Versamelde werke(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Eonone Die woestynriet Ademloos van bly verwagting staan Eonone marmerblank na die vuur van haar versmagting, en haar lede weerspieël lenig slank in die laaste donker poel met 'n moeselien van maangeweef omwoel. En sy luister turend na die maangevlekte berge - na die berge grommend opwaarts beurend, waar die donderwolke hooggestapel aftrek met 'n kerende geblits; en vanuit die sombere draaiklok sien sy Mamatolas hoogste spits, haelgelakend in die maanlig, [pagina 1032] [p. 1032] onder hemele sterre-rein opkom uit die swart gordyn. En van verre hoor sy haar Geliefde, stil, in luisterende buiging, hoor sy ver die donder van Inkwedi, van sy krag en liefde die betuiging; krag wat nimmer skansing kan weerstaan, wat met jubelkreet en juiging wal en rots te mortel slaan. En met bleek-gestrykte wange - taning van haar hoë moed - hoor sy klaar die lied van sy verlange, - weerga van sy felle spoed; ver deur rots-gebaande gange weerklink luid die lied van sy verlange, keer die hyging van sy dors; vlug deur struikgewas en skansing dring die hoog-gespierde tors, dring haar sterk Geliefde juigend, kling in hande en die rondas voor sy bors. Deur slagskadu's kom Inkwedi, kom haar minnaar fier en fors, en van verre sien sy, trillend, waar die maanlig weerblink op die pantser van sy bors. Vas omring in ystervoeg en felsing, hygend, klaend, bewend, sak sy in die magtige omhelsing, en vanuit 'n vaste hawe adem sag die sug van haar oorgawe - treurig rys die sug van haar oorgawe. Drome ... geur van alle blomme, duisende beminde, blye andantino's van die winde! Dartel lag van duisend strome, waterlelies, liefdevolle, lome! [pagina 1033] [p. 1033] Droomgeskepte melodieë ver vandaan, glorie van die berge, hooglied van die bome, fakkeldans van sterre en maan! Drome!... Uit die swelgende ontmoeting, - wit en wonderbaar - met 'n laaste vlug' begroeting onverbiddelik sak die Liefdes-Ronselaar. Langs sy voorbestemde baan toef gestaag die donder van sy gaan; en Eonone, al haar skoonheid buigend in die wroeging van haar smart, luister angsvol na die juigend' minsang van sy stormgeskeurde hart; stil, met bleek-gestrykte wange, hoor sy luid die lied van sy verlange, en uit dieptes ver benee haar keer gesus die loklied van sy nuwe Liefde weer; deur 'n rots-gebaande boomallee kom sag die roepstem van die See, droomagtig ruis die lokstem van sy See. Heel haar lewe is verstoor, al haar vrede gaan te loor! van haar wisselende gloed en deemoed, van haar liefdetogtes-ongena bly 'n fluistering van weemoed wat die winde treurig dra; al haar vreugde wreed verdaan, van haar trilling en ekstase, van haar liefde bly 'n traan. Vorige Volgende