Versamelde werke(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende ‘Waar Tebes in die Stil Woestyn’ Daar sou ek vrede weer besef waar Tebes in die stil woestyn sy magtig' rotswerk hoog verhef en Mara in die sand verdwyn; waar smôrens van die hoogste krans die berghaan draaiend opwaarts spoed om uit die gloeiend' hemeltrans met groot geroep die son te groet; waar treurig nog die wolfgehuil weerklankend in die klowe dwaal, en grootwild om die syferkuil soos skadu's in 'n stofwolk maal; en huiswaarts brommend sluip die tier, sy donker moordplek pas verlaat, wanneer die eerste grou lumier met slepend' mis die veld beslaat. O Land van al ons liefde, daar sou ek aanbiddend weer die kloppe van u hart gewaar, u moederlike skoonheid eer. [pagina 1018] [p. 1018] Sou ek een guns nog hier verdien, - nog een gebed omhoog verhoord - geen mensepraal sou ek wou sien, die glorie van geen vreemde oord. My bede sou net dit verkry: - Laat weer U eensaamheid my daar vir laas met roerend' mag berei U groter stilte te aanvaar. Laat uitlok deur geen suil of steen 'n enkel sug of woord van haat; met al U vrede om my heen sal nagt'liks uit die hemelstraat sag neerskyn op my laaste huis die vonkelend' sterrebeeld van U kruis. Elk' ydel vrees sal daar verdwyn; daar sou ek vrede weer besef waar Tebes in die stil woestyn sy magtig' rotswerk hoog verhef. Vorige Volgende