Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 1008]
| |
4 Die ReënbulDit is die groot gevaar wat die mense rantjies se kant toe laat uitslaan. Die eintlike woonplek is die vlakte, waar die baie wild is, en waar die sien ver is; waar die spoor diep lê en lank bly; waar 'n mens die wind kan ruik en die stofdamp op die lugrand kan sien. Almal is die vyand van die bobbejaan. As hy op die vlakte trap, dan skree almal: ‘Daar is hulle!’ Tot die kinders gryp hulle klein pyl en boog, en hulle oë glinster, en hulle begin koes-koes loop - as die bobbejane afklim. Van alle kante word hulle bekruip; wildehond, leeu, luiperd, wolf, jakkals - almal lek die lippe as hulle die woord hoor: ‘Daar is hulle!’ Daarom, omrede van die groot vyandskap, woon die bobbejane in die berge. As die mens soontoe trek, dan sê jy in jou hart: ‘Die groot moeilikheid het hom gedruk. Hy is nou op die ongesonde plek waar die springbokke nie woon nie en waar hy verniet 'n spoor soek.’ | |
[pagina 1009]
| |
Bo in die Langkloof het die ou meid Galepa haar hut gemaak, toe die werf op die vlakte vir haar nou geword het. En almal het gesê: ‘So is dit goed; nou is sy op haar plek. Laat haar daar tussen die bobbejane haar swart toorgoed maak, waar sy die mense nie mee kan hinder nie.’ Maar daar was hartseer onder die jong volk oor die twee klein kinders, Nampti en die Valkvlerk, die dogters van haar dogter wat sy dood getoor het; want dit was mooi meisies, wat die tamboer kon slaan en by die dans voor gestaan het, en al die jong volk het hulle kant toe gestaan as die jagters huis toe kom. Nampti was die een wat altyd lag, en hulle het haar die Hart-van-die-DagbreekGa naar voetnoot8. genoem. En toe hulle na die Langkloof getrek het, het van die jong volk baie keer berg toe gegaan om vrugte te soek. Maar die ou meid Galepa staan hulle voor en swaai met die arms, en sy sing 'n toorlied wat die hart swak maak:
Die vaal valkie maak haar nes in die krans;
verniet kom die weerwolf en die jakkals;
verniet loer die rooi mierkat.
'n Klip val van die hoogte af;
die bloedspoor staan vlakte toe;
haar nes is veilig.
Dan klap hulle met die tong teen die tande as hulle omdraai, en die een sê vir die ander: ‘Die ou een, Galepa, is al baie oud. As haar spoor doodgewaai hetGa naar voetnoot9., sal die jong meisies nie alleen in die berg woon nie.’ Die Valkvlerk maak kos bymekaar; hulle waterkuil was onder die laaste kransie, en Nampti gaan elke oggend met die breek van die dag om water te haal; en sy staan lank op die kliprand en kyk na die vlakte waar sy die roke van die werf kon sien, en haar hart treur binne haar. Sy lag nie meer nie; en sy sing die liedjie van verlangste:
Wat word van die meisie wat altyd alleen bly?
Sy wag nie meer vir die kom van die jagters nie;
sy maak nie meer die vuur van swartdoringhout.Ga naar voetnoot10.
Die wind waai verby haar ore;
sy hoor nie meer die danslied nie;
die stem van die storieverteller is dood.
G'n een roep haar van ver nie
om mooi woorde te praat.
Sy hoor net die stem van die wind alleen,
en die wind treur altyd
om hy alleen is.
| |
[pagina 1010]
| |
En sy siet haar skaduwee in die water, en die lag is ver van haar wange. Eendag, toe sy lank gestaan het, sien sy die jong volk met die honde en die veerrieteGa naar voetnoot11., want die springbokke het gekom. Sy het hulle trekstof lankal gesien. En toe sy weer in die water kyk, siet sy 'n miswolk oor haar skaduwee in die water, en sy sê: ‘Dit is die trane in my oë!’ En sy hoor die sing van 'n lied - saggies. En sy sê: ‘Dit is die klein kindjie van die Wind wat sing.’ Maar haar hart bewe in haar lyf. En dit gaan of die lied uit die water kom. En Nampti sê: ‘Die Wind ken my by name.’
Die spore van die Hart-van-die-Dagbreek! -
Lank het ek dit in die dou gesien
voor die son dit doodvee;
die klein spoortjies van Nampti,
wat my hart laat sing.
En sy wonder en kyk lank in die water, en diep in die skaduwee siet sy dit roer soos 'n bergwolk wat die wind beet het; en sy skrik en skep vinnig die water, en hardloop die kloof uit. En toe sy haar ouma en sus van die ding vertel, toe sê die suster: ‘Jy hoor dinge, en jy siet ander dinge wat nie is nie. Dit is jou dinksnare.’Ga naar voetnoot12. En die ou meid gee haar toorgoed om in die water te gooi; en sy sê: ‘Dit is 'n ongesondheid wat daar bly.’ En die ander dag gaat Nampti vroeg, en sy gooi die toorgoed in die water; en daar kom 'n groot roering in die water, en voor sy nog kon skrik, staan 'n jong jagter voor haar op die rand, met 'n lang boog in sy hand; sy arms was blink van die ringe, en om sy nek was baie krale, soos die reënboog. En hy hou Nampti vas aan die karos, en sê mooi, baie mooi woorde. Maar haar bloed is koud van die groot skrik, en sy sê: ‘Hoe is dit dat jy hier is, en jy is nie van ons mense nie? Die jagters is almal by die springbokke, en jy is op die berg.’ En hy lag vir Nampti, en hy sê: ‘As jy môre kom om water te skep, sit al jou aanhanggoedGa naar voetnoot13. aan.’ En sy sê: ‘Dis nie ons gewoonte om by die werk krale en bande aan te sit nie.’ En toe sy water skep, sê hy: ‘Dit is myne.’ En sy loop vinnig weg met die kalbas op haar kop, en toe sy ver was, kyk sy om, en sy siet hy gaat weer die water in, en daar kom 'n wolk oor die kuil, en dit dryf weg oor die olienhoutbome. En daar was 'n groot wonder in die hart van Nampti. En toe sy haar ouma vertel, sê die ou meid: ‘Dit is die Reën.’ En sy vertel die groete wat sy moet sê as hy weer kom; en die ouma sing 'n blydskapslied. En die Valkvlerk sê: ‘Die meisie droom as die son skyn. Daar sal verkeerde dinge met haar gebeur.’ | |
[pagina 1011]
| |
En toe sy die anderdagmôre langs die paadjie afkom, was daar van die jong jagters van die werf naby die berg, om veerstokkies vir die springbokke te steek, en hulle roep na haar: ‘Wanneer kom jy weer, Nampti? Ons hart wag vir jou! Die vlees is volop, en ons dans elke dag by die vure. Môre sal ons jou vlees naby die water bêre.’ Maar sy sê niks. Sy swaai net met haar hand, want haar hart was vol wonder oor die Jagter-van-die-Water. En toe sy by die Klipkuil kom, siet Nampti hy sit op die rand en hy kyk diep in die water; en sy kruip weg agter die olienhoutstam, want sy is skaam omdat sy haar krale aanhet in werktyd. En sy hoor hy roep saggies: ‘Nampti, Nampti, die son brand jou spore dood. Ek wag, ek wag!’ En toe sy uitkom, wink hy met die hand, en hy sak stadig in die water weg, en sy siet net die groot wolk bo die water. En sy wag lank voor sy skep; maar toe sy buk met die kalbas, hoor sy hy sê uit die water: ‘Dit is myne!’ En die water roer, en 'n dik wolk maak alles toe, en sy siet die ReënbulGa naar voetnoot14. kom uit die wolk, en hy buk voor haar. En sy voel haar hart roep haar om op te klim; en sy sit die kalbas neer en klim op sy rug, en sy voel hy loop uit die wolk weer die water in, en sy druk haar oë toe, en sy voel dit kom om haar lyf. En toe sy weer die skyn van die son voel, maak sy haar oë oop, en sy siet sy is op 'n groot werf met nuwe strooihuise soos van 'n bruidegom. En daar brand 'n vuur, en sy siet die bokke in die skerms, en alles volop. En by die groot vuur staat die jagter met die lang boog, en hy roep haar soos die bruidegom die bruid roep. En die ander môre toe die springbokjagters die vlees bring, toe sien hulle die Valkvlerk kom die paadjie af met die kalbas. En hulle roep: ‘Hier is die present vir Nampti!’ En sy sê: ‘My suster het weggeloop vlakte toe. Haar laaste spoor was by die water.’ En hulle gee die vlees aan die Valkvlerk, en almal se hart was seer oor die wegraak van Nampti. |
|