te rig en weer min of meer bewoonbaar te maak. Van alle kante word hulle deur vrolike stemme verwelkom: ‘Oom Gillie word elke jaar jonger ... dié skoot gaan die “groot geluk” kom, Omie; wees seker daarvan.’
Oom Gillie beantwoord almal met 'n vriendelike laggie; hy was opgeruimd want dit was weer 'n nuwe delwery en oom Gillie se grootste geluk, groter as wat 'n steen van tien karaat sou gewees het, was dat die hoop hom nooit begeef het nie. By elke verhuising het die hoop weer helder uit die ashoop van teleurstelling opgevlam.
‘En hoe lyk die gruis hier, Pieter?’ vra hy aan een van sy helpers - altyd die delwer se eerste vraag.
‘Mooi, mooi, oom Gillie, as jy op die streep pen. Ek sal Oompie wys, jy kan nie verkeerd gaan nie.’
Almal het gehelp om oom Gillie se kleim uit te soek en dadelik was 'n paar jongkêrels by om oom Gillie en sy ou handlanger te help met die wegpik van die bolaag.
Oom Gillie was drie-en-tagtig jaar oud toe hy sy geluk op Donkerpoort kom beproef.
Toe hy die aand moeg, afgemat en verbrand deur die gloeiende son by sy kaia aankom, kon sy ou gade dadelik bespeur dat die hoop weer sterk was. Dit was nie nodig om iets te vra nie. Hy antwoord op haar onuitgesproke vraag: ‘Dit lyk baie mooi, ou vrou. Oor drie dae sal ons 'n was klaar hê. Piet de Lange het my sy masjien geleen. Die gravel is pragtig. Dié keer sal ons Lieweheer ons nie vergeet nie. Dié keer sal Hy ons seker die groot geluk skenk sodat ons die verband kan afbetaal en ons laaste dae op die plaas deurbring. Ek voel ons gaan nog eendag daar begrawe lê.’
Dit was die grootste begeerte wat nog in die harte van die twee oumense voortgelewe het: om op Rietfontein die laaste asem te trek en daar begrawe te lê by die ou kraal langs die brawe voorsate wat Rietfontein aangelê en aan hulle toevertrou het.
Na gewoonte het oom Gillie die aand toe hy ‘Boeke neem’, die groot geluk in sy gebed herinner. Hy het om genade gesmeek - genade in hierdie rigting, nie soveel vir homself nie maar meer bepaald ter wille van sy arme seun, daar ver in die vreemde stad waar hy aan alle gevare blootgestel was en alle lyding moes ondergaan. As hy net genoeg kon maak om Rietfontein onbelemmerd aan Koos te oorhandig.
‘Ja, die arme skapie, as ons hom net eendag kan gelukkig maak,’ sug tant Maria.
Gelukkig dat hulle die ‘arme skapie’ nie by die geleentheid kon sien nie: in skitterende gewaad by 'n kaarttafel met 'n whisky en soda byderhand. Af en toe het Koos onverwags by hulle opgedaag. Hy had 'n neus soos 'n jaghond. Sy besoeke aan sy ouers was altyd kort ná elke bitter seldsame gelukkie wat hulle