Versamelde werke(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Klaas Vakie Hy stoot die voordeur stadig oop, en in die skadu sien ek hom; sy swart manel is oopgeknoop, sy snaakse lyfie hoepelkrom; sy lang gesig is uitgedroog, hy staat by my skaars skouerhoog! Sy ogies knip, sy lippe lag, sy langbol-hoed is in sy hand; hy kom van buite uit die nag, en bly net in die skadurand. Een kers brand stadig in die tuit, die ander flikker heen en weer; en langs my, deur die onderruit, daar loer die nag so swart as kruit! Die skadu's - kort en dik en bont - spring op die vloer soos lammers rond! [pagina 1015] [p. 1015] Tant Sannie sit nog kouse stop; haar naald blink nes 'n weerligstraal; haar lyf is alles dof en vaal; die kerslig skyn net op haar kop. Vlak voor my oë dans die dons, en as tant Sannie met my praat, dan gaan dit nes 'n brommer gons; haar woorde is so nors en kwaad. Die donker kruip uit elke skeur, dis alles deurmekaargevleg; ek sien hom nou - dan is hy weg - die snaakse outjie by die deur! Die donker wikkel om hom heen, dit gryp sy voet en dan sy been, en as my oë wyer rek dan staat 'n skadu in sy plek. Daar is hy weer, so skelm-slim! En voet vir voet bekruip hy my; ek sien sy skadu hoër klim, en tel sy knopies op 'n ry. Dis tante Sannie weer wat praat: ‘Kyk, Jannie, dit is baie laat en tyd vir kleintjies om te slaap - wat sit jy nog te snork en gaap, met reeds 'n krakie in jou nek? Nou, snuiter, kooi toe, op die plek!’ Ek ken die stem, nou moet ek hoor! En as ek opstaan om te gaan, dan kom hy weer van daarvandaan en trap so soetjies in my spoor! Vorige Volgende