sy lewe was. Hy word hier spesiaal genoem omdat hy die Van Stadens se naaste buurman was. Behalwe hulle het hy ook eerste van die vreeslike tragedie gehoor en met die onmiddellike omstandighede kennis gemaak.
Dit was 'n Saterdagaand.
Die Van Stadens het na gewoonte vroeg geëet, waarna tant Betta en Lenie le Roux in gemakstoele op die stoep gaan sit het om die heerlike koelte van die nag te geniet. Dit was volmaan en daar was iets onbeskryflik betowerends in die donker skaduwees van die massiewe doringbome, opgeluister deur die sagte glans van die maan wat nou reeds hoog bo die boomtoppe die hemel in die ooste beheers. Dit was stil, soos altyd snags in Sonop. Af en toe was daar die getjank van 'n jakkals êrens tussen die buitewerwe van die dorp, die geblaf van 'n hond of die treurige hoe-hoe van 'n gehoringde uil, maar anders was die stilte onafgebroke.
‘Wat 'n heerlike nag!’ sê Lenie, en ná 'n pouse: ‘Ek het verwag Jan Foster en Willie Serfontein sou my besoek om verskoning te vra vir hul gedrag van gisteraand. Altwee het dit ten minste belowe, en ek dink dit kom my toe.’
Tant Betta slaak 'n diep sug. Sy het nooit eintlik van die danspartye gehou nie. ‘Ag Lenie, ek het jou gesê daar sal niks goeds van kom nie ... Daar is nog tyd om dit af te skaf.’
‘Onsin, vrou!’ brom oom Willem. ‘Dit is nie die dans wat die lawaai veroorsaak het nie. Dit kon net so maklik by Nagmaal gebeur het ...’ Hy wil sy argument nog verder voer, en tant Betta is klaar om op haar sagmoedige wyse te antwoord, maar Lenie wil aan so 'n gesprek nie verder deelneem nie. Sy staan skielik op met die woorde: ‘Dit is so 'n heerlike aand, tant Betta, ek gaan 'n entjie loop. As een van hulle kom, sê hom dan ek het die Rooikrans-voetpad geneem en hy kan my tegemoetkom.’ Met 'n vrolike laggie is sy by die voorhek uit, om spoedig tussen die donker skaduwees van die bome te verdwyn.
Dit was die laaste keer dat iemand op aarde haar stem gehoor of haar lewend gesien het. 'n Halfuur, seker nie langer nie, het die ou egpaar Van Staden in stilte gesit. Hulle het self ook onwillig gevoel om Jan Foster en Willie Serfontein se gedrag verder te bespreek. Buitendien kon een of albei binnekort hul verskyning maak, en dan sou die omstandighede ongemaklik genoeg wees.
En toe, deur die groot stilte, hoor die ou egpaar skielik 'n geluid, 'n geluid so verskriklik dat dit hulle albei orent uit hul stoele ruk.
‘Wat is dit?’ roep tant Betta, een hand vas oor die hart gedruk.
‘Bring my geweer! Maak gou, Betta!’ beveel oom Willem terwyl hy na die voorhek beweeg.
Die geluid het uit die rigting van die Rooikrans - voetpad gekom. Dit was 'n gil, 'n skreeu, skielik afgesmoor asof 'n groot, forse hand oor die mond van die skreeuende persoon gedruk is. Dit, altans, was wat die oumense later oor en oor aan ondersoekers sou vertel.