Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde
(1941)–G.S. Nienaber, P.J. Nienaber– Auteursrecht onbekend
[pagina 110]
| |||||||
Hoofstuk III.
| |||||||
[pagina t.o. 110]
| |||||||
Ds J.L. Cachet.
J.D. Cilliers.
Dr J.C. Voigt.
| |||||||
[pagina 111]
| |||||||
Afrikaanse Gedigte, en in 1909 die derde druk: Twee en Sestig Uitgesogte Afrikaanse Gedigte. Oor die ontstaan van hierdie bloemlesing het hy self aan mnr Von Wielligh geskryf o.d. 28 Nov. 1917: ‘Ik het toe op die gedagte gekom om, als ik in een of ander dagblad of tydskrif 'n Afrikaanse gedig sien wat my voorkom beter te wees dan die gewone kreupel-rijmelarij, dit dan uit te knip, en te bewaar. Dit het my toe later aanleiding gegé om die versameling in boekvorm te laat druk. Die meeste van daardie versamelde gedigte was uit die pen van die heer P. Hoogenhout, “Oom Jan wat versies maak,” maar van 'n heel partij kon ik nie agterkom nie wie of die skrijwers daarvan was. Bijvoorbeeld was daar die gedig oor “Die Sprinkhaan en die Droogte” wat in my opinie een van die beste is. Wie of die rijmpie gedig het, het ik nooit kon uitvinde.’ Die meeste gedigte het pres. Reitz uit Die Patriot gehaal, maar 'n paar ook uit die volgende blaaie: Het Volksblad, Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift, Cape Monthly Magazine, De Express, en die Cape Argus. Ongelukkig het hy nooit gesê uit watter blad 'n besondere gedig afkomstig is nie, en hy het ook nie die datum van verskyning vermeld nie. Hy het nie verwag dat daar 'n tweede uitgawe van sy bloemlesing sou kom nie, ‘want bij ons is banje maklikker om boeke te laat druk dan om die te verkoop.’ Tog was hy onnodig pessimisties. In 1910 verskyn sy Oorlogs en andere Gedichten. Hiermee het sy skrywersarbeid nie opgehou nie, want in baie tydskrifte sal ons artikels uit sy pen raakloop; dikwels vertel hy een of ander herinnering uit sy lewe, of hy vertel van belangrike mense wat hy geken het. (Sien bv. Ons Tijdschrift, Die Huisgenoot, April, Aug. 1922; 11 Julie; 12 Sept. 1924, ens.) Die meeste van pres. Reitz se eie gedigte het ook in sy bloemlesing 'n plekkie gevind. Sy mees bekende gedig is seker die verafrikaansing - nie vertaling! - van Robert Burns se Tam O'Shanter onder die titel Klaas Gezwint en zijn Paert. Dit het oorspronklik in Het Volksblad van 19 Julie 1870 verskyn. Die hele agtergrond van die verhaal is Afrikaans. Self het pres. Reitz omtrent hierdie gedig gesê: ‘Daarin het ik perbeer om die Skotse digter se beskrijwing van 'n seker type | |||||||
[pagina 112]
| |||||||
van sy landgenote toe te pas op die Hottentotte so'als ik hulle in my jonge daë het leer ken op die Sending stasie “Zuurbraak” nabij Swellendam’ (Brief aan G.R. von Wielligh o.d. 28 Nov. 1917). Soos Burns, begin Reitz eers met 'n inleiding oor Klaas wat nooit na die raad van sy vrou luister nie, maar altyd in die dorp rondslenter totdat dit donker is. Een aand het dit weer gebeur, en Klaas was naderhand smoordronk. Die digters knoop nou 'n mooi gedagte vas aan die verganklikheid van plesier, maar terwyl Burns verhewe-digterlik is, gebruik Reitz sommer boerebeelde, en tog is hy so treffend dat sy woorde inslaan: ‘Plezier is nets een jong komkommer,
Als jij hem pluk, verlep hij sommer;
Of nets een schulpad in zijn dop in,
Zoos jij hem vat, dan trek hij kop in.’
Nou moet Klaas darem regtig laat vat huis-toe, en daarom klim hy Kol, sy ou holrug-merrie, op ‘en druk sijn hoet vas op sijn kop.’ Hy was maar skrikkerig vir spoke en kyk telkens om. Gelukkig het die drank hom moed gegee, want ‘Al is een Hotnot nog zoo oolik,
Een zoopie maak hem net nou vrolik;
Steek hij maar net een dop of drie,
Dan stuit hij voor geen d-v-l nie.’
Maar skielik is die verwagte spoke daar en Klaas se bloed begin kook. 'n Skitterende stukkie fantasie volg nou: ‘Daar speul de d-v-l op een tromp,
Voor veertig spooke in een klomp;
Hul dans daar rond, dat dit zoo gons,
Geen ouderwetze cottiljons.
Maar eers “Alexander Klipsalmander”
Trap hulle algaar met malkander,
Toe was dit weer die “honde krap,”
Tot dat die zweet zoo van hul tap.’
Klaas het wel ‘naar gelijk,’ maar hy was nog so oorlams om 'n aanmerking op een van die spoggerige spoke te maak, en toe moes hy laat spat, want die hele klomp agtervolg hom. | |||||||
[pagina 113]
| |||||||
'n Vreeslike wedloop vind plaas tussen hulle en ou Kol na die drif, want ‘Een spook is nets een bok kapater,
Hij loop nie zoomaar in die water.’
Met uiterste kragsinspanning ontloop ou Kol die spoke, en as toegif kry die leser 'n waarskuwing: ‘Voor die wat lus het om te draai,
Wil ik maar net één woortje raai:
Gedenk aan Klaas Gezwint zijn paert
En vraag jou zelf: waar is haar staert?
Gert Beyers (‘Laird o'Cockpen’) is 'n vrystorie, en die eerste verse is gaaf met die tekening van die spoggerige vryer: ‘Gert Beijers het geld en Gert Beijers het vee,
En al wat hij aanvat daar maak hij geld meê,
Maar 'n vrouw moet hij hebben - dat's sekerlijk waar,
Want sonder 'n vrouw gaat 'n huis door makaar.’
Hy ry dan ook ewe swierig na Kaatje Rasmus van Matjesfontein, maar sy behandel hom baie koel en hy was verplig om om te draai, maar mompel: ‘Dat sal haar berouw van die woortje van “nee”!’ Behoorliker is 'n ander vrystorie, want hier is die digter in 'n vrolike stemming en sy woorde vloei soos water oor 'n afdraande: Die Steweltjes van Sannie (Het Volksblad, 29 Nov. 1873). So populêr het hierdie sangerige gediggie geword, dat dit vandag 'n volksliedjie is. Die motief is ook in 'n ander volksliedjie verwerk: Môre oompie! Môre tannie! ‘Die kunsliedjie van Oud-President F.W. Reitz het o.i. die voordeel van groter uitwerking en afwerking, maar die volksliedjie het weer die voordeel van groter konsentrasie of direktheid, of wat ons miskien sou kan noem inwerking.’ (Boshoff en du Plessis: Afrikaanse Minneliedjies, 1921, bl. 104).
Reitz begin sy gediggie met 'n tipiese waarskuwing, en gebruik weer sy boerebeelde: ‘Pas altijd voor een vrouwmensch op;
Dit help jou net gen stuk nie,
Steek jij jou nek eens in die strop,
Dan kan jij nooit los ruk nie.’
| |||||||
[pagina 114]
| |||||||
Heel geestig vertel hy dan hoe dit gebeur het dat hy so skielik aan Sannie geknoop is: hy was nog maar 'n bog toe hy na haar gaan vry het, maar natuurlik was hy baie astrant: ‘Mij zak-oorlosie was van goud,
En 'k gee pad ver geen man nie.’
Hy sien haar mos een nag in sy droom voor hom staan met splinternuwe stewels - spottend voeg hy daaraan toe: ‘Hul mag van kleine voetjes praat,
Mar Sannie het twee knewels.’
Die volgende môre laat hy vat reguit Sannie-toe, en daar sien hy haar met dieselfde stewels aan. Hy vra haar sommer dadelik en kry ook die jawoord daar en dan.
Nou, na die verkoeling wat die jare gebring het, kan hy nie begryp waarom 'n mens nooit tevrede is nie. Die aanmerking is wel nie vleiend vir sy vrou nie, maar tog so menslik: ‘Dat help nou weinig om te huil,
Al het ik spijt van Sannie,
Kon ik die oû ding maar verruil,
Dan zou ik - maar ik kan nie!’
Jan Jurgens (Cape Monthly Magazine, Okt. 1875), 'n uitstekende vertaling van Cowper se John Gilpin; het pres. Reitz op een van die ‘Winter Avond Voorstellingen’ in Bloemfontein voorgedra: ‘Het onophoudelijk schaterend gelach dat door de zaal weergalmde, bewijst genoeg voor de talentvolle vertaling en voordracht,’ skryf De Express van 27 Mei 1875.
Uit hierdie periode noem ons ten slotte nog 'n gedig wat in die O.F.S. Monthly Magazine (Nov. 1877) verskyn het: Ter Nagedachtenis van Kommandant Louw Wippenaar. Hier is hy die trotse vaderlander, wat sy helde wil eer: ‘Zal vreemde dichters ons verhaal
Van hulle groote Helde,
En zal ik in mij eige taal
Van Wippenaar nie vermelde?’
| |||||||
[pagina 115]
| |||||||
En dan die klassiek-geworde koeplet, omdat die digter se verbeelding hier 'n vlug neem bo die alledaagse uit: ‘Hy leg op Thaba Bo-si-go,
Geen grafsteen zal hij verge,
Zijn monument het God gebouw,
Die Bouwheer van die Berge.’
In April 1899 verskyn in De Nieuwe Republikein 'n vertaling van A. Brodrich se gedig deur F.W. Reitz onder die titel: O! waar is mijn Gezoute Paert. Hy het vir hom 'n gesoute perd gekoop, en die dier een nag nie op stal gesit nie, maar die volgende dag lê hy dood. Hy het 'n hofsaak gemaak, maar die koper beweer toe dat die perd papies gehad het, en hy verloor die saak. Nooit weer het hy vir hom 'n gesoute perd gekoop nie, ‘Want wil jy werk trek uit zoo'n dier
Geef hem op stal zyn plek,
En leef hy - dan het jy plezier
En vrek hy - laat hem vrek.’
In 1910 dan verskyn pres. Reitz se Oorlogs en andere Gedichten - gedigte wat gedurende die Tweede Vryheidsoorlog ontstaan het. Hierdie oorlog het die Afrikaners hulle gemeenskaplike leed laat besef; nà die oorlog is hulle moedeloos, maar dan staan daar digters op om uiting te gee aan die lyding en smart van die oorlog, of hoopvol na die toekoms te wys, die herrysenis van die Afrikanernasie te voorspel. Meteens het die kuns ontluik. Dit was of niemand kon praat nie totdat Eugéne Marais en Jan Celliers opstaan. Met tere weemoed besing Totius die oorlogsmart, en by Leipoldt brand die oorlogspyn in sy eerste gedigte. Maar terwyl hierdie nuwe geslag kuns skep, plant pres. Reitz nog die ou tradisie van die Patriot-digters voort, hoewel ook hy oor die oorlog dig. In die voorwoord erken hy self dat dit maar rympies is, maar dat hulle tog kultuurhistoriese waarde besit: ‘Als daar in dit boekje, hier en daar, iets voorkomt dat de lezer wat scherp vindt, verzoek ik hem niet te vergeten dat de meesten van deze “rijmpies” geschreven waren gedurende een tijdperk van strijd, en meestal dadelik na de gebeurtenissen waarover | |||||||
[pagina 116]
| |||||||
zij handelen. Al hebben zij dus geen bizondere waarde als gedichten zijn zij toch histories, en als de geschiedenis alles zou verzwijgen wat aanstoot kon geven, dan zou er maar weinig geschiedenis bestaan.’ Ook in sy taalvorm sluit Reitz hom nog aan by die ou garde. Sommige gedigte het hy in Engels vertaal, sommige in suiwer Nederlands geskryf; ander in 'n tussenvorm. De ‘Lady Roberts’ het eers in Ons Klyntji verskyn, al het die redakteur (ds S.J. du Toit) die plasing daarvan verontskuldig as 'n herinnering aan die oorlog en om die digterlike waarde van die gedig - nie om die oorlogsvuur weer aan te blaas nie. Dis 'n spotdig, want die ‘Lady Roberts’ is 'n skeepskanon wat die Boere in Desember 1900 buitgemaak het, en nou jubel en spot pres. Reitz saam met die burgers, maar hy gesel ook: ‘Die Trekboer en Boslanser
Die kom haar hier beskouw,
Dan zeg hulle “alle wereld!”
Waar krij jul hierdie vrouw? ...
Lord Roberts is al huis toe
Die Veldheer het getrap
Maar d'ou vrouw het hij hier laat blij,
Sij hou van ‘Mieliepap.’
Lewendig vertel hy hoe hulle die ‘Lady’ in die hande gekry het, en dan begin hy die Engelse gésel wat roem hoe maklik hulle die Kaffers afgemaai het, maar padgee as hulle teen witmense en mousers moet veg. ‘Ja, Roberts van “Kandaar”
Is nie Roberts van “Kanhier,”
En dat Tommy hier moet blijwe
Is nie enkel voor plesier.’
Ten slotte spoor die digter die Afrikaners aan om vol te hou, want ‘onze zaak is reg.’ Hoe heerlik sarkasties is die digter nie in Die Proclamatie of Papieren Bom. Lord Kitchener het naamlik in Augustus 1901 'n proklamasie uitgevaardig dat die burgers hulle voor 15 | |||||||
[pagina 117]
| |||||||
September moet oorgee as hulle nie vir altyd verban wil wees nie. Spottend noem pres. Reitz nou die redes op waarom Kitchener dié proklamasie uitvaardig. Hy gebruik die tipiese proklamasie-styl: ‘Ik Lord Kitchener van Karthoem
(Om andere titels niet te noem)
Krachtens machtiging gegeve
Door mij Koning, Etwart zeve'
Maak bekend en proklameer
- D'is nou voor di laaste keer!
Aangezien mij kwart millioen
Kakis jul nog nix kan doen,
En mij vliegende kolomme,
Nix meer baat dan Lyddiet bomme,’
en aangesien dit niks baat om die plase te verbrand en die vrouens saam te hok nie, en weens nog baie ander ‘aangesiens’ vaardig hy die proklamasie uit. Dan kan hy hulle ‘voor die grap’ op die nekke trap en die Afrikaanse lam deur die Britse leeu laat insluk! Maar in De Vrouwenkampen word Reitz bitterder, en vlymend-skerp is sy sarkasme, veral deurdat hy die angel van die Engelse argumente waarom die vrouens opgesluit moet word, op die Engelse self keer. Die gedurige herhaling: Dit zeg hij zelf - dus is dit waar! verskerp die effek - was hy hier by Shakespeare in die leer (Julius-Caesar)? ‘Lord Roberts is zoo hoogst beschaafd
Met alle deugde ruim begaafd,
Zijn goedheid is zoo wonderbaar
Dit zeg hij zelf - dus is dit waar!
Weduwe en weeze, laat hij vang
Maar hul's vrijwillig onder dwang
In zijn pest-kampe opgegaar,
Dit zeg hij zelf - dus is dit waar!
In die tweede gedeelte van die gedig roem pres. Reitz die Boervrou, en hou haar voor as voorbeeld aan die mans om te volhard in die stryd - God sal die dwingeland self verslaan! | |||||||
[pagina 118]
| |||||||
Heeltemal van 'n ander aard is De Mielie Pit, wat geroem word vir die nut wat hy in die oorlogstyd vir die burger is: die mielie is goed vir drank en voedsel, tabak, kooigoed, seep en perdevoer! Verder is daar nog gedigte oor De Wet's Krismis-Box, 'n Nederlandse klaagsang op die dood van Commandant Danie Theron, en een op veggeneraal Cornelis Spruyt. Hierdie laaste gedig het in Afrikaans in Ons Klyntji (Febr. 1904) verskyn. Op Colenso het hy 'n oorwinningslied gedig, maar daar lê 'n ondertoon van droefheid in Die Handsupper: met spyt en weemoed noem hy die verskillende soorte van hensoppers op, en dan sug hy: ‘Ja! dierbaar ou Moeder Zuid-Afrika
Di's die zwaarste ramp wat jij moet dra
Dat jou eie-é kinders tegen jou draai,
En burger zijn mede-burger verraai.’
'n Ongekende hoogte bereik pres. Reitz in die treursang Vaarwel aan de Vierkleur. Hier is hy kunstenaar, hier is die diepe smart oor 'n verlore skat, wat na uiting soek. Dit is in Nederlands gestel, maar waarskynlik pres. Reitz se beste digterlike skepping, omdat hy diep ontroerd was: ‘Niet langer mag de vierkleur wapperen,
Met tranen gaven wij haar af.
Zij is met onze dode dapperen
Verdwenen in een eervol graf.
Gelukkiger zijn zij die vielen,
Toen nog die vlag werd opgebeurd,
Dan wij die met bedroefde zielen
Haar zagen in het stof gesleurd ...’
Reitz het dus veral gedig oor alledaagse sake uit die lewe, soos vryery, haastigheid om te trou, die ryk oujongkêrel, spoke. Hier het ons meestal verwerkings in 'n lugtige, geestige trant. 'n Tweede bron van inspirasie is sy vaderlandsliefde en die oorlog. Hier was sy gevoel so fel dat hy nie na voorbeelde gesoek het om sy gedagtes aan vas te knoop nie, maar heeltemal selfstandig sy stof verwerk het. En tog het hulle nie altyd | |||||||
[pagina 119]
| |||||||
dieselfde populariteit geniet as die eerste liedjies nie. Want die eerstes was veral liedjies wat hulle deur 'n groot sangerigheid en gladheid onderskei. Hierdie liedjies is organies goed gebou en die eenheid uitstekend bewaar. Die gedigte (of soos pres. Reitz sê ‘rympies’) daarenteen besit nie dié afgerondheid nie en mis ook die hoë mate van musikaliteit. As ons hierdie gedigte plaas langs die van die Patriot-digters, dan val die afwesigheid van die gelowige, godsdienstige toon, op: trouens dit is opmerklik dat al drie die digters (Reitz, Maskew en Melt Brink) wat buite die Genootskap staan, vir hulle in hierdie opsig afsonder. Hy is 'n egte volksdigter in die goeie sin van die woord: eenvoudig, sonder hoë vlugte van die verbeelding, met 'n maklike geselstoon, soms sterk-dramaties, bv. deur die gebruikmaking van die dialoog; hy beeld baie maklik uit en lewendig personifikasie - die kanon word voorgestel as Lady Roberts); sy beelde ontleen hy aan die onmiddellike boerelewe, en verder stel hy die gedig altyd teen 'n volkse agtergrond en omwaas dit met 'n familiêre, volkse toon en huislikheid, wat selfs verskoning maak vir die skerpheid van sy oorlogsverse. Dit is hierdie nederige menslikheid wat soveel bekoring aan sy werk verleen. | |||||||
(b) C.P. Hoogenhout (1843-1922).Die belangrikste figuur in die Afrikaanse letterkunde vóór 1900 was ongetwyfeld C.P. Hoogenhout. Ongelukkig weet ons nie te veel van sy lewe af nie, want in sy verregaande beskeidenheid wou hy nooit oor homself praat nie. Wat ons wel weet is dat hy op 11 Maart 1843 in Amsterdam gebore is. Hy het sy moeder vroeg verloor, en deur die onsimpatieke behandeling van sy stiefmoeder het hy teen 1860 besluit om na Suid-Afrika te kom. 'n Tydlank was hy klerk op die kantoor van die Nederlandse konsul in Kaapstad. Kort na Pannevis se aankoms in Julie 1866 het hulle twee bevriend geraak en Pannevis het 'n groot invloed op Hoogenhout uitgeoefen, veral wat sy godsdienstige lewe betref. Onder Pannevis se leiding het Hoogenhout sy studies, wat in Holland onderbreek is, voortgesit sodat hy kort voor 1870 onderwyser geword het op Groenberg naby Wellington. Daar het hy gebly | |||||||
[pagina 120]
| |||||||
totdat hy in 1908 met pensioen afgetree het. Op 13 Januarie 1922 is hy oorlede. Van die begin af was Hoogenhout 'n voorstander en voorvegter vir Afrikaans, en hy het 'n groter aandeel in die Genootskap van Regte Afrikaners geneem as wat algemeen erken word. Hy was 'n getroue medewerker van die Patriot en ook redakteur van die letterkundige afdeling. | |||||||
Poësie.‘Die Jacob van Maerlant van die digters in die Afrikaanse taal,’ het pres. F.W. Reitz C.P. Hoogenhout genoem, en hierdie uitspraak bevat baie waarheid, want in baie opsigte is hy die vader van die Afrikaanse digkuns. Van al die digters uit die Eerste Taalbeweging het hy die meeste gedigte gemaak, en sommige van hulle is werklik juweeltjies van volkskuns. Maar wat Hoogenhout se betekenis besonder verhoog, is die feit dat hy as letterkundige redakteur van die Patriot 'n ontsaglike invloed uitgeoefen het op ons eerste digters, want baie van hulle het hy geleer dig, en gedurig maar moes hy die ingesonde gedigte ‘regmaak’ en die digters van raad bedien.
C.P. Hoogenhout is by uitstek die vaderlandse digter wat al die nasionale gebeurtenisse na die hart van sy volk besing het. Hy was hulle tolk. Hoe mooi het hy die ideale van die ‘regte’ Afrikaners nie verwoord in sy bekende volkslied: ‘Waar Tafelberg begin tot vêr in di Transvaal
Woon een verenig volk, - een algemene taal...’
En dan het hy die leeue-aandeel geneem in die opstel van Die Afrikaanse Volkslied: ‘'n Ider nasi het syn LAND,
Ons woon op Afrikaanse strand.
Vir ons is daar gen beter grond
Op al di wy'e wêreld rond.
Trots is ons om di naam te dra
Van kinders van Suid Afrika.’
| |||||||
[pagina 121]
| |||||||
Hoe juis het hy nie die toestand in die Kaap-Kolonie gekarakteriseer gedurende die verengelsingsproses onder die Afrikaners: ‘Engels! Engels! alles Engels! Engels wat jy siet en hoor;
In ons skole, in ons kerke, word ons moedertaal vermoor...’
Daar is weinig gedigte uit die Eerste Taalbeweging wat so dikwels aangehaal word as juis hierdie een.
Al die politieke gebeurtenisse in ons land na 1875 is deur Hoogenhout berym en soms besing. Die verskriklike ramp wat die Britse troepe te Isandlwana op 22 Januarie 1879 getref het, het Hoogenhout diep ontroer in 'n gedig, wat hy eers in Nederlands geskryf en toe in Afrikaans vertaal het: Di Yselike Neerlaag. As ons die twee lesings met mekaar vergelyk, dan vind ons weinig verskil, behalwe wat die taalvorm betref: ‘Vreeselike tyding,
Droefheid, gen verblyding,
Kom uit Sululand.
Laat di klaagstem hore,
In 'n iders ore,
Tot di verste strand.
Oweral.’
Drie jaar vroeër, op 28 Junie 1876, het 'n sekere Badenhorst gesneuwel in die oorlog teen Sekoekoeni. Toe die tyding sy vrou bereik, het sy van verdriet gesterf, en dit het Hoogenhout so aangegryp dat hy 'n gedig gemaak het An die Nagedagtenis van Badenhorst (P., 14 Jan. 1881), waarin hy Badenhorst se dapperheid roem. Die maat is vloeiend en die lied kan gesing word op die wysie van: Aan den oevers van een snellen vliet. Die gebeurtenisse volg mekaar vinnig op sodat ons met spanning lees. Heel tipies is dit dat Hoogenhout met 'n gebed eindig: ‘Skenk vrede, Heer! in ons Transvaal,
Dit bid ons al te saam:
Verhoor, o Vader ons gebed
Ter ere van Uw Naam!’
| |||||||
[pagina 122]
| |||||||
Die Transvaalse Vryheidsoorlog het Hoogenhout saam deurleef, en die hele geskiedenis kan ons in sy gedigte volg. Op elke veldslag het hy 'n gedig gemaak: Bronkers Spruit (P., 4 Febr. 1881); Die Slag van Lange Nek (P., 4 Maart 1881); Die Slag by Schuinshoogte (Ingogo) (P., 8 April 1881) en Die Slag van Magubaberg (Spitskop) (P., 8 April 1881). Ons neem net Die Slag van Lange Nek as voorbeeld. Hoogenhout is erg wydlopig sodat verskillende koeplette uitgeskakel kan word sonder om skade aan die geheel te doen. Eers kry ons 'n bespieëlende inleiding oor Britse ‘dapperheid’ en leuens, dan die voorbereiding in die verskillende kampe vir die kryg: Britse grootpraterigheid teenoor Afrikaanse nederigheid en Godsvertroue. Nou volg 'n lewendige, aanskoulike beskrywing van die veldslag waarin die Boere die oorwinning behaal, en dan roem Hoogenhout die dapperheid van die burgers, en eindelik nooi hy die Britte uit om nou hulle leuens en lasterpraatjies te versprei: Hoewel stoplappe sommige verse ontsier, gebruik die digter soms tog 'n mooi beeld: ‘Soos in die herfs die blare val,
En wegwaai voor die wind,
Val ruim twee honderd Britte daar
Heel spoedig en geswind.’
Met sobere woorde skep hy in 'n goeie oomblik 'n pragtige atmosfeer. Piet Joubert spreek sy manne toe, en dan: ‘Die oge naar omhoog geslaan,
En met die hoofde kaal,
Staat daar die helde in 'n kring,
Die stryders van Transvaal.’
Die digter waardeer veral die ootmoed by die Boere. Nadat hy al die Europese helde opgesom het, kom die nederige woorde: ‘Ons wys bedaard op Piet Joubert,
Wat met 'n kleine mag
Die Britse leger het verslaan,
In Lange Nek syn slag.’
| |||||||
[pagina 123]
| |||||||
En tog was Piet Joubert net so'n held as Napoleon of Wellington! Dit is waar, Hoogenhout is bitsig, sy toorn is ontstoke en hy is vlymend-skerp as hy die Britte hulle leuens voor die kop gooi, maar hy, as troue vaderlander, het genoeg rede daartoe gehad: ‘Bloos nou, als jul nog skaamte het!
Bloos, vuige lasteraars, bloos!
Praat nou van moord en van verraad,
Of swyg tog ver altoos.’
Oorlog bring altyd ellende mee, ook vir die winnende party, en daarom rig Hoogenhout in 'n Smeekstem ver Transvaal (P., 4 Maart 1881) 'n hartstogtelike versoek aan die Afrikaners in die Kaapkolonie om die Transvalers met geldelike gifte te help. Hy speel op hulle gevoel en herinner hulle aan die gewondes wat nie verpleeg kan word nie weens gebrek aan medisyne, of vra aandag vir die kinders wat hulle moeders om 'n stukkie brood smeek. God sien alles en sal hulle beloon: ‘Leef daar één Afrikaan
nog sonder medely?
Is daar één enkel hart,
wat ongeroerd kan bly?
Ag, siet hoe word ons bloed
in strome snood vergote ...
Bid, bid met ons tot God,
geliefde Landgenote.’
An Oom Piet Joubert (P., 25 Maart 1881) is dié tipe rymelary, wat ons nie by Hoogenhout verwag nie. Hy hekel weer die Britse riemtelegramme en noem verskillende voorbeelde vir Oom Piet ‘hoe Jingoes kan lieg.’ By elke geveg ‘Dan word daar vertel:
Jul is na die hel,
Vyf honderd gelyk
Sal nooit weer kom kyk.’
Toe die vrede gesluit is en Transvaal sy vryheid teruggekry het, het Hoogenhout 'n Vredelied (P., 1 April 1881) | |||||||
[pagina 124]
| |||||||
gedig, vol opregte dankbaarheid, ook teenoor God, en in klanke wat aan die Psalms en Gesange laat dink: ‘Vrede! vrede in Transvaal!
Kniel neer.
Loof en dank tienduisendmaal
Roem en prys Syn groote Naam,
Man en vrou en kind te saam;
Spreek met eerbied en ontsag,
Van Syn wondre dag an dag.’
Die Transvaalse Volkslied (P., 5 Aug. 1881) is gedig op die wysie van ‘Wij leven vrij,’ en is weer 'n vreugde-uiting oor die herwonne vryheid: ‘Transvaal is vry!
Geen dwinglandy
Kan ons tot slawe maak.’
Hoogenhout gee 'n vlugtige oorsig van die geskiedenis, en verheug hom dan daarin dat die Vierkleur weer oor die Republiek waai: ‘Geen mag, gen lis, geen politiek
Van Kaffer, Brit, of Jingo-kliek,
Haal ooit die vlag weer neer.’ (bis).
Daar was egter mense in Suid-Afrika wat hulle nie verheug het oor die oorwinning van die Transvalers nie, en daarom maak Hoogenhout ook vir hulle 'n gedig: An Jingoes (P., 9 Sept. 1881). Ongelukkig verval hy so maklik in rymelary wanneer hy die kortreëlige, haas eenlettergrepige verse skryf, miskien op die voorbeeld van Herholdt wat hiermee begin het. Hoogenhout maan die ‘Jingoes’ aan om hulle stil te gedra: ‘Wees liewers soet,
Gedraag jul goed.
Blyf nou mar stil
En sluk die pil,
Jul het geen wil.
Lank was ons Klaas,
En jul was baas
Hou op met raas!’
| |||||||
[pagina 125]
| |||||||
Daar is iets in die lewe van die Afrikaners wat Hoogenhout al baie gekwel het, en daarom rig hy 'n woord An alle Ware Afrikaners (P., 3 Junie 1881): ‘Ek rym maar weer op ouwe trant,
Dan klink dit beter deur die land.’
Hy wil graag weet waarom die Afrikaners tog so verskriklik verdeeld is. Waarom ondersteun hulle nie hulle eie besighede in plaas van om by 'n Jingo te gaan koop nie? En dit terwyl die Jingo's hulle verag! As hulle verryk is, ‘Dan trek hul weer na Jingoland,
Bespot die domme Boer;
En roep hom op die koop nog toe:
“Loop nou mar na jou...!”’
Het ons dan vergeet al die ellende wat hulle Transvaal aangedoen het? Die fout lê uitsluitlik by die Afrikaners, want sonder hulle ondersteuning kan die Jingo's geen besigheid doen nie. In Ons Klyntji moes politiek geweer word, maar Hoogenhout kon nie swyg oor die gemeenheid van die Jameson-strooptog in 1896 nie; daarom gryp die vaderlander na die pen, en soos vroeër in die Patriot gee hy nou (Maart 1896) weer 'n getroue oorsig van die gebeure. In die inleiding moet die ‘Jingoes’ dit ontgeld, soos gewoonlik: ‘Het jy ooit van selewe van so wat gehoor,
Van so'n listige, duiwels Komplot?
As di plan van di Jingoes en Chartered-gespuis?
Mar soe, hul is nou eers verspot!’
‘Die plan stink na wisky, dis dronkmens syn werk,’ sê Hoogenhout, en die samesweerders kan van geluk praat dat Oom Paul so genadig was. Hoogenhout rig die woord direk tot Rhodes en klim hom in: ‘Ja, Rhodes! nes 'n ster het jy hoog in di lug
Gestaan, en ons oge verblind.
En nou is jy stil na Europa gevlug,
A né Rhodes, jy was ni ons vrind!
| |||||||
[pagina 126]
| |||||||
Jy het lank genoeg hiir geraap en geskraap,
En vals met ons nasi gespeel;
Ons het lank genoeg an di skyn ons vergaap:
Die wond word ni lig weer geheel.’
Soos ons eerste skrywers in prosa stories vertel het, so het ook ons digters verskillende vertellings voorgedra, want die Afrikaner luister graag na 'n ‘storie,’ veral as dit van heldemoed en liefdetrou vertel. Baie van die volksverhale is deur Hoogenhout berym, soos Di Besemstok, ‘'n Stori onder ons, Afrikaners, goed bekend.’ Willem Tell bevat ‘'n Oue Storie op nuw berym vir Afrikaanse Kinders.’ Dan is daar nog die sarkasties-geestige vertelling Di Piekni, die verhaal van Hendrik en Lettie, wat ook deur ds S.J. du Toit berym is, en verder die oulike ballade Hendrik en Fidelia, een van die eerste ballades in Afrikaans. Die verhaal is so lewendig gestel en vlot vertel dat dit maklik voorgedra kan word, en ons kan ons voorstel hoe aandagtig die gehoor moes geluister het. Die onderwerp het ook erg in die smaak geval, want Hendrik en Fidelia het as ondertitel: ‘'n Vuurproef, of trouwe liefde word beloon.’ In die inleiding wei die digter eers uit oor liefde en rykdom: ‘Kan geld of goed gelukkig maak?
Nee, liefde en liefde alleen:
Dit is die eenige ware band,
Die maak twee harten een.’
Daar was 'n dogter, Fidelia, wat 'n navolgingswaardige voorbeeld gestel het. Haar ouers was arm, maar sy was 'n baie goeie kind, en het ywerig geleer. Toe sy groter word, het sy egter gemerk dat die jongkêrels haar verbygaan, en as sy miskien op 'n dans was, het hulle haar kamme gladnie raakgesien nie. Tog was daar ‘'n arm maar flukse jonkman,'’ Hendrik, wat haar liefgehad het en gereeld vir haar kom kuier het. ‘En toen hy denk, nou sal ek vra,
Toen draai die sake om.’
Met hierdie mooi wending in die verhaal, vind Hoogenhout die oorgang tot die volgende gebeurtenis. Een oggend | |||||||
[pagina 127]
| |||||||
vroeg het Fidelia langs die spruit gestap en onder 'n boom gaan rus. Nou vind ons een van die weinige brokkies mooi natuurbeskrywing uit dié tydperk: ‘Die son was net pas opgegaan,
Die dauw was op die gras,
Die druppels blink so fraai daaran,
As of dit pêrels was.
Die vogels sing hul morgelied,
Daar ginter bleêr die vee,
Die vissies in die water spring,
Fidelia sing mee.’
Toevallig val haar oog op 'n klippie wat soos 'n diamant lyk; sy tel dit op en toon dit aan haar moeder, wat dit maar 'n kristal noem. Haar vader neem dit dorp-toe, hoewel die moeder bang is dat hy 'n gek van hom sal maak en die mense met hom sal spot. Tog is dit werklik 'n diamant en Fidelia kry daar £8,000 voor. Besoekers stroom toe en ‘Nes vliege by 'n suikerpot,
Kom nou die vryers an;
Jy siet daar an die bome saans
'n Mag van perde staan.
Die grond is glad al stuk gegraaf,
So's al die hengste trap;
Die kerels vind dit nou eers uit:
Fidelia is knap!’
Uit vrees dat Fidelia sal dink dat hy na haar geld vry, bly Hendrik nou weg, hoewel dit hom swaar val. Sy is erg teleurgesteld oor sy afwesigheid, want sy het hom innig lief. Nou maak sy 'n plan: sy strooi die praatjie rond dat daar niks van waar is omtrent die diamant nie. ‘En na 'n week was daar geen een,
Wat meer na haar kom kyk;
“Sy is mar arm,” so praat hul weer,
“Ons dag sy was so ryk!”’
| |||||||
[pagina 128]
| |||||||
Toe Hendrik dit hoor, kom hy Fidelia weer besoek en verklaar haar sy liefde, maar as beloning vir sy trou, vertel sy hom dat hy ook haar geld kon kry. ‘Nou vrinde, leer uit die verhaal:
Dat liefde word beloon,
So's Hendrik en Fidelia
Jul duidlik het getoon.’
In die Patriot het C.P. Hoogenhout ook 'n paar lieftallige minnediggies gepubliseer; sonder diepgang, maar innig en opgeruimd. Daar is die bekoorlike liedjie Uitnodiging an Annie (P., 14 Okt. 1876), en dan die spoggerige minnedig van ‘Cupido’ in Ons Klyntji (April 1898): ‘Daar kom Jan op syn hengsperd an!
Hoe lag Betti nou!
Ower 'n maand gan sy en Jan
Same netjies trou.’
Pronk-pronk ry hy na haar toe en windmakerig gooi hy sy toom vir die Kaffer. ‘Betti geef hy mar 'n hand,
Solang hul dit siin,
Mar is hul eers om 'n kant,
Dan 'n soen of tiin.’
In sy gryse ouderdom het Hoogenhout nog 'n hele reeks minnediggies geskryf, gewoonlik heel lugtig van toon, sonder om diep aangedaan te wees of die wese van die liefde te peil. Soms deel hy net 'n anekdote mee, soos in Effentjies gehaak (17 Mei 1894) of anders vertel die vryer hoe gelukkig hy is, soos in Martje en Ik (Aug. 1897). ‘Oom Piet zijn dochter Martje
Is net die nooi voor mij;
Ik vroeg haar om haar hartje
En ik het dit gekry.’
| |||||||
[pagina 129]
| |||||||
Aan Annie (Sept. 1897) het in Ons Volk verskyn en gee die smeekgebed van 'n verliefde jonkman vir die jawoord. Annie is blykbaar hardhorend: ‘Kyk toch in myn oogen,
Lees wat daarin staat;
Zal jy dan gedoogen
My alleen te laat?’
Een van Hoogenhout se mooiste minnedigte uit hierdie tyd is wel die stemmingsvolle Avondwandeling, waarin die jonkman sy verloofde uitnooi om met hom te gaan wandel: ‘Zoetlief, kyk, die volle maan
Is zoo flussies opgegaan ...
Laat ons langs die waterzoom
Van geluk en liefde droom.’
Hierdie laaste paar gedigte is gehaal uit Hoogenhout se manuskripboeke, want al sy gedigte is nie gepubliseer nie. Nadat hy met ds S.J. du Toit en die Patriot gebreek het in 1891, het hy sy gedigte na Ons Volk (Krugersdorp) en die Express (Bloemfontein) gestuur. Sy skuilnaam was nou nie meer altyd Oom Jan nie, maar soms Cupido, B.J.V.Ga naar voetnoot⋆), Pro Bono Publico, of net sy voorletter H.
Talryk is sy geleenthendsgedigte oor familiefeeste: verjaring 'trou, geboorte, en dan ook lykklagte. Dikwels moes hy hierdie gedigte op versoek skrywe, en altyd het hy iets nuuts te sê gehad. Hy was besonder lief vir naamdigte, en hulle het ongetwyfeld in die smaak geval van die betrokke persone. Hierdie geleentheidsgedigte is byna almal in Nederlands geskryf. Hoogenhout het ook in Duits en Engels gedig.
Ons noem één Nederlandse gedig wat onder Hoogenhout se nagelate papiere gevind is. Dit kan met veiligheid aange- | |||||||
[pagina 130]
| |||||||
neem word dat dit betrekking het op sy eertydse vriend, ds S.J. du Toit: ‘Ik had een vriend, een kerel naar mijn hart;
Ik ben hem kwijt, en schrijf dit neer met smart.
Hij is niet dood - neen, 't blinkend, aardsche slijk
Ontstal hem aan mijn hart; mijn vriend werd rijk!
Op 'n smartvolle, nie-sentimentele wyse, vertel Hoogenhout hoe die verwydering tussen hulle plaasgevind het, en eindig dan: ‘Nu zwerft hij rond - verdween uit mijn gezicht...
Maar, lezer! van dit kreupele gedicht,
Als gij hem ziet, of waar gij hem ook vindt:
Doe aan hem wel! - hy was en blijft mijn vrind!
Die gedig is gedateer 13 Januarie 1892.
Hoogenhout se belangstelling vir Transvaal was nog steeds onverminderd, soos die gedigte in Ons Volk bewys. Baie gedigte is aan Oom Paul gewy. So vra hy op 14 November 1896: Sal hy weer kom? ‘Oom Paul is nou na England toe,
Hul sal hom “goed” ontvang;
Mar reg, as ek Oom Paul moet wees,
Dan was ek daarom bang!
Daar's baing goeje mense daar,
Mar Jingoes is daar meer ...
Ek kan ni help, ek is bevrees
Oom Paul kom nooit ni weer!’
Die afloop van die Tweede Vryheidsoorlog het Hoogenhout diep in die hart gegryp, maar hy het nie geklae nie, want hy het geweet dat sy volk nie sal ondergaan nie. Nee, hy bespot die vyand, soos hy reeds by die aanvang van die oorlog gedoen het. Toe moes die ‘dappere Moneypenny, die held | |||||||
[pagina 131]
| |||||||
van die Star, met 3,000 per jaar’ dit ontgeld. Genietend tergspot Hoogenhout: ‘Moneypenny, Pennymoney
Was jy dan zoo bang?
Het jou broekie al gebeef,
Dat ons jou zou hang?
Is hom hartje dan zoo klein?
Eerst praat jy zoo groot.
Nou jou maters al kom help,
Raak jy in die nood?
Wie het meer dan jy geraas
En die vuur gestook?
Nou dit pas begin te brand,
Vlucht jy voor die rook!
Trek jou rokke toch niet uit,
Want hull' pas jou goed, -
Sies, jou lafhart schaam jou wat,
Toon jy zoo jou moed?
In 1903 deel Hoogenhout in 'n sarkastiese gediggie mee dat lord Milner, of soos hy hom noem: Baas Meulnaar, na Engeland toe is, dog net om te rus, want ‘zyn werk is nog niet klaar.’ Grootpraterig, maar spottend sê hy, dat ons hom ‘graag’ weer terug wil hê: ‘Australia jy kryg hom niet;
Ja, huil maar India!
Jou opperbakker wordt hy niet,
Nog min van Canada.’
In 'n Nederlandse gediggie Krokodilletranen, ‘simpatiseer’ Hoogenhout met Hoggenheimer en die ‘Judasburgers gespuis’ oor hulle vriendjie hulle verlaat het: ‘Laat hem gaan,
Naar de maan
Mijnheren,
En zoo daar Republieken zijn,
Kan hij ze ook annekseren.’
| |||||||
[pagina 132]
| |||||||
Gedurende die laaste jare van sy leeftyd het Hoogenhout nog net huislike gediggies gemaak. Hy was nou die goeie oupa wat gedurig gereed moes wees met 'n verjaarsdagrympie as een van die kinders of jonger vriendjies verjaar. Die gees het nou uit sy gedigte verdwyn en nog slegs die rymwoorde het oorgebly. Daar is 'n definitiewe daling in sy digwerk, en hoewel hy gedurende die Tweede Taalbeweging nog geskryf het, het dit geen vooruitgang beteken nie. Hy bly die Genootskapper in sy poësie, net soos Von Wielligh dit in sy prosa gebly het. Hoogenhout het self gevoel dat sy digterskap ten einde geloop het, want op 13 Augustus 1915 skryf hy Aan Katie op haar verjaarsdag: ‘Aan de wilgen hangt mijn luit
En er komt geen klank meer uit.
Hoe ik vlei of klaag en zucht,
Maar de Muze is op de vlucht.
‘Oude man! gij klaagt voor niet,’
Zegt ze, ‘hoe 't u ook verdriet,
Laat het aan een jong geslacht,
Dat de vreugd nog tegenlacht.
Wens net Katie net geluk,
Heil en zegen zonder druk;
Daarmee kunt ge wel volstaan,
Want uw rijmen is gedaan!’
Dit is die einde van 'n vrugbare lewe, van iemand wat sy volk in sy kinderjare leer dig het, wat elke nasionale gebeurtenis self berijm en na aan die hart van sy volk geleef het. Die vernaamste en produktiefste digter uit die Eerste Taalbeweging was C.P. Hoogenhout. | |||||||
Prosa.Jan Lion Cachet uitgesonderd, is C.P. Hoogenhout die belangrikste prosaskrywer in die Patriot. En nog belangriker: die tweede Afrikaanse prosaboek is deur hom geskryf: Die Geskiedenis van Josef voor Afirkaanse Kinders en Huissou- | |||||||
[pagina 133]
| |||||||
wens (1873), en die eerste Afrikaanse novelle: Catharina, die dogter van die Advokaat (1879). Die kultuurhistoriese betekenis van hierdie boeke is groter as hulle letterkundige betekenis. Sy skrywersloopbaan het Hoogenhout begin met 'n brief in De Zuid-Afrikaan (12 April 1873) oor Die Bybel in Afirkaans, waarin hy 'n verafrikaansing van die Bybel bepleit het. Talryke briewe van hom het in hierdie koerant verskyn, briewe wat 'n groot stoot aan die Afrikaanse Beweging gegee het, net soos sy Gesprekke tusse oom Jan Vasvat en neef Daantje Loslaat in De Zuid-Afrikaan tussen 1873 en 1875. Die eerste proewe van 'n Afrikaanse Bybelvertaling is ook van die hand van Hoogenhout, naamlik Matteus 28. Die handskrif bestaan nog. Maar Hoogenhout het vir goed sy naam gevestig in die Afrikaanse letterkunde met Die Geskiedenis van Josef, 'n klein maar belangrike boekie, want in die Afrikaanse Beweging het hy ook 'n rol gespeel, soos ds S.J. du Toit self getuig in sy Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging, 1880, bl. 42: ‘Ons noem die boekie ook as 'n voorbereiding, en wel in die sin dat dit eintlik die sondebok was wat al die vyandskap moes dra, daar dit die eerste Afrikaanse boekie was.’ In sy voorwoord by die tweede druk (1883) getuig Hoogenhout ook: ‘Dit was di eerste proef in Afrikaans. Ag, wat het di arme Josef oek in Suid-Afrika moet uitstaan; amper net so veul as die held van ons geskiedenis vanselewe in Noord-Afrika! Wat 'n haat en nijd, wat 'n koerantgeskrijf teen di Afrikaanse Josef. En tog, hij leef nog!’ Met die Geskiedenis van Josef wou Hoogenhout die weg oopmaak vir 'n Afrikaanse Bybelvertaling. Hy was pynlik bewus van die feit dat die Afrikaanse kinders die Nederlandse Bybel nie verstaan nie. Daarom het hy een van die mooiste Bybelverhale geneem en dit in eenvoudige Afrikaans vir hulle oorvertel. Weinig mense kon so gemoedelik met hulle gesels as juis Hoogenhout. Baie gou het hy hulle simpatie en belangstelling gewen, en dan luister hulle met oop mondjies. Ook hulle voel jammer vir Josef in die kuil, want hoor hoe speel Hoogenhout op die gevoel: ‘Nou kan julle self begryp hoe of hy daar gehuil het; hoe of hy gesoebat het om tog daaruit te | |||||||
[pagina 134]
| |||||||
kom; en hoe of hy syn hande seer gemaak het om teun die kant op te klim - maar hy kon nie uit nie.’ Af-en-toe neem hy die geleentheid waar om 'n lessie aan die verhaal vas te knoop: ‘Laat ons tog voor die drie sondes van die goddeloose broers van Josef oppas, dat is voor nyt, haat en leuëntaal.’ Die geskiedenis van Josef het vir die kinders 'n lewende werklikheid geword, want in sy entoesiasme het Hoogenhout hulle blywende liefde vir hierdie Bybelheld gewen. Eenvoudige taal het hy gebruik, en die verhaal omwaas met 'n Afrikaanse atmosfeer. Met Catharina, die dogter van die Advokaat, het Hoogenhout die prys verower wat deur die G.R.A. uitgeskryf is vir die beste prosaverhaal. Die ‘Woordjie Vooraf’ is so tipies vir die skrywer, dat ons dit graag hier in sy geheel laat volg: ‘An myn waarde en seer geagte neef Lokomotief.
Ou Neef!
Van tyd tot tyd het jy gevraag: ‘Waar is Klaas tog? Waarom laat hy syn stof nie sien nie?’ Hier is ik! Toen jy 'n Prysvraag uitgeskrywe het, het ik maar die plan gemaak om te perbeer of ik nog kan skrywe. ‘So,’ seg jy dalk, ‘neef Klaas wil geld verdien, hy wil betaling hê.’ Ne, foei, ou neef! dis nie myn bedoeling nie! Om jou te o'ertuige dat ik nie om jou £5 of £10 geskrywe het nie, maak ik jou bekend, as jy myn storie 'n prys mog toeken, dat ik dit dan persent maak an die Afrikaanse saak; - maar ik denk wel dat daar beter stories as myne op jou Prysvraag uitgekom is. Die moet jy dan eerlik betaal; en as myn storie nie na jou sin is nie, stuur hom dan maar terug. As ik miskien hier of daar 'n, of 'n. uitgelaat het, maak dit dan bietjie reg; ook waar ik eenmaal nie in plaas van tweemaal geskrywe het. Beste groetenis an jou vrou en kinders, en verder an al die ooms en tantes, neefs en niggies; wees ook self gegroet van jou steeds andenkende neef, Klaas Waarsegger.’
So gemoedelik as die voorwoord is die verhaal self nie. Inteendeel, dit is ernstig, want Hoogenhout maak sterk propa- | |||||||
[pagina 135]
| |||||||
ganda vir die ‘Afrikaanse saak.’ Hy hekel die verengelste Afrikaner, hy haat hom en dryf die spot met hom; die ‘ware’ Afrikaner daarteenoor verheerlik hy en hou hom as ideaal voor vir die lesers van die novelle. Hy is die troue vaderlander wat die renegaat verag. In die gedigte oor die Transvaalse Vryheidsoorlog het ons Hoogenhout leer ken as 'n vurige patriot; in Catharina openbaar hy hom as 'n vurige propagandis. Dit spreek vanself dat hierdie tendens afbreuk doen aan die letterkundige waarde van die boek, maar daaroor het die skrywer hom nie bekommer nie - as hy maar sy volk 'n diens kon bewys, as hy hulle oë maar kon oopmaak vir die nasionale gevare wat hulle bedreig, dan was hy tevrede. As een van die grootste gevare wat sy volk met algehele ondergang bedreig het, het hy die toenemende verengelsing beskou. Daarom laat hy 'n verengelste advokaat optree in sy novelle, en stel teenoor hom sy eie dogter wat die tradisies van haar volk nie vir 'n pot lensiesoep wou verruil nie. Die verhaal is heel eenvoudig: Advokaat X wat homself as 'n Engelsman voordoen, voer 'n rojale lewe en hou gedurig feeste om sy Engelse vriende te onthaal. Sy dogter Catharina gaan by Oom Jan M. op die plaas kuier, en hy met sy familie word vir ons voorgestel as die ideale Afrikaners wat hulle taal en tradisies respekteer. Sy seun David raak verlief op Catharina en hulle verloof hulle aan mekaar. Maar nou kom die moeilikhede. Toe Catharina terug is by haar ouers, onderskep die advokaat David se briewe en belet die verhouding. Hulle korrespondeer nou skelmpies. David gaan op 'n smoustog na die Noorde, en terwyl hy weg was, speel die advokaat bankrot. Sy mooiweervriende verlaat hom en heeltemal versag, gee hy sy toestemming tot Catharina se huwelik met David. Dit is 'n liefdesverhaal, maar die liefdesgeskiedenis word net deur die skrywer gebruik om die kontras daar te stel tussen die verengelste en die ware Afrikaner. Sy gedagtes omtrent die Afrikaanse kultuurstryd knoop Hoogenhout vas aan hierdie liefdesgeskiedenis. Breedvoerig beskryf hy ons die huishouding van die advokaat, wat trots daarop was dat hy deur vername Engelse as 'n Engelsman beskou is. ‘Stellig was dit meer as eens syn wens dat hy waarlik Engelsman was; maar syn naam | |||||||
[pagina 136]
| |||||||
kon nie goed verengels worde nie.’ Na aanleiding van die feit dat Catharina haar op die plaas soms 'n Engelse woord laat ontglip, roep die skrywer uit: ‘Helaas! hoe die gees al meer en meer in ons land begin te heers dat Engels te ken, die toppunt van geleerdheid is!’ Oor die Engelsgesinde predikant in die Vrystaat wat die hele dorp probeer verengels, wei Hoogenhout omslagtig uit en stel hom so veragtlik voor dat die leser nie anders kan as om 'n afsku in die predikant te kry nie.
Ds S.J. du Toit het die novelle dus goed gekarakteriseer in sy Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging, 1880, bl. 75: ‘Die verhaal op sig self is nie bisonder boeiend nie; maar dis deurdronge van so'n eg patriottise Afrikaanse gees, dat dit al 'n dojerige Afrikaner moet wees wat dit nie met smaak lees nie.’
Soos reeds aangestip, die dikgesmeerde tendens het Catharina, die dogter van die Advokaat, as letterkundige werk verongeluk. Die advokaat is 'n slegte persoon, David 'n waardige Afrikaner en Catharina 'n skat. Ons het hier geen mense van vlees en bloed nie; hulle innerlike bly vaag en vreemd, want ons leer hulle net na die uiterlike ken. Romanties is die beskrywing van Catharina met haar ‘helder blouwe, sielvolle oge.’ Die lang uitweidings versteur die objektiwiteit van die verhaal en verbreek die eenheid, sodat die bou nie heg is nie. Waar ons op hierdie letterkundige gebreke wys, is dit nie om ons eerste novelle te verkleineer nie, maar om duideliker te toon dat ons die betekenis van hierdie boek veral in die kultuurhistoriese moet soek.
'n Derde boek van Hoogenhout kenmerk hom weer as die ware kindervriend: Eerste Afrikaanse Printjies Boeki ver Soet Kinders (1879). Hier tree hy op as die goeie onderwyser wat aan die jeug kosbare raad wil gee op hul lewensweg. Hy doen dit nie doelbewus nie, want dan weet hy, sal hy hulle afstoot. By elke ‘prentjie’ het hy 'n verduideliking en stilletjies knoop hy dan 'n nuttige lessie daaraan vas. Hy waarsku hulle teen 'n reeks ‘Skadelike Dinge,’ waaronder biljartspel: ‘Né, kinders! pas op ver biljart tafels in die hotels! Van die soort vrolikheid kom olikheid.’ Maar hy vertel hulle ook van mooi | |||||||
[pagina 137]
| |||||||
dinge in die lewe, dinge wat die mens veredel, soos musiek en blomme. In 1885 het 'n tweede uitgaaf van hierdie Printjies Boeki verskyn, en in die inleiding maak Hoogenhout die geestige opmerking: ‘Daar moet glo regte baing soet kinders in ons land wees; want di eerste uitgawe... was een, twe, dri uitverkog.’ Aan verskeie boeke deur ds S.J. du Toit uitgegee, het Hoogenhout meegewerk, maar die vernaamste is wel: Die Geskiedenis van ons Land in die Taal van ons Volk (1877). Hoogenhout het ook verskillende boeke vertaal, waarvan die meeste van godsdienstige aard is, soos Die Wege des Heeren met George Muller (1882), en Di Vinger Gods en sewe andere verhale (1884), - die laaste in samewerking met E.J. du Toit, volgens 'n aantekening van C.P. Hoogenhout self. Ons noem nog De Watergeneeskunde (1882) en sy rekenkundeboekie: Uw en mijn Cyferboekje (1882).
Hoogenhout is 'n skrywer wat by voorkeur vaderlandse stof behandel, maar hy het ook huislike geleentheidsgedigte geskryf. In almal kom 'n sterk godsdienstige (Calvinistiese) lewensgevoel uit, en 'n klein aantal gedigte behandel ook godsdienstige temas. Uit hierdie nasionaal-Christelike houding is al sy werk te verstaan.
Hoogenhout is ook opvoeder, nie net van die jeug nie, maar ook van grootmense. Hy lig graag voor, en dit gee aan al sy werk 'n didaktiese en stigtelike kleuring. 'n Mens kan nie help om dikwels die stem van die onderwyser uit sy werk op te vang nie, net asof hy onbewus aan kinders dink. Josef en sy Printjies Boeki is ook uitsluitlik vir kinders bedoel. In sy geskiedkundige gedigte vermeld hy graag alle historiese besonderhede, net soos iemand in 'n les sal doen, en wanneer hy sy aanklagstukke skryf, wend hy hom direk tot die persone en spreek hulle gebiedend-bevelend aan: ‘Hou op met raas!’ Tog bly hy 'n liefdevolle leermeester, wat met simpatie bestraf, wanneer hy die woord tot sy eie volk rig.
Hierdie Afrikaanse Jacob van Maerlant is veral 'n praktiese man, wat nie na hoë kuns gestrewe het nie, maar op eenvoudige, heldere manier sy gedagtes uitgedruk het, op 'n | |||||||
[pagina 138]
| |||||||
baie onpersoonlike, ongeïndiwidualiseerde wyse. Eintlik is sy taalgebruik, hoewel suiwer en sober, tog die minste deurtrek met die gees van die Afrikaanse veld. | |||||||
(c) S.J. du Toit (1847-1911).Ná Hoogenhout is die belangrikste en gaafste digter en skrywer uit die Eerste Periode, ds S.J. du Toit, ‘die eensame Ismael.’ Hy was sonder twyfel 'n buitengewone mens. Uit sy hele persoonlikheid blyk dit dat hy 'n gebore leier was. Hy het 'n merkwaardige insig besit in die omstandighede rondom hom, maar hy was nie soos die Nederlandse digters wat hy so vurig bewonder het, naamlik Bilderdyk en da Costa nie: hy was die praktiese mens. Die Hollandse digters was boetprofete wat vae ideale op teatrale wyse verkondig het, terwyl ds Du Toit die vermoë besit het om sy ideale in praktiese werke om te vorm. Hy was die leier van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, maar ook op die gebied van die belletrie het hy in baie opsigte die leiding geneem.
Ds S.J. du Toit is op 9 Oktober 1847 in Daljosafat gebore en hy het sy eerste opleiding aan die Paarlse Gymnasium ontvang. Sy leermeesters, ds G.W.A. van der Lingen, en ook dr Arnoldus Pannevis, het feitlik vir ds Du Toit gevorm en hom voorberei vir die werk wat hy later so suksesvol sou aanpak. Na 'n vierjarige kursus aan die Kweekskool op Stellenbosch, is hy as predikant in die Ned. Geref. Kerk toegelaat. Vanaf 1875 tot 1881 was hy in die gemeente Noorder-Paarl werksaam. Hier het hy die G.R.A. gestig met die Patriot as orgaan, en vanaf 1879 het hy hom beywer vir die oprigting van die Afrikanerbond. In 1882 is hy deur die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek aangestel as Superintendent van Onderwys. Saam met genl. Smit en pres. Kruger het hy in 1883 deel uitgemaak van die Transvaalse Deputasie na Engeland. In 1890 keer hy weer terug na die Paarl nadat hy al sy besittings in goudspekulasies verloor het - ongeveer £140,000. Hy tree nou openlik op as redakteur van die Patriot, en later van Ons Klyntji (1896-1906), Ons Taal (1907-1909), en van godsdienstige tydskrifte. Hy wy ook baie aandag aan die Afrikaanse Bybelvertaling. Op 28 | |||||||
[pagina 139]
| |||||||
Mei 1911 is hy oorlede. Dit vorm net 'n paar uiterlike besonderhede uit ds Du Toit se veelbewoë loopbaan. Totius sê in die biografie van sy vader dat ds S.J. du Toit die rus en tyd nie gehad het om goeie gedigte te skryf nie, want sy lewe was te bedrywig. Maar 'n uitleg soos hierdie sê nie veel nie, want al sou ds Du Toit die tyd gehad het, dan glo ons nie dat hy belangrike woordkuns sou gelewer het nie, want hy. en sy hele geslag het, wat poësie betref, o.a. nog te sterk gestaan onder die invloed van Bilderdyk en Da Costa. Van die vernuwing wat die Tagtigers gebring het, het hulle niks geweet nie. Dr G. Dekker het die letterkundige werk van ds S.J. du Toit mooi gekarakteriseer met 'n aanhaling uit Huet oor Bosboom-Toussaint: ‘(Zijn) geest is grooter dan (zijne) kunst, zijn fantasie magtiger dan zijne pen, zijn raadvermogen sterker ontwikkeld dan zijn talent van boetseeren.’ En in mindere mate voel ons ook hier dat ‘“(hij) in niets doet denken aan eene middelmatigheid”.’ | |||||||
Poësie.Een van ds Du Toit se eerste gedigte in Afrikaans is Die Afrikaanse Taal. Dit het verskyn voor in Eerste Beginsels van die Afrikaanse Taal en ook in die Patriot (15 April 1876). As gedig is dit miskien sy swakste, omdat die verbeelding ontbreek en die verstand spreek - die rymwoord gee die deurslag. Sy doel is om Afrikaans aan te prys. Mooi vir die inhoud en die kinderlikheid is die volgende rympie van ds Du Toit oor Afrikaans: Sonder ons taal kom ons nie klaar (P., 25 Sept. 1885). Vir die Transvaalse saak het hy 'n daadwerklike belangstelling gehad. In die Patriot van 9 Febr. 1877 het hy reeds gewaarsku teen die konfederasie-voorstelle van Engeland: ‘Daar kom 'n stem uit Engeland.
Pas op!
“Transvaal, geeft ons die broederhand!”
Pas op! Pas op!
Die stem klink mooi en soet;
| |||||||
[pagina 140]
| |||||||
Dis alles wel en goed;
Mar pas op wat jul doet.
Let jul nie op,
Dan's jul gefop.’
Na die oorwinning by Langnek tydens die Eerste Vryheidsoorlog, skryf ds Du Toit 'n waarskuwende gedig vir Engeland: Dit is Gods Vinger (P., 4 Maart 1881), want God stry aan die kant van die Transvalers, sê hy.
Toe in 1881 die vrede gesluit is, was daar 'n stroom van vryheids- en volksliedere, maar die beste gedig is waarskynlik die Transvaalse Vryheidslied (P., 6 Mei 1881) van ds S.J. du Toit, omdat hier werklike digterlike besieling spreek, omdat ontroerde gevoel hier aanwesig is, omdat dit nie rymelary nie maar suiwer poësie is. Eg is die vreugde van die digter oor die vrede. Dr Lydia van Niekerk loop in die wolke oor hierdie lied ‘dat als nationaal lied in vele opzichten de voorkeur had kunnen verdienen boven “Kent gij dat Volk” van Catharina van Rees’ (t.a.p., 1916, bl. 91). ‘Die vierkleur van ons dierbaar land,
Die waai weer o'er Transvaal,
En wee die Godvergeten hand,
Wat dit weer neer wil haal!
Waai hoog nou in ons heldre lug,
Transvaalse Vryheidsvlag!
Ons vyande is weg gevlug;
Nou blink 'n blyer dag.’
In Ver Moeders is S.J. du Toit die predikant wat die moeders waarsku om die ontwikkeling van hulle kindertjies in die regte rigting te stuur. 'n Paar minnediggies het ds Du Toit ook vervaardig. Die eerste een is wel 'n vertaling van Longfellow se Beware!, wat op sy beurt weer 'n vertaling is van Hüt' du dich, 'n volksliedjie uit Des Knaben Wunderhorn. Du Toit noem sy vertaling Kerels, pas op! Dit het eers in die Patriot verskyn en ook in Th.M. Tromp se Herinneringen uit Zuid-Afrika. Dit is op musiek geset deur P.A. van Ant- | |||||||
[pagina 141]
| |||||||
werpen. Die vertaling het heeltemal 'n Afrikaanse kleur aangeneem. Guitig is die toon: ‘Ek ken 'n mysie, mooi en klein,
Pas op!
Nou is sy grof, net nou weer fyn,
Pas op! pas op!
Betrou haar nou,
Dan fop jy jou.’
Die lugtige toon in Janni, trou gen vreemde Vrou (P., 13 Junie 1884), is bekoorlik, al speel die rymwoord 'n te grote rol. Hendrik en Letti is 'n verhaal uit die Transvaalse Vryheidsoorlog, en is ook berym deur C.P. Hoogenhout. Oor die geheel moet ds Du Toit se beryming seker onderdoen vir die sobere vertelling van Hoogenhout, maar aan die ander kant maak Du Toit gebruik van 'n groot metriese verskeidenheid, wat die afwisseling in die verhaal-trant besorg. Ook gee Du Toit 'n breër agtergrondskildering, wat tref deur mooi digterlike segging:
‘Na Langnek! Na Langnek!’ so klink deur Transfaal...’ Die galop van die perde klink duidelik uit die ritme van die strofe op.
Van jongs af het Hendrik en Lettie mekaar bemin, maar skaars was hulle getroud of die Eerste Vryheidsoorlog breek uit. Hendrik voeg hom by genl Smit. Die aand voor die slag versoek hy sy neef om sy lyk te gaan haal as hy miskien sneuwel, en om sy vrou te vra om hulle kind, wat nog gebore moet word, ‘reg’ op te voed: ‘So moet Letti ook myn kind
By syn faders graf dit leer:
Teen di Britte haat inprint;
Laat hom op myn graf dit sweer:
Nooit di Britse mag te eer.’
Dit gebeur dan so dat Hendrik die volgende dag sneuwel en sy neef voldoen aan die versoek. Die verhaal is op waarheid gebaseer. Letti was 'n suster van genl Nic. Smit, en haar man 'n sekere Hendrik Pretorius. | |||||||
[pagina 142]
| |||||||
Tevergeefs het ds Du Toit Hendrik se weduwee die hof gemaak: ‘Fele minnaars is gekome,
Om haar liifde weer te win:
Mar tot nogtoe was s' onfatbaar
Fer 'n twede huweliksmin:
In haar faders huis begeer,
Sy haar jongske en niks meer....
Min 'n trouwe hart één keer,
En dan hiir op aard nooit weer?....’
In Sambesia (1895) het daar van ds Du Toit 'n hele paar Afrikaanse gedigte verskyn, soos die Litji van 'n Voortrekker, Di Klaaglitji van di Os, en dan een van ds Du Toit se mees verdienstelike gedigte: Nag en Dageraad in Matabeleland. Hoe sterk is sy verbeeldingskrag nie hier nie, al is hy nie by magte om sy visioen te verwoord nie; die woorde het sy magtige siening ontwyk. Dis belangrik dat so'n gedig vóór 1900 geskryf is, want dit was iets anders as die rympies uit dié tyd.
Ds Du Toit het op 'n heel grappige wyse vertel Hoe di Hollanders di Kaap ingeneem het (O.K., Des. 1897). Dieselfde realisme en vlotheid wat die kenmerk is van die inboorling se verhaalwyse, vind ons terug in hierdie gedig. Ds Du Toit het hom in die plek gestel van Ou Danster, die Griekwa. Ook die Griekwataal het hy nageboots. Die geskiedenis is natuurlik nie korrek nie, maar daaroor maak 'n Griekwa hom nie moeg nie; hy is selfs gewillig om te sweer ‘so waar as waar di waarhyd is’ dat hulle vroeër by die see gebly het. Lewendig en vlug van handeling is die vertelling. Hoe kostelik is die beskrywing nie van die seilskip wat sy bootjies laat afsak: ‘Toen fou di ding syn flerke op,
En hy ge' klyntjiis af, een kant;
En ons hou toen fer hom mar dop,
Hy ge' meer klyntjiis, ander kant,
Hul sak af o'er di rant.’
| |||||||
[pagina t.o. 143]
| |||||||
[pagina 143]
| |||||||
Prosa.Die eerste proewe van ons prosakuns staan op 'n hoër plan as die poësie, al is die meeste werke heeltemal in die gees van die verteller geskrywe, soos Die Geskiedenis van Josef deur Hoogenhout. Maar op prosagebied blink ds Du Toit uit, nie as 'n groot kunstenaar nie, maar as 'n besonder bekwame joernalis wat sy lesers boei deur 'n persoonlike styl en 'n vaardigheid in uitdrukking. Die Geskiedenis van ons Land in die Taal van ons Volk is die derde boek wat deur die G.R.A. uitgegee is (1877), maar ds S.J. du Toit, C.P. Hoogenhout en Gideon Malherbe het reeds vóór die stigting van die G.R.A. daaraan begin skryf. Ons weet nie wie almal aan hierdie boek meegewerk het nie, maar die hoofbewerker was ongetwyfeld ds S.J. du Toit.Ga naar voetnoot⋆) In 1895 het 'n tweede druk verskyn wat tot daardie jaar bygewerk is deur dr J.D. du Toit; die spelling is ‘gemoderniseer.’ Die doel met hierdie geskiedenisboek, deel ds Du Toit ons mee (Geskiedenis van die Afr. Taalbeweging, 1880, bl. 67-68), was om 'n nasionaliteitsgevoel op te wek by die Afrikaanse volk, waarin hulle dan ook grotendeels geslaag het blykens die menigte van getuienisse. Hy het gehoop dat 'n goedkoop uitgawe moontlik sou wees ‘om ons kinders van jongs af bekend te maak wat hul vaders al deurgestaan en gely het in die land waar vreemdelinge ons nou wil vertrap.’ Die skrywers probeer gedurig die bronne aangee, ook as hulle lang gedeeltes aanhaal uit een of ander boek of dokument, bv. die Dagverhaal van Jan van Riebeeck, die Berichten van Kitchener, die Dutch Reformed Church in South Africa van John McCarter; Wilmot en Chase, Tancred, ens. Na die beskrywing van die slag van Boomplaas, laat die skrywer volg: ‘Die berig wat ons gege het is van een wat daarby was, wat as kommandant geageer het, en wat die beste in staat was van enigeen om een verslag te ge’ (bl. 196). Telkens weerlê hulle die bewerings van Engelse geskiedskrywers, veral waar dit die eer van die Afrikaners geld. Dit is duidelik dat hierdie Geskiedenis nie 'n wetenskaplike werk is wat objektief ge- | |||||||
[pagina 144]
| |||||||
skrywe is nie, maar meer bedoel was as 'n volksboek. Daarom is die toon gemeensaam, gesels die skrywers op 'n onderhoudende wyse met hulle lesers, en gee hulle telkens hulle persoonlike opinies omtrent 'n sekere saak. Die Afrikaanse gees straal deur die hele werk. As 'n stuk letterkunde is daar baie in dié geskiedenisboek wat ons kan waardeer.
As ds Du Toit se belangrikste boek in baie opsigte kan ons beskou die Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging ver vrind en vyand uit publieke en private bronne, bewerk deur 'n lid van die Genootskap van Regte Afrikaners. Dit is oorgedruk uit die Patriot in 1880. In 1909 het 'n tweede druk gevolg met 'n waardevolle lys van Afrikaanse boeke wat in die Paarl uitgegee is tussen 1876 en 1895, hoewel hier heelwat foute is met betrekking tot die datums en skrywers.
Soos die titel reeds aandui, is dit in baie opsigte propagandisties, want dit moes vir die ‘vrind’ dien tot 'n verdere spoorslag, en dit moes ook probeer om die ‘vyand’ tot oortuiging te bring van die deugdelikheid van Afrikaans as spreeken skryftaal van die Afrikaners. Die hele boek is in 'n optimistiese toon geskrywe, want in 1879 het dit nog baie voorspoedig gegaan met die Afrikaanse Taalbeweging, het ds Du Toit nog die vertroue en agting van die ‘ware’ Afrikaners geniet. Wat hierdie Geskiedenis veral sy waarde gee, is dat ons hierin afgedruk vind die vernaamste dokumente wat betrekking het op die voorgeskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging.
In Alweer op Reis (1886) het ds Du Toit 'n noukeurige verslag gegee van al sy ervarings as lid van die Transvaalse Deputasie na Europa in 1883-1884. Hy doen dit in so'n opgewekte gees dat ons al genietende lees. Spelenderwyse het ds Du Toit sy volk baie omtrent Europa geleer.
Ds S.J. du Toit het in alles belanggestel. Toe hy die Kersfees- en Nuwejaarsnommers van mnr Stead se Review of Reviews in die hande kry, wat net gewy was aan ‘Real Ghost Stories,’ het hy dadelik besluit om dié stories in Afrikaans te vertaal vir die lesers van die Patriot, en daarna verhale te gee van verskynings in ons eie land. Verder as die vertalings het dit nie gekom nie. In 1892 is die verhale in 'n | |||||||
[pagina 145]
| |||||||
aparte boekie uitgegee onder die titel Werklike Geesverskynings. Di Koningin fan Skeba, die eerste Afrikaanse historiese roman, het in Ons Klyntji verskyn vanaf Maart 1896 tot Mei 1898. Die plan om 'n historiese roman te skryf, is egter reeds in 1894 gebore toe ds Du Toit saam met mnr Gideon Malherbe 'n reis na Rhodesië gemaak het. Daarom moet ons eers Sambesia, of Salomo's Goudmijnen Bezocht in 1894 (Paarl, 1895) lees om Di Koningin fan Skeba ten volle te verstaan. Die eerste deel is 'n verslag van die reisgeselskap se ondervindings, en hierdie deel is belangrik vir spanning, want ons is gejaagd om te weet of hulle by die berg Afoer sal uitkom, en wat in dié berg is. Hulle het reeds moeilik aan die dood ontsnap toe die Kaffers die ingang tot die Simbabwe-ruïnes toegestop het. In die eerste deel kry ons ook suiwer realisme - die voortsetting van 'n letterkundige stroming wat met die novelles oor die verskillende ‘Duiwels’ van Jan Lion Cachet begin het. Die tweede deel bevat die inhoud van die geskiedrolle wat in die berg ontdek is, en hiermee begin dan eintlik die historiese roman, wat egter voortdurend afgewissel word deur die geselskap se ervarings en verdere ontdekkings. Ds Du Toit se roman het 'n geweldige opset, waarmee hy groot situasies omspan. Die bou is helder, maar eienaardig - dis tweeledig, want dit omvat 'n reisbeskrywing wat die verhaal se realisme gee, en 'n historiese roman wat die romantiek bring. Die verband tussen die twee verhale is die vertaler se rol. Die skrywer gee telkens net genoeg van elke verhaal om ons belangstelling gaande te hou, en dan is die oorgang van die een verhaal na die ander so natuurlik dat ons dit nouliks merk. Hulle word ook saamgevleg deurdat die geselskap elke keer die voorgelese deel bespreek en toets aan die Bybel en die uitkomste van die wetenskap. Die wetenskaplike idee maak die roman soms wel ongenietbaar. Waar ds Du Toit hom op sy verbeelding verlaat, skryf hy vlotweg en soms streef hy na digterlikheid, bv. as hy die Sonfees beskryf. Dit is wel die mooiste episode in die boek. Hy probeer nie om ‘mooi’ te skrywe nie, maar as hy soms 'n beeld gebruik, tref dit ons om die juistheid daarvan. Sy taal | |||||||
[pagina 146]
| |||||||
is deurgaans suiwer en natuurlik, terwyl die dialoog ons boei omdat dit lewendig is en spontaan kom. In sy strewe om ‘die oude tijden te doen herleven,’ soos ons dan ook van 'n historiese romanskrywer verwag, het ds Du Toit sekerlik nie geslaag nie, want ons weet heel weinig van die maatskaplike lewe van daardie tyd, behalwe wat hy ons bewus vertel. Ook sy tweede doel het hy nie bereik nie: ‘en vooral hopen we u dan te doen beseffen, dat in die ouden ook menschen waren, die leefden, gevoelden, beminden, haatten, vreugde en smart kenden evenals wij.’ Hy vertel ons van hulle liefde en angs, maar nêrens is daar 'n poging om enige emosie te vertolk nie. Selfs die Koningin van Skeba is niks meer as 'n figurant nie - ons hoor net van haar uiterlike lewenservarings, haar sielelewe ken ons nie. Ook die karakters van die reisgeselskap bly vaag, hoe ons ook al probeer om elkeen as 'n aparte persoonlikheid voor te stel. In 1898 is Di Koningin fan Skeba in boekvorm uitgegee deur die firma D.F. du Toit en Co., Paarl. Die tweede druk het in 1921 verskyn by die Nasionale Pers, Kaapstad, en die baie herdrukke daarna bewys die gewildheid van die eerste Afrikaanse historiese roman. Ds S.J. du Toit is die eerste Afrikaanse skrywer wat aldrie genres beoefen het: prosa, poësie en drama. Die eerste gespeelde en gedrukte Afrikaanse toneelstuk vóór 1900 is geskryf deur ds Du Toit: Magrita Prinslo of Liifde getrou tot in di Dood (1896). Dit is vir die eerste maal opgevoer in die Paarlse stadsaal in Januarie 1897 tydens die Afrikaanse Taalkongres. In 1919 is Magrita Prinslo in 'n nuwe verwerkte vorm deur dr S.P.E. Boshoff in die lig gegee. Dis 'n historiese toneelstuk uit die tyd van die Groot Trek, maar 'n drama in die eintlike sin van die woord is dit nie. Dit bestaan uit dertien verskillende taferele wat nie logies aaneengeskakel is tot 'n hegte eenheid nie, maar mekaar gewoon opvolg sonder enige verwikkeling. Die toneel word van die een plek verplaas na die ander. Die skrywer gee ons wel 'n oorsig van die geskiedenis, maar dis nog onverwerkte stof. Die persoon wat al die taferele tot 'n mate saambind is Magrita Prinslo, want haar ervarings op Trek word vir ons voorgestel. Natuurlik is die vernaamste motief 'n liefdesge- | |||||||
[pagina 147]
| |||||||
skiedenis, wat egter ook nie tot 'n dramatiese verwikkeling voer nie. Ds Du Toit gee heel weinig karaktertekening. Hy het die skoonste geleenthede gehad om Magrita Prinslo se sielelewe aan ons te openbaar, maar hy het sy geleenthede laat verbygaan. Die ander karakters is ook blote figurante wat die skrywer af-en-toe nodig het vir sy historiese agtergrond. Die toeval vergemaklik die skrywer se taak, want die toeval is tot alles in staat, en juis op die kritieke moment verskyn die deus ex machina, Pieter Botha. Magrita Prinslo ontroer ons nie deur letterkundige skoonheid nie, maar toe dit vir die eerste keer opgevoer is, moes dit die Afrikaners met trots vervul het. So skryf dr J.D. du Toit (Ds S.J. du Toit in Weg en Werk) na aanleiding van die eerste opvoering in die Paarl: ‘Dit was 'n heerlike aand. Die stadsaal was propvol en g'n een het onbewoge vandaar gegaan nie.’ Na sy terugkeer uit Transvaal het ds S.J. du Toit onnasionale politieke beskouings begin huldig, en hy het hulle ook gedurig in die Patriot en De Getuige verkondig. Hy het baie vyande gemaak, en moes veel smaad verduur. Dat dit vir hom, die leier, bitter moes gewees het om te sien dat hy nie gevolg word nie, kan ons begryp. Dat hy ontlasting moes soek vir sy opgekropte gevoelens, is verstaanbaar, en daarom het hy 'n roman in Ons Klyntji (Mei 1900 tot Jan. 1902) geskryf waarin hy sy politieke idees verkondig het. Hy het karakters geskep om namens hom die woord te voer; hy het die roman tot 'n slot gevoer soos hy die einde van die oorlog voorsien het: van dapper republikeine het hy lamsakkige, maar lojale onderdane van die koning gemaak. Die liefdesgeskiedenis is maar iets bykomstigs - dit dien slegs as kapstok vir ds Du Toit om sy politieke beskouings daaraan op te hang. Dit is dus 'n tendensroman en alles word aan die tendens ondergeskik gemaak. Die skrywer het geen beswaar om met lang uitweidings die gang van die verhaal te onderbreek nie. Liifde in Oorlog is die naam van die roman. Waarskynlik om vooroordeel te vermy, het ds du Toit dit nie met sy naam onderteken nie, maar dit ly geen twyfel dat hy die skrywer is nie. | |||||||
[pagina 148]
| |||||||
Die tendens het die roman verongeluk, maar die tendens het sigself ook vernietig, want selfs die ‘lojale’ leser is nie blind vir ds Du Toit se bedoeling nie, en in plaas dat hy simpatie wek, stoot hy af. Danie se skielike verwording kon die skrywer nie regplooi nie: die hele handeling is ongemotiveerd.
Ook uit 'n kunsoogpunt staan hierdie roman vér benede Di Koningin fan Skeba. Die objektiwiteit van die verhaal word telkens versteur; daar is geen indringing in die karakters se sielelewe nie, want hy ‘trek liewers 'n sluier’ oor 'n gebeurtenis wat hom die geleentheid gee om hulle innerlike lewe te openbaar. Al die gebreke van 'n tendensroman kleef aan Liifde in Oorlog.
As sy groot lewenswerk het ds Du Toit beskou: die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Tot aan sy dood was hy daarmee besig. As voorarbeid het hy in 1889 uitgegee: Di Bybel in Afrikaans. Dri Proewe. In 1893 volg Genesis, 1895 Matteus, 1898 Di Openbaring fan Jesus Gristus en in 1907 Di Psalme. Hooglied en Handelinge is nooit in aparte boeke gepubliseer nadat hulle in Stemmen des Tijds verskyn het nie.
Algemeen gesproke kan ons sê dat ds Du Toit se vertalings van Bybelboeke nie groot ingang gevind het by die Afrikaansgesindes nie. Die vernaamste oorsaak hiervan is wel dat die volk nie die behoefte gevoel het aan 'n Afrikaanse Bybel nie. Dan was daar 'n neiging by ds Du Toit om te na te kom aan die gewone volkstaal. Hy besig woorde en uitdrukkings wat 'n mens in die begin, totdat jy eers daaraan gewoon is, geweldig sal hinder. Psalm 23 vers 4 is bepaald plat: ‘...want U is met my; uwe knopkiri en wandelstok fertroos my.’
Maar afgesien van die plathede het ds Du Toit tog dikwels daarin geslaag om in die gees te kom van die Statevertaling; hy het die verhewe eenvoud van styl oor die algemeen behou.
Ds Du Toit het 'n groot aantal godsdienstige werke in Nederlands geskryf, maar ook twee in Afrikaans: Bybelse Vrage en Antwoorde (1897) en Handboek ver Godsdiins Onderwys op di Skool, in di Katkesasie, by di huis (1892). | |||||||
[pagina 149]
| |||||||
(d) Arnoldus Pannevis (1838-1884).Pannevis se groot betekenis lê in die aandeel wat hy geneem het in die Afrikaanse Beweging, en tog het hy ook gedigte in Afrikaans geskryf. Arnoldus Pannevis is op 16 Februarie 1838 in Ouderkerk, Holland, uit 'n deftige burgerfamilie gebore. Sy vader was 'n mediese dokter en ook hy het in die medisyne gaan studeer aan die ‘School voor Rijks Zeemacht,’ en op 1 Augustus 1859 is hy aangestel tot ‘Officier van Gezondheid der 3de klasse bij de Koninklijke Nederlandsche Zeemacht.’ Hy het dit nie lank volgehou as skeepsdokter nie, want op 31 Oktober 1861 het hy eervol ontslag gekry ‘op grond dat zijn ziels-toestand hem ongeschikt maakt, om in zijne betrekking aan boord van Schepen te dienen.’ Nou het hy in die lettere gaan studeer en op 13 Januarie 1864 sy kandidaatseksamen afgelê. Hy het 'n deeglike kennis van die klassieke tale gehad en was verder goed bekend met die vernaamste Europese tale. Reeds as sestienjarige seun het hy plan gemaak om na Suid-Afrika te kom toe hy gehoor het van die gebeurtenisse in die Vrystaat tussen 1848 en 1854. Hy kon dit nie veel dat die Hollandse nasionaliteit daar so verdring is nie. ‘Hij was trouwens zijn leven lang afkerig van zulke Afrikaners, die zich hun afkomst en moedertaal schaamden.’Ga naar voetnoot*) Op 11 Julie 1866 het hy in Kaapstad geland. In 'n losieshuis aan die strand sou hy 'n soort van Nederlands gehoor het wat tog nie Nederlands is nie, maar vloeiend klink en doeltreffend werk. Later het hy in die Zuid-Afrikaansche Tijdschrift op grappige wyse vertel hoe hy die Afrikaanssprekendes dikwels verkeerd verstaan het. Van die Kaap is hy na die Paarl waar hy bevriend geraak het met ds G.W.A. van der Lingen. Hy is aangestel as leraar in die klassieke tale aan die Gymnasium, waar die latere ds S.J. du Toit een van sy leerlinge was. Op hom het hy in baie opsigte groot invloed uitgeoefen en o.m. sy oë geopen vir die bruikbaarheid en bestaansregverdiging van Afrikaans. Hy het Afrikaans bekleed met die volle waardigheid van 'n self- | |||||||
[pagina 150]
| |||||||
standige taal, 'n splinternuwe taal, wat onder besondere omstandighede uit die oorspronklike vorm ontwikkel het. So oortuig was hy in sy opvattings oor die bestaansreg van Afrikaans, dat hy in privaat gesprekke en ook in sy klasse hierdie opinies gelug het, baie persone oortuig het en in sy beskouings gaandeweg meer helderleid verkry het. In sy 71 Theses beskou ds Du Toit sy leermeester as waarskynlik die grootste taalkundige wat Suid-Afrika gehad het (1891). Dieselfde bewering herhaal hy in die inleiding tot sy studie Afrikaanse Taalskat in Ons Taal. Maar Pannevis was nie juis net gangmaker vir nuwe en juistere opvattings oor Afrikaans as taal nie, hy het ook gegloei van liefde vir sy God en die Bybelwoord. Daarom wou hy graag die Bybel in Afrikaans vertaal hê, en het hom sterk daarvoor beywer. Toe sy brief in De Zuid-Afrikaan van 7 Sept. 1872 nie die gewenste uitwerking gehad het nie, het hy in 1874 aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap geskryf en dit het indirek gelei tot die stigting van die G.R.A. Pannevis was egter te veel idealis en te min praktikus om die groot leier van sy lieflingsaak te word. Hy was bowendien 'n senuweelyer en kon hom nie altyd met die nodige kalme besadigheid en durende volharding aan 'n saak wy nie. Von Wielligh vertel ons 'n paar interessante gevalle in dié opsig. Een dag stuur hy in die middel van 'n werk die klas huis-toe omdat hy 'n blink ster in die solder sien skitter het; 'n steil opdraande loop hy agterstevoor uit, want dan kan hy kammig makliker vorentoe gaan; hy wil van Kaapstad na Kaïro te voet loop, maar weier om soms na 'n vriend te voet te gaan kuier, want die woon 'n paar honderd tree weg, en, sê hy, ‘wil je hebben dat ik daarheen moet vliegen? Je weet ik ben een slechte looper!’ Een nag sou hy ook in sy kamer 'n gedaanteverskyning van sy broer wat in Java oorlede is, gesien het, en dié voorval het 'n baie nadelige uitwerking op sy gesondheid gehad. Dit is nodig om hierdie omstandigheid van sy swak senuweegestel en rare doen in die oog te hou, want dit wil voorkom asof die onbestendigheid en fanatieke oorywer verantwoordelik is vir die agteruitstelling van Pannevis deur sommige Genootskappers; hulle was bevrees vir sy oorywer. Eers op | |||||||
[pagina 151]
| |||||||
die derde vergadering van die G.R.A. het hy as lid toegetree en op 15 September 1877 het hy weer bedank. Sy laaste lewensjare het hy stil op 'n boereplaas deurgebring as onderwyser. Op 14 Augustus 1884 is hy oorlede en lê in ds Van der Lingen se grafkelder in die Paarl begrawe. Hoewel so'n sterk voorstander van Afrikaans, was Pannevis se meeste geskrifte in Nederlands. Hy was 'n getroue medewerker van die Z.A. Tijdschrift. Onder sy nagelate papiere is daar 'n groot aantal opstelle en gedigte, maar byna almal in Nederlands. Oor De Schotsche Volksdichter Burns het hy in April 1867 'n skitterende lesing in die Paarl gehou.Ga naar voetnoot⋆) Vir Bilderdyk het hy 'n hartstogtelike bewondering gekoester, soos die groot gedeeltes wat hy uit Bilderdyk oorgeskryf het, duidelik toon. ‘Een teder Christen, die zijn God in alle ootmoedigheid en nederigheid kinderlik diende,’ het Hoogenhout van sy ‘dierbaarste vriend en broeder’ verklaar. Die waarheid hiervan blyk maar te duidelik as ons sy nagelate Nederlandse, maar ook sy Afrikaanse gedigte deurlees. Hy was diep ontroerd deur die besef van sy sonde, en daarom klae hy sy nood by God in Vertrou op di Heer. Treffend is die gebedstoon: ‘O Heer, al myn ellend
En nood is U bekend.
Geen mensch wat dit verstaat,
En hulp geef vir die kwaad.
Nee! U alleen, o Heer!
Ek leg dit aan uw voete neer!
By U alleen is raad.’
Vroeër het hy in sy verdriet en stryd op mensehulp vertrou, maar dit het hom nog dieper in die sonde gesleep. Die enigste hulp is by God self: ‘As jy Hem so gedenk,
Sal Hy jou eer en vreugde skenk
En tot geluk volmaak.’
| |||||||
[pagina 152]
| |||||||
In sommige van sy godsdienstige gedigte is hy sterk didakties, soos Die Vyfde Gebod (P., Junie 1876): ‘Die welvaart van die vaderland,
Gaat hand in hand
Met eerbied voor voorgeslag;
Als hul die voorgeslag onteer,
Wat hul perbeer,
Geen se'en is daarop te wag.
En hul sal merke aan die slot,
Die Woord van God
Blyf eeuwig waar en hou syn krag.’
Ook in Groothyd wil hy leer. Eers vertel hy hoe die reisiger, na hy verskillende Europese stede besoek het, Kaapstad 'n klein plekkie noem. Maar as hy van Stellenbosch na Kaapstad gaan, praat hy glad andersom. ‘Denk na nou, mense: jul sal sien,
Die grootheid hier op aard
Is enkel een betreklik ding,
En op homself niks waard.
Een is maar groot, en dit is God
Hy slegts het die bestaan,
So werp jou en jou afgod neer,
En bid alleen Hem aan!’
Uit die Frans van La Fontaine het Pannevis ook twee didaktiese gedigte vertaal: Die Gebarste Parra en Die Kraai en die Jakkals. Die padda was jaloers op 'n os en wou hom opblaas totdat hy net so groot was, maar uiteindelik bars hy. Nou die toepassing: ‘In onse tyd is daar so baing mense,
Wat groote staat en pragtig lewe wense,
Dit raak hul nie, as hul tog maar hul sin kryg;
Mar hul's gedaan, eer hul regt die begin kryg.’
Pannevis het 'n sterkontwikkelde nasionaliteitsgevoel gehad, en ons weet reeds hoe 'n vurige voorvegter hy vir Afrikaans was. Engels het hy as die grootste vyand van Afrikaans | |||||||
[pagina 153]
| |||||||
beskou, en hy het die verengelste Afrikaners diep in sy siel verag. Fel en bitter is hy in Rasende Afgodery (van Engels) (P., 15 April 1876), wat geskryf is in ‘Afrikaanse Trippelmaat’: ‘Ons leef in die da'e van taalraserny,
En daarvan kom Afrika oek nie meer vry,
Mar van die elend het dit bitter te ly,
Hoor hier die geskré van die Engelse gekke:
Ver Engels moet all' ander tale mar trekke,
Hul seg, hulle taal moet die wêreld o'er dekke
En waar hul die mag het, moet Engels die baas,
Die landstaal kry daadlik die agterste plaas,
En dood moet hij gaan by die Engels geraas;
En wie hom nog ophou, die is nes een stomme,
Hij mag in geen raad of bediening meer komme,
Een vreemdling is hy in syn erfei'endomme.
Die Engelse taal wort als afgod vereer,
Die reg wort vertrap waar die afgod regeer,
Maar eens sal syn end kom, WANT GOD BLYF DIE HEER!’
Pannevis en Hoogenhout het 'n hele paar gedigte saam geskryf, maar volgens 'n verklaring van Hoogenhout het Pannevis die grootste aandeel gehad in die ballade Helena en Eduard (P., 15 Mei 1876). Die gesmeerde digtrant is egter sonder twyfel Hoogenhout s'n. Die verhaal is heel eenvoudig, maar werk tog geleidelik op na 'n klimaks. Helena en Eduard is verloof, en sodra hy terugkeer van sy tog, sal hulle trou. Met moeite neem hulle afskeid van mekaar toe die hoenders kraai, want ‘Die wa'ens staat al voor die deur;
Die pêrde graaf die grond;
Die jong sit op die bak en wag;
Die daglig skyn al rond.’
Die jare het verbygegaan, maar Lenie hoor niks van Eduard nie. Een aand het sy vol droefheid by 'n fontein gaan sit toe daar 'n man by haar kom. Uitstekend is die wyse waarop die digters haar angs suggereer, en eg-vroulik probeer | |||||||
[pagina 154]
| |||||||
Lenie die man huis-toe dwing. Maar hy vra haar uit na die oorsaak van haar leed, en dan vertel hy haar dat Eduard gevang is, maar dat hy ontsnap het. Toe hoor hy dat Lenie getroud is en ‘nou swerf hy o'eral rond.’ ‘Sy huil en seg: “Dis lastertaal!
Ons liewe Heer die weet,
Ek was an Eduard getrou,
En sal hom nooit vergeet!”’....
‘“Goddank!” so roep hy, aangedaan,
“Ek is jou Eduard!
Myn Lenie! God het ons behoed!”
Hy druk haar an syn hart.’
| |||||||
(e) A.J. Herholdt (1831-1902).Die poësie van die Eerste Taalbeweging word gewoonlik minagtend as rymelary uitgeskel, en waarskynlik dink die kritici dan altyd aan die rympies van A.J. Herholdt. Ons kan hulle nie kwalik neem dat hulle so dink nie, want Herholdt het inderdaad niks meer as rympies geskryf nie. Maar as ons let op die inhoud van hierdie rympies, dan word hierdie plaasboer vir ons 'n interessante persoonlikheid. Sy rympies as sulks was nie altyd onverdienstelik nie en hulle het ‘gladweg’ gelees; daar was altyd 'n rymwoord, hoe onvanpas soms ook al. Boonop kan ons altyd sy rympies herken, wat toon dat hy 'n eie ‘digtrant’ gehad het, en dit is nogal belangrik, want die naamlose digters uit die Eerste Taalbeweging het almal op dieselfde manier gerym. Albertus Johannes Herholdt is gebore op 15 Augustus 1831 in die distrik Philipstown waar hy sy hele lewe as boer deurgebring het. In Februarie 1902 is hy op Petrusville oorlede. Hy was Gereformeerd en baie streng in sy lewenswyse: mooi klere en geurwater was 'n gruwel in sy oë; 'n portret van hom wou hy nooit laat neem nie. En tog was hy nie bekrompe nie, want hy het gou begryp dat Afrikaans die taal van Suid-Afrika moet wees. Gedurig het hy vir Afrikaans propaganda gemaak en vyandiggesindes probeer bekeer. Hy was wel nie lid van die G.R.A. nie, want hy het te ver van die Paarl weg gewoon, | |||||||
[pagina 155]
| |||||||
Tog het hy ywerig meegewerk in belang van die Afrikaanse saak, soos die volgende brief toon (P., 15 Maart 1876):
‘Meneer, - Ek het jou kranten, die jy my gestuur het, gekry, ek is regte bly om te hoor, dat in die wereld mense is die voel dat dit nodig is, dat ons Afferkaanders hulle eie taal moet hê om te lees en te skrywe. Ek ken nie Hollans nie, ek ken oek nie Engels nie, en as daar een Afferkaanse taal is, dan kan ek dit tog gou leer skrywe, dan hoef ek nie ver my te skaam nie om jou een brief te skrywe nie.
Ek neem an om agent te wees op Philipstown ver jou blad. Ek stuur ver jou twe intekenaars; as ek eers meer intekenaars kry, sal ek ver jou die geld stuur. Die mense wil eers die boekie sien. Ek het regte spyt dat ek so ver woon anders word ek oek lid... Ek stuur same een liedjie ver die krant; as jy wil kan jy het oek in ander krant zit, myn brief oek. Nou Meneer Lokomotief en die ander lede, druk tog maar op, al bars die boel oek; maar ons taal moet ons hê.’
In dieselfde Patriot het Herholdt se Afrikaanse Lietjie verskyn, waarin hy Oom Lokomotief weer aanspoor om vol te hou met die stryd vir Afrikaans. Die aanvangsreëls moes 'n diep indruk op die lesers gemaak het, want baie van die toekomstige digters het hulle gedigte ook so begin: Oom Lokomotief!
Jy is my so lief.’
Dit is hierdie ‘liedjie’ wat so dikwels aangehaal is en so goed bekend is - maar nie altyd in 'n goeie sin nie. Die vyande het die gedig nie in sy geheel gelees om die bedoeling van Herholdt te begryp nie, naamlik propaganda vir Afrikaans. Ds. S.J. du Toit het die strekking gesnap toe hy na hierdie gediggie verwys het ‘as 'n staaltjie van die gees wat die beweging onder die bevolking opgewek het.’
Die gewraakte vers is die tweede: ‘Set Engels op sy,
Ons taal sal jy kry.
Werk Hollans mar uit,
Stuur weg met die skuit!
| |||||||
[pagina 156]
| |||||||
Ja, stuur hom mar weg
Na Holland - dis reg,
Ja, stuur hom na huis!
Hier hoort hy nie tuis.’
Verderop herhaal hy dit weer met ander woorde, want Herholdt was daarvan oortuig dat Hollands en Engels die vyande van Afrikaans is: ‘Laat Hollans mar staan
Hy's amper gedaan.
Vat Holland, jou taal!
Dit het ons bepaal.
Die Engels kan bly;
Mar hou hom opsy!’
Dit was egter nooit die bedoeling van die Genootskap van Regte Afrikaners om met Hollands te breek nie, en daarom skryf die redakteur in 'n voetnoot: ‘Ons wens dat Meneer Herholdt vir ons meer gedigte wil stuur. Ons het nog geen gedig gekry wat so deur-en-deur Afrikaans is in taal en gees nie. Net mar, ons stem nog nie met hom same dat die Hollans nou met die skuit moet weggestuur worde na Holland toe nie. Ons het Hollans vereers nog nodig.’ Om krag by sy argumente te lê waarom Afrikaans die landstaal moet wees, noem hy al die goeie eienskappe van ons taal op, al glimlag ons so'n bietjie oor die bewoording: ‘Afrikaans is vol gees,
Om gladweg te lees,
Afrikaans is so plat,
Dat ons dit kan vat.
Afrikaans is net lig
Om lietjies te dig,
Afrikaans is oek mooi
Om woorde te gooi.’
Die wyse waarop hy sy liedjie eindig, het ook baie byval gevind, en deur baie ander rymelaars is hy nagevolg: ‘Myn lietji is uit,
Nou sal ek mar sluit.
Myn lietji is klaar,
| |||||||
[pagina t.o. 157]
| |||||||
Handskrif van A.J. Herholdt.
| |||||||
[pagina 157]
| |||||||
Di braaibout is gaar,
Nou gaat ek mar eet,
Di kos is gereed.’
Hier is dus niks van die vlammende verontwaardiging oor die onderdrukking van ons taal nie, niks van die granietblokargumente van die leiers van die Tweede Taalbeweging nie. Gemoedelik hemel Herholdt Afrikaans op, en smaaklik gesels hy oor die deugde van ons taal. Daarmee doen 'n mens egter nog geen bekeringswerk nie. In Ons Parlement vertel Herholdt ons dat die Engelse ons land geruil het ‘vir land oerkant di kuil,’ en dat hulle ons vanuit Engeland regeer. Maar toe gee hulle ons selfregering, en ‘Ag, wat was ons tog bly,
Ons het ons sin gekry!
Kom nou, lat ons begin!
Nou wette na ons sin!’
Maar wat was die ontnugtering groot toe hulle geen kandidaat in die Parlement kon kry nie. ‘Ons vraag: “Wat is di rede,
Dat Afrikaanse lede
Ni na di raad kan gaan
Om vir ons land te staan?”
Toen seg hulle: “Joubert
Ken Engels ni so vêr”.’
Toe ontdek hulle eers dat Engels die land regeer, en dit het niks gehelp dat hulle kwaad was nie. Maar gelukkig het die Afrikaners nou hulle eie taal en eie koerant gekry, en weet hulle ook ‘Al wat daar aldag word gepraat
Deur di onnutte Britse Raad.’
Een van Herholdt se gedigte staan in verband met die Transvaalse Vryheidsoorlog: 'n Spotter Bespot (P., 25 Maart 1881). In The Lantern het hy 'n spotprent gesien van 'n leeu met 'n Boer in sy bek, en op die voorgrond staan geskrywe: | |||||||
[pagina 158]
| |||||||
‘Rebellie.’ Die leeu is dan die Engelse wat na Langnek opruk en ‘Die Boer in syn bek
'n Rebel wat moet vrek.’
Die slag by Langnek verloop egter ten gunste van die Boere. Herholdt sien die leeu die berg ewe parmantig uithardloop, maar die Boere pak hom en trek sy tande uit. Herholdt beskik nie oor Hoogenhout se rymvaardigheid en plastiese vermoë om alles aanskoulik voor te stel nie, maar ons merk tog die egtheid van sy gevoel, en sarkasties is hy ook in die laaste verse, maar dan bring hy die eer aan God: ‘Die Boere is mar sleg,
Mar die Heere doet reg;
Hul bid en Hy hoor,
En leeu moet verloor.’
Daar het verskillende gedigte van Herholdt in die Patriot verskyn oor die godsdiens, en veral na aanleiding van sekere leerstellings. Dit het ontwikkel in 'n twisgeskryf tussen hom en ds W.A.J. Venter, waarin Herholdt di. Snyman en Venter ‘liberale’ noem. Hierdie rympies is egter nie baie belangrik nie.
Didakties is hy in die rympies 'n Lamp (P., 3 Junie 1881) en Ver dopstekers (P., 15 Aug. 1876). In laasgenoemde rymjie gee hy 'n noukeurige beskrywing van die druiwestok, en wat ons alles met die druiwe self doen. Ons stook ook brandewyn daarvan: ‘Nou, mense, word bang.
Dis nou ni meer mos,
Dis nou ni meer kos;
Hy is nou sterk,
Hy sal met jou werk....
Dan mors jy jou geld,
Jy verarm met geweld;
Jou klere is vuil,
Jou vroutji di huil.’
| |||||||
[pagina 159]
| |||||||
Hy raai die mans aan om maar liewers koffie en tee te drink, en sluit dan soos gewoonlik: ‘A - is myn naam,
H - is myn van;
Raai dit as jy kan!’
| |||||||
(f) J. Carel Voigt. (1854).Dit is dikwels dié digters wat maar 'n paar gedigte geskryf het, wie se roem voortleef, en dit is die geval met dr J. Carel Voigt. Sy gedigte staan almal in verband met die Transvaalse Anneksasie - geleentheidsgedigte dus, en tog, behoort hulle tot die beste wat die Eerste Taalbeweging opgelewer het, eenvoudig omdat hulle diep uit die verontwaardigde siel van die digter gekom het, en ook omdat hulle na die vorm nie gemoedelike, sagvloeiende rympies is nie. Toe Voigt hierdie gedigte geskryf het, was dit vir hom 'n ernstige saak, en suiwer het hy die Afrikaanse volksgevoel vertolk - 'n gevoel van verontwaardiging en verset teen die onreg van die Transvaalse anneksasie. Dr Carel Voigt is die enigste van die Patriot-digters wat nog in lewe is. Hy is een van ons oudste digters, want in die eerste jaargange van die Patriot het sy gedigte verskyn, en wel onder die skuilname ‘Republikein’ en ‘Karel.’ Hy is in 1854 gebore op die plaas Parys naby die Paarl. Na hy sy studies in Kaapstad voltooi het, is hy na Edinburg, Skotland, om verder in die medisyne te studeer. Verskillende universiteite op die Vasteland het hy ook besoek. Hy was skeepsdokter op 'n Hollandse boot totdat hy hom in Southport, Engeland, gevestig het, waar hy in die huwelik getree het met mej. D. Dearden. Toe die Transvaalse Vryheidsoorlog uitgebreek het, het hy dadelik gehoor gegee aan 'n oproep van die Paarlse Hulpkomitee om na Transvaal te kom en die gewondes van die Boere te verpleeg. Hoewel die oorlog reeds verby was toe hy hier aankom, het sy daad van offervaardigheid groot bewondering gewek en die Patriot het 'n paar hoofartikels aan Voigt en Ewald Esselen, wat saam met hom gekom het, gewy. By hulle vertrek na Engeland in September 1881 is 'n adres met | |||||||
[pagina 160]
| |||||||
4,000 handtekeninge aan hulle oorhandig. Met 'n Nederlandse naamdig het C.P. Hoogenhout hulle bewierook in die Patriot van 25 Maart 1881: | |||||||
Voigt en Esselen.Ver in het koude Noord, in Schotlands oude stad,
Ontvingt ge een bliksemschrift, dat men u noodig had
In 't dierbaar Vaderland; om magen en om vrinden,
Gewond in vryheidskamp, te helpen, te verbinden.
Terzelfder stond gereed, aanvaardet gy de reis,
En vaardig op 's Lands stem, voldeedt gy aan den eisch.
Niets achtet gy te groot: uw studien liet gy varen, -
Een dankbaar volk blyft trotsch op zulk een voorbeeld staren:
Spreekt van en roemt alom uw patriotisme en moed! ...
Stroomde op het veld van eer 't Transvaalsche heldenbloed,
En was er niemand om dien levensstroom te stelpen?...
Liep u! ter hulp gesneld, om in den nood te helpen.
Ewald en Carel! die uw Volk dat offer bracht:
Nog worde uw naam genoemd door 't verre nageslacht.’
Voigt se eerste gedig, bitter in sy sarkasme, is 'n vertaling van 'n gedig wat in Punch verskyn het: The Jingo-Englishman. Voigt noem dit Die Windmaker Engelsman, en begin sommer dadelik spot: ‘Daar is 'n land wat koning kraai,
Di's mar 'n kleine bog,
Mar 'n mens die lag jou sommer slap
As jy hoor hoe hy kan spog.’
Vir al die goeie dinge gee hy homself die krediet, en as hy sê 'n ding is reg, dan help dit niks om te stry nie. En nou kom die bytende vraag en antwoord wat na elke koeplet volg: ‘Watter land is dit, raai as jy kan?
Di's die land van die wintmaker Engelsman.’
| |||||||
[pagina 161]
| |||||||
Op die see speel hy ook baas, en sy vlag waai oor al die branders ‘“Di's onse see,” se al syn tars,
“Ons vlag waai heen en weer,
En lat die volk mar goed passop
Wat hierteun objekteer.’
Die Engelsman is 'n vyand of 'n vriend nadat dit hom betaal, en sy leuse is maar steeds: ‘Sorg goed ver nommer EEN.’ Hy is alreeds baie ryk, soos hy self erken, maar soek nog altyd meer grond. ‘Hy annekseer somar links en regs,
Al moet hy jou bedrie,
En vra jy hem “Wie geef jou reg?”
Dan seg hy, “Traak jou nie.”
Wie praat so groot, raai as jy kan?
Di's niemand as die wintmaker Engelsman.’
(Patriot, 11 Julie 1879).
In die gedig An Jan Boel, Wat die brief in die Eastern Star geskrywe het (P., 1 Aug. 1879), gee hy in elke koeplet die versekering: ‘Ons land die is ons eije!
Gen dwingland sal dit krye!’
Met onwrikbare vasberadenheid sal die Afrikaners hulle land verdedig, en met argumente vol spot, probeer die digter dit vir Jan Boel aan die verstand bring dat sy lawaai en geskreeu niks sal baat nie, want ‘Ons voet staan op ons vaders strand,
Ons Afrikaanse Vaderland.’
Die tweede koeplet bevat 'n venynige steek vir Jan Boel, wat so graag spog met die ‘“Magtig Ryk” (wat nooit ver Sulus hoef te wyk?),’ want het die Engelse soldate nie vir Prins Napoleon in die steek gelaat nie? Nee, ons land kry Jan Boel nie, | |||||||
[pagina 162]
| |||||||
‘Al raas en skre Jan Boel: “Jou Hond!”
Al slinger hy syn donders rond,
Al kom hy oek met vuur en lond,
Al skeur en bars nou oek die grond.’
En nà hierdie klimaks die pragtige beeld: ‘Ons staan ver ons land, soos die eikeboom self,
Hier onder ons heldere hemelgewelf.’
Die titel van die volgende gedig: Die Dood van Prins Napoleon, En die veilige Terugkoms van syn heldhaftige Wapenbroeders (P,. 1 Aug. 1879), toon alreeds dat Voigt weer tergend-sarkasties gaan wees. Maar elegies is die toon van die eerste koeplet: ‘Pluk takke van die Mirte af!
En plant Treurwilge om syn graf!
Beklaag, beween die jonge held,
Wat dapper stierf op 't oorlogsveld;
Wyl ver o'er se syn moeder treur....’
Maar waarom treur oor ‘Loe-Loe’ se dood, vra die digter ewe skielik en hees-spottend volg dit: ‘Kyk, jonge Napoleon leg dood op die veld,
Mar veilig terug is elk Engelse held!’
En daar bars sy haat en geslypte sarkasme los soos donderslae na die eerste skrikmaker-blitse: ‘Die Brit is bo, in alles bo!
In Afrika moet elk dit glo.
In hardloop is die Brit oek bo!
Dit sal nou Afrika wel glo.
Want veilig is die Britse held,
Wat spat geset het uit die veld;
Syn gas, syn wapenbroer, die bly
Daar agter om syn dood te kry.
Ja, selfs Napoleons kan nie, soos dit lyk,
So hardloop soos Luitnants van Englands ryk;
Of so gepas en so betyds lat stryk,
Om hulp te haal en aans weer te kom kyk.’
| |||||||
[pagina 163]
| |||||||
Eindelik kom ons by die Transvaalse anneksasie self. Toe Voigt die verslag van die vergadering op Kleinfontein in Mei 1878, gelees het, het hy drie gedigte gemaak onder die titel Transvaalse Stemme (P., 4 Julie 1879). As teks gebruik hy die klinkende woorde wat genl P.J. Joubert gebesig het op die vergadering: ‘Maar ik zie op eene Hoogere Hand boven ons, en indien Engeland zoo sterk was dat het mij tot stof kon vermorzelen, dan zou ik, met Hare hulp, liever vermorzeld worden dan mijne vrijheid op te geven.’ As dit so moet kom? is die eerste gedig, en hierin verwoord dr Voigt die beslistheid van die Transvalers om weer hulle vryheid ten koste van wat ook al, te herower. Soos 'n getergde leeu, wys die Transvalers hulle tande, en waarsku die vyand: ‘Ons hys nou weer ons vaders vlag;
Verpletter ons deur julle krag,
Verniel, vertrap ons arme land,
Bring julle dwinglandy tot stand,
Verbreek, verskeur ons Vryheidsband ...,’
dit alles sal julle niks baat nie, want die reg is aan ons kant, ‘en dus sal ons o'erwinnaars bly.’ Bitter laat die Transvalers hulle die woorde ontval: ‘Jul is o'erwinnaars deur jul krag,
Mar tog, die nakroos sal ons eer...
Dan is daar gen tiranne meer.’
Soos ons vaders sal ons ook ons bloed vandag gee, en daarom hys ons weer die vlag: ‘Ons kan ons vaders nie onteer,
Soo vraag ons dan hul erfpand weer.’
Hoe suiwer het dr Voigt nie die vasberadenheid van die burgers vertolk nie. Dis 'n sterk en manlike gedig. Uit die tweede gedig: P.J. Joubert op Kleinfontein, spreek daar dieselfde beslistheid. Genl Joubert is hier self aan die woord, en soos hamerslae op die aanbeeld klink sy woorde: ‘Myn Reg en myn Vryheid die ge ek nooit op;
Ek kan en ek mag ver gen onreg ooit wyk;
Myn plig an myn volk sal als burger ek doen,
Al moet ek in diens van die Vryheid beswyk.’
| |||||||
[pagina 164]
| |||||||
In die, derde gedig: Ons wil weer vry! kom dr Voigt dan tot die gevolgtrekking dat dit baie duidelik geblyk het op Kleinfontein ‘Dat Vryheids gees nie gou beswyk’ - en dat die vyand tog sal moet padgee: ‘Ons wil weer vry
Daar bly ons by.’
Die digter se voorspelling was juis, soos die afloop van die Transvaalse Vryheidsoorlog getoon het.
‘Dr Carel Voigt se gedigte is nie net van kultuurhistoriese betekenis nie - nee, hul literêre waarde is groter, want hy het kuns geskep. Hy is 'n digter, nie 'n rymelaar nie, hy is besield en beskik oor 'n eie styl en 'n oorspronklike uitingsvermoë. Hy is een van die weinige digters uit hierdie periode, en hoewel hy slegs 'n paar gedigte gemaak het, sal ons altyd sy naam in ons letterkundige geskiedenisboeke vermeld.’ (Ons Eerste Digters, bl. 81). | |||||||
(g) J.D. Cilliers (1854-1922).Die produktiefste digter in die Patriot na C.P. Hoogenhout, was J.D. Cilliers. Maar in teenstelling met Hoogenhout wat oor verskillende onderwerpe gedig het, het hy byna uitsluitlik godsdienstige verse gemaak. Dan mis ons by Cilliers daardie vlugheid van gees en daardie tinteling in die oë - hy is te ernstig met sy gepeins oor die hiernamaals. Hoogenhout se blik is gerig op die hede, hy is bekommerd oor die welsyn van sy volk, Cilliers se blik is op die hiernamaals en hy is bekommerd oor die welsyn van die siel. Jan Daniel Cilliers het baie min onderwys gehad, behalwe wat hy die paar jaar geleer het in die skool van die alombekende mnr M.J. Stucki. Sy vader kon hom ook nie laat leer nie, aangesien drie van sy broers al op Stellenbosch was en hulle baie geld gekos het. Hy het dus skrynwerker geword. Op 16 Februarie 1854 is hy gebore op die plaas Optenhorst naby Wellington as die derde seun uit 'n gesin van dertien. In 1877 is hy getroud met mej. Margaretha Retief, en toe die goud in Transvaal ontdek is, het hy ook daarheen gegaan (1886) om sy geluk te begroef. In 'n gedig, Di Goudland, | |||||||
[pagina 165]
| |||||||
het hy ons sy ervarings as goudgrawer meegedeel, en eindig as volg: ‘So bring ons ons tyd op
Di goudvelde deur,
Wi sal nog di lot van
'n “Digger” betreur?
O Goudland! o Goudland!
Wat ander oek praat:
Ons sal jou getrou bly,
Jou nimmer virlaat.
Ons ken jou genoeg al,
Om an jou te glo,
Ons leus is: 'Di Goudland!
Di Goudland is bo.’
Na twee jaar het Cilliers sy familie in Wellington gaan haal en in 1889 het hy hom op Potchefstroom gevestig. Hier was hy eers pagter van die Masonic-Hotel en later bou-aannemer. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog is hy naby Paardeberg saam met genl Cronje gevange geneem en moes hy die res van die oorlog op St. Helena in ballingskap deurbring. Sy oorlogservarings het hy volledig beskrywe in 'n dagboek wat uitgegee behoort te word. Op St. Helena het hy die beri-berisiekte opgedoen wat hom eindelik na sy graf gesleep het op 28 Mei 1922. Die grootste aantal van Cilliers se gedigte is in Nederlands geskryf en sommige van sy Afrikaanse gedigte is uit Nederlands vertaal. Hy het verskillende skuilname in die Patriot gehad, soos ‘Neef Jan,’ ‘Neef Jan wat versies maak,’ ‘Jan die Versiesmaker, Junior,’ of slegs sy voorletter C. Die feit dat prof. Jan Lion Cachet ook gedigte geskryf het onder die skuilnaam ‘Neef Jan,’ het groot verwarring veroorsaak, maar gelukkig het ons albei se manuskripte in die hande gekry, en die moeilikheid is uit die weg geruim! Hoewel 'n produktiewe digter, is Cilliers seker nie een van die beste digters uit die Eerste Taalbeweging nie: sy gedigte is mat, openbaar weinig oorspronklikheid, en die taal is erg konvensioneel, veral in sy godsdienstige verse. Hy wou | |||||||
[pagina 166]
| |||||||
stig en sy medemens van nut wees met sy gedigte, wat dikwels net rympies is. Maar die maat en rym is onberispelik, en volgens die eise van sy tyd, was hy 'n ‘goeie’ digter. Sommige van die godsdienstige gedigte is so vloeiend en sangerig dat hulle maklik kan diens doen as gesange in die kerk. In sy eerste manuskrip-boek het Cilliers 'n woord Aan den Lezer gerig, waarin hy 'n uitstekende karakteristiek van sy poësie gee: ‘Geachte lezer 'k bied u thans,
Hierbij mijn eerste deel;
'k Ben overtuigd aan taal en stijl,
Ontbreekt oneindig veel;
Dus, waar zulks ook uwe aandacht trekt,
Het worde in liefde toegedekt.
Uw oordeel zij dus niet te streng,
Maar worde steeds verzacht,
Als ge in gedachte houdt dat hij,
“De schrijver,” in der dichtren rij,
Geen plaats zich waardig acht.
't Geheel is slechts een mengeling,
Gedachten saamgebracht,
En opgesteld van tijd tot tijd,
Naar tijd en naar de omstandigheid,
Zulks noodig heeft geacht;
Van daar dat alles is doormengd,
Waar 't dichtgevoel zich uit,
De geest vér boven 't aardsche zweeft,
Wel 't Afrikaans zijn aandeel geeft,
Doch 't Hollands mee insluit.
Ontvang dit werkje en liefd'rik zij,
Het zwakke er in verschoond,
Het doel is slechts van nut te zijn,
En blijke zulks, schoon nog zoo klein,
'k Ben rijk'lik dan beloond,
Voor die uren aan dit werk besteed,
Als zulks in waarheid blijkt,
Dan is het innigst zelfgevoel
Bevredigd, en het groote doel,
Het groote doel bereikt.’
| |||||||
[pagina 167]
| |||||||
Ons het Cilliers die godsdienstige digter van die Eerste Periode genoem, maar hy het tog ook 'n paar grappige en 'n klompie geleentheidsgedigte gemaak. Vol speelse humor is Ou Boet's Alleenspraak, waarin hy hom beklaag oor die geboorte van 'n dogter, terwyl hy baie graag 'n seun wou gehad het. Komies is die vertelling Uit di Put in di Klitsgras, wat glo 'n ware gebeurtenis is. Die vryer is 'n parmantige kêrel en bewus van sy eie voortreflikhede: ‘Al woon 'k in 'n rooi huis,
'k Is daarom 'n man;
Ek drink oek myn sopi,
En 'k skink uit myn kan.
Al blyf ek by Oom Henni,
Ek 't daarom nog geld;
'k Drink vry uit myn glasi,
En 'k klop op myn belt.
Al draag ek oek velskoen,
Geloof my ou Boet!
Al drink ek myn glasi
‘Ek veg vir myn bloed.’
Langer wil hy nie meer alleen bly nie en gaan nou vir hom 'n maat soek, ‘wat geld het en vee.’ Hy is omtrent seker dat Sanni hom sal vat, want hulle het al een aand ‘opgesit,’ en sy het gesê hy moet volgende keer na haar kamer kom as haar ouers slaap. Toe dit donker was en stil op straat het hy dan ook nader gesluip: ‘Myn oog was naar bowe
Op d' venster gerig;
En waarlik, sy wag nog,
Daar brand nog di lig.’
Maar hy wis nie van die put in die agterplaas nie, en verdwyn daarin. Met die grootste gesukkel klim hy uit, papnat, en daar kom die oubaas kyk. Gou kruip die vryer in die klitsgras en lê daar doodstil. Sanni het alles gesien en stuur haar vader terug met die storie dat dit 'n klip is wat in die put geval het. | |||||||
[pagina 168]
| |||||||
‘Di noi'entji gelukkig,
Di was op myn hand,
Jy weet di soort nasi
Is lank in di land.’
Talryk is die geleentheidsgedigte, veral die groep getitel: By die wisseling van die jaar. Sy sterk godsdienssin tree in hierdie gedigte ook op die voorgrond, want God word gedank vir Sy seëninge in die afgelope jaar en Sy bystand vir die nuwe jaar afgesmeek. Al die vernaamte gebeurtenisse van die jaar wat verby is, word weer in herinnering geroep en dan die gebruiklike vraag gestel: wat sal die nuwe jaar oplewer? Hy begin sy oorpeinsings gewoonlik as volg: ‘Alweer is ons genader an
Di einde van 'n jaar:
Waardeur di Heer ons het geleid,
En in Syn goedertierenheid,
En liefde het bewaar.’
Steeds was God getrou en het Hy ons uit menigvuldige moeilikhede gered. Ons lewe het Hy nog gespaar: ‘Hoe vele rus reeds in di graf,
Di hier onmisbaar was?
Wyl vele hier is o'ergebly,
Onnuttig vir di maatskappy,
En di aarde tot 'n las.’
Die ou jaar word dan vaarwel toegeroep en die nuwe jaar verwelkom: ‘Wees welkom, welkom nuwe jaar!
Wees hartelik gegroet!
Als gawe van di Heer ontvang,
styg tot Syn eer en lofgesang,
Omhoog uit ons gemoed.’
Daar is 'n hele reeks van hierdie soort gedigte, maar hulle is almal ongeveer dieselfde, behalwe dat hy in 1892 ook vir die digters 'n seënwens het: ‘Heil en seën digters van
Heel Suid Afrika!
Mog di nuwe jaar vir ons
Skone vrugte dra.’
| |||||||
[pagina 169]
| |||||||
Oor die taal het Cilliers ook 'n gedig gemaak. Heel omslagtig en met veel omhaal van woorde bespreek hy in Ons Landstaal, die vraag watter taal die toekomstige landstaal van Suid-Afrika sal wees: Hollands, Engels of Afrikaans. ‘Di een partij sê di Engels
Wil ons als landstaal hê;
Di laatste een virstaat dit,
Dit kan jy ni weerlê.’
Hollands weer is moeilik en klink alte grof en die Afrikaanse ‘gebrabbel’ is net goed vir die Hottentotte. Bowendien is Engels die handelstaal en almal probeer dit praat ‘hoe gebroke’ ook al. Ouers gee hulle kinders reeds Engelse name, soos Meggie, Endro, Jon en Herrie.
Die voorstander van Afrikaans kom aan die woord en vind dat al die argumente skeef staan, want dit is gebruik deur 'n uitlander wat geen gevoel vir Afrikaans het nie.
In 'n hele reeks gedigte onder die titel Gesellig Onderhoud, gesels Neef Jan oor allerhande kerklike en godsdienstige sake. Hy is nie suinig met sy woorde en stopwoorde nie, en nooi sy vriende uit om na hom te kom luister en hom 'n antwoord vir sy vrae te vind.
Die eerste ding wat hy nie kan verstaan nie, is hoe iemand twee poste gelyktydig kan beklee: die van diaken in die kerk en bestuurder in die bank. Sondag vra hy 'n aalmoes vir die arme, maar Maandag ken hy hulle nie - dan verdruk hy hulle liewer en laat hulle duur rente betaal. Nou klae die banke nog dat hulle nie kan bestaan nie, maar hoe is dit moontlik? ‘En nou myn vriend ek denk dit is,
Ja 'k denk vereers genoeg.’
Oom Jan het hierop geantwoord (P. 7 Sept. '83) dat hy geen opolssing vir Neef Jan se vrae kan gee nie. 'n Wyse koning het eens gesê dat hy 'n krom saak nie kan regmaak nie. ‘Kon hy dat ni, sou ik dan kan?
Ik sal dus liwers ni perbeer,
En sluit mar weer.’
| |||||||
[pagina 170]
| |||||||
In 'n tweede ‘onderhoud’ (P. 12 Okt. '83) kom Neef Jan met 'n derde vraag: ‘Dit geld alweer ons kerk
So dierbaar tog in naam;
Dog gaat ons dit noukeurig na,
Hoeveul vind ons dan ni, ag ja!
Waaroer ons ons moet skaam.’
Hy wil weet waarom daar by die nagmaalstafel altyd geld op die tafel moet neergelê word. Dit is onstigtelik en buitendien Rooms. Neef Jan is pynlik omslagtig, want om hierdie vraag te stel, het hy 27 versies nodig van vier reëls elk! In die derde onderhoud, wat nog langer is (P. 22 Febr. '84), maak hy eers verskoning dat hy so lank gewag het om voort te gaan met sy vrae. Sy vierde vraag staan ook in verband met die Kerk, en dit is 'n vraag wat hom al van sy jeug af kwel: ‘Verleen my slegs nog dese keer,
Gehoor, en 'k leg myn skryfpen neer.’
Hy wil naamlik weet: ‘Is ni di wereld diep genoeg
Ons Kerk al ingedring?’
en bewys dan hoeveel wêreldsheid daar in die Kerk is. Neef Jan het egter nie woord gehou nie, want in die Patriot van 26 Junie 1885 kom hy met nog 'n Gesellig Onderhoud, dié keer darem die laaste, hoewel die mense al verneem het wat van hom geword het: ‘Of had oek hy syn hande vol,
Om met di wereld saam te rol,
En nogtans te bly staan?’
Hy peins dié keer oor die skynheiligheid van die mense wat die godsdiens as dekmantel gebruik om allerhande skelmstreke aan te vang. So vertel hy van 'n dronkaard wat hy langs die pad ontmoet het - dié man het 'n gesangversie gesing ‘Op so'n toon wat met syn gang,
Heel goed was saam te bring.’
| |||||||
[pagina 171]
| |||||||
Na heelwat gepeins hieroor, het die rede vir hom duidelik geword: ‘Want sing ek 'n gesang, so dink
Lig die arme sukkelaar,
So word dit ni gemerk gewis,
Dat ek 'n arme dronkaard is;
Al lyk ek oek daarnaar.’
En nou sal ons 'n paar van Cilliers se suiwer godsdienstige gedigte bespreek. Hulle verras ons nie deur oorspronklikheid nie, ook nie deur 'n nuwe segging en siening nie, want met die geykte Bybeltaal en Bybelse beelde is hy nie suinig nie. Maar sy gedigte lees ‘glad’ en sy godsdienstige gevoel is eg. Die kruisdood van Christus het 'n diep indruk op hom gemaak, en in baie gedigte bepeins hy die betekenis van die gebeure op Golgotha: ‘Na Golgotha, na Golgotha!
So klink die engele koor
Van uit die hoge hemel tot
Ons owertreders van d' gebod,
Op d' lage aardryk door.’
Ander gedigte met dieselfde tema is: Dit is Volbrag; Het Bloed van Jezus Christus; Jezus Hemelvaart. Di Liefde van Jezus; Omhoog mijn siel, en Heilig Lewe. Kon ons maar begryp, sê die digter, wat Christus vir ons opgeoffer het, dan sal ons beter Christene wees, sal ons 'n lewe vol dankbaarheid voer. As die sondaars maar hulle sondes aan Sy voete wou lê, dan wag daar vir hulle 'n heerlike lewe hiernamaals ‘Waar ons nooit weer skeide sal,
Mar ver ewig sal verkeer
In gemeenskap met di Heer.’
'n Eenvoudige, maar mooi gediggie is Di Lewe van di Gristen, hoewel die gedagtegang weer dieselfde is as in dievorige gedigte: ‘Jesus leef, en ek sal lewe,
Heerlik hartverkwikkend woord,
In Syn eie woord beskrewe,
Uit Syn ei'e mond gehoord.’
| |||||||
[pagina 172]
| |||||||
Omdat Jesus leef, vrees hy niks nie, nie eens die dood nie. Niks verskaf hom soveel vreugde as die gedagte: Jesus leef! Ontwaakt gij die slaapt is 'n opwekkingslied, want die Christen moet gedurig waak in hierdie wêreld waar geen rus vir hom te vind is nie - elke oomblik moet hy gereed wees om sy Heer te ontmoet. Anders ‘Laat Hom ni langer wag ni, neen,
Mar spoed jou daadlik tot Hem heen:
Jou Hoop, jou Heil, jou Lewe.’
In Die Gristens Roem (P. 9 Sept. 1881) word die ydelheid van die wêreldling se lewe gestel teenoor die volheid van die lewe van die Christen: ‘Die wereldling roem op syn plaas,
Mar ek roem nog veul meer
Toen Jezus roep, “Dit is volbrag!”
Kreeg ek oneindig meer.’
Dit is waar, die wêreldling het 'n mooi plaas, maar as hy sterf dan kan hy dit nie saamneem nie, terwyl die Christen 'n ewige erfenis in die hemel deelagtig word. ‘In eewigheid bewoon ek dit,
Gekog deur Godlik bloed.’
In elke vers, wat presies eenders gebou is, word iets anders genoem wat die wêreldling besit: 'n tuin, 'n huis, goud, vriende, ens., maar die Christen besit hulle ook, en nog veel meer: 'n skat in die hemel wat nie verganklik is nie: die ewige lewe. ‘Ek weet in watter krag ek stry,
En daarom hou ek moed;
Ek loop tot ek die einde kry,
En dan 'n kroon, 'n kroon ver my,
Gekog deur Godlik bloed.’
Een van Cilliers se langste gedigte is Die Lydensgeschiedenis (P. 25 Maart 1881). Daarin gee hy 'n breedvoerige oorsig van wat met Christus gebeur het nadat Hy in die Hof van Gethsemane ingegaan het totdat hy aan die kruis op Gol- | |||||||
[pagina 173]
| |||||||
gotha uitgeroep het: ‘Het is volbragt.’ Nadat Cilliers die sewe lydensweke berym het, gee hy nog 'n toepassing: ‘Myns Heilands kruis is al myn lus;
Syn kruis myn hoop, Syn kruis myn rus;
Myn troos, myn heil, myn lewe.’
'n Tweede omvangryke gedig heet: 'n Peinzende Gedagte oor die Woord: Geluk (P. 9 Des. 1881). Almal slaaf om geluk, maar niemand ken die oorsprong nie. Ook die digter kon geen antwoord op sy vrae kry nie, totdat hy een nag lig kry en vier groot strome sien, wat saam die geluk vorm. Toe wou hy die oorsprong van die geluk ontdek, en ook daarin het hy geslaag, ‘Want duidlik sag ek om my heen,
Wat eers ver my so donker skeen,
In 't lig te voorskyn kome.’
Die vier strome onstpring aan vier bronne, wat genoem word: des Heeren segen, Tevrede Lot, 'n Vergenoegde Lewe en Gemeenskap met die Heer. In 'n voetnoot het Oom Jan gevra of dié gedig ‘origineel’ is. Miskien het die baie Hollandse werkwoordsvorme hom laat vermoed dat dit uit Nederlands vertaal is. Dit is wel die geval, maar die Nederlandse gedig is deur Cilliers self geskryf en toe vertaal. 'n Groot aantal van sy Nederlandse gedigte is nooit in Afrikaans verwerk nie, en sover my bekend, ook nooit gepubliseer nie. As al Cilliers se gedigte uitgegee moet word, sal dit 'n paar boekdele moet vul, want hy het ontsaglik baie geskrywe - feitlik tot aan sy dood in 1922. | |||||||
(h) Jan Lion Cachet (1838-1912).Jan Lion Cachet was een van die eerste voorstanders van die Afrikaanse taal en 'n getroue medewerker aan die Patriot en Ons Klyntji. Hy het vir hom blywende roem verwerf met sy novelles: Sewe Duiwels en wat hulle gedoen het, sodat hy as een van ons eerste en beste prosaskrywers bekend staan. Hy is gebore op 29 November 1838 in Amsterdam uit Joodse ouers, maar in 1849 het sy vader met sy hele familie | |||||||
[pagina 174]
| |||||||
onder invloed van Da Costa oorgegaan tot die Christelike geloof. Jan het ook sy opvoeding in die skool van Da Costa ontvang, en hy het dikwels by ‘deze vurige zoon uit het Oosten’ (Beets) aan huis gekom, wat dan ook 'n blywende invloed op hom uitgeoefen het. Steeds het Cachet gedweep met die groot Bybelse lierdigter en die enigste portret van 'n digter wat in later jare aan die muur van sy studeerkamer gehang het, was die van Da Costa.
Nadat Cachet 'n paar jaar onderwys gegee het in Amsterdam, het hy teen die einde van die jaar 1860 met 'n seilskip na Suid-Afrika vertrek, waarheen sy broer Frans hom reeds vooruitgegaan het. In Kaapstad het hy ongeveer 'n jaar lank onderwys gegee en toe is hy na Natal (Ladysmith). Hier het hy besluit om uit die Ned. Geref. Kerk oor te gaan tot die Geref. Kerk en by wyle ds D. Postma te gaan studeer om predikant te word by die toe nog kleine en veragte Geref. Kerk. In 1869 is hy aangestel as dosent aan die pasgestigte Teologiese Skool op Burgersdorp. Daarna was hy werksaam as predikant op Philipstown (1875-1883) en Steynsburg (1883-1892). In 1892 is hy weer terug na Burgersdorp as waarnemende professor in die teologie totdat hy in 1894 sy vaste aanstelling gekry het. Hy is in 1912 oorlede op Potchefstroom.
Op politieke gebied het Cachet sy invloed kragtig laat geld in die Kaapkolonie. Hy was een van die oprigters van die Afrikanerbond, 'n party na sy hart. Sy politieke sienswyses het hy gelug in sy rubriek in die Patriot onder die hoof Zwarte Pilletjes, en hierdie pilletjies het vir meer as een pasiënt gehelp. Op onderwysgebied was hy 'n sterk voorstander van die Vrye Christelike Skool.
Cachet het in Nederlands, Afrikaans en Engels geskryf, maar heel spoedig al het hy besef dat as hy die hart van sy volk wil bereik dan moet hy tot hulle in hulle eie taal spreek, en gevolglik was hy een van die ‘eerste skrywers’ in die volkstaal.
Daar is baie gedigte oor die Afrikaanse taal gemaak, maar een van die mooiste is geskryf deur Cachet: Di Afrikaanse Taal (O.K., April 1896). Dis bekoorlik om die kinderlik-opregte toon, om die gees van ware nasieliefde wat daaruit | |||||||
[pagina 175]
| |||||||
spreek. Dis een van die weinig gedigte wat destyds onder besieling geskryf is. Die ritme is vloeiend, die rym bysaak. Cachet gee ons 'n allegoriese beskouing oor die afkoms en ook die toekoms van die Afrikaanse taal, en hierdie allegorie hou hy dwarsdeur vol: ‘Ek is 'n arme boerenooi,
By vele min geag;
Mar tog is ek van edel bloed,
En van 'n hoog geslag.
Uit Holland het myn pa gekom,
Na sonnig Afrika;
Uit Frankryk, waar di druiftros swel,
Myn liwe mooie ma.’
Dan vertel die Afrikaanse taal dat hulle haar vir 'n ‘Hotnots myd’ uitskel, maar sy gee nie om nie, want almal kan sien uit watter geslag sy kom. Hollands probeer verniet om baas te speel, want sy sal tog nie in Suid-Afrika bly lewe nie. Engels hou haar astrant en lok baie jongkêrels, maar saans kom hulle na die Afrikaanse taal: ‘Dis, hartji' voor en “hartji” na:
“Laat ons 'n bitji vry”.’
As die ware digter maar eers kom, word hy nog koning van die land, want as Afrikaans, die moedertaal, algemeen erken sal word. ‘Dan volg di land my na;
En ek is net nou koningin
Van heel Suid-Afrika.’
Die eerste lesing van hierdie gedig kom voor in 'n manuskripboek wat gedateer is 10 Junie 1869. Daar is nog 'n lesing, 'n verbeterde, wat egter ook aanmerklik verskil van die Ons Klyntji-lesing.
Sangerig en innig van toon is Di Afrikaanse Liidjiis Singer (O.K., Junie 1896). Die digter is trots om in sy eie taal | |||||||
[pagina 176]
| |||||||
te kan sing, en al klink sy liedjie eenvoudig, hy voel gelukkig. Laat ander digters maar oor konings sing met veel swier: ‘Ek sou oek so sing as ek kon,
Mar het net 'n akkordeon,
En daarop speul ek nou myn liid;
Find jy dit swak, dit raak my niit.’
Pragtig karakteriseer Cachet sy eie poësie na inhoud en styl in die tweede koeplet: ‘Ek sing fireers di lof en eer
Fan God, di trouwe Opperheer,
En dan fan wat myn oog anskou,
Fan huis en kinders en fan frou.
Ek sing fan freugde en fan smart,
Fan alles wat my kom in d' hart,
En dit in 'n eenfoudig liid,
Find jy dit swak, dit raak my niit.’
So het hulle in die oue tyd gesing, en daarvan hou hy: hy is bang vir die nuwe liedjies (Engelse?) wat nou in die land kom. Hy gaan van huis tot huis, en as hy welkom is, dan sing hy met nuwe moed. ‘Mar as jy deur en fensters sluit,
Omdat jy frees fer myn geluid,
En jy ni luister na myn liid,
Dan sing ek tog, dit deer my niit.’
Dit is waar, hy het gesing tot eer van God, soos sy Morge Liid (O.K., Julie 1896) getuig. Hier is hy die predikant wat aanspoor tot werk en stryd in die krag van God, die egte predikant-digter: ‘Op! Op! di dag breek aan
Fryf di faak nou uit je ooge,
Si di nag is al ferfloge,
En Fiktori kraai di haan.
Op! Op! di dag breek aan.
| |||||||
[pagina 177]
| |||||||
Op! Op! mar buig di kni.
Di met God di dag beginne
Sal geen fyand oferwinne;
Want di Heere help fer di.
Op! Op! mar buig di kni.’
Op Die Nuwe Jaar is ook sterk godsdienstig, soos die teks bo-aan wel aandui. Die digter peins oor die jaar wat verby is met sy ‘blydskap, droefheid, smart en druk.’ Hy dink aan hulle wat hierdie lewe verlaat het, ‘En weldra roep oek ons die tyd,
Van hier weg na die ewigheid.’
Maar nou is daar 'n nuwe jaar voor die deur: ‘O! saligheid! O groot gewin!
Ons stap 'n ander tydkring in,
En o myn siel, wie sê, ja wie,
Is dit nie dalk jou laaste nie?’
Daar is gelukkig dié troos: in die hiernamaals is daar geen tydsduur nie, daar sal ons ewig sing: ‘Halleluja!’ Cachet het een minnediggie geskryf, wat sterk herinner aan Hoogenhout se Uitnodiging an Anni, maar wel oorspronklik sal wees. Dit kom voor in 'n aantekeningboek van 1877. Hierdie lesing, wat afgedruk is in Jan Lion Cachet met sy Sewe Duiwels, bl. 36, (1940), verskil aanmerklik van die lesing van die Patriot. Ook die titel het verander van Jonkman's Klagte in Willem's Klagte. Willem is ernstig, maar gebruik dan weer sulke banale woorde dat ons, in plaas van met hom te simpatiseer, glimlag. Die maat is soetvloeiend. Willem klae sy nood by ons omdat die niggie nie met hom wil trou nie. ‘Og life siiltji mooie blom!
Seg tog fer my, seg tog waarom
Jy ni wil luister na myn klag,
En daarby altyd my uit-lag.’
Hy het alreeds 'n pragtige plekkie uitgesoek waar hy hulle huisie sal bou; vee en geld is volop, en sy sal geen gebrek ly | |||||||
[pagina 178]
| |||||||
nie. Soms droom hy in sy slaap dat Jan Modder haar kry, en dan skrik hy wakker met 'n skreeu, ‘en brul dan nes 'n jonge leeu.’ Sy ma dwing al om hom kasterolie te gee! As die niggie tog maar net wil ja sê: ‘Jy stap dan flink net langes my,
En ek stap frolik an jou sy
Dan loop ons sing-sing, en ons praat,
Na huis toe fan di kerk o'er straat.’
Hoewel Cachet dan nie baie gedigte geskryf het nie, is hy tog een van ons beste digters uit die vorige eeu, omdat hy dikwels onder inspirasie geskryf het, die tegniek taamlik goed beheers het en nie altyd op soek was na 'n gepaste rymwoord nie. | |||||||
Prosa.Cachet word gewoonlik onthou om sy Sewe Duiwels, maar tog het hy ook twee Nederlandse historiese romans geskryf: Het Huisgezin van den Hugenoot, en Getrouw tot den Dood. Met die laaste twee boeke is hy 'n tipiese verteenwoordiger van die ou historiese romankuns. Vir die Hugenote het Cachet 'n besondere belangstelling gehad. Hy het dan ook 'n diepgaande studie van hulle geskiedenis gemaak en dit te boek gestel. Dit het eers in die Patriot van 1885 verskyn, en die volgende jaar in boekvorm met 'n oplaag van duisend eksemplare. Die boekie het egter ook in Nederlands verskyn (1886) - die handskrif wat nog bestaan is juis in Nederlands gestel. As skuilnaam vir Die Geskiedenis van die Hugenote van die jare 1521 tot 1698, het Cachet gebruik ‘Pastor.’ Die boekie is populêr geskrywe en moes dien tot opwekking en ook tot waarskuwing. Die skrywer skroom nie om sy lesers direk aan te spreek soos 'n predikant sou doen nie, maar soms kan hy so lewendig vertel dat hy ons ademloos boei. Tussenin verstrek hy ook leersame kennis omtrent die toestande in Frankryk eeue gelede, maar is altyd onderhoudend, want hoe simpatiek en ywerig vertel hy ons nie van die vervolging wat die Hugenote ter wille van hulle geloof moes verduur nie. | |||||||
[pagina 179]
| |||||||
Cachet se hoofwerk is Sewe Duiwels en wat hulle gedoen het, 'n werk wat sy naam vir altyd gevestig het in die Afrikaanse letterkunde, en 'n werk wat sal bly lewe, ook om sy letterkundige verdienstes.
Die novelles het apart verskyn in die Patriot onder die skuilnaam ‘Neef Jan wat Versies maak.’ Die eerste novelle heet Di Geldduiwel (1882), en is gevolg deur Di Drankduiwel (1882), Di Liegduiwel (16 Maart tot 24 Mei 1883), Di Praatduiwel (1884) en Di Spogduiwel (1892). As herdrukke het hulle ook afsonderlik verskyn. In Ons Klyntji het nog twee ‘duiwels’ die lig gesien: Di Afgunsduiwel in die jaargang 1897 en Di Baasduiwel, 1898 tot 1899. In 1907 is hulle almal gebundel onder die naam: Sewe Duiwels en wat hulle gedoen het, deur Ou Oom Jan. Sindsdien het die boek al baie herdrukke belewe.
In die Sewe Duiwels het ons die begin van die realisme in die Afrikaanse letterkunde - al kan ons dit nog nie suiwer realisme noem nie. Die novelles is realisties in dié sin dat hulle toneeltjies uit die werklike lewe skets. Ou Oom Jan het 'n oog gehad vir die tipiese in die lewe van die boer en die dorpsbewoner, want hoe treffend beskryf hy nie die nagmaalsdrukte op Praatville, en veral in ou Telheim se winkel nie. Hierdie realisme vind ons in ongeveer al die novelles, bv. die beskrywing van die fortuinsoekers in Di Liegduiwel, die lawaai op die werf as blank en gekleurd besope is in Di Drankduiwel. Kleurig beskrywe in hierdie novelle is ook die toneeltjie in die kantien as die drinkebroers feesvier en Hendrik 'n dronkemansliedjie sing: ‘Ons plesier verdroog nes gras,
Daarom wag ni, vul jou glas.’
Ou Oom Jan gebruik suiwer Afrikaans, maar dis tog van belang om daarop te wys dat sommige van hierdie novelles eers in Nederlands geskrywe is, volgens die manuskripte, en daarna vertaal is. Dit is bv. die geval met Di Drankduiwel - ook die liedjies is oorspronklik in Nederlands gedig. Hierdie verhaal is meer as eenkeer oorgeskrywe, want daar bestaan twee Nederlandse handskrifte daarvan, hoewel hulle weinig van | |||||||
[pagina 180]
| |||||||
mekaar verskil. Ook Di Geldduiwel is eers in Nederlands gestel. Di Spogduiwel en Di Afgunsduiwel is wel in Afrikaans geskrywe, maar as ons die handskrifte met die gedrukte uitgawes vergelyk, sal ons merk dat daar nog baie aan die taal gedokter is, omdat die handskrifte vol storende foute in Hollands-Afrikaans was. Dit is waarskynlik die rede waarom die taal van die Duiwels nie altyd ewe fris is nie. Ook die styl, alhoewel sober, is tog te slap om die indruk te maak dat dit die werk van 'n groot kunstenaar is, maar die beeldspraak wortel in eie Afrikaanse bodem en is deur-en-deur Afrikaans. Dit is die beeldspraak wat dié novelles ophef bo die alledaagse prosa van die meeste Patriot-skrywers. So lees ons omtrent Oom Jan in Di Geldduiwel: ‘Sijn mond was toe als sijn geldtrommel.’ Ons het die styl sober genoem, want met weinig omhaal van woorde plaas die skrywer ons direk in die midde van 'n toneeltjie - met 'n paar woorde sê hy alles. Ook die dialoog is fris en sprankelend, bv. die gesprek tussen Oom Andries en Willem op die kar oor Willem se groeiende liefde vir die drank. Ou Oom Jan skryf sober, maar met al sy soberheid wek hy dikwels 'n intense spanning by sy lesers, byvoorbeeld Willem se laaste en byna bomenslike stryd teen die drankduiwel, die ongeluk in die drif, en as Oom Jan weer agter sy baadjie aan in die water spring, of as Oom Diederik vir Lieg Hans met die sambok agtervolg. Die droë humor en geestigheid van die skrywer is verkwiklik. Die mense kom terug van Oom Jan se begrafnis, en as Oom Hendrik se dogtertjie die predikant sien, roep sy uit: ‘Ons is nou ryk, meneer; Witbooi seg so. Al oom Jan se goed is nou ver ons. Ik is bly dat hy dood is.’ Toe Oom Jan nog gelewe het, wou Morris by hom osse koop, maar ‘Oom Jan het eers ni gehad ni; toen het hy 'n paar en eindelik 'n hele klomp.’ En dan is daar nog die kostelike gesprek tussen Oom Karel en die dominee oor mej. Wilson, as geen van beide die voortou wil neem nie. Wat die novelles besonder verdienstelik maak, is dat die skrywer daarin slaag om met skynbaar nietige dinge 'n stem- | |||||||
[pagina 181]
| |||||||
ming te wek en 'n atmosfeer te skep. Hy sou egter 'n veel hoër kunspeil bereik het as hy al hierdie novelles in een besondere omgewing laat wortel het. Dan sou die werk as geheel 'n veel groter nasionale karakter gedra het. Nou hang hulle te lossies saam.
Die opset van elke verhaal is taamlik breed; van elkeen kon die skrywer 'n roman gemaak het, en hier lê die swakheid. Daar is 'n menigte besonderhede, en nog kom die karakters nie tot hulle reg nie. Daar is 'n dunheid van gang sodat dit net by 'n verhaal bly.
Ou Oom Jan het 'n vooropgestelde doel gehad met sy Sewe Duiwels. Hy het hom verdiep in die daaglikse lewe, maar die lewe het hy betrag deur die bril van die evangeliedienaar, wat wil leiding gee. Daarom tree by hom op die voorgrond 'n bewuste strewe na ‘nutte lering,’ en hiermee staan hy direk onder invloed van die Nederlandse moralis Cremer.
Die gevolg van hierdie strekking is dat Ou Oom Jan nie werklik ‘lewende’ mense skep nie. Die mens as geheel word verwaarloos, en daar word net op één (slegte) eienskap gehamer totdat ons oplaas 'n sekere voorstelling kry - 'n gevoel dat ons met tipes, met beliggaamde eienskappe, te doen het. Dié gebrek is 'n direkte uitvloeisel van die skrywer se strewe na ‘nutte lering.’
Die novelles is dan ‘preken, waaraan alleen de preektoon ontbreekt,’ want nooit is die skrywer dringerig-prekerig nie. Dit is tendenswerk, en kuns en tendens is selde vriende, maar ‘tendenz of geen tendenz, de grote vraag is maar of het leven er in klopt en trilt en zich kleurt in het oog van de kunstenaar.’
Daar is geen diepgaande psigologiese karaktertekening nie, het ons gesê, maar ons kry duidelike tipes. Dis belangrik dat die nadruk gelê word op hulle gebreke. Dis 'n hekeling van die menslike gebreke waarmee die skrywer verbetering nastrewe. Huigelary stel hy aan die kaak en omwaas sy storie met geestigheid en selfs humor. Die Sewe Duiwels is van letterkundige, maar van groter kultuur-historiese betekenis, en eendag as die ‘beskawing’ baie van die Afrikaanse volkskarakter sal verander het, dan | |||||||
[pagina 182]
| |||||||
sal die nageslag hierdie boek ter hand neem om 'n blik te kry ‘in de deugden en gebreken van zijn voorgeslacht.’Ga naar voetnoot⋆ | |||||||
(i) P.D. Rossouw (1844-1896).Ds Rossouw is in 1844 gebore en het as jongeling op Burgersdorp gewoon. Sy vader is hom vroeg ontval en hy moes in winkels werk om in die onderhoud van sy moeder te voorsien. Hy het egter 'n groot begeerte gehad om te leer en is deur dr Brebner gehelp, wat 'n groot inspirasie was vir die jongmense op Burgersdorp. Later is hy na Kaapstad met karige middels. Hy het dikwels vertel hoe hy 'n klein kamertjie gehuur en by die lig van 'n walvisolielampie tot laat in die nag gestudeer het. Gedurende vakansietye het hy werk van allerlei aard gedoen om geld te vind vir verdere studie. Toe hy na die kweekskool op Stellenbosch is, het dit beter gegaan met sy geldelike sake, hoewel hy nog altyd suinig moes leef. Ds Rossouw is op 22 Januarie 1870 te Uniondale georden. In 1878 is hy na Steynsburg, in 1881 na Franschhoek en in 1883 na Fraserburg, waar hy op 12 Oktober 1896 oorlede is in die ouderdom van 52 jaar. De Zuid-Afrikaan (15 Okt. 1896) sê: ‘Hy was 'n Evangeliedienaar wat oorvloei het van 'n diepe erns, 'n heilige vuur en 'n onuitputbare arbeidskrag. Hy was nie alleen prediker nie, maar 'n deelnemende vriend in die beste sin van die woord van armes en beproefdes.’ As prediker was hy altyd boeiend en dikwels ryk aan treffende gesegdes. Hy het aanleg gehad vir spesiale evangelieprediking en was as sodanig in verskeie gemeentes werksaam, hoewel hy 'n afkeer gehad het van onnodige opwinding en geestesdrywery. Ds De Beer sê (in De Vereeniging): ‘Hij was een prediker van ongewone zalving.’ Vir hulle wat hom as student in Kaapstad geken het, was sy sukses op die preekstoel 'n groot verrassing, omdat hy in sy jongelingsjare baie gehakkel het. Ds Rossouw was ook begaafd met 'n fyn humorsin. So vertel ds De Beer dat hy tydens 'n Sinodesitting 'n swaar ver- | |||||||
[pagina 183]
| |||||||
koue gehad het en dikwels die sakdoek moes gebruik met 'n luidrugtigheid wat hinderlik was. Ds Rossouw buk toe vooroor en sê vir hom: ‘Broeder u moet toch niet zoveel uw eigen trompet blazen.’ Die eerste preke in Afrikaans is geskrywe deur ds Rossouw, en wel in die Patriot van 1879 onder die skuilnaam Cefas. ‘Ons skryf in di Afrikaanse taal,’ verduidelik hy vyf jaar later (26 Sept. 1884), ‘omdat ons weet dat dit werklik 'n taal is, en dat di argumente van di voorstanders daarvan, nog nooit weerleg is ni, en nooit weerleg kan word ni. 'n Ander rede is, omdat 'n mens ver hom in di Afrikaanse taal kragtiger kan uitdruk dan in Hollands, en omdat daar 'n seggingskrag, 'n direktheid, 'n onnoembare iets is, wat in baing tale nie word gevonde ni. Ook verstaan di meeste van onse mense dit beter dan iets anders, en word die veragterste van ons landgenote daardeur in di gelegenheid gesteld om omtrent di dinge wat di saligheid van sy siel aangaan te hoor lees in 'n taal wat hy alle dage spreek en hoor.’ Ds Rossouw het van hart tot hart gepraat met sy lesers en ook nie geskroom om hulle naas die versoeningsdood van Christus die vreeslikheid van die hel voor te hou nie. Ek gee slegs een of twee voorbeelde: ‘O hoe verskriklik sal dit nie wees nie, als daar onder die lesers van die Patriot 'n vader of moeder is wat 'n onsedelike lewe ly, wat ver hulle skuldig maak aan sonde wat ons liewer nie kan noem nie! Ouers wat drink!!.... Ons verseker u of u jong of oud is, dat daar 'n hel is, 'n eeuwige verdoemenis, 'n skrikkelike plaas der pyniging, voor hulle wat die saligheid uit die hand van die Heere Jesus nie aanneem nie. Laat dus vir u geseg, en kom nie in die verdoemenis.’ Op 12 Desember 1879 preek ds Rossouw oor die vraag: Wat die sonde is? en aan die einde van sy preek vra hy aan die sondaar: ‘Het jy nog nooit gebeef by die gesig van jou sonde, of gesidder by die gedachte aan die hel en die eeuwige verdoemnis? Beef dan vandag, sidder dan vandag!!’ Hierdie preke van ds Rossouw was baie populêr en is met graagte gelees, al sal die ‘moderne’ lesers minder-gelowig glimlag. Van oral het hy briewe van waardering gekry en getuienisse van lesers wat tot bekering gekom het. Deur die | |||||||
[pagina 184]
| |||||||
Patriot het hy mense bereik wat nooit in 'n kerk gekom het nie, wat nooit hul Bybel gelees het of nooit deur 'n predikant besoek is nie. Ongelukkig is die preke op 31 Oktober 1884 gestaak.
Aan die Bybelsch Dagboek (1880) het ds Rossouw saam met ds S.J. du Toit en ander predikante meegewerk. Die doel van dié boek was om die Nuwe Testament in een jaar se tyd deur die huisgesin te laat deurlees. By die verskillende Skrifafdelings was daar 'n toepaslike verklaring en psalmverse om te sing.
Sy laaste werk wat hy geskrywe het, was Het Nieuwe Martelaarsboek. Eene Geschiedenis van de vervolgingen der Ctristelijke Kerk (1896). Die verskriklike martelinge waaraan die Christene onderhewig was vanaf die marteldood van die eerste Martelaar, Jesus Christus, word vir ons uitvoerig en besonder boeiend verhaal.
Maar ds Rossouw was ook digter. Hy was tuis in die werke van die beste Hollandse en Engelse digters. Daar het baie oorspronklike gedigte uit sy pen gevloei in Nederlands, Afrikaans en Engels, en hulle het getuig van die warme gevoel waarmee aangrypende gebeurtenisse in die geskiedenis van sy land hom vervul het. Sy Engelse gedigte het hy gepubliseer in die South African News, sy Hollandse gedigte in die Zuid Afrikaan onder sy voorletters P.D.R., en sy Afrikaanse gedigte in die Patriot onder die skuilnaam Petrus. Toe hy nog op Uniondale was, het hy soms geskryf as ‘P.D.R. van Uiendal.’
In een van sy Engelse gedigte beskryf hy die slag van Majuba gedurende die Eerste Vryheidsoorlog. Sir George Colley het die Boere onderskat: ‘But he despised the daring of his foe;
Their courage which turned dangers into trifles,
Until they stood upon the mountain's brow
And dealt out death with their unerring rifles.’
Te laat het sir George Colley die gevaar besef en tevergeefs het hy sy manskappe probeer aanspoor, want hulle het gou op die vlug geslaan. | |||||||
[pagina 185]
| |||||||
‘In heaps they fall like ripe fruit from a tree
That by the hurricane is fiercely shaken.’
'n Gedig waarmee ds Rossouw sy naam gevestig het en wat onder die volk ook baie bekend is, is An di adres van John MacKenzie, wat in die Patriot van 29 Augustus 1884 verskyn het. Dit het betrekking op die republiekies Stellaland en Goosen, wat in 1882 deur blankes gestig is in die gebied van die Kafferkapteins Montsioa en Mankoroane, wat oorwin is deur Moshette en Massouw met behulp van hierdie blankes. By die Konvensie van Londen in 1884 is die republiekies tussen Engeland en Transvaal verdeel. Die Engelse gedeelte het direk onder ryksbeheer gestaan en eerw. John Mackenzie is aangestel as kommissaris daarvan. John Mackenzie was miskien 'n goeie sendeling, maar geen staatsman nie, veral wat sy naturellepolitiek betref. Sir Hercules Robinson het self ingesien dat sy aanstelling 'n fout was en het hom daarom teruggeroep.Ga naar voetnoot⋆) Nou gryp ds Rossouw na die pen en begin John Mackenzie met stoutseun-spotterny te troos in 'n kostelike hekeldig: An di adres van John Mackenzie. Tergend vang elke versie aan met die volgende reëls: ‘John Mackenzie,
Moe nie grens nie ...’
Die hele geskiedenis word oorvertel en John Mackenzie word verseker ‘ons het medely,’ maar tog ook die raad gegee: ‘Word ni stapel gek,’ en ‘hou jou by jou lees.’ Die digter maak hom vrolik oor Johnnie se leed in pragtig-vloeiende verse. Ons skryf die hele gedig hier af: John MacKenzie,
Moe ni grens ni,
Ja jou tyd was kort,
Jy het ni kan toon ni
Wat daar in jou woon ni;
Sonder seremoni
Moes jy so maar vort.
| |||||||
[pagina 186]
| |||||||
John MacKenzie,
Moe ni grens ni,
Jy moes gou laat vat.
Ach, di swarte brawe,
Moet nou goud gaan grawe,
Als di ‘Boers’ hul slawe,
En jy in di pad!
John MacKenzie,
Moe ni grens ni -
Word ni stapel gek.
Van jou fraaie drome
Is daar niks gekome,
Hulle bly maar drome -
En jy moet maar trek.
John MacKenzie,
Moe ni grens ni,
Ons het medely.
Jy het nie gebrom ni,
Om so ver te kom ni.
Wi was ni verstom ni -
En nou moet jy gly.
John MacKenzie,
Moe ni grens ni,
Ons doen niks as sug.
Wi kon dit voorspelle
Dat hul jou sou kwelle,
Tot jy heen moes snelle
Bondel op di rug.
John MacKenzie,
Moe ni grens ni,
Hou jou by jou lees.
Want dit hou geen stuk ni
Om di wet te preek ni
As jy self dit breek ni,
Jy is daar gewees.
Petrus.
| |||||||
[pagina 187]
| |||||||
(j) J.W.v.d. Rijst (16 Jan. 1828-13 Des. 1904).Oom Willem (eerw. J.W. van der Rijst) het 'n belangrike rol gespeel in die geskiedenis van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, ook as skrywer, en tog kon ons geen lewensbesonderhede omtrent hom kry nie, hoe ywerig ons ook al probeer het. Hier en daar het ons iets raakgeloop. Net soos Pannevis en C.P. Hoogenhout was hy 'n Hollander van geboorte. Hy is as sendeling in die Ned. Geref. Kerk toegelaat in 1861, en was werksaam in Calvinia vir 'n kort tydjie, want in Februarie 1862 is hy as onderwyser en sendeling in die gemeente Wynberg aangestel. In 1863 het hy die Ned. Geref. Kerk verlaat en nou was hy voorganger onder die Plymouth Brethern, en het as reisende prediker oral opgetree. So lees ons in die Patriot dat hy op 14 September 1877 op Claremont was, en op 15 Augustus 1879 het hy in die Paarl godsdiens gehou by mnr McMillan. Volgens 'n mededeling van dr J.D. du Toit was hy 'n vriend van ds S.J. du Toit. ‘Ek het hom dikwels ontmoet. 'n Baie beminlike man.’ Aanvanklik was Oom Willem 'n teenstander van Afrikaans, maar Oom Lokomotief (D.F. du Toit) het hom tot bekering gebring volgens 'n mededeling van Oom Loko in Die Huisgenoot (Desember 1919). Op die tweede vergadering van die Genootskap van Regte Afrikaners (25 September 1875) was eerw. V.d. Rijst dan ook teenwoordig, en van nou af beywer hy hom met hart en siel vir Afrikaans. Hy het dadelik begin om 'n Afrikaanse spraakkuns op te stel, maar volgens Oom Lokomotief, het hy slegs 'n Hollandse spraakkuns verafrikaniseer. Nou pak hy die eerste Spel- en Leesboek ver Afrikaanse Kinders aan. Hierdie boekie het geen liefdevolle ontvangs te beurt geval nie! ‘Mar dit het oek 'n vreselike storm van vyandskap lat losbreek by die teenstanders,’ skryf ds S.J. du Toit (Geskiedenis van die Afr. Taalbeweging, 1880 bl. 75). (Die Brandwag III nr 5). Dit is dan ook nie vreemd dat die eerste oplaag van duisend binne twee maande van die hand gesit is nie. By die Spel- en Leesboekie (1878) sluit aan die Samesprake in Afrikaans en Engels deur Oom Willem, waarvan daar drie nommers verskyn het: nommer 2 in 1885 en nommer 3 in 1891. | |||||||
[pagina 188]
| |||||||
In 1897 is al die nommers saam uitgegee. Hierdie Samesprake is by die duisende verkoop. Die doel was om die Afrikaners sowel as die Engelse in staat te stel om mekaar se tale te leer. In die inleiding word eers 'n oorsig gegee van die Afrikaanse klanke en hulle waardes, en dan begin Oom Willem weer onder met eenvoudige samesprakies, daarna word dit al moeiliker. Die eerste samespraak begin as volg:
Naderhand word die name van die dae en maande geleer, 'n besoek gebring aan 'n winkel, en eindelik word gebeurtenisse van die dag behandel, ook politieke kwessies. Godsdienstige sake word ook nie vergeet nie. Teen die einde is die sinne en samesprake al so lank dat dit duidelik is dat die leerling nou volkome tweetalig moet wees. Die ontvangs van die Samesprake was besonder gunstig, soos herhaaldelik uit briewe in die Patriot blyk. So skryf 'n korrespondent op 15 Januarie 1886 nà die ontvangs van die tweede Samespraak: ‘Waarlik, as 'n man nou nog onbekend bly met die twee hooftale van Suid-Afrika dan is dit syn eie skuld, en dan is dit oek onverskoonlik. Ek hoop mar dat Oom Willem syn groot werk ni daar sal laat nie, mar 'n derde en vermeerderde uitgawe binne kort sal verskyn. Hy moet so reken hy doet meer as wat nog di beste skoolmeester in ons land gedaan het.’ Oom Willem was in die eerste plaas prediker, en vir ons is hy hier belangrik omdat hy nà ds P.D. Rossouw van die eerste preke in Afrikaans geskryf het. Hierdie preke het eers in die Patriot verskyn en is later in aparte boekies uitgegee onder die titel: Evangeli in di Volkstaal Nr 1 (1884) en Nr 2 (1885). Sy preke, eintlik toesprake, Bybellesinge, was in die mees eenvoudige taal. In Nommer 1 is dit as 't ware geen preke nie, maar verhale wat hy vertel van mense wat tot bekering gekom het. Hy doen dit op so 'n eenvoudige wyse dat dit sy lesers | |||||||
[pagina 189]
| |||||||
moes boei, hy hou dan ook gedurig kontak met hulle. Hy het die verhaal so geskryf dat elke leser(es) hom of haar daaraan kon spieël. Die evangelie het die harte van sy lesers geraak. ‘[Ek] moet oek as 'n dienende priester van God myn medemense op di Lam wys, en dat oek in di taal van ons volk. Ons volk het 'n reg om in ons eie taal di Evangeli te hoor, en al te lank word hulle di reg onthou en al te onverskillig is ons volk omtrent hulle reg.’ Soms is die prediker-skrywer darem te plat in sy taalgebruik. Geen wonder dat ds S.J. du Toit en Oom Lokomotief gelag het toe hulle hom vir die eerste keer in Afrikaans hoor preek het nie. So dreig hy die sondaar: ‘Jy wandel van jou jeugd af in jou bloedroot kleed van jou sonde; di hel is jou voorland ....’ In Di Skarlaken Snoer vertel eerw. V.d. Rijst op 'n heel interessante wyse hoe Anna en haar suster een aand na die nuwe predikant gaan luister het. Hy het die sondaars aangemaan om hulle te bekeer, en ‘Anna het di aand di skoot gekry so dwars deur di kol van haar hart.’ Sy kon die nag nie slaap nie, want sy het gevoel sy is verlore. Haar onrus skets die skrywer vir ons uitstekend, want hy ken die hart van die sondaar. Haar familielede is bang dat sy in 'n stryd sal raak en laat die prediker roep. Hy wens haar geluk dat sy die afmetings van haar sonde begryp, want nou kan sy Christus ontmoet! Dit was eerw. V.d. Rijst veral te doen om aan mense hulle sondes te openbaar, en veral aan dié mense wat hulle verbeel dat hulle hemel-toe gaan. Dit was bv. die geval met Tant Leni in Issakar, di Sterk Gebeende Esel (P. 5 en 12 Sept. 1884). Sy het gedag sy kon deur haar goeie werke vir haar 'n plekkie in die hemel loskoop, en het ook daarop geroem dat sy goeie dade gedoen het. Sy neem dit Tant Kris-i kwalik dat sy haar op die valsheid van haar godsdiens wys. Ook Oom Karel kan sy nie bra veel nie: ‘Hy lol te veul van geloof, geloof.’ Hulle gaan almal na 'n diens by een van die bure, en die predikant preek eintlik net vir haar en die ‘eselgristene.’ ‘Di esels lê tusse twe pakke: op di linkerhand lê di pak van sonde, op di regterhand di pak van goeie werke. Hulle kan ni verstaan ni, dat di dood in di goeie werke sit, en dat di sonde in di | |||||||
[pagina 190]
| |||||||
bloed van di Lam van God doodgemaak is... Verwerp julle goeie werke as 'n grond van saligheid.’ Doodongelukkig keer Tant Leni terug van die diens, want haar oë het oopgegaan. Ook haar stryd word met veel noukeurigheid beskrywe totdat sy tot bekering kom, en toe kon ‘'n mens so di vrede op haar gesig lees.’ In Liew en Lam (P., 10 Okt. 1884) ondervra eerw. V.d. Rijst iemand om uit te vind of sy siel veilig is. ‘Is jy bang vir 'n lam? ‘Né, waarom sal ek ver 'n lam bang wees? So'n diertji kan mos vir myn gen kwaad doen ni.’ ‘Is jy bang ver 'n liew?’ ‘Natuurlik!....’ Hierdie inleiding moet dan dien om aan die ondervraagde te toon dat sy regverdigheid sy sonde is, en so word vir hom die weg aangetoon tot saligheid. Jesus is di Gristus (P., 31 Okt. 1884) is die eerste werklike preek, want dis geskryf in die vorm en die gees van 'n preek. Eerw. V.d. Rijst bewys met talryke voorbeelde dat Jesus die Christus is. Gewoonlik gebruik hy 'n beeld om een of ander waarheid te bewys, bv. Root of Wit, waar rooi die kleur van die sonde is en wit die kleur van die saligheid. Alle sondaars dra 'n rooi kleed, en nou bewys die prediker dat alle onbekeerdes sondaars is en verlore gaan. Hulle sondig bv. deur hulle gedagtes, want hoe baie is daar wat in die kerk sit en aan ander dinge dink. Hy ondervra sy toehoorders of lesers direk: ‘En wi was di ander aand op di dansparty, en ni heeltemal nugter tuis gekom ni? Was dit ni jy, jong kêrel! wat God ni vrees, en gen mens ontsien... En moet ek jou wys op di ligsinnige manier, waarmé jy met die jong meisies omgaat... Jy moet tog begin nadink. So kan jy ni aangaan ni.’ Dis nie nodig om al die preke te behandel nie, want baie het dieselfde opset. Gewoonlik noem eerw. V.d. Rijst sy lesers hulle sondes by hulle name, laat hy hulle besef dat hulle verlore is. Ons sal 'n paar voorbeelde gee: ‘Di toorn van God bly nog op jou, en sterwe jy in jou sonde, dan lê jy in di helse vuur, net so seker as di ryke man in di gelykenis. Lukas 16: 19-31.’ (Nr 1, bl. 51). ‘Jy is in gevaar, jy loop op di brede | |||||||
[pagina 191]
| |||||||
weg, wat na di verderf gaat.’ (Nr 1, bl. 53). ‘Wil jy dan mar so vir dood slaap totdat jy in di helse vuur wakker skrik? Kan jy dan so gerus na di verdoemenis stap? Julle, wat di stukki lees, julle gaat ni ongewaarskuw na di hel toe.’ (Nr 2, bl. 6). Maar na hierdie dreigemente wys die prediker sy toehoorders die weg aan tot saligheid, wys hy hulle op die versoeningsdood van Christus, en vra hy hulle om in Christus te glo. ‘Daarom lesers, as daar onder julle is, wat Jesus nog ni besit ni, en dus di Vader ni ken ni; neem dan di Soon an, kus Hem; onderwerp julle an Hem; glo Syn Evangeli...’ (Nr 1, bl. 47) ‘'n Mens moet di stem van di Here Jesus hoor, anders kom di saak ni reg ni’ (Nr 2, bl. 7). ‘Gaat, lê jouself voor God neer, erken jou skuld en jou sonde.’ (Nr 2, bl. 14). Volgens getuienisse het hierdie preeksketse, net soos dié van ds Rossouw, meer as een leser tot bekering gebring. So gaat dit is 'n lang verhaal wat in 1885 gedeeltelik in Di Afrikaanse Almanak verskyn het, en die volgende jaar apart met 'n oplaag van duisend. Dit herinner sterk aan eerw. V.d. Rijst se preeksketse, want ook hier is die godsdienstige strekking op die voorgrond. Die gegewe is nie belangrik nie: Oom Koos gaan Kaap-toe om inkopies te doen en terselfdertyd 'n blanke meisie en twee seuns te soek om op die plaas te kom help met die boerdery. Alles gaan voor die wind: sonder moeite kry hy die dogter en twee seuns, sodat Oom Jan verruk uitroep: ‘Ek staan verbaas o'er di dade van God; mar so gaat dit; as di Liwe Here 'n ding wil doen, dan gaat dit tog al te maklik.’ Na hierdie breedvoerige inleiding vertel die skrywer die lotgevalle van die kinders op die plaas. Eerw. Van der Rijst het gereeld Bybelraaisels ingestuur vir die lesers van die Almanak en die Patriot ‘met die belofte van 'n mooie Bybel’ vir die oplosser van dié raaisels. | |||||||
(k) M.H. Neser (1874-1932).Michiel Hendrik Neser is 'n direkte afstammeling van die stamvader van die Neser-familie in Suid-Afrika: Augustus Tiberius Neeser, wat sy naam nog met twee e's geskrywe het. Hy was werksaam aan die Hollandse hof as geneesheer, maar | |||||||
[pagina 192]
| |||||||
in 1795 het hy na die Kaap gekom. M.H. Neser is op 28 Julie 1874 op die plaas Lukaskop, naby Philipstown, gebore. Hier op die vlaktes van die Karoo het Neser opgegroei tot 'n jong man. Sy enigste onderwys het hy saans van sy vader ontvang, en bedags agter die skape het hy verskillende soorte boeke gelees - boeke wat hy met sy wolgeldjies gekoop het. Die romans van sir Walter Scott en Jacob van Lennep was sy lieflingsboeke, en groot was hulle invloed op sy eie letterkundige vorming. Maar ook boeke oor natuurwetenskaplike onderwerpe het hy met gretigheid onder hande geneem. Charles Darwin se Origin of Species het hy met besondere belangstelling bestudeer. Sy leeslus was onversadigbaar. Maar sy leergierigheid is hom dikwels kwalik geneem deur vriende en verwante, want hoe kon hy 'n goeie veeboer word as hy altyd, ‘ingedagte’ was? Spoedig het Neser self begin dig en sy eerste pogings aan Ons Klyntji gestuur. Ds S.J. du Toit het dadelik gemerk dat hier iemand is met talent, en hy het hom in 1899 uitgenooi om toe te tree tot die redaksie van Ons Klyntji en Die Patriot. Hy het egter nie langer as 'n paar maande in die Paarl uitgehou nie, want hy kon hom nie vereenselwig met ds Du Toit se politieke beskouings nie. Toe maar weer terug plaas-toe, en in 1907 is hy getroud met mej. H.G. Jooste, 'n dogter van een van die bure. Hy het hom nou toegelê op die boerdery en ook probeer tred hou met die nuutste ontwikkelings op die gebied van landbou en veeteelt, maar ongelukkig het hy nie altyd rekening gehou met die praktyk nie. Saans was hy in sy studeerkamer om die gediggie wat hy vandag in die veld geskryf het, reg te skaaf. Maar hy het gou besef dat met die bloei van die Afrikaanse digkuns nà 1900, sy werk uit die mode was en nie meer in aanvraag nie. Dit is half tragies om te sien hoe hy Jan Celliers probeer navolg het, veral in sy lang, ongepubliseerde gedig Daardie Nuwejaar. Sy swanesang is Die Reuse van Ouds in Die Huisgenoot van 12 November 1926. Dit is 'n lang storie om al Neser se ervarings na 1907 op te teken, maar hoofsaak is dat dit nie goed gegaan het met sy boerdery nie, veral na 1928 toe hy 'n plaas in Griekwaland-Wes gekoop het. Die depressie het hom gebreek, na liggaam en | |||||||
[pagina 193]
| |||||||
siel. Ideale het onvervuld gebly. Hy was pynlik bewus daarvan dat sy lewe 'n mislukking was. ‘Op 22 Julie 1932, terwyl Afrikaners in rou gedompel was oor 'n geliefde Langenhoven, het 'n onbekende kunstenaar en vergete taalstryer alleen en gebroke heengegaan.’ Neser behoort dan tot die tweede geslag van Afrikaanse digters wat hulle rondom Ons Klyntji geskaar het. Hy het vaardigheid geleer by sy voorgangers van die Patriot, en het oor 'n sterk verbeelding beskik, maar hy kon geen nuwe bane oopbreek nie - hy het nog vasgekleef aan die reëls vir die digkuns wat destyds in die mode was. Daar het groot moontlikhede in Neser geskuil, maar hy was nog te veel kind van sy tyd. So wou hy in sy gedigte en prosawerke vermaak en die leeslus opskerp: grappies het hy vertel, en vir die jongmense hope gedigte gemaak oor die liefde, sy vernaamste tema. Hierdie liefdesgedigte was sangerig en dikwels sentimenteel, maar vir die jeugdige lesers van Ons Klyntji ‘mooi.’ Van sy eerste gedigte is Di Klaagliid fan di laaste Boesman (Mei 1896); die ballade Stoffel en Leni (Junie 1896); die uitmuntende vertelling: Di Fryer fan nig Betti (Julie 1896), wat duidelik invloed van Hoogenhout toon; die bekoorlike natuurgedig Ons Sonnige Afrika (Sept. 1896): ‘Hoerê! fir so'n mooie land
So liiflik en so fry,
Waar je alles wat jou hart begeer
In owerfloed kan kry,
Waar wild fan alle soorte
Syn felde nog bewoon,
En ongediirte skuilplek soek,
In berge wonderskoon.’
Kostelik is die dramaties-vertelde gedig: Di Afgeslaande Fryer (Junie 1897), waarin die jonkman heel realisties sy ervarings verhaal met 'n Engelsgesinde Boerenooi. Hy vertel alles kaalkop, vol geesdrif, en kan 'n stout glimlag nie onderdruk nie, omdat hy ook volgens die ‘lady’ ‘'n niksnutse boer’ is. Sy vriend wou weet waarom hy so bedruk lyk en dan borrel dit uit: verlede Saterdagaand wou hy na Sannitji van ou tant Maria gaan vry; hy het sy mooi ryperd laat opsaal, sy | |||||||
[pagina 194]
| |||||||
beste pakkie klere aangetrek, en sy goue ring uitgehaal, want dan sou Sannitji sekerlik ja sê. Maar wat was hy tog nie teleurgesteld met ‘so'n trotse wyfiis diir’ nie, ‘Want toen ek so frinlik myn hand fer haar ryk,
Toen lat sy fer my mos haar ruggi bekyk.
En toen ek met 'n glimlag fra
Hoe lat dit tog met haar gaan,
Sê sy: “Ag loop! dit traak jou ni!
Wat gaan myn welstand fer jou aan?”
Ek sê: “mar myn niggi, kom hoor eers na my:
Ek het mos gekom, om na jou te kom fry.”
“Wat!” roep sy en trek 'n bek
Dat ek nog skaars myn lag kon hou,
“Loop fry fer myn part na di myd!
Di is 'n mooi portuur fer jou.
Fer myn part kan jy na di hoenders gaan;
Gen boer wil ek hê, mar 'n mooi Engelsman.
Jul, boere is te dom en sleg,
Te lomp, niks wêrd en ongeleer.
Gen mysi fan fatsoen, soos ek,
Sal ooit 'n boer tot man begeer.
Ek dank jou dus hartelik; jy kan mar ferkas;
'n Engelsman, dis net wat fer my sal pas”.’
Sy vriend troos hom dan en raai hom aan om die ‘onding’ te laat staan, want goeie nooientjies is nog volop ‘met hartjiis, suiwer ryn en goed.’ Sannitji sal haar tog vasloop met haar ‘Lunsriim.’
Hoe Oom Sarel gespook het (Julie 1897) is 'n grappige anekdote omtrent 'n ou man wat graag 'n kwaaijongstreek uitgehaal het met 'n kopbeen. Een aand span 'n smous op sy plaas uit, en toe dit donker was, kom hy met die kopbeen aangestap wa-toe, en ‘Toen saai di spul di donker in:
Jy hoor net foete klap.’
| |||||||
[pagina 195]
| |||||||
Stemmingsvol is die gedig met 'n tragiese ondertoon: Kortstondige Lentelus (Okt. 1897). In digterlike prosa wat 'n verrassende ooreenkoms vertoon met hierdie gedig, het Neser dieselfde verhaal oorvertel in Ons Klyntji onder die titel: Lente Liifde.
Mooi is die eerste vers met sy kalme ritme, eenvoudig en sonder woordgetooi: ‘As di liwe Lentetyd
Ferskyn met frisse jeug,
En di aarde haar tooi nes 'n blosende bruid,
Dan is al wat leef ferblyd,
Fol le'wenslus en freug,
En ferheug sig di plante, di gras en die kruid.’
In so'n blye tyd het die digter en sy nooientjie hulle op die gras neergevlei en stil oor hulle liefde gemymer. Ongelukkig word hierdie mooi stemming verbreek deur die stroperigheid, die trane en die ‘engelagtige toon’ waarop sy praat, ‘met haar ogiis hemels skoon.’ Swygend het hulle huiswaarts gekeer, maar min wis hulle dat dit die laaste keer was, want daardie nag het sy skielik gesterf. Dis reeds lank gelede, en nog kan die digter haar nie vergeet nie. As Neser die stemming kon volgehou het tot' aan die einde en nie sentimenteel geword het nie, sou dit 'n mooi gedig kon geword het. Heel middelmatig is die vertelling: Op di Dood fan Klasi Venter (Sept. 1898). Selfs die verhaal is onbelangrik. Op 'n handige wyse is die geskiedenis berym. Klasi Venter was verloof aan Maria Potgieter, ‘'n liwe skone bloem,’ en hulle het reeds op troue gestaan toe hy skielik op 'n smoustog oorlede is. Pateties is Maria se gekerm oor haar verloofde se dood. Die handelwyse van Klasi se broer wek ook nie ons simpatie nie - om dit nie onvriendeliker te sê nie. Neser kry weer koers in sy geskiedkundige gedig: Di Moord by Moordspruit (Des. 1898), waarmee hy eerste gekom het vir 'n prysvraag wat uitgeskryf is oor 'n onderwerp uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die tweede prys is aan B.R. Buys toegeken vir sy gedig Dapper Dirki Uys. | |||||||
[pagina 196]
| |||||||
Di Moord by Moordspruit getuig van 'n sterk verbeelding en 'n inlewing in die onderwerp. In die inleiding gee hy ons 'n beeld van die rustigheid in die laer: ‘Di aand is so helder en liiflik en skoon;
Natuur spry haar heerlikste luister ten toon;
Di harte is almal so frolik en bly:
Want morre word Pieter Retief weer ferwag
En dan siin hul seker di saligste dag
Fan heel hul léwe: dan's alles ferby.’
Tevergeefs het Retief hulle gewaarsku om daar te bly, hulle het orals langs die rivier uitgekamp. Die jong mans het gaan jag sodat die vrouens alleen by die waens was. ‘En morre... ja morre gewis fiir hul fees!
Want morre kom Piet Retief tuis fan Dingaan
Dan kan hulle fertrek na di heerlike land,
Om daar hulle nasi fer ewig te plant,
En nooit weer gen nood of verdriit uit te staan.’
Nou loop Neser sy verhaal vooruit, en nadat hy die Natalse natuurskoon geroem het, roep hy uit: hulle wis nie watter ellende die dag van môre sou bring nie! Die digter merk reeds onraad: ‘Wat was dit fan fêr, di gestadig gedruis?
Dalk water wat in di rifire so ruis?
Of stormwind straks, wat di lug so laat tril?’
Soos Malherbe in sy gedig: ‘Dis donker, donker middernag...,’ vertoef Neser nou eers by die slapendes in die waens: die meisie droom van 'n held wat haar teen kwaad en geweld beskerm: ‘Sy droom fan syn liifde, so innig en trou;
Sy droom fan 'n léwe fol soete geluk.’
Daar lê 'n moeder met haar suigling in haar arms, wat sag aan haar bors rus ... Maar na hierdie vredige stemming, die ruwe kontras, en daar klink die uitroepe: ‘Help! Kaffers! Op! moord!!’ | |||||||
[pagina 197]
| |||||||
Taamlik realisties beskrywe Neser nou die barbaarse rumoer en die verskriklike gruweldade deur die Kaffers gepleeg: ‘Ferskeurende kréte ... - o skriklike nag!’
Tog gevoel Neser hom magteloos om alles na waarheid te beskryf: ‘Waar is di ferbeelding en waar is di taal
Instaat di ontsettende skouspel te maal...?’
Graag wil hy ons 'n beeld gee van die smart van die mans toe hulle die verminkte lyke van die vrouens aanskou, maar hy is nie daartoe bevoeg nie, ‘Want wi kan 'n denkbeeld maak wat of dit meen
Waar kragtige mans nes klyn kindertjies ween?’
Dit was die laaste gedig van Neser wat in Ons Klyntji verskyn het; nadat hy met ds Du Toit gebreek het in September 1899, het hy geen bydrae vir sy tydskrif meer gelewer nie. Vir etlike jare swyg hy nou, maar as De Goede Hoop in 1903 opgerig word onder redaksie van adv. J.H.H. de Waal, word sy pen weer vaardig en kan die redakteur moeilik voorbly om al sy bydraes te plaas. As ons Neser se gedigte wat in De Goede Hoop verskyn het, ontleed, dan merk ons haas geen vooruitgang op sy gedigte in Ons Klyntji nie, nòg wat inhoud nòg wat vorm betref. Hy is nog steeds besig met temas soos die liefde of 'n grappige gebeurtenis, hy streef nog steeds na 'n onberispelike maat en goeie rym, soos dit vóór die oorlog in die mode was. | |||||||
Prosa.As prosaskrywer is Neser nie so goed bekend nie, en eintlik ten onregte, want hier het hy van sy beste werk gelewer. Benewens die los verhale wat in Ons Klyntji en De Goede Hoop verskyn het, is twee novelles uit eersgenoemde tydskrif oorgedruk: Wat Geld kan doen (1898) en Deur Hoogmoed Misly (1899). Kortverhale soos ons dit vandag verstaan, het hy nie geskryf nie, slegs sketse, maar sommige van hulle getuig | |||||||
[pagina 198]
| |||||||
van talent, veral deur sy natuurbeskrywing en die gebruik van digterlike prosa, wat iets ongekends was in sy tyd. Ons moenie vergeet dat Neser tot die eerste Afrikaanse prosaskrywers behoort nie, hoewel nie tot die allereerstes nie. Hierdie prosaskrywers was nie skoonheidsoekers nie, maar mense wat met 'n bepaalde doel geskrywe het: om te vermaak, te stig en leeslus op te wek. Dit was ook die doel van Neser soos blyk uit 'n brief aan die firma D.F. du Toit & Co., in 1898: ‘Aangesiin daar so totaal gebrek is an Afrikaanse lektuur wat so nodig is tot befordering fan ons liwe moedertaal, het ek 'n poging gedoen om in genoemde taal 'n boeki te skrywe (Wat Geld kan doen) fan 'n aard wat ek dink best geskik is om leeslus by ons jong mense op te wek.’ Neser se eerste poging in prosa was 'n dierverhaal (Sept. 1896) in antwoord op 'n prysvraag uitgeskryf deur Ons Klyntji vir die drie beste dierestories. Daar is twaalf insendings ontvang, en Neser het die eerste prys verower. Hierdie verhale van jakkals se sluheid het Neser uit die volksmond opgeteken. Hulle speel in die sprokiestyd toe die diere nog kon praat soos mense. Die realistiese wyse waarop Neser die verhale oorvertel het, is verdienstelik. Ons sien hoe jakkals en krap resies hardloop, of hoe jakkals tier bedrieg deur hom na sy eie beeld in die water te laat kyk; so natuurlik is die dialoog. Neser se eerste skets het in Ons Tijdschrift verskyn, (deel I, bl. 202), maar in suiwer Nederlands. Dis 'n grappige verhaaltjie onder die titel: Gaat nooit in den regen vrijen. Dat Neser 'n sterk fantasie gehad het, bewys die allegorie 'n Droom (O.K., Des. 1897). Na hierdie voorarbeid kon hy hom nou aan 'n novelle waag, en so verskyn Wat Geld kan doen in Ons Klyntji vanaf Februarie tot Junie 1898. Dit word gevolg deur 'n tweede novelle, Deur Hoogmoed Misly, wat vanaf Oktober 1898 tot Mei 1899 geloop het. Albei is in boekvorm oorgedruk. Met hierdie novelles is Neser 'n verteenwoordiger van die ou romantiese romankuns deur sy gebrek aan objektiwiteit, die baie verrassingsmomente en toevalsgebeure, en die onvermoë om innerlike karakteruitbeelding te gee. Die romantiek het goed by Neser se karakter gepas, en ons kan hom ook die eerste | |||||||
[pagina 199]
| |||||||
werklike Afrikaanse romantikus noem. Hierdie novelles toon duidelik wie sy leermeesters was: Scott en Van Lennep. Eduard Bester het 'n beeldskone dame in die kerk gesien, maar deur sy vriend, Frans Joubert, se laksheid kon hy haar nie tot by haar huis volg nie. Bester is besonder opgewonde en loop die strate op-en-af, maar die vabondjie het verdwyn. Die gesprek tussen die twee vriende oor haar besondere hoedanighede is opgeskroef en oordrewe, maar gelukkig bespaar die skrywer ons gou hulle geselskap. Hy maak van Van Lennep se handige metode gebruik: ‘Terwyl di twé frinde besig is om koffi te drink, sal ons di geleendhyd waarneem om met hulle nader kennis te maak.’ Nog meer as een keer sal hy op dié wyse van die een situasie op die ander spring. Bester en Joubert word dan aan ons voorgestel volgens die gebruik van die romantiese skrywers: ons leer hulle van buite ken, die skrywer vertel ons baie omtrent hulle, maar van hulle sielelewe weet ons niks nie. Uit sy gedrag merk ons egter dat Bester 'n willose swakkeling is, sonder enige spoor van manlikheid. Op 'n verjaarsdagfees ontmoet Bester sy ou vriend Frikki Naude, en toevallig is die mooi nooi sy niggie. Hy is net gretig om haar en sy suster aan Bester en Joubert voor te stel, maar ook aan ons. Maria Pienaar - so was haar naam - was 'n ware hemelling, ‘want imand wat ni geweet het dat sy 'n mens is ni, kon haar maklik fer 'n baster engeltji aangesiin hê .... twé blou oge, nes twé lewende diamante; oge, so sagsinnig, en tog so lewendig en betékenisfol... Haar wangetjiis was soos twé rosies... en haar lippies nes 'n twéling roosknoppi.’ Hoe kan 'n man die blik van so'n waspoppie weerstaan? Bester speel dan ook sommer vinnig met haar, en die tweede aand na hulle ontmoeting is hulle verloof! Maar nou kom die moeilikhede. Maria gaan terug na haar ouerhuis, en die skrywer het hom reeds al nie baie simpatiek oor hulle uitgelaat nie, want hulle kyk net na rykdom. En nou wil die toeval dit so hê dat die bank waarin Bester se geld belê is, bankrot raak. Terwyl Maria se vader eers sy toestemming gegee het vir hulle verlowing, belet hy nou Bester sy huis. Tog waag Bester dit om Maria te gaan opsoek toe hy van haar siekte verneem. Maar die moeder steek hom onder | |||||||
[pagina 200]
| |||||||
die besemstok, en Maria kwyn weg van verdriet. Pateties is dit as Bester uitroep: ‘Ek wil sterwe, sterwe fer haar! o Maria! denk tog altyd an my; ek gaan sterwe fer jou; fergeet my ni!’
‘Ons spring dri maande o'er, en slaan dan di blik terug,’ sê die skrywer. Bester doen niks anders as treur nie, ‘en di algemene gedagte was, dat hy froeger of later sou mal worde, of selfmoord pleeg.’ Dit gebeur egter nie. Die toeval bewerk dit so dat sy ryk oom sterf en alles aan hom bemaak. Maria se skurkagtige ouers hoor dit en skryf 'n skynheilige brief aan Bester waarin hulle hom om vergifnis vra. Hy merk die lis nie, en jaag dadelik na Maria om haar in 'n uitgeteerde toestand terug te vind. Maar sy knap gou op, en as Bester en Joubert saam na die predikant stap om hulle gebooie op te gee, dan merk Bester op: ‘Wat kan geld tog ni doen nie!’
Ons mag glimlag oor die stroperigheid van die verhaal, ons mag klae oor gebrek aan agtergronduitbeelding, aan karaktertekening, omdat die kontras te skerp is tussen die engeltjies en die skurke, ons mag verwonderd wees oor die rol van die toeval, en tog in 1898 het geen leser hom oor hierdie dinge bekommer nie, het hy nooit kon droom dat 'n later letterkundige mode daarmee die spot sou dryf. soos die moderne dogtertjie as sy 'n portret van die swaargerokte ouma sien nie. Die lesers vir wie die novelle bedoel was, het dit geniet van begin tot einde; hulle was vol bewondering vir die lieflike Maria, hulle harte het week geword oor die smart van Bester, hulle het Maria se ouers met 'n vreeslike haat gehaat. In ademlose spanning het hulle die een bladsy na die ander ‘verslind’ om tog te sien of Bester en Maria mekaar ‘kry’ aan die einde, en hoe groot was hulle vreugde nie toe hulle merk dat dit werklik die geval was nie! Wat 'n pragtige boek was dit nie vir hulle nie! Neser was tevrede: hy het hierdie mense 'n paar aangename uurtjies verskaf, hy het hulle weggevoer uit hulle daaglikse lewe, hy het hulle leer lees, omdat hy vir hulle 'n ‘storie’ in hulle eie taal vertel het. En toe Neser geskryf het, was daar nie baie dergelike ‘stories’ in Afrikaans verkrygbaar nie. | |||||||
[pagina 201]
| |||||||
Is die letterkundige waarde van Wat Geld kan doen dan heel gering, soos dit vandag ook nog die geval met ontspanningsleesstof is, die kultuurhistoriese waarde is soveel groter. Agter hierdie novelle het Neser 'n klompie van sy gedigte afgedruk, wat ons reeds ken, en ook 'n paar sketse uit Ons Klyntji. Lente Liifde wat hy ook in digvorm verwerk het, is 'n juweeltjie in sy prosaliteratuur. Hier skryf hy digterlike prosa, soms miskien onsuiwer, maar soos vóór 1898 nog nooit in Afrikaans geskryf nie. Die natuur is nog nooit voorheen só gesien in die Afrikaanse prosaletterkunde nie. Die hele skets is omwaas met 'n fyn stemming, is deurdronge met egte gevoel. Dis 'n stille droom. Hoe pragtig werk hy die eerste paragraaf nie op na 'n klimaks nie! Die skets Troue Liifde (Sept. 1898) is heel goed gebou. Dit begin met 'n vraag: ‘Weet julle wat opregte, onferbreekbare liifde is? As julle dit ni weet ni, dan gaan ek julle daar nou iits fan fertel.’ Die verhaal eindig treurig, en daarom is dit in 'n donker toon geskrywe met traagvloeiende sinne. Oorspronklik is die verhaal wel nie, maar oorvertel uit die Engelse letterkunde. 'n Fryery an di Strand (Sept. 1898) begin mooi met 'n digterlike beskrywing van twee verliefdes een aand op die strand, maar die slot val heeltemal buite die toon as die kêrel wil begin eet, en dan skielik daardie nag verdwyn sonder enige rede. Die ‘engeltjie’ raak heeltemal onaards en oneg wanneer Neser se gevoel vals word en sy taal retories. Groot Geskrik (Aug. 1899) vertel op luimige wyse van 'n paar grootpraters wat gaan jag het, maar toe 'n leeu werklik op hulle afstorm, hulle boeglam skrik. Die een byt die stuk braaivleis vas in sy mond, en ‘party spring sommar op di geknelterde perde, en slaan en skop net an om weg te kom.’ Deur Hoogmoed Misly (1899), Neser se tweede novelle, toon groot vooruitgang op Wat Geld kan doen. Hier is geld en liefde weer in die spel, maar nou met noodlottige gevolge. Sou Catharina, die dogter van die Advokaat van Hoogenhout invloed op hom uitgeoefen het? Daar is veel ooreenkoms tussen dié twee novelles, behalwe dat Neser die romantikus is. Aan die eerste hoofstuk laat die skrywer 'n versie van Hoogenhout voorafgaan: | |||||||
[pagina 202]
| |||||||
‘Kan geld of goed gelukkig maak?
Né liifde en liifde alleen:
Dit is di eenge ware band,
Di maak twé harte een;
Mar waar di liifde ni bestaan,
En geld di dryffeer is,
Daar kan gen waar geluk ooit wees,
Dis seker en gewis.’
Die waarheid van hierdie versie sal Neser ons met sy verhaal bewys. Die begin van die verhaal is uitstekend, want Neser ken die dorpslewe, maar as die gebeure na Johannesburg verplaas word, word die beskrywing karikatuuragtig. Trouens, ons weet heel veel van die Bolandse dorpie waar Oom Willem en sy kinders bly, maar Johannesburg bestaan net uit 'n sinkhuisie en is bevolk met boewe. Die begin is 'n ware dorpsidille, want Oom Willem woon daar heel gelukkig, en langsamerhand ontwikkel daar 'n liefde tussen sy dogtertjie Helena en haar nefie, ook Willem genoem. Maar Neser loop sy verhaal vooruit: ‘Mar wat di ou in di da'e ni sou gedroom hê ni, was, dat syn liwe Leentji hom di dood sou feroorsaak sonder om haar dood te laat fooraf gaan.’ Die skrywer kry egter spyt dat hy ons nou al op sulke onaangenaamhede trakteer, en na 'n praatjie met die leser ‘keer (ons) dus liwer tot di aangenamer werkelykhyd terug,’ en hy belowe 'n bietjie later om ‘'n meer onderhoudende toon aan te slaan.’ Ses jaar lank het Willem en Helena saam skoolgegaan, maar toe besluit haar vader om haar na die Wellingtonse Seminarie te stuur. Swaar was die afskeid, want ‘dit was of haar hart wegsmelt (sic!) en die trane floei in stroompiis (sic!) o'er haar wangetjiis.’ Maar soveel aangenamer was die ontmoeting na ses maande weer. Tog was daar iets wat vir Willem gehinder het in haar: ‘di Engelse woordjiis wat sy daar gedurig in meng,’ en die gedurige gepraat van die Engelse studentjie, Smart. Op 'n oulike wyse laat die skrywer dit deurstraal hoe Helena telkens as sy vir die vakansie huis-toe kom, meer en meer vervreemd raak van haar familie, omdat sy langsamer- | |||||||
[pagina 203]
| |||||||
hand aan die verengels was. Na agtien maande merk haar vader maar te duidelik dat haar siel aangetas was ‘deur di ergste graad fan Engelse pes; sy was ontaard en ferbasterd; al haar goeie, liiflike antreklike hoedanighede, wat haar so geliifd en bemind gemaak het in haar omgewing, was ferniil, ferwoes, fersmoor.’ Met veragting sien sy neer op haar kennisse, ja selfs op Willem - sy wil 'n Engelsman vir 'n man hê, want haar eie mense is te ru en onopgevoed, en Afrikaans is 'n Hotnotstaal. Haar vader se berisping maak haar eintlik net nog meer hardkoppig. Vreemd is dit nie dat sy Willem werklik in die pad steek nie. Die skrywer gun ons nie juis 'n blik in sy siel nie, maar vertel ons net dat Willem se droefheid hom laat vrees het dat hy ‘fan syn ferstand sal raak en sal mal worde.’ Nou word die verhaal karikatuuragtig, want ‘Mister’ Smart moet natuurlik in die swartste kleure afgeskilder word om van hom 'n ware skurk te maak. Die skrywer is so sterk bevooroordeeld teenoor ‘Mr.’ Smart dat hy hom bespotlik voorstel: ‘Di mannetji was na di nuutste mode gedres; syn foorpootjiis - in een waarfan 'n swart kiritji met 'n silwer koppi geklem was - was in sakkiis fan bruine leer gesteek; op syn dunne aasfo'el snuitji, was twé goudgerande fêrkykertjiis fasgeknyp; syn kopwol wat onder 'n keppi ferberg was, was wit; en so was di twé horingskiis, tussen syn neus en bolip; hy was brandma'er en bleek fan kleur, met gryse oge, en an di kleur fan syn nek kon 'n mens dadelik bemerk dat hy 'n seun was fan John of Jack.’ Kostelik is in ieder geval die beskrywing van die ontmoeting tussen hom en Oom Willem, want hulle kon mekaar se taal nie praat nie: ‘... Praat dat ek jou kan ferstaan, of loop na jou mai toe!’ roep Oom Willem vererg uit. Hy is skoon oorbluf as Helena uitkom en die twee mekaar begin ‘vasklou.’ Oom Willem steek hom onder die kierie en 'n vegparty ontstaan. Nou ontwikkel sake vinnig. Smart en Helena loop weg en steel nog £ 5,000 van Oom Willem. Hy het Helena verskriklik belieg en bedrieg, want in plaas van 'n paleis met onderdanige bediendes, stop hy haar in 'n krot in een van die agterbuurtes van Johannesburg, en suip haar geld uit en ver- | |||||||
[pagina 204]
| |||||||
smyt hom met straatmeide. As hy dronk tuis kom, mishandel hy haar nog boonop. Die donker wolke wat sy die nag van haar ontvlugting gesien het, het dus 'n simboliese betekenis gehad, soos die skrywer gesuggereer het. Daar val harde woorde tussen hulle en Helena se liefde het natuurlik omgeslaan in haat. Maar dit was te laat, want Smart was moeg vir haar en het Helena aan haar lot oorgelaat. Onder moeilike omstandighede is haar kind gebore. Helena het diepe berou gehad oor haar sonde; sy het tot haarself ingekeer en begryp dat sy ‘deur hoogmoed misly is.’ Huiwerig het sy na haar vader teruggekeer. Sy het haar suster se dood veroorsaak, en haar vader was reeds sterwende. Die beskrywing van die ontmoeting tussen vader en dogter is erg melodramaties. Hy vergewe haar egter alles en word saam met haar kind op één dag begrawe. Die skrywer is nie in staat om Helena se sielelewe te ontbloot nie; daarom maak hy hom handig los van haar in 'n paar banale sinnetjies. ‘'n Freeslike beproewing was dit fer Helena! Dog di hart fan 'n frou is sterk in so'n leed! dit foel wel diip, maar breek ni:’ Sy is gou oor die ‘beproewing’ heen, want 'n paar maande later is sy en Willem getroud, en hulle is met 'n ryke kroos geseën geword. Smart, die skurk, het ook sy verdiende loon gekry: hy het bandiet geword. Die les van die verhaal lê opgesluit in Helena se bieg aan Willem: ‘'n Hoger mag het my myn dwaasheid laat insiin en my geleer wat dit sê om hoogmoedig en ongehoorsaam te wees, jou nasi, jou stand en jou famili te ferag, en ek wil di Foorsinighyd altyd daarfoor dank, dat Hy my, myn dwaling het laat insiin en my geredde het.’ Terwyl Neser in 1899 in die Paarl was, het hy aan 'n historiese roman begin skryf, gebaseer op die Gedenkskrif van Anna Elizabeth Steencamp. 'n Afstammeling van haar sou hom gevra het om dit te doen. Verder as die eerste hoofstuk het Neser egter nie gekom nie. Deur sy sterk verbeelding was Neser uitstekend in staat om intrige-romans te skryf vol van avonture en gelaai met spanning. Dit is bv. die geval met twee onuitgegewe romans wat nog onder sy nagelate papiere gevind is: Di Niggi en Mietji. Waarom hulle nooit die lig gesien het nie, is onbegryp- | |||||||
[pagina t.o. 204]
| |||||||
Ds P.D. Rossouw.
M.H. Neser.
B.R. Buys.
G.R. von Wielligh.
| |||||||
[pagina 205]
| |||||||
lik. Volgens die spelling is albei vóór 1907 geskryf, en toe was daar sekerlik 'n groot aanvraag vir dergelike leesstof, te oordeel na die ontvangs wat Johannes van Wyk van De Waal te beurt geval het. Met 'n bietjie verandering en in 'n papierbandjie sal hulle vandag nog as ontspanningsleesstof uitstekende diens kan doen. Di Niggi vertel ons van twee neefs wat albei verlief geraak het op hulle niggie, en die driehoekstryd wat daaruit ontwikkel. Bêrend is die skurk en Aderjan die held. Na 'n mislukte aanslag op Aderjan se lewe, probeer Bêrend 'n tweede keer. Dit misluk weer en hy skiet self die lewe in. Die held en heldin kry mekaar en na twee jaar is daar 'n baba. Die knoop is goed gelê en die gebeurtenisse volg mekaar met 'n verrassende snelheid op. As Neser nie nodig het om die sielelewe van sy karakters bloot te lê nie, soos dit hier die geval is, dan is hy 'n meester, maar telkens as hy sielkundige ontledings wil gee soos in sy laaste sketse in De Goede Hoop, dan maak hy 'n hopelose mislukking van sy saak. Ewe boeiend is Mietji: die lotgevalle van 'n vondelingkind wat deur kleurlinge opgevoed word. Sy word later 'n diensmeisie by 'n welgestelde vrou, en soos ons reeds vermoed het, haar seun raak verlief op Mietji. Die moeder bied teenstand, maar later blyk dit dat Mietji die dogter van 'n ryk Jood is wat alles aan haar nalaat. Nou trou sy en Willem ‘and they lived happily ever afterwards.’ | |||||||
(1) B.R. Buys (1876).B.R. Buys is die enigste van die vooraanstaande skrywers in Ons Klyntji, wat nog leef. Hy is gebore op 10 April 1876 op die plaas Krompoort in die distrik Albert; hy is 'n direkte afstammeling van die Buys-familie wat omstreeks 1720 uit Duitsland na Suid-Afrika verhuis het. Sy eerste onderrig het hy aan die knie van sy moeder ontvang met behulp van 'n spel- en leesboek, en toe in 'n privaatskool op 'n naburige plaas. In 1888 is hy na mnr Philip Snyman se Vrye Christelike Skool op Burgersdorp. In 1892 is hy oorgeplaas na die Gereformeerde Teologiese skool, waar hy in 1894 die skoolhoër-eksamen afgelê het. Intussen het sy vader sy besittings verloor | |||||||
[pagina 206]
| |||||||
en moes B.R. Buys na Aliwal-Noord gaan waar hy in 1895 die matrikulasie-eksamen afgelê het.
Hy moes nou in die onderhoud van sy familie voorsien, en daarom het hy in September 1895 begin onderwys gee. Intussen het hy nog steeds gestudeer en in 1897 'n derdeklas-onderwysersertifikaat met lof behaal. Nou kon hy ook trouplanne maak en in die begin van 1899 het hy 'n skool in die distrik Waterberg (Transvaal) gekry, toe hy met 'n mej. De Beer getroud is. Hulle het 'n gelukkige huwelikslewe gehad totdat sy in 1912 aan die koors oorlede is.
Met die uitbreek van die oorlog het Buys sy lot ingewerp met die Transvaalse burgers en end-uit geveg totdat hy in 1901 gevange geneem en na Bermuda gestuur is. Nà die oorlog het hy weer 'n jaar lank in Transvaal skoolgehou toe hy 'n aanstelling by D.F. du Toit & Co. in die Paarl aanvaar het. Hy was nou onderredakteur van Ons Klyntji en die Patriot. Dié besigheid het egter in 1904 tot niet gegaan, en hy het weer gaan skoolhou, dié keer in die Vrystaat.
In 1913 is Buys weer getroud, maar dié huwelik was nie gelukkig nie. Vanaf 1928 het dit begin afdraande gaan met hom. Sy onderwyspos het hy verloor, en nà privaat-onderwys in 1933 moes hy op die wapad gaan werk met graaf en pik. Hy woon tans in Johannesburg, maar onder baie moeilike omstandighede.
Buys se eerste bydrae aan Ons Klyntji is 'n oplossing van Bybelse raaisels (Julie 1897). In Desember 1898 het hy die tweede prys verower vir die beste gedig oor ons geskiedenis, met Dapper Dirki Uys. Dit is die enigste gedig wat hy met sy eie naam onderteken het, want hy het hom gewoonlik van die skuilname Darius Bendolf en Barbu bedien.
Dapper Dirki Uys is 'n kunstige gedig: elke vers bevat vyf reëls: gekruisde rym bepaal die bou van die eerste vier, terwyl die vyfde los staan soos 'n koor en deur binnerym sy eie karakter besit. Nou spreek dit vanself dat hierdie rymskema dikwels tot geforseerdheid aanleiding moes gee. So rym teken op doodsteken, ferbouwereer op wanneer, ens. | |||||||
[pagina 207]
| |||||||
Kalm begin die gedig: ‘Toen Piet Uys di droefe tyding
Hoor fan Bloukrans moordgekryt,
Trek hy foorwaarts tot befryding
Fan syn frinde, naar di stryd, -
Ja, as straffer, teen di kaffer.’
Met veel omhaal van woorde word die geskiedenis verhaal, maar geleidelik word die digter meer opgewonde totdat hy 'n dramatiese hoogtepunt bereik as die kommando deur die Zoeloes oorval word, en Piet Uys die bevel gee: ‘Toe nou! storm nou o'er di lyke,
Deur di pad wat jul daar siin!
Nou moet jul gen frees laat blyke!
Nou fer lewe - dood miskiin!’
Vol bewondering is die digter vir die dapper daad van Dirki Uys wat onder die Zoeloes injaag om sy vader te hulp te snel: ‘Dirki Uys? gen édler jonge
Kry jy op di wereld rond!’
In Buys se tyd was daar 'n Engelse geskiedenisboekie op rym (hy het die naam vergeet), wat hy nageboots het. Maar waar die Engelse rymboekie die geskiedenis volgens Wilmot opdis, sien Buys ons geskiedenis uit 'n Afrikaanse oogpunt. Hy het met Ons Geskidenis op Rym in Junie 1899 'n begin gemaak - hy volg dieselfde rymskema van Dapper Dirki Uys. Op die duur werk dit baie eentonig. Na 'n inleiding waarin hy sy plan uiteensit, gee hy 'n beskrywing van Suid Afrika Froeger, vol verbeelding en af-en-toe met 'n mooi siening. Dan volg die ontdekkingstogte en eindelik kom Diaz by die Kaap uit: ‘Toen Johan di blyde tyding
Hoor fan Dias, kry hy hoop;
En noem Stormkaap uit ferblyding
Toen weer “Kaap di Goede Hoop,”
Welk naam dit tot nou besit nog.’
| |||||||
[pagina 208]
| |||||||
Deur die oorlog is die Geskidenis op Rym onderbreek, maar weer voortgesit in Julie en Oktober 1904, en Desember 1905. Hy het dit egter nie verder gebring as die sewende hoofstuk nie: Di Hollanse Oos-Indise Kompeni.
Oor Di Mossi (Mei 1903) het Buys 'n innige gediggie gemaak: ‘Waar find men 'n eed'ler fooltje
As di mossie fan ons land!’
Die redakteur het egter beswaar gemaak teen die verheerliking van dié klein kwaaddoenertjie! Sanderig is Buys se groot aantal Oujaarsdag Gedagtes (Julie, Des., 1903) waarin hy die oorlogsgebeurtenisse in herinnering roep en die Afrikaners aanmaan om die sonde te laat en met moed die toekoms tegemoet te gaan: ‘Want God sal ni ons o'erfal ni
Met ferdrukking, dwang, gebrek:
As Hy ni daarmé 'n doel het
Wat tot onse beswil strek.’
Hier is hy die moralis, net soos aan die slot van die geestige gediggie op Ons Klyntji: Was Hy Een of Sewe Jaar? (Julie 1904): ‘As ons steeds by ons pret en grap
Onthou dat ware Wysheid
Di frese Gods is, sal ons stap
Reg padlangs tot ons gryshyd.’
Droewig en rou is die sentimentele liefdesgediggie: 'n Teleurgestelde Minnaar (Aug. 1904). Die rymwoorde maak die liedjie soms banaal. Gelukkig vergoed die soetvloeiendheid vir baie gebreke. Dit kon gesing word op die wysie van Juanita. Die koor is nie sleg nie: ‘Liifde, ware liifde!
Wi begryp jou krag geheel?
Liifde, ryne liifde!
Blyf tog steeds myn deel!’
| |||||||
[pagina 209]
| |||||||
Net soos Neser, het Buys sy beste werk gelewer op die gebied van die prosa, en ook hy is die egte romantikus, hoewel hy seker nie Neser se gelyke as skrywer is nie. Buys het twee novelles in Ons Klyntji gepubliseer, waarvan een, 'n Haastige Huwelik, afsonderlik gedruk is. Dit het verskyn onder die skuilnaam Barbu, maar dié verhaal is baie swakker as dié van Darius Bendolf: Terug in Lewe. Dit is romantiese verhale, vol toevallighede en onwaarskynlikhede, maar spannend soos weinig romans uit dié tyd. 'n Haastige Huwelik het egter 'n martelaarsgeskiedenis gehad as ons onthou dat dit in Augustus 1899 in Ons Klyntji begin het en eers in Desember 1909 in Ons Taal voltooi is - dus oor 'n periode van tien jaar.
Buys is baie omslagtig, hy kon die hele geskiedenis met die helfte minder woorde vertel het: soms vertel hy 'n voorval tweekeer, en spreek dan nog die hoop uit dat die lesers alles mooi volg! 'n Haastige Huwelik is 'n tipiese intrigeroman met 'n groot aantal drade wat met moeilik-ontwarbare knope vasgekoppel word. Daar is 'n geheime kissie in die spel wat 'n groot erfenis aan die engel-meisie besorg. Die toeval is baie druk besig om die spanningsmomente te skep. Moord en doodslag ontbreek nie, maar uiteindelik volg die gelukkige huwelik. Die skurk is die gemeenste van alle skurke, maar die skrywer raak ontslae van hom as die skurk sy duistere rol vervul het. Ook in sy prosa is Buys didakties; sy verhaal eindig as volg: ‘Dat Annie en Ben 'n gelukkige man en vrou was behoef geen verder betoog, en dus sluit ons met die bede dat ons almal steeds op God mog vertrou hoe duister ons weg ook sy, dan kan ons ook lig en rus verwag gelyk Annie.’ Die verhaal begin met 'n fris natuurbeskrywing: ‘Dit was 'n liiflike agtermiddag in Juni. Die lug was blou en onbewolk, en die son skyn glinsterend op di pad wat van Jamestown na Burgersdorp gaan.’ Jan Immelman verongeluk juis voor die huis van mev. Albertz, wat hom saam met haar pleegdogter, Anni Albertz (in werklikheid Jansen) verpleeg. Anni is een van daardie mooi waspoppies, ‘ni 'n blom ni, mar 'n mysi om bemin te worde.’ Soos ons verwag, raak sy en Jan verlief op mekaar, maar mev. Albertz belet die vryery. Hulle twee besluit om stilletjies te trou, en Jan gaan Kaap-toe om sy sake in | |||||||
[pagina 210]
| |||||||
orde te bring. Daar is 'n treinongeluk en hoewel hy as dood opgegee word, het hy weer gesond geword. Hy kry 'n brief van 'n oom in Johannesburg wat hom sy erfgenaam maak op voorwaarde dat hy met sy pleegdogter trou. Jan doen dit.
Annie verkeer onder die indruk dat Jan dood is. Haar pleegmoeder is aan hartverlamming oorlede en nou gaan sy by Lili Henning as metgesel in die distrik Sterkstroom bly. Hier ontdek sy dat sy die erfgename is van die plaas wat in besit is van die Hennings. Spannende oomblikke volg as die Hennings haar uit die weg probeer ruim, maar elke keer misluk dit. Intussen het Anni en Ben Briers op mekaar verlief geraak. Maar toevallig kom woon Jan Immelman en sy vrou ook in die distrik en dan volg weer moeilikhede as Jan en Anni mekaar ontmoet. Hulle ontmoet mekaar op 'n geheime plek. Jan wil hê Anni moet swyg, maar sy weier. Lili luister die gesprek af en gaan vertel dit aan Jan se vrou. Sy skiet hom dood en Anni word van die moord beskuldig. Maar Jan se vrou pleeg selfmoord en openbaar die ware toedrag van sake net voor haar dood, in 'n brief. Nou kon Ben en Anni trou.
Buys is omslagtig, maar beskik tog oor 'n vlot styl en werk die spanning gedurig op na 'n klimaks. Hy is egter nie altyd in staat om 'n grootse moment aanskoulik voor te stel nie, bv. ‘Og wi beskryf di skouspel wat toen daar plaas had!... Dit was amper onbeskryflik! ja onmolik om 'n mens dit voor te stel en terug te gé!’
As die drade van die verhaal verward raak, versoek hy die leser om die een karakter maar eers met rus te laat. ‘Dog laat ons Anni nou eers fer 'n rukki mar op haar rysi in stilligheid laat fortry en laat ons Jan eers bitji ferder folg en siin hoe dat dit met hom toegegaan het dan kom ons straks terug na di heldin fan dese ferhaal.’ Soms loop Buys sy verhaal weer vooruit: ‘Als Anni wis wie sy die dag daar sou ontmoet hê dan het sy gewis nooit daarheen gegaan ...’
In sy karaktertekening bly die skrywer slegs by uiterlike sake: sielskonflikte en oortuigende mensbeelding, kry ons nie by hom nie. Dit is natuurlik die gebrek by alle intrige-romans.
Terug in Lewe (O.K., Maart 1903 - O.T., Jan. 1909), is van dieselfde geaardheid as 'n Haastige Huwelik, maar dis | |||||||
[pagina 211]
| |||||||
veel beter geskrywe, veral teen die einde wanneer die skrywer sy pen maklik begin hanteer. Selfs sy karakters word byna lewende mense, en dit geluk die skrywer ‘ook aandoeningen beter weer te geven dan meestal gebeurt in 't oudere Afrikaanse proza, dat daarbij vaak in overdrijving vervalt’ (dr L.v. Niekerk, t.a.p., bl. 143). Die verhaal boei ons, gryp ons so vas dat ons nie kan ophou met lees voordat ons by die gelukkige slot aanland, en weet dat die skurk sy verdiende loon ontvang het nie.
Die fabels van Aesopus het Buys uit Engels vertaal, en hy het ook 'n begin gemaak met Ben Bos syn Kaskenades (O.K., Okt. 1904), wat werklik kostelik is. Hier was Buys in sy element. | |||||||
(m) J.P. Toerien (oorlede 1920).‘Jepete’ is die skuilnaam van J.P. Toerien. Toerien, in 1920 oorlede op Middelburg, Transvaal, is in die Paarl gebore en het later opgetree as redakteur van die Republikein in Pretoria, en van die Barberton and Middelburg Herald. Verder was hy 'n groot vriend van ds S.J. du Toit, destyds redakteur van Ons Klyntji waarvan hy 'n getroue medewerker was. In 1885 is hy getroud met mej. Sarie M. Maré, en het hulle in Potchefstroom gaan woon.
Volgens getuienisse van verskillende persone wat Toerien geken het, het hy kort vóór die Engelse Oorlog, toe hy in die Kolonie was, Sarie Maré op haar gedig. Die drukker het per abuis die spelling verander. Mev. Toerien het egter beslis ontken dat sy die Sarie Marais van die lied is, en miskien om een of ander rede.
In Ons Klyntji is nog 'n paar van J.P. Toerien se gedigte gepubliseer, hoewel hulle ons nie juis ontroer as kuns nie. Die maat is egter vloeiend, sodat o.a. Afrikaner Liid (Nov. 1897) getoonset is deur mej. Janetta Toerien. Die digter is trots op sy eie land en volk, en probeer sy emosies verwoord, maar deurdat hy dikwels na 'n rymwoord moet soek, val die gedig soms uit die toon; so rym ‘verstrooi’ op ‘mooi’ en ‘hout’ op ‘goud’: | |||||||
[pagina 212]
| |||||||
‘Ons Land is groot, ons Land is mooi
Ons Folk is klyn, dog erg verstrooi,
Ons Land is ryk an ruwe goud,
Diamant en silwer, oek an hout.’
Ons woon hier stil en tevrede, en wil met ander lande niks te doen hê nie. Ons praat ook ons eie taal: ‘Di Hollans seg ons nou faarwel,
Fer Engels het ons skip bestel.’
Die gedagtegang van hierdie vers herinner ons wel sterk aan die Lietjie van A.J. Herholdt in die Patriot van 1876. Die slotkoeplette van Toerien se gedig roem die godsdienstigheid van die Afrikaner. Gemeensaam praat die digter van ‘Ou Kalvyn syn leer.’ ‘So leef ons foort tot ons eendag,
In d'Hemelhuis word ingewag,
Dan kry ons Kroon in ruil vir Kruis,
En loon na werk, dan is ons tuis!’
Waarom? Daarom! Want (Nov. 1897) en Dag en Nag (Febr. 1899) is twee stigtelike gediggies. Waarom moet die mens steeds stry en verdrukking verduur? Omdat dit God behaag en omdat Jesus moes ly. ‘Want an Kruis daar hang 'n kroon,
Want na stryd ontfang ons loon!’
Dag en Nag is werklik 'n fyn gediggie deur die stille stemming wat dit wek en die ryke inhoud. Uit die nag word die dag gebore, uit kwaad goed. Die slotkoeplet vat die les saam: ‘Seg nooit di “hoop” faarwel ni,
Hoe donker ook di nag;
Laat nooit gen frees jou kwel ni,
Al staan 'n ramp te wag.
Straks breek di heldre strale
Weer an di hemel deur,
Dan siin ons blydskap dale
Als di neef'le skeur.’
| |||||||
[pagina 213]
| |||||||
'n Stigtelike strekking dra ook Folg My (Nov. 1897) op die wysie van Gesang 13: die mens moet nie op sy eie kragte vertrou nie, maar hom steeds op Christus verlaat: ‘Di les sal ek ni lig fergeet,
Ek folg nou mar foortaan,
Di les sal ek wis nooit fergeet,
En nooit weer fooruit gaan!’
Die Rollende Wiil (Nov. 1897) is 'n onbeduidende politieke gediggie waarin Toerien vir Oom Paul beskuldig dat hy vals gehandel het teenoor die Kolonie. Dit is wel opmerklik dat byna al ‘Jepete’ se digterlike uitings in dieselfde nommer van Ons Klyntji verskyn. Daarna waag hy sy pen aan die prosa, en hier openbaar hy werklik talent, hoewel sy prosa ook dieselfde ongelykheid van waarde vertoon as sy poësie. Pieter Leseur of Di Gefalle Staatsman (O.K., Nov. 1897 tot Julie 1898) is 'n novelle wat eintlik tot 'n roman uitgewerk moes gewees het, want dit het die opset van 'n roman, maar teen die einde word die drade skielik afgeknip. Die laaste helfte val ook heeltemal buite die toon - nou is die skrywer nie meer meester van sy stof nie en begin hy ly aan 'n preeksiekte, want die ondertitel van die novelle moet bewaarheid word: hoogmoed kom tot 'n val. Die rustige plaasatmosfeer word miskien vir die eerste keer deur Jepete op so'n kunstige wyse in die Afrikaanse novellekuns ingevoer. Hy as boer het die plaaslewe geken, maar ook die gawe gehad om dit in woorde te bring. Dit bly nog hoofsaaklik by 'n uiterlike beskrywing, maar nie sonder verdienste nie, want hy gee ons tog 'n beeld van die plaas en die swoegende ouers van Pieter Leseur, wat hulle bes doen om liggaam en siel aanmekaar te hou, totdat die dae van voorspoed aanbreek. ‘Pieter is opgegroei onder druk en foorspoed en niks bysonders het in syn froegste jeug foorgefal nie.’ Op elfjarige leeftyd was hy volleerd, maar toe sterf sy moeder, en sy vader se tweede vrou het die wêreld vir hom so warm gemaak dat hy maar moes padgee. Dog hy was 'n gelukskind, want hy boer gou vooruit op mnr Kotsé se plaas. Hy is verlief op Anna | |||||||
[pagina 214]
| |||||||
Kotsê, maar sy trou met Van der Spuy. Die skrywer weet egter raad: hy laat Van der Spuy gou sterf! Na heelwat liefdesmart en ‘bittere jaloesi,’ kry Pieter vir Anna en nou is sy beker oorvloeiende van vreugde. Ons het egter die skrywer se magteloosheid gemerk om in te dring in die sielelewe van sy karakters aan die wyse waarop hy Pieter se liefdesleed wou openbaar.
‘Eenige jare is as 'n gedagte ferbygeflieg’ en Pieter het ryk geword aan wêreldse goedere, aan kinders en aan invloed. Dis 'n handige manier om die moeilikhede te ontduik en te vertel hoe Pieter se invloed toegeneem het. Nou word die skrywer dan ook erg onoortuigend en sy verhaal brokkelrig: hy laat Pieter op 'n skiettog gaan en dapper dade verrig. Dan sien ons vir Pieter weer by die goewerneur en nou het hy 'n kruiwastoter wat hom met allerhande possies vereer. Hy voer 'n suksesvolle oorlog teen die Kaffers en die goewerneur beloon hom en die burgers met 'n tweehonderd plase. Sy deel staan Pieter egter af aan die agtergeblewenes van die gesneuwelde burgers, en dit verhoog sy invloed nog meer. ‘So werd Pieter al meer en meer 'n staatsman fan belang, ni alleen onder syn burgers ni, mar oek by di Gouwerneur en Regering.’
Die skrywer het Pieter nou tot die hoogtepunt opgevoer, en dit lyk of hy byna 'n sataniese behae daarin skep om hom weer van sy troon af te stoot. Vol wysheid redeneer hy: ‘Di heuningkwas smaak altyd soet en daar is gen gefaarliker fyand ni as di fly'er. So ongemerk neem di fly'er met syn flytaal di deug fan di hart weg en sit di Ferwaandhyd en Hoogmoed op di troon fan di hart, en dan staat di fal foor di deur!’
Na hierdie uitweiding weet ons wat om te verwag: die skrywer maak die vleitaal nou ook so dik aan, dat Pieter die leisels in sy eie hande neem en 'n strafekspedisie teen die Kaffers organiseer sonder opdrag van die goewerneur. Dit misluk natuurlik, die vleiers word nou sy bitterste vyande, en die goewerneur ontslaan hom uit sy pos. Moraliserend besluit Jepete sy verhaal, want dit moes tot stigting vir die lesers dien: ‘Met gefaar fan syn lewe was hy tot di hoogte met eer opgeklim, dog is deur hoogmoed geprikkeld met skande neergestort.’ | |||||||
[pagina 215]
| |||||||
Di Dri Broers (O.K., Febr. 1904 tot Des. 1904) is 'n novelle waarop die tendens ook baie dik lê. Dit ly ook aan 'n gebrekkige bou, net soos Pieter Leseur, deurdat die skrywer geen eenheid in sy verhaal kan bring nie. Die verskillende episodes staan los van mekaar. In sy karaktertekening kom hy nie verder as 'n uiterlike beskrywing nie, en ook hier verval hy in die neiging om te oordryf. Die gegewe is nie baie belangrik nie, hoewel die novelle in die hand van 'n kunstenaar tot iets groots kon uitgegroei het. Die skrywer stel ons eers voor aan die vader van die drie broers, en terwyl hy in sy leuningstoel sit, ‘had ons di geleendhyd om hom flak in syn gesig te kan siin.’ Die skrywer is egter geen gedagteleser nie, en ons moet tevrede wees met 'n portret. So sien ons die drie broers: ‘Tomas di oudste seun, 'n mooie, flinke jonge kerel, met blond hare en 'n heldere uitsig, sowat 20 jaar oud ... Karel is iitwat blas fan kleur met swart hare en sware wenkbroue en lyk feel op di ou baas. Hy kan ni ou'er wees ni as 18 jaar. Frederik is nog 'n knapi fan sowat 12 of 13 jaar, oek nes Tomas 'n blondkop, en uit syn lewendige oge straal reeds 'n fasberadenhyd deur, terwyl syn jeugdig gesig reeds ernstige trekke in sig opgeneem het.’ Dit vereis geen profeet om te voorspel dat die skrywer se simpatie by Frederik lê nie. Nou los Jepete die verhaal en vra die leser 'n guns: ‘Di leser geliif met my sestig jare terug te gaan, en wel na Sweden, waar meneer Krol gebore is.’ Die lewensgeskiedenis van die oubaas is wel interessant, maar dit staan buite verhouding met die res van die verhaal, wat ons tog iets omtrent die drie broers wil vertel. Realisties is die beskrywing van die geveg met die rowerskip, maar dan hensop Jepete skielik as hy die lyke aanskou, want sê hy, dit kan beter ‘gefoel worde as dat imand dit kan beskrywe.’ Die uiteinde van die geskiedenis is dat mnr Krol hom in die Kaap vestig en baie gou sy fortuin maak. Hy is baie gelukkig met sy Afrikaanse vrou, maar omdat sy nooit kinders sal hê nie, laat die skrywer haar doodgaan, en Krol se tweede vrou skenk hom drie seuns. Sy is egter ook spoedig oorlede. Nou kom ons uiteindelik weer by die drie broers uit, maar die skrywer is haastig om van hulle ontslae te raak! Op sy | |||||||
[pagina 216]
| |||||||
21ste verjaarsdag kry Tomas £2,000 van sy vader saam met 'n vermaning. Die skrywer wil van Tomas 'n sedelike wrak maak en daarom neem hy hom na Kaapstad en bring hom in aanraking met 'n klomp skurke wat heel gou daarin slaag om die £2,000 uit te suip en uit te dobbel. Die hele geskiedenis word erg oordrywe en aangedik. ‘In lompe gekleed en as 'n smeerlap slenter hy nou op di Kaapse strate; snags slaap hy an di strand in een fan die skuite.’ Eindelik besluit hy om soos die verlore seun terug te keer na sy vader, maar hy sterf die nag van sy aankoms in die kafhok, en die skrywer hou Tomas voor ‘tot waarskuwing fer alle jong mense.’ Karel kry ook £2,000 op sy verjaarsdag en 'n ernstige waarskuwing. Maar spoedig blyk dit dat hy net die teenoorgestelde van Tomas is: hy eet net rogbrood; skoene dra hy nie, en vir die Kerk gee hy slegs 'n sjieling. Hy sterf dan ook letterlik van honger. Nou bly daar nog één broer oor: Frederik. Hy kry ook £2,000, maar gaan daarmee studeer vir mediese dokter. Hy het hom gespieël aan sy broers, en word die beliggaming van die deug, sodat hy sy oue vader se hart verbly, ‘en ook syn ynde was Frede!’ So het hierdie avontuurverhaal uitgeloop op 'n dikgesmeerde tendenswerk met weinig verdienstes. | |||||||
(n) G.R. von Wielligh (1859-1932).Op 9 Augustus 1932 is Gideon Retief von Wielligh in sy 74ste jaar naby Hendrina aan die huis van sy jongste broer oorlede. Met sy heengaan het ‘die laaste stem van die Genootskap van Regte Afrikaners’ verdwyn. Hy het stil gesterwe, stil soos sy lewe was. Byna niemand het oor sy dood gepraat nie. Aan Langenhoven is talle artikels in tydskrifte en koerante gewy - aan Von Wielligh 'n enkele. In die A.S.B. se Gedenkboek is die meeste Patriot-manne herdenk - ‘en ou oom Gideon, wat met sy gesig vlak op die papier, deur twee stelle brilglase en 'n vergrootglas iedere letter moes uitsukkel, word gevra om dese en gene te gedenk, maar daar is niemand wat dink hoe hyself verdien om gedenk te word nie.’ (G.S. Preller in Die Huisgenoot, 3 Sept. 1932). | |||||||
[pagina 217]
| |||||||
Von Wielligh is gebore op 1 April 1859 op die plaas Vryeguns naby die Paarl, en is genoem na sy grootvader, Gideon Retief, broer van die Voortrekkerheld, Piet Retief. Die stamvader het uit Hamburg, Duitsland, gekom, en hy was offisier in diens van die N.O.I.K. Gideon behoort aan die sesde geslag wat op Afrikaanse grond gebore is. Sy eerste skoolonderrig het hy van Jan Balt, 'n Hollandse matroos, ontvang. En toe kom die groot avontuur in sy lewe: in sy elfde jaar is hy saam met sy vader op 'n tog na Boesmanland. Baie van sy ervarings op hierdie reis vind ons terug in Jakob Platjie. Deur bemiddeling van verskeie vriende kon hy nou aan die Paarlse Gymnasium gaan studeer en op agtienjarige leeftyd lê hy sy landmeterseksamen af. In 1884 is hy aangestel as Landmeter-Generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek.
Al die ondervindings en ervarings wat Von Wielligh op sy landmetersreise deur ons land opgedoen het, het daartoe gestrek om van hom 'n onuitputlike skrywer te maak. Hy was sestien jaar toe hy lid geword het van die Genootskap van Regte Afrikaners, en vanaf 1876 het hy bygedra tot die Patriot waaraan hy hom in 1891 onttrek het. Van Ons Klyntji en veral van Ons Taal, was hy een van die getrouste medewerkers. In ons letterkunde neem Von Wielligh 'n heel besondere plek in: hy oorspan die Eerste en Tweede Periode. Sy sketse het gedurende die Eerste Tydperk verskyn, sy romans gedurende die Tweede. In sy kunsopvattings kom daar egter geen verandering nie: hy bly 'n egte Patriotskrywer wat al gesélsende sy lesers wil vermaak, stig en onderrig. Hy het hom veral tot die minderbevoorregte deel van ons volk gerig, en dat hy in sy doel geslaag het, blyk daaruit dat sy boeke by die duisende gelees en geniet is. Sy eie standpunt het hy herhaaldelik verdedig, so in 'n privaatbrief aan dr P.C. Schoonees (3 Junie 1922): ‘Die kunstenaar lewer 'n kosbaar monument om sy volk onder ander volke te laat uitblink; maar die volksskrywer saai die sade wat voedsel vir sy eie volk lewer om in hul eie behoeftes te voorsien.’ Later (29 Jan. 1924): ‘Ek ken ons volk grondig en weet waarin hulle 'n behae skep en wat hulle verwag, en so het ek die volkssmaak gevolg en onderwerpe gekies waarin hulle belang stel. Ek het my verhaalstyl gekies soos hulle hul | |||||||
[pagina 218]
| |||||||
verhale vertel en dit sê baie in my oordeel. Ek het my onwys gehou om die wat onwys is te wen.’ 'n Maand later (22 Febr.) verklaar hy: ‘Ek weet my geskrifte is nie vir kuns bedoel nie, derhalwe kan hulle die toets van kuns nie deurstaan nie.’
Hierdie briewe wat goedgunstiglik deur dr Schoonees aan my geleen is, gee ons 'n pragtige insig in die doel en strewe van ons eerste skrywers. Ons volstaan met 'n laaste aanhaling (12 Febr. 1925): ‘Ek het 'n ander klas lesers onder hande wat van kuns geen besef het nie en ek gee my ook nie uit as kunstenaar nie. En stop hul my eendag onder die grond, dan is die kers van die ou Taalbeweging meteens uitgeblaas; maar ons ou garde se eienaardighede sal voort bly bestaan solank daar 'n Afrikaanse letterkunde is, want ons volg die idioom en vertel 'n verhaal in die woorde soos ons volk praat. Terwyl die nuwe rigting is om iets voor te stel en nie te vertel nie. En deurdat ons die geselstaal volg, skryf ons soos die mense praat en bedien ons nie van kuns nie.’
Hoewel Von Wielligh dieselfde roeping gedurende die Tweede Periode gehoorsaam het, bepaal ons ons hier net by sy geskrifte wat tot 1909 verskyn het.
Von Weilligh was 'n aangename geselser en die geselstoon tref ons ook in sy geskrifte aan. Hy kon so gemoedelik-onder-houdend en persoonlik met sy lesers praat, dat hy ons selde verveel, selfs as hy afdwaal van sy eintlike onderwerp. Hoe 'n ryke skat van herinnerings het hy nie bewaar nie! Soms moes dit stellig moeilik gewees het vir hom om 'n keuse daaruit te doen, veral as hy van die gewoontes van die Boesmans of Hottentotte vertel. Hoe het hy hom nie vergryp om hulle komieklike staaltjies op te dis nie, dikwels ten koste van die eenheid van sy verhaal. Soms skep hy opsetlik 'n situasie net om so'n staaltjie, deurspek met kleurige uitdrukkings, aan ons te vertel. Hy kon die inboorlingrasse se gebroke Afrikaans meesterlik naboots, en het veral die geestige na vore gebring. Von Wielligh gebruik die sappige volkstaal. In sy latere werke het hy soms probeer om ‘mooi’ te skrywe, maar dan het hy in onegtheid verval. Hy was nie in die wieg gelê vir ‘praalskrif,’ soos hy dit self noem nie. | |||||||
[pagina 219]
| |||||||
In Ons Klyntji het onder die skuilnaam Hans Kaapnaar sy eerste en miskien belangrikste werk die lig gesien: Jakob Platji of Sketse van Hotnots en Boesmans Lewe in Suid-Afrika. Met heelwat onderbrekings is die verhaal in die volgende nommers van Ons Klyntji afgedruk: Junie, Julie, Aug., en Okt., 1896; Aug. en Des., 1905; April, Mei, Junie en Julie 1906 - dus oor 'n periode van tien jaar. In Die Brandwag van 1912 tot 1914 is Jakob Platji in 'n enigsins gewysigde vorm herdruk, en in 1918 het dit uiteindelik by De Bussy in boekvorm verskyn. Die omwerking en uitbreiding mag oor die geheel 'n verbetering genoem word. Ons sal ons egter bepaal by die verhaal soos dit in Ons Klyntji verskyn het. Tussen hakies mag ons daarop wys dat dr Lydia van Niekerk 'n verkeerde voorstelling van die verhaal gee, omdat sy nie die slothoofstukke in die jaargang van 1906 gesien het nie. Sy noem Jakob Platji 'n fragment, maar dis 'n afgeronde verhaal.
Ons het reeds vroeër aangetoon dat die meeste verhale in Ons Klyntji taamlik swak is vanuit 'n letterkundige oogpunt beskou - net geselsery. En 'n werk soos Jakob Platji kry feitlik ook alleen betekenis deur die voorliefde om anekdoties te vertel. Die skrywer het fyn geluister na die eienaardige spreekwyse van die Bolandse volk, en hoewel hy dit 'n bietjie aandik vir die snaaksigheid, bly sy beeld tog getrou. Watter kostelike situasies teken hy nie as hy die Hottentotte self aan die woord stel! Ou Idries wil maar liewers in die hemel sit as hy oor die moeilikhede van die wêreld begin peins, maar ou Sina verkies om smoordronk in die kantien van Bob te lê. ‘Idries staan toen bot stil, slaan fer Sina op di skouer, en kyk haar sterk in di gesig an en sê: “Sina, waarom moet jy altyd meer beter wens as ek?”’
En wie vergeet ooit die komieklike toneeltjie in die hof as ou Sina nie haar ‘bek’ kan hou nie, maar kort-kort vir ou Idries raad gee wat om die magistraat te antwoord. Verontwaardig protesteer sy as die konstabel haar verwyder: ‘Wag maar, daar kom oek 'n ynde an as dit te laat is, as ons ammal een dag dood is.’ En as die konstabel haar tot bedaring wil bring, berispe sy hom: ‘Jy moet ni myn arm so ruk en pluk ni, ek ferdra dit ni.’ | |||||||
[pagina 220]
| |||||||
Daar is nog die windmaker-Hotnot Tys Bokkiis, en veral die karakteristieke preek van Kleopas Kipi, met ou Samel en Karools wat wil keer as sy eerwaarde na hulle kant toe preek. Kleopas Kipi wy uit oor die vreeslike dronkenskap onder sy gemeentelede, maar as Koos Fonk hom 'n sopie aanbied nà die diens, slaan hy dit gulsig weg. Meesterlik beskrywe en deurkruie is die Griekwa-oorlog, wat beëindig word met 'n sopie op die dood van hulle ‘meerbeterste broer,’ Soul Damon. Volgens die titel van die verhaal moes Jakob Platji die hoofkarakter gewees het. Dit is egter nie die geval nie. Die skrywer gebruik hom maar net om sy stories omtrent die inboorlingrasse aan die man te bring. Tereg noem hy daarom die ondertitel van sy werk: Sketse fan Hotnots en Boesmans Lewe in Suid Afrika. Hierdie sketse word aan Jakob vasgekoppel, hoewel soms baie lossies en sonder innerlike verband. Die grootste tekortkoming van die werk is juis die gebrek aan eenheid en innerlike noodsaak. Soos Von Wielligh self erken, is dit grootliks te wyte aan die lang onderbrekings waarmee daaraan gewerk is. Dit verklaar ook die volop herhalings en oorlappings. In die eerste hoofstuk maak ons kennis met die Hottentotte in vrolike stemming, maar dan laat die skrywer ou Idries en ou Sina opsluit en neem Platji saam met Koos Fonk na die binneland sodat hy meer inboorlingstaaltjies aan ons kan vertel. Onderweg trakteer Platji Koos Fonk op dierestories. As die skrywer self voel dat hy Jakob Platji darem te erg verwaarloos het, probeer hy die posisie red met 'n opmerking soos die volgende: ‘Dit alles het Platji bygewoon, gesiin, gehoor...’ Ons hoor ook wel af-en-toe van die Hotnotjie se skelmstreke, maar dis eintlik bysaak. Die slothoofstuk word darem net aan hom gewy, en ons word vertel van sy liefdesgeskiedenis en trouery. As Klara egter die paljas onskadelik maak, verdwyn haar liefde ook vir Platji, en na 'n swaar siekte sterf hy. ‘Dit was di ynde fan Jakob Platji syn loopbaan,’ sê die skrywer. ‘Dog as di tyd en geleendhyd dit toelaat dan kan dit gebeur dat ons later nog enige sketse sal médeel fan syn anekdote wat hy in syn lewe deurgemaak het.’ Aan die anekdotes knoop Von Wielligh af-en-toe didaktiese oorwegings vas. Hoewel dit die bou lossies maak en die | |||||||
[pagina 221]
| |||||||
eenheid versteur, is hierdie opmerkinge deur sy lesers van daardie tyd seker nie as kinderlik gevoel nie, en het hulle ongetwyfeld instemmend geknik as Von Wielligh na aanleiding van Koos Fonk en Gert Buurman se oneerlikheid opmerk: ‘O, as di wêreld durf syn ware kleure toon en idere ding by syn regte naam noem, wat fir 'n ferspotte boel sal di sogenaamde beste mense wees, om ni eens fan di gemene boel te praat ni! 'n Dekmantel word ni alleen gebruik om koue uit te hou ni, mar ook om sonde te bdek.’ Von Wielligh probeer ook mooi natuurbeskrywings gee, maar begryplikerwyse bly hy nog net by die uiterlike wat in geen organiese verband met die innerlike gebeure staan nie. Waar hy beskryf, is hy op sy swakste, waar hy die Hottentotte en Koranna's laat praat en handel, is hy op sy beste in hierdie belangrike erfstuk van die ou Patriotmanne. Smoorkossiis fan Oom Kool (O.K., Mei, Julie, Aug. 1906) toon weer ten duidelikste oor watter smaaklike verteltrant Von Wielligh hier beskik. Droogweg laat hy Oom Kool aan ons sy onmoontlike ervarings verhaal, maar net soos Baron von Münchausen doen Oom Kool dit so oortuigend dat ons hom ampertjies glo. En oor wat 'n onuitputlike skat van ervarings het Oom Kool nie beskik nie! Natuurlik is hy 'n held in sy eie oë en so dapper soos die dapperste! Dit is vreemd dat Von Wielligh hierdie Smoorkossiis nie apart opgedis het nie, want hulle bevat meesterlike vertellinkies, en Oom Kool is 'n karakter wat lewe. In Abi Oufoet, 'n Stori fan 'n Malbaar uit di Slawe Tyd (O.K., Sept., Okt., Nov. 1906; O.T., 15 Des. 1908), probeer Von Wielligh ons laglus wek vir die wonderlike en snaakse kaskenades van die Malbaar. Soms slaag hy daarin, maar meestal nie, want sommige van die streke van die slaaf is darem baie flou. Terloops gee Von Wielligh ons 'n beeld van die slawetyd en die wyse waarop die slawe deur hulle base behandel is. Hy noem 'n string van die kaskenades op wat die kinders met Abi aangevang het. Ongelukkig bereik hy nie die effek waarna hy gesoek het nie - selde slaag hy daarin om ons te laat glimlag, eenvoudig omdat hy Abi Oufoet te belaglik voorstel sodat die Malbaar nie ons simpatie het nie. Dit was | |||||||
[pagina 222]
| |||||||
waarskynlik Von Wielligh se plan om 'n uitgebreide verhaal van Abi Oufoet te maak; hy het egter nie verder gekom as die vierde hoofstuk nie. Sy kennis omtrent Hotttentot-bygelowe het Von Wielligh verhalenderwyse meegedeel in Ponti, di Gif-Dokter (O.T., 15 Mei, 15 Junie en 15 Julie 1907). Ponti is die spreekbuis en is glad nie suinig met sy verhale omtrent al hulle bygelowe nie. Hy was self 'n toor- of gifdokter en het daarom oor eerstehandse kennis beskik. Met dolosse kon hy praat en speelkaarte kon hy ook lees. Die interessantste verhale is ongetwyfeld die wat in verband staan met die slangsteen. Hierdie verhale het Von Wielligh later verwerk vir sy Boesmanstories. In Ons Klyntji (November, en Desember 1906) het Von Wielligh se eerste Dire Storiis, ‘soos deur Hottentots fertel,’ verskyn. Die volgende jaar (1907) het hy hulle apart uitgegee by die Paarlse Drukpersmaatskappy in 'n boekie van 54 bladsye. Tussen 1917 en 1921 het hy sy dierestories in vier bundels die lig laat sien. Na die animistiese tydperk en met die geestelike ontwikkeling by die mens, het sy godsdienstige vrees vir verskillende diere verdwyn. Nou neem hy 'n teenoorgestelde houding in en begin hy met die dier spot. Ook probeer hy om sekere eienaardighede en kenmerke van die diere te verklaar. Op hierdie trap staan die Dire Storiis van Von Wielligh, want hoe heerlik spot die Hottentot bv. nie met Uil, omdat hy Tinktinkie laat ontsnap het nie. Vir die eienaardighede van die diere het die Hottentot ook altyd 'n verklaring, bv. waarom jakkals sy stert sleep. Verder speel Von Wielligh se verhale in die sprokiestyd toe die diere nog kon praat. Wat die oorsprong van Von Wielligh se verhale betref, sê hy in die voorrede tot sy bundel Dire Storiis (1907): ‘Di Storiis lyk deur di Hottentots opgemaak te wees nà hulle in anraking met di Wit Mense gekom het, want daarin word fry gebruik gemaak fan dinge deur di Blanke Befolking gebruik en ingefoer, soos gewere, pistole, sawels, slagysters en so fort. Ook di woord Boer kom dikwels foor in di fertellings.’ Hierdie teorie staan skeef, want ons dierestories is nie Hottentots van oorsprong nie, maar Germaans. Net soos in die Germaanse Vos-verhale, en veral in die beroemde Reinart- | |||||||
[pagina 223]
| |||||||
epos, is jakkals die held, die aartsskelm en die poetsbakker. 'n Ander ooreenkoms is die verhouding tussen jakkals en wolf: wolf is die onnosele wat gedurig deur die slim jakkals uitoorlê word. En wat meer is, beide in die Dire Storiis en die Reinartepos is jakkals die gehate dier wat gedurig in botsing kom met die ander diere. Baie voorvalle stem ook letterlik ooreen, en veral die feit dat jakkals van die ander diere se lieflingskos gebruik maak om hulle uit te oorlê. Veral die vraatsugtige wolf moet dit ontgeld. Die Dire Storiis van Von Wielligh is dus sonder twyfel Germaans van oorsprong. Die Hollandse en Duitse Koloniste het die dierverhale uit Europa saamgebring, en aan die Hottentotte vertel, wat hulle baie verander het om hulle te laat aanpas by die Suid-Afrikaanse omstandighede. Elke geslag het sy eie veranderings aangebring, want die verhale is mondelings oorgelewer. Von Wielligh het dan hierdie dierestories uit die mond van die Hottentotte opgeteken om hulle aan die vergetelheid te ontruk, om ons volkskundige studie van nut te wees - 'n wetenskaplike doel dus. Maar sy belangrikste oogmerk was miskien ‘tot onskuldig fermaak fan oud en jong.’ En daarin het hy uitstekend geslaag, selfs tot so'n mate dat ons die optekening van die Dire Storiis as een van Von Wielligh se belangrikste en beste werk moet beskou. Die vertelkuns van die Hottentot het hy meesterlik nageboots, en sy verhale is deurspek met kleurige gesegdes en uitdrukkings. Dikwels word 'n gebeurtenis so realisties beskryf dat ons alles saam belewe. ‘Daarop volg toen wanorde; di een fluit, di ander skré en hulle maak 'n beestelike rumoer en lawaai’ (bl. 6). ‘Seker, dis ni om te hoe nie of te altemit ni’ (bl. 25). ‘Ek fliig kort om en loop dat dit so bars’ (bl. 26). ‘Wolf gaan ook reg staan, met di grootste andag, met staande ore, syn foorfoete forentoe en syn stert so reguit as 'n lat’ (bl. 39). En dan die pragtige dialoog en beskrywing van eie krag as jakkals aan wolf meedeel dat leeu homself tot koning uitgeroep het. In die voorrede sê Von Wielligh: ‘Iits wat di leser fan di storiis sal tref is dat hulle (die Hottentotte) altyd soek om | |||||||
[pagina 224]
| |||||||
al di y'enaardighede wat in dire foorkom 'n oorsaak foor te soek.’ Sommige van hierdie verklarings is werklik komielik, maar hulle bewys tog hoe deeglik die Hottentotte die diere en hulle gewoontes geken het. Dit is hierdie verklarings wat 'n ongeforseerde geestigheid in die verhale bring.Ga naar voetnoot* Von Wielligh wou so graag sy volk kennis bybring. Daarom het hy hulle op 'n heel populêre wyse 'n uiteensetting gegee van die Verskillende Godsdienste (O.T., 15 Okt., 15 Des. 1907 en 15 Jan. 1908), soos ‘Budisme,’ die Christelike en die Slamse geloof. Oor bye het hy 'n lang verhandeling gepubliseer in Ons Taal (vanaf 15 Junie 1907 tot 15 Junie 1908): By'e Teelt. Dit is ook apart in boekvorm deur die Paarlse Drukpersmaatskappy uitgegee. Dit is geen wetenskaplike verhandeling nie, maar slegs bedoel as 'n inleiding vir byetelers omtrent die behandeling van bye. 'n Kly Huis of Selfs woon Geluk in 'n nedrig Hut (O.T., 1908), is na die lengte 'n roman, maar na die bou slegs 'n aaneenskakeling van snaakse gebeurtenisse uit die lewe van eenvoudige mense. 'n Hollander word gebruik om dié snaaksighede op die voorgrond te bring, hoewel baie taamlik souteloos is. Tog toon die Kly Huis weer duidelik dat Von Wielligh vir die eenvoudiges van gees geskrywe het. Twe Wonder Dokters (O.T., 1909) is 'n spanningsverhaal met groot moontlikhede, wat egter nie ten volle deur die skrywer uitgebuit is nie. Daar is te veel geraamte en te min vlees in sy verhaal. Tot op sekere hoogte is Von Wielligh hier weer in sy element, want een van die ‘wonderdokters’ is 'n Kafferdokter en daarom kon hy so gaandeweg opnuut baie van sy kennis omtrent die Kafferdokters aan ons meedeel. Eintlik het Von Wielligh net die aantekeninge gemaak vir 'n roman. Daarom is die Twe Wonder Dokters so fragmentaries. Die indruk wat dit maak, is mat. Maar hierdie verhale was die vooroefening vir sy latere romans. Von Wielligh het 'n ongekompliseerde, kinderlike natuur, en om dié rede kon hy so smaaklik vir kinders en onontwikkeldes skrywe. Hy was 'n praktiese mens met sterk sosiale neigings, | |||||||
[pagina t.o. 225]
| |||||||
W.H. Maskew.
| |||||||
[pagina 225]
| |||||||
iemand wat sy publiek met spannende en nuttige sake wou vermaak. Op een of ander manier het hy altyd probeer nuttig wees, soos met sy voorligting oor By'e Teelt of sy volks- en volkerekundige optekeninge in storievorm verwerk. Miskien is dit sy praktiese sin en die nuttigheidsprinsiep wat verklaar waarom hy werklik selde ontroerd raak deur die skoonheid van die dinge. Die natuur, of die menslike hart, is vir hom nooit 'n bron van estetiese genot nie. Miskien kan ons ook in hierdie beperkthede die rede vind waarom hy as een van die jongstes onder die G.R.A.-lede nooit gedigte oor liefde of dergelike sake geskryf het nie. Tog het hy met sy talente en na die beste van sy vermoë, sy volk gedien. | |||||||
(o) Die Buitestaanders W.H. Maskew en M.J. Brink.Ons is te dikwels geneig om die Eerste Afrikaanse Beweging net te verbind met die Genootskap van Regte Afrikaners. Maar dit is heeltemal foutief: ons het reeds gesien dat in die koerante en tydskrifte lank vóór 1875 etlike Afrikaanse samesprake, briewe en gedigte verskyn het. As die Patriot sy glorietydperk reeds bereik het, is daar verskillende Hollandse koerante en tydskrifte wat hulle kolomme oopstel vir Afrikaanse bydraes. Dit is waar, die meeste van die boekies wat in Afrikaans verskyn het tussen 1875 en 1900, kom op rekening van die Patriot-beweging, maar daar is ook buitekant die Beweging om gewerk. Om maar net twee name te noem: W.H. Maskew en Melt Brink. | |||||||
W.H. Maskew (1861-1903).Ons moet egter dadelik konstateer dat geeneen van die buitestaanders se werk bo die kunspeil van die Patriotwerk uitstyg nie. En wat veral by Maskew opvallend is: hy gebruik Afrikaans met die uitsluitlike doel om grapperig te wees, om veral deur platheid en banaliteit te vermaak en sy lesers se lagspiere te prikkel. Hy het geen oomblik daaraan gedink om Afrikaans as skryftaal te bevorder nie. So verklaar adv. J.H.H. de Waal: ‘Ook advokaat Willie Maskew, wat by geleentheid van gesellige partytjies op 'n paar konserte sy gehoor getrakteer het met komiese Afrikaanse resitasies wat hy self opgestel en waarvan hy sommige in die koerant geplaas | |||||||
[pagina 226]
| |||||||
het, wou daardeur allesbehalwe vir die verhoging van die taal ywer. Sy huistaal was dan ook Engels.’ (My Herinnerings van ons Taalstryd, bl. 31).
W.H. Maskew is in 1861 op Somerset-Oos gebore as seun van 'n magistraat. Hy het sy opvoeding ontvang aan die Victoria-Kollege op Stellenbosch en aan die Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad. Daarna is hy na die Inner Temple in Londen om in die regte te studeer. In 1885 het hy hom in Kaapstad gevestig as advokaat. Hy is in 1903 in die bloei van sy lewe weggeruk, terwyl hy na Engeland met vakansie was.
Toe die Patriotbeweging begin kwyn het, het Maskew in 1890 'n bundel gediggies gepubliseer onder die titel: 'n Jolly Hotnot en andere snaakse Versies uit di ouwe doos met 'n nieuwe vertaling in Afrikaans (te Kaapstad, Gebroeders Darter en Walton).
In die voorwoord sê die digter-vertaler: ‘Op di dringende besoek van verskiedende van mijn vriende het ik di volgende versies bij makaar gemaak, en in di boekie laat druk.’
Byna al die gedigte het in die Zuid-Afrikaansche Tijdschrift verskyn, en die meeste is vertalings uit Engels - 'n paar uit Duits (Heine). Die titel toon reeds aan dat die digtervertaler wil ‘snaaks’ wees, en daarom het hy hoofsaaklik gedigte gekies waarmee hy 'n komiese effek kon bereik, soos spookstories of grapperige vertellings. Maskew het geen oomblik daaraan gedink om kuns te probeer skep nie. Sy vertalings ontroer ons dan ook nie deur skoonheid of bekoorlikheid nie, maar wek 'n glimlag deur 'n komiese wending of 'n plat woord wat op 'n onverwagte plek ingevoeg word.
Die titelgedig: 'n Jolly Hotnot (Z.A.T., Junie 1888) is heel bekend vandag as 'n volksliedjie. Die uitstaande kenmerk van hierdie liedjie is die sangerigheid en vrolikheid. Die digter skroom nie om 'n Engelse woord te gebruik waar die rym dit verlang nie. Die Hotnot was waarlik 'n vrolike knaap en tog so in sy skik met sy jong ‘master,’ want die is net so'n ‘jolly chap.’ | |||||||
[pagina 227]
| |||||||
‘Ek is 'n jolly Hotnot,
En het 'n jolly Baas;
Ons leef 'n jolly lewe,
Op di ou zijn jolly plaas.’
Die ‘Missies’ is ook 'n flukse vrou, al maak sy die ‘jolly’ Hotnot soms skrik! Sonder om te blik of te bloos, vertel hy hoe lekker dronk hy hom drink as die oubaas dorp-toe gaan, want hy glo aan die spreekwoord: ‘Ons is mar eenmaal jonk!’ As die oubaas miskien met hom raas, dan maak hy net gou 'n grap: ‘Dan lag hij en zijn vet ou vrou
Lat di sweet so van hul tap.’
Omdat hy so ‘glad is met sy bek,’ wil die oubaas hom Parlement-toe stuur om van die lastige wette omver te gooi. Die digter is van oordeel dat hy nou genoeg vertel het, en daarom neem hy afskeid van sy lesers: ‘Ik zal dus gou-gou huistoe gaan,
En “bid” jul “all goodbye”;
En ik hoop jul sal ni vind ni
Di versies al te “dry.”
of
Di Hotnot al te “sly”.’
Jan Lolpot (Z.A.T., Aug. 1889) is 'n vertaling van ‘John Grumlie’ en bevat die verhaal van die man wat gedurig geklae het oor sy werk, totdat hy en die vrou omruil met werk. Sy doen alles uitstekend, maar hy verbrou al die huiswerk, en belowe om nie weer te klae nie. ‘Ek hou mij voortaan bij di ploeg,
En vroutjie blij jij thuis!’
Llewellyn en syn Hond (Gelert) (Z.A.T., Nov. 1889) is die aandoenlike verhaal van 'n getroue hond wat weens misverstand deur sy baas doodgemaak is. Hoe 'n uitstekende verteller toon Maskew hom nie hier nie, al is dit dan weer 'n vertaling. Hy boei die leser en wen sy volle simpatie vir Gelert, die edele dier. 'n Dergelike verhaal was natuurlik bedoel om op die lesers se gevoel te werk, want Maskew doen gedurig | |||||||
[pagina 228]
| |||||||
'n beroep op die primêre emosies van die mens: daarom is sy gediggies komies, pateties of sentimenteel. Cassabianca (Z.A.T., Juli 1889) vertel van die heldedaad van 'n dertienjarige seun op 'n Franse oorlogskip. The Fakenham Ghost vertaal Maskew as 'n Spook Storie (Z.A.T., Maart 1890), en hier munt hy weer uit as die geestige, gemoedelike verteller, wat graag spot met 'n gebrek van sy medemens. Hy het 'n oog vir die besonderheid en die gawe om dit in woorde vas te lê. So sien ons die ‘Ou-vrouw’ na sononder op pad huis-toe nadat sy haar tyd verpraat het by Dolf Jurgen: ‘Haar tong di rus, haar voetjies werk,
Sy's gên trapsoetjies nou.’
Kostelik suggereer hy die toenemende angs by die ou vrou deur op die naggeluide te wys: die kraaie begin kras, en die voëltjies vlieg deur die bos. ‘Jy kon di Jakals duidlik hoor,
En ook di wilde-kat;
En mag, daar spring 'n haasie ook
Net langs haar uit di pad.’
Sy hoor iets agter haar loop, en benoud kyk sy om, maar sien niks nie. Net soos sy loop, hoor sy hom weer. Sy word vreeslik bang en dink aan 'n gebed. Intussen kom die spook nader. Uiteindelik bereik sy die werfhek: ‘Dit spring nou toe met groot geraas,
Haar hart is in haar mond,
Sy dog di nare spook di sou
Haar neerslaan op di grond.’
Voor die huis val sy flou neer. En wat moes haar man sien - die spook was 'n donkie! 'n Volgende spookstorie is die vertaling van The Spectre Pig as Di Vark-Spook (Z.A.T., Junie 1889). Dit is egter lank nie so gaaf as die vorige een nie. Jij is oud, Vader Willem (Z.A.T., Febr. 1889) is na die Engels van Lewis Carrol, en taamlik verspot. Die seun wil | |||||||
[pagina 229]
| |||||||
verskillende dinge weet, en ten slotte wys die gryse vader hom op onkiese wyse maar in eg volkse gees tereg: ‘Voetsek nou van hier, anders skop ek vir jou,
Vat jou goed nou, Perreira, en trek!’
Kostelik is Di Wyter by mijn Stoel (Z.A.T., Jan. 1889), want vir die digter is die ‘wijter’ 'n ware nagmerrie. Hy gaan graag by sy vriend eet, want by sy eie huis kry hy nie sulke lekker kos nie, maar agter hom staan altyd die ‘wijter’ met sy uitgestrykte gesig. Hy maak soms 'n grap en almal lag heerlik saam, ‘Mar een ellendige gevreet
Di word toch nooit ni slap.’
Op die digter se kop is daar 'n kaal kolletjie, en hy is baie geovelig daaroor - gelukkig sien niemand dit raak nie, behalwe ‘di wyter by mijn stoel.’ Eendag as hy ryk is, sal hy ook groot feeste gee, ‘Mar as dit ooit so ver mog kom,
Ek sweer dit as mijn doel,
Di wijter, met sijn fraaie pak,
Jâ ek ver van mijn stoel.’
In 'n Paar Procureurs versies uit die ouwe Doos met 'n nieuwe vertaling (Z.A.T., Junie 1888) steek Maskew die draak met die mense wat die prokureurs van bedrog beskuldig en dan self bedrieg. Eers stel die kliënt 'n vraag, en dan antwoord hy self daarop. Om te wys hoe gemeensaam die toon van die vertaling word, lê ons dit naas die oorspronklike. ‘Who taught me first to litigate,
My neighbour and my brother hate,
And my own rights to overrate?
My Lawyer.’
‘Ag wie het tog ver mijn geleer
om teên mijn buurman fals te sweer,
En mij verbeel ik was “Mynheer?”
Mijn Procureur,’
| |||||||
[pagina 230]
| |||||||
Nog 'n Dop (Z.A.T., Nov. 1888) is na 'n Engelse parodie, en 'n vrolike gespot met 'n dronkaard, wat maar steeds om ‘nog 'n dop’ roep. Maskew neem weer sy toevlug tot plat woorde om so laag by die grond as moontlik te kom. Uit Heine het Maskew heelwat vertaal, meestal kort gediggies, maar natuurlik weer baie geestige dingetjies, wat hy dan nog geestiger probeer maak deur plat woorde te gebruik. Beter tref sy vertalings as hy 'n minnediggie aandurf, soos die volgende: ‘Jij's nes 'n soete bloempie
So skoon en fraai en rein;
Nogtans as ik vir jou sien,
Dan word mijn hart vol pijn.
't Is as of ik mijn hande.
Op jou koppie legge wou,
Biddend dat God jou altijd
So skoon en fraai mog hou.’
Sou Maskew geweet het dat minnnediggies baie in die smaak val en is dit daarom dat hy heelwat vertalings gemaak het, soos o.a. ‘Drink to me only’ van Ben Jonson? Hy noem dit 'n Liedjie (Z.A.T., Febr. 1888). In Maskew se vertaling mis ons egter die innigheid van toon en tere stemming van die oorspronklike. Die atmosfeer het verlore gegaan. Ook in ander tydskrifte en koerante het Maskew sy gedigte gepubliseer. So kry ons in die eerste jaargang van Ons Klyntji 'n gediggie: Di Watermeloen. Hy vertel hoe 'n jong seun, Jan Viljoen, allerlei strawwe trotseer terwille van 'n lekker skyf. Die meester soek na Jan, maar hy gee voor asof hy hom nie hoor roep nie, want hy is besig om te eet: ‘Ag, watermeloen - so sag as 'n soen,
Jij smelt sommer weg in mijn mond,
So wit en so rooi; jij is amper te mooi,
Mij tijd d'pitte spring rond!’
Die digter gee self ook geen duit om vir die Rand nie, ‘lê jy op d' land,’ | |||||||
[pagina t.o. 231]
| |||||||
M.J. Brink.
| |||||||
[pagina 231]
| |||||||
In Ons Land het 'n hele aantal van Maskew se gedigte verskyn, waarvan die meeste egter weer vertalings was. Ons noem 'n paar: Die Reen (1 Jan. 1898); Onse Kitty haar Eed (‘Nora's Vow’) (3 Febr. 1898) en Ik kan nie verstaan (5 Sept. 1899), 'n vertaling van 'n Franse gediggie: ‘Je ne vous comprendes.’ Hulle toon hoegenaamd geen verbetering op sy vroeër gedigte en vertalings nie. | |||||||
Melt Jacobus Brink (1842-1925).Melt Brink is op 16 Mei 1842 in Kaapstad gebore. Van sy sewende tot sy vyftiende jaar het die familie op die plaas Oostenwal, naby Saldanabaai, gewoon; hier het hy vir ruim 'n jaar van 'n Hollandse stuurman, Jan Jansen, onderrig ontvang, o.m. in die Hollandse taal. Met die terugkeer van die gesin in Kaapstad (1856) het hy gedurende daardie jaar weer kon skoolgaan, nou in die bekende Tot Nut van 't Algemeen. Daarop het hy sy vader op hulle plaas naby Houtbaai ses jaar lank met die wynboerdery gehelp, en toe, van 1864 af, het hy in die bakkery en slaghuis van sy vader in Kaapstad gewerk, waarheen die familie weer verhuis het. Nou kry hy 'n nuwe geleentheid. Deur die tussenkoms van sy stiefbroer kon Brink weer 'n jaar op die skoolbanke deurbring, dié keer aan die Suid-Afrikaanse Kollege. In 1867 kry hy 'n aanstelling in die kantoor van die Landmeter-Generaal, waar hy as tekenaar van kaarte werksaam was. In 1908 het hy op ses-en-sestigjarige ouderdom met pensioen afgetree. Sy vrou het hom sewe jaar later ontval. Stil en eensaam (die huwelik was kinderloos) het hy in sy huis, Pretoria-villa, in Kloofstraat, tot aan sy dood in 1925 bly woon. Brink is aan ons vandag nog veral bekend as die besielende leier van die Kaapstadse rederykerskamer ‘Aurora,’ en as die skrywer van verskeie grappige versebundels en toneelwerkies. ‘Aurora’ is in 1866 gestig en gedurende die een-en-twintig jaar van sy bestaan het Brink, met uitsondering van die eerste jaar, as sekretaris daarvan opgetree. Baie van sy toneelstukkies is deur die kamer opgevoer en 'n klomp van sy gedigte hierin deur homself voorgedra. Die kamer het hom sterk vir die bevordering van die Nederlandse taal beywer, 'n | |||||||
[pagina 232]
| |||||||
saak wat ook Brink na aan die hart gelê het en waaroor hy hom dikwels in sy gedigte duidelik uitgespreek het. Maar hoewel hy hom, veral tot ongeveer 1893, tot die Nederlandse taal beken en daarvoor gestry en gely het, was daar in sy simpatieë ook 'n plekkie vir 'n soort Afrikaans, of, soos hy die nog noem, ‘Patriots’ of ‘Kaaps-Hollands.’ Hy sê, hy hou nie van ‘Patriots’ nie, ‘omdat ik het Patriots te overdreven acht, wij spreken zoo niet onder ons. Ik heb het Kaapsch Hollands, zoo als wij het gewoonlijk spreken, gevolgd...’ (Voorwoord, Grappige Stories... Eerste Bundel). Die wij het duidelik betrekking op die opgevoede stadsbewoners, wat hulle ‘aan den middenweg tusschen goed Hollandsch en Patriots houden,’ dus 'n soort beskaafde stads-Afrikaans praat, wat nouer by Nederlands aansluit. Beide wat standpunt en taalaanwending betref, vind ons Brink op 'n ‘middenweg’; hy is konserwatief-liberaal. Aan die een kant is dit die Nederlandse taal wat sy liefde het, aan die ander kant wil hy vir sy volk skryf wat dié taal nie meer goed ken en kan praat nie, maar 'n volk wat hy desnieteenstaande lief het: ‘Ik min mijn land, ik min mijn volk,
Ik min mijn eigen taal!
Zij zijn mij dierbaar, heilig, schoon,
Waar ook mijn voet ooit dwaal.’
Tydsomstandighede, beginnende by die Eerste Vryheidsoorlog, en aangeblaas deur die Jameson-strooptog in 1896, het hom al vuriger voorstander van die Afrikaanse volksgedagte gemaak, en sy bundels dra 'n nog sterker nasionale kleuring sedert die Tweede Vryheidsoorlog. Maar heeltemal het hy nooit tot die Afrikaanse taalkamp oorgekom nie, behalwe dan dat hy die uiterlike toegewing gedoen en in die herdrukke van 1920 en 1921 die Akademiespelling toegepas het. Dit is duidelik dat Brink net maar half tot die Afrikaanse Letterkunde gereken kan word, maar nie te ontkenne is dit egter ook dat die taal van sy ‘grappige’ stukke so na aan Afrikaans is, dat ons hom 'n plekkie ook nie kan weier nie. Sy eie digwerk verdeel hyself in twee groepe. ‘Even als in die (de twee voorgaande bundels) zult gij ook in dezen | |||||||
[pagina 233]
| |||||||
enkele ernstige en in beter Hollandsch geschreven stukjes aantreffen’ naas die ‘grapjes’ in Kaaps-Hollands, sê hy voor in sy derde versameling gedigte. Hierdie onderskeiding hou hy taamlik konsekwent vol. Die ernstige en meer liries-gestemde stukke, meestal geleentheidswerk, is in eenvoudige Nederlands; die ligte, klugtige, lagwekkende stukke is meer epies en episodies van aard en in Brink-Afrikaans gestel. Albei soorte het die strewe na eenvoud gemeen; die digter wil graag deur die eenvoudiges van hart verstaan word en skryf vir hulle. Net soos die Patriotters het hy nie die oog op die meer ontwikkeldes nie. Dit verklaar dadelik waarom ons so weinig fynheid en beskawing by hom gaan aantref, waarom die toon van sy grappige gedigte so grof is, die voorstelling burlesk en karikatuuragtig. Brink wou sy lesers vermaak en stig. ‘Mijn doel was slechts om uw lachlust op te wekken, en om die “Oue stories” aan de vergetelheid te ontrukken’ (Voorwoord, Eerste Bundel). ‘Mocht ook dit bundeltje... u eenige uren van aangename verpozing verschaffen, wees verzekerd dat ik dan mijn moeite meer dan beloond zal achten’ (Tweede Bundel). Eers in die vierde bundel (1898), wat na die Jamesonstrooptog kom, verneem ons 'n nuwe klank: ‘mijn doel is slechts de liefde voor onze taal en de leeslust bij mijne landgenooten er mede aan te wakkeren.’ Brink is prakties aangelê. In 'n tyd van nasionale agteruitgang in die Suide het hy gewerk en gedig. Die volk wou hy bereik en het hulle kos na smaak opgedis. Tussen die grappies, anekdotes, oorleweringe en ‘oue stories’ heen het hy sy wyse lesse oor gesonde sedes; liefde vir land, volk en taal en afkeur van valse skyn ten beste gegee. Terwyl hy vermaak, wou hy stig. Maar die begeerte om 'n lag, 'n gulle, skaterende, diep lag te veroorsaak, was groter as die wens om te stig. Aan die begeerte het hy groot offers gebring, maar sy doel dan ook bereik. Brink is gelees. Die Reis naar Kaapstad van Oom Gijsbert van Graan het 'n egte volksboek geword, en dat daar sewe bundels van sy verse verskyn het, waarvan party 'n vyfde druk beleef het, getuig eweneens sydelings van die sukses wat die Kaapstadse Vader Cats ten deel geval het. | |||||||
[pagina 234]
| |||||||
Hierdie sukses is aan verskeie faktore te wyte. Sy grappige stories is oor die algemeen lewendig vertel, het baie afwisseling en 'n vinnige gang. Brink is 'n persoon wat self goed kon voordra en geweet het hoe om effek te bereik.
Maar op die duur kon die digter nie bevredig nie. Hy was maar 'n noodhulp, sy populariteit grootliks die gevolg van ons volk se armoede aan iets beters.
Die ernstige en vroom gedigte het iets van die deur Brink so bewonderde De Genestet, maar die huisbakkenheid en kleinburgerlike opvattinge van sy stukke het saai geword en verveel. En die ander groep, die ‘grappige stories,’ was meer plat en skewe-bek as grappig, sodat die ontwikkelingspeil van die lesende publiek hulle laat agterraak het. Werklike geestigheid het hy by wyse van hoë uitsondering bereik. Ook sy taalvermoë was klein. Wel het hy vlot, ja, te vlot kon rym en voete tel en besit sy stukke voldoende afwisseling in taalaanwending, maar dit bly die onbesielde beeld, die eentonige gedreun van 'n onpersoonlike manier van segging, arm aan plastiek en sonder die suggestiwiteit wat die atmosfeer met moontlikhede laai. Per slot van sake is Brink 'n gesellige, onderhoudende, maar tog prosaïese en langdradige rederyker. ‘Doch ik heb ook niet geschreven
Met de wens naar roem of eer,
Maar om droefheid te verzachten
En de vreugde te vermeer.’
Let daarop hoe die rymdwang die infinitiefvorm bepaal. Solank as dit rym, sal alle ander reëls, behalwe die maat, daaraan ondergeskik gestel word.
Alles is uiterlik, uitgenome die begeerte om die oppervlakkige, kortstondige vreugde van 'n ondiep grap te bring. Onmiddellike effek is die hoofdoel.
In die eerste bundel hou die meeste grappige stories - baie uit die ou doos - verband met die liefde en die huwelikslewe, en daarom het die versameling 'n beroep op die jongmense gedoen. | |||||||
[pagina 235]
| |||||||
‘Liefde zal die lust ons geve
En die eendrag dubble krach.
Kies jou 'n meissie met een plaas dan,
Daar bekreun ik mij nie om,
Ik weet, dat ik met zóó 'n arme
Deur die wêreld óók zal kom’
(Een Meissie zonder 'n Plaas.)
Op heel gemoedelike wyse, kalm en doodbedaard, gee hy, wat al 'n veertien jaar lank die huwelikslewe geniet, sy raad aan die troulustige jongmense. Alles word prakties gesien - luister na ons Vader Cats: ‘Trouwe, is nie voor een uurtjie,
Want, is eerst die band geknoop;
Zal jul tot jul levenseinde,
Zame in een halter loop.
.... Slaat die raad, jul hier gegeven,
Toch nie luchtig in die wind;
Maar kyk goed eerst uit jul ooge,
En bezint, voor jul begint.’ (Een Goeie Raad).
Nee, Brink is geen romantikus nie, en weinig van 'n idealis ook; net genoeg om 'n didaktikus te wees en te glo aan die toekoms. As hy lessies uitdeel, is hy in sy element. Oor die huislike lewe 'n voorbeeld nog. Neef Klaas vertel van 'n doodgoeie man, ‘geduldig als een schaap... hij speelt zoowel voor meid als kok.’ ‘Al wat zij zeg, dit moet hy doen;
En ook maar gauw en vlug,
Want anders dans die bezemstok
Kadrielje op zijn rug.
Die heel dag hoor jij Trijntje raas,
Haar stem klink als een klok,
En Klaas moet in die rondte spring
Als 'n kapaterbok.
| |||||||
[pagina 236]
| |||||||
Een man kan wel geduldig wees,
Maar ook nie al te veel,
Hij is niks nie werd, als hij zijn vrouw
Die baas oor hom laat speel.’
In die rympies oor huislike aangeleenthede verneem ons 'n ligte spot, en selfs iets van leedvermaak by die kinderlose Brink in daardie stukke wat oor die moeilikheid met grootmaak of kry van kinders handel. Jan wat naar kinders gewens het, kry dit swaar: ‘Dan moet Jan wel opstaan, maar brom als 'n kat,
En wens dat sij seun nie so'n keelgat besat...
Jy kan doen wat jy wil, vrouw, één ding kan ik sê,
Dis 'n duiwelse las maar, om kinders te hê;
Ik hoop dus dat jij bij die ene sal bly,
En so lang als ik leef geen tweede sal kry.’
Duidelike leedvermaak klink op uit Toe Jan Koker se Vrouw Tweelinge gekry het. Die ‘stories’ behandel verskillende sake; daar is, om 'n paar bekendes te noem, Die Verstrooidheid van 'n Koster, toe oom Floris eers van die wyn by 'n troue gaan nuttig het en daarop die begrafnisstoet moes lei maar in die verkeerde straat uitgedraai het en alleen verder moes loop; Die Verlore Bril wat twee jaar lank weg was en die dag met die dominee se huisbesoek in die Bybel ontdek word; Pasop vir Nouwe Stewels toe die vrome Oom Daantjie sy nou stewels onder die gebed in die kerk uitgetrek het maar hulle nie weer kon aankry nie, en Jan Dempers en die Bul, wat verhaal hoe Jan op die rug van 'n verwoede bul te lande gekom het en oor berge en deur valleie in rasende vaart voortgedra is sodat hy op Piet Koen se vraag ‘wáár loop jy heen?’ terugskree: ‘Og mense, help, ik weet dit nie
Ik weet dit nie, og neen!
Dit weet maar net die Liewe Heer!
En hierdie bul alleen.’
In die eerste bundel verskyn nog 'n lang gedig oor sy geboortestad en die sieraad daarvan, Tafelberg, waarin 'n paar | |||||||
[pagina 237]
| |||||||
mooi, gevoelige strofes voorkom. Oor die algemeen gee hierdie versameling die meeste verskeidenheid en bevat dit van Brink se mees tipiese werk. Die ander ‘papieren kinderen’ bring weinig nuuts, en geen groter verheffing nie. Tot die beste uit die tweede bundel Grappige Stories en Andere Versies (1894) behoort die openingsgedig in Nederlands: Mijn Vaderland: ‘Ik min u, mijn Zuid-Afrika!
Ik min u boven al.
Ik zal u minnen tot de tijd,
Mijn werkkring hier, en al mijn strijd
Voor eeuwig enden zal.’
Die aantal gedigte oor die veranderlike tyd en die verganklikheid van die lewe, neem sterk toe, en daarmee die lerende toon, maar die vermaaklike het die oorhand in die ‘Derde Bundel’ (1896). Eers met die ‘Vierde Bundel’ (1898) vang ons 'n nuwe klank op: 'n uitgesprokener volksgevoel, wat soms in uitskellery van die bedreigende magte oorslaan. ‘Maar wie wordt deur elk' Patriot,
Of Afrikaander, slechts bespot,
En uit gelach als gek en zot? ...
Jameson! ....’
Of, op die vraag Wat is een Jingo die sarkastiese antwoord: ‘In 't kort, een Jingo! lieve Neef;
Is wel een mense-kind,
Doch een, waar één-kwart mens van is.
Maar drie-kwart niks als wind!’
Teen Afrikaners wat aan die volksaak ontrou word, tree hy striemend op: ‘Maar hij, die bij verraderij
Ook lastertaal nog paart,
En leugens van zijn volk vertel:
Hij is een monster uit de hel!
Den naam van mensch onwaard!’
| |||||||
[pagina 238]
| |||||||
Nog skerper is sy donkere doemwoorde oor hulle in die ‘Vyfde Bundel’ (1903), wat 'n groot aantal versies oor die vryheidsoorlog bevat. Die helde bewierook Brink, Koningin Wilhelmina vereer hy met 'n lofsang, en aan Steyn en Kruger bring hy hulde, maar sy toorn en sarkasme stoot hy nou nog vlymender uit oor vyand en ‘National Scout.’ Sy verse is ‘slechts de taal van een hart, dat ook in de afgelopen droevige oorlog mee heeft gevoeld en geleden.’ Die oorlogsgedigte is egter byna sonder uitsondering in Nederlands gestel. Die grappige stories, vir die jeug bedoel, in Afrikaans, om hulle te laat lag, want 'n lag is ‘een danklied in het leven.’ (Voorwoord). Brink se volgende twee bundels (die Sesde in 1906; die sewende in 1909) is net 'n gewone voortsetting, met dié voorbehoud dat hy, nou 'n ou man van naby die sewentig, baie vriende en bekendes aan die dood moes afgee en daar so met die baie lyksange en treurdigte 'n elegiese toon in sy rustige werk opklink, Die lerende strekking van sy tydsange word in toenemende mate sterker. Hy voel die dood is ook van hom nie meer ver nie, en met berusting en oorgawe getuig hy gevoelvol: | |||||||
Mijn dag gaat om.‘De tijd vloog heen, mijn dag gaat om,
Wijl de avondstonde nadert;
En d'oude boom op 's levens veld
Wordt zachtjes aan ontbladerd.’
Van sy ander werk noem ons nog Die Reis naar Kaapstad van Oom Gijsbert van Graan (1904), 'n oordrewe en ongelooflike verhaal van die reisondervindings soos beleef deur 'n ryk maar eenvoudige Boer in die moederstad; Die Storie van Klaas Windvoël die ou Hotnot, in 1910 in Kaapstad gedruk; dit bring die verhaal van ou Klaas wat met sy vreemde en ongeloofwaardige vertellings vir hom as 'n held in die oë van sy stamgenote wil voordoen, en eindelik sy drie bundels: Nationale en Afrikaanse Gedigte. As ons Melt Brink se een-en-twintig toneelwerkies nog in aanmerking neem en die baie ongepubliseerde stukke in gedagte | |||||||
[pagina 239]
| |||||||
hou, dan blyk dit hoe produktief hy was. Voor hom het geen Afrikaner so vlytig geskryf nie, al was 'n jonger persoon, t.w. D'Arbez, besig om vir hom 'n soortgelyke reputasie op te bou. Brink was nederig en beskeie, en het sy eie werk se waarde nie oorskat nie. ‘Ikzelf beschouw het (sy werk) bij andere boeken vergeleken, als een rivier-klipje onder paarlen en diamanten; maar dat klipje heeft toch ook zijn nut.’ (Vyfde Bundel). Sy harlekyntoertjies het werklik groot byval gevind en dus nut gestig; maar tog het Brink seer gevoel toe die volk hom begin verbygaan. Hy wou nuttig bly. Pateties klink dit in sy laaste bundel: ‘als gij echter mijn verzoek te stout vindt, dan vraag ik, lees ze (die ernstige en luimige versies) altemaal; want gij zult er uw ouden vriend een groot genoegen mee doen!’ (Voorwoord). Met sy gawes wou Melt Brink sy volk dien en het hy ook gedien - Al was die talent nie groot nie, het hy sy beste met graagte gegee om sy tuintjie te vermooi. |
|