tertjies! En omdat hulle die meeste my aandag in die Wildtuin in beslag geneem het, sal ek derhalwe eerste van hulle vertel.
Voor die begin van die geslote seisoen had ek onlangs die eer om die Wildtuin in die geselskap van sekere lede van die raad te besoek.
By Punda Maria het ons bymekaargekom. Hier het die raad verskeie dae sitting gehou, en hier het ek die eerste keer kennis gemaak met die klein beeswagtertjies wat oral in die Wildtuin aangetref word.
Op verskillende plekke word die blanke wildwagters en die swart inwoners toegelaat om klein klompies vee aan te hou. Daar is nooit meer as agt of tien beeste in so 'n klompie nie en hulle word meestal opgepas deur drie of vier klein seuntjies van agt tot tien jaar oud. Dit was trouens die geval op verskillende plekke wat ek besoek het. Al wapens wat die snuiters dra, is twee of drie klein kieries, skaars groot genoeg om 'n muggie mee om die lewe te bring.
Hulle moet wakker wees - meer as wakker. Hulle moet gedurig die beeste op 'n digte klompie bymekaar hou en nooit vir een oomblik moet hulle oë afwyk van hul dikwels digbegroeide omgewing nie, want nooit weet hulle wanneer 'n leeu of selfs 'n eskadron leeus hul onverwagte verskyning kan maak nie. Hulle wei met die beeste tussen die leeus. Elke dag van hul lewe kom hulle in die nouste aanraking met leeus wat vir die mens glad g'n ontsag meer het nie. Maar dit moet 'n slim leeu wees wat in die lang gras so kan wegkruip dat die wagtertjies sy ore nie vroegtydig bespeur nie. En weet die leser wat doen hulle as 'n leeu of 'n familie leeus hulle verskyning maak? Ek weet wat ek sou doen en ek kan ook raai wat die meeste lesers sou doen. Ek sou die rieme neerlê solank die asem hou of totdat ek die naaste beklimbare boom bereik! Ek sou ten minste sorg om so spoedig moontlik die vee tussen my en die leeus te kry. Nie die klein wagtertjies nie! Die eerste wat hulle doen, is om die beeste op 'n digte bondel te dryf en dan tussen die vee en die leeus 'n wagpos in te neem. Hulle vang dan 'n oorlogsdans aan met onaardse geskreeu, 'n geslaan op die kieries en 'n op- en neerspring in die hoë gras wat die wreedste leeu meestal tot nadenke beweeg. Maar dit gebeur dikwels dat die leeus nie deur die lawaai afgeskrik word nie. Dan moet hulle bystaan en aanskou hoe een van hul beeste gevang en verslind word, 'n paar tree van hulle af!
Indien daar ooit 'n ridderkruis vir dapperheid in ons land tot stand gebring word en die uitdeling aan my toevertrou word, sou ek die eerste aan die veewagtertjies in die Wildtuin toeken, want nog nooit in my lewe het ek meer dapperheid sien toon as wat hulle gedurig aan die dag lê nie.
Die eerste nag by Punda Maria het ons die verbasende skouspel onder die strale van elektriese soekligte gesien van drie of vier leeus wat aan die een kant van die waterpoel op en neer sluip en aan die ander kant, nie twintig tree van die leeus af nie, 'n lang ry rooibokke besig om te drink. En die hele skouspel was skaars vyftig tree van ons af!