Gedigte
Die Versamelde Werke bevat al die gedigte in J.L. van Schaik se Versamelde Gedigte plus drie nuwes: ‘Piet van Snaar’, ‘Mahlo-a-Naledi’ en ‘Die Nag’. ‘Piet van Snaar’, 'n ballade in ligte trant, het op 5 Mei 1905 in Land en Volk verskyn en in 1977 as 'n geïllustreerde kinderboek by Human & Rousseau. ‘Mahlo-a-Naledi’ het vroeër in die Nasionale Pers se uitgawe Gedigte verskyn, maar is nie in die Versamelde Gedigte opgeneem nie. In Die Groot Verlange word die vermoede uitgespreek dat dit nie die ‘nodige aanvaarding van Gods wil’ (mens kan 'n bietjie moedswillig byvoeg: ‘vir skoolvoorskrywing’) toon nie. ‘Die Nag’, weer, kan as nogal dekadent beskou word. Dit handel, so word in Die Groot Verlange (p. 482) afgelei, ‘oor die dood en die surrogaat-dood, morfine ... Opvallend baie van die elemente uit De Quincey se beroemde prosa-loflied tot opium kom hier ook voor, maar Marais gaan nog verder as De Quincey. “Die Nag” is 'n liefdesgedig, en die beminde - die godin, want hy noem haar u - is morfine.’
Wat redigering betref, is Marais se gedigte met groot piëteit benader. Met vier uitsonderings is niks verander nie: 1. Die laaste reël van ‘Mabalêl’ se eerste strofe lui al in talle uitgawes van die Versamelde Gedigte ‘winkend blik die eerste vure’. Ek is oortuig dat Marais ‘blink’ wou sê (veral aangesien dit in die derde laaste