| |
| |
| |
Eerste bedryf
Die opgaan van die voorhang toon die kombuis - tegelyk ingerig as eetkamer - van die klein plaashuisie op Diepkloof. Enige sekondes lank is daar niemand op die verhoog nie. Die kamer is as volg ingerig: Agter links is 'n dubbele deur wat op die agterwerf uitgaan. Regs agter is 'n klein dubbele venster met 'n voorhangsel van wit doek. Links, byna in die hoek, is 'n enkele binnedeur wat toegang tot die twee slaapkamers van die huis verleen. Regs, in die middel van die muur, is 'n groot oop es, of vuurherd, met ysterdwarsbalke waaraan potte aan hake oor die vuur hang. Die vuur is egter daar. Aan weerskante van die es is muurrakke met skottelgoed, bekers, ens. Oor die binnedeur aan die linkerkant is, bo-op die muur, die uiteindes van drie balke sigbaar en op die balke is te sien die hele lengte van 'n swart doodkis.
Dit is die doodkis van Constantia van Eeden. (Dit is nog die gewoonte in die noorde om doodkiste vir die hoofde van gesinne op solder op balke gereed te hou.)
Die meubilering van die kamer is uiters eenvoudig. Byna in die middel is 'n klein eettafel, grof gemaak, en rondom is riempiestoele. In die regterhoek, naby die es, is 'n groot gemakstoel met karos en kussings bedek en 'n klein houtkonfoor om as voetstoel te dien. Links in die hoek, langs die huisdeur, is 'n kapstok waaraan voorskote en ander ou kledingstukke hang.
Ná 'n paar sekondes open die binnedeur (links) en marie van eeden kom binne. Dit is vroeg in die oggend, net ná sonop. Marie is 'n jong meisie, ongeveer twee-en-twintig jaar oud, gesond en sterk gebou. Sy het klaarblyklik net opgestaan. Sy is geklee in 'n ou gelapte rok en dra geen kouse nie, wat egter deur die lengte van haar rok byna nie merkbaar is nie. Sy dra in die een hand 'n ou kombers wat sy op 'n stoel plaas terwyl sy van die kapstok 'n seildoek-voorskoot afhaal en aantrek. Van onder die kapstok neem sy 'n ou paar velskoene, so verflenterd dat dit nouliks die moeite werd is om aan te trek. Sy gaan sit op stoel by tafel en swaai een been oor ander om velskoene aan te trek.
marie van eeden (sy visenteer die skoene met 'n weemoedige glimlaggie; steek twee vingers deur 'n gat in die sool van een. Dan soen sy haar hand en druk die soen op die sool van die skoen).
Vaarwel, geliefdes! Julle het my lank en getrou gedien, maar nou is dit byna laaste sien van die blikkantien. (Terwyl sy een aantrek.) As julle maar van blik gemaak was. (Sy draai haar gesig na binnedeur en roep luid.) Sophie! ... Ek wonder wat op aarde dié meisiekind so lank ophou.
Daarna neem sy van rak langs es, hamer en spykers. Laaste plaas sy sorgvuldig in haar mond. Dan skuiwe sy 'n stoel voor die venster, neem die kombers in een hand en ná sy op die stoel geklim het, trag sy om die kombers as 'n gordyn voor die venster vas te spyker. Sy laat gedurig spykers val met uitdrukkings van ergernis en sukkel hope- | |
| |
loos om die kombers op sy plek te hou en vas te spyker.
marie (ná sy die laaste spyker laat val het, en met slegs een hoek van die kombers sover vasgespyker, terwyl sy een hoek ophou en moedeloos na die vloer kyk).
Daar gaan die laaste een. As ek hier laat los, kom die hele ding weer na onder! Waar sou die meisiekind bly? (Sy het die huisdeur oopgelaat en roep in dié rigting.) Sophie! Sophie - kom help bietjie gou hier. ('n Gemompel word van binne as antwoord gehoor. Marie luister vir 'n tyd met gebare en geluide van ongeduld. Uiteindelik klim sy van die stoel af en tel self die spykers op en gaan weer met haar pogings voort. Intussen verskyn sophie van helsdingen in huisdeur. Sy loer skelm na Marie, wat met haar rug na die deur staan. Sophie is 'n meisie van ongeveer agtien. Sy kom suutjies na binne. Sy is geklee in 'n syrok wat verbasend by Marie se gelapte rok afsteek. Haar hare is netjies opgemaak. Sy het sykouse en hoëhakskoene aan en is klaarblyklik vir een of ander feestelikheid opgetooi. Sy loop geluidloos na die kapstok, neem 'n ou seildoek-voorskoot van die hak [net soos Marie s'n] en trek dit haastig aan sodat dit haar pragtige klere byna heeltemal bedek. Marie roep nog af en toe.) Sophie! Sophie! (Maar Sophie gee geen antwoord nie totdat sy die voorskoot aanhet; dan nader sy die venster.)
sophie (in antwoord op laaste roep).
Hier is ek, Ousus. Wat gaan jy so te kere? Jy sal Ouma stoor met al jou geraas!
marie (hou nog kombers omhoog).
Klim gou hier by my op die stoel, Sophie. My arm is dood! Hou hierdie hoek vir my vas om te spyker.
sophie (klim met veel moeite en gesukkel op stoel).
Wat is al die gewerskaf? Waarom moet die venster nou skielik toegemaak word? (Sy praat terwyl sy sukkelend opklim.) Die kamer sal vreeslik donker wees.
marie (terwyl sy met kombers steeds aan sukkel is).
Het jy nie vannag die vreeslike gedreun gehoor nie? Ouma en ek het opgestaan en deur die slaapkamervenster geloer. Ek het jou geroep. Daar was 'n gedreun wat minstens 'n uur aangehou het. En toe deur die venster het Ouma en ek wit ligstrale in die lug gesien. Hulle het van agter die koppie by Skuinshoogte uitgekom en heen en weer in die lug geswaai. Een het op Kroonkop heen en weer getrek. Dit was so lig soos dag. Ons kon elke klip en boom op die kop sien. (Sy praat met spykers in haar mond en probeer om een in te slaan.)
sophie (wat meer en meer belang stel, laat skielik haar hoek van kombers val en gryp Marie aan arm).
Wat was dit, Marie? Was dit die Engelse? (Sy is uiters verskrik.) Sal hulle na Diepkloof kom? Waar sou generaal De Lannoy se kommando wees?
Ek weet net so min as jy, Sus. Hou die kombers vas! Ouma het gesê ek moet die kombers voor die venster opspyker om ligstrale uit te sluit as die Engelse miskien spioene op die koppe het. Ek dink dit moet 'n Engelse kommando wees wat die Kransberge deurtrek om na generaal De Lannoy se kommando te soek. Jy weet oom Gert Visser het verlede week van die volk
| |
| |
gehoor dat ons kommando êrens in die Langkloof skuiling geneem het om die manskappe en perde te laat rus. Die hemel weet wat gebeur! Ons kan net so goed in 'n tronk opgesluit wees. Ek wonder waar Ryk is en of hy sal probeer om Diepkloof te besoek. Dit is net 'n jaar dat hy laas hier was - onthou jy, Sophie? - net voor hy sy kanonne opgeblaas en by generaal De Lannoy aangesluit het.
Sophie neem weer kombers op maar kyk gedurig verskrik na Marie.
Wat gaan van ons word? Wat gaan van ons word? Ek weet nie of dit nie beter sal wees om in die Engelse se hande te val nie!
Hoe durf jy so praat? Jy het gehoor wat die kampe is. Hier is ons ten minste nog vry en kan ons lewe, hoe swaar dit ook al mag gaan. Wat sal van Ouma word as die Engelse Diepkloof verniel? Vir haar sou dit 'n doodvonnis wees.
Met die gepraat verloor Sophie haar ewewig en altwee is verplig om van die stoel af te spring. Toe hulle op die vloer te lande kom, kyk Marie verwonderd na Sophie.
marie (trek haar nader en verskuif voorskoot van hals om rok 'n weinig te ontbloot).
Wel verdeksel! Kom hier, laat ek sien! Of die meisiekind warimpels nie my enigste bêrerok aanhet nie ... en my kouse en skoene! Wat beteken dit? Wat makeer jou? Jy gaan dit dadelik weer uittrek. 'n Mens sou dink jy is vir 'n bruilof opgetooi. Opgemaakte hare en jou gesig met meel gepoeier! (Vryf met vinger aan haar wang.) Wat makeer jou, mens? Wat sal Ouma sê! Gaan trek dit uit vóór sy opstaan ...
sophie (diep mismoedig, skouerophalend).
Ag Marie, ek wou maar net weer een maal sien hoe ek in ordentlike klere daar uitsien. Van my eie het ek niks - net ou flenters. En die ou rok van jou is tog maar net vir die motte weggepak. Jy sal dit nooit weer dra nie, Ousus. Ek het gemeen om dit dadelik weer uit te trek, maar toe roep jy so haastig dat ek geen tyd gehad het nie. Ag Marie, wat gaan van ons word? (Haar oë vul met trane, wat sy met voorskoot af en toe wegvee.) Weet jy wanneer ek laas ordentlik geklee was? Dit was die laaste Nagmaal op Rietfontein. Hoe vrolik was dit nie. Onthou jy nog, Marie? Meer as drie jaar gelede! Jy het ten minste nog jou verloofde - dit wil sê as hy nog lewe. En as hy nog nie dood is nie, hoe lank sal dit duur voor hy ook die pad moet gaan wat so baie voor hom gegaan het ... Maar hoe lank sal dit wees? Ons sal hier oud word en doodgaan, Marie, sonder dat ons ooit weer mense sien. Al die seuns is lankal dood - almal wat ek geken het, is dood of oorsee gestuur. Dink maar net aan die seuns wat op Rietfontein was: Gert du Toit, Jannie van Rooyen, Piet Celliers en sy broer ... Almal reeds in Natal geval. En die ander? In Indië, of die hemel weet waar! Aan hierdie kant van die graf sal ons hulle nooit weer sien nie. Al die plase verniel ... daar is niks meer nie! (Haar gehuil neem toe en gaan later in snikke oor.) Is dit nie beter om dood te wees nie? Kan dit ooit slegter in die kampe wees? ...
| |
| |
Ag Sus, dis nie so swart as wat jy dink nie. Alles sal weer regkom. Waarom, dink jy, is dit dat generaal De Lannoy en die ander generaals so aanhou en soveel opoffer en ly as hulle nie van die einde seker is nie? Hulle is nie dwase nie. Ons moet ook maar net uithou, en uithou en nogmaals uithou. Dink maar net aan die seuns wat nog uit is - wat hulle dag en nag moet deurgaan. En hulle hou uit, waarom sal ons nie uithou nie? Ons kan die Here dank dat ons die ou veepos op Diepkloof gehad het om ons toevlug in te neem. Dink maar net wat ons gehoor het van die ander plase. Huise opgeblaas en afgebrand; die vrouens en kinders op oop bokwaens gepak en in kampe opgesluit waar hulle in tente moet woon. En dink maar net hoeveel van ons familie en bekendes in die kampe dood is. Dit is wat ons maar net toevallig van gehoor het. Dit moet vreeslik daar toegaan. En dan kla jy oor Diepkloof en praat van oorgee aan die Engelse. Hier is ons ten minste nog vry ... in die oop lug. Al is dit 'n bietjie swaar - kos het ons ten minste nog genoeg. Dit kan nie meer lank aanhou nie. Die vrede is naby en dan kom hulle almal weer terug ... al jou vryers van Rietfontein, Sophie.
sophie (huil stadig met gesig in voorskoot).
Ag Ousus, ek glo niks wat jy my vertel nie. Ek weet ons sal hier oud word en vergaan as ons nie vermoor word nie. Jy troos jou nog met die hoop dat Ryk de Ridder eendag met jou sal trou, dat hy jou nog liefhet, dat jy nog aan hom verloof is. Moenie glo nie, Marie. As hy nie doodgeskiet word nie, sal hulle hom vang en oorsee stuur. Hier op Diepkloof sal jy oud word en vergaan van ellende en hier sal jy begrawe word langs jou oorlede moeder. Sy was die eerste. (Sy word al mismoediger terwyl sy praat.) Ek sal jou rok weer wegpak. Ek wou maar net sien. Dit het my net droewig gemaak. Die motte sal dit tog maar opeet, Marie. Vir 'n bruilof of 'n Nuwejaar sal jy dit nooit meer nodig kry nie. Ek sal dit weer aan die motte teruggee, soos jy verlang; en maar weer my ou flenters aantrek. Laat hulle maar kom! (Waai met hand na venster.) Ek gee niks meer om nie. Of ek hier oud word en verroes, of vermoor word, of in die Engelse kampe vrek - dit kom alles op dieselfde neer. God help ons!
Stil! Hier kom Ouma. Jy praat soos 'n wasvrou. (Sophie droog haastig haar trane af, stap na es, waar sy haar met die potte besighou en groot geraas maak om haar trane te verberg.)
constantia van eeden (kom binne deur huisdeur links. Sy is 'n dame van sewentig, met sneeuwit hare wat in 'n bol agter opgerol is. Sy is in swart geklee, met gelapte rok en voorskoot. Sy loop 'n bietjie sukkelend, met kierie).
sophie (sonder om om te draai, van es, waar sy gebuk werskaf).
Môre Ouma!
constantia (kyk in die kamer rond).
Het oom Gert nog nie met die melk gekom nie?
| |
| |
Nee Ouma, dit is nog taamlik vroeg.
constantia (loop in rigting van gemakstoel).
Ek wonder of hy van die volk iets sal hoor omtrent die gedreun wat ons in die nag gehoor het en die ligstrale wat ons gesien het? Het jy niks buite gesien nie, my kind? (Tot Marie.)
Nee Ouma, ek is bang om op die werf uit te gaan. Daar mag spioene op die koppie wees.
constantia v.e. (gaan stadig en steunend op gemakstoel sit).
Ja, dit is miskien beter om te wag totdat Gert met die melk kom. Ek het in die nag sulke vreeslike drome gehad, ná ons na die gedreun by die venster geluister en die ligte gesien het. Is jy besig om ete klaar te maak, Sophie?
sophie (kom skielik na Constantia, gryp haar hand).
Ouma, wat beteken dit? Is daar groot gevaar? Sal die swartmense ons nie kom vermoor nie? (Sy praat histeries.)
Wat makeer die kind?... Wat is dit, Sophie? Waarom gaan jy so te kere?
marie (sit arm troostend om Sophie).
Sy het maar net bang geword vir wat ek haar vertel het van die gedreun in die nag. Moenie laf wees nie, Sussie! Daar is niks om oor bang te wees nie. Dit is baie ver van Diepkloof en hulle sal ons nooit hier kry nie. Solank generaal De Lannoy naby is - en ons weet dat sy kommando in die Langkloof is - hoef ons niks te vrees nie. Hy en Ryk weet dat ons hier is en hulle sal ons tot die laaste toe beskerm en ons vroegtydig nuus stuur; en van die swartes het ons die minste vrees. Ons het rewolwers - en daar is oom Gert met sy Mauser. (Sy praat vinnig en troostend asof sy besig is om 'n kind moed in te praat.)
sophie (snikkend, en weier om getroos te word).
Ouma, wat gaan van ons word? Hulle sal ons tog nie aanrand nie, sal hulle? Jy weet die vreeslike stories wat ons van swartes in Soutpansberg gehoor het. (Sy word onhoorbaar. Constantia paai haar en spreek saggies liefkosend - ook met trane in haar oë.)
Kind, ons is almal in die hand van God. Sonder sy wil kan niks geskied nie ...
Terwyl sy met Sophie besig is, gaan die dubbele deur oop en Gert Visser tree binne met 'n emmertjie in een hand. Hy is 'n ou man van ongeveer vyf-en-sestig, wit baard en hare. Agter die rug dra hy 'n Mauser en twee patroonbande om lyf. Breërandhoed en klere so gelap dat dit onmoontlik is om uit te maak wat die oorspronklike stof is waarvan baadjie en broek gemaak is.
Gaan aan met jou werk, kind. Hier is oom Gert en hy sal uitgehonger wees.
Sophie gaan terug na es. Gert Visser kom na es en sit emmer langs Sophie neer.
gert visser (groet al drie by name).
Die melk word elke dag minder, nig Stansie. En dit kan ook nie anders nie as ek die arme diere so moet vasgekeer hou in die bo-ent van die kloof waar die gras lankal uitgevreet is.
| |
| |
constantia (val hom in die rede).
Neef Gert, het jy niks van ons volk verneem omtrent die gedreun wat ons in die nag gehoor het en die ligte nie?
gert (neem baie bedaard en langsaam sy hoed af, slinger geweer van sy skouer en plaas dit in hoekie met patroonbande, dan praat hy ook langsaam en bedaard).
Die gedreun, nig Stansie, en die ligte? Ek het nie die volk nodig gehad om my dit uit te lê nie. Ek het ook opgestaan om te hoor. Dit was 'n kommando aan trek deur die nag, en die strale was van 'n Engelse soeklig. Daar is nie aan te twyfel nie dat dit 'n Engelse kommando met waens was en die gedreun het van die rigting van Skuinshoogte gekom. Ou Jonas was die berge in om na 'n verlore kalf te soek, en is byna vasgekeer. Hy vertel dat die Boerekommando vyf dae gelede in Langkloof gekampeer het en hulle perde wei nog daar. Intussen het die Engelse van alkante toegetrek. Skuinshoogte was die laaste opening en dit het hulle verlede nag beset. Hoe die generaal uit die strik sal kom, weet die Liewe Here alleen. Ek kan nie begryp hoe hy hom so laat vastrek het nie. Sy perde was waarskynlik so uitgeput dat hy nie betyds kon uitkom nie. En dit is ook waarskynlik waar, want Jonas vertel dat hy ses dae en ses nagte geveg het om die Engelse van sy agterhoede af te gooi voor hy die berge ingetrek het ... En daar sit hy nou ... en hier sit ons. Jy weet, nig Stansie, as 'n tier in 'n wolwehok verval, het hy minder moed as 'n dassie wat nog vry is.
sophie (loop weer verwilderd na Constantia).
Ag, Ouma! Ouma!
My kind, dit help nie om so te kere te gaan nie. Jy behoort jou te skaam! Jou oorlede vader was 'n dappere krygsman, en jou grootmoeder en grootvader was altwee in Bloukrans. Dink net wat hulle moes deurgaan! Ons is hier heeltemal veilig. Hulle sal ons vroumense geen leed aandoen nie. (Sophie, skielik 'n weinig getroos, kyk twyfelend van die een na die ander.) Sit die ete op die tafel, Sophie. Is die pap gaar?
Sophie en Marie plaas skottels, bekers, borde en ketel op tafel, waar almal plaasneem en ná 'n stil gebed begin eet.
Wat het jy gedroom, Ouma? Jy het netnou gesê dat jy sulke nare drome gehad het. Ek onthou dat Moedertjie ons dikwels vertel het dat Ouma met die helm gebore is en voorbodes sien.
Ag kind, dit is alles bygeloof en onsin. Dit was natuurlik die rumoer in die voornag wat my drome geskep het. (Ná 'n lang pouse, nadenkend.) Dit was alles baie deurmekaar, donker en deurmekaar ... (Daar is lang pouses tussen haar sinne en veral die twee meisies begin al aandagtiger luister met die voortgaan van haar vertelling. Sy kyk in die verte asof sy weer die beelde van haar droom sien.) Ek was op die wal van 'n rivier, van 'n donker, diep rivier, 'n swart vloed, en van die een kant hoor ek 'n gedurige geween, 'n weeklag van vrouens en kinders. Maar dit was so duister dat ek niks kon uitmaak nie. (Sy praat op plegtige, sagte toon; vergeet haar kos.) Net 'n droewige
| |
| |
roering binne 'n donker wolk; en die aanhoudende gekerm en gehuil; ek kon die geluid nog hoor nadat ek helder wakker was.
Almal luister met diepste aandag en 'n toenemende uitdrukking van onrus.
sophie (in angstige fluistering).
Wat beteken dit, Ouma? Dit voorspel seker iets ...
Wat kan dit beteken, kind? Dit is onsin om na die betekenis van drome te soek: dit was maar net die gevolg van die dreuning en ligte wat ons gesien het.
Haar woorde word onderbreek deur 'n diepe ontploffing wat van ver buite gehoor word, gevolg deur 'n dowwe weerklank. Al vier skrik geweldig en luister met gerekte oë.
gert visser (staan orent en luister plegtig).
Daar val die eerste! Hulle is aanmekaar!
sophie (weer bang en histeries).
Wat is dit, Ouma?
'n Tweede ontploffing word gehoor, met dieselfde naklank en gedurende die gesprek wat volg, neem die ontploffingsgeluide in sterkte toe.
Dit is die kerkklok van die duiwel, nig Marie. As ons naby genoeg was, sou jy hom hoor psalmsing.
Dit is kanonskote en hulle kom van Skuinshoogte se rigting.
Maar wat beteken die dubbele slae?
Dit is natuurlik die kanonskoot en die ontploffing van die bom. (Buitengewoon opgewonde vir Gert.) Hulle is aanmekaar! Hulle skiet met bomme van Skuinshoogte af.
Hy stap na die agterdeur, waar hy aandagtig staan en luister. Die kanonskote duur voort.
God help hulle! God help ons arme, arme volk! (Sy vou haar hande saam en sit 'n tyd lank met geslote oë.)
gert visser. (ná 'n pouse).
Wat ek nie kan verstaan nie, is waarom hulle van Skuinshoogte af skiet. Dit is myle van die Langkloof en daar is groot koppe tussenin.
marie (staan opgewonde op).
Waarom was ek nie 'n man nie? Waarom kan ek nie een skoot skiet om hulle te help nie? Hier sit ons hulpeloos, en hier by ons, by ons ... (Sy word deur 'n versnelling in die tempo van die kanonskote gestuit - en luister weer sonder om haar sin te beëindig.)
constantia (ontroerd, kyk in die verte en praat op plegtige toon).
Een ding weet ek voorwaar: Wouter de Lannoy sal nie met koue hande gevang word nie. Die bloed van te veel helde vloei in sy are.
Moenie so praat nie, Ouma! Waarom hou dit nie op nie? Hoe lank gaan dit aanhou, oom Gert? (Sy stap angstig na es met hande oor ore gedruk.)
| |
| |
constantia (skielik, asof sy iets anders hoor).
Wag! Stil! Luister! (Sy hou een hand omhoog en luister self aandagtig.) Hoor jy die gekletter tussenin, neef Gert. (Die kanonskote het intussen verminder tot slegs 'n enkele af en toe val.) Hoor julle? Hoor jy, neef Gert, die gekletter met 'n enkele slag? Dit is die gekletter van Mausers. Ek hoor dit duidelik. Dit is nie die dubbele slag wat die Engelse Lee-Metfords maak nie.
Ja, nou hoor ek dit ook, nig Stansie. Dit is natuurlik generaal De Lannoy wat langs die grootpad van Skuinshoogte aanval. Hy probeer om daar deur te breek. Dit sal bitter gaan met die kanonne teen hulle. (Die kanonskote gaan weer vinnig voort ná 'n pouse.) Dit is naby die end. God weet wat gebeur het.
Daar is 'n tyd lank absolute stilte, dan hervat die ontploffings ongereeld en duur voort terwyl almal stil staan en luister.
Die Voorhang Sak. |
|