Eerste Toneel
Slaap
Verhoog stel 'n hoekie van 'n blomtuin voor.
tablo (Slaap). Blomme in middel van verhoog gegroepeer. Hulle sit met bruin manteltjies aan, bedek tot aan halsies. Almal sit in verskillende slaaphoudings, toe, koppies hang. Roos slaap met haar kop op die skouer van angelier, ens. Links, insekte gegroepeer, ook aan slaap. Heel agter vier groter meisies wat somer en winter voorstel, twee-twee eenders aangetrek.
Regs, Tuinman leun op graaf.
tuinfee (kom in en resiteer):
Die Tuinman
(A.G. Visser)
Spit, o tuinman, spit diep, tot die aardlippe klou,
drenk die vetste van die aarde met lawendste dou,
en dan ... wag. In die nag bring hy blomkelkies broos,
want hy ken die geheim van die vorm van die roos.
Snoei, o tuinman, snoei flink - hou die koppe gerig
na die son, want die roos is 'n kind van die lig;
laat 'n sonstraal hul wek met 'n kus uit die oos -
hy ken ook die geheim van die kleur van die roos.
Spoel, o tuinman, spoel goed - hou die vyande weg,
rein van bloesem en blad kom die roos tot sy reg.
Slaap dan sag, want hy kom voor die môre nog bloos,
en hy ken die geheim van die geur van die roos.
Vang, o tuinman, die attar wat drup in die nag,
en geniet van jou kleurkarnaval elke dag.
En as winter dan kom en jou tuin alles derf,
dink: Hy ken die geheim van die skoonheid wat sterf.