| |
| |
[pagina t.o. 13]
[p. t.o. 13] | |
L.H. Meurant.
Pres. F.W. Reitz.
Dr A. Pannevis.
Ds S.J. du Toit.
| |
| |
| |
Hoofstuk I.
Die begin van die Afrikaanse letterkunde.
1. Histories:
Ons literatuurbeskrywing kom eers laat op, wat sy oorsaak in die besondere kultuurtoestande vind. Die skriftelike gebruik van die volkstaal staan aanvanklik, waar die belangstelling nie veral leksikologies van aard was nie, in diens van die strewe om plek-plek die lokale of sosiaal-dialektiese uit te bring, soos in Boniface se fel-persoonlike werk. In dié vorm spreek hom geen nasionale gevoel van eiewaarde uit nie, want die sielkundige grondslag van toe-eiening en verdierbaring van die spreektaal as die wesentlikste uitingsmiddel is nog absoluut afwesig.
Met Meurant se optrede as Klaas Waarzegger vind ons die eerste duidelike openbaring van 'n gees van toe-eiening by vele van sy navolgers. Die lokale en seksionele (Hottentot-Afrikaans) los hom al op plekkies op in die eg-nasionale, en pertinenter gewaar ons dit in die volgende fase (Zwaartman-Hoogenhout-S.J. du Toit). Dit loop sonder 'n duidelike breuk oor in die periode van die Genootskap van Regte Afrikaners, wat deur-en-deur volks van strekking is. Al is dit dan nog net by 'n klein deeltjie van die Afrikaner-groep (van 'n nasie kan ons nog nouliks praat!), tog bly dit onteenseglik duidelik dat die psigologiese eienskappe vir die opbloei van 'n eie, nasionale letterkunde nou aanwesig is.
In die aanvaarding en toe-eiening lê ook die afbakening. Die skeidingslyne kom positief en negatief uit: positief in die Manifes en Die Afrikaanse Volkslied:
Een ider nasie het syn TAAL.
Ons praat, van Kaap tot in Transvaal,
Wat almal maklik kan verstaan,
Wat gaat die ander tale ons aan?
Ons praat, so's Pa en Oupapa,
Die Landstaal van Suid Afrika. (P., 15 Jan. 1876).
| |
| |
Negatief sien ons dit in een van die heel-eerste gedigte, die van Herholdt:
Stuur weg met die skuit! (P. 15 Maart 1876).
So bepaal die erkenning van die nasionale terrein meteens die strydende karakter van die beweging, 'n stryd om erkenning van die eie, soos hulle dit sien, en 'n stryd teen alles wat dit in gevaar kan bring. Die militante strewe is gerig teen Engels, wat die Afrikaans-nasionale gedagte wil versmoor, en teen Nederlands, die moeder, dog slegs insoverre as sy die kind sy aansprake op selfstandigheid ontsê: andersins laat die kind sy regte op die moeder dankbaar geld, en help haar met graagte waar hy maar kan (bv. om Nederlands in 1882 in die Parlement erken te kry, met die oprigting van die Taalbond, e.s.m.)
Nederlands bly so gedurende die neëntiende eeu vir die Afrikaner nog die werklike eie kultuurtaal, maar daarnaas groei heel beskeie 'n plaaslike letterkundetjie op.
Eers die skokkende gebeurtenisse aan die ingang van die nuwe eeu bring die wesentlike kentering. Die gevaar was groter as ooit van tevore, die nasionale gedagte sterker as ooit, en die wil na uitredding so oorheersend-hewig as nog nooit nie.
Hierdie wil het na 'n felle stryd en baie lastige misverstand sy eie vorm op die enigste ware manier gevind, naamlik in die ruwe, ongeskaafde volkstaal. Al die toegewinge van die kant van die Nederlandse rigting, soos die taalvereenvoudiging, was tevergeefs, want om die groot nood was die Nederlandse kultuurtaal met al sy ryke letterkundige skatte nie bestand teen die eise en behoeftes van die oomblik nie.
Uit weelde het die Afrikaanse gedagte nie oorwin nie, maar uit nooddurf.
Die oorwinning bring ook die losskeuring van Nederlands. Die energie word nou bestee aan die veredeling en vorming van Afrikaans as kultuurmedium en aan die kweking van 'n eie letterkunde.
Leidend en vertroetelend volg ons literatuurbeskrywing op die spoor en uiteraard val die klemtoon op die geestelike be- | |
| |
drywigheid in Afrikaanse taalvorm. Dr Lydia van Niekerk behandel op simpatieke wyse die voortbrengsels van die vooroorlogse tydperk met die uitloopsels (1916), dr E.C. Pienaar die onverwagte wonder van ons snel-opbloeiende na-oorlogse digterarbeid (1919), en dr P.C. Schoonees hou hom, soms bestraffend, maar altyd rigting-duidend, besig met die opmeting van ons prosaveld (1922).
Na al die oorwinninge op taalgebied, veral na die volle erkenning van staatsweë (1925), verdwyn die spanning ten opsigte van Nederlands. Die jongere studiegenote gryp weer terug na die Hollandse verlede en breër perspektiewe open nou voor ons. Bowendien word die steun van die nou-verwante Nederlandse taal in die handhawingstryd teen Engels gemis en daar kom 'n begeerte na meer aansluiting.
By geleentheid van die vyftigjarige bestaan van die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereeniging is 'n gedenkboek uitgegee (Nederland-Zuid-Afrika, 1931), waarin ook van vooraanstaande Afrikaners artikels opgeneem is en daaraan ontleen ons 'n paar uitsprake. ‘(Dit) is vir ons 'n gebiedende noodsaaklikheid om soveel moontlik in voeling te bly met ons enigste en natuurlikste bondgenoot - die Dietse stamland en veral die Dietse stamtaal’ sê dr E.C. Pienaar, of effens verder: ‘Daarom kan en moet die Nederlandse boek op die middelbare skool gehandhaaf word...’ (blss. 216 en 217). Prof. F.E.J. Malherbe meen: ‘Mettertyd sal die behoefte aan meer Nederlands algemeen by ons gevoel word’ (221). ‘Om die Afrikaner in voeling te bring met die Nederlandse gedagte... dit lyk vir my die dringendste behoefte van ons tyd,’ is dr P.C. Schoonees se voorstel (bls. 231). Prof. J.J. Smith weer vra: ‘Begin ons letterkunde ook nie in Vlaandere en Nederland nie?’ (bls. 234).
Hierdie aanhalinge van die opvatting van bewuste Afrikaanse taalmanne, wat self in die hitte van die stryd gestaan het, openbaar die algemene verlange van hierdie tyd na meer Nederlands as 'n steunkrag en terwille van homself. Die Afrikaanse strewe is lang nie meer so eksklusief uit gewaande selfgenoegsaamheid nie. Die aanduiding hiervan was in die begin nog vaag en het meer as 'n soort van reaksie op verskillende prikkels gekom.
| |
| |
Dr S.P. Engelbrecht trek te velde teen die voorstelling in dr M.S.B. Kritzinger se Plate-atlas by die Afrikaanse Letterkunde oor die begin van ons letterkunde. ‘Dr. Kritzinger se Plate-atlas begin met 'n brief te gee van L. Trigardt, wat op 11 Januarie 1837 in Zoutpansberg geskrywe is, en as tweede stut plaas hy die Engels-Afrikaanse Hotnotslied wat omstreeks 1844 onder die naam Kaatjie Kekkelbek die lig gesien het. Daarmee begin dus die Afrikaanse letterkunde! ... Ons (is) nie so arm, so geestelik arm as wat baie mense tot hulle eie skade en tot 'n rampsalige skade van ons volk wil voorgee nie. Ons Afrikaanse letterkunde begin nie met Trigardt of met Kaatjie Kekkelbek nie, maar met die Dagregister van Jan van Riebeeck...’ (in Die Huisgenoot 12 Febr. 1932 oor dr A.N.E. Changuion). Hierdie standpunt motiveer hy nie, behalwe dan met 'n verklaring dat ook Maerlant en Chaucer nie om hulle verouderde taal uit die Nederlandse en Engelse letterkundes onderskeidelik gesluit word nie.
Omstreeks die tyd was twee dames-studente en vriendinne besig aan hulle doktorale proefskrifte oor die Hollandse beweging en skrywers in Suid-Afrika. Op 'n artikel van J.J.C. Hofmeyer in Die Huisgenoot (17 Nov. 1933) oor Ons Vroeë Dietse Letterkunde reageer een van hulle, mej. Anna de Villiers, dadelik en beweer stoutweg, net soos dr Engelbrecht: ‘Ons vroeë Dietse letterkunde begin met die Dagverhaal van Jan van Riebeeck’ en nie met Boniface, De Lima en Changuion nie, soos Hofmeyer beweer het (Die Huisgenoot 22 Des. 1933). Dat sy van oordeel is dat nie net die Afrikaans-‘Dietse’ letterkunde in breë sin sy aanvangspunt hier het nie, maar spesifiek ook die Afrikaanse, blyk aan die einde van haar betoog.
Nòg dr Engelbrecht nòg mej. De Villiers se artikels het opspraak verwek; eers die Amsterdamse dissertasie van dr Elzabeth Conradie: Hollandse Skrywers uit Suid-Afrika, deel I, 1652-1875 (1934) sal 'n ‘klein oorloggie in ons letterkundige wêreld’ aan die gang sit. Sy wou haar onderwerp in die algemene Afrikaanse kultuurstrewe inskakel en doen dit in 'n programmatiese Inleiding wat blaak van liefde vir eie volk, stamvolk en taal. Asof sy haar pad voel vra sy: ‘of die tyd nie aangebreek het om ons tentpenne veel wyer uit te slaan nie, sodat ons die hele Dietse letterveld sal omvat en nie langer
| |
| |
die Hollandse geskrifte wat in Suid-Afrika ontstaan is en deur Suid-Afrikaanse aangeleenthede geïnspireer is, uit te sluit nie?’ (bls. xix).
Effens verder word sy meer aangegryp deur haar gloedvolle argumentasie en toon duideliker kleur oor ‘wat ons onder Afrikaanse letterkunde (moet) verstaan. Op die taalvorm alleen kan ons nie langer gaan nie. Ons het ons blind gaan staar op die Afrikaanse vorm en vergeet dat dit die gees is wat lewend maak. As dit ons werklik erns is met ons kultuurstryd, moet ons volk hom weer in die Hollandse periode van sy verlede terugvind...’ (xxii). Eers teen die einde van haar inleidende betoog sal sy die eintlike stelling pertinent bewoord: ‘Vir my loop daar 'n onafgebroke Dietse draad van die Dagboek van Jan van Riebeeck af tot by die jongste Afrikaanse geskrif.’ (xxiv).
Dadelik het 'n groep geleerdes, veral jongeres, hulle om haar geskaar en prinsipiële kwessies kom aan die orde.
Om vereers op te som: daar is drie standpunte:
1. Prof. J.J. Smith, uitgaande van taal- en stamverwantskap, het in sy Inleiding tot Leipoldt se Oom Gert Vertel en ander Gedigte beweer ‘dat die omvangryke letterkunde van Nederland en Vlaandere die gemeenskaplike besit van die Dietse volkere is... Vondel behoort ewegoed tot die letterkunde van die Afrikaner as Chaucer tot dié van die Engelsman ....’
2. Engelbrecht, De Villiers, Conradie, P.J. Nienaber (D'Arbez as Skrywer, 1936), S.P.E. Boshoff (Beskouinge en Feite, 1936, bls. 192), Besselaar e.a., bepleit 1652 as die beginpunt.
3. S.J. du Toit, Lydia van Niekerk, Pienaar, Schoonees, e.a. rig hulle meer na die Afrikaanse taalvorm as 'n maatstaf.
| |
2. Prinsipiële Kwessies:
Die meningsverskille het oor punte 2 en 3 gegaan. Die verskille tussen die drie standpunte is nie altyd skerp nie, en dieselfde persoon kan (en het) al drie aanvaar: dit hang soms net van die doelstelling en aksent, die uitgangspunt af. Daar- | |
| |
om kan partye so maklik by mekaar verby praat. Die feit bly egter staan dat 'n prinsipiële stryd ontwikkel het en daarvan moet ons rekenskap gee. Ons begin by dr Conradie.
Sy meen dat 'n aanduiding van 'n breër standpunt as die van Lydia van Niekerk, Pienaar en Schoonees alreeds in die werk van G.S. Nienaber (Die Afrikaanse Beweging, 1931; Honderd Jaar Hollands in Natal, 1933, en die te verskyne lewensbeskrywing van Boniface) gevind word. Maar insoverre as daar by hom van 'n breër grondslag sprake is, is dit eerder te verstaan as die gevolg van die onderwerpe wat hy behandel. Die duidelike ‘wending in ons literatuurgeskiedbeskrywing’ kom, volgens dr Conradie (bls. xx) eers met dr F.C.L. Bosman se Drama en Toneel in Suid-Afrika, deel I (1928). Ook hierdie bewering staan skeef, - immers, Bosman se onderwerp self bepaal sy standpunt, en dan behandel hy alle dramatiese werke, ook die wat in Engels en Frans gestel is, want hy het te doen met drama en toneel ‘in Suid-Afrika.’ Die afbakening berus by hom noodwendig op 'n geografies-historiese grondslag, net soos in 1914 by dr G. Besselaar (Zuid-Afrika in de Letterkunde).
Nee. G. Besselaar, F.C.L. Bosman en G.S. Nienaber kan nie as ware voorlopers beskou word nie. Hulle is dit toevallig. Die werklike wending begin by Engelbrecht, mej. (nou dr) De Villiers en veral by dr Conradie self, die bekwaamste en hartstogtelikste pleitbesorger van hulle almal.
Wat is die nuwe by hulle? Ons soek dit vereers in die tydsgees en dan in die standpunt.
| |
Tydsgees:
Soos reeds aangedui, was die tyd omstreeks 1930 ryp vir toenadering. Die stryd teen Nederlands as 'n mededinger in Suid-Afrika was volledig volstry en die gevoel daarteen het met die oorwinning verdwyn, ja meer, begin plek maak vir waardering. Maar die daad bly nog tot vandag toe uit, en veral diegene wie se gees tydens hulle verblyf in Nederland deur daardie kultuur lewendig verryk is, betreur dit dat die Afrikaners hiertelande nie meer daaraan deel het nie. Nou wil hulle graag versoening bring en genesing. Daarom kan ons stellig beweer dat die houding van dr Conradie en haar
| |
| |
medestanders nie soseer hulle tyd verander het nie, as dat hulle tyd die houding teenoor Nederlands verander het.
| |
Aksent:
Hulle het die aksent so gelê dat die ‘Hollandse verlede’ van ons volk weer 'n plek moet vind in die omlysting van ons (kultuur- en) literatuurgeskiedenis. Dr Conradie wil dus vir die ‘Hollandse skrywers uit Suid-Afrika’ 'n plek ingeruim hê in 'n Afrikaanse letterkundige geskiedenis.
Die prinsipe wat hierin opgesluit lê, het sy reeds aangeroer waar sy sê: ‘Op die taalvorm alleen kan ons nie langer gaan nie... dit (is) die gees wat lewend maak.’ Hier is dan die teenstelling taalvorm en volksgees, m.a.w. behoort 'n werk tot ons letterkundige arbeid alleen wanneer dit kennelik in die Afrikaanse taalvorm gegiet is ('n uiterlike maatstaf dus), of wanneer dit die gees van ons land en volk adem en uit 'n nasionale sfeer voortkom (- 'n innerlike maatstaf)? In die verlede het die uiterlike kriterium die deurslag gegee, maar vir die toekoms vra dr Conradie om 'n ander basis.
Die stelling los niks op nie en skep baie probleme. By 'n werk soos Die Huisgesin van Dawid Barinski deur J.J. Groeneweg (1935) kan enkel die taalvorm beslis dat dit tot ons letterkunde gereken moet word en is daarom die belangrikste faktor in hierdie vasstelling, en Pauline Smith se kortverhale of Hans Grimm se vertellinge sal, ook weer om die taalvorm, moet afgewys word, al is die gees en sfeer ook nog hoe Afrikaans. Hierop het Piet Prins gewys (Wanneer het die Afrikaanse Letterkunde Begin? in Die Huisgenoot, 24 Mei 1935), en waarskynlik voortbordurende op sy argumente wou prof. Besselaar, ook in 'n Huisgenoot-artikel (13 Jan. 1936), die lyne van die patroon vaster kleur toe hy aantoon dat die siel (gees en sfeer) altyd van groter belang is as die liggaam (taalvorm). ‘Taalvorm is 'n onmisbare kriterium, maar sekundêr.’ Op sy skerpste gestel, kom hy dus tot die teenoorgestelde gevolgtrekking as Piet Prins. Nou dryf hy dit nog verder deur om sodoende ook vir die Dagverhaal in die Afrikaanse letterkunde 'n tuiste te vind, en wel op grond van gees en sfeer. Maar, soos prof. Dekker reeds opgemerk het (Nuwe Oriëntering? in Die Huisgenoot, 28 Sept. 1934), die dagregisters van Van
| |
| |
Riebeeck en Tas is die werk van Hollanders ‘en van soortgelyke werk van ander Hollanders van hulle tyd (verskil) hulle hoogstens daarin, dat hulle 'n sekere lokale kleur dra...’ Hierdie plaaslike stempel is nou vir Besselaar die ‘gees en sfeer’; ons beswaar is dat daar te weinig geesteliks aan die omskrywing van die begrip ‘gees’ kleef. Sy vooringenome stelling om Jan van Riebeeck se Dagverhaal saam met ander Nederlandse geskrifte op Suid-Afrikaanse bodem ontstaan, by die Afrikaanse letterkunde in te lyf, voor Besselaar daartoe om die Afrikaanse taalvorm sodanig ondergeskik te maak aan die gees, dat hy wel 'n ‘Engels-Afrikaanse,’ 'n ‘Duits-Afrikaanse,’ 'n ‘inboorling-Afrikaanse’ langs 'n ‘Hollands-Afrikaanse’ letterkuns onderskei, maar geen plek maak vir 'n Afrikaans-Afrikaanse letterkunde nie - 'n feit waarop dr Pienaar enigsins onsag gewys het (‘Die Oorsprong van die Afrikaanse Letterkunde’ in Die Huisgenoot, 14 Febr. 1936).
Die kernvraag is net of Piet Prins en Besselaar se argumentasie, deur dr Conradie begin, ooit nut kan stig. Is taalvorm en gees 'n teenstelling? Die waarheid is: Nee! ons het hier geen antitese nie, en daarom is hulle nie met mekaar as kriteria vergelykbaar nie. Taalvorm is 'n veropenbaring van 'n bepaalde gees na buite, en dus skep hulle saam 'n onverbreekbare eenheid. Die gees is die moment van die innerlike kant, die taalvorm is dieselfde moment wat hom na buitentoe waarneembaar maak. Dit is 'n twee-enigheid.
Heelwat van hierdie besef kry ons by prof. D.F. Malherbe waar hy in die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns (Jg. xii, blss. 214-215) dr Conradie se boek aankondig. ‘In die ruime Dietse lettere-wêreld omvat die Afrikaanse lettere 'n gebied wat die Hoog-Hollandse geskrifte in Suid-Afrika uitsluit, hoe seer ook al sommige hiervan spore van die Afrikaanse taalaard mag vertoon. Die Afrikaanse lettere word begrens deur tyd, taalvorm en 'n nuwe geestesopenbaring... Die gees wat die Afrikaanse lettere te voorskyn roep en die stu-krag word van 'n Beweging, is 'n gees van verset... selfs teen die opperheerskappy van die Hoog-Hollandse taalvorm.’ Hier word vorm en gees as 'n eenheid gevat.
Nog vaster sien prof. Dekker die verband in sy reedsgemelde Huisgenoot-artikel, waar hy die rede van die opkoms
| |
| |
van 'n eie Afrikaanse letterkunde in verband met die opkoms van ‘'n nasie met 'n eie volksiel’ bring.
Ondertussen het dr Conradie die probleemstelling verder deurdink en groter helderheid oor haar eie standpunt verkry, soos uiteengesit in Ons Eie Boek (Jg. v, 4, bl. 219) en waarin ook die skokkende nuus van haar te vroeë dood gebring is.
Net soos sy haar studieveld in 1934 ten opsigte van Afrikaans afgebaken het (punt 3 bo), en wel so dat die Hollandse geskrifte uit Suid-Afrika 'n plek in ons Afrikaanse literatuurgeskiedenis moet kry, net so kyk sy nou (1939) die probleem deur prof. Smith gestel (punt 1 hierbo) onder die oë. Hierdeur kry sy die teenstellinge en formuleer haar standpunt met loflike duidelikheid. Die vae term ‘gees’ bly nog, maar as bepalende faktor verskyn nou die ewe vae begrip ‘volks’: ‘Nie Vondel nie maar die Dagboek van Jan van Riebeeck en alles wat tot stand gekom het op ons Afrikaanse bodem binne die Hollandse taalgrens van 1652 tot ongeveer die end van die 19de eeu, begin 20ste eeu, dra 'n dubbele gees, nl. 'n sterk afnemende Nederlandse gees en 'n sterk toenemende Afrikaanse gees... In die stadium waarop ons op die oomblik verkeer, teen die middel van die 20ste eeu, is die Nederlandse letterkunde... 'n nou-verwante, maar des nie te min vreemde letterkunde vir ons.’
Om nou die feit van 'n dubbele Hollandse medium (Nederlands en Afrikaans) in sy twee element tot 'n eenheid te bring, lê sy die fondament bloot waarop sy bou: ‘Die volkse is die grondbeginsel, die uitgangspunt van my literatuurwetenskap.’
Met die verklaring: ‘Vir my is Nederlands en Afrikaans twee volkome, aparte tale’ waarvan elkeen ‘sy ontstaan te danke het aan die totstandkoming van 'n aparte volksoort’ is sy weer baie na aan die ou standpunt van voor die kentering. Die groot verskil in opvatting met vroeër, is dat sy 'n literatuurgeskiedenis van die Afrikaanse volk verkies bo 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, d.i. van werke in Afrikaans. Daarmee skakel sy haar opvattinge in by die opkoms van 'n literatuurwetenskap wat verband hou met die verhoogde belangstelling in volkskundige studies, veral in die Germaanse lande, en by name in Duitsland.
| |
| |
Die beskouingswyse het die voordeel dat die wordingsgang nou geskets kan word in aansluiting by die dieperliggende volkswording, waarvan dit een van die uitinge is. Ons kan hier die breë afbakening van D.J. Opperman te pas bring en praat van 'n ‘pre-natale of embrionistiese stadium,’ 'n ‘natale’ en 'n ‘adoleserende stadium’ (Die Natalse Afrikaner, 8 Aug. 1938 en Die Huisgenoot 3 Febr. 1939).
Nou word ons gestel voor die keuse van 'n literatuurgeskiedenis van die Afrikaanse volk enersyds, en van Afrikaans andersyds - twee terreine wat mekaar grootliks dek. In hulle eendersheid van taak en terrein win die een dit nie van die ander nie, maar in hulle andersheid lê elkeen se voor- en nadele as 'n besondere metode van gebiedsafbakening en behandeling. Om dit te verken, is nie ons taak hier nie, maar ter illustrasie kan oorweginge soos die volgende dien: Laat ons die Afrikaanse taalvorm die deurslag gee, dan kom vanself aan die innerlike kant ons nasionale verwesenliking daarin en daardeur aan die orde, maar dan laat ons die letterskat van ons ‘volk’ in sy ‘pre-natale periode’ bv. buite rekening, wat tog prakties op 'n miskenning van 'n deel van ons letterkundige bedrywigheid as volk neerkom. Aan die ander kant as ons dit wil in aanmerking neem, dan praat ons hier van 'n ‘volk’ wat nie bestaan nie en wat ons dus nie innerlik, volgens volkse waardes, bepaal nie, maar volgens aardrykskunde. Of selfs later, wanneer daar wel 'n volk is, kan persone van een volksgroep in die taal van 'n ander skrywe. Hoe gaan ons met die Hobsonbroers, van 'n volkse standpunt uit, maak, of met Afrikaners wat hulle letterkundig van Engels bedien? Dit is egter geen wesentlike probleem nie en in die praktyk los ons dit sonder meer op.
Om op te som: die beginsels wat ons sover vir die gebiedsbegrensing van ons letterkundige geskiedenis het, is die volgende:
1. | Stam- en kultuurverwantskap, wat die historiese lyn van die Nederlandse tyd ononderbroke laat deurloop en ook op die literêre prestasie van die stamlande na die afskeiding aanspraak maak (Prof. Smith). |
2. | Geo-politiese waardes (in die proefskrifte van G. Besselaar en F.C.L. Bosman). |
| |
| |
3. | Die taalvorm, en saam daarmee, as 'n eenheid, die Afrikaans-nasionale (S.J. du Toit, L. van Niekerk, Pienaar, Schoonees, ens.) of skakeringe daarvan. |
| |
4. | Die gees en sfeer, en saam daarmee, die taalvorm, maar as ondergeskik (E. Conradie, A. de Villiers, P.J. Nienaber, ens.) |
| |
5. | Die volkse, as 'n noukeuriger omskrywing van pt. 4 hierbo (E. Conradie). |
Teen mekaar gemeet, gryp nr 1 die verste om hom heen, maar dit stel die kloof tussen die twee volkere tog te vlak voor, en is eerder idealisties as realisties en prakties. As ons 'n homogene bevolking gehad het, sou punt 2 sy kontraswaarde teenoor punte 3 of 4-5 verloor het. Juis omdat ons nie homogeen is nie, sal dit in baie gevalle altoos waardevol bly. Punte 3 en 4-5 beskou dieselfde saak net op verskillende stadiums wat die aanvang betref.
Dit is duidelik, eerstens, dat alles nie onder een hoedjie gevang kan word nie, en tweedens, dat elkeen sy nut het, volgens die gerigtheid van die taak wat die ondersoeker hom stel. 'n Werklike holisme is net dan moontlik wanneer die literatuurgeskiedenis self as 'n onderafdeling van 'n groter eenheid betrag word.
Waar die skrywers van die voorliggende studie hulle taak so opgevat het dat hulle 'n oorsig van die Afrikaanse literatuurgeskiedenis wil gee, sal hulle vir hulle rig na die werke wat doelbewus in die Afrikaanse taalvorm gegiet is en wat die openbaring is van 'n geestesgesteldheid wat in mindere mate, aanvanklik, maar voortskrydend tog in 'n steeds toenemende mate, 'n strewe in die rigting van nasionale selfvonds en selfverwesenliking openbaar, totdat die nasie hom volledig van 'n eie taak en roeping bewus is ooreenkomstig sy eie karakter as 'n lewensnoodsaak. Ons uitgangspunt is dus minder die volk as die nasie. |
|