Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 1064]
| |
drag in my kantoor te betaal, anders het ek opdrag om onverwyld geregtelike stappe te doen’, en dan eindig ons met die gewone uitdrukking van liefde en hoogagting. (Neem brief op.) Juffrou Basson, het jy die legger van mnr. Van Rensburg? Hier is 'n brief van hom wat hy vanoggend met 'n boodskapper ingestuur het dat die paaiement van £10 maandeliks aan Petrus Coetzee dadelik gestaak moet word ... en hier is 'n eienaardige toeval. Hier is 'n brief van dieselfde mnr. Coetzee waarin hy versoek dat sy toelae vir hierdie maand nie aangestuur word nie, dat hy dit hier persoonlik sal ontvang; en volgens sy brief moet hy vandag of môre hier wees. Dit is waarskynlik kontrakbreuk aan sy kant, want een van die voorwaardes van die toelae was dat hy nooit weer op Windhoek sal verskyn nie en hierdie brief van mnr. Van Rensburg is waarskynlik die gevolg van 'n besoek van Coetzee. Ja, juffrou, hulle sê 'n wetsbesigheid is droog; as ons die geheim weet wat in hierdie legger opgeslote is, die ware geheim, sou ons waarskynlik 'n boeiende roman vind. Hoeveel dramas is daar nie in al die stowwerige papiere (wys na rakke) weggebêre as ons alles kon lees wat nie geskrywe is nie ... Juffrou Basson, erken ontvangs van mnr. Van Rensburg se brief. Mnr. Coetzee sal sy antwoord persoonlik ontvang. Die arme drommel kom 'n groot ontnugtering tegemoet. So 'n dwaas om 'n fortuintjie so onder sy voete te vertrap - want een ding weet ek, as my vriend Hendrik van Windhoek 'n besluit neem, dan verroer g'n span osse hom nie. En in hierdie geval het hy voorwaar rede genoeg. Aan sy kant was dit suiwere liefdadigheid aan iemand wat dit nie waardig was nie - soos sake nou lyk.
Terwyl hy praat, teen einde, gaan die deur baie stadig oop en Hektor Coetzee loer in, skalks glimlaggend, sonder om binne te kom. Die tikster en Menzies bekyk hom verbaas. Hy glimlag en knipoog vir tikster. Sy druk 'n sakdoek voor haar mond en gaan aan die lag.
menzies (vererg):
My vriend, wie jy ook al mag wees, kom binne of bly buite, maar moet nie probeer om altwee gelyk te doen nie. Dit is senustorend.
Hektor, uiters deftig geklee, rybroek en kamaste met skitterende das, swepie in hand, 26 jaar oud en skoongeskeer, ruiker in knoopsgat, kom binne, glimlaggend, buig voor tikster en bied hand aan Menzies, wat dit traag aanneem sonder om op te staan.
menzies.
Wie het ek die eer om te begroet?
hektor.
Of dit nou juis 'n eer is?
menzies (tot tikster):
Dit is genoeg, juffrou Basson.
Sy loop uit.
hektor (buig diep en glimlag. Tikster ruk hoof op met gebaar van minagting. Hektor kyk haar agterna en knipoog vir Menzies, gaan na deur agter haar).
Magtig, so 'n klein kwikstertjie! Nie onaardige beentjies nie, glad nie! Nee, glad nie! En 'n stappie soos 'n tweejaar-volbloed!
menzies.
Meneer, wil u so goed wees om my met die doel van u besoek in ken- | |
[pagina 1065]
| |
nis te stel. My tyd kos geld.
hektor.
Tyd kos geld. Liewe hemel, prokureur, ek sal jou net so baie verkoop as wat jy kan verlang - en spotgoedkoop. Dit is al skatte waarvan ek altyd volop besit het. (Hy gaan sit by lessenaar, swaai een been oor die ander vertroulik - dan merk hy sy kamaste - neem 'n doek uit 'n agterbroeksak en stof kamaste en skoene noukeurig af. Menzies bekyk hom met toenemende ongeduld. Uiteindelik kyk hy op en dit val hom by waar hy is.) O ja, u vra my wat die doel van my besoek hier is. (Met 'n vrolike laggie.) Nou ja, as ek nie moet lieg nie - soos die ou spreekwoord sê - dan moet ek die waarheid sê. Ek weet self nie wat die doel van my besoek is nie. Ek moet 'n oukêrel hier ontmoet. Ek weet nie of hy al hier was nie. Hy is 'n oukêrel van so in die sestig. Hoe hy nou lyk, weet ek nie, want ek het hom laas gesien toe ek 'n klein snuiter was. Hy was toe geneig - wel, jy weet, om in die takke van die hoogste bloekombome te flankeer en ek dink dit sal maar nog so wees. Daaraan sal jy hom ken; jy weet, 'n streep van die verfkwas hier. (Wys na sy neus.) Dit lyk asof die ou die een of ander plan het. Dit mag wees dat dit alles loskruit is, maar ek was nuuskierig. (Hy ruk sy das heen en weer.) Dit is 'n ellendige das. Jy het nie miskien 'n ding soos 'n spieël nie, mnr. Menzies?
menzies.
Al spieël in hierdie kantoor is een wat jy ongelukkig nie kan gebruik nie - die spieël wat elke prokureur aanhou - sy eie vleklose gewete!
hektor (herhaal verbouereerd).
Vleklose gewete? Spieël? O, ja, nou weet ek. Dit sou jou lekker laat lag, mnr. Menzies, as ek aan soeke sou gaan in 'n prokureurskantoor na die spieël van die vleklose gewete. Dit is soos die gesegde omtrent 'n blinde man wat in 'n donker kamer soek na 'n soort kat wat nie daar is nie. En die blinde man sou 'n beter kans hê - nie waar nie, mnr. Menzies? Dit is natuurlik 'n prokureursgrappie?
menzies ('n weinig minder uit die hoogte).
Touché!
hektor.
Hoe?
menzies.
Dit is Frans vir ‘eina’. Luister nou, mnr. Coetzee, as dit jou naam is, ek het 'n brief van jou vader - ek vermoed altans dat dit jou vader is - dat hy my vandag sal besoek in verband met sekere sake waarvan ek al die besonderhede nie weet nie. Tegelyk het ek 'n brief van mnr. Hendrik van Rensburg met betrekking tot die besoek van jou vader ontvang wat my laat vermoed dat die twee mekaar gister reeds ontmoet het, maar wat plaasgevind het, weet ek nie ...
hektor (hou sy hand op en val hom in die rede).
Mnr. Menzies, wat my betref, kan jy net so wel Grieks praat. Dit lyk soos 'n speletjie waarin die een die ander raaisels vra waarvan geeneen die antwoorde ken nie. Nou ja, nou ja, dan moet ons maar geduld gebruik totdat die oukêrel sy verskyning maak. Dit herinner my, mnr. Menzies. Daar het 'n splinternuwe dans in Johannesburg aangekom, 'n paar weke gelede. Julle het seker nog nie daarvan gehoor | |
[pagina 1066]
| |
nie. Hulle noem dit die Kalahari-Boesmandraf, dit gaan so: (Hy fluit en begin dans.) Die nooi druk jy natuurlik onder hierdie arm vas.
menzies (staan uit sy stoel op, driftig).
Meneer, ek moet u beleef dog dringend versoek om 'n einde aan jou kaskenades te maak en, as jy geen verdere werk het nie, om my kantoor in vrede te verlaat.
hektor (gaan weer by stoel staan).
Ek vra u om ekskuus. Ek dag dat u daarin belang sou stel. Sal u my nie toelaat om weer te gaan sit nie? Die oukêrel sal netnou hier wees.
menzies.
My liewe jong vriend, ons sal tyd bespaar, al is jy 'n miljoenêr in dié besondere ware, as jy my 'n weinig meer inligting omtrent jou besoek en jou betrekking tot jou vader wil verskaf. Jy het seker nie net gekom om jou toilet te arrangeer of om dansoefeninge uit te voer nie, hoe interessant dit ook al mag wees. As hanswors mag jy 'n skitterende ster wees, maar hier gaan al jou talente in hierdie rigting verlore.
hektor.
Daar is geen verdere werk nie en ek kan jou nie veel meer vertel nie. Ek moet die oukêrel om drie-uur hier in jou kantoor ontmoet. Hy het my 'n lang brief geskrywe. Hy het 'n voorstel waaroor ons sal gesels wanneer hy kom... Meneer Menzies, (buig vooroor) kyk tog bietjie of my paadjie reguit is. Die ellendige hare pla my somtyds vreeslik.
menzies (terwyl hy vooroorbuig, steek met 'n potlood in sy hare).
Een, twee, drie; wag 'n bietjie, drie lê na die verkeerde kant toe oor. (Hy gryp 'n bossie hare en pluk geweldig.)
hektor (spring orent).
Soe! Verdomp! (Hy kyk Menzies lank stilswygend aan en dan, met 'n verspotte, nagemaakte lag gaan hy weer op dieselfde stoel sit, terwyl hy saggies oor sy hare stryk.) Dit word hoog tyd dat die oukêrel kom. Ek word onrustig dat dit 'n mens maklik hier ná 'n rukkie sou kan verveel. (Hy kyk skielik en wantrouend na die deur. Hy maak teken van stilswye aan Menzies, loop op tone na deur wat hy vinnig oopruk.) Niks. Ek dog dit was klein Sarie wat my deur die sleutelgat beloer. Die meisies kan my somtyds vreeslik lastig val.
Hy kom terug en sak stadig neer op die tikster se stoel - met drie kussings - in plaas van die stoel by die lessenaar waar hy vroeër gesit het. Tegelyk maak hy geweldig die geluid van 'n skreeuende kat na. Hy spring verskrik orent - ook Menzies.
hektor (staan stoel verskrik en aankyk).
Wel, verdomp! Wie sou verwag dat sy haar kat daar sou bêre?
menzies (loop vinnig na stoel, verskrik en vererg).
Wat staan jy en gaap? Jy het die kat doodgesit!
Hy ruk die kussings af, 'n kussing in elke hand; dan kyk hy verbaas onder tafel en na stoel. Dan kom hy orent en staar Hektor aan, wat sonder beweging of gelaatsverandering die kyk verduur.
menzies (plaas kussings terug; neem koel en bedaard Hektor se hoed en swepie van
| |
[pagina 1067]
| |
lessenaar, oorhandig dit aan hom).
Jou geselskap, meneer, is verskriklik aangenaam - selfs vol heerlike humor. Ongelukkig ontbreek die tyd en smaak my om dit volkome te geniet. Hier is jou hoed, daar is jou pad. (Open deur, praat na buite.) Juffrou Basson, mnr. Coetzee vertrek. Sy werk is afgedaan.
hektor.
Wag, mnr. Menzies, wag 'n bietjie. Die, hoe sê julle, atmosfeer hier in jou kantoor was verkeerd. 'n Bietjie, hoe sal ek sê, bedompig, nie waar nie? Dit was die enigste oorsaak dat dit vir my hier 'n bietjie vervelend geword het. (Gaan weer sit, ook Menzies.) En onthou, meneer Menzies, netnou sal u my oukêrel ontmoet. Miskien wanneer u met die vader te doen het, sal u verlangend terugdink aan die onderhoud wat u pas met die seun gehad het!
menzies.
Goed, meneer, ek sal jou 'n kwartier toestaan. (Kyk op sy horlosie.)
hektor.
Wat my werklike doel is, kan ek u nie verklaar nie, omdat ek dit nie weet nie. Dit klink snaaks, nè, maar dit is waar. En ek is byna seker dat u ook nie weet wat my doel is nie; sodat ons twee in hierdie saak mekaar van min hulp en bystand sal wees. (Lag weer vrolik.)
menzies.
Het jy nie miskien op pad verdwaal nie. Is dit nie 'n ander inrigting wat jy soek nie?
hektor (lag).
O, ek begryp goed wat jy bedoel, mnr. Menzies. Weskoppies, Valkenberg, nè? Maar dit is maar net my manier, mnr. Menzies. Dit herinner my aan 'n ou tante van my. Die arme ou skepsel is ook lankal reeds ter siele. Sy het my altyd met 'n bejammerende kopskud van kop tot tone bekyk. Ek was altyd taamlik op my klere gesteld. Dan was dit haar gewoonte om 'n rympie oor my op te sê. Dit het só gegaan: Blinkleerstewel, swart manel,
kop in die hemel, voet in die hel!
(Hy lag.) Arme ou tant Siena! En tog het sy êrens in haar hart 'n teer gevoel vir my gehad, want sy het altyd met 'n diep sug bygevoeg: ‘En tog is dit nie die arme kind se skuld nie. Wat kan 'n mens van 'n perd verwag wat uit 'n esel en 'n kwagga afkomstig is?’ Ou tant Siena was nooit met my ouers juis bevriend nie. En dit herinner my: dit is juis ter wille van die kwagga dat ek hier is. My ou vader, wat ek laas gesien het toe ek 'n klein kind was, het my 'n dringende brief geskrywe, soos ek u reeds vertel het, om hom vandag hier in u kantoor te ontmoet. Hy het 'n plan wat hy nie verduidelik het nie, waaruit hy en ek elkeen 'n fortuin kan maak net so maklik as ertjies dop. Ook is daar op die agtergrond 'n pragtige nooi met al die deugde en al die skoonheid ooit deur 'n dogter van moeder Eva geërwe - en geld soos bossies. En die skat staan klaar om my te voete te val. Nou ja, hier is ek. (Strek arms uit en trek das en baadjie reg.)
Daar word aan deur geklop.
menzies.
Binne! | |
[pagina 1068]
| |
tikster (open deur).
Mnr. Petrus Coetzee wil u spreek.
menzies.
Laat hom binne kom. (Aan Hektor.) Dit sal dan jou vader wees.
Hektor staan op en wag. Petrus Coetzee kom binne, tikster terug. Hy is nog net so geklee as vroeër en leun op sy kierie, met hoed in hand. Hy bekyk onderdeur eers vir Menzies en toe Hektor.
coetzee (reik hand).
Dit is Hektor. Ek is jou pa - ken jy my nie meer nie?
hektor (neem hand).
Nee, pa. As die sybokkies soveel moeite met hul ouers het, is onkunde in 'n mensekind vergeeflik ná, hoe lank is dit, sowat twaalf jaar, nie waar nie? Die verlore soon, sou ek dink, is altyd makliker herkenbaar as die verlore vader.
coetzee.
Ja, ja, ja. (Knik hoof asof hy moeilik verstaan. Keer hom na Menzies en steek sy hand uit.) Prokureur Menzies, nie waar nie? Ken u my nie meer nie?
menzies.
Ek sou u nie geken het nie, maar nou begin ek my u weer te herinner. Sit, mnr. Coetzee. (Wys stoel langs Hektor aan.) Dit is drie jaar dat u laas hier was.
coetzee (asof hy op 'n vraag van Menzies antwoord).
Met my nog taamlik goed, dankie. Net die jig pla baie. (Begin steun, met hand op rug, op temerige toon.) En die niere! Die niere! Knaag, knaag gedurig. (Op bedelende, klaende toon.) U kan my nie miskien 'n klein bietjie brandewyn laat kry nie, mnr. Menzies, net so 'n paar druppeltjies. (Dui aan met vinger en duim.) Ek neem dit net so nou en dan ... al wat verligting vir die jig gee.
menzies (lag, met hande omhoog).
Ek gee in! Ek gee in! Jou seun vra my om 'n spieël en jy om brandewyn. As my besoekers so voortgaan, sal ek 'n taamlike voorraad moet aanhou. As die dominee my besoek, sal hy terloops 'n gesangeboek en 'n klein preekstoeltjie wil leen, en die dokter sal 'n stukkie blindederm soebat vir 'n pasiënt wat syne deur 'n ongeluk verloor het ... Nee, mnr. Coetzee, die sterkste drank wat ons hier aanhou, is wat ons in die wet aqua pura noem.
coetzee (kyk hoopvol op).
Net so 'n paar druppeltjies. (Dieselfde gebaar met vinger en duim.)
hektor (lê hand op ou man se skouer).
Wag nou, oubaas. Ek is seker daarvan dat jy in die verlede reeds die hings Vuurmaker te baiemaal vir die groot plaat opgesaal het en dit kom my voor dat jy nou al so ver gevorder het (wys na are aan voorhoof) dat jy hom altyd bloots ry. En jy weet, oubaas, dit is gevaarlik, baie gevaarlik. Dit mag goed gaan en goed gaan, maar op die uiteinde gooi hy jou. Ons moet ou Vuurmaker nou maar 'n bietjie laat wag, totdat ons werk eers afgehandel is.
coetzee (sug diep en sak inmekaar asof hy aan die slaap raak. Ken op kierie. Daar is 'n lang stilte. Hektor knik vir Menzies).
menzies (ná 'n lang stilte, praat hard soos met 'n slapende).
Mnr. Coetzee! U het my oor sake kom sien. My tyd is altyd baie beset. Wil u so goed wees om my | |
[pagina 1069]
| |
te sê wat u van my verlang. (Coetzee gee geen teken dat hy gehoor het nie. Hektor skud hom aan skouer en Menzies skree harder.) Coetzee! (Hy skrik asof hy geslaap het wakker en nadat hy Menzies 'n tyd lank stom aangestaar het, antwoord hy op die vraag.)
coetzee.
My werk by u is gou afgedaan. U het my brief seker ontvang waarin ek u versoek om die laaste toelae nie te pos nie, omdat ek dit hier op u kantoor persoonlik sou ontvang.
menzies.
Ja, mnr. Coetzee, ek het u brief vanoggend ontvang en byna gelyktydig daarmee het ek skriftelike opdrag van mnr. Hendrik van Rensburg ontvang om die uitbetaling van die toelae vir die toekoms heeltemal te staak. Dit skyn dat u hom besoek en sodoende u ooreenkoms geskend het.
coetzee (staan op en stamp met kierie woedend op vloer).
Hendrik van Rensburg het dus die vrypostigheid gehad om sy dreigement uit te voer. Ek sal hom wys dat daar meer in Petrus Coetzee sit as wat hy van droom - al neem ek ook al nou en dan 'n sopie. Ek was tevrede met sy ellendige tien pond per maand en die armoedige stukkie grond in die woestyn. Ek sou nog daarmee tevrede gebly het, as hy my voorstel net wou bespreek. Maar nou sal ek hom wys - wat nou gebeur, het hy aan homself te danke. Weet u, meneer Menzies, dat die helfte van al sy skatte aan my behoort, aan my, Petrus Coetzee?
menzies.
Mnr. Coetzee, ek weet niks van u sake met mnr. Van Rensburg nie, buiten wat hier in jul ooreenkoms geskrywe staan - wat jy drie jaar gelede hier in my kantoor geteken het.
coetzee (aan Menzies).
Dit beteken niks. Laat ek jou vertel: Het jy ooit die storie van die swart verraad gehoor?
hektor.
Die swart verraad? Wat is dit, iets nuuts?
menzies.
Ja, soos almal wat in hierdie distrik opgegroei het, het ek allerhande gerugte en stories van die swart verraad, selfs toe ek nog 'n kind was, gehoor. Nou hoor mens nooit meer daarvan nie en die oorsaak is dat dit later ten volle bewys is dat dit onwaar, ongegrond is. Die kaptein het dit alles tot sy dood toe ontken. Ek herinner my self nie meer die besonderhede nie, maar ek weet dat dit ongegrond was - net 'n kinderstorie wat die oumense snags om die vuur vertel het. Ek het later verneem dat die hele storie gegrond was op die getuienis van 'n paar swart gevangenes wat gedink het dat hulle by die wit krygsoffisiere in guns sou raak indien hulle die skuld vir die opstand op hierdie wyse van hul eie skouers kon afskuiwe. In enige geval, daar is nooit 'n naam genoem nie - niemand het dit ooit gewaag nie.
coetzee.
Jy is verkeerd, mnr. Menzies. Die storie berus op ander getuienis as dié van swartes. Daar is twee blankes wat 'n naam kan noem. Een wat by was en alles gehoor en gesien het. Hier sit een. Sit my voor die skuldige en ek sal sy naam voor sy aangesig noem ten aanhore van die hele wêreld. Ek weet, want ek was by. | |
[pagina 1070]
| |
hektor.
Stadig oor die klippe, oukêrel. Laat ons ons mond nie verbypraat nie. Ek weet nie waarvan julle praat nie. Vir my is dit nog alles duister. Ek sien net die kleinste ligstraaltjie - genoeg om te sien dat stilswye in hierdie saak die goue uitweg is. Kom ons loop, Pa.
coetzee.
Lafaard! Sal jy alles prysgee? En dit kom my toe. Die helfte is my wettige eiendom waarvan ek beroof is.
menzies.
Luister, mnr. Coetzee. Ek het g'n opdrag om my met jou saak te bemoei nie, maar laat ek jou 'n paar dinge duidelik maak. As jy deel aan die misdaad geneem het, in watter graad ook al - dit wil sê, as daar ooit so 'n misdaad was - dan is jy net so skuldig soos die pleger en die doodstraf sal ook op jou toegepas word. Nog meer, indien jy al die jare geweet het wie die misdadiger was en dit verswyg het, al het jy geen direkte of indirekte aandeel in die misdaad nie, dan ook kragtens ons wet is jy net so skuldig asof jy op heterdaad betrap is. Indien jy die kennis tot jou eie voordeel gebruik het, dan is jy aan 'n dubbele misdaad skuldig. Dan volg nog hoe om jou bewering te staaf. Indien jy 'n naam noem, sal jy tittel en jota moet bewys. As jy nie daarin kan slaag nie, sou ek nie graag in jou skoene wou staan nie, wanneer die vierskaar weens laster oor jou gespan word nie. Watter straf sou voldoende wees as vergelding van so 'n afskuwelike laster.
hektor.
Kom, oukêrel, ons moet loop.
coetzee.
Lafaard! Wil jy alles opgee? Word jy op loop gejaag deur 'n blaas met ertjies? Ek sê jou, daar is 'n fortuin in, meer as 'n fortuin. Die meisie sal dankbaar wees om met jou te trou en sy is die enigste kind. Op dié wyse alleen kan Hendrik van Rensburg en ek die saak uit die wêreld maak.
menzies.
Wees versigtig mnr. Coetzee. Een ding is seker: om nou en hier so te praat, is net dwaasheid, en ek dink nie aan jou belange alleen nie, dit erken ek, maar meer bepaald oor die belange van 'n gewaardeerde vriend. Pas op, voor jy te ver gaan!
hektor.
Kom! (Neem sy vader aan die arm.)
coetzee.
Loop alleen as jy 'n lafaard is. Waarom het jy, mnr. Menzies, al die jare die geld aan my betaal namens Hendrik van Rensburg! Wil jy nou te kenne gee dat jy nie weet nie? Was dit uit liefde, meen jy, dat hy my die plaas en aanteelvee in Koedoesrand gegee het en tien pond wat ek elke maand van jou gedurende die laaste drie jaar ontvang het?
hektor.
Wat is dit van 'n plaas en geld, mnr. Menzies? En wie is Hendrik van Rensburg? Laat ek 'n bietjie lig in die saak kry.
menzies.
Ek kan jou sê, mnr. Coetzee, waarom jy die grond, goed en geld van mnr. Van Rensburg ontvang het. Dit is alles hier aangeteken en deur jou ondertekening erken. Hier is mnr. Van Rensburg se akte, en onderaan teken jy: ‘Ek, Petrus Coetzee, neem die bo-omskrewe gawes met dank aan en erken en verklaar dat al die feite daarin in alle besonderhede waar is, en ek ver- | |
[pagina 1071]
| |
klaar en beloof plegtig om al die voorwaardes hierin omskrewe stip na te kom op koste van teruggawe van alles wat my deur die heer Hendrik van Rensburg deur hierdie akte geskenk is.’ En onder staan geteken Petrus Coetzee, met die name van twee getuies, van wie ek een en die bankbestuurder, wat ook nog lewe, die ander is. En hier is die akte van mnr. Van Rensburg: ‘Aangesien Petrus Coetzee as 'n jong seun onder my sorg gekom het en feitlik as 'n kind deur my aangeneem en grootgemaak is, en aangesien sy gedrag in die laaste jare veel te wense oorlaat, vernaamlik wat betref sy misbruik van sterke drank en mishandeling van sy vrou, en aangesien ek tot nog toe my verplig gevoel het om af en toe vir hom en sy gesin te sorg en daardie voorsiening te maak vir die gesin, terwyl ek nog in lewe is; daarom skenk ek aan gesegde Petrus Coetzee die plaas Donkerdraai, Koedoesrand, met tweehonderd aanteelbeeste en die bedrag van eenhonderd-en-twintig pond jaarliks, maandeliks betaalbaar deur my prokureur, Eduard Menzies. Ek doen dit op voorwaarde dat gesegde Petrus Coetzee Amandelblom dadelik sal verlaat en hom nooit weer hier metterwoon sal vestig of die dorp sonder my skriftelike verlof besoek nie. Enige misbruik van drank of mishandeling van sy gade sal ook voldoende oorsaak wees vir die vernietiging van hierdie akte en teruggawe van alles wat hierin aan gesegde Petrus Coetzee geskenk word. By skending van enige van die genoemde voorwaardes sal hierdie akte dadelik verval en al die geld en goed aan my terugval.’ Dit, mnr. Coetzee, is waarom mnr. Van Rensburg die geld, vee en grond aan jou geskenk het. Jy sal merk dat daar g'n melding van swart verraad is nie en ook is daar g'n voorwaarde dat jy enigiets moet verswyg nie. Jy sal jou self derhalwe tot leuenaar moet maak as jy nou 'n ander verklaring doen.
coetzee.
Dit was bedrog en versinsel. Sit my voor Hendrik van Rensburg en sien dan of hy dit as die enigste oorsaak sal verklaar - of hy sal ontken wat ek sê. Ek ken Hendrik van Rensburg. Hy sal vreeslik woedend word en my lewe miskien bedreig, maar hy sal die waarheid nie ontken nie. Dit is waar, hy het my as kind aangeneem. Ons ouers is almal in die jagveld aan koors oorlede. Ons was dus albei wese, maar Hendrik was tien jaar ouer as ek. Ons het tussen die swartes grootgeword. Hendrik was 'n groot vriend van die kaptein. Hulle het altyd in maatskappy olifante gejag. Maar ons het maar 'n klein aandeel van die ivoor gekry. Ons was arm en moes baie sukkel. Ek was sestien jaar oud in die tyd van die Mapela-oorlog en ek moes soos 'n swartnerf werk. En toe het ou Mapela Hendrik omgehaal. Hy wou medisyne laat maak en ook geweers, en kruit in hande kry, want hy het toe reeds vir oorlog klaargemaak. Hendrik moes waens afspioen wat kruit en geweers het en ek was die boodskapper, want niemand sou my verdink nie. Dit was ons wat Mapela berig het van die waens by Driedoringdrif. Daar was meer: by die | |
[pagina 1072]
| |
aanval op die Kranskop-vesting was Hendrik self in die slag. Ek het ons perde vasgehou en het saam met hom uitgejaag. Hy het sestig bultande en driehonderd beeste van die kaptein ontvang lank voor die groot moord, net toe hulle die akkoord aangegaan het. Hendrik het my vertel dat 'n wit seun hom in die slag gesien het, maar dat 'n swarte die seun gelukkig met 'n knopkierie doodgeslaan het. Ons het dwarsdeur getrek na Portugese gebied en eers 'n jaar later teruggekeer. Ons het voorgegee dat ons al die tyd olifante geskiet het en niks van die oorlog geweet het nie. Hendrik was toe 'n ryk man. Ons het die tande in die Baai verkoop en Hendrik het vir hom vyf plase en duisend stuks aanteelvee aangekoop. Van al die buit het ek niks gekry nie, behalwe wat hier aangeteken staan. En waarom het ek dit gekry? Nie omdat ek sy pleegkind was nie. Die hemel vergewe hom die leuen! Dit was om my mond te sluit.
hektor (staan woedend op, gryp Petrus aan die arm en ruk hom orent).
Kom, ouman, hier is jou hoed. Kom, jy gaan saam met my huis toe. Daarvoor sal ek sorg dat wat ook al gebeur, jy nooit weer 'n oulap van die duiwelsgeld in jou hande sal neem nie. Sien jy nie self nie dat, as jou storie waar is is die geld wat jy geneem het dubbel besoedel en besmet is. God vergewe jou die afskuwelikheid waaraan jy jouself dubbeld skuldig gemaak het. Die orige van jou lewe kan jy te baat neem om te trag om vrede met God te maak, indien daar in die hemel of op aarde vergiffenis vir sulke misdade is. En hoe skuldig Hendrik van Rensburg ook al mag wees, een ding sal ek en jy voor sorg en dit is om hom saam en tegelyk te besoek, en hom voor vertroubare getuie die versekering te gee dat hy vir die orige van sy lewe niks meer van jou te vrees sal hê nie. Sy misdaad, indien dit waar is, is tussen hom en God. Ek sal hom nie veroordeel nie. Ek sal self g'n navraag doen of die storie waar of leuenagtig is nie. Kom, hier is jou hoed! Laat ons loop!
coetzee.
Dit is vir jou 'n gehoorsame, eerbiedige seun! Japsnoet, hoe sal jy my verhinder om minstens my regte van Hendrik van Rensburg weer te eis?
hektor.
Jou regte noem jy dit? Sê liewer jou swart verkeerdhede waaraan g'n swarte hom skuldig sou maak nie. Hoe sal ek jou verhinder! Ek sal jou vertel: ek sal 'n beëdigde verklaring doen - en ek lê die verklaring nou hier voor mnr. Menzies af dat jy self meermale aan my erken het dat die hele storie vals en leuenagtig is en dat jy dit alles versin het om geld van Hendrik van Rensburg af te pers en dat ek weier om jou langer by te staan. Neem dit nou in geskrifte op, mnr. Menzies. Voor ons Amandelblom verlaat, sal ek dit kom beëdig. Kom, oubaas, vat jou hoed. Ons gaan nou eers na mnr. Van Rensburg.
coetzee (kyk hom verbyster aan).
Maar kyk hier ... hoor eers ...
Hektor sit sy hoed op Petrus se kop en neem hom aan die arm. Gedurende Hektor se opgewonde toespraak het Petrus Coetzee geleidelik in 'n toestand van slaperige sin- | |
[pagina 1073]
| |
loosheid verval waarin hy meestal verkeer en doen geredelik alles wat hom gebied word - soos iemand onder hipnose.
menzies (neem Hektor aan die hand en plaas een arm om sy skouers; ontroer).
Ek sien nou dat jou vader geen beter raadgewer en oppasser as jy het nie. Ek besoek self Windhoek vanaand. Pierre Fouché, die aanstaande bruidegom, en sy vader eet ook daar. Kom ná ete, want ek sal jou graag aan mnr. Van Rensburg self voorstel. Jy hoef niks te sê nie. Ek sal alles later regmaak indien daar iets reg te maak is. En jy ook, mnr. Coetzee, ek kan jou van 'n welkom verseker, wat ook al vanoggend gebeur het.
Petrus Coetzee skyn geen notisie te neem en geen begrip te hê van wat gesê word nie. Hy gaan mompelend en verslae saam met sy seun.
Skerm |
|