus van Napier sy ontrou-geworde meisie 'n laaste Faarwel! (Febr. 1897) toe. Sy ontroerde gemoed bring ons onder die indruk van sy liefdesmart, en digterlik word hy as hy haar met die blomme vergelyk: | |
[pagina 295]
| |
‘Jy was gelyk 'n rosi
Wat haas moet ope gaan;
Jy was gelyk 'n leli,
Wat tussen dorings staan.’
Hy probeer berus en grootmoedig wees, en wens haar 'n gelukkige toekoms toe, maar in sy siel brand die afskeidspyn: ‘Di woord “faarwel” is pynlik,
Di skyding self nog meer.
Faarwel, myn seer geliifde!
Faarwel, ek klaag ni meer.’
Net soos in die geval van Hendrik en Wilhelmina (Sept. 1899) moes die redakteur ook dokter aan die Minnelidere (Febr. 1900) van J.J.L. en J. Hsn. Sommige was ‘bo (s)yn fuurmaakplek,’ en tog is An myn Teerbeminde een van die mooiste minneliedere wat in Ons Klyntji verskyn het. Verliefderig en teer word die beminde aangespreek in die maanligstemming: ‘Kyk hoe liiflik skyn di maan daar
Deur di wolkiis in di nag;
Kyk hoe frindlik blink di sterre,
Nes hul toestem met 'n lag.
Niemand luister as die blomme;
Kyk hoe loer hul, skelm en skaam;
Dit is of hul saggiis toeknik,
Liifste, as ek noem jou naam.’
Rikkerf van Dordrecht is baie menslik en doen die gewone beloftes aan sy geliefde toe hy haar gevra het om haar hand in sy Minneliid (Julie 1901). Plegtig verseker hy haar: ‘Eeuig sal ek u beminne,
Dit beloof ek thans foor God;
Na gen ander streef myn sinne
In jou liifde rus myn lot.’
Verder noem ons onder hierdie rubriek 'n eenvoudige, maar innige en bekoorlike liedjie: Uitnodiging ter Bruilof (Sept. 1904): | |
[pagina 296]
| |
‘Mag ek jou ferwagte
Op myn bruilofsdag?
Laat my frindlik wete
Of 'k jou wagte mag?’
Hoewel die minneliedere verreweg die meeste in aantal is, is hier meer kaf as koring, en wat die res betref, kan ons volstaan met net 'n paar verwysinge. Die doelbewuste soeke na rymwoorde versteur die stemming van die Klaagliid (Maart 1897) van 'n meisie in haar liefde verlaat. Op stereotipe wyse bieg E.C. Dry sy liefde An myn Liwe Jakoba (Junie 1897). Sentimenteel en melodramaties is F. Neser se verhaal van Di Treurende Minnares (Julie 1897). A. van Wyk van Kenhardt is uitgelate van vreugde, immers ‘Ons land is mooi, ons land is groen,
Di jonkmans lag, di noiens soen.’ (Mei 1898).
Die swaar tye is nou verby, en die jonkmans soek weer vrouens. Langs die Grootrivier is op één dag nege pare getroud, sê hy. Om twee voorbeelde van banale rymelary te gee, noem ons eers J.R. se Treurende Minnaar (Nov. 1900): ‘“Ons Klyntji,” - Ek sit nou te treur
Net soos 'n klipsamander,
Want Minni's fan myn hart geskeur
Deur kwaadpraat fan 'n ander.’
Nou volg nog twee verse uit John G. Roos se Die Kreupel Fryer (Sept. 1897): ‘Frinde, kom, en hoor hiir aan
Hoe dit het met my gegaan.
Kerels, jul moet my betreur
Hoor wat met my is gebeur...
Ek was regte angedaan,
Toen ek haar fan my siin gaan.
Di dag sal ek nooit fergeet,
Al word 'k witter as 'n beet.’
| |
[pagina 297]
| |
(ii) Vrystories.Ons eerste skrywers het 'n menigte vrystories in prosa vertel, maar baie van die lesers het hierdie stories berym, en dit is gewoonlik 'n grappige verhaal oor hoe die vryer gepier is. Hy was altyd 'n plaasseun. J.L. geniet dit om ons in te lig oor Hoe Neef Tys in syn Jong Dae gevry het (Jan. 1898). ‘'n Mansmens kry di nuk fan fry,
Net soos hy goed 'n perd kan ry,
'n Froumens kry dit oek mar gou,
Ja foor sy nog 'n huis kan hou.’
So het dit met Tys gegaan: hy was nog nie behoorlik droog agter sy ore nie, toe gaan hy een aand vir Sanni kuier. Langs die pad het hy egter 'n ongeluk gehad, en loop boonop nog 'n bloutjie by die nooi. Goliat steek weer die draak met Neef Zakki in Kalwerliifde (Julie 1900): ‘Neef Zakki was nog feuls te jonk
Om reeds as fry'erman te pronk,
Mar tog wil hy na Lammi fry
Waar hy dan dikwils na toe ry.’
Die twee was net danig met mekaar en noem mekaar reeds ‘man’ en ‘vrou.’ Sewe jaar later is Lammi aangeneem, maar toe Zakki weer vir haar gaan kuier, merk hy onraad: ‘Daar kry hy toen fer Sampi ook,
Wat met oom Diki saam sit rook.’
Stilletjies het Zakki maar weer weggesluip, verleë en asvaal. D.J. Fouche en J.D. du Plessis klae in Di Ohrigstad Mysiis (Sept. 1904) dat die Kakies gedurig van die meisies omkonkel, en altyd moet die Boere maar verder wyk. Hulle is bly dat hulle nou na Rosenkrans kan gaan, want daar is die vyand nog nie. Fyn is die siening van die nooiens wat nou in gelid loop: | |
[pagina 298]
| |
‘Di noointjiis fan wyk Ohrigstad,
Hul loop met seksiis in di pad.
Hul rokkiis is so op 'n plooi
Dit is fer ons tog alte mooi.’
| |
(iii) Bruilof.In aansluiting by hierdie vrystories kry ons die gedigte waarin van een of ander bruilof vertel word. Een van die kostelikste bruilofsfeeste is Op Hartebeesfontyn (Nov. 1898) gevier, en Pikkedel is 'n meester in die geestige beskrywingskuns. Plat-boertig maar skilderagtig en vol beweging is sy voorstelling: ‘Was jy ooit by 'n “sheepskin” dans?’ vra hy. Indien nie, dan sal hy van een vertel. Jors Vlek, Rooi Waldek en hy het na Hartebeesfontein gery, en dadelik moes hulle die gesondheid drink. Oom Faan het soos 'n perd gedrink en jy kon hom naderhand met 'n veer omslaan. Toe begin die ‘sheepskin’ -dans: ‘Di miirshoop floer was glad geskuur,
'n Fetkers brand daar teun di muur, op Hartebeesfontyn.
Klyn Tjaart se Tjaart speul dat dit gons
Wals, Riil, Sattees en Kotiljons, op Hartebeesfontyn.
Ons dans toen dat di stof so staan;
Rooinip loop los foor in di baan, op Hartebeesfontyn.’
Tjaart laat die ‘kerskas kraak’ en hy hou aan op ‘'n honde-draf’ - ‘'n Wa-wiil hiir, 'n koes-koes daar,
Ons slin'r di mysiis hot en haar, op Hartebeesfontyn.’
Rooinip lei nog steeds en ‘sif fer Fieta dat dit wip,’ terwyl die bruidegom al swel van woede oor die bruid se uitspatlikheid met Rooinip. Skielik word die kers doodgeblaas en Rooinip soen vir Fieta ‘dat dit so klap.’ Maar die bruidegom het stormgeloop en vir Rooinip driemaal platgeslaan. Haastig het die klomp weggevlug, en ‘Foor jy kon sê “knipmes” was ons,
Fêr weg fan di takhaar gegons op Hartebeesfontyn.’
| |
[pagina 299]
| |
‘Di Swits’ is 'n langdraderige en omslagtige, maar tog nie onaardige verteller nie en kan die atmosfeer van die boerelewe treffend suggereer. Hy spot fyntjies met homself in Di Twefontynse Bruilof (Mei 1899), en doen noukeurig verslag van alles wat daar by dié geleentheid plaasgevind het. Min digters kon so vlot rym soos ‘di Swits.’ Halfpad het hulle die bruidegom en bruid gaan ontmoet, en ai, maar so'n koetsier kon swierige Kaapse draaie maak. Maar die heerlikste was die feesmaaltyd - ‘Di meeste eet di Swits.’ Op waardige wyse het hy die jong paartjie gelukgewens: ‘Dat hul steeds getrou moet wees,
Ni steun op yge krag;
Want ons is tog mar al di tyd
'n Hulpeloos geslag.’
Die vrolikheid het egter gou losgebars toe die ‘akkorjon steun,’ en hulle het gedans van Dinsdagmiddag tot Woensdag met hoenderkraai. ‘Di Swits het oek syn bes gedoen,
Hoewel hy min ferstaat;
Mar hy moes mees allénig draai,
Hy kry mar min 'n maat.’
Daar het nog 'n paar verslae van bruilofsfeeste in Ons Klyntji verskyn, maar almal vertel ongeveer dieselfde storie, en geeneen haal by die Hartebeesfonteinse bruilof nie. | |
(iv) Gemengd.Onder die liefdesgedigte van gemengde inhoud, is daar die gebruiklike waarskuwingsgedigte. J.J.H. rig bv. 'n ernstige Waarskuwing an Mysiis (Nov. 1897), maar hy behoort vooraf te weet dat sy raad nie opgevolg sal word nie: ‘Mysiis, pas fer fryers op!
Steek jul nek ni in di strop!
Word di strop eers fasgeruk,
Klaar is fryhyd en geluk.’
| |
[pagina 300]
| |
Hy gee hulle voorwaar nie 'n rooskleurige beskrywing van die getroude lewe nie: hulle moet gedurig potte skuur en klere lap, terwyl die man rondflenter. ‘Skaars een tawwert in die jaar
Kry jy, skoene oek net een paar.’
Ou Kluit hef ook 'n Klaagliid fan di Jonkmans (Aug. 1897) aan, en hoewel sy gedig weinig aantrekliks besit, tref ou Kluit ons deur die beeldspraak aan die veld ontleen: ‘Met ons gaan dit tog al te swaar
Ons is al uitgeteer en ma'er.
“Franki” lyk nes 'n faal korhaan,
Wat na di ou kant toe gaan.’
Johnni se gesig is weer so vol plooie soos die van 'n mofram, terwyl Egbert se mond skeef getrek is: ‘Dit is fan al di Engels praat
Wat syn mond nou so skeef staat.
Dit lyk nes 'n slagyster, wat
O'ermekaar slaan foor in di gat.’
Hulle het dan heeltemal bedorwe geraak op die Engelse skole sodat hulle net wou Engels praat toe hulle weer op die plase kom; vir plaaswerk was hulle handjies glad te fyn. Met die plaasnooiens wou hulle ook niks te doen hê nie. En wat is nou die gevolg? ‘Nou ja, ons kan ni frouens kry,
Al gaan ons oek 'n maand lank fry...
Ons foel nou nes 'n ysterfark
In helderdag daar op die mark.’
Die meisies het hulle ook nie onbetuigd gelaat nie, bv. in Klaagliid fan di Mysiis (Junie 1897). Elders het ons reeds 'n gedig van A.G. Visser bespreek: Oom Fani Brink. Tipies van Visser is ook die gesprek oor 'n Saak het twe kante, of Samespraak tussen Jan Angeneem en Klaas Afgese, o'er Sarie Takhaar (Des. 1896). Jan noem al haar goeie eienskappe op, maar Klaas betwis dit elke keer, en is lank nie mild in sy opmerkings nie. | |
[pagina 301]
| |
‘Jan: -
Sy het 'n fraaie neusi,
So fraai as mar kan kom.
Klaas: -
Ek moet jul sê dis daarom
'n Bitji baing krom ...
Jan: -
En dan sy 't mooie handjiis,
Ja wonder skoon en fraai.
Klaas: -
Dis jammer dat hul skurf is,
Soos pote van 'n kraai.’
Die Eerste Fersoek fan Japi an syn Frou deur Visser (Julie 1897) verdien om in sy geheel hier afgeskryf te word: ‘Kom hiir, myn siilsbeminde!
Kom sit hiir op myn kni;
Ek wil fir jou iits frage,
Mar né sê moet jy ni.
Jy weet ek min jou hartlik,
Ek wil fir jou iits frage,
Dus, doen fir my 'n iitsi,
Ek fra dit assebliif.
Daar laat sig niks bedenke
Wat 'k ni fir jou sal doen,
Jy weet dit mos, ou hartji,
Kom gé my eers 'n soen;
En leg jou sagte handji
In myne hiir. En dan -
Gaan haal 'n naald en gare
En werk my broeksknoop an.’
| |
(e) Klagtes.Anders as wat dit die geval was met die gedigte in die Patriot, tref ons in Ons Klyntji 'n hele reeks jeremiades aan, en sommige erg tranerig. Die grootste sondebokke was die boere, want sodra die droogte, sprinkane of runderpes te straf word, dan hef hulle 'n selfsugtige, prosaïese klaaglied aan. Is die plae verby, dan swyg hulle; aan hulle vreugde in tye van voorspoed gee hulle nie uiting nie. Hierdie donker geweeklag | |
[pagina 302]
| |
het selde uitgestyg tot iets meer as rymelary, soos J.S. bewys met sy vermaning: Ferneder jou onder Gods hand (Julie 1896): ‘Ja, Afrika, jy mag wel buk!
Di hand is swaar, wat op jou druk
O'er alles wat hier is gebeur,
Mog wel ons folk hul harte skeur.’
'n Ongenoemde wil in Afrika's Klagte (Sept. 1896) van God weet waarom ons land die stiefkind is en gedurig met plae besoek word: ‘Dorre flaktes, waar di oog mog stare;
Niks as dorre gras en bos en steen,
Waarom is ek as met vloek belade?
Alle lande ging rondom my heen.’
Ds Du Toit het die klaer op die keersy van die penning gewys en Afrika geroem as die heerlikste land ter wêreld: ‘Waar op aard is nog di lug so helder,
En gesond as in jul suider-oord?
Vrugbre wingerd ful fol wyn jul kelder.
Kyk hoe hang di vrugte an julle boord.’
S. van Postmasburg som al die ellende op wat veroorsaak is deur Runderpes Kwarentyn (Febr. 1897), net soos 'n ongenoemde in Landsplage (Nov. 1897), terwyl S. Venter weer die lot betreur van Di Arme Grenswagter (Jan. 1898): ‘Ons lewe hiir is ruw en ros,
Met biltong, milipap fer kos.’
'n Minder donker stemming is vervat in die woorde wat ‘'n Leerling fan di Gedenkskool’ tot die klaers rig in 'n Opbeuring of Anmoediging (Maart 1898): ‘Liwe Frinde, landgenote!
Dit is swaar om mens te wees,
En dat jul di moed sal opgé;
Dit is al wat ek foor frees.’
| |
[pagina 303]
| |
(f) Allerlei.Hieronder wil ons nog twee temas tuisbring: die kleurlinglewe en die natuur. P.d.T. het 'n oulike gediggie gemaak: Dronklitji fan 'n Masbiker (Nov. 1896), waarin hy op 'n komiese wyse die Masbiker laat vertel hoe hy te diep in die bottel gekyk het toe sy nooi hom na die strand gestuur het om vis te koop. Tipies is die taal, die herhalings en die gehakkel. Hy het in 'n kar vasgeloop, en wou saamry. ‘Ek hettekeloop ná myn nooi se huis,
En ek hette keval in myn nooi se kombuis.’
Sy straf het nie uitgebly nie: ‘Myn nooi hette kefat 'n tamaije osseriim,
Myn nooi hette keslaan soos ek nooit nie hetkesiin,
Myn nooi isse baing kwaai, myn nooi isse baing kwaai,
Myn nooi hy spook hard, hy maak grote lawaai.’
Die skoonheid van die natuur het ons eerste digters selde in ontroering gebring, en as dit nog by uitsondering gebeur, het hulle nie verder gekom as 'n banale opsomming van feite nie. So skryf A. Ackerman in sy Lente Liid (Sept. 1900): ‘Hoe liif rys di son foor ons op met syn strale
Hoe rykelik kleur hy dan berge en dale,
Di fo'eltjiis is lustig, en sing allemaal
Di lof fan hul Skepper in floeiende taal.’
In Herfs en Winter (Julie 1897) bring F. Neser dit ook nie verder as 'n optekening van natuurverskynsels nie: ‘Di groene bome word nou geel,
Di skone blom knak reeds syn steel,
En droewig word nou di natuur,
Di koele windji word al guur.’
|
|