man het 'n landmeter een vir ons opgemeet. Ek sal slegs een afmeting hier gee wat nog in my geheue vassit.
Om twaalfuur smiddags, as die son reg bokant was, kon sesduisend man onder die skadu van die boom staan. Die stam, wat diep in die dryfsand begrawe was, was 'n vyftig voet in die omtrek net bo die oppervlakte van die grond. Die boom se hoogte is geskat op 280 voet. Dit was nie die enigste van die reuse in die nabyheid nie, vandaar die naam Ra Sithlare.
Die genoemde kaptein het een dogter gehad, Mabalêl, 'n meisie van tussen sewentien en agtien. Een aand was sy vir die gewone skeptyd van water te laat, wanneer die vroue gewoonlik op die wal by die skepplek vergaar om te was en water vir die nag te skep. Mabalêl moes later alleen gaan.
'n Klein meisie het haar vergesel en op die wal gewag totdat sy haar pot gevul het. Van haar skepplek af kon sy die meisies by die stat hoor sing en deur die ander meisie word vertel dat Mabalêl saggies aan die koor deelgeneem het en op die skepklip 'n paar dansstappies gemaak het.
Onder die riete links van haar rys 'n donker skaduwee uit die blou diepte. As Mabalêl dit ooit gesien het, het sy dit waarskynlik vir die weerkaatsing van 'n wolk aangesien en geen verdere notisie daarvan geneem nie.
Die tweede verskynsel was 'n stukkie dryfhout wat stadig uit die stroom na haar kant toe aanstuur. Weer het sy geen notisie geneem nie. Min het sy gedroom dat die stukkie hout die dood was in sy verskriklike gedaante.
Dit was Lalele, die voorlêer, Morena di Metsi, vors van die waters.
Die klein meisie het ook die hout gesien en ook geen notisie daarvan geneem nie.
Skielik was daar 'n vreeslike plas in die water. Mabalêl word met 'n reusestert om haar lyf in die stroom geslaan om na 'n enkele skreeu in die diepte te verdwyn. Binne 'n kort tyd het al die inwoners van die stat op die wal verskyn, waar die vroue met die gebruiklike jammerkrete begin het: ‘Mabalêl is dood; Mabalêl is dood.’
En so was dit.
Geen spoor van haar is ooit weer gevind nie. Die stat is versit en die naam van die seekoegat is volgens jagveldgewoontes verander na Mabalêl, soos dit tot vandag toe op ons kaarte heet. Sy sou binne 'n paar maande getrou het met die seun van die groot kaptein Mapela en haar dood het 'n groot opskudding onder die swart bevolking van die noorde veroorsaak, maar alle pogings van daartoe uitgenooide impi's was vrugteloos. In maande het niemand ooit weer 'n teken van Lalele in die groot seekoegat gesien nie.
Die krokodil moet intussen baie kinders gevang het, maar hulle was natuurlik van veel minder betekenis as Mabalêl en het in die geskiedenis verlore gegaan.