Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 1004]
| |
3 Die Vaal KoestertjieDie klein meidjie, Nampti, die vaal koestertjie, was só klein dat die hansbokkies haar omstoot as hulle speel. Die ouma was só oud dat sy skaars elke dag kon hout bymekaarmaak. Nampti moes vuur maak, kos kook en die bokke oppas. En die ander op die werf het dié twee sleg behandel. As daar vlees kom, kry hulle niks, en die jong meide spot die ouma om sy krom loop en die een been kreupel is. Hulle noem haar die Ou Wolf.Ga naar voetnoot4. En Nampti kry op die vlakte 'n vaal koesternessie, en sy keer die bokke weg en sy sing vir die mammie:
Gampta, my vaal sussie!
Al wat ek in die wêreld het
buiten my ou ouma.
As jy bo in die lug sing,
kan jy al die wonderlike dinge onder sien:
| |
[pagina 1005]
| |
waar die hasie wegkruip
en die steenbokkie sy lêplek maak.
En die meide kan jou nie raak nie,
want jy is sterker as almal,
al is jy swakker as ek.
Selfs die bergleeu wat ons bang maak
as hy snags brul,
kan jou nie raak nie.
Ek sal jou oppas, my sussie,
tot al jou kleintjies groot is.
En die vaal koestertjie sing bo haar kop:
My vaal sussie Nampti,
ek sien jou!Ga naar voetnoot5.
Ek sal jou 'n groot ding vertel:
vannag toe die volstruiswyfieGa naar voetnoot6.
met haar kleintjies wegsak,
het die bergleeu, wat julle bang maak,
die gifstel in die fonteinkloof afgetrap.
En hy lê dood in die groot ghwarriebos.
Die een wat sy baardhaar onder die vel steek,
word 'n leeu, solank as die volstruiswyfie in
die groot veld met haar kleintjies wei.Ga naar voetnoot7.
En sy rol haar klein karossie oor die een arm en hardloop vinnig na die fonteinkloof; en in die ghwarriebos sien sy lê die bergleeu wat lank die werf bang gemaak het. En sy ruk die langste baardhaar uit en druk dié onder die vel van haar arm. En die koestertjie-wyfie sing bo haar kop in die lug: ‘Nampti, my vaal sussie! Nou is sy sterker as almal; en bo al die meide wat haar ouma spot.’ En die aand, toe sy by die huis kom met die bokke, sê haar ouma: ‘Waarom blink die oë so in die donker?’ En Nampti lag. En toe die maan uitkom, staan sy van die slaapmat op en sy gaat uit. En toe sy op die werf kom, huil die honde, en die bokke blêr agter die skerms. En sy siet haar skaduwee is die skaduwee van die bergleeu. En sy loop soetjies na die skerm van die Voorman, Oukiep. Hulle sit by die vuur en vlees braai, en om hulle staan die kalbasse met melk. En Nampti blaas deur die takke, en almal spring op en hulle hardloop in die strooihuis en slaan die deur toe, en sy hoor binnekant skree die meide. En sy vat die vetste van die vlees en die grootste kalbas melk, en sy dra dit na haar ouma. En toe hulle eet, sê die ou meid, wat blind | |
[pagina 1006]
| |
is in die donker: ‘Waarom lek my kleintjie met die tong as sy melk drink? 'n Mens drink nie so nie.’ En Nampti lag hard. En elke nag loop sy uit as die volstruiswyfie bo is, en al die beste kos op die werf dra sy in hulle skerm. En in die dag sê die jong meide: ‘Waarom is dit dat die Vaal Koestertjie so vet en mooi en groot word? Waar kry die ou krom Wolf die kos vandaan om haar te gee?’ En Nampti lag maar net. En toe sy groot word, sê al die jongkêrels: ‘Daar is nie een meisie op ons werf wat naby Nampti kom nie!’ En klein Oukiep, die seun van die Voorman, bring tien bokke na die ouma om vir haar te vra. En Nampti sê: ‘As jy my vaal sussie altyd sal oppas solank as haar nessie in die gras lê, kan jy my kry.’ En hy belowe. En dit was die grootste bruilof wat hulle ooit op die werf gehad het. En toe die kos uitgedeel was, bring Nampti 'n vet rietbok uit haar skerm. En klein Oukiep sê: ‘Watter soort vrou het ek gekry? Waar kry 'n meisie die krag om in die nag bokke te vang?’ En Nampti lag maar net; maar die bruidegom se hart bewe. En toe Nampti die dag in die veld loop, sing die koestertjie bo haar kop: ‘Nampti, my vaal sussie, moet nooit in die nag drink nie; en as sy wakker skrik, moet sy die karos oor haar kop trek.’ En die nag toe Nampti in die nuwe strooihuis slaap, skrik sy wakker, en sy staan op om water te drink uit die groot kalbas op die kosbank. En klein Oukiep siet haar, en hy kruip weg onder die kooigoed. En toe dit dag word, hou hy raad met die voormanne en die raadsmanne en hy sê: ‘In die nag blink haar oë soos groen vuur; en sy lek met die tong as sy water drink.’ En die raadsmanne sê: ‘Dit is 'n baie verkeerde ding. Ons sal vannag buite wag hou en deur die rookskeur loer, en as dit so is, sal ons die werf skoonmaak van die ongedierte.’ En Nampti hoor agter die skerm wat hulle sê. En toe die gras droog word, loop sy in die veld en sy roep: ‘O, my vaal sussie, die hart van jou sussie is seer. Jy het my gehelp en nou gaat ek deur jou woord in die groot ongeluk!’ En die trane loop uit haar oë. En die vaal koestertjie sing bo haar kop: ‘Waar is die gevaar? Is dit nie die werk van die man om boegoe te smeer aan die vrou se arms nie?’ En Nampti lag toe sy weer werf toe loop. En toe dit nag word, sê sy: ‘My man, is dit nie die gewoonte dat die man boegoe aan die bruid se arms moet vrywe nie? Waarom dan is dié gewoonte in ons huis dood?’ | |
[pagina 1007]
| |
En klein Oukiep vat die gemaalde boegoe uit die veldsakkie en hy vryf haar arms. En dit begin donker word; en agter die skerm sit die raadsmanne. En klein Oukiep sê: ‘Waarom blink my Nampti se oë groen in die donker?’ En Nampti lag. En hy sê weer: ‘Waarom word my Nampti se naels krom en lank?’ En Nampti lag. En sy stem bewe en hy sê: ‘Waarom is daar hare aan my Nampti se arms?’ En Nampti lag en sy sê: ‘Vryf die boegoe; laat ons by die gewoonte bly.’ En sy hart word swak; en hy sê: ‘Hier is 'n doring in my Nampti se arm.’ En Nampti sê: ‘Is dit dan nie die man se werk om dit uit te trek nie?’ En hy vrywe met die boegoe, en voel haar arm word die voorpoot van 'n leeu, en haar stem begin diep word. En hy trek die baardhaar uit en toe roep hy na die voormanne: ‘Dis 'n leeu! Help my, my Ta, of ek is gedaan!’ En hulle hardloop in met messe en ligte, en toe die strooihuis lig word, siet hulle in die middel sit Nampti, en klein Oukiep vryf haar arms met boegoe. En hulle sê: ‘Waar is die leeu?’ En klein Oukiep word skaam en hy sê: ‘Ek was bang in die donker. Ek het gedroom.’ En hulle groet Nampti met mooi woorde. En sy het altyd die voorste meid op die werf gebly. |
|