| |
7 Wonderbaarlike Speurvernuf van Jong Afrikaner
In die verslae van ons kriminele reg kom 'n menigte speurverhale voor waarvan baie, myns insiens, alle speurfiksie wat ek nog ooit gelees het, oortref. Ek wil hier slegs een vertel waarin ek self 'n rol moes speel en ek is seker dat die eenvoudige relaas van die feite by die leser 'n romanties-avontuurlike indruk sal nalaat wat geen speurverhaal kan wek nie.
Later sal ek 'n ander wonderlike speurverhaal vertel waarin die heer Tielman Roos 'n vername rol as advokaat gespeel het - die Janse-moord in Waterberg. Die storie van die Janse-moord is aan alle Afrikaners bekend as 'n historiese voorval. Die speurverhaal, wat alleen in die hofverslae deel van die voorval uitmaak, is veel minder aan die algemene publiek bekend as die historiese aspek, tog is dit net so merkwaardig as enige speurwerk ooit in ander lande uitgevoer.
In die verhaal wat ek nou gaan vertel, het die heer Tielman Roos ook verskyn en dit was juis hierdie feit wat my terloops aan die Janse-moord herinner het. Ek sal die storie so eenvoudig moontlik vertel, sonder enige poging om dit märchen-agtig te maak. Maar ek kan die leser verseker dat die indruk wat dit op
| |
| |
beide die heer Tielman Roos en op my gemaak het, was dat ons in die atmosfeer van 'n roman verkeer, van 'n speurverhaal deur 'n genie inmekaargesit. Ek vrees dat in hierdie beknopte opsomming van die feite die romantiese dampkring afwesig sal wees. Dit sal die leser maar self moet skep.
Wat myns insiens die merkwaardigste insident in die saak was, was die feit dat die rol van die skitterende speurder wat deur regter, jurie en advokate ná die saak lof in die hoogste bewoording toegeswaai is, 'n jong Afrikaner was, ongeoefen in speurwerk, wat tot dié tyd alleen as gewone berede konstabel diens gedoen het. Maar soos die leser sal sien, was hy 'n speurgenie met ingebore talente wat geen opleiding of oefening nodig had nie.
Hier volg die verslag so kort moontlik weergegee. Ek het geen geleentheid om die offisiële verslag nou te raadpleeg nie, en moet dus enkel op my geheue vertrou. Van die name is ek nie meer seker nie maar die feite is stiptelik waar.
Voor die Rondgaande Hof op Lydenburg - oorlede regter Gregorowski presiderende - het 'n lid van Sekoekoen se stam, Johannes, weens moord tereggestaan. Ek het namens die staat verskyn en advokaat Tielman Roos het die beskuldigde verdedig. Ongeveer ses jaar vóór die tyd het drie of vier veeboere 'n gesamentlike dipgat in die onbewoonde bosveld van Lydenburg gebou. Hulle plan was om die dip in die winter te gebruik wanneer hulle hierdie streek met hul vee besoek. Maar net ná voltooiing van die dip het ooskuskoors op die hoëveld van Lydenburg uitgebreek, wat alle trek met vee vyf of ses jaar lank stopgesit het. Al die tyd het die dip, 'n gat in die eensaamheid van die onbewoonde woestyn, ongebruik en byna vergete gebly. Dit was met gras en bosveldgewas oorgroei en met reënwater gevul toe die eienaars uiteindelik verlof kry om weer met hul vee na die winterveld te trek. Hul eerste werk was om die dipgat te herstel, van die water te ledig en vir gebruik gereed te maak. En toe die water op die bodem kom, weerklink 'n opgewonde geroep van die werkers. Op die bodem van die dipgat lê 'n menslike geraamte! Toe die blanke eienaars die beendere beskou, merk hulle dadelik dat 'n vreeslike tragedie hom hier in die eensame Bosveld afgespeel het. Die geraamte was in doringdraad vasgewoel, met 'n groot, swaar klip in die gewoelde draad vas. Alle klere was lank reeds vergaan, behalwe die rugstuk van die baadjie en 'n leerband wat die oorledene om sy lyf had. Die blankes had gelukkig genoeg gesonde verstand om die beendere nie aan te roer nie. Alles is net so gelaat totdat die polisie van Lydenburg daarvan in kennis gestel is.
En hier begin die storie reeds merkwaardig word. Die polisie het dadelik besluit dat dit die een of ander swartmensmoord was, so lank gelede gepleeg dat die kans tot opsporing van die moordenaar uiters gering sou wees, derhalwe het hulle een van hul eie manskappe afgesonder om die saak te ondersoek. Al wat hulle verwag het, was die gewone rapport omtrent die beendere vergesel van 'n doktersverslag wat in hul argiewe weggepak en vergeet sou word.
| |
| |
Maar die polisie het nie rekenskap gehou met die manskap wat hulle vir hierdie diens benoem het nie. Valentyn van der Merwe was 'n jong berede konstabel wat in die afdeling bekend was om sy wakkere en vreeslose diensvaardigheid. Maar niemand het gedroom dat hulle hier met 'n skitterende speurdergenie te doen had nie.
Hy het die dipgat in geselskap van die distriksdokter besoek en dit is interessant om die verskil tussen die verslae van hierdie twee amptenare op te merk. Met die eerste stappe wat hy in die saak gedoen het, het Van der Merwe reeds getoon wat in hom sit.
Die distriksdokter het slegs een breuk aan die geraamte ontdek waaraan hy die dood van die oorledene toegeskrywe het. Dit was 'n eienaardige driekantige gat in die skedel, waarvan die beensplinters binne die skedel gevind is. Sy rapport het hierop neergekom: Geslag van oorledene onseker maar waarskynlik manlik; ouderdom ongeveer tussen vyftien en twintig jaar; wit of swart nie van geraamte alleen bewysbaar nie. Geraamte was waarskynlik vier jaar lank onder water. Dood waarskynlik gevolg van 'n skedelbreuk deur 'n voorwerp soos 'n byl.
Vergelyk hiermee nou Van der Merwe se verslag, en onthou altyd dat dit die werk was van iemand wat nooit die minste onderrig of ondervinding in speurwerk gehad het nie:
Geraamte van 'n swart man, ongeveer agtien jaar oud. Sy dood veroorsaak deur 'n slag aan die linkerkant van die kop, net bo die slaap, met 'n skerp leiklip toegedien. Geen ander wonde aan geraamte bespeurbaar nie. Die jong swarte was waarskynlik in diens by 'n blanke boerefamilie en was op weg huis toe toe hy gedood is. Hy het na die dip geloop met 'n ou voetpad wat uit suidoostelike rigting na die grootpad lei en 'n dagreis te voet van die dip daarby aansluit. Hy was vergesel van een of meer persone en het een nag naby die dip geslaap. In alle waarskynlikheid is hy in sy slaap vermoor. Die dryfveer van die moordenaar of moordenaars was diefstal, waarskynlik van vee.
As 'n mens nou in gedagte hou dat die moord minstens vier jaar tevore plaasgevind het, dan vra jy jouself met verbasing af hoe op aarde Van der Merwe dit alles ontsyfer het. Ek weet dat ek gewonder het, te meer omdat ek toe wis dat al sy gevolgtrekkings tot in die kleinste besonderheid waar was. Ook die hoofde van die polisie-afdeling het verbaas gestaan, waarskynlik 'n bietjie gelag en grootliks getwyfel. Aan die korrespondensie waarin ek insae had, kon ek sien dat die verantwoordelike amptenare onder die indruk verkeer het dat hulle hier te doen het met 'n voorbarige seun wat onder die atmosfeer van Amerikaanse rampokkerstories verkeer en wat uit 'n miershoop 'n berg geskep het. Hulle het hom tot verantwoording geroep en was daar seker van dat die saak op 'n groot grap sou uitloop, waarvan Van der Merwe die slagoffer sou wees. Hy is deur die departementshoofde op spottende wyse gevra om 'n uitleg te gee van
| |
| |
hoe hy tot al hierdie gevolgtrekkings geraak het, met geen ander oorspronklike grondslag as 'n geraamte, 'n stuk draad, 'n ou lap en 'n vergane lyfband nie. Sy uitleg was baie eenvoudig, soos die uitleg van 'n ware speurder altyd is. Eers het hy vertel hoe hy te werk gegaan het en weer sal die leser verwonderd staan om te verneem dat dit die werk van 'n ongeoefende seun was. Hy het nooit 'n fout begaan nie. Elke stap wat hy gedoen het, was goed deurdag, suiwer en reg.
Hy het dadelik opgemerk dat die ou stuk baadjie van groot belang mag wees en het onmiddellik alles in sy vermoë gedoen om dit onbeskadig te behou. Met hierdie doel het hy eers 'n staalplaat onder die geraamte ingeskuiwe en dit toe sorgvuldig met opdrup van skoon water van alle modder en aankleefsels gereinig en toe 'n stuk bordpapier onder geskuiwe, waarop hy dit na Lydenburg vervoer het, tesame met die lyfband, wat hy ook gered het.
Toe hy tuiskom, vind hy die baadjie so vergaan dat die sagste aanraking dreig om dit te verniel. Na lang oorweging het hy die materiaal met 'n preparaat van sy eie behandel, met uitstekende gevolge. Hy het dit herhaalde male met 'n oplossing van stysel en doringboomgom benat totdat hy dit in so 'n toestand had dat hy die stuk baadjie sonder gevaar kon hanteer. Die ou leerlyfband wat meer op 'n stuk vergane hout gelyk het, het hy in 'n mengsel van soetolie en lampolie gedoop, ook met groot sukses wat die bewaring van hierdie oorblyfsel betref.
Onthou dat hy dit alles self uitgedink het, en 'n speurder het my later verseker dat die departement geen beter middels ken as dié wat Van der Merwe vir hierdie doel gebruik het nie.
Indien die moordenaar, wat toe in weelde en veiligheid gelewe het, geweet het watter soort bloedwreker hy op sy spoor had, sou hy hom dadelik aan die polisie oorgegee het om verdere moeite te bespaar.
Van der Merwe het eers die stuk doringdraad ondersoek. Daar was nêrens in die nabyheid van die eensame dip enige draadheining van welke aard ook al nie. Met die voetpaaie wat van die dip af weglei, het hy toe agtereenvolgens gereis tot waar hy die eerste doringdraadheinings teëkom. Langs die vierde is sy langdurige en moeilike soektog met sukses bekroon. 'n Dagreis van die dip, net waar die ou voetpad by die grootpad aansluit, was 'n ou vervalle draadheining. By hom had Van der Merwe die stuk draad waarin die moordenaar die lyk van sy slagoffer gewoel het om dit in die dip te laat sink. Hier langs die grootpad vind hy 'n plek waar 'n stuk draad uit die ou heining uitgeknip is. Hy vergelyk dit met die stuk in sy besit en vind dadelik bewys dat die stuk draad presies by die leemte inpas, ook die punte pas presies. Die moordenaar het toe reeds besluit om sy metgesel te vermoor, en dit was waarskynlik waarom hy in die rigting van die verlate dip uitgedraai het. Mooi stukkie werk van die speurder, nè? Vier jaar ná die moord het hy 'n spoor gevolg wat ten minste vasstel van waar die oorledene gereis het.
| |
| |
Weer terug na die dip! Hier het hy die omtrek voet vir voet oorgegaan. Hy wis dat 'n swartman wat by 'n kampplek aankom, eers vuur maak. Hy het na 'n vuurmaakplek gesoek - vier jaar ná die maak van die vuur! Sy hoofde sou hom uitgelag het, maar Van der Merwe het een feit onthou: dat houtskool nooit vergaan nie. As en hout sou totaal vergaan, maar die houtskool sou jare lank die plek aandui waar 'n vuur in die Bosveld gebrand het. Hy het nie lank gesoek nie toe had hy die plek. Hy wis dat dit die regte plek moes wees want die dip is nooit deur swartes of blankes besoek nie; dit was 'n klein vuurtjie en daar was geen teken van 'n ander vuurmaakplek in die nabyheid nie. Waarom het hy al die moeite gedoen? Hy wou die sand sif om te sien of daar geen klein metaalvoorwerp soos 'n knopie of so iets oorgebly het nie. Van hierdie aard het hy niks by die vuurmaakplek gevind nie, maar hy het dadelik 'n baie belangrike ontdekking gedoen. Langs die ou vuurmaakplek was 'n stuk sterk leiklip met 'n driekantige punt. In die nabyheid was geen leiklip te vinde nie, maar nadat hy lank rondgesoek het, kry hy ongeveer vyftig tree van die plek af 'n vaste bank leiklip wat bo die grond uitsteek, nou egter diep onder gras en bossies toegegroei. Ná 'n nog langer soektog vind hy selfs die plek waar die stuk uit die bank gebreek is. Daar was nie aan te twyfel nie; dit pas presies.
Weer 'n mooi stukkie werk! Die moordenaar had geen geskikte wapen byderhand nie; terwyl sy slagoffer slaap, het hy begin rondsoek totdat hy die klipbank ontdek het en hier het hy sy moordtuig uitgebreek en na die vuur meegevoer. Dit was die skouspel wat Van der Merwe in sy wakkere verbeelding geskep het, en weer was hy in alle opsigte reg.
Hy moes egter nog seker maak of dit die voorwerp was wat die moordenaar in die volvoering van sy donker daad gebesig het. Hieraan was ook nie te twyfel nie en hier had hy dadelik die steun van die distriksgeneesheer: die punt van die klip het presies in die skedelbreuk gepas.
Van der Merwe had dus reeds 'n taamlik samehangende storie uit die duisternis en verwering van die verlede tot stand gebring.
Hier volg nou sy verdere uitleg aan die departement wat in die vorm van antwoorde op 'n reeks vrae in die rapport voorkom:
Hoe wis hy dat dit 'n swartman was? Sy antwoord was dat geen blanke van hierdie of van enige ouderdom in Lydenburg kon verdwyn sonder om 'n groot ophef te veroorsaak nie; in die geval van 'n swarte kan dit wel gebeur, ofskoon ook moeilik. Maar 'n blanke kon dit nooit gewees het nie want daar was nooit enige rapport omtrent 'n vermiste blanke nie. Die stuk baadjie was ook van 'n soort wat alleen 'n swarte sou dra.
Hoe wis hy die ouderdom? Hy het die lyfband en die lengte van die geraamte gemeet en toe 'n menigte swartes van verskillende ouderdomme met hierdie afmetings vergelyk. Die uitslag was dat dit gemiddeld ooreenkom met 'n swarte van 18 jaar.
| |
| |
Hoe wis hy die geslag? Die stuk baadjie het dit bewys.
Hoe wis hy dat die swarte op reis huis toe was van die plaas waar hy gewerk het? Hy wis dat dit die gewoonte was om jong swartetjies in die distrik by boere in te boek teen een vers per jaar. Wanneer hulle ongeveer die ouderdom van 18 jaar bereik, is hul dienstyd verstreke en dan vertrek hulle met hul verdiende vee huis toe. Dit was buitendien byna ondenkbaar dat selfs 'n swartman van hierdie ouderdom in gewone omstandighede kon verdwyn sonder dat by die polisie navraag gedoen is deur sy familie of sy baas, indien hy nog in diens was. So iets kon alleen gebeur waar niemand van sy verdwyning weet nie en sulke onkunde kan alleen geskied waar 'n swarte op reis huis toe was.
Soveel vertroue in sy bekwaamheid had hy toe reeds by sy hoofde gewek dat Van der Merwe onverwyld afgesonder is om die saak verder na te spoor. Waarskynlik het die departement teen dié tyd die geheimsinnige moordsaak veel belangwekkender bevind as 'n gewone moordsaak, altans Van der Merwe het deur sy werk daarin geslaag om hulle genoegsaam te interesseer om sy benoeming te bewerkstellig. En so is Valentyn vir die eerste keer in sy lewe in burgerdrag as 'n speurder uit om 'n belangrike saak te ondersoek.
Hy wis nou die reispad van die oorledene minstens vanaf die punt waar die ou bosveldvoetpad by die groot wapad aansluit. Van hierdie punt het hy sy verdere ondersoeking voortgesit.
Hy had by hom die ou stuk gelapte baadjie en die lyfband, waarvan die punt ook aangewerk was. Eers, egter, moet ek dít vertel: Toe Van der Merwe hierdie twee stukkies oorblyfsels veilig in sy kamer had, het hy altwee noukeurig onder 'n vergrootglas bestudeer. Dadelik het hy ontdek dat die ingevoegde lap van ander stof as die res van die baadjie was en dat 'n gedeelte van die stikwerk deur 'n naaimasjien en 'n gedeelte met die hand gedoen is. Hy het 'n paar geoefende vroue geraadpleeg wat eenparig verklaar het dat die werk dié van 'n blanke vrou en nie van 'n gekleurde was nie.
Met dié kennis is Valentyn van der Merwe op sy reis voort vanaf die samesmelting van die voetpad en die grootpad.
Nadat hy vasgestel het dat die vermoorde by die dipgat 'n jong swarte moet gewees het wat van sy werkplek na sy huis onderweg was, het Valentyn van der Merwe die een plaas ná die ander as private reisiger besoek en oral gevra of 'n jong swartman daar in diens was wat ongeveer vier jaar gelede vertrek het, en keer op keer was die antwoord: Nee, nee, nee! Niemand het selfs van so 'n geval gehoor nie. Weke het verbygegaan, later 'n maand, en nog het hy geen spoor gevind nie. Maar Van der Merwe, onder sy ander gawes, het ook 'n onuitputlike bron van energie gehad. Wyer en wyer het die sirkel van sy ondersoek gerek totdat hy vyftig myl van die dip verwyderd was, op die ander uithoek van die distrik, en toe die hoop 'n weinig gedaal het, kom hy by 'n familie Potgieter aan, bestaande uit 'n hoogbejaarde ou Lydenburger en sy waardige
| |
| |
gade. Altwee antwoord dadelik ‘Ja’ op sy vraag. 'n Seun van Sekoekoen se stam is by hulle ingeboek toe hy ongeveer tien of twaalf jaar oud was. Vier jaar gelede het hy huis toe vertrek met 21 beeste wat hy in sy huurtyd verdien het. Hy het alleen vertrek, en sy oubaas het hom boonop vyf pond in kontant geskenk om hom op die lang reis te goede te staan.
Van der Merwe bring die ou stuk baadjie te voorskyn. Behalwe die vraag: ‘Ken u dit miskien?’ sê hy geen woord nie. Die ou dame bekyk dit sorgvuldig deur haar bril - ja, sy ken die stuk materiaal. Dit was gedeelte van 'n baadjie wat Japie aanhad toe hy vertrek het. Sy ken dit omdat sy self die lap op 'n geslete plek ingestik het net voor Japie se vertrek. Altwee oumense het baie van die seun gehou. Hy het by hulle in die huis grootgeword en meestal as lyfbediende van die ou heer diens gedoen.
Hier was Van der Merwe dan eindelik op die begin van die moordspoor wat hy met sulke verbasende vernuf ontdek het, maar daar was twee moeilikhede wat nog opgeklaar moes word. Die eerste was die stellige versekering van die twee oumense dat Japie alleen was toe hy met sy 21 beeste van die plaas af vertrek het. Die lyfband het hulle ook geken, maar hier kon hulle ook die versekering gee dat die band stukkend was toe Japie vertrek het. Die punt was toe nog nie daaraan bevestig nie.
Maar in een opsig was die twee oumense verkeerd. Japie was nie alleen toe hy vertrek het nie. Toe hy by die strooise van die plaas verbygaan, het 'n ander volgroeide swartman by hom aangesluit. Dit het Van der Merwe ontdek omdat hy nooit met 'n enkele versekering tevrede was nie. Nadat hy die verklarings van die twee oumense gehoor het, het hy die volk besoek, en hier het hy 'n uiters interessante storie gehoor.
Die dag voor Japie sou voortgaan, het 'n vreemde swartman uit Sekoekoensland by die strooise aangekom. Volgens die swartes se gewoonte is die vreemdeling welkom geheet en het hy die nag by die Potgieter-volk geslaap. In die loop van hul gesprekke is aan hom van Japie vertel - alles van Japie, want hy het alles uitgevra. Hy het verneem dat dit Japie se ouma en oupa was wat hom by die heer Potgieter ingeskryf het. Hy het die name van die oupa en ouma verneem en toe aan hom alles vertel is, kom hy met die verklaring uit: ‘Dit is die regte man wat ek soek. Sy oupa en ouma het my gevra om Japie op te soek en om hom saam met my na Sekoekoensland te neem.’
Later het hy dieselfde storie aan Japie vertel. Ou meneer Potgieter en sy vrou wis egter niks van die vreemdeling se teenwoordigheid nie. En so het die man die volgende dag by Japie aangesluit en hom gehelp om sy vee uit te keer en aan te ja.
Dus had ons jong speurder die hele geskiedenis van die vermoorde in sy hand.
Maar wat omtrent die vermoedelike moordenaar? Geeneen van die volk kon
| |
| |
sy naam onthou nie en die beskrywing van sy voorkoms was van die vaagste. Om so 'n man in Sekoekoensland te gaan opspoor, was 'n taak waarvoor die mees geoefende speurder wel sou kon terugdeins. En dan was daar nog die kwessie van die lyfband. Waar en wanneer en deur wie is die nuwe punt aangewerk? Klaarblyklik moes dit geskied het tussen die tyd dat die vermoorde die Potgieter-plaas verlaat het en sy aankoms by die noodlottige dip. Ook hieromtrent het Van der Merwe 'n noukeurige ondersoek ingestel en hy had reeds die ontwyfelbare versekering opgedoen dat die naaldwerk aan die band ook die werk van 'n blanke en nie van 'n swarte was nie. Dit was met els en naald en pikdraad gedoen - werktuie wat 'n swarte nooit gebruik nie.
Hier het die geluk Van der Merwe bygestaan. Nouliks 'n week ná sy ontmoeting met die Potgieters het hy op die plaas van 'n sekere heer Visser vernag. Hier was hy in staat om die laaste skakel in die ketting te smee. Die gewone vrae is gestel en Visser het dadelik die band herken. Die lasplek was sy eie werk. Dit was die storie wat hy te vertelle had: Hy was op trek en een aand, net nadat hy langs die grootpad uitgespan het, het twee swartes met 21 stuks vee by hom aangekom. Hulle het verlof gevra om die nag by sy waens te slaap, wat geredelik toegestaan is. Die kleinste van die twee swartes was baie behulpsaam met die vasmaak van Visser se vee en die bereiding van die aandete. Dié nag toe hulle om die vuur sit, merk Visser dat die klein swartetjie sukkel om sy band te herstel. Visser het toe aangebied om dit vir hom te doen. Hy het sy els en pikdraad uit die wa gehaal en 'n stuk leerband van sy eie vir 'n punt aan die seun s'n vasgewerk. En dit was die band! Dis onnodig om te sê dat Van der Merwe se storie 'n diep indruk op die polisie-afdeling van Lydenburg en later van die hoofkwartier self gemaak het. Instruksies is uitgevaardig dat hy ongehinderd met die saak moes voortgaan.
En so het dit gekom dat Valentyn van der Merwe in die donker geweste van Sekoekoensland verdwyn het, van waar hy eers 'n jaar later te voorskyn gekom het. Af en toe het sy offisiere natuurlik van hom berigte ontvang dat hy nog in lewe is, maar 'n jaar het verbygegaan voordat hy self weer in die beskaafde deel van Lydenburg sy verskyning gemaak het.
Wonderlike seun! By hom was 'n geboeide swartman, Johannes, wat hy aan die polisie oorhandig het onder die formele beskuldiging dat hy met voorbedagte rade by die ou dip op 'n sekere datum vier jaar tevore 'n swart seun, Japie, vermoor het en verder dat hy die misdaad van roof gepleeg het deur 21 stuks vee, eiendom van genoemde Japie, te steel en weg te voer.
Ek is oortuig daarvan dat die werk wat Valentyn van der Merwe in Sekoekoensland verrig het, op sigself 'n boeiende boekdeel sou uitmaak. Dink net daaraan: onder die honderdduisend swartes moes hy gaan soek na een enkele wie se naam en voorkoms aan hom onbekend was. Hoe kan jy een mens aan 'n ander beskrywe tensy hy uitsonderlike merke dra? En selfs dit het in hierdie
| |
| |
geval ontbreek. Maar Van der Merwe was 'n ware speurder wat deur geen struikelblokke in vertwyfeling gebring is nie. Hy was gelukkig die taal magtig en het die land ingereis onder die voorwendsel dat hy goud en diamante soek.
Al wat hy had om op te gaan, was die beskrywing van 21 stuks vee wat hy van beide die ou heer Potgieter en die heer Visser ontvang het. Maar hy het onthou dat die vee, wat toe meestal kalwers en jong verse was, nou volgroeide beeste sou wees, indien nie al dood nie. Ook was dit seker dat die moordenaar nooit so dom sou gewees het om die trop bymekaar te hou nie. Hy het hulle ongetwyfeld lank reeds verkoop en uitgeruil.
Van der Merwe het met een doel voortgegaan: dit sou die moordenaar wees op wie se skouer hy sy hand sou plaas.
Dit sal te lank duur om die speurder se avonture in Sekoekoensland hier te vertel. Dit sal 'n aparte verhaal uitmaak. Slegs 'n paar feite wil ek noem, alleen om die verdere moeilikhede aan te dui waarmee die enkele blanke onder duisende swartes te kampe had.
Dit het later geblyk dat sy vermoede reg was. Die moordenaar was slim genoeg om geen enkele van die geroofde vee in sy besit te hou nie. Hy had almal in alle dele van Sekoekoensland vir ander vee uitgeruil en verkoop. Van der Merwe het ook werklik nooit op een van die oorspronklike vee afgekom nie, maar een aand by 'n eensame stat, diep in die berge, terwyl hy by 'n kraalhek staan om die beeste te sien inkom, sien hy 'n jong vers, die ewebeeld van die beskrywing van een van die verse wat Japie in sy besit had toe hy die Potgieters verlaat het. Natuurlik kon dit nie dieselfde wees nie, want die dier moes nou 'n koei van agt jaar oud wees, terwyl hierdie een 'n jong versie van drie jaar was.
En toe begin hy vrae stel omtrent die mooi versie wat hy graag sou wil koop. Van die eienaar verneem hy dat die moeder van die versie geruil is van 'n sekere Johannes, maar die moeder was ongelukkig dood. Dadelik het Van der Merwe al sy speurdersinstink aan Johannes bestee. Daar was niks van sy doen en late in die afgelope vier jaar wat hy nie uitgesnuffel het nie. Dit het weke en maande gekos, maar elke week het die gevoel by hom aangegroei dat hy besig is om die strop nouer en nouer om die onbekende Johannes te trek.
En toe op 'n dag kry hy nog een koei, die enigste wat oorgebly het van die vee wat Japie van die ou heer Potgieter ontvang het. Daar kon geen twyfel wees nie, want die koei had nog ou meneer Potgieter se herkenbare brandmerk, ofskoon 'n poging gedoen is om dit uit te brand. Ook hierdie koei is vier jaar tevore van 'n sekere Johannes vir 'n ander vers geruil. En toe kom sy laaste arbeid: om Johannes self te vind - en dit het die maklikste van alles geblyk te wees.
Een nag laat kom 'n jong blanke prospekteerder by die stat van 'n ryk swartman diep in die berge aan. Sy klere is verflenterd, hy loop kruppel en hy kan met waarheid aan die swartes verklaar dat hy uitgeput en uitgehonger is. Hy het egter geld en sal vir voedsel en herberg vir die nag betaal, maar hier word hy
| |
| |
deur die hoof van die stat begroet, 'n man van in die veertig jaar, netjies geklee en uiters vriendelik. Van der Merwe word met groot gasvryheid na die vuur uitgenooi. Hy ontdek spoedig dat Johannes 'n ryk man is. Hy het by die driehonderd beeste, en verskeie vroue, en hier tussen die berge leef hy soos 'n klein koning. Hy is maar alte bly om die witman sonder enige betaling voedsel en herberg te gee, want in die distrik Lydenburg het hy ook dikwels die witmense se gasvryheid geniet.
Tot laat in die nag het hulle by die vuur sit en gesels met nog drie of vier ander onderdanige volk van Johannes. Die jong prospekteerder was baie nuuskierig. Hy het uitgevra en uitgevra sonder om egter 'n sweem van agterdog by sy swart gasheer te wek.
So teen middernag buk hy skielik vooroor met die onverwagte vraag: ‘Watter merke is daar aan jou arms?’
Johannes strek verbaas sy arms uit om hulle des te beter in die vuurlig te toon. Daar was 'n flikker van staal, 'n skielike knal en Johannes sit voor die prospekteerder geboei, terwyl hy verskrik in die loop van die gemikte rewolwer staar.
‘Johannes, ek arresteer jou weens die moord op Japie. Ek is 'n polisieman uit Lydenburg!’
En so het die jaarlange soektog geëindig.
Daar is nog een klein insident wat ek graag wil vertel. Soos reeds gesê, was die verdediging in die bekwame hande van Tielman Roos, maar daar was niks te make teen die reeks getuienis wat Valentyn van der Merwe voor die hof geplaas het nie. Die dag voor die vonnis gevel is, het die polisie 'n eienaardige versoek van die beskuldigde ontvang. Hy verlang verlof van my om 'n onderhoud te hê met 'n toordokter wat hy uit Sekoekoensland ontbied en aan wie hy reeds dertig beeste laat betaal het. As verteenwoordiger van die staat was my verlof nodig voordat so 'n onderhoud kon toegestaan word. Ek het egter die geval onthou van 'n kaptein, Hans Mapela, wat verlof gekry het van die regering om vier van sy dokters in sy tronksel in Pretoria te ontmoet. Die volgende dag toe sy sel geopen word, lê hy dood op sy bed. Ná 'n ondersoek het geblyk dat die dokters die kaptein op sy bevel 'n sterk gif gegee het waarmee hy selfmoord kon pleeg om die skande van gevangenisstraf te ontduik.
Ek het besluit om so iets te voorkom. In die agterplaas van die hof het ek Johannes gevra wat hy van die dokter verlang. Hy was heeltemal openhartig: Indien ek die gevraagde verlof toestaan, sou die dokter hom medisyne gee wat dit vir die hof onmoontlik sou maak om hom ter dood te veroordeel of vir die witmense om hom te hang. Die dokter het die proses beskrywe en ek het die gevraagde verlof gegee mits die betowering in my teenwoordigheid plaasvind. Dit het bestaan uit die fyn kou deur die dokter van verskeie wortels en die benatting van die mond van die towenaar. Ten laaste is 'n salf om Johannes se nek
| |
| |
gesmeer om die vasbind van die tou te verhinder! Ná die operasie het hy my met 'n vrolike lag bedank. Nou was alles reg - ek sou sien!
Nieteenstaande al my praat en werskaf en die getuienis van die speurder, sou die hof hom vryspreek! Ook die towenaar het my dieselfde plegtige versekering gegee. Die swart polisie het dit vas geglo en een van hulle het Johannes uitgenooi om ná sy vryspreking by hom te kom eet.
Maar sy vertroue was dié keer misplaas. Johannes is die volgende dag deur regter Gregorowski ter dood veroordeel en 'n paar weke later in Pretoria vir sy gruwelike misdaad gehang. |
|