van die tafel sit 'n bejaarde man met lang wit baard en 'n ruwe bos grys hare. Dit was aan hom wat Minnie die kos bedien. Telkens buig hy oor die tafel om iets in haar oor te fluister, wat sy op dieselfde wyse weer beantwoord.
Wat in hemelsnaam kon dit beteken? Daar was nie aan te twyfel nie dat hierdie geheimsinnige ou man altyd in die geslote kamer of die myntonnel weggekruip het en dat hy alleen snags kon waag om uit te kom. Hier was tegelyk die uitleg van die klap van die deur wat ons gehoor het die eerste nag toe Minnie ons op die drumpel voorgestaan het.
Nooit vir een oomblik, terwyl die skouspel sigbaar was, het die heer Wessels sy oë van die loergat weggeneem nie. Aan sy asemhaling en die klop van sy hart kon ek verneem dat hy onder 'n toenemende gevoel van die diepste aandoening en opgewondenheid verkeer.
Eindelik gee hy 'n diep sug en tegelyk 'n uitdrukking van die uiterste verbasing. ‘Liewe Here! Nou weet ek! Petrus Steyn, uit die dode opgestaan!’
Hy het so onversigtig hard gefluister dat die twee in die ander kamer iets moet gehoor het, want met 'n skielike verskrikte gryp van sy hand druk die ou man die kers op die tafel dood en dié nag het Minnie haar verdere werksaamheid in die donker verrig.
Op my gefluisterde vrae wou die heer Wessels g'n antwoord gee nie. ‘Wag, boet,’ sê hy steeds, ‘laat my dink. Dit is alles baie lank gelede en ek het baie vergeet. Môre sal alles duidelik gemaak word.’
Toe ons die volgende môre ontbyt eet in die kamer wat ons tegelyk as slaapkamer dien, vra die heer Wessels skielik aan die meisie: ‘Het jy al ooit van 'n amnestie gehoor, Minnie?’
‘'n Amnestie?’ herhaal sy. ‘Nee, meneer, wat is dit?’
Sy was klaarblyklik die een of ander interessante stukkie nuus uit die verre wêreld te wagte, en haar vonkelende swart oë was stip op oom Wessel gerig.
‘'n Amnestie is 'n wet of proklamasie wat die regering uitvaardig, gewoonlik by die een of ander groot publieke gebeurtenis, soos die kroning van 'n koning of die besoek van 'n prins, waardeur gevangenes of beskuldigdes vrygelaat word of vergifnis van hul misdade ontvang. Luister nou mooi, Minnie: Vroeg in 1897 het die Britse regering amnestie uitgevaardig. Dit was die koningin se kroningsdag. In hierdie amnestie is almal wat van politieke misdade in Betsjoeanaland verdink is of nog tronkstraf het, vrygelaat. Onthou, Minnie, vroeg in 1897! Enige persoon wat voor dié datum in Betsjoeanaland aan moord skuldig bevind is, is deur hierdie amnestie 'n vry man gemaak.’
Met een hand oor haar mond gedruk, staar Minnie hom met verwilderde oë aan. Sy was sprakeloos van skrik en aandoening. Dit was duidelik te sien dat oom Wessels se woorde die diepste ontroering by haar veroorsaak het. Voordat sy 'n woord kon sê, stap hy na die middeldeur, gee 'n paar harde slae daarop en roep luid in sy groot basstem: