verraai. Hy het egter die laaste weg gekies, toe sy maat in die diepste mismoedigheid verklaar: ‘Jy kan doen wat jy wil, Sois; skiet my nou hier dood, maar as jy dit nie doen nie, gaan ek my aan die naaste Engelse wagte oorgee.’
Sois het sy sak-Bybeltjie uitgehaal en dit aan sy maat oorhandig. ‘Ek sal jou laat gaan sonder jou wapens,’ sê hy, ‘as jy met die Bybel in jou hand voor God verklaar dat jy my nie aan die Engelse sal verraai nie.’ Die eed is plegtig afgelê. Toe neem Sois op sy beurt die Bybel en sê: ‘Luister nou na my eed ook: Ek sweer plegtig met Gods Woord in my hand dat indien jy my verraai, ek jou eiehandig sal doodskiet waar en wanneer ek jou kry, in vrede of in oorlog, in die oop veld, of te midde van jou huisgesin.’
Die maat wis waarskynlik met wie hy te doen had, want hy het Sois nie verraai nie. Hy het hom met 'n kus en trane gegroet en deur die bome na die Engelse wagpos, waarvandaan hulle al die tyd stemme kon hoor, met 'n wit doek in sy hand aangeloop met sy perd agter hom.
En toe was Sois alleen met die swart Arabier. Die vierde dag sonder kos of water! Waar die gevaar hom die nouste geraak het, was die feit dat sy perd 'n hings was en dat daar gedurig Engelse perde binne 'n paar tree van hom verbygaan. Hy moes gedurig - dag en nag - by sy kop staan om hom aan die lip te gryp sodra hy 'n teken gee dat hy wil runnik.
Dit is moeilik vir ons vandag, te midde van vrede en veiligheid, om so 'n toestand te besef, veral as ons altyd in gedagte hou dat dit 'n seun van sestien jaar betref.
Nooit het die Arabier sy getrouheid en verstand so skitterend getoon as by hierdie geleentheid nie. Uiteindelik was Sois so uitgeput en vaak dat hy op sy voete aan die slaap moet geval en inmekaargesak het. Hy het vir ure geslaap, soos hy kon merk aan die posisie van die son toe hy wakker skrik. Dit was mensestemme wat hom wek en toe hy helder wakker word, kyk hy vas in die oë van sy getroue perd, wat roerloos oor hom staan. Die gedrag van die perd kan alleen uitgelê word op die vermoede dat hy reeds in die paar dae geleer het dat hy nie moes runnik nie, 'n les wat hy nooit gedurende die oorlog afgeleer het nie. Dit was slegs nodig om hom 'n digte bos binne te lei, 'n paar keer oor die neusgate te streel en sy onderlip vas te knyp, dan staan hy daar roerloos, sonder om te runnik of selfs te proes, totdat sy baas weer by hom kom.
Ná sy skielike ontwaking bekruip Sois die Engelse wagpos, wat skaars dertig tree van hom af was. Dit was 'n afdeling met twee pakmuile en 'n heliograaf-instrument wat hul besig was om te beproef. Hy moes maar weer terugkruip in die ruigte in om weer in die laaste stadium van honger en dors die wag langs sy perd te hou. Gedurende die volgende nag het hy weer aan die slaap geraak, nieteenstaande inspanning van al sy wilskrag. Die son was net aan opkom en om hom was alles doodstil. Hy het met 'n dankgebed tot die gevolgtrekking gekom dat die Engelse die kop verlaat het, maar hy sou eers later uitvind. Hy