Nag
Marais se kommentaar:
‘Die drama speel gedurende 'n periode van Afrikaner-ontwikkeling waaraan die oorlog 'n verpletterende einde gemaak het. 'n Nuwe geslag was net in wording waarvan beide seuns en dogters die voordeel van moderne onderwys geniet het en, in hierdie opsig, deur 'n groot kloof van die onmiddellik voorafgaande Voortrekkergeslag geskei is. Die taal waarin hul opvoeding geskied het, was natuurlik grammatikaal Nederlands wat destyds die skryftaal van alle Afrikaners deur die hele Suid-Afrika was, en in die Republiek die amptelike taal, en ook die taal van kansel, hof en skool. Hierdie omstandigheid het 'n groot invloed op die Afrikaans van die noorde gehad en daar is baie wat dit vandag bejammer dat hierdie invloed geen kans gehad het om breëre en blywender gevolge - vernaamlik wat ons taal betref - te bewerkstellig nie.
Die instroming van Nederlanders het ook 'n bespeurbare invloed op die periode gehad. Vandag sien ons dat dit feitlik die enigste bron was waaruit die Afrikanerdom van Suid-Afrika nuwe krag en lewe kon geskep het. Dit was egter te kort van duur om 'n voortdurende nasleep te verwek. Maar terwyl dit bestaan het, was hierdie invloed duidelik bespeurbaar in ons maatskaplike lewe in die noorde.
Wat eiename betref, moet opgemerk word dat die meeste Afrikaanse skrywers gedurig moeilikheid in die keuse van name ondervind. Tot onlangs nog was die egte Afrikaner-families (in die noorde vernaamlik) so aaneengeskakel dat om “gewone” name in verdigte verhale te besig, die waarskynlikheid meebring dat een of ander bekende persoon onwetend genoem word. Daarom het Skrywer meer “ongewone” Afrikanername gekies. Die name egter, hoe ongewoon hulle ook al mag klink, is almal eg met 'n Afrikaanse geskiedenis van minstens tweehonderd jaar agter hulle.’