Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 999]
| |
2 Die Lied van die Reën
| |
[pagina 1000]
| |
En die reën bly weg, en die reën bly weg. En almal buite die werf van die Bessiebome was vaal, want die vet was gedaan en die honger groot. Hulle soek wortels tot in die nag, en suigwaterGa naar voetnoot3. was al wat oorbly. En toe die reën baie wegbly, roep Tuit-Miershoop, die Voorman van Das-se-Kant, die Groot Raad bymekaar. En Krom Joggom Konterdans werk aan die viool. Hy het die oues by die vuur hoor vertel dat die Baas-geluidmakers vanmelewe fyn snare gedraai het uit garingvlees van die witrugratel; en dat elkeen vir 'n maand gestryk word met elandswortel tot elke draad 'n spinnerak is. En die horinghout wat in die klipskeure groei, word met wit sandklip geskuur totdat dit in die wind gons, en dan word die gate oor 'n tambotiehoutvuur gebrand, en dit was dit viool van die Baasspelers wat die Grootrivier deurgetrek het met Jonkman Afrikaner. En Klein Joggom Konterdans het die ratelsening gevat, en lank in die berge gesoek; en saans, as die kleingoed uintjies grou, dan haal hy elandswortels uit in die sandvlakte; en hy het die snare gedraai en gestryk tot hulle soos haeldrade lyk; en snags op die slaapmat vryf hy die horinghoutdop totdat dit dreun soos wind in die groot spelonk. En die reën bly weg. En die Sterk Raad kom bymekaar by die werf van Das-se-Kant, en almal kla oor Makding en die Bessiebome, en vertel van die groot Skuinswater en die volop kos. En die ou meid Nasi-Tgam neem die woord: ‘As ek in die holte van die nag naby die Bessiebome kom, dan hoor ek mense loop onder die wind. Dis die dooies van Heitsi-eibib wat die Wet van die Bessiebome gemaak het: Die Sterkman word gekies en die Sterkman moet oppas; maar as die reën wegbly en die groot honger kom, dan moet die kos en water gedeel word. Ai! waar is die jagters van die ou tyd, en die man wat die groot lied kan maak? Waar is die oorlogman wat die vaal Leeu aan die stert gryp en sê: “Boet, ek is hier?” Waar is die Baas-Liedmaker? Want ek hoor sê dat die Een by die Bessiebome groot woorde praat dat daar nie ander spelers is duskant die rivier nie. Jakob Makding het groot geword onder sy mense, om hy baie liedjies kan maak, en daar was geeneen wat saam met hom kon speel nie. En hy was 'n uithaaljagter. Ai! ons jagters! As Pylstert hoes, dan stoei hulle met die dassies by die klipskeure om wegkruipplek te soek. En die dooies wat in die nag onder die wind loop, sê dat as die man kom, die beste liedmaker, sal Jakob Makding slap word sonder één slag. Die winter sal oor hom trek; sy blare sal afval.’ En toe vat Tonteldoos Vuurdop, Ta van die werf Wienslig, die woord. (As dit by praat kom, staat hy nooit ver nie.) En hy sê aan die ou meid Nasi-Tgam: ‘Van die gryp aan die leeu se stert kan ek nie sê nie, want die Man het baie volk en skanse, en hulle sê ook van 'n kapmes. Maar as dit op die speel aankom en die lied maak, dan is jou Boet van Wienslig nog hier. Waar is die dreunstok, en die lied van die Kwagga wat hy vanmelewe gemaak het? As hy snags by Wiens- | |
[pagina 1001]
| |
lig blaas, dan gee die mannetjieleeus antwoord, onder by die Biesiepan, waar die bossies klein word.’ Toe sê die ou meid Nasi-Tgam: ‘My Boet van Wienslig het die woord gesê. Dis hy wat vannag by die Bessiebome, binnekant die werflyn, sal blaas. Dis hy wat ons die water sal teruggee.’ En almal sê dis die waar woord, en hulle praat mooi goed van Tonteldoos Vuurdop; en Tuit-Miershoop van Das-se-Kant roep hom sy swaer. Maar Tonteldoos loer die ou meid Nasi-Tgam onderdeur. En toe die Raad binne woel, het Krom Joggom Konterdans 'n vuurtjie van tambotietakkies agter die bokskerm gemaak; en vir laas stryk hy sy snare met die vars sop van elandswortel, totdat hulle lyk soos die reën wat deur die vuurlig skiet; en hy kleur die horinghout in die tambotierook, en hy rek sy strykstok van kwaggastert, en hy span sy snare en draai die ore vas, en hy stryk saggies met die boog. En hulle in die tgorra luister. En Tonteldoos sê: ‘Wat hou ons raad en praat van liede blaas? Hier kom die reën!’ En toe lag die kleingoed buitekant: ‘Narri! Nie één blits nie! Dis Joggom Konterdans wat sy viool maak.’ Maar toe hulle uitkom, was die vuur dood en hy was weg. En dié nag luister hulle by Das-se-Kant na die Bessiebome se kant om die dreunstok van Tonteldoos te hoor. En die ou meid Nasi-Tgam sing die liedjie van die Nastergal wat weggeraak het toe dit sy wagbeurt by die tiergat was. En toe die rooidag kom, toe hoor hulle Leeu Makding blaas op sy tromp onder op die werf van die Bessiebome. Toe sê Tuit-Miershoop: ‘Nou weet ek! My ou swaer Tonteldoos is oorlede!’ En hulle lê weg Wienslig toe om die jammer woord aan sy familie te sê. En toe hulle bykom, siet hulle Tonteldoos sit in die sonnetjie in die hoek van die skerm, en hy vryf sy bene met likkewaanvet. En hy sug diep. Toe sê Miershoop: ‘Nou weet ek! Die stutpaal van ons huis is gebreek! Die eierdop van my swaer se dreunstok is stukkend!’ En Tonteldoos sug weer. En hy sê: ‘My ou boet, om jou die eintlike waarheid te sê, die eierdop is heel en die dreunstok nog krybaar - maar om jou die werklike waarheid te sê, dis van my ou oompie - julle weet almal my ou oompie hang al lank tussen die lewe en die dood; en toe ek alles klaargemaak het in die donker, toe kry my ou oompie skielik die swart kramp in sy maag. Ek sien dis 'n swaar siekte, en die meestergoed is skaars; my hart verlang na Jakob Makding, maar wie kan sy voorste familie met groot siekte alleen in die nag laat bly? Nou is daar weer gesondheid op die werf.’ En almal sê dis die waar woord. En die ou meid Nasi-Tgam sing saggies: ‘Ai! die swart kramp! die swart kramp!’ En Tonteldoos Vuurdop loer haar onderdeur. Dit was die tyd toe een van die kleingoed van die vet meid van Putkuil die | |
[pagina 1002]
| |
pylkop ingesluk het, en sy het àl die mense uitgenooi om te kom huil. Dit was die grootste huil van daardie droogte. Hulle het die maer skaap wat die jakkals gevang het opgesny, en elkeen het 'n koeël stertvet gekry. En Klein Kort Joggom Konterdans loop deur die veld van die werf om uintjies te soek, en sy viool is in sy hand. En toe die oues voor die strooihuis huil, skreeu die kleingoed: ‘Hier kom iets! Dit gaan soos 'n slang in die droë gras.’ En hulle hoor die speel van die viool, en hulle begin met die voete, en die oues staan op, en hulle sê: ‘Arrie! is daar 'n bruilof in die land?’ En toe hy naby kom, stamp almal met die voete. En binnekant lê die kleinding dood aan die pylkop. En die ou meid Nasi-Tgam gaat hom tegemoet, en sy swaai die groot swart karos, en sy gaat hom tegemoet met 'n kalbas maas en 'n hand gelykvol stertvet. En van ver af sê sy: ‘Heitse! die Krommetjie! Die Geel Bobbejaantjie wat agteruit kyk en die tier laat stuit! Hy is dit wat Makding die wegtrekpad sal wys en wat die Bessiebome sal red!’ En sy gee hom die klein spieëltjie wat sy vanmelewe uit swart harnosterhoring gevryf het; en ook die groot kopernekring van Heitsi-eibib. En die oggend met die word van die dag sit Konterdans op die Spitsklip binnekant die werflyn van die Bessiebome; dit is op die punt van die Skuinswater; en hy draai sy rug na die werf se kant. En voor hom lê die harnosterspieël van Nasi-Tgam, sodat hy alles agter kan sien; en hy is blink gevrywe met die stertvet. En om sy kop hang drie mierkatvel-klossies; en om sy nek is die groot kopperring van Heitsi-eibib. En hy maak die Lied van die Reën. En Jakob Makding, toe hy sy tromp vat en sy mond ooprek om te blaas, toe bly hy so staan. En sy kleingoed storm van die werf se kant en hulle skree: ‘Ons Ta, ons Ta, daar is een op die bakenklip by die Skuinswater wat net sy rug wys. En die mense dans in die skerms.’ En Jakob Makding gryp sy kapmes, en hy roep na die oorlogsvolk, maar daar is nie antwoord nie. Hy hoor hulle sê: ‘Klips! maar dis die Baasspeler daardie een.’ En Makding slaat die groot tamboer, en hy roep: ‘Vandag nooi ek àl die aasvoëls uit! Vandag gaat die groot slag by die Bessiebome wees!’ En hy bekruip Konterdans agter die doringskerm van die Skuinswater. En Konterdans sing die Lied van die Reën, en hy speel op sy viool. En Makding siet sy eie volk gaan hom tegemoet, en hulle dans en sê mooi woorde vir Joggom Konterdans. En bo-op die bult siet hy die ou meid Nasi-Tgam en sy sprei die swart karos wyd uit, en agter haar kom die volk van al die ander werwe, met kalbasse en eierdoppe klaar vir die water, en hy voel sy hart word slap. | |
[pagina 1003]
| |
En Krom Joggom Konterdans speel die Lied van die Reën, en hy loer hom in die spieël. En toe gooi Jakob Makding sy kapmes in die Skuinswater, en gaat sit in die stof, en hy roep: ‘My kleingoed, my kleingoed, julle ou Ta se ryperd is dood!’ En dié dag het die ou meid Nasi-Tgam die Wet van die Bessiebome weer vertel, en dit was Krom Joggom Konterdans wat die water uitgedeel het. Die Lied van die Reën
(Van Krom Joggom Konterdans)
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oë is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand.
Haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans.
En sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte.
Hulle dam op die bulttop.
Wyd rek hulle die neusgate,
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
‘Ons Ousus! Ons Ousus! Jy't gekom! Jy't gekom!’
En haar krale skud,
tot die oudstes op die slaapmatte wakker skrik in die nag
en gesels in die donker;
en haar koperring blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Ousus!
|
|