| |
Derde Bedryf
Tyd: Namiddag van dieselfde dag
Vrugteboord op Windhoek. Bome met tuinbanke, ens. ENON sit voor esel, besig om te skilder. Gewel en sydeur van huis links.
pierre fouché (kom links om huis, 27 jaar, netjies geklee, predikantagtig. Sy houding styf).
Middag, Enon. (Kom van agter en soen haar met min hartstog.) Ek het vroeg gekom, want ek weet nie wanneer my vader sal arriveer nie. Ek het hom noukeurig die huis beduie en die drywer van die stasie sal seker die pad en die huis ken. Dit is ook feitlik die enigste grootpad. (Gaan sit op die tuinbank regs.) Ek hoop maar net dat daar geen oponthoud is nie en dat hy betyds vir ete sal wees. Ek is bly dat julle Menzies genooi het. Uit die respek wat hy my betoon, sal my vader aflei wat die rang is wat ek beklee, ek bedoel meer bepaald maatskaplik. Daarom is ek ook maar bly dat die magistraat nie kon kom nie. Hy is 'n goeie vent, maar is 'n bietjie geneig om uit die wolke op my neer te sien. Ek het twee vreemde besoekers uit Menzies se kantoor sien kom. Een ou flenterjas en 'n jong kêrel in rybroek en kamaste wat soos 'n gepoleerde ruit blink.
enon (kom langs hom sit).
Ek dink ek het die ou een keer tevore gesien. Hy het gister my vader besoek en 'n vreeslike storm veroorsaak.
'n Storm? Hoe meen jy, 'n storm veroorsaak? Wat het jou vader met hom te doen gehad? Hy lyk weinig beter as 'n padloper, deurtrek van drank.
enon (ná onrustige pouse).
Ek weet nie, ek weet nie, ek weet nie. Dit is alles
| |
| |
vreeslik geheimsinnig. Pa het my gedwing om in te gaan. Die onderhoud was op die stoep. Ek kon Pa se stem hoor. Ná die ou vertrek het, toe ek weer uitkom, was Pa nog sprakeloos van woede. En weet jy, Pierre, toe ek hom paai om hom weer tot bedaring te bring, voel ek iets in sy baadjiesak wat ek uitgeneem het. En weet jy wat dit was? Die rewolwer wat altyd in die sitkamer teen die muur tussen die ander ou oorlogswapens hang. Toe ek dit wegneem, het hy dit skaars opgemerk, maar toe ek dit in die huis neem, roep hy uit: ‘Pas op, Enon, dis gelaai.’
Liewe hemel, 'n rewolwer? Wat op aarde wou hy daarmee doen? Seker tog nie om hom teen die ou padloper te verdedig nie. Hy kon skaars loop toe ek hom in die dorp gesien het. En wat het jy met die rewolwer gedoen, Enon?
Ek het dit net soos dit was weer teen die muur in die sitkamer opgehang.
Enon, in hemelsnaam sorg dat die patrone uitgehaal word. Dit is vreeslik gevaarlik om gelaaide rewolwers so oop en bloot aan te hou. So gebeur die meeste ongelukke.
Pierre, ek wil jou graag vertel ...
Wag eers, Enon ... Is dit waarom jy in die laaste tyd so terughoudend, so koel teenoor my is?
Daar is miskien nog 'n ander rede. Ons verlowing is nie alles wat ek verwag het nie - ek moet dit erken. Miskien lê die skuld aan my kant ... (Sy sit lank ingedagte) ... Gedurende my laaste skooldae - die laaste jaar aan die universiteit - het ek 'n aanval van kalwerliefde gehad. (Mymerend.) Dit was anders, so anders. Ek wens, ek wens ...
pierre (staan verbaas op en sien streng op haar neer).
Kalwerliefde? Daarvan het ek nooit tevore gehoor nie. Daar was seker dan nog meer ... (Neem streng, statige houding aan.) Dit is vir my 'n skok, Enon. Ek het in die droom verkeer dat jy 'n uitsondering was, dat jy nie soos die meeste hedendaagse jong dames is wat daarop roem dat hulle die kophuid van soveel minnaars aan die band het nie. Waarlik, Enon, dit skok my om dit van jou te verneem.
O, jy hoef dit nie so ernstig te beskou nie. Dit was slegs die laaste van my kinder-affêres wat elke seun en dogter deurgaan net so gewis soos kinkhoes en masels. Maar, wat van jou, meneer Pierre Fouché? (Skertsend.) Wat van jou drie ernstige verlowings gedurende die afgelope jaar, waarvan die laaste slegs 'n paar maande oud is? wat daarvan?
pierre ('n weinig verleë).
O, dit is heeltemal 'n ander saak.
O, ja ek weet hoe anders. Die onderskeid is: in die een geval is dit Pierre Fouché en in die ander is dit Enon van Rensburg wat daarin betrokke is. Dit maak natuurlik 'n wêreldwye onderskeid.
Ja, natuurlik, met 'n man is dit anders gesteld as met 'n meisie. Maar een ding gaan ek voor oppas. (Baie beslis.) Daar gaan hieraan nie weer 'n
| |
| |
einde gemaak word nie. In aldrie gevalle wat jy noem - soos ek jou dikwels vertel het - was dit die meisie wat sonder die minste rede die verlowing verbreek het. My skuld was dit seker nie. 'n Vierde maal is nie aan te dink nie. Wat sou die minister daarvan sê? En selfs hier op die dorp sou dit vir my vernederend wees. Dit sou my toekoms in die diens baie nadelig beïnvloed.
Miskien sou dit vir jou toekoms nadeliger wees om met my te trou. (Kyk hom skalks aan.)
pierre (ernstig nadenkend).
Ek weet nie ... nee, ek dink nie so nie.
Enon haal met 'n gebaar van hopeloosheid haar skouers op.
Daar is iets wat my vreeslik hinder. Ek het verlede nag byna nie geslaap nie ... en ek kan tot g'n besluit kom nie. Dit is of ek een van ons troukaartjies aan die Minister van Justisie sal stuur.
Maar Pierre, daar is nog g'n kaartjies gedruk en ons huweliksdag is nog nie vasgestel nie.
Dit maak g'n saak nie. Hulle sal tog gedruk moet word en dit is altyd beter om oor 'n belangrike kwessie van hierdie aard vroegtydig te besluit.
Belangrike kwessie? Waarlik, Pierre, jy laat 'n mens somtyds lag. Wat op aarde maak dit sodanig saak of jy die minister 'n kaartjie stuur of nie?
Die vrouegeslag deur en deur! Sien jy nie hoe belangrik dit vir my is nie? My loopbaan hang van die minister af. Dit mag klein lyk, maar dit kan op my toekoms groot gevolge hê. As die minister van ons huwelik in die koerante lees en hy het g'n kaartjie ontvang nie, mag hy beledig voel; daarenteen mag dit as 'n weinig vrypostig van my beskou word. Ek weet nie wat reg of verkeerd is nie. Ek dag jy sou kan help. Hulle sê 'n vrou is gewoonlik meer gekonfyt in sulke verfyninge as 'n man. Ons werk in die wêreld is te belangrik om ons oor sulke bogtighede moeg te maak. Maar ek sien jy is net soos ou Cloete, die magistraat. Toe ek hom vra, het hy soos 'n bosvark aan snork gegaan. En toe aan lag, asof dit 'n groot grap is en hy het die onbeskoftheid gehad om my na ou Januarie, die swart tolk, te verwys. Ek dink vervas dat die ou partykeer getik raak.
Maar, Pierre, ken jy die minister? Is hy 'n persoonlike vriend van jou?
Hy weet natuurlik van my, want ek staan onder sy departement. En die saak wat ou Cloete my laat verhoor het - jy weet toe Isikoff se donkie in die watervoor geval het. Ek dink dat my vonnis taamlik goed was. Ek het gesorg dat daar 'n goeie verslag in ons koerantjie was. Ek moes die ellendige Jacobs twee pond betaal om my uitspraak volledig te druk. Nou ja, ek het 'n kopie aan die minister gepos met blou potlood gemerk. (Met toenemende nadruk en belangstelling in sy eie verhaal.) Jy onthou natuurlik die kwessie was of ou Isikoff skade aan die dorpsraad moes betaal, omdat sy donkie die voor beskadig het, of die dorpsraad aan hom die waarde van die donkie. Menzies
| |
| |
het vir die dorpsraad verskyn en het probeer om my deurmekaar te maak met al die wetsboeke wat hy aangehaal het, maar dit was sy neus verby. Net gewone gesonde verstand, Enon; dit is al wat 'n regter nodig het - en natuurlik regverdige onpartydigheid. Ek het die raad vir die donkie laat betaal en Isikoff vir die voor en die koste om die helfte. As Menzies teenoor my meer gewone beleefdheid getoon het, sou ek hom die koste gegee het. Hy het dit aan homself te danke dat ek dit verdeel het. Hy laat nooit die kans verbygaan om my as magistraatsklerk toe te roep nie. Dit is miskien offisieel reg, maar almal in die dorp ken my as assistent-magistraat - nie dat ek op sulke dinge gesteld is nie, glad nie. Maar Menzies se onbeleefdheid het hom tien pond gekos! Net gesonde verstand, Enon, en onpartydigheid. En regverdigheid.
enon (glimlag oor Pierre se verhaal).
Nou ja, Pierre, om na die troukaartjies terug te kom - waarom nie die kwessie oop laat, totdat dit werklik ontstaan nie?
Gesonde verstand, dit is wat ek altyd sê. Al die wetsboeke in die wêreld kan hulle vir my aandeel verbrand. Wie kom hier? ... O, dit is die blink besoeker van Menzies van wie ek jou vertel het.
hektor (kom links verby gewel, donker geklee, gewone drag - en nie rygewaad nie - haal sy hoed beleef af).
Dit is een van die twee wat ek vanoggend by Menzies gesien het. Wat op aarde sou hy hier verlang?
U soek seker na my vader, mnr. Van Rensburg?
Nee, juffrou, ek kom nou net van hom. My naam is Hektor Coetzee; ek en my vader het met mnr. Menzies uitgekom, en u vader het my gelas om u hier op te soek, terwyl hulle gesels. U is natuurlik juffrou Enon van Rensburg?
Laat my u voorstel aan mnr. Fouché.
Pierre buig trots sonder om sy hand aan te bied. Hektor neem sy hand teen sy wil.
Pierre se houding is trots en vererg, Hektor aangenaam.
Veroorloof my ... (growwe fluistering) ... die das is effentjies skuins. Die ellendige dasse val my ook vreeslik lastig. (Hy skuif dit so onverwags reg dat dit Pierre heeltemal verras en hy verdra dit sonder beweging.) Eer u te ken, dominee.
Enon bedek met sakdoek ononderdrukbare glimlag.
pierre (trots, terughoudend en altyd meer vererg).
Ek is g'n dominee nie.
Pardon! 'n Swart das, vernaamlik met 'n nagemaakte strik. O, ja, nou weet ek! Wag bietjie! Moet my nie sê nie! U is natuurlik 'n Wederdoper. Maklik om so 'n fout te maak.
Ek weet nie waarvan u praat nie. Ek is assistent-magistraat van Amandelblom. Mej. Van Rensburg is my verloofde.
Ek vra u om verskoning, juffrou! (Aan Pierre.) Pardon, meneer! Dit
| |
| |
is regtig dom van my, maar u weet foute van dié aard kom nogal taamlik dikwels voor. Ek self word ook dikwels vir iets beters aangesien as wat ek werklik is. Nou die dag het 'n manskap my gesalueer en toe ek ondersoek instel, verneem ek dat hy my aangesien het vir opperbevelhebber van die Verdedigingsmag. By 'n ander geleentheid het iemand my vir 'n kroegman aangesien. Ek is 'n afrigter van renperde, bestuurder van die groot stal op die plaas Kroonkop. (Hy buig terwyl hy hom voorstel.) Toe ek nog 'n jokkie in dieselfde stal was, het ek tweemaal die ‘handicap’ gewen.
pierre (keer opsetlik rug na Hektor).
Ons het nog nie die kwessie opgelos waaroor ek jou bepaald kom raadpleeg het nie, Enon.
Min hulp en bystand sal ek van jou kry, Enon ... Ek bedoel, die vraag of ek 'n uitnodiging tot ons bruilof aan die Minister van Justisie sal stuur?
Maar, Pierre, ek het jou reeds gesê wat my raad sou wees. Ek bly daarby.
Verskoon my! ... Praat julle van Tollie du Plessis, die prokureurgeneraal?
Ek het gepraat van die heer Adolf du Plessis, Minister van Justisie.
En julle is van plan om hom na 'n bruilof te nooi? Ek kan julle die moeite bespaar, juffrou. Hy sal lieg tot die plafon kraak om 'n dinee, 'n bruilof of 'n begrafnis - of wat ook al van dié aard - te ontduik.
pierre (gee voor inredevalling met uiterste minagting te veronagsaam - statig).
Ek sal bly wees, Enon, as jy die saak noukeurig wil oorweeg. Dit is vir my van die grootste belang.
U weet miskien dat hy renperde aanhou. Hy jaag onder die naam van mnr. Smith. Die stalle op Kroonkop behoort aan hom. Hy het dit van sy vader geërwe. Ek en hy het saam op Kroonkop grootgeword, toe ek nog 'n jokkie in sy vader se diens was. Hy was altyd dol oor perde en hy het my dikwels met sigarette omgekoop om dinge so te bewerk dat hy soggens met ons in die lyn kon saamgaan. Hy het dae lank getreur ná sy vader hom uitgelag het oor sy beslissing om 'n jokkie te word. Ek is sy bestuurder op Kroonkop. Hy en ek bring baie naweke in die veld deur op die plaas, waar hy sy eie baan het. (Voel in sakke.) Dit herinner my, ek het 'n briefie van hom gehad net voor ek verplig was om die reis na Amandelblom te aanvaar. Ja, hier is dit. (Haal opgefrommelde papier uit broeksak.) Ek kon natuurlik nie saamgaan nie. (Lees brief hardop.):
Ministerie van Justisie
Hekkie, ek is tot aan die sluk toe vol van dames, deputasies, magistrate, kabinet, kabale en dinees. Ek gaan trap. Ek sal jou op die gewone plek hoek
| |
| |
Pleinstraat ontmoet. Ek wil die vosmerrie graag oor kwartmyl sien loop. Ons bly tot Dinsdag vroegste. Twaalf pond karmenaadjie; twaalf pond boerwors. As die een of ander verslaggewer my afwesigheid agterkom en probeer om jou uit te vra, vertel hom dat ek tydelik in die blye verwagting verkeer in die Sabie-Moederhospitaal. Sorg dat daar dié keer genoeg ys is om die bier koud te hou. Vier dosyn.
Tollie
pierre. (kyk hom met veel belangstelling aan).
Ja, ek dink nie dat daar groot kans is dat hy 'n uitnodiging na Amandelblom sal aanneem nie!
Enon, ek sal my vader in die grootpad voorstaan. Daar is 'n moontlikheid dat hy Windhoek nie dadelik sal herken nie. Hy was nog nooit hier nie. Ek sal jou weer sien sodra hy aankom.
Af.
Juffrou, daar is min tyd. U weet natuurlik wat die plan is, dat my vader en ek ná ete sal inkom en dat die ou heer, of ek, of mnr. Menzies - met my vader se toestemming - alles sal regmaak wat betref die betrekkinge tussen hom en u vader in die verlede, en om alle laster in die toekoms te voorkom en vir ewig onmoontlik te maak.
Mnr. Menzies het my min of meer die toestand uitgelê. Ek sal altyd dankbaar bly vir die moeite wat u u getroos het. O, mnr. Coetzee, as u weet hoe gesteld my vader op sy eer en goeie naam is, sal u begryp dat iets van dié aard vir hom eenvoudig die dood beteken. En vir my sal dit baie meer as die dood wees. Daar is niemand in die wêreld wat ek meer liefhet as my vader nie. Jare reeds het hy die plek van my moeder in my lewe ingeneem. Ek dink ons is meer aan mekaar geheg as wat gewoonlik die geval tussen vader en dogter is. As dit moet gebeur ... so iets ... (vee oë met sakdoek) dit is te vreeslik om aan te dink. Die dood sou vir my niks wees om dit te verhinder nie. Mag God gee dat dit regkom. Arme, arme Poelie.
Draai van Hektor weg met sakdoek teen gesig.
Skerm
|
|