Na noukeurige nagaan met behulp van 'n ou inwoner, het ek 21 families getel wat vaste inwoners genoem kon word. Daar was 310 individue - kinders tot die kleinste inbegrepe. Ons het mekaar geken net soos mense op 'n skip mekaar leer ken.
Oral in die dorp het gras weelderig gegroei en Kerkplein was die perdeweiveld van die meeste huisgesinne in die nabyheid. Oral tussen die bewoonde erwe in was nog taamlik digte lappe doringbos. Die rivier was ruig met bome en bosse begroei van die Fonteine af tot na aan Arcadiadrif, nou die Leeubrug. Laer af van Hovensdrif tot aan die Poort was ook 'n doringbos, maar minder ruig.
Aan die oostekant van die rivier was hoegenaamd geen erwe of dorpshuise nie. Hier was vier plase: Muckleneuk naby die Poort, wat aan die familie Walker behoort het; Harmonie, eiendom van die heer Jan Preller; Sunnyside, eiendom van die Mears-familie; Travenna, vir 'n tyd deur 'n Engelse dokter, Lyle, bewoon; en Arcadia, die eiendom van oom Fanie Meintjes.
Aan die westekant van die dorp was geen plase nie behalwe Skinnerscourt, eiendom van landdros Skinner, wat ook 'n dorpshuis in Markstraat-Suid gehad het, wat nog bestaan met 'n sink- in plaas van 'n grasdak.
Die huise was meestal in klein groepies verdeel. Net in die Fonteinepoort was die Du Preez-familie en laer af aan die ‘Groot Voor’ die Smithers, 'n Engelse familie, die Vuyks en 'n paar ander Hollander-huisgesinne, insluitende dié van dr. Jorissen, gewese regter van die Republiek. Dan was daar die Melvilles. Die vader was 'n Engelse landmeter met 'n af arm. Die grond waar nou die Bereapark is, het aan die familie behoort en hulle woonhuis was naby die teenswoordige plek van die Spoorweginstituut. Dan was daar die huis van ds. Begemann, die eerste predikant van Pretoria, wat 'n paar jaar gelede op hoë leeftyd oorlede is. Die privaathotel Parkzicht staan op 'n gedeelte van die Begemann-erwe, en so ook die woning van mnr. Geo. Heys. Hier was een van die pragtigste tuine wat Pretoria destyds besit het. Mev. Begemann het al die huisvroue van die dorpie van pompelmoese en konfyt voorsien.
Aan die noordekant van die dorp aan die rivier was 'n ander taamlike huisegroep, die Van der Hovens van Prinshof, Tielman de Villiers van Belle Ombre en Jan Celliers, vader van die digter. Tussen hierdie uithoeke en Kerkplein was ander klein groepies huise met wye oop veld tussenin.
In die middel van Kerkplein was die klein grasdakkerkie, met grondvloer en riempiestoele en rusbanke gemeubileer. Die pastorie van ds. Bosman was op die hoek van die teenswoordige Paleis van Justisie. Die goewermentskantoor en Volksraadsaal was 'n ander grasdakhuis waar die ou goewermentsgebou nou staan. Die Volksraadsaal was die grootste enkele kamer in die dorp. Ook dit was 'n enkelverdiepinggebou en die menbels het uit riempiestoele bestaan.
Daar was vyf winkels. Die oue heer Lys, 'n Engelse seekaptein, had sy win-