Versamelde werke(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die Oorwinnaars By die kindergraffies uit die Konsentrasiekamp van Nylstroom Oorwinnaars vir ons volk, bly u vir al wat beste in ons is 'n ewig' tolk; nooit weer sal vyandsvoet u stof so diep vertrap en smoor dat ons u langer nie kan sien - en hoor. Nie onse Helde, wat die magtig' leër op glansryk' velde kon weerstaan en keer; nie onse Seuns, wat aan die galg en teen die muur die diepe liefde vir hul eie moes verduur; nie onse Moeders, wat met bloeiend' hart en seer, in swart Getsemane die ware smart moes leer; nie onse Generaals, vereer met krans en riddersnoer; - was waardig vir ons volk die hoë stryd te voer en te oorwin. Nie ons, met vuile hand en hart ontrou was waardig om die vaandel hoog te hou. Maar u, o bleke spokies, in U kermend', klagend' wee, staan voor ons ewiglik beskermend - uit die lang verlee. Vorige Volgende