Versamelde werke(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 1016] [p. 1016] Skoppensboer I 'n Druppel gal is in die soetste wyn; 'n traan is op elk' vrolik' snaar, in elke lag 'n sug van pyn, in elke roos 'n dowwe blaar. Die een wat deur die nag ons pret beloer en laaste lag, is Skoppensboer. II Gewis en seker is die woord: die skatte wat ons opvergaar, ondanks die sterkste slot en koord, word net vir mot en roes bewaar. Net pagters ons van stof en dons om oor te voer aan Skoppensboer. III Die heerlikheid van vlees en bloed die hare wat die sonlig vang en weergee in 'n goue gloed; die dagbreek op elk' sagte wang en oë vol van sterreprag is weerloos teen sy groter mag. Alreeds begint die rimpel sny; oor alles hou die wurm wag en stof en as is al wat bly: Want swart en droef, die hoogste troef oor ál wat roer, is Skoppensboer. IV L'Envoi Gewis is alles net 'n grap! Ons speel in die komedie mee [pagina 1017] [p. 1017] geblinddoek met 'n lanferlap wat selfs die son 'n skadu gee. Wat treur ons tog? Viool en fluit maak nog geluid, en lank die nag wat voorlê nog. Al kan ons nooit volmaaktheid raak, nog blink die oog en gloei die huid wat heel die winter blomtyd maak. Dus onverleë lag ons maar mee met elke toer van Skoppensboer! Vorige Volgende