| |
| |
| |
7 Die Man te Perd
'n Ware spookstorie
Die gedaante waaroor die volgende verhaal handel, het drie afsonderlike male verskyn, op die verskillende plekke, almal egter binne 'n sirkel van uiters drie myl in deursnee. Daar was 'n maand tussen elke twee verskynings want die gedaante had die eienaardigheid dat hy hom omstreeks volmaan aan mense vertoon het. Daar was gerugte van baie meer male waarop die gedaante in hierdie omtrek aan blankes en swartes sou verskyn het, maar ek skryf net van die besondere drie kere omdat hulle al drie in my onmiddellike nabyheid gebeur het en omdat die getuienis, wat hierdie drie verskynings betref, volgens my mening bo alle twyfel verhewe is. Ek het self nooit die gedaante gesien nie maar ek stel net soveel vertroue in die verklarings van die mense wat dit gesien het as wat ek in my eie sintuie sou gestel het.
Of ek werklik glo dat dit 'n spook was; of ek in spoke in die algemeen glo; of ek dink dat die gedaante objektief (uitwendig) was of subjektief (inwendig), 'n skepping van die menslike verbeelding, dit is almal vrae waarvan die antwoorde vir die lesers van minder belang sal wees, derhalwe sal ek hulle nie hier aanroer nie. Ek sal enkel die storie vertel soos ek daarmee in aanraking gekom het en die leser oordeel self omtrent die geloofwaardigheid van die getuienis. Volgens sy geloof sal hy salig word.
Dit het gebeur ongeveer twaalf jaar na die Driejarige Oorlog. Ek was destyds spesiale vrederegter en het gewoon op die plaas gemerk N op die aangehegte kaart. Die plaashuis was ongeveer 1½ myl van die polisiestasie, waar ek eenmaal in die week hofsitting gehou het.
Die polisiestasie was teen die steil helling van 'n rant. Onder teen die voet van die rant het die grootpad na die spoorwegstasie geloop (H-H). Die polisiegeboue het bestaan uit: B slaapvertrekke van blanke polisie, C stalle, D hof, E tronk, en F hutte van swart polisie. Kort onderkant die polisiestasie was 'n klomp groot los rotse (G) - party so groot soos huise - en om die rotse het die grootpad 'n halfsirkel gemaak. Aan die ander kant was weer 'n absoluut reguit afdraande pad vir ongeveer drie myl (H H) met 'n diep, ondeurgangbare donga (K K) aan die regterkant en 'n steil, rotsagtige rant (M M) aan die linkerkant. Dit is van die grootste belang in die beoordeling van hierdie verhaal om altyd te onthou dat geen perderuiter van die grootpad kon afkom sodra hy die los rotse verby was nie omdat geen perd die rant M-M kon uitkom of die donga K-K kon deurgaan nie. Vir iemand wat by die rotse (G) staan, sou 'n perderuiter op die grootpad (H-H) in helder maanlig vir drie myl sigbaar wees. Dit is deur werklike proefnemings bevestig. Die pad H-H was van melkwit gruis.
Die bemanning van die polisiestasie het bestaan uit een sersant, een korpo- | |
| |
raal en twee manskappe, asook ses swart konstabels. Die blanke korporaal was slegs tydelik by ons gestasioneer. Die sersant wat in bevel van die pos was, was 'n Australiër, vet, gemoedelik en vrolik en het seker nooit 'n teken van bygelowigheid of senuagtigheid getoon nie. Die korporaal was 'n Engelsman wat lank in bevel was van 'n pos aan Krokodilrivier. Een van die manskappe B, was 'n Afrikaner wat in ons oorlog beroemd was vir sy dapperheid en onverskrokkenheid. Hy is drie maal gewond. Hy was van geaardheid kalm en bedaard, geneig om die spot te drywe met alle stories omtrent bonatuurlike dinge en wesens.
Hy was die enigste getroude en had sy vrou en haar jonger suster, mej. X, by hom op die stasie.
Hier moet nog net bygevoeg word dat die hele omtrek ruig begroeid is met bosse en bome waardeur die voetpad R-R tussen die plaas en die polisiestasie heen vleg. Die plek is geleë in wat toe een van die mees afgesonderde Bosvelddistrikte van Transvaal was. Dit was vyftien myl van die naaste spoorwegstasie af, met 'n baie yl verspreide blanke bevolking. Swartes was egter volop.
Die leser het nou 'n oorsig van die terrein en die vernaamste persone wat deelgeneem het aan die drama wat ek nou gaan beskrywe.
Een oggend vroeg kry ek met een van die swart konstabels 'n briefie van die sersant waarin hy my vra om gedurende die loop van die dag na die stasie oor te kom, daar hy iets van belang het om my mee te deel. Hy kon nie na my kom nie omdat hy alleen op die stasie was. Die korporaal en die twee manskappe was van die vorige dag al op patrollie uit. Sy briefie het so belangrik geklink dat ek dadelik 'n perd laat opsaal het en met die swart konstabel langs voetpad R-R (my gewone weg) na die stasie toe saamry.
By die polisiestasie aangekom, kon ek onmiddellik 'n groot verandering in die sersant se gedrag bespeur. Hy was 'n vet man, en gewoonlik vrolik en opgeruimd. Nou was hy egter in 'n ernstige en bedeesde stemming. Sy eerste woorde, in Engels, was: ‘I saw something wonderful last night.’
Klaarblyklik was hy so diep onder die indruk van sy waarneming dat hy dit dadelik aan iemand moes vertel. Daar was miskien ook die hoop dat hy van my een of ander uitleg sou kry wat sou strek om sy ontroering tot bedaring te bring. En dit was die storie wat hy my te vertelle had:
| |
Eerste verskyning
Die vorige nag moes hy alleen op die stasie deurbring, daar sy drie makkers almal op patrollie uit was. Van die swart polisie was drie glo ook by die stasie. Omstreeks elfuur het hy gaan slaap, maar 'n uur later skrik hy skielik uit 'n diep slaap wakker met 'n onverklaarbare gevoel van onrus wat weldra tot angs styg. Wat hom gewek het, wis hy nie, maar skielik kom by hom die gedagte op
| |
| |
dat sy perd met die voetpad S-S afgeloop het na die grootpad H-H en aan weglope was in die rigting van die spoorwegstasie. Hy erken dat, indien hy in 'n toestand was om na te dink, hy dadelik sou ingesien het dat die gedagte onsinnig was. Sy perd was 'n ou gesoute merrie wat al jare op die stasie was. Dit was sy gewoonte om haar snags los te laat en die stal oop te laat met 'n krip vol voer sodat sy te enigertyd kon inkom. Wegloop was nie aan te denke nie. Waar jy haar ook mag loslaat, sou sy altyd na die stasie terugkom. Dit is belangrik om dit alles te weet by die beoordeling van die sersant se gemoedstoestand.
Die onsinnige oortuiging word by hom al hoe sterker en uiteindelik moes hy toegee aan die onweerstaanbare drang om die wegloop van sy perd te verhinder. Hy trek sy pantoffels aan en so, in slaapklere geklee, stap hy by die stal verby met die voetpad S-S af na die rotse G-G. Later het dit geblyk dat sy perd al die tyd in die stal was, maar so seker was hy van haar weglopery dat die gedagte selfs nie by hom opgekom het toe hy by die oop stal (C) verbyloop om in te kyk nie.
Dit was volmaan of naby volmaan en byna so helder as dag buite. Toe hy by die rotse G aankom, word hy skielik gestuit deur iets wat hy deur 'n opening tussen twee rotse in die grootpad aan die ander kant sien. (Die leser moet die kaart noukeurig nagaan.) Hy nader die rotse sorgvuldig sodat hy self onsigbaar bly en toe hy by die opening kom, loer hy versigtig deur. Hy het stellig verklaar dat wat hy gesien het by hom nie die minste skrik of vrees veroorsaak het nie. Eerder had dit 'n kalmerende effek. Daar was nooit die minste vermoeding van iets bonatuurliks nie.
Hy sien voor hom in die middel van die breë wapad, tien of twaalf tree van waar hy agter die rotse skuil, 'n man te perd.
Die maan was so helder dat hy elke besonderheid duidelik kon sien, en jare van oefening in die polisiediens het hom man en perd noukeuriger laat bestudeer as 'n gewone mens dit miskien sou gedoen het.
Die eerste ding wat 'n indruk op hom gemaak het, was die volstandige bewegingloosheid van beide ruiter en perd. So stil was hulle dat dit meer na 'n standbeeld uit klip lyk as na iets wat lewe. Hy sien dat die perd 'n ligte vos is met 'n wit bles en vier wit voete. Die kleding van die ruiter het na 'n militêre uniform gelyk, maar van 'n soort waarmee die sersant onbekend was. Hy kon sien dat die ruiter 'n rybroek en kamaste aanhet en sy bolyf was bedek met 'n swart mantel wat tot aan die saalklappe hang. Op sy hoof was 'n pet waarvan die tuit sy gesig so beskadu dat dit so te sê onsigbaar was. Die sersant kon nie uitmaak of die ruiter baard of snor had nie. 'n Ander verskynsel wat sy aandag dadelik getrek het, was die feit dat die ruiter se stiebeuels, stangd en spore in die maanlig blink en skitter. Dit het die sersant nog meer die gedagte laat kry dat die persoon voor hom in die een of ander militêre diens was. Ons in hierdie geweste was nie in die gewoonte om stang en stiebeuels te poleer nie!
| |
| |
Dat die sersant dadelik tot die gevolgtrekking geraak het dat daar iets verkeerd was, spreek vanself. Waarom sou 'n ruiter in die middel van die nag op dié eensame plek roerloos in die pad staan? Daar moet natuurlik iets verkeerd wees.
En nouliks het suspisie by die sersant ontstaan of hy kom onverwags op 'n moontlike uitleg van die saak. Terwyl hy die perderuiter so noukeurig staan te beloer, hoor hy ver agter hom op die grootpad die geklap van swepe. Dit was transportwaens wat van 'n pas-geopende tinmyn na die spoorwegstasie terugkeer. Om die hitte te vermy, was dit die drywers se gewoonte om in die nag te ry. Die sersant onthou toe dat dit die end van die maand is en dat die transportryers die dag tevore uitbetaal is. Dadelik deurskou hy die hele saak. Die man voor hom is 'n rower wat die waens wil voorstaan om hulle van hulle geld te beroof. Onmiddellik tree die geregsdienaar in hom handelend op. Hy kruip stadig agteruit en toe hy buite gesig van die rotse was, hardloop hy terug na die polisiestasie. In sy slaapvertrek aangekom, neem hy sy gelaaide rewolwer uit die holster en steek die wapen in sy slaappak se sak. Toe gaan hy terug.
Op weg maak hy die swart konstabels wakker en gee hulle bevel om hulle gereed te hou met wapens in die hand. Sodra hulle hom op sy fluitjie hoor blaas, moet hulle so vinnig moontlik na die rotse toe hardloop. Intussen moes hulle binne hul hutte bly en geen lig vertoon nie. Aan een van hulle het hy bevel gegee om intussen sy perd in die stal stilletjies op te saal.
En toe stap hy alleen terug na die rotse toe.
Sy plan was weldeurdag en gesond. Hy was natuurlik nie seker dat sy vermoede reg was nie. Om dadelik handelend op te tree, kon hy 'n vreeslike fout begaan en homself in onherstelbare moeilikheid beland, derhalwe het hy besluit om die man te perd weer agter die rotse te bekruip en dan skielik uit te stap en die perd aan die teuels te vat voor daar kans vir omspring was. As dit dan blyk dat die ruiter 'n redelike uitleg vir sy sonderlinge gedrag kon gee, dan sou alles kon reggemaak word deur 'n eenvoudige verontskuldiging van die kant van die sersant. Blyk dit egter dat sy vermoede gegrond was en dat die man geen bevredigende uitleg kon gee nie, dan kon hy hom dadelik met sy rewolwer dek en hensop.
En so bekruip hy voetjie vir voetjie die rotse totdat hy weer by die opening kom en sorgvuldig deurloer.
En toe gewaar die sersant iets wat hom 'n skok gee, 'n waarneembare ruk deur sy liggaam. Selfs met die vertel van sy ondervinding kon ek sien dat hy in diepe ontroering raak.
Die ruiter en sy perd het spoorloos verdwyn!
Nadat die sersant hom vergewis het dat die ruiter nêrens op die grootpad sigbaar was nie, fluit hy vir die swart polisie. Onder hulle was ou September, tolk van die hof, en as spoorsnyer beroemd in 'n distrik waar spoorsnyers volop
| |
| |
was. Op die sersant se instruksies het September die pad noukeurig met 'n polisielampie opgeneem, want ofskoon die maan so helder was dat die kleinste skrif buite gelees kon word, was dit nietemin moeilik om in die melkwit stof spore sonder 'n lampie te volg. Nadat hy en die twee ander polisie die pad noukeurig oor en weer deursoek het, kon September met sekerheid verklaar dat daar geen perdespore was nie. Nadat die transportwaens deurgegaan het, was daar geen perd op die pad nie.
En toe stel September 'n eienaardige vraag.
‘Baas,’ sê hy, ‘was dit nie 'n man op 'n vosbles met vier wit voete nie?’
‘Ja, dit is die man,’ antwoord die sersant opgewonde.
‘O, dan hoef ons nie spoor te soek nie,’ vervolg die ou swartman, ‘dit is 'n spook. Ons volk ken hom al drie jaar.’
Vir die eerste maal verneem die sersant toe van talle verskynings en verdwynings van die man te perd in ons buurt. Ook word hom vertel dat die verskynings periodiek gebeur, drie of vier maal agter mekaar, maar altyd by volmaan.
Die sersant het erken dat hy nou vir die eerste maal 'n eienaardige rilling oor sy lyf voel gaan, soos wind oor water. Voor die tyd het hy geen vermoede gehad dat wat hy gesien het, iets anders as 'n stoflike wese was nie; hy het geen sweem van vrees gevoel nie. Nou begin hy twyfel en bang word.
| |
Tweede verskyning
Die berig van die spookagtige verskyning was spoedig dwarsdeur ons buurt bekend. Toe, vir die eerste maal, hoor ons van alle kante stories van vroeëre verskynings van dieselfde gedaante. Die omstandighede van al die verskillende, beweerde gewaarwordings was altyd soortgelyk aan wat die sersant gesien het.
Niemand was meer ongelowig, selfs geneig tot spot, as manskap B nie. Jare lank het hy die buurt te perd deurkruis en nooit het hy iets van die geheimsinnige man te perd gewaar nie. Nie alleen het hy die sersant se storie openlik betwyfel nie; hy het glad nie aan spoke geglo nie. Dit was alles kinderstorietjies of gesigte wat bang mense uit hulle eie binneste te voorskyn roep.
Die noodlot het sake so gereël dat hy self die volgende getuie moes wees van die werklikheid van die man te perd.
Net 'n maand ná die eerste verskyning was manskap B op patrollie. Tussen een- en twee-uur die nag kom hy terug. Hy moes oor die plaaswerf gaan. Alles by die huis was natuurlik donker en hy ry sonder om aan te kom, maar ek onthou dat ek hom hoor verbygaan het. Die middag op sy uitreis het ek sy kaart op die plaas geteken. Hy neem die voetpad tussen die plaas en die grootpad. Die voetpad gaan deur 'n taamlike diep en ruig-beboomde vallei, selfs bedags vreeslik eensaam en stil. In die nag sou dit vir baie mense vreesaanjaend voor- | |
| |
kom, maar manskap B het dit duisende male op alle ure van die nag deurgegaan. Buitendien had hy geen bang haar vir mens of spook op sy kop nie.
Sy perd was 'n ou gesoute een en B het in die gewoonte geraak, as hy snags na die stasie terugry, om die teuels te los en in die saal te sit en slaap. Sy perd het elke voetpad geken en het altyd met sy baas die kortste weg huis toe ingeslaan B het wakker geword toe hy oor die werf ry, maar onmiddellik daarna was hy weer aan die slaap en hy het nie weer wakker geskrik voor hy teen die oorkantste opdraande van die vallei was nie. Die bome is hier minder ruig, tog kronkel die voetpad nog taamlik deur groot ghwarriebosse heen.
Manskap B skrik wakker deur die skielike stuit en snork van sy perd. Sy eerste gedagte was dat dit 'n ystervark was, in welke dier die ou perd 'n hekel had. Hy luister of hy niks hoor nie, maar alles was so stil soos die dood. En toe kom hy stadigaan tot die gewaarwording dat sy ou perd in 'n toestand van ontsettende angs verkeer. Hy kon voel dat sy hele lyf aan bewe was en hy snork geweldig en aanhoudend. Nooit tevore het manskap B so iets van die perd belewe nie. En toe merk hy dat die perd sy kop hoog hou en dat sy ore reg vooruit in die rigting van die voetpad gespits was.
Op dieselfde oomblik word hy die oorsaak van die perd se skrik gewaar. Vlak voor hom in die voetpad, omtrent twintig tree van hom af, langs 'n groot ghwarriebos, was 'n man te perd met die gesig na hom toe gekeer. By nòg man nòg perd was daar die minste teken van beweging. B trek suutjies sy rewolwer uit terwyl hy die ruiter gadeslaan. Hy sien dat hy op 'n vosbles-perd met vier wit voete ry. Hy het 'n swart militêre mantel aan en 'n militêre pet op sy kop, en sy stang, stiebeuels en spore skitter in die maanlig. Dadelik skiet dit B te binne dat dit ongetwyfeld die man te perd is wat die sersant 'n maand tevore ontmoet het. Daar was by hom nie die minste gevoel van skrik of vrees nie en reeds had hy sy spore teen sy perd gedruk toe die betekenis van twee merkwaardige omstandighede tot hom deurdring en hom laat bly waar hy is. Die eerste omstandigheid was dit: Hy kyk noukeuriger na die gesig van die ruiter om sy gelaatstrekke te sien te kry. Hy was so naby en die maan was so helder dat hy ten minste moes kon sien of hy 'n baard of 'n snor het. Tot sy uiterste ontsteltenis word hy gewaar dat waar die gesig van die ruiter moes wees, daar niks anders was nie as 'n swart skaduwee; nie 'n masker of 'n sluier nie, maar eenvoudig 'n vormlose skaduwee. En toe val dit hom boonop by dat sy eie perd se gedrag absoluut onuitlegbaar was. Hy het met perde grootgeword; as dit 'n werklike perd voor hom in die voetpad was, sou sy perd lankal gerunnik het en bepaald geen tekens van angs vertoon het nie. Een perd skrik nooit vir 'n ander nie, selfs in die donkerste nag.
Toe hy ten volle bewus word van hierdie twee omstandighede, gewaar hy vir die eerste maal 'n yskoue rilling langs sy ruggraat op. Sy perd staan toe reeds en rondtrap, sy klaarblyklike angs ten toppunt gestyg. Hy wag net vir 'n trek aan
| |
| |
die teuel om om te vlieg en konstabel B het hom nie langer teëgehou nie. Met geboë hoof, rewolwer in die hand en altwee spore diep in die lieste van sy perd, jaag hy links uit die voetpad, deur bosse en rotse heen, om uiteindelik met 'n uitgeputte perd en verskeurde klere die grootpad by die punt van die steil rant te bereik. Konstabel B was dapper genoeg om nie die minste geheim van sy eie skrik te maak nie.
| |
Derde verskyning
Die derde en laaste verskyning van die man te perd in ons buurt was weer 'n maand later. Ons het 'n Nuwejaarsvrolikheid op die plaas gehou en die inwoners van die polisiestasie was te voet op pad huis toe. Hulle loop die omweg langs die grootpad in plaas van langs die voetpad. Die geselskap bestaan uit die sersant, konstabel B, sy vrou en die ander konstabel. Ver agter hulle volg mej. X, skoonsuster van konstabel B, en die korporaal. Dit was volmaan. Die agterste twee het in alle waarskynlikheid baie stadig geloop. In elk geval was hulle baie ver van die ander toe hulle altwee gelyktydig agter hulle in die pad 'n geluid gewaar. Geen van beide was ooit later in staat om 'n denkbeeld van die geluid weer te gee nie. Dit was egter nie perdepote nie. Altwee kyk gelyk om en gewaar, binne drie tree agter hulle, in die middel van die pad die man te perd. Hy sit weer roerloos toe hulle hom sien. Die uitwerking op altwee was 'n geweldige skrik. So groot was die skrik dat die korporaal vir 'n paar minute sy sinne verloor het. Hy hardloop weg en laat sy meisie in die steek. Dit was haar geweldige geskreeu wat hom weer tot sy positiewe teruggebring het. Tot sy eer moet verklaar word dat hy net 'n paar tree gehardloop het. Toe hy haar toestand besef, keer hy dadelik na haar terug, maar voor hy haar kon bereik, sak sy bewusteloos in die grootpad neer. So hard het sy geskreeu dat die voorste klompie en ook ons op die plaas haar gehoor het, en binne 'n paar minute was ons almal op die plek bymekaar, maar die man te perd het toe lankal verdwyn. Toe die korporaal omdraai om na mej. X terug te gaan, was daar geen spoor of teken van die ruiter nie.
Ten slotte wil ek die leser attent maak op sekere feite wat van belang mag wees in die sielkundige beoordeling van die gebeurtenis. Ten eerste: in twee van die gevalle het die waarnemers onmiddellik tevore uit die slaap wakker geskrik. Dit gebeur dikwels dat 'n mens ná skielike ontwaking in 'n abnormale sielkundige toestand verkeer. In twee gevalle het die verskyning nie die minste onmiddellike skrik veroorsaak nie. Die skrik het later eers gekom. In die geval van die sersant was dit verstaanbaar, want hy het ten minste geen vermoede van die bonatuurlikheid van die gedaante gehad nie. In die geval van manskap B is dit minder uitlegbaar want hy wis dat daar ten minste 'n vermoede van bo- | |
| |
natuurlikheid was. In die geval van die korporaal was daar onmiddellike en buitensporige skrik.
En nou omtrent die objektiwiteit of subjektiwiteit van die gedaante. Was die verskyning uitwendig of inwendig; was dit 'n werklikheid of 'n skepping van die menslike verbeelding? Die oplossing van hierdie vraagstuk hang natuurlik van die getuienis af. In die geval van die sersant was daar maar 'n enkele menslike getuie en 'n beoordelaar sou geneig wees om aan te neem dat die gedaante 'n droombeeld was wat geen uitwendige bestaan had nie. In die geval van manskap B word die vraagstuk meer ingewikkeld. In sy geval was daar twee getuies wat dien om die uitwendigheid van die verskyning te bewys en een van die twee getuies was nie 'n mens nie, juis daarom was sy getuienis van veel meer waarde as die verklaring van 'n mens sou gewees het. Hierdie belangrike getuie was manskap B se perd.
Dit is algemeen bekend dat die mens baie vatbaar is vir suggestie. Een mens kan maklik aan ander gedurende 'n moment van skrik of opgewondenheid, die skeppings van sy eie verbeelding deur suggestie oordra. As een bang mens skielik in die donker uitroep: ‘Daar staan 'n ou vrou,’ dan is die kanse tien teen een dat sy bang maat die ou vrou ook sal sien - al is sy nie daar nie. Maar aan 'n perd kan jy 'n suggestie nie oordra nie. Hulle glo ook nie aan spoke nie, daarom is manskap B se perd die vernaamste getuie in die hele voorval, wat die uitwendigheid van die gedaante betref.
In die geval van die korporaal en mej. X was daar twee menslike getuies wat in hierdie saak nie van soveel waarde as een perd is nie, ofskoon hulle verklaar dat daar hoegenaamd geen suggestie van die een aan die ander was nie. Dit is natuurlik nooit uitgesluit dat altwee 'n weinig ‘lugtig’ vir die ‘spook’ was nie en dat altwee die moontlikheid van sy verskyning in hulle gedagte gehad het nie. Dan sou 'n woordelike suggestie nie nodig wees om die gedaante te skep nie. In die laaste geval was daar ook geen voorafgaande slaap nie. Die leser sal hieruit aflei dat die getuienis ten gunste van die werklike objektiwiteit van die gedaante van verskillende aard en taamlik sterk is.
Ná die drie voorvalle was daar, soos ons verwag het, gedurig gerugte omtrent verskynings van die man te perd. In verskeie gevalle sou vroue en jongmense hulle buite kennis geskrik het vir die man met die swart mantel en die blink spore. Meeste van die gevalle het na ondersoek geblyk die skeppings van blote angs te wees, maar hulle was gewigtig genoeg om van die kommandant van polisie 'n stywe offisiële brief aan my polisie uit te lok waarin op die onmiddellike inhegtenisneming van die gedaante aangedring is. Dit is seker die eerste maal dat 'n spook die onderwerp van offisiële korrespondensie geword het.
Wat ons betref, was die verskyning aan die korporaal die laaste verskyning van die man te perd.
|
|