Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 1079]
| |
steek. Neurie liefdesliedjie, slaan hande aan hoof, klaarblyklik neergeslae en diep aangedaan. Sy skrik skielik uit die mymering op en luister aandagtig na voetpad, regs agter, wat deur blomtuin na huis lei. Sy hoor klaarblyklik voetstappe. Son is net onder en die verhoog verkeer in ligskemer waarin haar wit rok helder uitskyn. Haar arms en hals is bloot. Sy stryk haar hande oor haar blote, blonde hoof, asof sy haar hare in orde bring.
claude (verskyn langs voetpad, links agter, voor hekkie. Staan stil met altwee hande op hekkie. enon kyk hom half verskrik aan, die een hand nog op haar hoof. Sy is half na die gehoor gekeer. Altwee staan 'n aansienlike tyd spraak- en bewegingloos).
enon (stap twee tree haastig in sy rigting, met altwee hande na hom uitgestrek).
Claude! Claude? (Sy praat op vraende toon, onder die diepste aandoening. Sy staan skielik stil voor sy die hekkie bereik en laat die een hand sak, een aan haar hart geslaan.) Is dit ... is dit Claude?
claude (open hekkie en kom na haar met altwee hande uitgestrek. Sy steek altwee hande na hom uit. Hy staan aansienlike tyd haar op armlengte en aankyk. Hy neem een hand in altwee syne en streel dit saggies. Dan buig hy en soen haar hand, streel dit oor sy wang).
enon.
Is dit 'n droom, of is dit werklik jy, Claude, Claude?
claude.
As dit 'n droom is, mag ek dan ewig droom, Enon. (Druk haar hand aan sy bors.) Vir my is dit ook alles droomagtig. Hoe dikwels het ek nie waarlik gedroom dat ek jou weer so sien nie. Maar nou het dit werklikheid geword - 'n werklikheid wat my bedwelm.
enon.
Claude! Wag, Claude, wag. Ek is verloof. Weet jy, ek is verloof en moet binnekort, binnekort trou?
claude (soen haar hand weer hartstogtelik, terwyl sy trag om hom met die ander hand af te weer).
Onthou jy die laaste nag, Enon, toe ek by die groot sluis in die lemoenboord op jou gewag het? Dit was net so 'n somernag, koel en stil; so stil dat ek niks kon hoor behalwe die slaperige gedruis van die water deur die groot sluis en die roer van die wind hoog deur die blare nie. Ek herinner my die bome was in volle bloei en die lug swaar van die geur. Onthou jy, Enon? Hoe ek gewag het? Dit het my na ure gelyk. Elke geluid anders as van die wind en water het my hart laat slaan dat ek na asem moes hyg. En toe- ... en toe hoor ek die sagte gedruis van jou voete oor die kweek, en vér in die duisternis van die laan sien ek jou skielik aankom, wit soos 'n engel van vreugde. Dit was asof jy die sterlig opgevang het en dit weer in sagte straling die donker om jou verlig - net so wit soos nou, Enon. Maar jou hare was anders. (Streel haar hoof.) Waar is die groot vlegsel?
enon (meegevoer).
Onthou jy die vuurvliegies, Claude? Daar was duisende die nag en ons het probeer om die name te lees wat hulle onder die bome vleg. | |
[pagina 1080]
| |
(Sy lag vrolik.) Jy het net E's gesien en ek net C's. (Sy neem weer sy twee hande met toenemende blydskap.) ... Ag, ons was saam maar nog kinders, Claude. (Word droewig en gaan sugtend voort.) Claude, onthou jy die sagte klokgelui van die dwerguiltjie wat in die nartjieboom by ons kom sit het? Jy het in my oor gefluister dat hy net een liedjie sing: ‘Daar soen jy hom ... ek sien jou, daar soen jy hom; ek sien jou.’ (Altwee lag.) Jy het my toe nog nie gesoen nie. Ek dink jy was skaam. Ek weet dat ek vreeslik beangs was. Ek moes na asem hyg.
claude.
Hoe groot het jy geword, Enon, en hoe heerlik wit en sag is jou vel. (Streel haar naakte arm.) Dit was toe baie meer bruingebrand en grof, want jy was 'n vreeslike rakker. Dit was so stil. Toe ek jou in my arms vashou, kon ek jou hart hoor klop soos die galop van 'n perd ver weg. En daar het altyd 'n heerlike geur van jou hare gekom. Dit het my altyd herinner aan die geur van 'n tortelduif. Onthou jy? Wonderlik! Dit is nog hier, net dieselfde! (Druk sy gesig teen hare. Verwonderd.) Alles het meer geword, en sagter. (Sit sy arms om haar en druk haar teen hom vas.) Liewe God. Hoe skoon, hoe wonderlik is jy, Enon! Sal dit in die hemel so wees?
Sy rus 'n tyd lank in sy arms met haar wang teen sy bors, dan weer sy hom weer met een hand af.
enon.
Wag, Claude! Dis verkeerd, dis verkeerd. Ek het my woord aan 'n ander gegee. En jy het tog alles vergeet, gou vergeet. Ek het nooit weer van jou gehoor nie.
claude.
Wat was daar om te onthou? Net, dat jou vader ryk is en ek so arm dat ek nooit gedroom het dat ek ooit in staat sou wees om te trou nie. Met dié vaarwel het ek waarlik die vreugde van die paradys en die bitterheid van die hel tegelyk gesmaak. Toe ek jou die eerste maal vertel dat ek jou liefhet - ek kon g'n woorde vind nie - ek weet ek het 'n vreeslike klomp onsin kwytgeraak.
enon (lag).
Ja, en die eerste soen was hier bo die linkeroor. Net voor dit was ek so bang... ek het so gebewe dat my tande gerittel het. Toe was daar iets in my keel en ek kon net huil, huil, huil.
claude.
Ja, ek onthou hoe ek geskrik het toe jy aan snikke gaan. Ek kon nie verstaan waarom die geweldige snikke nie - onthou jy? Die enigste oplossing wat in my onnoselheid opgekom het, was dat ek op jou tone getrap het en ek wou net met alle geweld jou skoentjie daar en dan uittrek om eerstehulp aan die verwonde toon toe te dien.
enon (lag).
Ja, ek onthou! Ek onthou dit goed. Ek wou al in die rondte dans om my voet teen jou geweld te beskerm en ek snik so dat ek jou nie kon vertel om my skoen te laat staan nie. En toe gaan ek aan lag, tot dat my asem weg was. En daar was jy op jou knieë in die stof. En ek eers op een voet, dan op die ander, (sy dans met een voet omhoog om te wys hoe) terwyl jy in die donker | |
[pagina 1081]
| |
rondgryp om een van my voete in die hande te kry - en jy was so doodernstig en so diep bekommerd dat dit my meer en meer laat lag het. (Lag weer hartlik.)
claude (arm om haar lyf - intiem).
Jy sê, vergeet - miskien was dit die hoop wat uiteindelik in my siel tot die laaste kooltjie toe uitgebrand het. As dit vergeet is om 'n beeld van jou in my hart te troon en dag en nag in stilte te aanbid, dan het ek vergeet. Enon, as ek die Here so gedien het soos ek jou herinnerde beeld aanbid het, sou my saligheid veilig wees ... Het jy hom lief, Enon? - Het jy die man lief? - Het jy hom ooit liefgehad?
enon (laat haar kop op bors sak).
Leen my jou sakdoek, Claude.
claude.
Weer trane, liefling? Dit is antwoord genoeg, 'n antwoord wat nooit kan bedrieg nie ... Jy kan jou nie so weggooi nie. (Sy druk haar aangesig teen sy bors, snikkend.) Jy behoort aan my en geen koning op sy troon kan my van jou beroof nie. Niks onder die uitspansel kan ons liefde skei nie ... Het jy hom ooit liefgehad?
enon (snikkend).
Claude, dit is verkeerd. Ek is vals. Watter reg het jy om my so 'n vraag te stel?
claude.
Die reg wat die liefde skenk en dit is die hoogste reg op aarde, en die magtigste in die hemel. Daar is g'n sprake van valsheid of ontrou waar daar g'n liefde is nie. Die valsheid en ontrou sou eers ontstaan wanneer jy iemand trou wat jy nie waarlik liefhet nie - ontrou teen hom en teen jou eie siel. Ek sal jou vader dadelik sien - waar is hy en ook die vent wat jou van my wegneem. Om te dink dat hy jou in sy arms neem - Enon, ek sou hom met my blote hande verpletter en in die grond vertrap. (Maak gebaar van geweld.)
enon.
Wag, Claude, wag! Gee my tyd om te dink, om my gedagtes bymekaar te kry.
claude.
Daar was 'n plegtige belofte van jou wat alle ander vernietig - die belofte wat jy aan my gedoen het toe ons die heilige nag in die lemoenboord mekaar vaarwel gesê het ...
enon.
Ag, Claude, ons was altwee maar nog kinders.
claude.
Jy hou aan met die kinderbewering. Liefling, ons het lank reeds die kinderwêreld agter die rug gehad. Dit was my laaste jaar en jou tweede aan die universiteit - jy was byna sewentien en ek byna negentien. Ons ouers het lank voor die ouerdom getrou. Kinders? Voorwaar nie meer kinders nie. Enon, ek roep hemel en aarde tot getuie - geen mag of geweld onder die son sal jou solank daar nog lewe in my liggaam is van my wegneem nie.
Hy druk haar in sy arms vas. Sy sit haar arms om sy nek en soen hom hartstogtelik.
Enon gebruik intussen Claude se sakdoek om haar oë af te vee. Ná lang woordelose tablo neem sy hom aan die arm en praat sag en fluisterend.
enon.
Kom sit hier - ek moet jou iets vertel.
Gaan op rusbank sit; Claude neem plaas langs haar, hou haar hande vas, gereed om
| |
[pagina 1082]
| |
te luister.
claude.
Toe, liefling, laat ek hoor.
enon.
O, Claude, jy weet nie in watter wolk van moeilikheid jy binnegedring het nie. Jou koms was so onverwags. Die moeilikheid is nie alleen met betrekking tot my verlowing nie. Ek het reeds besluit en Poelie en ek het dit gister bespreek, om die saak in baie ernstige oorweging te neem, want sonder jou invloed, ek bedoel jou tussenkoms - het 'n groot twyfel, 'n dodelike twyfel by my ontstaan. Maar daar is 'n ander moeilikheid wat vir die oomblik nog swaarder druk. Wat dit werklik is, weet ek nie. Luister nou, Claude, die persoon aan wie ek verloof is, Pierre Fouché, kom vanaand by ons eet. Sy vader, Kommandant Fouché, is aan kom van Rosendal. Hy sal hier aankom en Pierre gaan hom aan my vader en aan my voorstel. Pierre staan hom nou op die grootpad en inwag. Nou, Claude, wat ook al gebeur, moet daar vannag geen ophef en storing wees nie. Ek wil jou vra om ook by ons te eet, maar jy sien self, Claude, dit sal nooit gaan nie.
claude.
Ek sien. (Nadenkend.) Ek sou hom vreeslik graag ontmoet, Enon, die vent. Maar jy kan op my reken ek sal g'n dronkmanslawaai maak nie. Luister, Enon, ná ek my brief aan jou gepos het, my brief van gelukwensing, liewe Here, Enon, ek kan jou nooit sê hoe die gedagte aan my geknaag het nie, elke oomblik van die dag - die gedagte van 'n ander wat jou in sy arms gaan hou en soen en liefkoos. My Enon! (Hy gryp haar hartstogtelik en soen haar - Enon toegewend.) Ek kon dit nie uithou nie. Ek het uitgehou solank vlees en bloed kon verdra, en toe besluit ek in een minuut om in my motor te spring en te kom. Ek moes jou weer sien - een maal voordat jy ewig vir my verlore gaan. Enon! Enon! (Omhels haar liefkosend.) Verlore in die arms van 'n vreemde ... (Pouse, kusse.) Ek het deurgejaag na Amandelblom, waar ek net voor sononder aangekom het. Daar was net tyd om te bad en te eet, en toe het ek na Windhoek deurgejaag. Ek het my motor in die populierbos naby die brug ingery waar niemand dit kan sien nie; en toe is ek te voet hiernatoe waar ek die wit van jou rok in die skemer gesien het. Ek het dadelik geweet dat dit jy is.
enon.
Nou luister, Claude. Wag in die lemoenboord totdat ons klaar met ete is, dan sal ek jou roep - jy weet. (Maak saggies geluid van dwerguiltjie.) En laat dinge vanaand ongesteur deurgaan. Ek weet jy sal dit doen om my ontwil - my Claude.
claude.
Goed, maar ... dit sal bitter swaar gaan, Enon. Maar hy sal jou nie in my teenwoordigheid aanraak nie?...
enon (lê haar hand op sy mond, laggend).
Onnosele skoolkind! Hoe kan so iets in 'n kamer vol mense gebeur?
claude.
Kamer vol? ... Wie is daar dan nog?
enon.
Jy gee my g'n kans om jou te vertel nie. Mnr. Menzies, ons prokureur, | |
[pagina 1083]
| |
bring 'n sekere mnr. Coetzee en sy seun, Hektor. Hulle is ook reeds hier, maar sal eers ná ete binnekom. Dit is die moeilikheid waarvan ek jou wou vertel. Daar is nou g'n tyd nie. Die ouman, 'n ou skelm dronkaard, het my vader jare lank geld afgepers en hy kan in sy waansin my vader onherstelbare skade aandoen. Ek weet nog nie alles nie, net iets wat Menzies my eergister vertel het. My arme, arme Poelie. O, Claude, as jy weet hoe trots hy op sy goeie naam is en hoe gesteld op sy eer, dan sal jy verstaan hoe so 'n ou vent hom 'n doodslag kan toedien. Nou het mnr. Menzies en die seun, Hektor, dit so gereël dat die ouman vannag 'n verklaring sal maak voor Pierre en sy vader wat alleen die waarheid sal bevat en wat vir altyd 'n einde aan sy gedreigde leuens en laster teen Poelie sal maak. Dit sal goed wees as jy ook teenwoordig kan wees; hoe meer getuies, hoe meer bindend vir die toekoms sal sy erkenning wees.
claude.
Enon, dit my alles so helder en deurskynend as die klipmuur. Maar ek neem die akkoord aan; ek sal in die lemoenboord wag, totdat jy my roep en ek belowe om koel en bedaard te bly - natuurlik buiten wanneer die vent probeer om jou in my teenwoordigheid te soen of te omhels.
enon (soen hom, laggend).
Dwaas! Hoe kan dit ooit gebeur. (Staan op, gevolg deur Claude.) Onthou nou, Claude, sodra ek jou roep, kom jy na die sitkamerveranda.
Maak saggies geluid van dwerguiltjie na. Claude soen haar hande en gaan regs af.
Skerm |
|