Dit is selde of nooit dat 'n perd werklike liefde vir sy baas toon, seker nooit die liefde wat bv. 'n hond dikwels teenoor 'n mens koester nie. Hierdie Arabier was 'n merkwaardige uitsondering. As daar ooit 'n dier was wat sy baas liefgehad en dit op verskeie wyses getoon het, dan was dit hierdie perd.
Hy was klein, 'n egte beenkop en pikswart van hoef tot oor. Nooit in my lewe het ek 'n perd gesien so rats tussen rotse of op die gevaarlikste bergpaaie nie. Onnodig om te sê dat dit 'n eienaardigheid was wat vir kapt. Boshoff van die grootste nut was.
Kaptein Boshoff was die jongste lid van die kommando. Hy het aangesluit toe hy vyftien jaar oud was en was spoedig een van genl. Beyers se mees vertroude verkenners. Die tallose avonture wat hy deurgegaan het, leef nog in die noorde in die geheue voort. Deur al die gevare wat hy moes trotseer, was die Arabier steeds 'n troue metgesel wat sy baas nooit in die steek gelaat het nie en verskeie male sy lewe gered het. Ek sal graag eendag 'n breedvoerige geskiedenis van kapt. Boshoff se oorlogsloopbaan skrywe en daarin sal die Arabier geen geringe rol speel nie. Dit is hier en nou slegs moontlik om 'n paar episodes op te noem.
Net soos ou Leeu het die Arabier ook mettertyd 'n ware besef van die bron van gevaar gedurende die oorlog opgedoen. Hy wis dat die Kakies die vyand was, wat moes vermy of vernietig word na gelang van omstandighede en hy kon sy baas deur sy houding tydig kennis gee van die nabyheid van die vyand voordat hulle sigbaar was. In plaas van veld in te vlug, soos die meeste perde geneig is om te doen as die eerste skote val, het die Arabier altyd regstreeks na sy baas gehardloop met 'n aanhoudende gerunnik wat aanhou totdat hy opgesaal en bestyg is. Vir stormloop was hy nooit bevrees nie, solank sy baas op sy rug is. Hy het verskeie male op die vyandelike linie afgestorm met dieselfde opgewondenheid en vreesloosheid wat hy op 'n tentoonstelling sou toon. En wanneer daar gevlug moes word, was daar geen perd in die kommando wat by die Arabier kon bly nie. Dit was nooit nodig om hom te stuur nie. Hy het altyd sy eie pad gekies en ek glo nie dat hy ooit in sy lewe gestruikel het nie, nieteenstaande die feit dat die grootste deel van sy lewe in die ruie gebergtes van Waterberg en Soutpansberg geslyt is.
In die beroemde klein slag van Oskloof het hy kapt. Boshoff se lewe op merkwaardige wyse gered. 'n Afdeling van generaal Beyers se kommando, tesame met die Kaapse ruiters onder kmdt. Rousseau, het in Oskloof gekamp toe hulle skielik vasgekeer word deur 'n oormag Engelse troepe wat die wagte oorrompel het. Oskloof is aan die bo-ent deur steil kranse ommuur. Daar is verskeie plekke waar dit moontlik is om te voet uit te kom deur van een lys na die ander te klim, maar vir 'n perd is daar hoegenaamd geen uitweg nie. Kmdt. Rousseau had die vroegste kennis van die vyandelike nadering. Hy het dadelik bevel gegee om die Engelse linie aan die onderent van die kloof te bestorm en sy