| |
14 Spore in die Sand
Toe die eerste kleure van die rooidag op die slaapkamervenster sigbaar word, besluit Euvrard Marchand om op te staan. Hy is lankal wakker, lank voor die eerste tekens van dagbreek; maar hy het maar stil op sy rug gelê om te dink en te droom, sy hande onder sy kop gevou, totdat die eerste rooi gloed die venster skielik verkleur. Dit is sy vaste gewoonte in die vroeë somer.
Hy staan baie saggies op om sy vrou nie wakker te maak nie. Sy kan nog 'n paar uur slaap voordat dit vir haar nodig is om sy ontbyt gereed te maak.
Suutjies stap hy by die slaapkamer uit om 'n stortbad in die badkamer op die uiteinde van die agterstoep te neem en toe gaan hy weer net so suutjies terug om aan te klee.
Toe hy gereed is om die kamer te verlaat, is Susan nog vas aan die slaap. Een wang rus op haar gebuigde arm. Haar kort, donkerbruin, gegolfde hare lyk teen die spierwit van die kussingsloop nog donkerder as wat dit werklik is; maar onder die oggendlig wat deur die oop raam reeds die koppenent van die bed opluister, kan hy die wonderlike weerskyn van brons tussen die donker golwe sien, die wonderlike kleur wat hy altyd eerste sien wanneer, in haar afwesigheid, 'n spieëling van Susan in sy verbeelding opkom. Daar is 'n baie teer gevoel in sy hart. Hoe onskuldig lieflik lyk sy nie. Jammer dat haar oë toe is. Die lang donker wimpers lê soos 'n skadu op haar sagte wange. Hy moet weerstand bied teen 'n toenemende begeerte om haar in sy arms te neem en wakker te soen, maar hy sal haar nog nie wakker maak nie.
Daar is die skyn van 'n glimlaggie om haar lippe; sy is waarskynlik aan die droom. Hy kan nie nalaat om haar wang saggies te soen nie. So stil het sy geslaap dat hy haar asemhaling alleen deur die sagte beweging van haar boesem kan gewaar. Toe sy nog 'n baba was, het 'n ou Sjangaan-vrou haar die naam Lalasini gegee. ‘Sy wat in haar slaap sag asemhaal.’ En die naam het haar aangekleef, nieteenstaande sy self van kleins af niks daarvan gehou het nie en altyd heftig teen die gebruik daarvan geprotesteer het. As hy haar wou terg of wanneer hy besonder teenoor haar voel, het hy haar Lalasini genoem. Hierdie oggend is sy Lalasini.
Sy plaas lê twee myl van die grootpad aan die voet van die berge. Die grootste
| |
| |
gedeelte bestaan uit taamlik ruie bosveld, maar dit is 'n uitmuntende veeplaas, en dit is syne en onbelas. Hy is taamlik welgesteld en dit laat hom altyd trots voel om te dink dat hy vanaf hul huwelik altyd in staat was om Susan alles te gee wat haar hart kon verlang. Sy is lief vir vrolikheid, geselskap, dans. Nie buitensporig nie, maar sy is tog baie meer aan sulke dinge geheg as hy en selfs in hierdie opsig het hy haar altyd tegemoetgekom. Sy is so verbasend mooi dat hy 'n sekere mate van genot daaruit put om haar op hierdie wyse ten toon te stel, en hy kan sy trots op haar nie heeltemal verberg nie. Sy lag hom dikwels uit, maar hy weet goed dat dit haar ook laat lekker voel.
Twee myl van sy huis, aan die grootpad na die noorde, het hy 'n taamlike groot smidswinkel, wamakery en in die jongste tyd ook 'n motorherstelbesigheid, wat hom 'n steeds toenemende inkomste verskaf, daarom moet hy die meeste weeksdae van sy huis afwesig wees, en daarom moet Susan hom sy ontbyt vroeg gee. Hy het drie blanke handlangers en vyf swartes in die winkel, derhalwe is hy nie juis pal en vas aan die besigheid verbonde nie. Met ploegtyd, saaityd en oestyd is hy meestal tuis.
Euvrard Marchand is in sy ses-en-twintigste jaar, sterk gebou, fier van houding en besonder aanvallig. Van aard is hy 'n weinig stil en terughoudend; tog is daar geen beminder, gewilder inwoner van Siekelbos nie. Daar is iets poëties, iets ridderliks in sy karakter wat in sy alledaagse lewensloop gedurig opduik om die beoordeling van sy karakter deur vriende en kennisse gunstig te beïnvloed.
Toe Euvrard hierdie oggend deur die kombuis loop om buite te kom, is die twee kombuisbediendes net klaar om koffie te maak. Maar so haastig is hy om uit die huis te kom dat hy weier om vir die inskink te wag. ‘Gee die nonnie hare as sy wakker word. Ek sal myne later drink,’ is sy bevel.
Veertien dae tevore het dit hard en aanhoudend gereën en die veld is onbeskryflik mooi. Meeste van die bome om die werf is in hul pragtigste gewaad van blaar en blom. Die eerste boom langs die oupad in die rigting van die berge is 'n wildepeer wat skoon soos 'n bruid in 'n sluier van glansende wit sy ademstelpende skoonheid in die frisse oggendlug ten toon stel. Die gras is nog van die teerste groen en uit die skone kleed skitter die edelgesteentes van duisende dougedrenkte orgideë.
Dit val Euvrard skielik by dat daar 'n paar honderd tree van die huis af, langs die oupad, 'n opening in die bos is waar daar altyd belladonnalelies te vind is. Hulle sal nou in volle blom wees en hy besluit dadelik om 'n ruiker te pluk en Lalasini daarmee te verras as sy opstaan.
Stadig loop hy op langs die oupad. Elke asemteug van die geurbelaaide lug is 'n nuwe genot. Hy is 'n Bosveldseun en dit is 'n onbewuste handeling vir hom om elke paar tree 'n opname te maak van die grond voor sy voete waar hy, soos in 'n boek met groot druk, die gebeurtenisse van etlike dae, somtyds weke kan
| |
| |
lees. Die oupad is nie meer in gebruik nie. Sy vee en 'n klompie gesoute perde is op die noordelike gedeelte van die plaas. Hulle gaan eers in die winter na die berge verhuis en dan sal die oupad weer vir die eerste maal in gebruik kom. Die oupad het in droë jaargetye 'n sementharde blad, maar die reën van twee weke tevore het 'n laag bergsand gelyk oor die hele lengte van die blad gespoel, waarin elke voëlspoortjie sigbaar is.
En toe dring die geluid van die voëlstemme vir die eerste maal tot sy bewussyn deur. Daar is duisende om hom heen, 'n klinkende koor van vrolikheid. Van die bergvoet kan hy die vreugdevolle geroep van patryse en fisante hoor en van die oulande kom die gekekkel van die tarentale.
Euvrard Marchand stuit skielik in sy spore asof iets hom 'n slag toegedien het. Die voëlstemme, die prag van die veld, die heerlikheid van die vroeë oggend, alles is onmiddellik vergete. Met gefronsde voorhoof en met die diepste aandag bestudeer hy die grond voor sy voete asof daar skielik 'n probleem opgedoem het waarvan die antwoord hom ontwyk.
Dit is perdespore in die sand wat so skielik sy hele aandag in beslag neem. Hy volg hulle stadig en aandagtig op langs die oupad tot waar hy uitdraaiplekke kry. Hy sien dat hulle nie altyd van dieselfde rigting kom nie. Somtyds kom hulle uit die suide die oupad binne, somtyds uit die noorde en daar is ook spore reguit in die rigting van die berge. Daar is vars spore en ou spore. Party is minstens twee weke oud, net ná die reën.
Maar dit is altyd dieselfde spore, die spore van een perd, en 'n beslaande perd. Dit is wat hom so verbyster. Hy het self 'n klompie gesoute perde, maar hulle is van die ou Voortrekker-geslag wat nooit 'n hoefyster nodig het nie.
Stadig volg hy die spore weer af langs die oupad en toe - driehonderd tree van sy huis - kom hy op die plek waar die spore uitdraai. Twintig tree buite die oupad is 'n digte ghwarriebos wat deur 'n vorige veldvuur uitgehol is. Dit is nou 'n pragtige groen somerhuis, uitgedos met blomme waarvan die geur byna bedwelmend is. Hier binne die beskutting het die perd dikwels en lank gestaan en hier sien hy vir die eerste keer mensspore op die perdespore. Teen die stomp van 'n kareeboom is 'n stuk van 'n afgebreekte tak. Dit lyk asof dit gemaak is om teuels oor te plaas; 'n ruiter dus. Snaaks dat Susan hierdie ruiter nooit gewaar het nie. Of was dit miskien sy gewoonte om stilletjies in die nag te kom?
Net buite die ghwarriebos na die huis se kant is die pad so hard en so skoon van sand dat die rigting van die mensspore onsigbaar is.
Lank staan hy diep ingedagte binne die ghwarriebos, onseker, verbysterd. Hy kan die storie glad nie agtermekaarkry nie. Uiteindelik stap hy stadig oor die werf by die huis verby tot in sy eie plaaspad wat in 'n reguit lyn ooswaarts deur die bome strek, om twee myl van sy werf af met die grootpad te verenig.
Hy het dit stellig verwag: hier in die plaaspad, 'n paar honderd tree onderkant sy huis, kom hy weer op die raaiselagtige spore. Nou word dinge duide- | |
| |
liker. Hy kan dadelik sien dat dit die gewoonte van die perderuiter is om van die ghwarriebos deur die bome ver van die huis om te ry sodat hy die plaaspad bereik op 'n plek waar hy van die huis onsigbaar sou wees, net soos hy by die ghwarriebos ook van die huis af onsigbaar is.
Die plaaspad is van stywe potklei en daar is geen sand nie. Hier is die spore so helder en klaar afgedruk dat hy sy eie handewerk dadelik herken. Dit is 'n perd wat hy self beslaan het. Hy kan die spore sien wegstrek in die rigting van die grootpad tot in die verte, waar hulle slegs twee donker parallelle strepies is.
Die oggendwindjie is heerlik koel. Hy dra geen hoed nie, maar skielik voel sy voorkop klam van sweet, wat hy haastig met die agterkant van sy hand wegvee.
‘God help my!’
Tot in die grenslose ewigheid strek hulle voort, die twee strepe spore; verby alle bakens van tyd en ruimte, oneindig deur sy hart, deur sy brein, deur sy lewe het hulle 'n bloeiende kerf gesny wat geen medikament op aarde ooit weer sal genees nie. Nooit weer sal hy 'n vergesig aanskou sonder dat die donker streep 'n bakenlyn op die gesigseinder vorm nie. Tot sy dood toe sal dit voortduur.
‘God help my! God help my!’
Dit is geen bede nie. Dit is 'n opborreling uit die donker draaikolk van enorme gedagtes wat sy siel oorrompel het. Hy voel skielik dat sy spiere in krampagtige spanning verkeer, asof hy 'n magtige las omhoog hou.
Hy voel vuil. Daar is 'n onreine kleed wat hom aankleef; hy moet dit van hom afskeur en met die uiterste geweld in die grond vertrap, anders sal hy nooit weer skoon voel nie. Al die water van die wêreld sal hom nie weer rein maak nie.
En toe hoor hy om hom heen 'n sagte fluistering. Onbewus het hy onder die skaduwee van 'n fluisterboom tot stilstand gekom. Dit is die enigste fluisterboom op sy plaas en in die hele geweste. In hierdie deel van die Bosveld is hulle uiters seldsaam. Skielik bedaar die storm in sy gemoed. 'n Sagte, tere gevoel oormeester hom en nouliks het hy dit gewaar of sy oë is met trane benat. Helder kom in sy geheue op sy eerste liefdesdae, sy eerste liefdesdrome toe Susan eers aan hom verloof was. Agter haar vader se huis op die rotskoppie was daar 'n fluisterboom en dit was hul gewoonte om van daar saans die ondergang van die son te aanskou ver oor die donker skaduwee van die oneindige Bosveld. Daar het hy vir die eerste maal die manhaftigheid erlang om haar te omhels en te soen. Daar het hulle mekaar die eerste liefdeswoorde toegefluister. Hy het altyd beweer dat hy in die fluistering van die blare haar naam duidelik kon hoor: Susan, Lalasini.
Sy is so mooi, so fyn gemaak en hy so grof en sterk. Hy kan haar nie seermaak nie. Sonder sy direkte toedoen sal sy seer genoeg kry voordat alles verby is. Dit kan maar tot laaste wag - wat haar ten deel moet val.
| |
| |
En toe sien hy weer die spore voor sy voete. Hy is nou kalmer. Hy kan dink, hy kan planne maak. Daar is ook geen twyfel meer nie. Die storie het in sy verstand 'n duidelike vorm aangeneem. Dit is die spore van Jim Raikes se perd. Euvrard het in die oorlog, toe hy nog 'n seun was, 'n beroemde hoefsmid onder generaal Beyers geword toe hy in die meeste gevalle sy hoefysters en spykers uit stukkies opgetelde yster moes maak. En nou het hy in die gewoonte geraak om die ryperde van 'n paar vriende self te beslaan. Hy kan hulle egter op die vingers van een hand tel. Daar is net die perde van polisie-offisiere en die ryperd van Jim Raikes, en hierdie een is Jim se perd, Jim Raikes, sy naaste buurman, sy intieme vriend van wie hy meer hou as enige ander bewoner van Siekelbos.
Jim Raikes is 'n Australiër. Hy en Euvrard het die oorlog as baie jong seuns deurgemaak, natuurlik aan verskillende kante. Hulle was altwee verkenners. Op 'n dag was hy op 'n bergvoetpad toe hy skielik perdepote hoor wat hom van voor nader. Daar was 'n rots en 'n draai in die voetpad wat hom vir die aankomende perderuiter onsigbaar gemaak het. Hy het dadelik sy geweer van sy rug geslinger, van sy perd gespring en die ruiter ingewag. Om die rots kom 'n Kakie, besig om aan 'n stuk soetriet te kou, sy geweer agter die rug, doodgerus. Dit was Jim Raikes. Euvrard het hom gehensop, hom met sy gesig teen 'n rots laat staan en sy geweer afgeneem. Toe gee hy die gewone bevel dat sy gevangene al sy klere oorhandig. Dit was 'n gloeiende somerdag en Jim Raikes het sulke snaakse dinge gesê, was so vrolik en opgeruimd en hy was so 'n jong seun, net so jonk as Euvrard self, dat hy hom jammergekry het. Sy perd en geweer moes hy natuurlik neem, maar hy het hom sy klere laat behou en voordat hulle van mekaar afskeid geneem het, het hulle lank met mekaar sit en gesels. En toe hulle uiteindelik met 'n warme handdruk groet, was hulle goeie vriende. Ná die oorlog het Jim van die regering die plaas langs syne gekry. Die Australiër het die ontmoeting op die bergpaadjie nooit vergeet nie, nòg die ridderlikheid van die Boereseun. As daar een mens op aarde is wat Jim liefhet, dan is dit ongetwyfeld Euvrard Marchand.
En nou dit! Die ontsettende spore wat sy eergevoel, sy trots, sy liefde, sy hele lewe in die stof verbrysel.
‘God help my!’ is die enkele uitroep wat af en toe stamelend en fluisterend oor sy lippe kom.
Hy is reeds meer as 'n uur laat toe hy weer sy huis van voor nader. Van ver kan hy Lalasini op die naaste hoek van die veranda sien staan. Sy wag natuurlik ongeduldig op sy koms. Maar hy nader haar baie stadig, met geboë hoof, asof hy haar nie sien nie. Haar handwuif, wat hom begroet het by sy eerste verskyning om die draai van die plaaspad, het hy onbeantwoord gelaat. Hy het gemaak asof hy haar nie sien nie. Hy was ten minste nooit in sy lewe 'n huigelaar nie. Hy sou nou in hierdie aangeleentheid die onskuldigste uitweë soek. Hy kan haar eenvoudig nie onnodig seermaak nie; hy sal haar nie op die pynbank
| |
| |
rek waarop hy self reeds gespanne is nie. Haar uur sal sonder sy toedoen kom. Aan die ander kant vind hy dit heeltemal onmoontlik om die volmaakte huigelaar teenoor haar te speel.
Maar hy is weer betreklik kalm. Die laaste roering en tumult van die sielstorm wat hy ondergaan het, is in die verte aan aftrek, met slegs 'n dowwe geblits nou en dan wat hom aan die vorige geweld herinner.
Hy is weer betreklik kalm omdat hy 'n plan beraam het nadat hy die skaduwee van die fluisterboom verlaat het, 'n plan volstandig tot in die kleinste besonderheid. Hy het gou ingesien dat daar vir hom geen uitweg was nie. 'n Voorbestemde pad moes hy tot die bitterste einde volg. Oor wat later sou gebeur - daaroor het hy hom nie bemoei nie. Sy eie lewe is in alle geval die geringste pion in die spel.
Toe hy by haar te staan kom, kyk hy haar vir die eerste maal reguit aan. Hy is sonder hoed en sy gesig voel weer klam. Hy moet dit met sy sakdoek droogvee. Dit het hom tegelyk tyd verskaf om sy laaste onstuimige gedagtes met 'n vaster hand te beteuel, om sy stem binne beheer te dwing voordat dit nodig sou wees om te praat. Toe hy opkyk, merk hy 'n vraende, twyfelende, onrustige trek op Susan se gesig. Daar is 'n frons op haar voorhoof en haar donker oë is half toegeknyp - 'n baie aanvallige manier van doen by haar wat hy altyd bewonder het.
‘Wat makeer, Euvrard?’ vra sy op haar merkwaardige, effense hees stem. ‘Jou voorkop was nat van die sweet. Waar kom jy vandaan? Voel jy siek? Koors?’
Hy skud net sy kop en sê 'n paar sekondes niks.
Lalasini is in wit geklee. Haar bruin, gegolfde hare met die sonderlinge brons weerskyn op die mees beligte dele gee nou iets van die glorie van die oggend weer. En toe Euvrard naby kom en na haar opkyk - want sy staan op die veranda bo hom - gewaar hy die vars geur wat sy uit die badkamer meegebring het. Sy laat hom dink aan die wit glans van die wildepeer. 'n Paar sekondes staar hy haar met die uiterste bewondering aan. Dit is asof hy haar vir die eerste maal in 'n onbekende voorkoms aanskou. Wat hy die meeste bewonder, is die gloed van reinheid wat van haar uitstraal, maagdelike reinheid en onskuld, iets wat deel is van hierdie heerlike dagwording.
‘Nee, Susan, ek is nie siek nie,’ antwoord hy uiteindelik en ofskoon sy stem standvastig genoeg is, praat hy baie sag, met iets bejammerends in sy stem. ‘Net 'n bietjie ver geloop en iets het my skielik bygeval. Ek moet dadelik ingaan dorp toe en sal vannag daar slaap.’
‘Wat gaan jy in die dorp doen, Euvrard? Jy het my nooit iets daarvan vertel nie.’ En nou kan hy merk dat sy werklik onrustig word. Maar Euvrard het reeds besluit om aan hierdie wending van die gesprek 'n spoedige einde te maak.
| |
| |
‘Ag, dit is 'n besigheidjie wat my ontgaan het. Van geen groot belang nie. Ek sal jou later alles daarvan vertel.’,
Hy het voorgegee dat hy vreeslik haastig was. ‘Ek wil die geweer neem en 'n draaitjie na die berge ry. As ek iets skiet, sal ek altwee, wild en geweer, by Jan Nel agterlaat en dit môre saambring as ek terugkom. Ek sal ook by die polisiekantoor aanry en Beneke vertel dat ek nie tuis sal slaap nie.’
Dit is sy gewoonte om die sersant van die pos in kennis te stel as hy 'n nag van die huis afwesig gaan wees. Wanneer dit skielik gebeur, het sersant Beneke by sulke geleenthede altyd minstens een maal gedurende die nag 'n swart konstabel die werf laat besoek om te sien dat alles in orde was.
Haastig is hy by die huis in. Hy haal sy kort Mauser van die rak af en uit die laai van sy lessenaar neem hy 'n handvol los patrone en steek hulle in sy baadjiesak. Toe is hy vinnig by die agterdeur uit, waar sy opgesaalde perd reeds wag. Al hierdie stappe was beraam om dit moontlik te maak dat hy nie weer met Susan in aanraking sou kom nie. Hy kan haar eenvoudig nie groet nie; hy sou haar nie kon soen nie.
Toe sy hom so vinnig hoor uitgaan, roep sy hom op gebiedende toon uit die eetkamer agterna.
‘Wag, Euvrard, ek maak padkos vir jou gereed. Jy het nog niks geëet nie.’
‘Alles onnodig. Ek sal by Nel aanry.’ (Nel was een van sy bure.) En toe Susan op die agterstoep uitkom, sit hy reeds in die saal.
‘Euvrard, jy het my nie gegroet nie,’ sê sy saggies, halfklaend, halfbeskuldigend. ‘En jy het vergeet om jou rybroek en kamaste aan te trek.’
‘Dit kom nie daarop aan nie. Ek is reeds baie laat. Tot siens, tot siens!’ En hy druk sy perd op 'n galop oor die werf en met die plaaspad die bosse in.
Solank hy binne gesig is, staar Susan hom met 'n frons agterna. Sy is baie fyngevoelig, vernaamlik waar dit haar man betref. Die minste verandering in die dampkring gewaar sy onmiddellik. Nog nooit vandat hulle getroud is, het Euvrard haar op so 'n wyse verlaat nie. Sy voel dat daar iets baie ernstigers op die spel is as wat Euvrard wil voorgee, en dit is met 'n aaklige, koue gevoel om haar hart dat sy die stil huis weer binnetree.
Euvrard het sy perd op 'n byna aanhoudende galop tot by die polisiekantoor gehou. Hy wou weet hoe laat Jim sy briewe kom haal - of hy nie miskien alreeds daar was nie. By die polisiekantoor was slegs een swart konstabel teenwoordig. Van hom het hy verneem dat sersant Paul Beneke op patrollie uit was en dat hy nie voor laat die nag terug sou wees nie ... ‘Nee, baas Jim Raikes was nog nie hier nie. Hy kom presies om elfuur elke oggend, net wanneer die posjong met die briewe aankom.’
Hy is dankbaar dat hy Paul Beneke nie ontmoet het nie. Paul sal later 'n onaangename plig teenoor hom moet uitvoer. Dit sal Paul natuurlik vreeslik skok, want hulle is intieme vriende.
| |
| |
'n Gawe jong man, Paul; 'n baie mooi vent ook met sy gladde, effens ronde gesig wat hom nog jonger laat lyk as wat hy werklik is. Altyd uitermate netjies in sy mondering. Hulle het altyd vertel dat al die jong meisies in die buurt op Paul verlief is, en dit is ook geen wonder nie.
En toe ry Euvrard stadig langs die grootpad noordwaarts - die ou Transvaalse artilleriepad, meestal so reguit as 'n liniaal - hy ry in die rigting van Jim Raikes se plaas. Tweehonderd tree van waar Jim se pad inkom, klim hy af, maak sy perd binne die bome vas en gaan staan langs die pad, klaar, die kolf onder sy regterarm, die tromp noordwaarts gerig. Dit val hom skielik by dat hy ou Jim weer voorstaan, presies soos in die bergpaadjie jare gelede. Snaaks, die noodlot het hom in 'n donker sirkel gelei.
Hy het slegs 'n paar minute gewag toe sien hy Jim op 'n stywe draf die grootpad inkom. Dit het hom 'n hele tydjie geneem voordat hy Euvrard herken. Toe roep hy hom van ver ewe opgeruimd toe: ‘Lo, Euvrard!’
Maar Euvrard beantwoord die groet nie, gee geen teken dat hy die begroeting gehoor het nie. Hy beskou Jim net noukeurig, dreigend, en skat die krimpende afstand tussen hulle.
'n Lelike vent is ou Jim; maer, lank en lomp en 'n gesig so vol sproete as 'n kalkoeneier. Sy breë mond is in 'n gedurige glimlag gerek. Euvrard kan die glans van sy wit tande al van ver af sien. Snaaks dat 'n vrou hom ooit aantreklik kan vind. Maar hy is 'n vrolike vent, altyd opgeruimd en vol grappe. Miskien is dit die rede.
Toe Jim sestig tree van hom is, lê die Australiër met sy handsambokkie aan. ‘Hands up!’ skreeu hy. Maar Euvrard maak geen beweging en sê geen woord nie. Hy staan so stil soos 'n beeld wat uit klip gekap is.
Toe Jim sowat twintig tree van hom af is, hou hy skielik in met 'n uitdrukking van skrik en verwondering op sy gelaat. Dit was waarskynlik nòg die dreigende houding nòg die onnatuurlike stilswye van sy vriend wat die Australiër laat skrik het. Hy het iets anders opgemerk: hy het Euvrard Marchand se gesig gesien!
‘Wat makeer? Wat het gebeur, Euvrard?’ vra hy verskrik.
Euvrard kan hom nie van die perd afskiet nie. Hy het dikwels Engelse in die oorlog van hul perde afgeskiet en die geweldige neerstorting was vir hom altyd 'n verskriklike verskynsel.
‘Klim af, Jim,’ sê hy saggies maar gebiedend.
Jim klim dadelik van sy perd af en los die teuels op die grond. Hy staan sowat twintig tree van Euvrard, verslae en verskrik. Euvrard kyk net een maal haastig om. Ver agter in die grootpad sien hy twee swartes aankom. Maar dit kom nie daarop aan nie. Dit sal alles gou genoeg bekend wees.
Toe hy weer praat, is sy stem so helder soos dié van 'n bevelvoerende offisier.
‘Jim,’ sê hy ‘as jy in God glo, in die hiernamaals, sê 'n laaste gebed op, want
| |
| |
binne drie sekondes sal jy voor die regterstoel verskyn - as daar so iets is - om te verantwoord vir wat jy aan my gedoen het.’
‘Aan jou gedoen?’ vra die Australiër stamelend, met droë lippe. ‘Wat het ek aan jou gedoen, Euvrard? Ek verstaan nie ... ek verstaan niks.’
Maar Euvrard kan die halfsmekende toon nie langer aanhoor nie. Hy bring die geweer aan sy skouer en so stil is sy arms dat hy die korrel dadelik doodtrek op die hoek van Jim se boonste baadjiesak ... en toe skiet hy.
Hy het goed geweet wat sou gebeur - die agtereenvolgende bewyse van 'n skoot deur die hart. Hy het dit dikwels gesien. Maar dié keer het dit vreeslik lank geduur - talmend, uitgerek. Eers die stadige buig van die knieë, die vooroorhelling van die romp, die uitstrekking van die arms asof Jim die geweld van die val wil afwend, en toe slaan die lang liggaam vooroor in die pad neer. Daar is 'n opwalming van stof waar Jim geval het.
Toe Euvrard nader loop en langs hom staan, merk hy op dat hy onbewus met 'n loodpuntkoeël geskiet het. Onder Jim se linkerskouerblad is 'n groot gat deur sy baadjie geskeur waar 'n opwelling van bloed reeds die flenters verkleur. Jammer dat hy met 'n dum-dum geskiet het.
Weer gewaar Euvrard dat sy oë mistig word van trane.
‘Ons sal miskien weer ontmoet, Jim,’ fluister hy, ‘waar alles reggemaak sal word. Ek weet nie ...’
Hy kan Jim nie daar in die son en stof laat lê nie. Hy neem hom aan die hande en sleep die liggaam onder die skaduwees van 'n boom langs die grootpad.
Toe Euvrard omkyk, sien hy ver weg die twee swartes terughardloop. Hulle sal die polisie natuurlik vertel wat hulle gesien het, maar met hom sal niks gebeur voordat sersant Beneke die nag terugkom nie.
Dit is kwart voor elf die nag toe hy sy huis vir die eerste keer weer nader. Ure lank, ontelbare ure, het hy in die bos rondgedwaal. Daar brand nog lig in die slaapkamer. Susan is nog wakker. Hy saal sy perd by die voorstoep af en toe draai hy die slot van die voordeur. Hy is verwonderd om die deur nie gesluit te vind nie. Susan sluit gewoonlik alle deure as sy alleen is. Ook die slaapkamerdeur is nie gesluit nie. Toe hy met sy geweer in die hand ingaan, sien hy Susan in haar deurskynende nagrok regop in die bed met 'n oop boek op haar geboë knieë. Hy kan sien dat sy ontsettend geskrik het om hom so te sien inkom. Sy staar hom aan met verwilderde oë terwyl hy sy geweer in die hoek plaas, sonder om haar te groet, sonder om 'n woord te sê.
‘Euvrard!’ roep sy hees en halfhisteries, ‘wat makeer jou? Wat het gebeur? Waarom het jy teruggekom? Jy sou op die dorp slaap.’
'n Paar momente kyk hy haar stil aan, toe sê hy saggies: ‘Gaan lê, Susan. Daar sal netnou 'n besoeker kom. Dan sal jy alles hoor.’
Maar sy spring uit die bed op en nader hom met uitgestrekte hande, smekend.
| |
| |
‘Euvrard, ek weet iets ernstigs het gebeur. Waarom verberg jy dit vir my? Waarom laat jy my die angs en pyn uitstaan? Wie is die besoeker van wie jy praat?’
‘Jy sal netnou weet,’ herhaal hy en met 'n opgeligte hand gebied hy haar tot stilswye. Net toe hoor albei buite op die stoep 'n geluid. Daar is 'n sagte klop aan die voordeur en toe word dit suutjies oopgemaak. Daar is voetstappe in die gang, vergesel van die sagte gekletter van spore. Dit is sersant Beneke wat sy moeilike taak kom uitvoer. Die twee swartes het hom natuurlik met sy aankoms by die stasie van Jim se dood vertel. Daar is 'n nog sagter klop aan die kamerdeur en toe fluister 'n stem:
‘Susie, Susie, is jy wakker?’
Dit is sersant Beneke se stem, en Euvrard is 'n oomblik verwonderd dat hy Susan op haar naam noem. Dit is nie sy gewoonte nie en hierdie verkorting het Euvrard nooit tevore gehoor nie. Dit was natuurlik om haar gerus te stel, te troos vir die vreeslike taak wat hy moet uitvoer.
Toe draai die knop, die deur gaan stadig oop en sersant Paul Beneke staan op die drumpel, flink, regop, netjies in sy donker mondering met blink gepolyste lyfband, rewolwersak en kamaste.
Euvrard stap hom met uitgestrekte arms tegemoet.
‘Sit hulle maar aan, Paul. Ek is klaar om met jou saam te gaan.’
‘Sit wat aan?’ sê Beneke verbaas. ‘Waarvan praat jy? Ek verstaan jou nie.’
Euvrard laat sy arms stadig sak. Weer sien hy op die gesig van die sersant, soos hy die oggend op die gesig van Jim Raikes gesien het, 'n uitdrukking van verwondering, verbystering, skrik. Hy merk op dat Beneke se hande en lippe geweldig bewe.
‘Het jy niks gehoor nie? Was jy nie by die kantoor aan nie? Het jy nie gehoor dat ek Jim Raikes vanoggend in die grootpad doodgeskiet het nie?’
Die enigste antwoord op sy vrae is 'n geweldige, aanhoudende, angswekkende geskreeu van Susan, wat aanhou en aanhou totdat dit uiteindelik wegsink in 'n sagte histeriese gesnik.
Maar geeneen van die twee mans steur hulle in die minste aan haar nie. Hul oë is stip op mekaar se gesig gevestig. Euvrard kan sien dat die sersant doodsbleek geword het, dat een geweldige siddering ná die ander sy liggaam van kop tot voete skud, en toe gaan 'n lig vir Euvrard op. Dit is asof 'n donker gordyn wat hom steeds van sy omgewing afgesluit het, stadig sak. Vir die eerste maal dié dag verkeer hy skielik in 'n storm van woede. Daar is nou iets in sy gedrag van 'n gekweste leeu wat vir laas sy vervolgers dreigend tegemoet keer. Toe hy praat, is sy stem klinkend asof hy hemel en aarde tot getuie van sy beskuldiging wil daag. ‘Nou sien ek ... nou sien ek! Paul Beneke, dit was jou spore in die sand!’
En met dié woorde draai hy vinnig om om sy geweer te gryp.
| |
| |
Maar Paul Beneke was te gou vir hom. Met 'n enkele ruk het hy sy rewolwer uit die sak en byna gelyktydig val die skoot. Die ontploffing binne die kamer is oorverdowend. Beneke se hele liggaam word deur 'n aanhoudende siddering geskud, maar die onsekerheid van sy aanlê is vir een oomblik deur die snelheid van sy beweging geneutraliseer. Hy het goed geskiet.
Die koeël het Euvrard net onder die skedel, reg op die middellyn, getref en soos gewoonlik by 'n kopskoot van hierdie aard, stort die forsgeboude liggaam met 'n groot geweld op die vloer neer. Die romp lê oor die tapytrand op die gepolyste planke van die vloer en die vingers van die uitgesteekte hand raak aan die kolf van die geweer.
Onmiddellik na al die dreunende rumoer sak daar 'n onaardse stilte oor die kamer neer.
Die dreigende leeu het skielik 'n gevaarlose voorwerp geword, roerloos en baie stil.
Die rewolwer hang slap in Beneke se bewende hand. Hy sien van onder Euvrard se regterskouer 'n rooi straaltjie uitkruip wat stadig oor die gepolyste vloer kronkelend verleng.
Paul Beneke is die eerste wat weer praat, wat 'n einde aan die verskriklike stilte maak. So droog is sy mond dat sy woorde 'n skor gefluister is - maar hy sou in elk geval gefluister het. Dit sou hom byna as 'n ontheiliging voorgekom het om in teenwoordigheid van die stille, roerlose gedaante op die vloer hardop te praat.
‘Wat ... wat het hy bedoel? Wat het hy gemeen met spore in die sand?’
Daar is geen antwoord nie. En toe vir die eerste maal kyk hy na Susan. Sy staan 'n paar tree van hom af in haar wit deurskynende nagrok waardeur die skoonheid, die fyne prag van haar jeugdige liggaam soos 'n dowwe skadu sigbaar is.
Sy gee die indruk van die skoonste van die skikgodinne wat van naby aandagtig en nuuskierig haar jongste handewerk betrag.
Altwee haar hande is oor haar mond gevou asof sy op hierdie wyse alleen in staat is om 'n aanhoudende geskreeu teen te hou. Uit haar bleek gesig staar haar wydgerekte oë met die vonkeling van waansin in hul diepte. Haar blik is stip gevestig op die kronkelende rooi straaltjie wat van onder Euvrard se regterskouer stadig, so stadig, verder en verder oor die gepolyste vloer beweeg.
Sy het Paul se vraag onbeantwoord gelaat. Hy het gedink dat hy 'n skaars sigbare beweging kon bespeur, dat sy haar kop skud.
Maar Lalasini het geweet: sy het die oggend reeds geraai. Sy het goed geweet wat Euvrard se laaste woorde beteken het toe hy van spore in die sand praat. |
|