| |
| |
| |
Hoofstuk V.
Gedigte uit Die Patriot.
Die orige gedigte wat in die Patriot verskyn het, wil ons kortliks tematologies behandel, omdat ons hulle nie aan leidende persone kan vasknoop nie: hulle het meestal naamloos, of onder skuilname verskyn, of diegene wat ons wel by name ken, het gewoonlik net één gediggie geskryf. Hulle is ook egte volkskuns, maar met weinig verheffing. Soms word ons egter getref deur 'n frisheid van beeld of deur 'n lewendige gang, veral in die vertellinge en anekdotes.
| |
1. Vertellings en Anekdotes.
Grapperig, maar taamlik plat, is die vertelling van Die ou Predikant en Frits die Koster. Smaaklik word verhaal, maar met weinig respek vir sy amp, hoe 'n predikant die koster van die preekstoel afgeskop het. Die verhaal is kleurig en aanskoulik voorgestel:
‘Eens was daar 'n Eerwaarde heer,
Hy was nie al te slim geleer,
En dus gen man van groot verstand,
Syn ambag was 'n predikant’
Hy het daarvan gehou om laat te slaap, en een Sondagmôre het hy nooit die kerkklok hoor lui nie. Skielik skrik hy wakker, en raap en skraap soveel van sy klere as wat hy in die hande kon kry. Sy vrou wou hom nie kos gee nie, omdat dit al te laat was, maar ru snou hy haar toe:
‘Ag vrou, wees stil, en hou jou bek!
En praat nie as 'n malle gek.’
Maar daar volg die derde gelui, en hy spring weg kerk-toe met 'n stuk wors in sy sak.
| |
| |
‘'n Hond laat vat en volg syn spoor,
Om tog die saak eens uit te pluis,
Of hy dit is, of 'n buurmans huis,
Wat lekker worsreuk so versprei
('n Hond lat hom op ruik verlei)
Di hond syn neus hoog in di lug,
Loop om hom rond, heen en terug!’
Twee honde pak hom nou en verskeur sy klere om die wors by te kom. Uitasem en verflenterd kom hy die kerk ingewaai. Terwyl die gemeente sing wou die koster vir die predikant iets bring om te drink, maar die predikant het hom nie gesien nie, en dag dis weer die hond, en gee hom 'n verwoede skop.
‘Met kop omlaag en voet in lug,
So kom ons koster weer terug.’
Ten slotte spreek die digter die hoop uit dat die lesers tog wyser sal wees
‘Om tog nie meer so laat te slaap, -
Dink, an die grap met ons ou paap!’
Pitta Hauli het die Morre- en Aand-Rede (P., 13 Julie 1877) oorvertel van Wolf en sy vrou - nie diere nie, maar mense. Hulle is albei ontevrede oor hulle werk en besluit om dit om te ruil, maar met ongunstige afloop vir die man. Die les wat die digter ons wil leer, is: ‘'n Ider hou hom by syn roeping; en soek gen foute in 'n ander syn werk nie.’
Ongelyk van waarde, maar tog nie swak vertel, is die verhaal: Begeerlikheid Beloond. Die digter is wel taamlik omslagtig, sukkel om op koers te kom, en verloor kort-kort die draad van sy storie, hoewel hy ons aan die begin belowe het:
‘Kort en saaklik sal ek wees,
Op Engels ‘Short and Sweet.’
'n Koning het sy ring verloor en belowe toe 'n groot beloning vir die een wat dit optel.
‘In rep en roer was toen di stad,
En denk mar an di grote skat,
| |
| |
Eindelik kry 'n boer die ring, en toe bewerk 'n Jood dit so dat die boer hom die helfte van die beloning moes gee. Die twee wagte by die poorte wou hom geen toegang tot die paleis verleen nie, tensy hy aan elkeen 'n kwart van sy beloning afstaan. Op die koning se vraag wat hy die boer skuldig is, antwoord hy honderd houe met die kats!
‘En daarom geef, al is dit hard,
En di twe wagte elk 'n kwart,
Hul het daar brievies van...’
Dit gee die digter nou weer die geleentheid vir 'n prekie:
‘Begeer tog nooit 'n anders goed:
Duur, duur is soms di prys,
Lig kry jy suur in plaas van soet,
Hans die Leu'enaar (P., 18 Mei 1883) deur D.J.C. van die Gedenkskool is 'n lewendige en aanskoulike oorvertelling van die bekende geskiedenis van die seun wat ‘Wolf! Wolf!’ geskreeu het.
C.S.J. is die digter van die bekende gedig op Swart Jasper: 'n Merkwaardige Gebeurtenis (P., 1 Junie 1883), waarin op 'n komieklike wyse vertel word hoe Swart Jasper gaan vry het. Lewendig is die vertelling, vol afwisseling en so realisties dat ons Swart Jasper sien aangery kom op sy ryperd, ‘so vurig en heet.’ Die digter kan moeilik sy lag bedwing as hy ons vertel hoe Swart Jasper, skaars sestien jaar oud, hom ‘regmaak’ vir die kuiertjie. Katryn moet vir hom 'n stuk seep en 'n kom bring, en ook 'n klein stukkie vet om sy velskoene te smeer.
‘Mar kyk toen Swart Jasper syn kamer uit kom,
Toen staat al di volk en di meide verstom,’
só mooi was hy aangetrek!
Geestig vertel die digter nou hoe Swart Jasper deuskant die bult eers kyk of alles in orde is, en ou Dapper dan goed uitlooi met sy dubbelgevlegte karwats:
En toen hy di werf na oom Stoffel op ry,
Dans Dapper dan DI kant, dan DI kant syn sy.’
| |
| |
Toevallig het Jatji net in die deur gestaan, en hoe trots moes sy nie op so'n spoggerige vryer gewees het nie. Geen wonder dat hy somar dieselfde aand nog die jawoord kry nie!
Met klein veranderings (verbeterings) is dieselfde gedig oorgedruk in Ons Klyntji (Nov. 1897) onder die titel: Jasper en Jatji.
'n Ongenoemde het baie ruimte nodig vir 'n Lewensskets (P., 15 Aug. 1884) om te vertel hoe iemand 'n dronklap geword het, maar uiteindelik weer tot besinning gekom het. Wat wel waardeer moet word, is die meesterlike wyse waarop hy die sterkerwordende begeerte na drank suggereer - dis sielkundig juis.
Die soort verhaal waarvan die meeste Patriot-lesers gehou het, en by verskillende geleenthede seker smaaklik oorvertel het, is sulke ware anekdotes soos Di Speenvark Jag deur Y.Q. Dit is langademig en plat, en in die plek van die karikatuuragtige kom dikwels mooi realistiese trekkies, soos waar Neef Ari vlei-toe stap:
‘'n Sterloop op Skou'er, riim in di hand,
'n Pap hoed op één oor, met brede slap rand.’
In Ver Jong Mense het ‘'n Ander Jan wat Versies Maak’ vrolik vertel hoe Oom Japie deur sy vrou gekul is elke keer as hy van huis gaan. Die digter het die tipiese volksspraak opgevang en daardeur gee hy 'n kleurigheid aan sy verhaal wat die stempel van egtheid daarop druk. Ons vind hier treffenderwyse 'n poging om enigsins 'n aanduiding van die gemoedstoestand van Oom Japie te gee. Dit is eintlik iets nuuts. Tom was weer by Oom Japie se vrou, en wou net wegsluip toe hulle Oom Japie sien aankom, wat hulle reeds gewaar het:
‘Jaap skree: Pas op jou slegte man!
As ek ver jou in hande kry,
Dan vrek jy nes 'n bees by my!....
Hy raas, hy vloek, hy gaat te keer,
En neem partykeer syn geweer,
Hy wil, maar ne, hy kan oek niet,
Syn vrou daar nes 'n bok doodskiet.’
| |
| |
Op die kritieke moment kom daar kuiermense, en met die geselsery sak Oom Japie se bui.
Gouph No. 4 gee 'n verspotte relaas van die dronkemansvrolikheid wat gevolg het Na die Vandusie (P., 22 Aug. 1879) op die terugweg. Onderweg het hulle stilgehou en die bottel aangekyk. Oom Daantjie begin nou skielik na sy vrou verlang en dryf die perde aan: ‘Lat d'agtervoet die voorvoet vang.’
‘Neef Koos begin toen iets te sing,
Dit was 'n regte snaakse ding,
Ek kon toen net mar sekondeer,
Want 'k had die liedjie nie geleer.’
Halfpad span hulle weer uit, want Oom Daantjie sê: ‘Hier is nog lewe in die kan.’ Die vrolikheid neem toe en hy vertel hulle van ‘die nuw jellop’ met die passies ‘skuins agter makaar.’
‘En dan is daar die nuw solté
Die dans tant Betjie oek al nié.
Eers twe tré hot, dan twe tré haar,
En dan weer alles deurmakaar.’
Neef Koos skree Oom Daantjie moet dit vir hulle wys, en
‘Oom Daantjie spring toen ver die grap
So dat syn skoene somar klap....
Ek dink weer an myn jong gety
Toen ek nog na tant Betjie vry.’
Maar skielik slaan die ou neer met ‘'n knal’ en al die pret is op 'n end.
| |
2. Temas.
(a) Taal en patriot.
(i) Taal.
Toe die Afrikaners tot die ontdekking gekom het dat hulle ook 'n taal besit, was hulle vreugde uitbundig, en moes hulle aan dié vreugde uiting gee in die vorm van rympies.
'n Patriot rig 'n Oproeping (P., 15 April 1876) aan alle Afrikaners om voorwaarts te tree in die stryd vir hulle taal:
| |
| |
‘Ons Moedertaal dit moet ons kry,
Want God die Heer staat an ons sy;
Hy het ver ons die taal gegé,
Kom, Patriotte, werk nou mé!’
Kinderlik erken Stefanus du Plessis in sy Skool Lietji (P., 14 Okt. 1876):
‘Oompi, Oompi, dis daarom waar,
Sonder ons taal kom ons nie klaar;
Ons taal die moet nou o'eral wees,
Ons wil ons eie taal nou lees.’
Tannie, Nefie en Niggie, word op dieselfde manier aangespreek. Hy kan geen redes gee nie, maar weet darem: ‘sonder ons taal kom ons nie klaar.’ In 'n brief wat Stefanus du Plessis van Bitter Water, distrik Victoria-Wes, saam met die ‘liedjie’ gestuur het, vertel hy dat hy vir sy bekendes uit die Patriot voorgelees het. ‘Ek kan ver jou sê, dat ons almal regte bly is om te sien dat die taal so goed vorder... Die skoolkinders het soemaar begin te sing:
‘Oompie, Oompie, dis daarom waar...’
'n Ander persoon uit die distrik Victoria druk ook sy blydskap in 'n brief uit dat Afrikaans so vinnig vordering maak. Hy het nog net één teenstander gekry, en eindig met die versie: Ons is so bly (P., 15 Nov. 1876):
‘Ons is so bly, ons is so bly,
Ons sal ons eie taal nou kry;
Ons lees al nes ons praat.
Ons hoor partykeer nou al sê:
‘Ons laat die Engels nou mar lê,
Wat sal dit ons tog baat.’
'n Ongenoemde sing sy vreugde uit in Di Afrikaanse taal, want nou het ons niks meer nodig van Hollands of Engels nie:
‘Nou rym ons lekker, want nou kan
Gen Hollander of Engelsman
Ons met syn taal vermaak nie;
Ons Afrikaans klink net so mooi,
Lat hulle mar met woorde gooi,
Hul sal ons tog nie raak nie.’
| |
| |
Soos A.J. Herholdt verheerlik die digter Afrikaans bo alle tale. In die hitte van die stryd en in die vreugde oor die besitname van 'n eie taal, is die ophemeling te begrype.
Ten slotte word die Afrikaners aangespoor om ‘mar styf te hou,’
‘En werk verenig hand an hand
Ver Moedertaal en Vaderland,
Ons hoop sal nie beskame.’
Nog 'n ongenoemde vertel in Ons Skool:
J.R., 'n vrind van Oom Jan, beantwoord aan homself die vraag in Ontwaakte Diggees (P., 1 Aug. 1879) wat hom daartoe dryf om te rym, terwyl hy vroeër geen lus daartoe gevoel het nie:
‘U had gen lus om veul te lees,
Want dit moes goed Hollans wees;
Imand wat begaafdheid het
Op skool word net Hollands en Engels geleer, maar ons bly Afrikaans praat. Nou word die digter gevoelvoller, veral in sy versugting, en hy vra:
‘Wat maak al die tale hier?
'n Land werd met syn taal bestier;
Dis juis wat so'n land versier.
| |
| |
Hy kan nie begryp dat daar so baie mense is wat teen die Patriot is nie:
‘Elk is, die syn taal verag,
Maar die Patriot doen goeie werk!
'n Interessante groepie gedigte ontstaan nou in 1879 toe die eerste petisies ten gunste van Hollands aan die Parlement voorgelê is. Die saak is ook deur die Sinode van die Ned. Geref. Kerk ter sprake gebring op voorstel van ds A. Louw van Murraysburg. 'n Aantal predikante en ouderlinge het egter teen die resolusie geprotesteer, en nou skryf Afrikaander dat dit jammer sal wees as hulle name vergeet moet word. ‘Ofschoon ik nu juist niet roemen kan op veel dichterlijk talent,’ het hy tog besluit om dié name ‘in eenige dichtregelen’ aan die vergetelheid te ontruk.
Hy het 'n kostelike spotrympie op hulle gemaak: Verewigde Name (P., 14 Januarie 1881) en aan elke naam kon hy 'n passende opmerking vasknoop. bv.
‘OU SERVAAS staat bowe aan,
NEETHLING moes oek same gaan.
WILLIE STEGMANN staat bekend
As een anti-Hollands vent...
DE BEER van Zeepunt, o hoe gek!
Die het mar net 'n grote bek!
McGREGOR is en blyf 'n 'Mac,'
En BARRY, o myn tyd! hoe gek!
Dat hy oek met die klomp saam seil;
Syn vrou is tog 'n Van der Byl...
DE VOS, met skerpe neus en bek,
Het ook an dese lyn getrek...
Die Skotte, wat ons taal verkrag
Van die kan ons so iets verwag.’
Ten slotte versoek die digter sy lesers om die gedig op 'n prominente plek op te plak sodat almal kan sien watter predikante hulle skaam vir hulle taal,
‘Want wie syn moedertaal onteer,
Die wag gen segen van die Heer.’
| |
| |
Letterkundige waarde besit hierdie spotrympie nie, maar wel geskiedkundige waarde, veral as ons die opheldering lees wat C.P. Hoogenhout gee van die gedig in 'n brief van 4 Junie 1908.
Die digter was ds J. van Niekerk, ‘een Afrikaner van 't eerste water. Hy was destyds zelf in die Synode en bracht ons aan de Paarl dat gedicht. Hij was leeraar van Smithfield en raadde zijn gemeente aan om toch voor 't Afrikaans in te gaan, voor de Patriot in te teekenen en moedigde de kinderen van de gemeente (van den preekstoel af) aan om de Bijbelraadsels op te lossen en hy zou zelf ook eenige prijzen geven. Hij stierf aan de koorts, terwijl hij met zijn familie aan Somerset Strand was.’
Op 5 Junie 1908 vertel Hoogenhout weer in 'n brief die een en ander van ds E.Z. de Beer wat ook in die gedig Verewigde Name genoem word. ‘Tijdens de oprichting van de Patriot was hy leeraar (ik meen) te Dordrecht. Hij werd een der eerste agenten van de Patriot en geregeld verscheen in de agenten lijst de naam: ‘Predikant de Beer, agent.’ Toen hem dit door broeders in de H. bediening kwalijk genomen werd, was zijn antwoord: ‘Ik ben in de eerste plaats Afrikaner, in de tweede plaats predikant.’ Lang duurde het niet, of hij werd (meen ik) leeraar van Simonstad, en wat zijn houding toen was, hebt gij uit de namen van de Synode van 1881 gezien. Hij was ook in die dagen Redacteur van een Kerkblad, ‘De Christen’ geheeten, en dat 'n tydlang de plaats van de Kerkbode innam. De richting van dat blad is gegispt in het vers: ‘Engels, Engels, alles Engels,’ waarin onder andere gezegd wordt:
‘Maar die hooggeroemde CHRISTEN, blad voor Kerk en Maatskappy.
Had gen woortjie daarvoor ower; die alleen het stil gebly.’
‘Stil gebly’ over het bezoek van Pres. Kruger en Genl Piet Joubert bij 't Kaapsche Parlement om hulp, tijdens de Annexatie. Naar alle waarschijnlikheid stond hij toen onder de plak der Eng.-gezinde Murrays. Later verwisselde hy van standplaats en werd leeraar te Zeepunt en toen was zijn ‘hobby’ voorlezingen houden om te bewijzen, dat de Engel- | |
| |
schen de verloren tien stammen Israëls waren. Eerst in later jaren ging hij naar Barberton en vandaar naar Maritzburg en thans is hij Redakteur van de Vereeniging. Naar ik versta is hij nu op z'n ouden dag van al de dwalingen genezen en net zoo'n Afrikaner als in de dagen toen hij agent van de Patriot was. Ik verblijd me, als 't zoo is. Dit weet ik hij was (is?) 'n flinke redenaar en iemand die 'n scherpe pen voeren kan.’
Correspondent vertel op 'n spottende wyse in Die Memorie ver die Hollanse Taal (P., 8 Julie 1881) van watter flou ekskusies mense gebruik maak om nie die petisies te teken nie, wat in 1881 deur 'n kommissie van die Sinode van die Ned. Geref. Kerk opgestel is. Oom Jan het 'n halfuur lank gelees aan die petisie en toe het hy nog nie die moed gehad om te teken nie. Oom Stoffel wou weet wat die Patriot met die saak te doen het, en Oom Danie het weer sy bril nie by hom gehad nie. Correspondent het darem ook nie hulle handtekeninge nodig nie,
‘Mar wat sal ons tog langer lol,
Die lys is daarom tog mos vol,
En was die lys nie al te klyn,
Dan was daar seker vyf dosyn.’
A.J. Herholdt se Afrikaanse Lietjie (P., 15 Maart 1876) het blykbaar 'n groot invloed uitgeoefen op die eerste Afrikaanse digters, en veral die reëls:
Hy word in 1883 direk nagevolg deur Klein Afrikaner, beide wat inhoud en vorm betref, in Di Afrikaanse Taal:
Hy glo dat Afrikaans sal wen ‘al kom daar gekyf,’ en op 'n kinderlike wyse noem hy die deugde van ons taal op:
| |
| |
Waar Afrikaans beledig is, het die Afrikaners nie geswyg nie. So het Dokter Hahn hom spottend uitgelaat oor Afrikaans, en nou moes hy die bitsige aanvalle verduur van P.M.O. en Afrikaner.
Sarkasties is P.M.O. in 'n Gedig op 'n Haan, en spottend vergelyk hy die dokter met 'n hoenderhaan:
Want kyk - hy was - alleen.’
Brutaalweg vra hy wie hom die reg gee om oor Afrikaans ‘te kraai,’ en roep die Afrikaners op om hulle taal te verdedig. Sy veragting vir die dokter-haan kan die digter nie onderdruk nie:
Afrikaner is ook verontwaardig, maar hy beskik nie oor die vlymskerpe woorde van P.M.O. om sy kokende gemoed te lug nie. Byna beleefd versoek hy hom:
‘O gaat dan asseblief oor see,
En neem jou taal oek mee.’
Dit is die eerste keer dat hy dig
‘Om ek dit langer ni kon hou
Dat hul ons taal so grou.’
| |
(ii) Die Patriot.
Die Patriot was die mondstuk van die Genootskap van Regte Afrikaners, en daarom kry ons baie gedigte van lesers op hulle koerant, veral by die begin van elke nuwe jaar, waarin hulle hom prys vir gedane werk, voorspoed toewens, en aanmoedig om koers te hou. Met welgevalle het hulle sy vordering
| |
| |
steeds dopgehou. Hierdie verse is dus veral as lofliedere bedoel, en die grond vir die blydskap is die eenvoudige Afrikaans van die blad (wat die aanleiding tot baie gedigte is) en sy nasionale beleid.
Maar die inspirasie was baie flou en die verse is almal kreupele rymelary.
In die tweede aflewering van die Patriot (15 Febr. 1876) verskyn daar twee gedigte oor die koerant, die eerste 'n onbeduidende naamdig, en dan 'n oulike gediggie van C.P. Hoogenhout. Klaas Geswint gee sy gedagtes oor die koerant in 'n gelyknamige gedig in die uitgawe van 15 November 1876, en besluit:
‘Ek wens jou voorspoed en geluk,
En hou, al word jy oek verdruk
Jou plan mar an di gang.’
Baie in sy skik is 'n ongenoemde met die Patriot toe hy sy derde jaar (1878) ingegaan het, want hy ‘doet die Afrikaanse hart van vrind en broeder goed.’ Steeds gaat hy voort sonder om hom aan ‘hoon en skimp en smaad’ te steur.
'n Brugwerker van Aliwal Noord wou ook 'n waarderingsrympie maak op die Patriot (P., 1 Aug. 1879), en hy hoef nie agter te staan by geleerder digters uit sy tyd nie. Die beelde wat hy gebruik, het hy geneem uit sy ervaring en dit gee 'n frisheid aan sy gedig wat by so baie van sy kollegas ontbreek, omdat hulle volgens die mode gerym het:
Hoe meer hy teenstand kry,
Na verskeie aanmoedigingsverse spreek die Patriot nou self tot sy lesers en bedank hulle vir hulle getroue ondersteuning. Hy ontleed die haatlike aanvalle van sy vyande, en maak hulle belaglik. Ook Oom Lokomotief syn Nuwe jaarswens ver 1880 spreek van dank en waardering. Hy smeek God se seën af vir die regeerders van die land, die Kerk, skole,
| |
| |
en verenigings. Hy hoop dat die Afrikaner-Bond vanjaar tot stand mag kom, en
‘Ons wens dat ons Genootskap veul
Mag doen ver land en taal
En onder smaad en onder spot,
Met hulle oog gerig op God,
Hartseer se rympie: Uit Transvaal (P., 8 Julie 1881) oor die Patriot moes drie jaar wag vir plasing, sê Oom Jan. Hy dig in dieselfde trant as A.J. Herholdt en gebruik soms ook 'n beeld!
Nie net die Patriot nie maar ook die redakteur, Oom Lokomotief (D.F. du Toit), is met baie gedigte vereer, want die lesers van die Patriot het sy stryd vir ‘moedertaal en vaderland’ waardeer. So vra Raaksien in sy Gedig an Oom Lokomotief om die rym in die haak te bring, en spreek sy waardering uit:
‘Swaar tog het Oom ver ons gestry,
Om ons taal op papier te kry,
Ons weet dit, en erken dit vry,
En is dan oek van harte bly ....
Di Heer het Oom daartoe verwek,
Om ons tot Leidsman te verstrek.’
| |
(b) Nasionaliteit.
(i) Geskiedenis.
Onder al die temas wat deur die minderbekende digters behandel is, neem hierdie een die belangrikste plek in, nie net wat hoeveelheid nie, maar ook wat gehalte betref. Veral wanneer 'n onreg aan die Afrikaanse volk gepleeg is, kom
| |
| |
daar vuur en verander die toon tot sarkasme, vlammende verontwaardiging en brandende spot. Dan word striemende houe geslaan en die vyand en verengelste Afrikaners word genadeloos gegésel. Maar na oorwinning van die volksaak, word die knie deemoedig gebuig en die eer aan God gebring. Dit geld in hoë mate van die gedigte oor die Eerste Vryheidsoorlog.
In hierdie volkskuns verneem ons dikwels dieselfde klanke as in die strydliedere van die Geuse.
Verskillende episodes uit ons geskiedenis is berym. C. Hatting het een van die weinige gedigte vóór 1900 oor die Voortrekkers geskryf: Lied van die Voortrekkers. Sy teks was in Nederlands maar is verafrikaans deur ds S.J. du Toit.
Die gedig is in 'n donker stemming geskryf, met volop Bybelse wendinge; die gebedstoon word dwarsdeur volgehou.
Die digter dink terug aan wat gebeur het: die Zoeloes is gestraf vir die moorde en vrede is gesluit met Panda. Hy bid God om Sy seën, en as hulle gesondig het, vra hy Hom om vergifnis, want hulle wil graag in vrede woon. Daar dreig egter 'n nuwe gevaar:
Ons land word ons ontnome;
Hull' span al hull' vermoge,
En druk ons uit die land;
Al siet hull' voor hull' oge,
Hy roep die Afrikaners op om hulle vryheid met hulle bloed te verdedig, en die hulp van God word ootmoedig ingeroep, want hulle vertrou tog nie op mense of prinse nie:
‘Ons roep mar tot die Here,
Die wind en storm en mere
Lat luister na syn woord.’
God sal hulle red, en hulle sal steeds sy naam loof.
Die lied is geskrywe op die wysie van Psalm 130, en eindig ook met 'n vers wat byna woordelik dieselfde is as die slotvers van Psalm 130.
| |
| |
‘Hoop op die Heer, jull' vrome!
Daar sal verlossing kome;
Syn goedheid is seer groot.
Van hull', die ons vertrede,
Dan leef ons vry en bly!’
Die Bekommerde Huisvrouw (P., 4 Maart 1881) is 'n mooi en verdienstelike samespraak tussen 'n man en sy gade uit die tyd van die Anti-Bandiete-beweging, 1849, toe die Britse Regering van die Kaap 'n strafkolonie wou maak.
'n Onmenslike Droom (P., 27 April 1877) deur 'n ongenoemde, het betrekking op die anneksasie van Transvaal deur Engeland. Die digter besit bepaalde taalvermoë en sy verse het 'n breër deining. Natuurgevoeligheid merk ons ook op. Hy sien 'n klompie mense op die oewers van die Sambesi
‘Teen di aand en di son die versprei
Nog so treurig syn laaste lig rond.’
Op die vraag van 'n vreemdeling waarom hulle so treurig en moedeloos lyk, antwoord hulle dat hulle in die Kaapkolonie gewoon het, maar die Engelse Regering het die lewe vir hulle onmoontlik gemaak sodat hulle weggetrek en 'n nuwe land met bloed gekoop het. Lank het die rus nie geduur nie, want Transvaal was te ryk en 'n heerlike prooi vir ‘'n grypsugtige volk’:
‘O skandaal van di neêntiende eeuw!
Snode onreg, tirannie, geweld!
Is 't Brittanjes beskawing en roem?
Om deur steel syn gebied te vergroot?
Sonder oorsaak, vrypostig, brutaal,
Word ons land ons ontneem met geweld:
Was di prys van ons bloed en nog meer
Dan te min vir ons vryheid, geluk?
| |
| |
Daarom swerf ons op nuw sonder land,
Dis di rede myn vrind van ons smart,
Want ons kan en ons mag ons ni plaas
Onder juk van ons vyand gehaat.’
Dieselfde gedagtes word uitgespreek in die waterige Transvaalse Liedjie (1877), waarin die geskiedenis van die anneksasie tot aan die sending van die Deputasie behandel word. 'n Latere redaksie van dieselfde stuk word nou Die Transvaalse Storie (P., 4 Maart 1881) genoem, en vermeld die verdere gebeurtenisse. Gemoedelik praat hy van Oom Paul, Ou Langjan en Ou Tante Vic.
'n Anonieme digter het 'n Afrikaanse Volkslied gedig op die wysie van: ‘Wij leven vrij, wij leven blij,’ as byvoegsel tot die boekie Het Misdadig Engeland. Hy is uitgesproke en noem Jan Boel se sondes op hulle name. Daar is 'n ondertoon van bytende spot in hierdie gedig:
‘Jan Boel het die Transvaal gejomp;
As hy iets neem kan sonder straf,
Neem hy een anders goed mar af;
Die vent is mar so lomp.’
Die tyd is egter nie meer ver nie, ‘o ja, o ja,’ dat Suid-Afrika vry sal wees net soos die Amerikaners hulle vrygemaak het van Engeland.
Die digter gee nou 'n vlugtige oorsig van die geskiedenis tot aan die ontdekking van die diamante.
‘Jan Boel die is daar weer geswind,
“Jou klippies of jou bloed!”’
Natal is baie gou geannekseer, Transvaal in 1877, en nou is nog net die Vrystaat vry. Maar die Afrikaners moet bymekaar staan, en die voorbeeld van Amerika volg:
‘Ons tyd die kom oek seker, ja,
Dan kom daar oek ver ons 'n dag,
Dan waai die Afrikaanse vlag:
| |
| |
Vrystater spreek sy vrees uit in Oranje Vrystaat (P., 1 Aug. 1879) dat sy land ook geannekseer kan word deur Engeland, net soos Transvaal.
Hoe die Vrystaters die saak ook al mag beskou, ‘die toekoms hang an 't swaard.’ Wat egter moed gee, is die wyse waarop die Zoeloes 'n hele regiment Engelse afgemaak het in ‘Isandula's slag.’ As die Vrystaters saamstaan, wat bly daar dan van die ‘Rojes’ oor?
‘Dus, Burgers, hou jul wapens klaar!
Dan is ver Vrystaat gen gevaar
Al is daar groot geskreuw,
Van annexasie met geweld;
Jan Boel word seker neergeveld
Deur Vrystaats fiere Leuw.’
Hierdie vrees het nie net in die verbeelding bestaan nie, want spoedig moes hewige veldslae vir die vryheid gelewer word en hoog het die gevoelens opgeloop. In Di Held van Langenek, Ingogo en Majuba Berg verheerlik J.H.O. genl Joubert as dapper krygsman. Maar al die eer vir die oorwinning kom God toe:
‘Loof nou Transvalers! loof di Heer!
Wat wil jul van Syn goedheid meer,
R.H.L.W. bring ook die eer aan God in sy Transvaalse Volsklied:
Hoe vrolik en uitbundig in sy vreugde en dankbaarheid is R.H.L.W. nie in hierdie sangerige lied wat ons so sterk aan die Geusepoësie herinner nie:
| |
| |
Na elke vers klink die refrein:
‘Laat wapper di vierkleur,
In Vrede Lied nooi Vrystaatse Digter ons uit om saam met hom 'n lofpsalm te sing, ‘met jublende klanke,’ want God het die oorwinning aan die Transvalers gegee. Die gedig is klankryk, vloeiend, en getuig van talent:
Ver bokant di wolke wou hoore;
Di swakke is nou weer herbore.’
Weduwee du Toit het haar gedronge gevoel om ook uiting te gee aan haar dankbaarheid vir die oorwinning van die Transvalers. Haar Vredelied (P., 8 Julie 1881) begin kragtig, maar dan word sy week, waarskynlik gedagtig aan haar eie staat, as sy aan die weduwees en wese dink:
‘Wedeweeuws, ik deel jul smart,
Wie sal troos en wie sal help,
As soms droefheid owerstelp?
In 'n naamdig An Menere Kruger en Joubert (P., 15 Julie 1881) het 'n ongenoemde hom kunstig van sy moeilike taak gekwyt, sodat ons nouliks die opsetlikheid merk om 'n sekere letter in 'n versreël in te forseer:
Kom vrinde kom, geen moed verloor,
Roep tot die Heer en hy sal hoor.
Uw Vader let op uw gebed.
God is een God die help en red.
En waarom sou ons dan verflouw?
Rys nie die heilson na die douw?
Na die Eerste Vryheidsoorlog het C.P. Hoogenhout 'n prysvraag uitgeskryf vir die beste Transvaalse volkslied. Hy
| |
| |
het agt proewe ontvang: vyf in Nederlands en drie in Afrikaans.
J.R. van Wellington het in Afrikaans meegeding met sy Transvaalse Volkslied (P., 5 Aug. 1881). Die toon is waardig en die inhoud gesond, hoewel die digter die tegniek nog nie meester is nie. Bondig gee hy 'n oorsig van die anneksasie en vrywording van Transvaal, en eindig dan met 'n loflied aan God:
‘Die Heer regeer. Die Heer regeer
Loof, loof die Heer, o wereldrond.
Hem sy die lof deur ons geslag
Nou en hiernamaals toegebrag!’
Die moeilikhede met die republiekies Goosen en Stellaland na die Konvensie van Londen in 1884 het ook weerklank in 'n paar minderwaardige rympies gevind, bv. die Krygszang ver di tweede Transvaalse Oorlog (P., 24 Okt. 1884). Die Kaapse Jingoe Rympies (P., 19 Des. 1884) pleit o.m. dat Engeland sy handelsbelange in hierdie republiekies moet beskerm. Sarkasties skryf hy:
‘'n Land wat so veel kan spandeer
Is een wat ek altoos sal eer;
Want di geld kan ons maklik verteer.’
Ten slotte vermeld ons nog dat ook die Jameson-strooptog van 1896 die aanleiding was vir 'n enkele gediggie in nasionale gees (Burgers Lied, P., 6 Febr. 1896). Maar die redakteur, ds S.J. du Toit, was blykbaar nie geneë om langer hierdie soort digterlike uitings op te neem nie. Hiermee loop die geskiedkundige lyn dood.
| |
(ii) Anti-Engelsheid en Politiek.
Uitjillery en spot van die felste soort, is dikwels aan die orde van die dag in hierdie uitskelverse.
| |
| |
Toekyker pers al sy verwoede spot, soms op onkiese, platsuggestiewe wyse, uit sy hart in 'n Feeslied by die Stigting van die Ryksbond (P., 5 Des. 1884) na aanleiding van die stigting van die Imperiale Federasie-Ligue in 1884, waarvan artikel 9 van die program lui: ‘Het lidmaatschap van dezen Bond staat open voor elken kolonist, zonder onderscheid van.. kleur.’
Toekyker beveg hierdie Bond nie met allerhande geleerde of gegronde argumente nie, maar met vlymende spot en bitter haat openbaar hy die gevolge van dié Bond se beginsels:
Van jingoes en van Swartjies,
Uit saam vereende hartjies.
Swartmeide met rooi-nekke
En kinders met geel-bekke!’
Die Rooies lag reeds as hulle dink aan die dag dat hulle gelyk sal wees en genees van kleurverskil. Daarom:
Met Rooijes en Korannas!’
Klein Jan is ook besonder skerp in sy aanval op Di Engelsman (P., 21 Maart 1884), en hy noem al sy sondes op wat die Brit in Suid-Afrika gedoen het, hoewel sommige darem baie vergesog is. Elke keer word 'n slegte karaktertrek genoem, maar in die destyds geliefkoosde vorm van 'n vraag, waarop die antwoord dan naas en beskuldigend volg: Jan Boel.
‘Wi annekseer net land en sand,
Al kom syn planne ni tot stand?
Ek seg dit is daar anderkant:
| |
| |
Wi onderdruk syn onderdaan,
En steur hom bitter min daaraan,
Al siet hy hom te gronde gaan?
'n Anonieme digter sê geen liefdevolle dinge van die Engelse in sy politieke gedig nie: Op Laats di Brit. Vroeër was hier rus en vrede in ons land toe die Hollanders, Franse en Duitsers hulle hier kom vestig en tot één nasie saamgesmelt het. Maar
‘Op laats hiir set di Brit hom neer
En wil oek alles dan beheer,
Ons taal verwerp, ons slawe los,
En onderkruip ons nes 'n vos.’
Hy doen hom voor as ons beste vriend, maar kort-kort gryp hy na die wapens. Gelukkig het die Brit hom nog elke keer vasgeloop - die laaste keer by Doringkop.
‘Daars één ding maak my sommer siek,
Dit is di Brit syn Poletiek;
So saggies of hy niks wil vang,
Maar oh, so listig nes 'n slang!’
'n Trouwe Onderdaan word bitter as hy Treurige Herinneringe (P., 1 Aug. 1879) oproep van Engeland se sondes in Suid-Afrika gepleeg. Hy neem Engeland op fel-hekelende, lasterlike wyse onder kruisverhoor en vra hom o.m. skerp:
‘Engelsman, jy Volksverleier!
Het jy al vergeet ver Dreyer?
Ek sal denk, hoe oud ek word,
An syn bloed deur jou gestort.
Engelsman, jou Regverdraaier!
Vryheidsmoorder! Landverraaier!
Ons denk steeds aan Slagters Nek,
Met ons broeders bloed bevlek.’
A.F.R. vind weer geleentheid om in Champanje Bottel (P., 22 Aug. 1879) tergend met die duisende Engelse soldate te spot wat nie in staat is om die Zoeloes te oorwin nie.
| |
| |
Venynig is die parodie wat 'n ongenoemde op die Engelse lied Rule Britannia gemaak het. Dit moet in verband met die Transvaalse anneksasie begryp word. Die angel wat Engeland vir ander nasies bedoel het, keer die digter in verse twee en vier op homself terug:
2
The nations not so blest as thee,
Must in their turn to tyrants fall;
While thou shalt flourish great and free,
The dread and envy of them all.
Die volk is nie so knap as jy,
Moet beurt by beurt jou wette lees,
As jy sal bloeie groot en vry,
Dan sal die boere beef van vrees.
4
Thee haughty tyrants ne'er shall tame;
All their attempts to bend thee down
Will but arouse thy gen'rous flame,
To work their woe, and thy renown.
Jou dwinglandy sal gou verneer,
Die wat hulle land hul eige noem.
En die wat weiger jou te eer,
Verwoes hul self, en werk jou roem.
Vors Pluto loer oor die see, en in plaas van die ‘guardian angels’ sing hy saam met die ‘Goudvelds skuim’ die refrein, gelaai met sarkasme:
‘Kom Britanje, jy beskaaf,
Maak die nasies tot jou slaaf.’
Die derde koeplet in die Engelse teks lui:
Still more majestic shalt thou rise,
More dreadful from each foreign stroke;
As the loud blast, that tears the skies,
Serves but to root thy native oak.’
| |
| |
Hierdie koeplet gebruik die digter om Engeland se skynredes aan te gee waarom hy Transvaal moes annekseer - om die land beter te regeer en te beskaaf:
‘Dan kan jy met meer majesteit,
Die domme boer vertrap in d'sand,
Met staatsmanskuns, regtvêrdigheid,
Kom jy dan en beskaaf die land.’
'n Naamlose digter staan verskrik toe hy tot die ontdekking kom: Alles is Engels.
‘Engels is alles; kyk hot of kyk haar!
Engels is alles; ek wort somar naar!’
Hierna som hy nog verskeie ander sake en feite op wat as bewys moet dien, dikwels so triviaal dat hy eerder amuseer as oortuig, en besluit:
‘Engelse stewels, met Engels gekraak;
Engelse lekkers, na Engelse smaak;
Engelse seep, in 'n Engelse kas;
Engelse meide, wat op Engels wil was...
Engels is alles, so as jy hier siet;
Engels is alles, so eindig myn lied.’
Vrystater (‘myn naam is klein, myn van is die grootste in Suid Afrika’) het 'n dergelike opsommende, droë rympie, maar hy werp die blaam van die verengelsing op die Afrikaners self (Ver Engelse Afrikaners):
‘Afrikaners hul plase op Engels bewerk,
Afrikaners gaat al na die Engelse Kerk,
Afrikaners wil hul nes Engelse hou;
Afrikaners hul huise op Engels gebou,
Afrikaners loop hier al nes Engelse here,
Afrikaners hul kinders met Engelse klere...
Afrikaners slaap al op syn Engels gerus,
Afrikaners laat hul van die Engelse sus...’
'n Kostelike karakterskets van die ‘Jek’ op hulle dorp gee 'n korrespondent in 'n rymbrief: St. Goar, Karnmelkstraat (P., 2 Okt., 1885):
| |
| |
‘Hy praat gedurig van syn land,
Want hy kom mos van anderkant.
Hy seg: “Di land wer ai kom vrom,
Di piepel ies der ni sou dom;
En ol wat ai vir joe ken sy,
In ons land ken joe alles kry.”
Daar is gen beter land as syn,
Wat soek hy dan in di van myn?’
Anti-Joodse en anti-Kafferse gedigte het ook 'n plekkie gevind - die Jood as 'n ‘skelm’ besigheidsman (P., 9 Des. 1881 en 13 Nov. 1885) en die Kaffer as 'n plaag (P., 14 Des. 1883). Die vorm van die gedig oor laasgenoemde vertoon weer die vraag en antwoord, soos in Di Engelsman of Wi is di Oproermakers? - 'n vorm wat blykbaar baie geliefd was:
‘Wi steel myn skaap, myn bok, en klop
Syn vrouwens dan nog bowen op,
Waarvan hy het 'n groote trop -
As roes regeer, as plage val,
Di sprinkhaan kom in groot getal,
Wat's dan di grootste plaag van al?
Net soos in die geval van die geskiedkundige gedigte, versand hierdie stroom gediggies in anti-Engelse gees in die negentiger-jare heeltemal. Ook dit moet aan dieselfde rede toegeskryf word.
| |
(c) Godsdiens.
Die G.R.A. het van die begin af op 'n suiwer godsdienstige standpunt gestaan. Om lid te word moes elkeen in die versoeningsdood van Jesus Christus glo, en vergaderings is met gebed geopen en gesluit. Dit is daarom te begrype dat dié gedigte wat uit die boesem van die G.R.A. self voortkom, of wat deur die G.R.A.-redaksie opgeneem is, godsdienstig van strekking sal wees. Met nasionale gebeurtenisse wanneer die volk 'n oorwinning behaal het, verskyn byna altyd 'n gedig
| |
| |
wat dan 'n sterk godsdienstige lewensgevoel openbaar, en waaruit blyk hoeseer die voormanne van Afrikaans hulle afhanklik gevoel het van Hoër Leiding.
Nie net gedigte met 'n godsdienstige strekking nie, maar ook suiwer religieuse poësie het verskyn. In hierdie gedigte is daar weinig oorspronklikheid: die beelde is ontleen aan die Bybel en stigtelike lektuur. Maar tog word ons geraak deur 'n diep verlange na heil en uitredding. By al hulle soberheid is daar 'n hartstog wat weliswaar nie fel oplaai nie, maar tog altyd agter die woorde gevoel word. Die stereotipe Bybeltaal (bv. hemelstad, goue strate, heilson, ondermaanse tranedal, ens.) bring dadelik die atmosfeer van aanbidding en afstand, die religieuse spanning. Die hele gedagtewêreld is die van sonde en straf aan die een kant, en van beloning en saligwording aan die ander kant. In alles word die doel van die aardse bestaan gesoek, en word die verganklikheid en ydelheid gestel teenoor die blywende geluksaligheid hiernamaals. Dit gee 'n pragmatiese karakter aan die gedigte, wat die tydelike en die ewige nut verlang. Dit is deur-en-deur Calvinisties.
Uit die aard van die saak vertoon hierdie digtertaal veel ooreenkoms met die taal van Bybel en kansel. Daarom is dit dat hierdie godsdienstige liedere met hulle gebruikmaking van die geknede Bybelwendinge, fyner en beskaafder klink as die van die meer praktiese, nasionale en sekulêre gedigte.
'n Naamlose digter het Prediker 1 vers 2 op rym geset: Alles is Ydelheid (P., 11 Julie 1879). Hy hou vas aan die teks, ook byna wat die taalvorm betref - miskien is die gediggie eers in Nederlands geskryf en toe in Afrikaans vertaal:
Verganklik goed van deuse wereld
Is aan de ydelheid gewyd.’
Kinderlik-bly is die tengerige gediggie Blyskap in Jesus (P., 14 Nov. 1879) van 'n ongenoemde. Sy het so pas tot bekering gekom:
| |
| |
‘Ek is so bly, ek is so bly,
Hy maak my eens van sonde vry,
Dit berou haar dat sy soms nog struikel en val oor haar sonde, maar God kyk alleen in haar hart of hy Jesus se bloed daar sien.
Die digter van die Vreemdelingslied uit Kalihara Woestyn beklaag sy hopelose toestand en vra God om hulp:
‘Vele is alreeds nie meer,
Gy weet ons ellende, Heer!
Help tog met Uw sterke arm!’
Maria van Bruwershoek slaak 'n Versugting (P., 8 Julie 1881) tot Jesus en stort haar sondige hart voor Hom uit. Sy verlang na die hemel waar Jesus haar trane sal droog:
‘Daar stilt Jesus al myn klage,
Ja, ik siet die heilson dage,
En ik wil na Jesus vlug.’
Die hele gedig is 'n innige gebed, al word sy soms week. Haar voorstelling van die hemel is die tradisionele:
‘Daar speul hul op goude snare,
En verbly sig in die Naam,
Die hul nietig stof beware,
Met veul duisende te saam.’
Opmerker is baie pessimisties in sy gedig Vervulling van 2 Tim. 3:1-5, want dis vir hom duidelik dat al die sondes waarvan Paulus gepraat het, in sy tyd gedaan word, selfs deur die Kerk. In sukkelende verse noem hy dan al die sondes op: behaagsug, selfsug, wêreld, sgesindheid, hoogmoed, ens.
| |
| |
Waar d' onskuld om sugte,
Waar godsvrug voor dugte,
Eenvoudige Gristen peins oor Onse Bestemming (P., 27 Julie 1883) in eentonigvoortdreunende verse, volgestop met geykte Bybelse terme, en druk dit sy lesers op die hart om tog voorbereid te wees om na die hemel te verhuis:
‘Leef dan di mens ver ewig hier
Op aarde, net ver syn plesier?
Om hier te bly in ewigheid
En nooit te skeide uit die tyd?...
'n Ider sterfling moet hier stry,
Wil eenmal hy di kroon verkry.’
An Afrikaneks (P., 21 Aug. 1885) deur J. de W. is 'n stigtelik-godsdienstige gediggie. Net waar die digter kyk, sien hy sonde en ongeregtigheid, en al die strawwe wat daarop volg. Daar is gelukkig 'n oplossing:
‘Di hoofsaak is ons moet terug,
Deur ei'e krag is ons verly,
Om te'en di raad van God te stry,
Di raad deur Hem bepaal.’
In Uit Grikwaland Wes bieg 'n skrywer wat ‘te skaam’ is om sy naam te teken, hoe hard die Here hom geslaan het, maar daarna weer liefdevol getroos het.
‘Nou gaat ek voorwaarts op myn pad.
Myn oge op di hemelsland,
Myn hande het ek saam gevou,
Mag ek myn pad mar reguit hou.’
Oom Jan het ‘di versi enigsins omgewerk, maar meen di bedoeling van di skrywer weer gegew te hê.’
Ds David Ross het verskeie Psalms berym, maar sy maat is stroef en stotterig, en sy taal dikwels onafrikaans. Soms egter het hy 'n sangerige vers getref, soos met Psalm 8:
| |
| |
‘Here, Heer, hoe hoog verhewe,
Bowe al di aards gewemel,
Is uw majesteit, o Heer!’
Die Patriot het 'n vaste rubriek vir Bybelraaisels gehad, wat baie populêr was. Verskeie persone het na aanleiding hiervan rympies ingestuur, maar hulle was werklik beroerd.
| |
(d) Liefde en Verliefderigheid.
Hierdie gedigte is sonder erns of diepte. Vir die skrywers is liefde nie 'n lewensaak nie, maar 'n spel, of die geleentheid om 'n grappie of sedelessie na 'n storie kwyt te raak. Die aantal stukke is wel aansienlik, maar die gehalte swak. Ons volstaan met die vermelding van net die paar bestes, en selfs hierin is die opvatting van liefde van 'n primêre orde. Daar is ongeveer niks te bespeur van die fynheid en verheffende van die emosie nie. Egte minnepoësie kan ons dit nie noem nie. Die meeste is verspotte vertellings met kennelike leedvermaak oor die vryery van ander.
Die gunstigste uitsondering maak Sannie Beyers wat in die Patriot van 6 Februarie 1885 verskyn het. Dit is 'n vrye vertaling van Byron se Maid of Athens, maar wie die vertaler is, weet ons nie. Die lied is in die handskrif van pres. F.W. Reitz onder die nagelate geskrifte van C.P. Hoogenhout gevind, maar in De Zuid-Afrikaan van 20 Junie 1914 het hy self erken dat hy nie weet wie die vertaler is nie. W.H. Maskew het ook 'n vertaling van dieselfde gedig gemaak, wat in Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift van Julie 1889 afgedruk is. Sy vertaling haal egter nie by die van die Patriot-digter nie, hoewel sommige versreëls dieselfde is. Wat veral geprys moet word, is die gelukkige verafrikaansing van die slotreël ‘Zōē, mou, sas agapō’ as ‘Hartjie, ek het lief ver jou!’
Die jonkman rig nog 'n laaste liefdeswoordjie aan Sannie:
‘Voor ek weggaan sweer ek nou:
Hartjie ek het lief vir jou!’
| |
| |
Veral die tweede koeplet, waar die jonkman in vervoering raak oor haar skoonheid, is bekoorlik:
‘Ag, die lokkies ongebind,
Die heen en weer waai met die wind;
Ag, die wange rond en mooi
Nes 'n perske zag en rooi!
Ag, die oogies, hemelblou!
Hartjie ek het lief ver jou!’
Die maklike gang en soetvloeiendheid, die spontane, suiwer Afrikaanse beelde en die gesonde gees, het almal bygedra om dit een van dié liedjies te maak wat 'n groot bekendheid verwerf het en dikwels by geleentheid van bruilof en dans, smaaklik gesing is (Vgl. ook Afrikaanse Minnepoësie, deel II, 1921, bl. 108).
Frank Hannan is baie trots op sy mooi nooi, soos hy ons op stereotipe wyse in 'n Vry Lied (P., 22 Febr. 1884) vertel. Hy is die romantiese minnaar wat net oë het vir haar uiterlike skoonheid:
‘Party di sing van perde,
Mar ek sing van di mooiste noi,
Wat hier nog het bestaan.’
By elke bal of resies is sy die mooiste dame, en lyk sy soos 'n koningin:
Haar voetjies net mar alte nou,
Haar hantjies wit en fyn.’
Die Treurige Liefdesgeskiedenis van Constant en Bertina (P., 11 Julie 1879) word deur 'n ongenoemde heel pateties verhaal. Die twee het mekaar innig bemin, maar die ouers belet Constant hulle huis, en nou word hy soldaat. Hy kon egter nie sy liefde te bowe kom nie, en pleeg daarom selfmoord. Bertina sien hom in sy bloed lê:
| |
| |
‘Sy roep is jy deur liefde groot,
So ver gekom tot in die dood?
Ons liefde maak ons man en vrouw,
Ik blyf jou tot die dood getrouw.’
Daarop neem sy sy bajonet vol bloed’ en deurboor haar hart. Die digter knoop 'n lessie hieraan vas vir ouers:
‘O Ouwers spiegel jull' en leer,
Breek om die geld geen liefde meer;
Daar liefde geld te bowe gaat
En selfmoord is 'n yslik kwaad.’
J.M. voel baie neerslagtig in sy Afskeidslied (P., 22 Januarie 1886), want hy vind geen wederliefde by sy ‘soetlief’ nie:
‘Vaarwel myn liefste meisi,
Vaarwel myn liefste minnares,
Want ek vertrek van hier.’
Die laaste koeplet val heeltemal uit die fyn stemming wat die voorafgaande koeplette geskep het, omdat hy opstandig raak en wil weet: ‘Wat drommel mog dit wese?’
Geestig is die anti-klimakse in P.H.S. se Wanhoop van 'n Minnaar (P., 9 Julie 1886). Hy klae oor die meisie se stuursheid, vlieg skielik op ‘En gaat - een pypi roke.’ Toe sit hy weer en mymer aan tafel:
‘Hy gryp 'n mes en siet eers neer,
En met di yslik moordgeweer -
Begin hy brood te snyde.’
Die volgende dag loop hy deur die huis en skreeu soos 'n besetene oor verlore liefde.
‘Dus dol van drifte overmand,
Loop hy naar d'stille waterkant,
Om - vir pliesier te visse.’
P.J.S. beskik nie oor die talent om sy emosies in sy gedig Vaarwel (P., 6 Januarie 1888) op 'n subtiele wyse te verwoord nie, en tog bereik hy 'n heerlike stemming deur die innigheid
| |
| |
waarmee hy sy liefste vaarwel toeroep. Hy is nie skaam vir sy gevoelens nie, en hoe primêr ook al, vertel hy tog wat hy voel:
‘Vaarwel myn eigen soetelief!
Ek gaat hier ver van daan.
Beween my niet myn soetelief,
Ek sal jou nooit vergeet nie,
Ek blyf myn soetlief trou;
Waar ek op aard sal swerwe,
Soetlief denk ek an jou.’
| |
(e) Huislike Aangeleenthede.
Hieronder word verskillende aspekte van die huislike lewe saamgevat, soos geboorte, tandekry, dood en afskeid, skinderpraatjies, die drankeuwel, boereklagtes, armoede en selfs modes. Swak en banaal is die meeste van hierdie rympies, gewoonlik met die uitgesproke doel om vrolik of amusant te wees, behalwe in die geval van klaagliedere, wat egter selde elegies van toon is. Die minderwaardigheid van die meeste van hierdie rympies regverdig dit nie om al hierdie onderwerpe met voorbeelde te illustreer nie, en ons doen dus net 'n grepie uit die kafhoop.
Soos Tollens die belangrike gebeurtenis van die ‘geboorte’ van 'n kind se tand besing het, het 'n anonieme Afrikaanse digter ook na die lier gegryp toe hy Klein Antji se Eerste Tand (P., Mei 1885) gesien het. Die hele gedig is banaal. Die Skepper word ook hier ingewerk:
‘Haar Herder blyf haar verder,
Om moedig en voorspoedig,
Haar tandjies deur te kry.’
Die inhoud van 'n Skoolkwessi (P., 23 Julie 1886) is nie belangrik nie, maar die karaktertekening van Ou Koppies is uitstekend. Hy is 'n skinderbek en weet van almal iets leliks te vertel:
| |
| |
‘Dis hy wat altyd soetskeel kyk
Syn oge lyk soos doppies.
Kwaad stook is wat hy seer goed ken,
Dis onbeskryfbaar vir myn pen,
Hoe dat di ou kerel lieg.’
'n Onderwyser wou bv. studieverlof hê om verder te gaan studeer, en toe vertel Ou Knoppies dat die predikant hom in die pad gesteek het omdat hy te ongeleerd is!
Tipiese boereklagtes hoor ons in Di Arme Boer (P., 24 Aug. 1883), 'n gediggie waarvan pres. Reitz baie gehou het, omdat dit sangerig is en ook die boer aan ons voorstel met sy gebruiklike jeremiades:
‘Di sprinkhaan en di droogte
En wat van ons moet worde
Ons skape het die brandsiek
En ons koren het di roes,
En di perde vrek van droes.’
Geld is skaars en die rente hoog, en niemand wil geld leen nie. Aan hierdie klagtes verbind die digter nog sy mislukking om Oom Kootji se dogter te kry, omdat hy so arm is, en sluit sy gedig soos 'n ring deur 'n herhaling van die eerste koeplet:
‘Ja - di sprinkhaan en di droogte
Dikwels het die klagtes betrekking op geldskaarste en armoede en dan word dit die Engelse Standaardbank (bv. P., 18 Julie 1884 en 9 Julie 1886) en die regering ten laste gelê.
Oor die modes kan hulle ook nie uitgepraat raak nie. R.N. het bv. 'n gedig gemaak op Die Sleeprokke waarin hy op 'n taamlik oordrewe wyse die spot dryf met die sleeprokke van
| |
| |
die vrouens. Hy neem 'n wandeling deur die strate na 'n bui reën, en wat sal hy sien:
‘Ik siet voor myn baing strepe,
Van die rokke met die slepe,
Takke, stokke, vullens, mis,
Deur die slepe saam gevis.
'k Dag in onse tyd terdege,
Hoef 'n mens geen straat te vege,
Want so 's ik tereg bemerk,
Is dit nou die vrouws hul werk.’
Iemand anders is ook vol klagte oor Polkahaar, Ottjieskoppe, of Boesmandrag (P., 9 Julie 1886). Blanco, sê hy, is maar 'n klein plekkie waar die Patriot nie in aansien is nie; daar is min Afrikaners, maar hulle aap nog die Engelse modes na. Eers het die meisies gordyntjieskop gedra.
‘Nou is daar mos weer iets anders
Polkahaar of Ottjieskoppe,
Is waarme di nois nou spog.’
Lippetaal is al waartoe die smart oor die afsterwe van dierbares baie digters kan voer. Die beste is W.A. Pelser se poging in Di Afsterwe van myn jongste Kindje (P., 13 Julie 1883). Hy kan nie die woorde vind om sy droefheid te vertolk nie, maar onder daardie magteloosheid voel ons die diepte en egtheid van sy lyding:
‘Siet myn hart is nou bewo'e,
Siet ek nog myn kleinste aan,
Di ver altyd weg moet gaan.’
Dit breek hom om sy lieflingskind so te sien ly, maar dan beroep hy hom op God se liefde en dit bring berusting, ook die gedagte dat sy by God veilig sal wees.
As 'n voorbeeld van hoe banaal en onelegies die vermeende klaagliedere soms kan wees, siteer ons ten slotte die aanhef
| |
| |
van Op di Afsterwe van myn geliefde Vrou Alettha Jacoba Vermeulen (P., 4 Julie 1884), waarin dit lyk asof die rymelaar God by ons aanklae:
‘Kom vrinde, kom en hoor hier aan
Wat het di Heer an my gedaan.’
Op op rym kop, daarom heet dit:
‘Myn troos is weg, myn moed is op,
Myn vrou is dood op Wolwekop.’
|
|