deur sy jong vrou. Dié was byna net so handig met 'n geweer as hy, en seker net so onverskrokke.
By een geleentheid was daar 'n stuk of twaalf waens bymekaar op die walle van die Hartsrivier. Oom Wessel was kommandant van die klein trekkie en hulle was gekampeer rondom 'n platdakhuis van agt kamers. Hulle was op weg om deel te neem aan een of ander grensoorlog wat toe aan die gang was. Hulle had baie ammunisie en o.a. ook 'n klein kanonnetjie op houtwiele, bekend onder die naam van ‘Klein Griet’, wat hulle êrens in Transvaal aangeskaf het.
Die grens was in 'n toestand van die uiterste onstuimigheid; elke kapteintjie wou net oorlog maak teen al die ander wat binne sy bereik was. Waaroor die klein Boeretrek die onrustigste was, was 'n kommando van Griekwas en Basters, almal perderuiters en goed gewapen, wat met hul gebruiklike luidrugtigheid verklaar het dat hulle van plan was om die Boere ‘tot stof te maak’.
Nadat die laertjie enige dae by die platdakhuis gekampeer was, is besluit dat al die mans die omgewing in verskeie rigtings sou verken om met die vyand in voeling te kom. Die vroue en kinders, onder bevel van tant Drina Wessels, sou alleen agtergelaat word. Die huis en laertjie is natuurlik eers in 'n goeie staat van verdediging gebring. Die waens is om 'n gedeelte van die huis vasgetrek terwyl die dak van die huis met 'n sooimuur omgepak is. Daar was 'n leer wat na die dak toegang verleen het en dit sou dan die toevlugsoord van die vroue wees in geval van 'n aanval. Die kanon is net binne die voordeur van die huis geplaas, van waar dit spoedig kon uitgesleep word indien nodig. Al die vroue was met geweers gewapen.
'n Dag of wat nadat die mans te perd die rivier gekruis het, was daar een oggend vroeg 'n benoude alarmkreet van die brandwag op die dak en dit blyk spoedig geregverdig te wees! Ver aan die oorkant van die rivier het 'n sterk patrollie Basters sigbaar geword. Dit was dadelik te sien dat hulle 'n dreigende houding teen die laertjie aanneem.
Tant Drina erken dat die vroue vreeslik verskrik was, of ten minste party van hulle! Die vee moes in veiligheid gebring word, die kinders moes op die dak geboender word en elkeen moes posisie inneem. En bo alles moes die vyand nie agterkom dat die laer enkel deur vroue beset is nie.
Dadelik het 'n stuk krygslis Tant Drina te binne geskiet.
Sy sou 'n skoot uit die kanon op die Basters afvuur, wat tegelyk as alarmteken vir die afwesige mans sou dien en die vyand miskien vir goed sou afskrik.
Dit was 'n groot taak om die weerbare vroue oor te haal om met die laai en afskiet van die kanon te help en dit het lank geneem voordat dit na buite gesleep was, klaar om af te skiet.
Intussen het die Basters buite geweerskoot halt gehou. Hulle was klaarblyklik nie haastig om met die Boere in vyandige aanraking te kom nie. Hulle was besig om op Griekwa-wyse ‘raad te hou’.