| |
8 'n Paar Staaltjies van Perdediewery
Voor die tydperk van motors, in die dae van die Republiek, selfs van Voortrekker-tye af, het 'n reeks eienaardige skelms die een ná die ander die bevolking se aandag en belangstelling geboei. Hulle was almal Afrikaners, meestal uit ons voorste families, wat hulle uitsluitend op die diefstal van perde toegelê het. Aan die ander misdade het hulle hulle nooit skuldig gemaak nie, slegs aan ontvlugting van 'n werkende bandietspan of ontsnapping uit die gevangenis - en aan diefstal van perde. Die ingebore Afrikaner-perdekennis en -perdeliefde het by hierdie historiese diewe 'n hoogtepunt bereik wat hulle van hoë diens was in die uitvoering van hul kriminele bedrywigheid. Hulle was gewoonlik net so goed bekend as die president self, en daar was min Afrikaners wat nooit onder hul bekoring geval het nie. Ons kinders het hulle afgodies bewonder as helde van die eerste water. Wanneer die berig rondgaan dat ou Jakob Breytenbach of, later, Jaap van Deventer, weer uit die gevangenis ontsnap het, het menige geheime wens die vlugtelinge agtervolg dat die polisie hulle nie te gou in die hande moet kry nie.
Nooit sal ek my vriendskap met ou Jakob Breytenbach vergeet nie. Ek herinner my dat al my speelmaats my dit vreeslik beny het. Ou Jakob Breytenbach was een van die vernuftigste perdediewe en tronkbrekers wat ons land ooit geken het. Hy was uit een van ons voorste Voortrekker-families en het op die Hoëveld onder perde grootgeword. Wonderlike verhale is van sy ruiterskap vertel vanaf sy vroegste jeug, en ek weet uit eie kennis dat hy selfs op sy oudag 'n perd kon hanteer soos geen ander mens wat ek ooit geken het nie. Hy het 'n slag gehad wat die wildste perd binne 'n paar minute so kon betower dat hy hom bloots en toomloos kon opklim. Menigmaal het hy 'n wilde jong perd in die veld gevang onder 'n trop wat die eienaar self alleen binne 'n kraal met die vangstok in hande kon kry. Hy het die perd tou in die bek bestyg, by die naaste
| |
| |
woning 'n saal gesteel en 'n week later die perd in 'n ander distrik te kope aangebied.
Breytenbach het sy hele lewe in die tronk deurgebring. Sy laaste vonnis was op Heidelberg, vir diefstal van 'n perd, toe hy een-en-tagtig jaar oud was. Dit was 'n jaar vóór die Driejarige Oorlog. Vroeër moes hy herhaalde vonnisse in die Pretoriase gevangenis uitdien.
Dit was hier waar ek kennis met ou oom Jakob gemaak het. My moeder het hom persoonlik geken voordat hy die weg van misdaad bewandel het en sy het altyd 'n gevoel jeens die ou dief gekoester wat ek ten minste goed kon besef. Ek was toe nog 'n klein seuntjie en ou Jakob was al in die sewentig. Ons gevangenisreëls was nie erg streng nie en in elk geval sou die sipier ou Jakob altyd gunstig behandel het. Kennisse is toegelaat om vir die ou man lekkernye na die tronk te stuur. Ek moes af en toe vir die ou man 'n trommeltjie mosbolletjies en wildsbiltong bring, en nooit sal ek die groot, geboë gestalte met sneeuwit baard en hare vergeet nie. Hy het destyds nooit saam met die werkspanne uitgegaan nie, tensy hy dit self verlang het. Ek het hom gewoonlik op 'n ou riempiesmatstoel teen die muur van die gevangenis gevind, met enorme kettings aan sy bene. Die gesig van die kettings was vir my altyd 'n afgryslikheid en die ou man het hierdie pynlike indruk vererger deur die kettings altyd die onderwerp van sy klaagliedere aan my te maak. ‘Jy sien hoe ek ly,’ sê hy aan my. ‘Vertel dit aan jou moeder en smeek haar om die president self te gaan sien. Sy moenie skryf of boodskappe stuur nie. Sy moet self gaan. Sy moet hom smeek om die kettings af te haal. Ek is oud en gedaan - jy sien self, seuntjie. Hoe sal ek ooit oor hierdie mure kom? Ek vra nie om vrystelling nie - ek vra net dat die kettings afgeneem word. Dit is bitter om in hierdie koue met die kettings om jou lyf en bene te lewe. Ek slaap nooit meer nie. Sê aan jou moeder, ek smeek haar!’ So het die ou man altyd voortgegaan.
Of dit deur bemiddeling van my moeder was, weet ek nie, maar ek weet dat sy die president op 'n sekere oggend besoek het om die smeekklagtes van die ou bandiet aan hom oor te dra. Hoe dit ook al was, sy kettings is op hoë bevel afgehaal en die ou man is 'n groter mate van vryheid toegelaat. Binne 'n maand het hy uit die gevangenis ontsnap, helder oordag! Hy het by ons huis aangekom en my moeder vertel dat die president hom pardon geskenk het. Dit was vroeg in die môre. Haastig het hy by ons 'n koppie koffie gedrink, 'n paar snye brood in sy sak gesteek en toe is hy die digte bosse langs die rivier in. 'n Uur later verskyn die polisie. Hulle deursoeking van die rivierbosse tot aan die Fonteine was vrugteloos.
Dié nag het ou Jakob - in sy ses-en-sewentigste jaar - een van sy grootste kordaatstukke uitgevoer. Hy het uit die stal van Sunnyside - destyds die woonplaas van die Mears-familie - die volbloedhings Star gesteel, 'n resiesperd wat deur die hele Republiek bekend en beroemd was. 'n Maand later het hy die
| |
| |
hings in die distrik Wakkerstroom teen £25 aan 'n boer verkoop. Die perd het mnr. Mears £600 in Engeland gekos.
Byna 'n jaar later het een van die Mears-seuns Star op Kerkplein, Pretoria, in 'n span van ses herken. Die ongelukkige koper moes hom aan die beroofde eienaar teruglewer.
Later het ou Jakob weer in die hande van die gereg geval en vir hierdie diefstal - onder 'n hele reeks wat hy gedurende sy vrye tyd gepleeg het - is hy tot drie jaar harde arbeid in Pretoria gevonnis. Ek glo dat hy in die Heidelbergse gevangenis kort voor die oorlog dood is in sy twee-en-tagtigste jaar.
'n Ander en veel later beroemde perdedief was Jaap van Deventer. Ek het hom verskeie male voor die hof gesien. Hy was ontsettend lelik, met 'n gesig vol rimpels, ofskoon hy destyds 'n betreklik jong man was, met rooi hare en sproete wat elke deel van sy gesig en hande bedek.
Die storie van sy lewe is 'n onderwerp vir 'n toekomstige Afrikaner-skrywer wat verlang om die boeiendste roman te skrywe wat nog ooit in ons taal verskyn het, 'n roman wat in alle opsigte waar sal wees. Nooit in die hele wêreld was daar 'n skelm wat sulke verbasende, sulke ongelooflike toere uitgevoer het as Jaap van Deventer nie. Laat ek hier slegs 'n paar van sy kordaatstukke herhaal as 'n inleiding tot wat ek beskou as die mees romantiese van sy avonture en miskien die een wat die minste bekend is; dit is sy vlug na Portugees-Oos-Afrika op die resiesperd Satan.
Jaap van Deventer was 'n Transvaler van geboorte en het hom ook van sy vroegste jeug uitsluitend op perdestelery toegelê. Net soos Jakob Breytenbach, het hy sy perdekennis op die Hoëveld opgedoen, wat destyds van perde gewemel het. Hier is hy gebore en hier het hy grootgeword, om op latere leeftyd na die distrik Heidelberg te verhuis. Dit kan egter nouliks gesê word dat Jaap ooit 'n vaste verblyf had anders as die reeks gevangenisse wat hy af en toe met sy teenwoordigheid vereer het. Jaap was nie alleen 'n heerlike en aantreklike perdedief, 'n genie in tronkbraak nie, maar hy was buitendien 'n humoris wat die steel van 'n perd as die grootste grap beskou het. Al die wedervaringe van sy avontuurlike lewe het hy met 'n vrolike glimlaggie tegemoetgegaan wat dikwels die harte van die jurie gesteel en hom 'n aanbeveling tot die genade van die hof besorg het.
Luister na enkele van sy heldedade en na sy nog heldhaftiger uiteinde, wat seker vergelding was vir die meeste van sy misdade.
Eenkeer het hy uit die gevangenis op Heidelberg ontsnap. Berigte is dadelik aan polisie, veldkornette, beamptes en alle burgers gestuur om op hul hoede te wees vir die berugte dief. Aan die voet van die berge was 'n eensame plaas waar die berig vroegtydig aangekom en groot ontsteltenis veroorsaak het. Die baas van die plaas was afwesig. Sy vrou en klompie klein kinders was alleen tuis en in die stal was verskeie eersteklasperde wat ongetwyfeld 'n groot lokaas vir
| |
| |
Jaap sou wees, indien hy van hulle wis, en daar was min perde in die distrik wat hy nie geken het nie.
Derhalwe was dit met groot genoeë dat die vrou van die plaas laat die aand 'n man te perd voor haar deur gewaar. Sy kon sien dat sy swak ou perd flou was en hy self uitgeput van 'n lang reis. Met gewone Afrikaner-gasvryheid word hy ingenooi, sy miserabele ou perd afgesaal en op stal gesit en die spaarkamer vir hom gereed gemaak. Hy het hom voorgestel as Van Tonder uit die distrik Ermelo op pad na die een of ander bloedverwant. Gedurende die aandete het die gasvrou hom vertel hoe dankbaar sy is dat hy juis toe aangekom het want haar man is na die dorp en sou eers die volgende oggend terug wees - en Jaap van Deventer is los. Die besoeker het nog nooit van Jaap van Deventer gehoor nie en die dame moet 'n interessante en miskien simpatieke skets van die beroemde dief gegee het. Ná ete het die besoeker vir die gesin huisgodsdiens gehou. Intussen het hy alles omtrent die naburige plaas uitgevra.
Die volgende oggend toe die bediende koffie na die kamer neem, word ontdek dat die besoeker weg is sonder dat hy ooit in die bed geslaap het. Sy ou uitgeputte perd was nog in die stal, maar binne 'n uur kom daar 'n berig dat van 'n buurman dié nag twee uitmuntende perde uit die stal gesteel is met saal en toom. Die besoeker was Jaap van Deventer, wat op hierdie wyse sy dankbaarheid aan sy gasvrou betoon het. Sy flou perd was een wat hy op die dag van sy ontsnapping binne die dorpsgronde van Heidelberg gesteel het.
By 'n ander geleentheid het Jaap uit die Johannesburgse gevangenis ontsnap en saam met hom het 'n beroemde resiesperd van die plaas Olifantsfontein verdwyn.
'n Maand later was daar wedrenne in Barberton. Die reëls van die tyd was nie te streng nie. Drie dae voor die groot plaat word 'n perd onder die naam Tonerre deur die eienaar vir die groot plaat ingeskrywe. Ook is bekend gemaak dat die jokkie van Tonerre die eienaar self sou wees, mnr. Jones. Daar was verskeie Johannesburgse resiesmense op die baan teenwoordig en toe Tonerre vir vertoning by die verhoog verbygalop, was daar twee wat byna seker was dat hulle die perd herken as Flikflooi van Olifantsfontein. Die polisie is in kennis gestel en daar was spoedig 'n klompie dienders gereed om ‘mnr. Jones’ ná die wedren 'n paar vrae te stel. Tonerre is ingeskrywe as 'n perd wat nog nooit 'n plaat gewen het nie, derhalwe dra hy die laagste gewig. Toe die perde by die wenpaal verbygaan, was Tonerre drie lengtes voor die tweede perd.
Intussen het die polisie voor die skaalkamer stelling ingeneem. Arme skepsels, hulle had met 'n genie te doen en wis dit nie. Mnr. Jones kom aangery op Tonerre, oënskynlik op sy dooie gemak, maar voor die hek van die afskorting hou hy stil en bekyk die omgewing. Tot verbasing van die juigende toeskouers, ruk hy Tonerre om en met spoor en karwats forseer hy 'n weg deur die gedrang op die baan. Haastig het die polisie ook hulle perde bestyg, maar watter kans
| |
| |
had hulle teen Jaap van Deventer op 'n afgerigte volbloedperd soos Flikflooi? Hy het spoorloos in die oostelike Bosveld verdwyn om enige maande later sy verskyning in Lourenco Marques te maak.
Sy laaste toer is in Pretoria uitgevoer. Hy was hier in die gevangenis op 'n vonnis vir perdediefstal. Tevergeefs is Jaap van Deventer met swaar kettings belaai; tevergeefs vir so 'n genie was staaldeure en klipmure. Een nag het hy uit sy sel ontsnap, met agterlating van 'n vyl en sy kettings. Langer as 'n week was daar geen taal of tyding van hom nie. Terwyl die polisie alle paaie dophou en Johannesburg deursoek, was Jaap binne 'n paar tree van hulle af. Hy was nooit verder as vyfhonderd tree van die gevangenismure af nie. Daar het hy hom skuilgehou terwyl hy sy groot kordaatstuk beraam en oorweeg het.
Tien dae later het hy dit uitgevoer. Onder die neuse van die wagstaande artillerie-manskappe het hy president Kruger se twee pragtige koetsperde uit die stal gesteel en is veilig met hulle vort.
Dié keer was sy vryheid kort van duur. Hy is in Johannesburg gearresteer en tot 'n lang tronkstraf gevonnis. Veiligheidshalwe is hy na 'n buite-gevangenis te Klipriviersberg vervoer en hier tot die uitbreek van die oorlog veilig gehou. In die oorlog het kommandant Danie Theron die gevangenis besoek en Jaap van Deventer het dadelik aangebied om onder Danie te dien. Sy aanbod is aangeneem en onder die beroemde held het Jaap van Deventer gedien en sy lewe op die veld van eer neergelê. Sal sy heldedaad nie as vergelding vir sy perdediewery dien nie?
Daar is geen twyfel dat Jaap van Deventer veel ridderliker as ou Jakob Breytenbach was nie. My indrukke van laasgenoemde kan egter te wyte wees aan die feit dat ek hom slegs in sy ouderdom geken het, toe al sy jeugdige togte lank reeds verdamp het, terwyl Jaap 'n jong man was toe hy op die slagveld teen die Engelse gesneuwel het.
Ek onthou een geval van ou Jakob wat in alle opsigte vergelykbaar is met die voorval wat ek in die vorige verhaal van Jaap beskrywe het.
By geleentheid van een van sy ontsnappings uit Pretoria, het Jakob eerste te lande gekom by die woning van mevrou Badenhorst, 'n alombekende weduwee, eienares van die plaas wat aan die huidige staalfabriek gegrens het. Hy het laat die aand te voet aangekom. Mevrou Badenhorst het hom natuurlik goed geken. Die feit dat Jakob nooit teen die aantreklikheid van 'n mooi perd bestand was nie, is hom nooit juis as 'n skande toegereken nie; daarom was dit dat hy met gebruiklike gasvryheid ontvang is en 'n slaapkamer vir hom gereed gemaak is, nieteenstaande tant Sannie redelike agterdog had dat hy sonder verlof sy vorige tehuis in die hoofstad verlaat het. Mevrou Badenhorst het twee gawe en bekende karperde in die stal gehad.
Terwyl hulle aan tafel sit, sê tant Sannie aan haar besoeker: ‘Jakob, jy weet
| |
| |
ek is 'n arme weduwee wat baie moet sukkel om my gesin aan die lewe te hou. Jy sal seker nooit hand aan die halters van my perde sit nie. Dit sou 'n skandelike vergoeding wees vir wat ek nou aan jou doen.’
‘Wat dink jy van my, nig Sannie?’ was sy verontwaardigde antwoord. Ná ete is ‘boeke gevat’ en Jakob het die diens met groot plegtigheid gelei. Die feit dat hy 'n perdedief was, het natuurlik niks afgedoen aan sy godsdiensgevoel, wat die gemoed van sy gasvrou betref nie, net so weinig as wat dit tot sy maatskaplike skande gestrek het.
Dié nag is ou Jakob deur die venster van sy slaapkamer en die volgende oggend was tant Sannie se pragtige twee skimmels, tesame met haar gas, afwesig.
Aan so iets het Jaap van Deventer hom nooit skuldig gemaak nie. Hy was meestal ridderlik en altyd vol humor, en nooit het hy hom aan 'n ander misdaad as perdediewery skuldig gemaak nie. Soos ek reeds gesê het, mag hierdie onderskeid alleen te wyte wees aan die feit dat toenemende ouderdom en liggaamlike swakheid die bestaanstryd vir ou Jakob - toe ek hom geken het - so streng gemaak het dat alle ridderlike gevoel moes wyk.
Ek dink nie dat daar 'n meer storieagtige avontuur van Jaap van Deventer was as sy ondervindings met die perd Satan nie. Ek het die voorval so verneem van kolonel De Ville self, enige jare voor sy dood.
Dit was ná een van Jaap se ontsnappings, maar dié keer was daar verskeie beskuldigings waarvoor hy nog moes teregstaan. Weer het hy uit sy sel losgeraak, nieteenstaande hy met swaar remkettings belaai was.
Die polisie was lank reeds moeg vir Jaap. Hulle is so dikwels in nuusblaaie en selfs in die Volksraad bespot oor hulle hulpeloosheid wat hulle stryd teen hierdie enkele perdedief betref, dat 'n gevoel van wrewel ontstaan het wat elke polisicman tot sy uiterste aangespoor het. Kolonel (destyds luitenant) De Ville het die saak self in hande geneem. Hy was vreeslik teen Jaap verbitterd omdat laasgenoemde hom reeds drie keer koudgelei het. Dié keer sou hy self sorg om die skelm so gou moontlik weer in boeie te lê. 'n Noukeurige ondersoek van die laaste spore van die ontvlugte bandiet het De Ville daarvan oortuig dat hy hom êrens in ons noordelike Bosveld skuilhou en hy het ook tot die gevolgtrekking geraak dat Jaap vroeër of later met Nylstroom in aanraking sou kom om uitrusting in die hande te kry voordat hy sou trag om sy verblyf in een van die groot stede op te neem. Daarom was dit dat luitenant De Ville 'n kamer in die Nylstroomse hotel gehuur het en hier sy verblyf opgeneem het. Vir vermomming was daar geen node nie want Jaap het hom nooit vantevore persoonlik ontmoet nie. Hy was natuurlik nie in uniform nie en het onder 'n skuilnaam gegaan en het voorgegee om 'n jong Vrystaatse boer te wees wat hier in die noorde na grond soek. Daar was derhalwe niks vreemds in die feit dat hy so spoedig moontlik met die meeste ingesetenes van die klein dorpie kennis gemaak het en alles omtrent die omgewing van die dorp uitgevra het nie. Hy het altyd die ge- | |
| |
voel gehad dat Jaap êrens in die nabyheid was en dat hy uiteindelik met hom in aanraking sou kom.
Onder die kennisse wat hy deur bemiddeling van die hotelbaas gemaak het, was 'n ou Waterberger, Koos van Heerden. Die ou heer was woonagtig in 'n klein huisie van twee vertrekke op die buitekant van die dorpie en was in alle opsigte uiters interessant; maar wat luitenant De Ville die meeste tot hom aangetrek het, was sy grondige kennis van al die uithoeke van Waterberg. Hy was sy hele lewe 'n jagter - dit het die hoteleienaar vooraf vertel - en het jare lank langs die Krokodilrivier gewoon. Hier het sy ou vrou onlangs aan koors beswyk, terwyl al sy kinders reeds getroud was en na ander oorde getrek het. Die eensaamheid op sy oudag was ondraaglik en die ou heer het sy grond verkoop om sy verblyf op die dorp te neem.
De Ville het hom byna elke dag in sy hartbeeshuisie besoek, waar 'n ou dame - 'n verlangse familielid - as huishoudster diens gedoen het.
Oom Koos van Heerden was destyds 'n man van sowat vyf-en-sestig - so altans was die skatting van luitenant De Ville - maer van liggaam, met 'n yl, grys baardjie, diep geboë rug en merkbare mankheid wat hy in 'n jagavontuur opgedoen het. Hy het altyd 'n kierie van ses voet lank gedra, was 'n groot liefhebber van snuif, het nooit drank sterker as koffie gebruik nie en kon op baie aanvallige wyse jagstories vertel.
Stadig en byna onmerkbaar het De Ville die saak van Jaap van Deventer aangeroer. Die ou man had natuurlik baie van Jaap gehoor maar het hom self nooit gesien nie. Hy het egter volmondig met De Ville saamgestem dat die skelm êrens in die Bosveld is en waarskynlik baie naby Nylstroom.
‘Nou ja, ek wens hom alle geluk,’ sê De Ville by een geleentheid. ‘Hy is 'n ridderlike dief wat nooit 'n arm man benadeel het nie. Die mense wat hy beroof, kan die verlies altyd goed dra. Mag hy dié keer heeltemal loskom.’
Ou Koos van Heerden was oor hierdie uitdrukkings erg gesteurd. Hy was nog een van die ou soort vir wie 'n dief altyd 'n dief bly.
‘Hoe kan jy so praat, neef?’ was sy verontwaardigde antwoord. ‘Dit is die plig van elke burger om die skelm tot sy verdiende loon te bring. As ek ooit op sy spoor kom, sal ek seker nooit nalaat om die polisie dadelik daarvan in kennis te stel nie.’
De Ville het die gesprek met 'n laggie beëindig en die versekering, toe hy merk hoe gesteurd die ou heer was, dat hy dit nie so ernstig bedoel het nie.
Ou Koos van Heerden het die geselskap van die jong sogenaamde Vrystaatse boer klaarblyklik baie aantreklik gevind. Daar het selde 'n dag verbygegaan dat hy hom nie in sy kamer besoek het nie, vernaamlik as De Ville 'n tyd lank nie by hóm was nie, en so interessant was die gesprek en stories van hierdie sagmoedige ou man dat dit geen huigelary aan die kant van De Ville gekos het om hom immer van harte welkom te heet nie. In sy slaapkamer was De Ville se re- | |
| |
wolwer en geweer, wat ou Van Heerden dadelik as ‘regeringsgoed’ herken het. Met De Ville se uitleg dat dit op 'n regeringsvendusie gekoop is, was hy dadelik tevrede. Hy het egter niks van die Steyr gehou nie. Oud soos hy was, sou hy De Ville enige dag uitdaag om skyf te skiet en dan sou hy wys dat sy ou byna uitgeskiete Mauser nog beter was as hierdie blink Steyr met sy potloodkoeëltjie.
Agter in die stal was De Ville se perd, waarin die ou man ook baie belang gestel het. Hy het die jong Vrystater kosbare raad gegee omtrent die behandeling van perde hier in Waterberg, en toe die perd skielik tekens van papies toon, was dit ou Van Heerden wat medisyne aangemaak en ingegee en die perd binne twee dae gesond gemaak het.
Een oggend was die twee vriende diep in gesprek langs die groot watervoor voor die hotel, toe 'n Boesman 'n onbekende perd uit die agterplaas van die hotel by hulle verbylei. Dit was 'n pikswart volbloedhings, so baldadig en op sy stukke dat die Boesman al sy aandag moes gee om die perd in bedaring te hou.
‘Magtig,’ roep die ou man uit, ‘dit is vir jou 'n mooi perd! Jy moet weet, neef, ek het tussen perde grootgeword en nou op my oudag vind ek dat 'n mooi perd my nog altyd gaande maak, terwyl die gevoel vir 'n mooi vrou lankal verdwyn het. Jammer,’ gaan hy voort, ‘dat die perd gevoelig is aan sy regtervoorbeen. Wag, Boesman, laat ek sien wat jou perd makeer.’
‘My perd makeer niks, oubaas,’ antwoord die Boesman. ‘Dis maar net sy baldadigheid.’
Sonder om meer te praat, nader ou Koos die vurige hings en stryk hom liggies langs die blad en by die regtervoorbeen af.
Die perd het hom met 'n runnik en 'n klein happie begroet.
‘Nou toe, lei hom nou,’ gebied ou Koos.
Tot De Ville se verbasing en die Boesman se ontsteltenis, was die perd dadelik so kreupel in die regtervoorbeen dat hy die hoef nie op die grond kon plaas nie. Toe die Boesman hom probeer lei, spring hy sukkelend op drie bene.
‘Magtig, oubaas, wat het jy aan my perd gedoen?’ roep hy verskrik en agterdogtig uit.
‘Dis jou domheid, skepsel. Jy sou jou baas se perd laat verniel het as ek nie vroegtydig gesien het nie. Leen my jou knipmes, neef,’ vra hy aan De Ville.
Met ratse hantering lig hy die hoef van die hings teen sy lies en gee een sny met die knipmes in die sagte been.
‘Toe, nou is dit reg, my jong,’ sê hy aan die Boesman, terwyl hy saggies die ore en neus van die perd stryk soos 'n perdekenner alleen weet om te doen.
Nog groter was die verbasing van die toeskouers toe die perd dadelik weer sy eier-trap begin sonder die minste teken van mankheid.
‘Dit was maar net 'n stukkie hoef wat op 'n liddoring gedruk het,’ was sy eenvoudige uitleg toe hy die mes aan De Ville teruggee.
| |
| |
Maar laasgenoemde was met hierdie uitleg nie tevrede nie. Ook hy het iets van perde geweet, en hy had die gevoel dat ou Van Heerden van die een of ander kuns gebruik gemaak het om die perd kreupel en so gou weer gesond te maak. Maar van sy agterdog het hy niks gesê nie. Hy het egter die Boesman en die hoteleienaar breedvoerig uitgevra omtrent die perd en die doel van sy teenwoordigheid. Onder die belofte van geheimhouding is hom vertel dat die hings 'n resiesperd is wat die eienaar vir die groot plaat in Johannesburg wou afrig, so heimlik dat die ‘boekies’ niks van sy spoed sou weet voor hy op die baan verskyn nie. Daarom het die eienaar hom hier na die Bosveld gestuur, waar hy hom binne 'n paar dae sou besoek.
De Ville het altyd verklaar dat hy geen uitleg kon gee vir sy agterdog omtrent Satan nie, maar van hierdie eerste ontmoeting af het hy Satan en die Boesman nag en dag heimlik dopgehou. Hy het dikwels in die nag opgestaan en die stal besoek, waar sy eie perd ook staan, totdat hy een nag 'n ondervinding had wat sy agterdog tot vuur en vlam gewek het. Dit was lank na middernag en toe hy in die agterplaas uit sy slaapkamer kom, was die stal oënskynlik stil en donker. Maar net voordat hy omdraai, sien hy 'n klein liggie, wat net so vinnig weer verdwyn, deur die sporte van die deur. Hy is vinnig agter die stal in, waar hy reeds 'n loerplek gereed had. Hier kon hy op 'n kassie staan wat hom toelaat om deur 'n luik die binnenste van die stal te bekyk. 'n Lang tyd kon hy geen uitleg vind vir die sonderlinge skouspel wat sig aan hom openbaar nie. In Satan se afdeling is twee mense besig om die perd in die lig van 'n klein verdoofbare lanterntjie te roskam, af te borsel en skoon te vryf. Waarom sou hulle dié tyd van die nag kies om die hings skoon te maak, en wie is hulle? Aan die een was nie te twyfel nie - dit was die Boesman, maar dit het 'n rukkie geneem voordat De Ville die tweede herken. Tot sy verbasing sien hy dat dit Koos van Heerden is, maar nie die afgeleefde ou Koos wat hy voorheen geken het nie. Dit was nog dieselfde ou man wat betref sy yl grys baardjies en grys hare, maar sy houding was anders. Nie meer was sy rug krom van ouderdom en sy bewegings traag en swak onder die las van jig nie! Die ou man was nou regop soos 'n hekpaal en so rats soos 'n kat in al sy bewegings.
Stadigaan word sekere dinge vir De Ville duidelik.
‘Hemel! Wat 'n dwaas was ek!’ dag hy.
Hy het die hele nag wag gestaan, gespoor en gewapen, totdat ou Van Heerden na sy huis vertrek en die Boesman gaan slaap het. Voordag het De Ville weer die stal besoek met 'n wit sakdoek en bottel spiritus in sy hande. Hy het een kol op die boud van die hings met die spiritus afgewas en binne 'n paar minute was die doek pikswart en die gewaste kol toon die hare van 'n ligte vos. Toe onthou hy dat 'n beroemde vos renperd kort ná Jaap van Deventer se laaste ontsnapping uit Krugersdorp verdwyn het.
Die volgende oggend staan De Ville sy ou vriend vroegtydig op die brug voor
| |
| |
die hotel-agterplaas en inwag. Onder deur die brug loop 'n groot stroom water wat die onderste erwe van die dorp voorsien.
Dit duur nie lank nie, toe kom ou Koos met sy lang kierie aangesukkel om sy jong vriend met sy gewone vriendelikheid te groet. Tegelyk met die begroeting merk De Ville iets op. By die deur van die stal, wat wyd oopstaan, verskyn die Boesman met 'n geweer in sy hand wat hy op en af swaai, en agter in die stal kan De Ville die hings sien, toom aan en opgesaal. Ou van Heerden het dit ook alles gesien maar nie die minste teken gegee dat daar vir hom iets buitengewoons in die Boesman se gedrag was nie. Ewe koel en bedaard sit hy sy gesprek met De Ville voort terwyl laasgenoemde besef dat die Boesman sy gewaste kol op die hings moet gesien het. Hy was nog in groot twyfel maar het dadelik besluit om handelend op te tree, wat ook al gebeur en hoe verkeerd hy later mag blyk te wees.
Met 'n skielike beweging gryp hy ou Koos van Heerden se yl baardjie en gee 'n geweldige pluk. Baard en snor, van oor tot ken, bly in sy hand en voor hom staan 'n skoongeskeerde jongkêrel met 'n gerimpelde gesig. Hy wou net uitroep: ‘Jaap van Deventer, jy is my prisonier!’ toe hy 'n geweldige stoot teen die bors met die kierie ontvang wat hom agteruit laat steier. Net agter hom was 'n klein steenmuurtjie wat as beveiliging van die brug dien, en oor hierdie muur slaan De Ville agteroor in die groot stroom wat die dorpstuine van water voorsien. 'n Paar minute was hy kop onder en toe hy uiteindelik uit die vinnige stroom orent worstel, was hy net betyds om Van Deventer op die swart hings oor die brug te sien verbyjaag. Agter op sy rug was sy geweer.
Dit het 'n goeie halfuur geduur voordat De Ville op sy perd was en gereed om die skelm te agtervolg. Hy het ook nog tyd verloor in 'n vergeefse soektog na die Boesman, wat intussen spoorloos verdwyn het en nooit weer te voorskyn gekom het nie.
Drie dae later het De Ville vir die eerste maal op Van Deventer se spoor gekom. Dit was na aan Olifantsrivier. Klaarblyklik was sy koers na Lydenburg en daarna Portugese gebied.
De Ville had 'n perd wat hy uitgesoek het. Daar was in die polisie geen perd met groter uithouvermoë as die bruin ryperd waarop hy nou gesete was nie, en sy enigste hoop was dat hy Jaap se resiesperd sou flou jaag voordat hy die Portugese grens kon haal. En sy verwagting was geregverdig. Ongeveer ses uur van die punt waar Jaap van plan was om die grens oor te steek, kry De Ville hom in gesig, ongeveer 'n duisend tree voor. Dit was 'n boswêreld van groot bome en wye openings wat min kans vir skuiling verskaf. De Ville los 'n skoot op die vlugteling in die hoop dat dit hom tot oorgawe mag verplig. Hy kon sien dat Jaap se perd gedaan was.
Ek moet hier invoeg dat De Ville voor sy vertrek uit Nylstroom ontdek het dat die vermomde voshings nie die gestole resiesperd uit Krugersdorp was nie,
| |
| |
maar dat dit 'n ou bekende perd van Jaap van Deventer was wat hy meermale in sy ontvlugtings gebruik het. Die perd het altyd herberg by 'n familielid op die grens van Waterberg-Lydenburg gehad wanneer Jaap hom nie nodig had nie, wat nogal dikwels gebeur het! Dit was algemeen bekend dat Jaap die perd allerhande toere geleer het. ‘Hy kan lees en skrywe!’ is dikwels van hom gesê.
Maar nou, dag De Ville, is perd en baas op die einde van hulle maatskaplike verhouding.
De Ville het geen die minste begeerte gehad om die beroemde dief om die lewe te bring nie. Gedurende die dae van hul vriendskaplike verkeer op Nylstroom het ou Koos van Heerden 'n gevoel na aan liefde by die polisie-offisier aangewakker. Maar hy kon hom ook nie laat wegkom nie.
Op vyfhonderd tree los hy nog 'n paar skote op Jaap, wat hom hoegenaamd nie daaraan steur nie. Hy druk net aan na die grens, wat reeds binne gesig was.
Daar was hier aan die oorkant 'n klomp verlate Portugese kasernes.
Net hier moes Jaap en sy agtervolger 'n groot oop gelykte kruis. Die grens was vierhonderd tree voor hom. Toe ledig De Ville sy magasyn op die vlugtende dief. Hy kon 'n juigkreet nie onderdruk nie toe hy die swart perd skielik sien stilstaan terwyl Jaap hom met spoor en karwats aandruk. Die nobele dier het 'n paar tree op drie bene voortgesukkel en toe skiet De Ville sy laaste skoot. Daar was 'n groot stofdamp net toe Van Deventer die stam van 'n enkele groot boom bereik. Perd en ruiter stort tesame neer, en toe De Ville op sy uitgeputte perd nader kom, was dit met 'n gevoel van diep jammerte dat hy die pragtige perd uitgestrek in die stof sien lê. Dit had geen twee kyke nodig om te sien dat hy sy laaste vlug van die polisie voleindig het nie. Langs die perd lê Jaap van Deventer op sy rug in die stof met uitgestrekte arms net soos hy geval het. Langs hom lê sy geweer, wat hy nooit een maal teen sy agtervolger gebruik het nie.
Ongeveer tien tree van die treurige groep klim De Ville van sy perd en bind die teuels aan 'n stompie terwyl hy haastig uit sy bladsak 'n fles brandewyn en 'n rol verbande haal om die gevalle boosdoener die enigste hulp binne sy vermoë aan te bied, indien hulp nog van waarde sou blyk te wees. Hy het intussen sy geweer teen die stomp geplaas en 'n paar minute was sy rug na Jaap gekeer terwyl hy die bladsak deursoek.
Toe hy omkeer met die fles in die hande, kyk hy in die loop van Jaap se aangelegde geweer, reg op sy hart gemik.
‘Hou jou hande bo jou kop, luitenant,’ roep Jaap hom ewe vrolik toe. ‘Ek sou jou nie graag wou skiet nie, maar as jy nou enige beweging maak, laat jy my geen keuse nie.’
Die bitterheid van die volgende paar minute het kolonel De Ville sy lewe lank in sy hart gedra. Eers word sy rewolwer uit die bladsak geneem en toe die slot van sy geweer, wat Van Deventer in sy broeksak steek. Daarna gaan Jaap 'n paar tree van De Ville se perd af staan.
| |
| |
‘En nou moet ek iets doen wat my hart in twee skeur,’ sê hy aan De Ville, ‘maar ek roep jou tot getuie, luitenant, dat daar vir my geen ander uitweg is nie. Jy, in elk geval, is nie in gevaar nie. Kyk, daar in die noorde kan jy die rook van 'n groot stat sien.’
Toe lig hy sy Mauser en skiet die luitenant se perd op die ore deur. Hy het 'n lang tyd met 'n treurende gelaat die dooie perd gadegeslaan.
Al die tyd lê sy eie perd nog roerloos uitgestrek in die stof waar hy geval het. Sy handelswyse was vir De Ville 'n raaisel. Wat sou hy met twee dooie perde uitrig? Maar hy het Jaap se perd toe nog nie geken nie.
Die dief roep saggies ‘Satan!’, en binne drie tellings was die gevalle perd weer op die been, baie moeg en uitgeput, maar so gesond as wat hy ooit in sy lewe was. Die mankheid was weg en hy was seker en gewis weer lewendig. Hy kom na sy baas aangestap, en toe Van Deventer homself in die saal swaai, keer hy vanself op sy koers terug asof hy wis dat die grens 'n toevlugsoord was.
‘Ek hoop dat jy my geen kwade hart sal toedra nie, luitenant,’ was die laaste woorde wat De Ville van die beroemde rower gehoor het. ‘Ek het so min teen jou gedoen as wat jy my toegelaat het. Getuig self dat ek jou maklik kon voorgestaan en doodgeskiet het, en hier kon ek jou lyk so weggebêre het dat niemand dit ooit sou gekry het nie. En ek het dit nie gedoen nie.’ De Ville het hom agternagekyk totdat hy die grens oor was. |
|