| |
Eerste Bedryf
Tyd: Oggend
Veranda van plaashuis op Windhoek regs - met tralies en trappies. Links, tralieomheining van blomtuin met hek reg in die middel. Stoele en rusbank op veranda. Voordeur van huis open regs van veranda, na agter die coulisse.
hendrik van rensburg, 65 jaar oud, grys baard, netjies geklee, sit in leunstoel koerant en lees.
enon, sy dogter, 22 jaar oud. Besig om af te stof, verskyn af en toe by deur verbygaande. Sy sing wysies van Afrikaanse liedjies: ‘O Boereplaas’ - ‘Sarie Marais’. Sy kom op die veranda uit.
enon (leun oor die tralies en skud stoflap af).
Vader, ek sien deur die gewelvenster iemand te voet aankom ... van die dorp se kant ... dit is 'n witman.
van rensburg (sonder om koerant te laat sak).
In enige geval geen besoeker aan Windhoek nie, tensy een van ons padlopers. Dit moet haas ou Witaker se beurt wees. (Spreek talmend - ingedagte - lees koerant onafgebroke - skenk vereers weinig aandag aan wat Enon sê.)
| |
| |
Nee, Poelie, dit is g'n bondeldraer nie - daarom benieu dit my wie van die dorp te voet sou kom. En waar kan hy anders heen gaan as na Windhoek? Ons sal netnou weet. (Sy gaan voor haar vader staan, en waai die stoflap heen en weer.) Poelie, ek weet nie waarom ek so senuweeagtig en onrustig oor die besoek van Pierre se vader voel nie. Môre of oormôre verwag Pierre hom hier. Wat sal hy van jou dogter dink, Poelie? Sal hy tevrede wees met die keuse van sy seun? Onthou, Poelie, dit is sy enigste seun en hy is baie trots op Pierre - dit is uit sy brief duidelik te lees. Hy sê dit nie in soveel woorde nie, maar tussen die reëls kan ek gedurig lees: Onthou, dogtertjie, Pierre Fouché is assistent-magistraat van jou dorpie, al is sy vader ook maar net 'n boer ... 'n jonkman van stand wat 'n menigte meisies gehad het om van te kies. Hy verwag waarskynlik iets baie wonderlik ... en dan vind hy net arme ek! En volgens Pierre self kon hy verskeie ryk nooiens gehad het as hy net sy sakdoek laat val het.
Die vader sou hom wat verbeel om met Enon van Rensburg teleurgesteld te wees. Pierre is miskien 'n goeie seun. Ek ken hom só sleg dat ek hom nie seker kan beoordeel nie. Maar ek moet nog leer dat 'n magistraatsklerk, 'n assistent-magistraat, in enige geval 'n penlekker, sy kop in die wolke kan hou teenoor Hendrik van Rensburg en sy dogter. Waarom sou ek minder reg hê om teleurgesteld te wees as Pierre se vader? Jy, ook, is my enigste kind en as hy sy neus gaan optrek, sal ek hom gou 'n skeppie van dieselfde gereg toedien.
Toe nou, toe nou, Poelie! Moenie so gou weer klaar wees om die teuels tussen die span in te gooi nie! Ek het mos maar net 'n grappie gemaak. Jy het self sy brief van gelukwensing gelees ... Hy is waarskynlik 'n liewe, goeie ou oom ... van wat Pierre my vertel het. (Sy kom op die leuning van die stoel sit, omhels haar vader met een arm.) Ag, Poelie, daar is nog iets wat aan my knaag, knaag, knaag - hier! (Wys na haar hart.)
van rensburg (kyk haar verbaas aan).
Liewe hemel, Enon, wat is dan nou verkeerd?
Ek het net jou in die hele wêreld, Poelie, en teenoor wie in die wêreld kan ek my hart uitpraat as teenoor jou? En wie kan my raad gee en help as dit nie jy is nie? Moedertjie is in die hemel en ofskoon ek haar altyd naby my voel, kan ek my toevlug nie tot haar neem nie. Ek weet dat sy sou verlang dat ek al my geheimpies aan jou bekendmaak.
van rensburg (paai haar hand gerusstellend).
Toe maar, dogtertjie, laat ek hoor ... vertel maar. Wat is dit?
Poelie, daar is twyfel diep in my siel - 'n swart wolk oor my hart wat altyd duisterder word. Ek weet nie of ek reg doen om met Pierre Fouché te trou nie. Ek weet nie of ek hom regtig liefhet nie, of hy weet wat liefde beteken, of hy enige mens op aarde behalwe homself regtig lief kan hê nie. Ek
| |
| |
wil nie van hom kwaadpraat nie, maar ons verlowing het so halsoorkop gegaan - ek het hom skaars geken; seker het ek hom nie so geken as wat ek hom nou ken nie. Jy weet, Poelie, hy is so ingenome met sy betrekking, met sy werk - hy is maar net eerste klerk, maar hy dring daarop aan dat hy ‘assistent-magistraat’ genoem word, omdat hy nou en dan klein sakies verhoor ... Hy is so ingenome met sy betrekking en werk dat daar geen plek vir liefde in sy hart is nie.
Enon, dit is bietjie laat in die dag om nou besware van hierdie aard te opper. Jy sou die jongkêrel 'n groot onreg aandoen deur sonder 'n baie gegronde rede nou alles af te breek. Maar een ding is seker: as jy hom nie waarlik en innig liefhet nie, dan kan daar g'n sprake van trou wees nie. Dit is beter om hom nou 'n heelbare wond toe te dien wat gou gesond word as om hom met 'n kwaal aan te steek wat miskien sy hele lewe sal duur. Wat Pierre Fouché betref, ek ken hom baie sleg, soos ek reeds gesê het. Met my is hy nooit openhartig nie. Ek het dit toegeskrywe aan jongelingskaamte of - beskroomdheid. Ek het altans soveel van hom gesien om te weet dat hy miskien 'n bietjie baie verwaand is; maar dit is 'n kwaal waaraan baie jongmense ly. Dit is 'n siekte van die jeug net soos gesigpuisies en blink dasse. Dit is seker maar net tydelik. Luister nou, Enon, wat ek jou aanraai. Die troudag is nog nie deur julle twee vasgestel nie?
Nee, Vader; maar hy wil dit binne 'n paar weke hê.
Moet geen dag bepaal nie. Gaan jou gang en toets intussen jou eie gevoelens. En jy kan seker wees, my dogtertjie, jou vader sal jou nooit in die steek laat nie; ek sal nie toelaat dat jy in die ongeluk gedompel word nie.
enon (kus hom hartstogtelik).
Ek weet, Poelie, ek weet... ('n Tydjie sit sy peinsend.) Dit is so anders as wat dit tevore was. (Ingedagte.)
Tevore? Wat probeer jy sê?
Onthou jy nog vir Claude de Ville, die seun wat gedurende die vakansies kom kuier het, toe ek nog op skool was?
O, ja, Klein-Claude, het ek hom genoem. Ja, ek onthou; hy was 'n gawe seun. Hy het my baie laat lag - dit altans herinner ek my. Maar Enon, dit was 'n skone kalwerliefde-affêre. Jy kan dit tog nie met jou teenswoordige verlowing vergelyk nie.
Ag, Poelie, ek weet nie, ek weet nie. (Ingedagte.) Dit was heerlik solank dit geduur het. Nooit kan jy weet, of raai hoe diep en skoon en suiwer die liefde was nie. Ek weet dit was maar kinderliefde, maar ek sou God dank as my teenswoordige verlowing dieselfde liefde kon meebring. Ek het baie lank oor Claude getreur - diep getreur - toe hy moes weggaan ... En dit herinner my! Ek was sestien en hy sewentien, toe ons mekaar onder allerhande plegtige beloftes vaarwel gesê het. Soos gewoonlik het die briewe gou verkoel en minder geword, totdat ek in die laaste jare net op my verjaardag
| |
| |
en met Nuwejaar 'n poskaartjie van hom kry. En nou verlede week het ek onverwags weer 'n lang brief van hom ontvang. Hy het van my aanstaande huwelik gehoor en saam met sy gelukwense verwyt hy my van ontrou! Dit het my laat lag. Maar, Poelie, ek kan jou nooit sê hoe aangenaam dit was om sy brief te ontvang nie. Dit was soos verkoelende reëns op dorre aarde. En hoe graag sou ek hom nie weer sien nie! Ek wonder hoe hy nou lyk - noudat hy 'n man geword het?
Pas op, Enon! Is dit nie net die brief van Klein-Claude wat die wolk oor jou hart veroorsaak het nie?
Enon antwoord nie. Sy gee hom 'n druk en 'n soen en staan laggend op. Sy gaan by die huisdeur in met stoflap in die hand.
enon (spreek van binne huisdeur, nog sigbaar).
Poelie, die man wat aankom, ken ek nou. Hy is net by die brug van die voor. Dit is dieselfde ou dronklap wat drie, of vier jaar gelede hier was - onthou jy, Vader?
Watter ou dronklap? Dronkenskap is nie so 'n onderskeiding dat ek dit twee of drie jaar kan onthou nie. Ek het nie jou geheue nie, Enon.
enon (kom na buite en leun oor tralies links van haar vader, kyk in die rigting van die pad. Sy praat met haar rug tot haar vader gekeer).
Jy herinner jou, Vader, die dag toe jy so vreeslik opgewonde geraak het? Oorlede Moeder kon jou nie weer tot bedaring bring nie. Sy het aan huile gegaan. Dit was vir ons twee alles vreeslik geheimsinnig, want ek onthou toe jou bui gesak het, was niks vir die vent te goed nie. Jy het gedwing dat hy hier moes slaap en tot byna dagbreek het jy die nag met hom in die vrykamer sit en gesels. Moeder en ek het met bewerasie en angs geluister, want af en toe was die teuels weer tussen die span. En die volgende dag het jy hom dorp toe in die kar geneem en dit was gelukkig die laaste sien van die blikkantien. Moeder en ek het nooit sy naam te hore gekom nie, en na sy vertrek het ons gou gewaar dat dit ons lewe werd is om van die besoek geen woord te fluister nie ... dan het Poelie se oë begin vonkel en die ou basuin word in sy stem hoorbaar ... Dit is dieselfde man ... weer in flenters, net soos die vorige keer. Ek hoop, Poelie, hy gaan nie weer 'n donderstorm op Windhoek veroorsaak nie. Ek het jou nooit só kwaad gesien nie.
Terwyl sy praat, slaan Van Rensburg eers geen ag op haar woorde nie. Haar rug is altyd na hom gekeer. Sy aandag is op die koerant gevestig. Dan keer sy gesig na haar en luister meer aandagtig. Stadig laat hy die koerant sak en sy uitdrukking toon toenemende skrik en ontroering. Met die laaste woorde druk hy die koerant op 'n bondel en gooi dit geweldig neer. Hy spring orent en neem plaas langs Enon.
Liewe hemel, Vader, wees tog bedaard. (Neem hom aan arm.) Wat het die man aan jou gedoen dat sy blote verskyning jou so opwen? ... Gaan binne, Vadertjie, ek sal van hom ontslae raak.
van rensburg (met sy hand aan voorhoof in diepste aandoening).
Wag, Enon,
| |
| |
wag! Sal ek van die vervloeking nooit ontslae raak nie? Was al my sielswroeging onvoldoende vergelding? (Hy loop rusteloos op en neer, nadat hy Enon se hande van sy arms losgemaak het.) Sal die bloedhond op my spoor bly, totdat die aarde genadig oor my stof sluit? Bly die stem van die grond tot in alle ewigheid roepende? (Skielik.) Gaan in, Enon ... ek moet hom alleen ontmoet. Kom, bly jy in die agterhuis en maak alle deure toe. Luister, Enon, ek verbied jou as jou vader om af te luister wat tussen ons gebeur. (Hy neem haar intussen aan die arm en dwing haar die voordeur binne. Sy stem is nog binne hoorbaar.) Maak die middeldeur toe en bly in die agterhuis totdat ek jou roep.
Goed, Vader, jy hoef nie onrustig te wees nie. Ek sal na geen woord luister nie! Maar in hemelsnaam, wat beteken dit alles, Poelie? Waarom kan jy my nie vertel nie? Dit is net ons twee in die wêreld.
Sy word onsigbaar, terwyl Van Rensburg haar voor hom uit dwing. Van Rensburg is nog sigbaar en sy stem nog hoorbaar.
Binne, binne! Maak die deure dig toe. Ek sal die meneer self ontvang. As hy dan dit so wil hê, sal hy dit so vind.
Deur klap binne; 'n paar minute stilte. Van Rensburg verdwyn 'n paar minute agter coulisse.
van rensburg (kom by voordeur uit met rewolwer in die hand wat hy besig is om te laai):
Drie, vier, vyf ... Petrus Coetzee, vuile bloedhond! Meer as 'n sekere las kan geen mens dra nie. Laat dit dan kom as dit moet kom, maar ek sal ten minste sorg dat jou mond ewig gesluit is. Die naam van my ongelukkige kind sal ek ten minste skoon hou.
Hy druk die rewolwer in sy baadjiesak en staan voor die hekkie met sy hand in die sak in wagtende houding. PETRUS COETZEE verskyn links agter die tuintralies en loop stadig voort na tuinhek, links. Hy is bejaard, lyk ouer as Van Rensburg, ofskoon tien jaar jonger. Baie liederlik geklee. Hy loop kruppel en rus een of twee maal op weg na die hek, met die een hand op die tralies. Hy het 'n dik kierie in die regterhand. Hy bekyk Van Rensburg en die huis stip, open hekkie en kom huiwerend na veranda-trappies aan. Wit baard. Hy neem sy verflenterde hoed af en vee sy voorkop met die hand af. Ruie, ongekamde, grys hare. Tekens van alkoholisme op sy aangesig. Krom rug. Voor die trappies gaan hy staan en bekyk Van Rensburg spraakloos. Hy gee 'n aaklige, senuweeagtige laggie. Hy leun op 'n dik growwe stuk hout wat hy as wandelstok gebruik.
petrus coetzee (staan onder veranda voor trappies, hoed in die hand; kyk op na Van Rensburg).
Alles in vriendskap, neef Hendrik. Alles in vriendskap en vrede, Hendrik! ... Soe, dit is warm en droog, droog, droog. Ek is kapot, neef Hendrik. Gedaan, gedaan ... Ek skaam my om te vra, Hendrik, maar ek is gedaan ... dit is die einde! ... As jy my net 'n klein bietjie brandewyn kan gee; net so drie druppeltjies. (Wys met vingers en duim.)
| |
| |
God help my! God help my! My arme kind.
Wat het jy in jou sak, Hendrik? ... Ek wil niks van jou hê nie. Ek beloof jou, Hendrik, op my erewoord. Ek sal om niks vra nie. Ek het net ingekom om te rus. Ek is gedaan.
Bloedsuier, daar is jou pad! As jy nog die entjie lewe wat jou voorlê, liefhet, trap! As jy jou voet oor my drumpel sit ... (Hy lig sy hand 'n weinig uit die sak.) My woord breek ek nie. Jy weet wat ek jou die laaste maal besweer het. Ek is klaar om dit uit te voer. Ek sal ten minste jou onversadigbare mond vir ewig sluit. Al jou beloftes en ede beteken niks. Net die dood sal 'n einde aan jou leuens en bloedsuiging maak. Dink jy ek hou 'n kantien vir dronkaards aan? Al was my huis vol drank, sou jy hier geen druppel kry nie. Maar dit is nie waarvoor jy gekom het nie. Dink jy ek ken jou nie van jou vuile voete opwaarts nie? Maar dit sal jy nog minder kry. My lewe is op die uiteinde en voor ek jou nog een oulap gee, sal ons twee saam vertrek.
Wag, Hendrik ... Is daar geen genade of jammerhartigheid in jou nie? Ons moet altwee voor die regterstoel staan.
Hou jou lasterlike mond, meinediger! Waarom is jy terug? Die laaste maal - drie jaar gelede - het ek jou genoeg geld gegee om vir jou hele toekoms te voorsien. Ek het jou grond gegee en jy het 'n plegtige eed gesweer dat ek jou nooit weer sou sien nie. Wat maak jy hier?
Jy is haastig en oplopend, Hendrik. Ek gaan niks vra nie. Ek het gekom om my seun op die dorp te ontmoet. Hy sal môre hier wees. Ek kon nie van honger sterf nie. Die ou stukkie grond is lankal verkoop. Ek kon daar g'n lewe op maak nie. Maar my seun is welgesteld in Johannesburg. Hy moet my help. Hy is my enigste kind en die wet sal hom verplig.
En waarom kom jy my huis weer verpes? Dit is seker nie blote liefde waaraan ek hierdie besoek te danke het nie. Waarom jou seun hier ontmoet? Waarom het jy nie direk na die stad gegaan en hom daar ontmoet nie - waar woon hy?
coetzee (sprei sy hande uit).
Kan ek so deur die strate van die stad loop? Die seun van my is in hoë kringe. Ek het tot dusver niks van hom gevra nie en twaalf jaar laas gesien. Toe my vrou my verlaat het, het sy die kind saamgeneem en van toe af het ek hom nie weer gesien nie. Maar hy het goed vooruitgegaan. Hy rig resiesperde af en het 'n goeie naam op die baan. Ek vra jou, kon ek hom in die skande steek voor sy hoë vriende, deur hom in flenters te besoek? Daarom het ek hom geskrywe om my hier op die dorp by prokureur Menzies te ontmoet. Hy het dadelik geantwoord en die dag bepaal. Ek dink hy is 'n gawe seun en sal sy plig teenoor sy ou vader doen. Intussen het ek jou in my ellende besoek, Hendrik. Ek weet dat jy niemand ooit verstoot nie ... As jy my net so 'n paar druppels brandewyn kan laat kry en 'n paar minute in die skaduwee laat rus, sal ek jou nie verder lastig val nie. Ek sal
| |
| |
êrens in die dorp 'n ou waenhuis of stal kry om in te slaap vir die paar nagte wat ek hier moet vertoef.
van rensburg (baie beslis en woedend).
Petrus Coetzee, jy is so 'n oorkruiper, so 'n slinkse bedrieër en leuenaar dat ek geen woord van jou kan glo nie. Jou plegtigste eed het jy self waardeloos gemaak. Ek glo niks van jou storie nie. Ek voel in my siel dat daar iets vals en verraderliks in steek. Maar een ding kan ek jou nou en hier voor God verklaar - as daar weer bedrog in jou teenswoordige opdaging steek, sal dit die einde wees. Ek is op die uiteinde van wat ek kan verdra; God weet dit en die dood is nie langer 'n verskrikking vir my nie. In enige geval, jy het jou kontrak van drie jaar gelede geskend - dat jy nooit weer 'n poging sou aanwend om my te sien en in geen geval trag om my in my huis te besoek nie. Daarom sal ek dadelik - vandag nog - aan prokureur Menzies op die dorp skrywe dat die tien pond wat hy namens my maandeliks aan jou uitbetaal, onmiddellik gestaak word. Dit was die voorwaarde van ons geskrewe ooreenkoms. (Hy open die hekkie, staan op die boonste trap. Bring rewolwer te voorskyn wat in sy hand hang. Wys links.) Gaan terug, Petrus Coetzee. Ek het nog beheer oor my gemoed. Sleep my nie verder in die versoeking nie - al wat my teenhou, is die gedagte aan my kind.
petrus coetzee (staan geruime tyd geleun op sy dik kierie, staar Van Rensburg stip aan - uiteindelik begin hy terugsukkel na links. Agter tuintralies gaan hy weer staan, spreek skielik in groot opgewondenheid).
Die geld staak? Hendrik van Rensburg, helfte van wat jy besit, behoort aan my. Dit weet jy in jou siel. Ook my hande mag met bloed bevlek wees, maar my siel is rein. Ek was 'n kind binne jou mag - maar die helfte is myne, ek het dit verdien - meer verdien as jy. Die geld staak, sal jy? Ons sal mekaar nader spreek. (Wys met sy kierie na Van Rensburg.) As jy manhaftig is, ek is ook nie bang nie. Ons sal mekaar nader spreek.
Gaan uit links.
Skerm
|
|