11 Kommandant Henning Pretorius se Tier
Kommandant Henning Pretorius, hoof van die Z.A.R. se Staatsartillerie, was 'n groot liefhebber van diere, mak diere en wilde diere. Sy beroemde perde was deur die hele Transvaal bekend. Hy het nie alleen 'n oog vir 'n mooi dier gehad nie, maar hy het die hart en die hand gehad waarsonder die behoorlike afrigting van 'n perd nooit kon geluk nie.
Hierdie selfde aanleg het die kommandant ook 'n buitengewoon behendige temmer van wilde diere gemaak. Hy het o.m. 'n hele paar mak bobbejane gehad, waarvan sommige Transvaalse vermaardheid verwerf het.
Een van hierdie bobbejane het gereeld tougelei. Dit is nogal iets wat destyds nie ongewoon was nie. Dit skyn asof die bobbejaan daar 'n sekere mate van genot in geskep het en seker nie as ongewenste werk beskou het nie. Tussen so 'n bobbejaan-touleier en die voorosse het spoedig 'n hegte vriendskap ontstaan. Wanneer die span deur water moes gaan, het die bobbejaan eenvoudig op die voorjuk gespring en die span van daar met luide geskreeu gerig. Dit het die kommandant se bobbejaan ook gedoen. Ook wanneer hy lui word, was dit sy gewoonte om op die nek van die voorosse te klouter en daar aan die slaap te raak. Een roep van sy baas was genoeg om hom haastig voor die tou te bring.
Snags het Adoons saam met die mense om die vuur plaasgeneem. Hier het hy ‘fatsoenlik’ koffie uit 'n beker gedrink en sy kos uit 'n bord geëet! Soos bykans alle bobbejane, was Adoons verdold op tabak. Maar die kommandant se bobbejaan het nie alleen gepruim nie; hy het ook geleer pyp rook en op bevel van die kommandant moes die Boesman af en toe sy pyp aan Adoons leen, wat nooit - wat die Boesman betref - te welwillend gedoen is nie. Adoons is ook geleer om vir sy baas 'n brandende stompie uit die vuur te haal en sy pyp daarmee op te steek. Wanneer die vuur tot gloeiende kole weggebrand was, het hy 'n kool uit die hoop gekrap en daarmee aangehardloop gekom terwyl hy die kool haastig van een hand na die ander gooi.
Een van die merkwaardigste diere wat kommandant Pretorius mak gemaak het, was 'n mannetjiestier wat in die hoofstad algemeen onder die naam Tierman bekend was.
Hy is deur een van die artillerie-manskappe in Soutpansberg gevang toe hy